summaryrefslogtreecommitdiff
path: root/18203-8.txt
diff options
context:
space:
mode:
authorRoger Frank <rfrank@pglaf.org>2025-10-15 04:52:47 -0700
committerRoger Frank <rfrank@pglaf.org>2025-10-15 04:52:47 -0700
commit43a68ee169b446eb63ed79a84caaf9ea4a511fea (patch)
treee000e638a335d31defe321aa11f78e1bb4da5282 /18203-8.txt
initial commit of ebook 18203HEADmain
Diffstat (limited to '18203-8.txt')
-rw-r--r--18203-8.txt12629
1 files changed, 12629 insertions, 0 deletions
diff --git a/18203-8.txt b/18203-8.txt
new file mode 100644
index 0000000..d62a3cb
--- /dev/null
+++ b/18203-8.txt
@@ -0,0 +1,12629 @@
+The Project Gutenberg EBook of Die prosa van die twede Afrikaanse beweging, by
+Pieter Cornelis Schoonees
+
+This eBook is for the use of anyone anywhere at no cost and with
+almost no restrictions whatsoever. You may copy it, give it away or
+re-use it under the terms of the Project Gutenberg License included
+with this eBook or online at www.gutenberg.org
+
+
+Title: Die prosa van die twede Afrikaanse beweging
+
+Author: Pieter Cornelis Schoonees
+
+Release Date: April 18, 2006 [EBook #18203]
+
+Language: Afrikaans
+
+Character set encoding: ISO-8859-1
+
+*** START OF THIS PROJECT GUTENBERG EBOOK DIE PROSA VAN DIE TWEDE ***
+
+
+
+
+Produced by Christine D., Michael Ciesielski and the Online
+Distributed Proofreading Team at http://www.pgdp.net
+
+
+
+
+
+
+
+
+
+ DIE PROSA VAN DIE TWEDE
+ AFRIKAANSE BEWEGING.
+
+ AKADEMIES PROEFSCHRIFT
+ TER VERKRIJGING VAN DE GRAAD VAN DOCTOR IN DE LETTEREN EN
+ WIJSBEGEERTE AAN DE UNIVERSITEIT VAN AMSTERDAM, OP GEZAG VAN
+ DE RECTOR-MAGNIFICUS DR. P. ZEEMAN, HOOGLERAAR IN DE
+ FAKULTEIT DER WIS- EN NATUURKUNDE, IN HET OPENBAAR TE
+ VERDEDIGEN IN DE AULA DER UNIVERSITEIT OP VRIJDAG 17 NOVEMBER
+ 1922, DES NAMIDDAGS TE 3 UUR
+
+ DOOR
+
+ PIETER CORNELIS SCHOONEES,
+ GEBOREN TE UNIONDALE, ZUID-AFRIKA.
+
+ AMSTERDAM
+ Drukkerij en Uitgeverij
+ J.H. DE BUSSY.
+ MCMXXII
+
+
+
+
+ _Aan my vrou
+ en kinders_.
+
+
+
+
+_VOORWOORD_.
+
+
+_Wanneer ek van die laaste skof op die akademiese pad terugblik, dan is
+dit my 'n aangename plig om die Here Hooglerare van die Fakulteit van
+Lettere en Wysbegeerte te bedank vir die onderwys wat ek gedurende enige
+jare kon ontvang. Besonderlik wil ek U, hooggeleerde PRINSEN, my geagte
+promotor bedank vir u voortreflike leiding, waaraan my dissertasie veel
+te danke het_.
+
+_Ook aan U, hooggeleerde BOER, BRUGMANS en STOETT wens ek my opregte
+dank uit te spreek vir die inleiding in die hoëre taal- en historiese
+wetenskap. Die welwillende belangstelling wat U steeds in my studie
+getoon het, sal altoos vir my 'n aangename herinnering wees. Aan U,
+hooggeleerde SIX, SWAEN en SCHOLTE betuig ek ook my erkentelikheid_.
+
+_Dat ek my proefskrif in my moedertaal kon skryf, is 'n voorreg wat ek
+baie op prys stel_.
+
+_Aan die hulpvaardigheid wat ek steeds by die Universiteits-Bibliotheek
+en by die Nederlandsche Zuid-Afrikaansche Vereeniging ondervind het, is
+ek veel verskuldig; ook aan die direksie van die Nederlandsche Bank van
+Zuid-Afrika vir opestelling van hul argief_.
+
+_Met opoffering van eie belange het die heer en mevrou SPIER, die heer
+J. INGWERSEN Sr., mevrou SCHABERG-KEMINK en die famielie NIERKENS aan my
+en my gesin in die tyd van die groot woningnood 'n rustige woon- en
+studeerplekkie gegee. Dat ons dit ten hoogste waardeer, spreek vanself.
+Sonder die daadwerklike steun van die Unie-regering en die
+Herman-Coster-Fonds sou ek my studie nie kon voltooi het nie. Aan almal
+ons innige dank! Dié dank kom ook toe aan ons Hollandse vriende, wat
+soveel gedoen het om ons verblyf hier te veraangenaam deur hul
+gasvryheid en hul bereidwilligheid om ons steeds met raad en daad by te
+staan. In die sonnige suide sal die glimlag van hul vriendskap nie
+vergeet word nie!_
+
+
+
+
+INHOUD.
+
+ VOORWOORD Bls. VII
+
+ HOOFSTUK I.
+
+ DIE TWEDE AFRIKAANSE BEWEGING Bls. 1-28
+
+
+ § 1. Historiese Inleiding (1-4). § 2. Teëstelling tussen
+ die Eerste en Twede Beweging: (4-6). § 3. Die Twede
+ Beweging veel meer dan Taalbeweging (6-7). §4. Gevaar
+ vir Isolasie (8). § 5. Kultuur-toestande (8-14). § 6.
+ Kalvinisme en Kuns (14-18). § 7. Die Prosa.--Algemene
+ Karakteristiek (18-25). Krietiese Standpunt (25-27).
+ § 9. Beperking van Onderwerp.--Indeling (27-28).
+
+
+ HOOFSTUK II.
+
+ POLEMIESE PROSA Bls. 29-40
+
+
+ Adv. J.H.H. de Waal (29-30). G.S. Preller (30-31).
+ Dr. D.F. Malan (31-32). Prof. N.J. Brümmer (32-33).
+ _Die Brandwag_ (33). Prof. J.J. Smith (34). Dr. T.B.
+ Muller (34-35) _Ons Moedertaal_ (36). Adv. C.J. Langenhoven
+ (37-40).
+
+
+ HOOFSTUK III.
+
+ PROSA UIT DIE TYDSKRIFTE Bls. 41-61
+
+
+ § 1. (a) _De Goede Hoop_ (41-43). _(b)._ (43-45). § 2.
+ _Die Brandwag_ (45-55). Jan F.E. Celliers (48-53).
+ Hettie Cillié en E.H.F. de Roubaix (53-54) Iz. van
+ Heerden (54-55). § 3. _Die Huisgenoot_ (55-60). § 4.
+ Ander Tydskrifte (60-61).
+
+
+ HOOFSTUK IV.
+
+ G.R. VON WIELLIGH, "Die Laaste stem uit Die Genootskap
+ van Regte Afrikaners" Bls. 62-99
+
+
+ Lewensskets (62-63). _Eerste Skrywers_ (63-66). _Jakob
+ Platjie_ (67-71). _Huis en Veld_ (71-74). _Staan jou Man_
+ (75-77). _Boesman-Stories_ (77-82). Styl en taal (82-99).
+
+
+ HOOFSTUK V.
+
+ ROMANS, VERHALE EN SKETSE Bls. 100-230
+
+
+ § 1. Adv. J.H.H. de Waal: Lewensskets en inhoud van sy
+ twee romans (100-103). Is _Joh. van Wyk_ 'n historiese
+ roman? (104-108). De Waal se romans is intriegeromans
+ (109-111). Karaktertekening (112-117). Natuurbeskrywing
+ (118-119). Styl (119-125). Dialoog (126). Anglisismes
+ (127-130). Taal (130-132). _Stompies_ (132-133);
+ § 2. J. Lub (133-135). § 3. J.G. Engela (135-136).
+ § 4. Adv. C.J. Langenhoven: Lewensskets (136-137).
+ _Ons Weg deur die Wêreld_ (II en III) (137-140).
+ § 5. Christian Zinn. (140-141). § 6. Dr. D.F. Malherbe:
+ _Vergeet nie_, inhoud (141-143). Bettie se "offer" (143-148).
+ Karaktertekening (148-150). Gebrek aan objektiwiteit
+ (150). Styl (151-158); § 7. Mej. Chris. C. Euvrard
+ (158-159). § 8. Joubert Reitz (159-161). § 9. Jochem van
+ Bruggen: Lewensskets (161-162). _Teleurgestel_ (162-171).
+ _Op Veld en Rande_ (171-174). _Ampie_ (174). _Die Burgemeester
+ van Slaplaagte_ (174-176); § 10. Gordon Tomlinson
+ (176-180). § 11. Adv. H.A. Fagan: Lewensskets:
+ _Uit 'n Studente-Album_ (181-182). _Uitgesogte Afrikaanse
+ Verhale_ (182-183). § 12. Reenen J. van Reenen: Lewensskets;
+ _Celestine, Verborge Skatte_ (183-185). _Die Lokaas_
+ (186-188). § 13. Léon Maré: _Die Nuwejaarsfees_
+ (188-195). _Ou Malkop_ (195-197). § 14. D.P. du Toit
+ (197-199). § 15. A. du Biel: _Getrou_ (199-202). _Die
+ Misdade van die Vaders_ (202-205). § 16. Mevr. M.
+ Jansen-Pellissier: Lewensskets; _Die Veldblommetjie_;
+ Verskil tussen goeie en slegte tendenswerk (205-207).
+ Sedeprekery (207-208). Styl en taal (208-209). § 17. J.H.
+ Malan: Lewensskets (209-210). _Die Swerweling_ as
+ historiese roman (210-212). Karaktertekening (212-14).
+ Styl en taal (214-219). § 18. Ds. J.H. Kruger: Lewensskets
+ en inhoud van _Twee Rampe en twee Gelukke_
+ (219-220). Die kenmerke van goeie dialoog (220).
+ Karaktertekening (220-223). Styl en taal (223-225).
+ § 19. Mej. Sadie Bosman (225-228). § 20. G.J. Otto
+ (228-229). § 21. Wolla (229). § 22. Slypsteen (230).
+
+
+ HOOFSTUK VI.
+
+ SATIERIES-HUMORISTIESE PROSA Bls. 231-248
+
+
+ § 1. Ds. Willem Postma (_Dr. O'Kulis_): Lewensskets
+ (231-232). _Die Eselskakebeen_ (232-233). § 2. Reenen
+ J. van Reenen: _Die Agterstevoortrekkers_ (234-239).
+ § 3. Adv. C.J. Langenhoven (_Sagmoedige Neelsie_):
+ _Sonde met die Bure_ (239-243). _Doppers en Filistyne_
+ (243-248).
+
+
+ HOOFSTUK VII.
+
+ DIDAKTIESE PROSA Bls. 249-261
+
+
+ § 1. Adv. C.J. Langenhoven: _Ons Weg deur die
+ Wêreld_ I, IV, VI, IX (249-253). _Aan Stille Waters_.--Langenhoven
+ se letterkundige opvattings (253-259).
+ § 2. Dr. C. Louis Leipoldt: _Praatjies met die Oumense_
+ (259-261). § 3. G. Jordaan (261).
+
+
+ HOOFSTUK VIII.
+
+ DIEREBESKRYWING Bls. 262-269
+
+
+ § 1. A.A. Pienaar (_Sangiro_): Lewensskets (262-263).
+ _Sketse uit die Oos-Afrikaanse Dierewêreld_ (263-269).
+ Hans Anton Aschenborn (269).
+
+
+ HOOFSTUK IX.
+
+ REISBESKRYWING Bls. 270-273
+
+
+ § 1. A.J. Jacobs (_Dómine_): _Reisavonture op Land en
+ See_ (270-273).
+
+
+ HOOFSTUK X.
+
+ HISTORIESE PROSA Bls. 274-325
+
+
+ § 1. Inleiding (274-276). § 2. Gustav S. Preller:
+ Lewensskets (276-278). _Voortrekkermense I_ en _II_ (278).
+ _Dagboek van Louis Trigardt_ (279). _Piet Retief_ (279-282).
+ _Kaptein Hindon_ (282-283). _Baanbrekers_ (283). _Twee
+ Geskiedkundige Opstelle_ (284). _Genl. Botha_ (284-285).
+ Letterkundige Opvattings (285-288). § 3. J.H. Malan:
+ _Boer en Barbaar_ (288-291). § 4. Dr. S.P.E. Boshoff:
+ _Vaalrivier, Rebellie-Sketse_ (292-293). § 5. J.A. Smith:
+ _Brit en Boer_ (294-295). _Naar Bloedrivier en Paardekraal_
+ (295). § 6. Dr. J.D. du Toit _(Totius)_: _Ds. S.J. du Toit in
+ Weg en Werk_ (296-300). §7. Ds. W. Postma (_Dr. O'Kulis_):
+ _Doppers_ (300-301). _Die Boervrou_ (301-304). § 8. Thos.
+ Blok: _Grensboere_ (304). § 9. Ds. G.B.A. Gerdener: _Sarel
+ Cilliers_ (305-307). § 10. A.J. van der Walt: Lewensskets
+ (307). _Noordwaarts_ (308-310). _Vastrappers I_
+ (310-311). § 11. Senator G.G. Munnik: _Kronieke van
+ Noordelike Transvaal_ (311-313). § 12. Ds. J.D. Kestell:
+ Lewensskets (313), _Die Voortrekkers_ (314-315). _Christiaan
+ de Wet_ (315-317). § 13. Dr. N.J. van der Merwe:
+ _Marthinus Theunis Steyn_ (317-324). § 14. Mevr. Lenie
+ Boshoff-Liebenberg: _Moedersmart en Kinderleed_ (324-325).
+
+
+ NAAMREGISTER Bls. 327-330
+
+
+
+
+HOOFSTUK I.
+
+Die Twede Afrikaanse Beweging.
+
+
+§ 1. Historiese Inleiding.
+
+Meer as sestig jaar gelede het die eerste Afrikaanse geskrif verskyn,
+die _Zamenspraak tusschen Klaas Waarzegger en Jan Twijfelaar over het
+onderwerp van Afscheiding tusschen de Oostelijke en Westelijke
+Provincie_ (1861). Merkwaardig genoeg is dit 'n _Engelsman_ gewees, wat
+allereers tot die tans so vanselfsprekende gevolgtrekking gekom het, dat
+Afrikaners Afrikaans praat en bygevolg dié taal ook sou kon lees en
+beter verstaan as Hollands. Prof. J.J. Smith het onlangs ontdek, dat die
+skrywer van die politieke vlugskrif die Cradockse magistraat L.H.
+Meurant (1811-1892) was.[1]
+
+Ongeveer tien jaar na die verskyning van die eerste Afrikaanse boek word
+Ds. S.J. du Toit oortuig van die deugdelikheid van die volkstaal deur
+die Hollandse onderwyser Arnoldus Pannevis. Wanneer laasgenoemde op 7
+September 1872 in _De Zuid-Afrikaan_ 'n artiekel skryf oor _De Bijbel in
+het Afrikaansch_, dan begint die Eerste Beweging, wat op 14 Augustus
+1875 vaste vorm kry deur die oprigting van _Die Genootskap van Regte
+Afrikaners_.[2]
+
+Die verdienstelike werk deur die Eerste Beweging, nie alleen op
+taal- maar ook op nasionale gebied verrig, is deur verskillende skrywers
+behandel.[3] Reeds vóór die anneksasie van die Transvaalse Republiek
+(1877) het _Die Patriot_ al roering in die Kaapprovinsie veroorsaak;[4]
+"en in die jare van lydelike verset wat daarop gevolg het, kom die
+patriottiese ontboeseminge vinnig in verset teen die nasionale druk; 'n
+oorkropte gemoed stort hom dikwels uit in bittere versugtinge, of die
+digter verdiep hom in blye bespieëlinge van 'n mooier môreskemer,
+eendag."[5] Maar die groot stoot, wat gelei het tot 'n nasionale
+herlewing deur die hele land het eers gekom met die Vryheidsoorlog. Op
+15 April 1881 verklaar _Die Patriot_: "Die Afrikaners, veral die jeug,
+het nou 'n afkeer gekrij teën vreemde tale en sede, veral teën Engels,
+en daar is 'n ambisie opgewek ver ons eie volk en ons eie taal.... Die
+verwijt dat ons, Afrikaners, gen nasionaliteitsgevoel het nie, is oek
+nou beskaam."[6] Dit was die eerste kragtige ontwikkeling van die
+volksbewussyn, waarvan in die stryd teen Willem Adriaan van der Stel al
+duidelike kieme te sien is.[7]
+
+Tot volle rypheid het die volksbewussyn egter in 1881 nie gekom nie.
+Die Jameson-inval veroorsaak in 1895 weer 'n sterk opflikkering van die
+volksgees, maar in die tyd kwyn ook die Patriot-beweging dood, weens die
+on-Afrikaanse politiek van die leier, Ds. S.J. du Toit. "Die genadeslag
+aan die vooruitgang van ons taal is toegedien deur die politieke _volte
+face_--en gevolgelike onpopulariteit--van die persoon, die aan die spits
+gestaan het van die beweging wat, in die oë van die publiek,
+onafskeidelik aan hom verbonde was."[8] Heeltemal dood was die
+Afrikaanse Beweging egter nie, en in die volgende periode het o.a. die
+bloemlesing van Pres. F.W. Reitz, _Twee-en-Sestig Uitgesogte Gedigte_,
+asook die talryke bundels van Melt Brink goeie dienste bewys. Seer juis
+is die opmerking van Prof. J.J. Smith: "Dat Melt Brink in sy tyd 'n
+kultuurfaktor van betekenis was, val nie in die minste te betwyfel
+nie.... In later jare het beoordelaars sy taal as onafrikaans en sy kuns
+as onaanneemlik bestempel; maar die feit bly dat Melt Brink se
+optree--al het hy dit self nie bedoel en self nie eens geweet nie--een
+van die sterkste aanvalle op die vesting van die Hoog-hollandse
+skryftaal van Suid-Afrika was: hy het immers die mense gewend gemaak aan
+'n taalvorm wat nie meer Nederlands was nie; en toe die afwykinge eers
+begin het, moes die eindresultaat Afrikaans wees." (_Die Huisgenoot_ Mei
+1922.)
+
+Geen gebeurtenis het soveel bygedra tot die eenheidswording van die
+Afrikaanse volk nie as die oorlog van 1899-1902. "Die Transvaalse
+Vryheidsoorlog van 1881 was maar 'n begin, en die Jameson-inval van 1895
+maar skrikmaak, vergeleke met die ontsettende jare tussen 1899 en
+1902.... Die kloof tussen Kolonialer, Vrystater, Transvaler en Nataller
+(was) toegespoel deur 'n vloed van wee en ellende. Die hele Afrikanerdom
+het gevoel, asof hulle verlate was deur die ganse beskaafde wêreld....
+Waar hul vroeër, teenoor die naturelle, hul _stam_verwantskap gevoel
+had, het hul nou, teenoor Engeland, leer besef, dat hul lede van een
+_nasie_ is.... In smart en angs is ons nasie gebaar geword. Die swaard
+het ons geboortemerk op ons voorhoofde geskrywe. Maar ook by ons het die
+dood die lewe gevoed. Die puinhope van die twee Republieke het die
+vrugbare bodem geword, waarin die nuwe Afrikaanse Nasie wortel, van die
+Kaap tot in Kongoland, en van Duits-Suid-Wes tot Brits-Oos-Afrika!"[9]
+"In die oorlogsjare.... is die vaderlandsliefde in lewendige ligte
+uitgelaai. Op die oorlogsveld en in die vreemde kom besinning en inkeer
+tot menige Afrikaner. En na Vereniging is dit oopgegaan, saggies-seer,
+en beginne drup-drup, soos bloedtrane uit die geheue drup."[10]
+
+Met ons het dit gegaan soos Tennyson so mooi sê:
+
+ If a state submit
+
+ "At once, she may be blotted out at once
+ And swallowed in the Conqueror's chronicle.
+ But in wars of freedom and defence
+ The glory and grief of battle won or lost
+ Solders a race together--yea--tho' they fail,
+ The names of those who fought and fell are like
+ A banked up fire that flashes out again
+ From century to century, and at last
+ May lead them on to victory,--I hope so--
+ Like phantoms of the Gods."
+
+Na die oorlog word die stryd vir die erkenning van Afrikaans hervat deur
+'n jonger geslag en is die Twede Beweging al gou aan die gang, eers in
+die Kaap en later in Transvaal en Vrystaat. Nog sestien jaar sou dit
+egter duur, voordat die volkstaal deur staat, uniwersiteit en kerk erken
+word.[11]
+
+
+§ 2. Teëstelling tussen die Eerste en Twede Beweging.
+
+Besonder skraal was die letterkundige oes van die Patriot-beweging. Maar
+dat die Regte Afrikaners met taaie volharding en groot opoffering gestry
+en so die pad vir 'n jonger geslag skoongemaak 't sal iedereen erken.
+Teen alle vooroordeel in het hulle die durf gehad om 'n volk sy eie taal
+te leer lees, en afgesien van hul prestasies op ander gebied, verdien
+hulle al daarvoor alleen die dank van alle Afrikaners. Dat die hele
+beweging feitlik doodgekwyn het deur die politieke omswaai van een
+talentvolle leier is 'n bewys van die lae trap van ontwikkeling waarop
+die volk toe nog gestaan het. Selfs vandag nog belemmer verskil van
+politieke insig ons vooruitgang op kulturele gebied, maar gelukkig het
+die volk tans so 'n beskawingspeil bereik, dat selfs vyf of meer
+renegaatleiers die Twede Beweging nie sou doodkry nie.
+
+Primitiewe letterkundige begrippe en die gemis aan leidende
+persoonlikhede was naas die reeds genoemde oorsake aanspreeklik vir die
+gedeeltelike mislukking van die Patriot-beweging. Wanneer daarby die
+maatskaplike toestande in aanmerking geneem word, dan blyk dadelik, dat
+'n opluiking van nasionale kuns in die laaste kwart van die neëntiende
+eeu allermins te verwagte was. Aan die Kaap het wel betreklike rus
+geheers, maar daar het ook 'n deur-en-deur verengelste onderwyssisteem
+alle vooruitgang op kulturele gebied ondermyn. In die republieke het die
+Trekkers 'n stryd op lewe en dood gevoer teen die inboorlinge en die
+insluk-politiek van 'n magtige wêreldryk, terwyl hul intussen nog die
+land bewoonbaar gemaak het. By al die faktore kom nog die ontdekking van
+die goudvelde, met die daarop volgende instroming van uitheemse
+elemente, wat 'n landelike bevolking voor geweldige ekonomiese en
+kulturele vraagstukke gestel het. "Wij zien in de jaren 1884 en 1900 in
+Zuid-Afrika een reeks van gebeurtenissen voorvallen, zóó buitensporig
+van karakter, dat men in de nieuwere geschiedenis te nauwernood de
+wedergade zal vinden."[12] In so 'n woelige tydperk kon die kuns nie
+opbloei nie. Daar was geen tyd vir rustige besinning nie en die vinnige
+loop van die gebeurtenisse het alle geleidelike ontwikkeling onmoontlik
+gemaak. Voeg ons daarby nog die stryd op taalgebied en die gebrekkige
+eenheidsbesef, dan hoef dit niemand te verbaas nie, dat die
+kunsontwikkeling gering was, en die Patriotters alleen voortrekkerswerk
+kon verrig.
+
+Wanneer dan na die oorlog van 1899-1902 die vaste wil van die volk
+kenbaar word om die stryd vir nasionale selfstandigheid met geestelike
+wapens voort te set, dan ontbreek die leiers ook nie en word die
+geskiedenis van die Twede Beweging gekenmerk deur 'n gestadige
+vooruitgang, wat sedert die laaste jare met verrassend snelle tempo
+toeneem. Die "nou-rym-ons-lekker"-periode[13], waarin iedereen, van
+Generaal Joubert af tot die skaapwagtertjie in die veld versies inmekaar
+gedraai het, was verby en al dadelik word op die ernstige strewe van die
+Twede Beweging nadruk gelê. In 1906 sê Preller al: "Afrikaans het tot
+hiertoe groteliks gedien als 'n soort van trog, om al die o'erloop
+vulgariteit van die nasie op te vang";[14] en Jan Celliers verklaar in
+sy brosjure, _Doel van Ons Tydskrif_: "As ons let op wat in hoofsaak tot
+nog toe gelewer is in die Afrikaanse taal ... dan kan dit ons nie
+verwonder nie as baie mense dink: die Afrikaanse taal is nou net geskik
+om mekaar grappies te vertel en mekaar lekker te laat lag. Alhoewel
+erken moet word dat sommige van die grappies en grappige versies goeie
+werk is, is dit ons tog duidelik dat van die Afrikaanse taal meer ge-eis
+word.... Omdat toevallig die vrolike kant van ons geaardheid sig die
+sterkste geopenbaar het in ons letterkunde, moet dit die vat-plek wees
+vir ons om die Afrikaner te vang, moet dit die aanknopingspunt wees _om
+hom in te lei tot hoëre dinge_."[15]
+
+
+§ 3. Die Twede Beweging veel meer dan Taalbeweging.
+
+In die eerste jare neem die taalkwessie alle aandag in beslag, maar al
+gou blyk dat die Twede Beweging, nog veel meer as die van _Die Patriot_
+nie uitsluitend 'n _taal_beweging is nie. Generaal Hertzog begroet _Die
+Brandwag_ as volg in die eerste nommer: "Het Afrikaanse volk ontwaakt
+tot het gevoel van mannelik eigen kracht, eigen waarde en zelfrespekt,
+verlangt zichzelf te zijn.... Te lang reeds is 't volk begocheld
+geworden door de luister van vreemde reklame en bedrogen geworden door
+'t hooghartige ener aangematigde uitheemse meerderheid. Evenals op
+industrieel en maatschappelik gebied, zo ook op intellektueel gebied
+willen wij onszelven zijn. Wij willen zijn zoals _wij_ zijn en niet
+zoals _anderen_ zijn...." En al gaandeweg groei die besef, dat die
+grondslag van alle beskawing is die ontwikkeling van die hele volk
+volgens die noodwendigheid van sy eie siel en sy eie geaardheid. "Ons
+praat vandag van 'n Afrikaanse volk en ons werk vir 'n Afrikaanse
+toekoms. Ons min ons eie land, en ons stry vir die erkenning van ons eie
+taal. Ons begin waarde te heg aan die erfenis wat die vadere aan ons
+nagelaat het en ons raak gesteld op dié sake wat ons as 'n volk van
+ander volke onderskei.... Die skokkende gebeurtenisse van die laaste
+twintig jare het baie Afrikaners wakker geskud. Hul het begin besef dat
+hul lede is van 'n Afrikaanse volk--'n volk met eie tradiesies en sedes
+en gewoontes, 'n eie taal en 'n eie roeping onder die volke van die
+aarde."[16]
+
+Die bedrywigheid van die laaste jare is van veelsydige geaardheid. Daar
+word nie uitsluitend gestreef na politieke mag nie, maar ook pogings
+aangewend om op ekonomies gebied onafhanklik te word. 'n Teken van die
+kulturele manbaarwording van die volk is dit ook, dat met liefdevolle
+ywer gewerk word om die geestelike erfgoedere van die voorvaders teen
+verwaarlosing en verbastering te beskerm. Op kultuurgebied is die leuse
+orals: "oneigene, ik late u, ... gaat reizen!" Die laaste boodskap van
+President Kruger, waarin hy die volk aanspoor om uit die verlede te neem
+wat goed is en daarop voort te bou vir die toekoms het in goeie aarde
+geval. 'n Eensydige betragting van die mooi leuse lewer egter groot
+gevaar op. Die strewe na 'n eg-Afrikaanse kultuur mag nie lei tot 'n
+skrikkerige afwering van alle vreemde invloede nie. Geskiedenis beteken
+juis verandering, en as ons vandag probeer om 'n beskawing te ontwikkel
+uitsluitend uit wat ons as goed Afrikaans in die verlede voorkom, dan
+moet dit op mislukking uitloop. Hoe hoog ons ook al die tradiesies van
+die voorgeslag skat, ons moet nie vergeet nie, dat ons tans voor ander
+probleme as ons voorvaders staan. Jan Celliers het in 1913 al gewys op
+die onmoontlikheid van isolasie: "Die dag sal nog kom dat Suid-Afrika
+net soos enige beskaafde land gelyk-op sal deelneem aan die wêreld se
+beweginge en worstelinge op geestelik gebied, aan die wêreld se
+vergaderde kennis. Die idee, wat sommige mense nog koester, om van S.A.
+'n soort alleenstaande Israel te maak--bang en wars van uitlandse
+inmenging en invloede--is 'n droombeeld wat met die dag reeds vaer
+word."[17]
+
+
+§ 4. Gevaar vir Isolasie.
+
+Ook onder ons kunstenaars is daar wat met bangerige angsvalligheid alle
+buitelandse invloede van ons wil weer, wat hul krag soek in 'n benoude,
+stikagtige isolement. Hul hoop om op dié wyse 'n suiwer Afrikaanse kuns
+te kan opbou, vry van alle basterdelemente. Ons moet maar aansukkel op
+ons eie doringpaadjie, omdat ons toestande so glad anders is as in die
+ouere kultuur-lande. Dat hierdie rigting totaal verkeerd is, word al
+dadelik bewys deur die feit, dat ons beste kunstenaars juis onder die
+inwerking van buitelandse invloede hul skoonste werk geskep het. Die
+egte kunstenaar laat hom nie verbaster deur 'n vreemde kultuur nie. Hy
+ontleen daaraan wat vir die volle ontplooiing van sy gees diensbaar is,
+en vervorm en verwerk die vreemde bestanddele dan tot 'n suiwer
+nasionale kunswerk. 'n Volk wat nie sy man kan staan teenoor vreemde
+invloede nie, gaan te gronde en so ook die kunstenaar. Maar met reg kan
+ons van hom eis, dat hy ons blik sal verruim en ons in intieme aanraking
+bring met die kuns ook van ander lande. Isolering op letterkundige
+gebied sou beteken opdroging, sou aanleiding gee tot 'n eindelose
+herkouery. Laat ons kunstenaars dus gerus van alle oorde hul gees
+verryk. As hul mans genoeg is, sal hul selfstandigheid niks daaronder ly
+nie en ons kuns sy nasionale stempel behou. In elk geval geen Chinese
+muur rondom Suid-Afrika nie!
+
+
+§ 5. Kultuur-toestande.
+
+Dit sou seker te optimisties wees om te beweer, dat daar by ons al 'n
+waaragtige diep-wortelende kultuur is. Maar so 'n kultuur is in elk
+geval in wording en die kieme van 'n Afrikaanse skilder-, bou-, toon- en
+beeldhoukuns maak al ons harte bly. Wie dan nog let op die wondere
+ontluiking van ons letterkunde binne 'n tiental jare weet, dat daar
+inwendige kragte aan roere is, wat tot die skepping van nog grootser
+skoonheid sal lei. Ook by ons wag die jeug "het hoofd vol duistere
+glories en de handen bevend van voorgevoel."[18]
+
+"Het zijn eerst de dichters, die een volk ontdooien. Het zijn de
+dichters, waar zij muziek gaande maken en gezongen worden; of waar zij,
+vanaf het tooneel, de groote gevoelens ontboeien; het zijn de dichters,
+die een volk, aan zichzelf ontdekt, één maken."[19] So het ook ons
+digters die dinge, wat daar roer en woel in die hart van die nasie,
+vertolk en die solidariteitsgevoel versterk, terwyl die prosaïste ons
+gevoel van nasionale eiewaarde verhoog het deur die skildering van
+grootse dade uit die wordingstydperk van die volk.
+
+Moeilik is dit om die kulturele lewenshouding te bepaal van 'n volk, wat
+nog altyd moet stry vir die verowering en behoud van 'n nasionale
+kultuur. Vas staat egter, dat geskiedkundige en ekonomiese faktore 'n
+egalige en natuurlike ontwikkeling onmoontlik gemaak het. 'n Groot
+gedeelte van die volk--miskien kan die werklike toestand benader word
+deur te sê die helfte--leef nog voort in byna volslae onkunde van die
+kultuuropenbaring, wat orals om hul opbloei. By so 'n besondere
+gebeurtenis as 'n Dingaansviering b.v. merk hul wel dat daar 'n roering
+is, maar die dieper betekenis van die kultuurbeweging bly onbegrepe,
+omdat hul deur 'n agterlike ontwikkeling die orgaan daarvoor mis.
+
+'n Dikwels oordrewe belangstelling in die efemere politieke kibbelarye
+is die toppunt van hul geestelike inspanning. So 'n groot persentage
+agterlikes het natuurlik 'n ingrypende invloed op die letterkunde.
+Daaraan moet toegeskryf word die sterk didaktiese en moraliserende
+elemente in ons kuns.
+
+Op die platteland doen die talryke debatsvereniginge veel om meer as
+een versufte siel, vir wie die lewe nouliks meer dan 'n plantebestaan
+van dowwe verveling is, op te beur en langsamerhand enige aandeel te
+laat kry in die intellektuele beweging. Maar hoeveel kosbare energie
+word nie verspil op debatte van die: "Wat is sterker: vuur of
+water"-tiepe nie? As 'n mens so maand na maand die notule van baie
+vereniginge, (gelukkig nie almal nie) deurlees, dan kan jy jou verbaas
+oor die deurtrapte advokate-listigheid, wat aan een of ander
+beuselagtige onderwerp bestee word, en die geesdriftige koppigheid
+waarmee die kwessie eindelik uitgebaklei word. Triomfantelik word dan
+die uitslag aan die pers meegedeel, asof dit 'n belangrike probleem is,
+wat nou vergoed opgelos is! Op baie plekke is daar gelukkig mense wat
+leiding kan gee, en daar bereik die vereniging of lees- en studie-sirkel
+dan ook sy doel, maar dit is 'n feit dat meer as een persoon, met behulp
+van 'n bietjie gladheid van tong 'n posiesie inneem, waartoe sy
+geestelike ontwikkeling hom geen reg gee nie. Op die manier kry ons
+kunsdespote in onderbaadjie-sakformaat, wat, ondanks hul goeie
+bedoelinge, remmend werk op die ontwikkeling van 'n algemene kunsbegrip
+en die opbruisende energie van die jong mense op niksbeduidende sakies
+laat verflenter.
+
+Aan die spits van die intellektuele gedeelte van die volk staan die
+wetenskaplik gevormde leiers, ten volle toegerus met al die geestelike
+goedere van die buiteland. En òm hulle, die steeds groter wordende
+skare, wat deur 'n verbeterde onderwysstelsel in staat is om aktief deel
+te neem aan wetenskap en kuns. Veral in die laaste jare het dit duidelik
+geblyk, dat skoonheid vir ons nie meer 'n weelde-artiekeltjie, 'n goue
+rand aan die bord waaruit ons die daelikse brood eet, is nie. Kuns het
+vir ons geword 'n noodsaaklikheid, en gelukkig is ons kuns van so 'n
+geaardheid, dat dit nie op die bergtoppe van ongenaakbare afsondering
+alleen enkele begenadigdes ontroer nie, maar verstaan en gewaardeer word
+deur 'n groot gedeelte van 'n volk, wat jare lank al soek na skoonheid
+in eie taal, skoonheidsuitinge van eie kultuur.
+
+As dit waar is dat die materiële posiesie van die kunstenaar 'n
+simptoom is vir die kulturele peil van 'n volk, dan kan ons op een
+inspirerende voorbeeld wys. Jan Celliers is uit die geesdodende sleur
+van 'n regeringskantoor verlos deur 'n spontane uitbarsting van algemene
+waardering. Dit is 'n erkenning van die waarde en onmisbaarheid van
+kuns, wat moed gee vir die toekoms, 'n bewys dat die gemeenskap belang
+stel in ideële goedere. Die suksesvolle reise van Lauwerijs en
+Hullebroeck is ook aanduidings in dieselfde rigting.[20] Naas al die
+tekens van groei, deur Dr. E.C. Pienaar in sy dissertasie opgesom[21]
+kan nog gewys word op die oprigting van die _Tydskrif vir Wetenskap en
+Kuns_ in Bloemfontein (1922).
+
+Eensydig sou egter bostaande oorsig van ons kultuurtoestand wees, as
+daar nie op gewys word nie, dat selfs by die ontwikkelde lae van die
+volk nog tallose spore van gebrekkige kunssin aanwesig is. So verklaar
+Dr. H.J. Steyn: "Ons volk is wel prakties en berustend van aard, maar te
+min idealisties. Sy eie geestesstryd en die van stamverwante laat hom
+meesal koud. Die laat hy oor aan 'n paar in sy oog eksentrieke
+idealiste.... Daar is nie 'n innerlike drang wat hom aangryp om naar 'n
+verafgelege horison te kyk nie; daar is by ons nog 'n gebrek aan liefde
+vir die abstrakte en bespiegelende, ons is nie genege om te werk vir
+resultate wat alleen deur ons nageslag gepluk sal word nie."[22] Die
+skilderskrywer Reenen J. van Reenen beweer: "In Suid-Afrika bly, by die
+meeste van ons, die bontgekleurde wand-kalenders wat die naaste
+smouswinkel aan ons stuur, nog die maatstaf wat ons gebruik by die
+beoordeling van skilderye."[23]
+
+Wanneer Jan Celliers ons vertel: "Sommige korrespondente het my soveel
+per les aangebied, as ek hulle wil leer hoe om digters te word", (_Die
+Huisgenoot_, Aug. 1921) dan twyfel 'n mens aan die gehalte van die
+geesdrif vir letterkunde. In die Kersmisnommer van _Ons Land_, 1919,
+beveel Ds. J.P. van Heerden vir 'n ekstra prys aan 'n verhaal, getietel:
+_De Dronkenschap van Dokter Dirkse_, waarin alle woorde met die letter
+_d_ begin. Dat dit tot 'n aaneenskakeling van onsin aanleiding gee, blyk
+uit die volgende: "De drank doet duizenden dwaasheden. Daarom drinkers,
+die de drankduivel dienen, denk diep daaraan. Doorziet daardoor de
+dwaasheid der dronkenschap, de droevige doodslag der drankzuchtigen.
+Doodt dus dadelik, doch degelik de drankduivel. Doet dus de drankduivel
+deerlik delgen...." Sedelike oorwegings het sy eerwaarde hier inderdaad
+'n "droevige doodslag" op die kuns laat pleeg! Dat so 'n
+rederykers-aardigheidjie nog in 1919 kan bekroon word, is 'n aanduiding
+dat ons kunswaardering soms nog uiters gebrekkig is. Ook die opvoering
+van so 'n kykspel as die _Medea_ van Jan Vos op Pretoria[24] deur die
+"Afrikaans-Hollandse Toneelvereniging" is 'n bedenklike teken.
+
+Oor die gehalte van ons leesstof het Jan Celliers 'n opmerking gemaak,
+wat seker tans ook nog waar is: "In ons stede ... behoor baie van die
+mense wat so los in hul skoene staan--en wat hulself tog vir erg beskaaf
+hou--tot die wat weinig meer lees, of kan lees dan sulke goed soos
+_Tit-bits_ en die _Strand Magazine_."[25] En veel uit die volgende, wat
+in 1911 geskryf is, bly vandag ook nog waar: "As ons let op wat tot nog
+toe (hoofsaaklik) in ons land geskryf is, as ons sien wat vernaamlik ...
+gelees word, dan moet ons sê, dat die awontuurlike en romantiese--die
+soort soos Captain Kettle en Sherlock Holmes, die soort wat sig besig
+hou met die growwe feite van die lewe--nog altyd die meeste in die smaak
+val.... In 'n jong land is dit amper nie anders te verwag nie--ons hele
+bestaan is hier prakties, geestelik oppervlakkig, woelerig en alledaags.
+Vraagstukke en gevoelens en gedagtes waar die groot wêreld daarbuite al
+moeg van is, daar het ons nog nie eers aan geroer nie."[26]
+
+Dr. G. Cillié gaat selfs so ver om te beweer, dat ons al ons kultuur
+"oorgeneem (het) van ons ingevoerde medeburgers. Dis nie ons eie nie,
+dis geleen. Ons sogenaamde nuwe kultuurvorme is 'n suiwere na-apery ...
+As ons so vuurwarm word oor ons eie tradiesies en gewoontes en sedes,
+dan praat ons so ongemerk ... 'n hele boel nonsens." Tog erken hy: "Op
+die gebied van ons geskiedenis, van ons boerdery, ons nywerheid en veral
+ons taal en letterkunde het ons verbasend vooruitgegaan. Op taalgebied
+het ons waarskynlik in die afgelope twintig jaar 'n groter
+ontwikkelingsproses deurgegaan as die Engelse taal in vyf eeue, van die
+tyd van Chaucer tot vandag toe. Dit alles getuig van 'n vitaliteit, 'n
+groeikrag, 'n energie, 'n lewe, wat ons met verbasing en blydskap
+vervul."[27]
+
+Optimisties is Dr. D.F. Malan: "Ik geloof ... dat het Afrikaanse volk op
+het gebied van de kunst een schone toekomst tegemoet gaat. Voor die
+verwachting meen ik goede gronden te hebben. Ik bedoel niet alleen het
+feit gedurende de lange wachtensmoede uren in de kampen ontdekt, dat ons
+volk even kunstig kan zijn met het mes als dapper met de Mauser.... Ik
+bedoel ook het feit dat de kunst ons volk ongetwijfeld aangeboren is....
+Ons volk is samengesteld hoofdzakelik uit drie elementen--het Hollandse,
+het Franse en het Duitse. 't Zijn juist die volken van Midden-Europa,
+die uitblinken in kunstgevoel en kunstprodukten, de natuurlike
+erfgenamen van de beschaving en de kunstzin van de oude Grieken en
+Romeinen."[28]
+
+Van belang is ook die volgende: "Hier in S.A. kan ons nog nie praat van
+'n spesifiek Afrikaanse toonkuns nie, hoewel ook hier die eerste
+druppels na 'n langdurige droogte begint te val.... Ons vernaamste
+musiek-eksamens word afgeneem deur 'n Engelse liggaam, wat elke jaar sy
+eksaminatore uit Groot-Brittanje naar S.A. stuur. Dit bewys hoe
+primitief die opvatting van ons outoriteite van die doel van die
+toonkuns is, dat hulle sulke verouderde toestande laat voortduur.... Ons
+volk is kultureel nog nie ontwikkel nie, en geldelik nie sterk genoeg om
+hom ontberings te getroos of groot somme uit te gee vir goeie
+skilderstukke nie."[29]
+
+By die beoordeling van die letterkundige waardering kan ook gewys word
+op die soms hoogs eienaardige keuse van werke uit die Nederlandse
+letterkunde, wat vir publieke eksamens voorgeskryf is. Dikwels het dit
+geblyk, dat daar 'n besondere voorkeur was vir minderwaardige skrywers
+soos Justus van Maurik en ander, wat in Holland, òf totaal onbekend, of
+nog alleen deur die onderste lae van die samelewing gelees word. Tereg
+het dan ook die Akademie daarteen protes aangeteken[30] en in die laaste
+jare kom ook hierin verbetering.
+
+
+§6. Kalvinisme en Kuns.
+
+'n Belangrike faktor in ons kultuurlewe is die feit, dat die Afrikaner
+volk Kalvinisties is. "Als wij de ziel van dit volk wensen te bepalen
+zonder zijn religie 'n prominente plaats in te ruimen, zou het zijn 'n
+opvoeren van _Hamlet_ zonder de prins erbij", verklaar Ds. N.J.
+Brümmer.[31] "Geheel ons Afrikaans-Protestantse religie is gebaseerd op
+'n zeker Godsbegrip zoals in de (Dordse) Canones omschreven." Die
+"teugelloze willekeur" van die Afrikaanse natuur was "'n school voor de
+beoefening van de deugd der onderworpenheid, ... was genoeg om de
+Afrikaner tot ernst, ja tot somberheid te stemmen, en voorwaar de
+weemoedsschaduw der oude Germanen valt nog bij de besten onder ons volk
+op te merken." Daar mag wel 'n kern van waarheid in die laaste opmerking
+wees, maar laat ons veral die somber stemming nie oordryf nie. "Om den
+wat stroef gesloten mond van den Calvinist heeft Cats vaak een gezonden
+lach doen spelen", sê Dr. Kuyper.[32] Dit was by ons nie nodig nie, want
+'n guitige humor is juis een van die kenmerke van die Afrikaner volk. En
+in die "meedogenloze" natuur van Suid-Afrika is die stralende son tog
+steeds 'n simbool van blyheid gewees, wat ons uit die bedompige huise
+gelok 't na jag- en veldvermaak.
+
+Prof. J.J. Smith het daarop gewys, dat sekere kunsuitings al agterdog
+veroorsaak het. "Ons volk is by uitstek Kalvinisties en die geroep om
+die kuns ter wille van die kuns self te bewonder, wat die kunstenaar ook
+al mag voorstel, het heelwat argwaan teen die kuns verwek. Om 'n
+agterveldse patriarg 'n skilderstuk voor te hou of 'n beeldhouwerk te
+toon wat 'n voorstelling gee van Voortrekkersdogters wat in die
+Oranje-rivier baai, sal by hom nie juis liefde vir die kuns wek nie,
+want as afstammeling van die Hugenoot en Geus het hy alreeds met die
+idee vertroud geraak, dat die beeldhoukuns 'n werktuig in die diens van
+die afgodedienaar is en die skilderkuns 'n instrument om Roomse
+kerkvensters mee te versier."[33]
+
+Op die Bloemfonteinse Taalkongres is daar in 1909 'n skermutseling
+gewees oor die vraag of die Akademie die opvoering van toneelstukke moes
+bevorder.[34] "Dit voorstel werd echter hevig bevochten" in 'n
+voorlopige komiteevergadering al, en hoofsaaklik deur kerklike teenstand
+verwerp. Merkwaardig is egter, dat daar tog ook predikante ten gunste
+van die voorstel was. In _Die Banier_ (Des. 1921) bepleit Dr. H.J. Steyn
+die oprigting van beroepsgeselskappe op goeie gronde. "Die tyd is verby
+om die toneel te bestry op grond dat dit teen ons sedes is. Die Engelse
+toneel is nie alleen 'n gevaar vir ons sedes nie, maar ook vir ons
+nasionale gevoelslewe."[35] In die taalstryd het die liefhebbery-toneel
+uitstekende dienste bewys en ook tans nog is daar geselskappe, wat groot
+gedeeltes van die land afreis. Jan Celliers sê in 1910 al: "Dis op ander
+plekke ook duidelik gebleke dat die toneel 'n magtige middel kan wees
+tot sedelike opvoeding, deur aan die mens 'n spieël voor te hou van sy
+drifte, hartstogte en ydelhede. En die toneel boesem eerbied en liefde
+in vir die landstaal. In ons land, veral, waar so min gelees word, kan
+die toneel 'n groot rol speel ..."[36]
+
+Hoe die Kalvinistiese gees reageer op die moderne Nederlandse
+letterkunde blyk o.a. uit die jaarboeke van die Akademie. In 'n voordrag
+_De Dichter als Ziener_ sê Dr. J.D. du Toit (Totius): "Bij overvloedige
+tol van eerbied, die gij zeker met mij aan de nieuwe Hollandse dichters
+betaalt, moet toch bejammerd worden het waarlik arm-zijn van hun verzen
+aan dat ideëel-zienlike, dat logies-objektieve. Hun subjektievisme doet
+hen omdwalen in een ijle, onlogiese, zinledige wereld." (II p. 57). Ter
+stawing van sy oordeel voer hy aan Belpaire, _Kunst- en Levensbeelden_.
+Van _l'art pour l'art_ wil Totius nie hoor nie. Met instemming haal hy
+Prof. Woltjer aan: "Het begin en einde van alle poëzie is de ere Gods in
+het woord Hem toegebracht uit en door zijn schepsel".
+
+In 1912 spreek Dr. I.J. Marais ([oorlede] 1919) sy professorale
+banvloek uit oor "De Nieuwere Richting in de Nederlandse
+Letterkunde",[37] waarmee hy hoofsaaklik die Tagtigers bedoel. "Zij
+verheerliken de kunst; zij zijn artiesten, die woordkoppelingen dulden,
+vaak door geen mens verstaan ..." Beets, Da Costa, Van Lennep,
+Bosboom-Toussaint, Bilderdijk, Van Koetsveld en De Genestet--die noem hy
+almal "sterren van de eerste rang"! "Met hun heengaan nam de
+middelmatigheid bezit van het terrein"! Dat Van Deyssel dit waag om
+manne soos Vosmaer en Jan ten Brink die les te lees word genoem
+"verwaandheid, die alle perken te buiten gaat". En dan volg die
+uitspraak: "De _Opstellen_ van Van Deyssel, de _Letterkunde_ van Kloos,
+de _Studies_ van Van Eeden zijn geen letterkunde die veredelt." Veral
+die wêreldbeskouing van die Tagtigers prikkel tot teëspraak. "Het
+_èsthetiese_ neemt de plaats in van het _etiese_. Het schone wordt
+verheerlikt tegenover het goede en het ware, en het heilige." Steunende
+op Taco de Beer en Ds. Hulsman word die wêreldbeskouing dan veroordeel.
+Johan de Meester en Vermeylen val onder die skrywers "van mindere rang"
+en alleen enkele sonnette van Perk vind genade. En eindelik kom die
+volgende sug van verligting: "Goddank dat onze Zuid-Afrikaanse
+schrijvers ons een andere weg hebben aangewezen ... Couperus, Van Eeden,
+Van Deyssel en anderen kiezen wij niet tot model in Z.A. Daartegen
+waarschuwen wij ..." Prof. A. Moorrees breek 'n lansie vir Bilderdijk in
+sy dankwoord en prys die kritiek van Beets teenoor die "van sommige
+latere kritici, wier kritiek grotendeels schijnt te bestaan uit
+geïdealiseerde viswijventaal."[38] Ook Ds. J.D. Kestell verklaar dat
+"ondanks de moderne neiging om de schrijvers van 1880 te volgen, men
+zich hier bij ons nog steeds vastklemde aan 'n oudere generatie, en
+inzonderheid aan Beets."[39]
+
+As "men" beteken die ou garde, dan is die bewering in hoofsaak juis.
+Onder die jongere is daar seker niemand, wat die sonderlinge kritiek van
+Prof. Marais sal aanneem nie. Ons het in die woorde van Prof. Moorrees
+geleer om "het goede uit alle tijden en alle richtingen ... te
+waarderen"[40] en weier om 'n metode te volg, wat die meeste egte
+kunswerke op die Kalvinistiese indeks sou plaas, 'n metode, wat tot
+sulke ongerymdhede lei as om Van Koetsveld en Van Lennep o.a. onder "de
+sterren van de eerste rang" te reken! Prinsipiële voorligting by die
+moderne literatuur is ongetwyfeld 'n dringende eis, veral in 'n
+Kalvinistiese gemeenskap, maar dit moet iets anders wees as 'n
+veroordeling met een breë armswaai. Daar is ook in Suid-Afrika nog mense
+wat glo dat kristelike beginsels teenoor _egte_ kuns nooit vyandig hoef
+te staan nie. Raak Jan Celliers in sy takvolle lesing oor _Kuns en
+Sedelikheid_ nie die wortel van die kwaad nie, waar hy sê: "Ons
+opvoeding in alles wat skoonheid en kuns aangaat, is te seer
+verwaarloos.... Word daar nie te veel "angsvallig bedek (ge) hou (nie),
+wat deur eerlike, openlike behandeling die aantreklikheid van verbode
+vrug en geheim sou verloor en gevaar sou voorkom"? (_Die Huisgenoot_
+Jan. 1922.) Aangesien daar nou al tekens is, dat die voetpaadjie van ons
+Afrikaanse kuns uitdraai na die internasionale grootpad, word dit 'n
+aktuële kwessie.
+
+Prof. J. Kamp het die verskil in geestesgesteldheid tussen Europa en
+S.A. goed geformuleer: "Van de problemen die daarginds de moderne ziel
+bewonen, schokken en folteren, horen wij hier nog maar 't verre gerucht.
+Voor 't grootste deel wandelen wij nog maar op de _traditionele_ paden
+... En op emotioneel gebied, op 't terrein van de kunst? Wij zijn
+vermoedelik nog ver van Oud-Europa z'n tegenwoordige koers op dit
+gebied.... We zijn nog eenvoudig, nog natuurlik, ja zelfs nog tamelik
+naïef. En aan onze _kunst_ komt dat ten goede. Maar de vraag is of diep
+onder de oppervlakte van Jong-Zuidafrika z'n geestelik leven niet reeds
+kiemen zijn aan te wijzen, van dat modern-europese. 't Kontakt tussen
+hier en daar wordt al veelvuldiger en al intenser ... Ik meen, dat
+grondige kennis van, en diep inzicht in de getijen van hedendaags
+Europa, niet te vroeg onder ons bevorderd kunnen worden. Opdat wij
+_weten_, en _gewaarschuwd zijn_, en niet overrompeld worden."[41]
+
+Van groot belang vir die letterkunde sal die Afrikaanse Bybelvertaling
+wees. As die vertalers daarin slaag om deur verhewe eenvoud 'n waardige
+vertolking van die gewyde teks te lewer, sal dit veel bydraag om
+vastigheid te gee op stylgebied.
+
+
+§ 7. Die Prosa.--Algemene Karakteristiek.
+
+In die letterkundige voortbrengsele van die periode wat ons die
+Afrikaanse Renaissance kan noem, sit daar ongetwyfeld sterk militante
+elemente--en geen wonder ook, want die letterkunde van alle volke is 'n
+weerspieëling van die geestelike strominge wat die volksiel diep geroer
+het. Vir tientalle van jare voer ons al 'n taalstryd--'n stryd wat
+feitlik elke indiwidu dwing om grondig na te dink oor allerhande
+taalkwessies, waaroor hy hom onder normale omstandighede nooit sou
+bekommer nie. En die taalstryd is terselfdertyd 'n stryd vir ons
+volksbestaan, vir ons volkseenheid. "Ons jong Afrikaanse taal _moet_ win
+en _sal_ win", is die vlammende passiekreet van die herlewende volk; en,
+eweas die manne van die Pleïade in Frankryk, verdedig ons kunstenaars
+met heilige ywer die moedertaal, deur die opheffing waarvan 'n lang
+periode van geestelike knegskap beëindig word; vol van die besielende
+weelde van 'n pasgewonne vryheid, slinger hul manifeste teen die
+wikkende, weënde twyfelaars wat nog lus het om 'n vreemde taal aan ons
+op te dring, maar wat nou vasgekeer is tussen die langsaam maar seker
+sluitende sirkel, waarin die asgaai van die jeugdige stryders blink in
+die skittering van 'n nuwe son.
+
+Juis die roes van 'n toekomstige maar sekere oorwinning is dit wat 'n
+rustige objektiewe beskouing van ons literêre kuns so erg moeilik maak.
+Baie boeke wat in die taalstryd kragtige wapens was, sal later nog
+alleen van kultuurhistoriese belang wees. Ons loop groot gevaar om in
+die hitte van die stryd 'n literatuur voort te bring wat die karakter
+van fabriekwerk draag. Die tot vervelens toe herhaalde geroep van die
+teenstanders: "Afrikaans het g'n letterkunde nie!" het prikkelend gewerk
+en 'n atmosfeer geskep, waarin wel 'n kragtige strydliteratuur kan
+ontstaan, maar slegs by uitsondering 'n uiting van stralende skoonheid
+wat deur alle tye heen sal geniet en gewaardeer word. Die uitdagende
+houding van die voorstanders van Hollands, wat hul steeds beroep het op
+'n eeue-oue letterkunde, het ons opgehits tot dade van durf. In jeugdige
+oormoed het ons aan skrywe gegaan--nie altyd omdat hier binne ons 'n
+magtige worsteling van ideë was wat tot vertolking gedwing 't nie, maar
+ook om te bewys dat ons taal sy man kan staan. In die laaste paar jaar
+het daar 'n oorweldigende aantal boeke in Afrikaans verskyn; en omdat in
+die taalstryd juis dié wapens so uiters belangrik was, kon die kritiek
+dikwels nie onvoorwaardelik veroordeel nie. Maar nou begint die tyd
+verby te gaan waarin ons 'n boek gaan aanbeveel eenvoudig omdat dit in
+Afrikaans geskryf is. Vir ons jong skrywers is daar nou geen aanleiding
+meer nie vir dié oorhaasting waardeur in die verlede veel middelmatigs
+op die pers gekom 't.
+
+Egte kuns kan nie ontstaan nie omdat dit geëis word as bewys vir die
+manbaarheid van 'n jong taal--net so min as wat die goue erepennings van
+die talryke Nederlandse diggenootskappe van die 18de eeu egte poësie
+uitgelok het. Egte kuns moet spontaan voortkom uit 'n innerlike
+onweerstaanbare drang, waaraan die geroepe kunstenaar, die "begenadigde
+eenling" eenvoudig _moet_ gehoorsaam. Nasionale eersug het nog nooit 'n
+letterkunde van blywende waarde gefabriseer nie, eenvoudig omdat dit
+iets is wat nie gefabriseer kan word nie. Gun die kunstenaar die tyd om
+met rustige toegewydheid sy taal te troetel en te streel totdat hy
+daarin die fynste roersele van sy siel kan uit, die teerste opwellings
+kan verklank.
+
+Laat die koorsagtige strydstemming van die laaste tyd ons hoofde nie op
+hol bring nie. Die fiere, lewenskragtige eienskappe van ons volk is die
+waarborg vir die langsame, gestadige opbloei van 'n gesonde nasionale
+letterkunde. So was dit in alle lande, en so sal dit ook by ons wees.
+Maar nie in één nag sal daar 'n katedraal uit die velde opdoem nie, soos
+Albert Verwey êrens sê. Die waardelose ou timmerasie het ons omgesmyt,
+die wanordelike periode van die afbrekery het ons deurgemaak, maar die
+tyd is nou ryp om ernstig en rustig te bou aan die nuwe lewende kuns. Ná
+die omwenteling _moet_ en sal daar iets groots kom--maar as vanself.
+
+Naas die militante element is daar, soos reeds by die beskouing van die
+kultuurtoestande opgemerk, 'n sterk didakties-moraliserende
+stroming.[42] Die toenemende sedebederf, "wat saam met 'n
+bioskoopbeskawing tot ons oorgewaai het"[43] laat meer as een skrywer 'n
+preektoon aanslaan of traktaatjies in verhaalvorm skryf.
+
+Die kunstenaar wat ons 'n didaktiese roman in goeie sin kan gee
+ontbreek nog. Carel Scharten sê tereg: "Het (is) ongetwijfeld mógelijk,
+dat ... een strekking, mits tot een bezielenden hartstocht gegroeid, een
+gróót talent tot de hoogste en tevens voor ieder verstaanbare kunst
+opvoert...."[44] By ons het die didaktiese stroming op die gebied van
+die roman nie veel meer opgelewer as soetsappige vermanings nie, wat
+heeltemal los en uit die verband staan, of anders verhale, opsetlik só
+saamgestel, dat die strekking die _enige_ doel is. Langenhoven, wat
+aanvanklik sy lewenswysheid op betogende wyse meegedeel het, begin dit
+nou in verhaalvorm te verwerk en by hom is daar seker kans, dat die
+strekking tot besielende hartstog sal vergroei en mettertyd 'n
+opbloeiing van gemeenskapskuns bring. Hy en ander skrywers teken die
+kultuurverbastering op satieries-humoristiese wyse, terwyl die
+mentaliteit van die arme blanke en sy agteruitgang in die stede
+realisties geskets is deur J. van Bruggen en Lub.
+
+Die romanties aangelegde skrywers volg die voetspoor van historisie soos
+Preller en J.H. Malan en verheerlik die nasionale verlede. Die
+Voortrekkerperiode veral word met liefde bestudeer, maar ook die
+Anglo-Boere-oorlog lewer stof vir 'n paar romans en talryke sketse. J.H.
+Malan en De Waal gaan terug na die vroegste tydperk van die Kaapse
+geskiedenis, terwyl ook resente gebeurtenisse, soos die opstand van 1914
+behandel word. Die invloed van Van Lennep is duidelik merkbaar by
+sommige skrywers. Dikwels moet die historiese agtergrond hoofsaaklik
+dien om 'n hele reeks awonture meer waarskynlik te maak. Die digterlike
+gees, wat die historiese feite moet interpreteer, en deurdring tot die
+innerlikste kern van 'n tydperk, sonder versmoor te raak onder
+noukeurige argeologiese gegewens is alleen af en toe aanwesig. Daarom is
+die resultaat meestal nie veel meer dan "'n gekleurde historieprent"
+nie.
+
+'n Aaneenryging van kakelbonte awonture, wat die nuuskierigheid prikkel
+deur al die konwensionele kunsies van 'n vernuftige intriege vind nog
+groot byval, selfs by die ontwikkelde klasse. Dit is 'n voorkeur, wat
+deur die tallose minderwaardige Engelse ontspanningsromans aangekweek en
+in stand gehou word.[45] As 'n skrywer maar behendig die draadjies kan
+trek van 'n klompie houtpoppies, liefs met 'n stukkie vierkleur om die
+hoed, en hul 'n paar ingewikkelde dansies laat uitvoer, waarby 'n paar
+"rooies", of 'n klomp Soeloes in die stof getrap word, dan vind hy
+lesers genoeg! Op karakterontwikkeling kom dit minder aan as daar maar
+genoeg aksie, beweging en verrassinge is.
+
+Jan Celliers het die oorsake van die toestand as volg geformuleer: "Hoe
+kan verwag word dat 'n jong kultuur, wat, so te sê, gister eers ontwaak
+het, onder 'n jong volk, wat van die begin af 'n harde stryd om sy
+bestaan te stry gehad het teen 'n hardhandige natuur, teen
+honderd-duisende barbare, teen 'n vreemde oorheerser van buite, sou
+ooreenkom met die van ouer lande? Hoe kan verwag word dat ons vir ons
+besonder sou verdiep het in 'n studie van die mens en sy omgewing vir
+filosofiese of vir kunsdoeleindes? Ons het die mens en die natuur
+bestudeer met die oog op die praktiese vrae van die dag, wat gou en goed
+opgelos moes word, waar ons bestaan van afgehang het. En dié stryd hou
+nog altyd aan.... Ons bloed is nog aldag te veel in beweging, jaag ons
+aan, ons het te veel te doen, ons moet gou klaar wees, het nie tyd om
+veel te droom of te peuter nie.... Om een en ander rede is ons romans
+nog veel meer op handelinge en vermenigvuldiging van gebeurtenisse
+aangelê as op karakterstudie van 'n persoon of versameling van persone.
+Dis vir ons onmoontlik om soiets doodkalm te behartig en ons grote stryd
+te vergeet; onwillekeurig straal die stryd, en alles in verband daarmee,
+in ons werk deur--romans, toneel, alles."[46] Dat die opvatting van 'n
+goeie roman, soos deur Jan Celliers in dieselfde voorlesing uiteengeset
+nog lang nie algemeen is nie, blyk uit 'n pleidooi in _Die Huisgenoot_
+(Okt. 1919), waarin ongetwyfeld die gevoelens geuit word van "die grote
+gros van fatsoenlike mense, wat.... 'n pittige, boeiende verhaal belaai
+met "kunsies", verkies bo 'n sielkundige studie van mens en natuur."[47]
+En dit sal seker nog lank duur voor al die "fatsoenlike mense" tot
+juister kunsbegrippe kan opgevoed word en leer insien, dat Hollanders,
+wat iets van letterkunde afweet al lank al nie meer op Van Lennep "roem
+as 'n egte en groot romanskrywer" nie.
+
+In die laaste tyd is daar egter 'n reaksie gekom op die awontuurlike
+rigting. J. van Bruggen, Léon Maré, Kruger, Van Reenen en ander verdiep
+hul in karakterstudie en ook in talryke tydskrifverhale word die mens
+meer en meer hoofsaak. Deur die genoemde skrywers is realistiese werk
+van goeie gehalte gelewer. Oor die algemeen moet egter geseg word, dat
+ofskoon ons goeie vertellers het, wat die kuns van aanskoulike
+voorstelling verstaan, daar nog uiters selde 'n karakter geskep is, wat
+deur plastiese uitbeelding en fyn, menskundige aanvoeling 'n blywende
+indruk maak. Daar is meer as een skrywer met 'n raak opmerkingsgawe,
+maar ons voel telkens asof die dinge meer deur 'n soort
+projeksie-apparaat bekyk word, as deur die oog van 'n kunstenaar. Wat
+Van Deyssel "de oppermacht der intuïtie" noem, ontbreek nog.
+
+"The depiction of the external, objective, carnal, precedes in every
+form of expression of which we can have records, the consideration of
+the internal, the subjective, the spiritual. We go from shapes, and
+forms, and bulk, and externals, to the presentation of the life
+within."[48]
+
+Daar is al genoeg aanduidings dat by ons die ontwikkeling dieselfde weg
+sal volg. En Stoddard toon aan dat dit ook op ander terrein die geval
+was. So het die skilders eers die Madonna met 'n oureool geskilder;
+later pas "illumined and glorified by a light from within."
+
+Verskillende skrywers het op gelukkige wyse die inboorling geteken en
+ook hier is die strewe merkbaar om van die skildering van uiterlike
+eienaardighede oor te gaan tot die uitbeelding van dieper menslikheid.
+En naas die jagstories met hul bonte awonturereeks staan Sangiro se
+_Sketse_, waarin hy probeer "om die diere se gewaarwordinge uit hulle
+uiterlike beweginge te verstaan."[49]
+
+Die groot behoefte aan leesstof in die moedertaal het meer as een
+skrywer, veral in die begin, uit pure vaderlandsliefde na die pen laat
+gryp. "Ons het 'n volk om te behou, ons het 'n nasie om op te voed, ons
+kan nie wag nie!"[50] was die wagwoord. In baie voorredes kan mens dan
+ook sien, dat die enigste doel van die skrywer was om die leeslus aan te
+moedig. So verklaar De Waal van sy _Stompies_, dat hulle "van geen
+besonder gehalte op letterkundig gebied (is) nie", "die enigste doel van
+die skrywer is om te help voorsien aan (lees _in_) 'n nasionale
+behoefte".[51] "Ons kan nie ons volk laat agterbly nie", sê Langenhoven
+by die verskyning van _Stukkies en Brokkies_ (1911) en selfs in 1918
+heet dit nog: "Die hele boek is maar 'n noodshulpie". Ook D.P. du Toit
+reken homself maar onder die "handlangers en knoeiers, wat somar
+roustene aandra vir die binnemure".[52] Onder sulke omstandighede hoef
+die groot gebrek aan tegniek, waarop in die volgende hoofstukke
+herhaaldelik sal gewys word, geen verbasing te wek nie.
+
+Vandag is die toestand só verander, dat ons met die volste reg van alle
+aspirant-kunstenaars kan eis, dat hulle goed georiënteer is in die
+wêreldletterkunde, dat hul ten minste 'n begrip het van die algemeen
+erkende tegniese reëls, voordat hulle aan skrywe gaan. Ons kan ook met
+reg verwag, dat hulle geen uitgediende, outydse modelle navolg nie, dat
+hulle steeds in voeling bly met die literêre vooruitgang in ander lande.
+Maar aan die eise het nog net enkele voldoen en daarom het ons
+letterkunde allesbehalwe 'n moderne cachet.
+
+Op taalgebied heers daar by die meeste skrywers groot onsekerheid. Daar
+is nog 'n soekery, 'n rondvallery om die juiste vorm te kry, wat
+natuurlik maklik verklaarbaar is, by 'n geslag wat gister eers geleer
+het om sy eie taal te skryf. By meer as een is die taal nog stroef en
+onbuigsaam, wanluidend en sonder ritme. Ander weer, soos Preller, wat
+goed op die hoogte van die moderne stylkuns is, skryf al in 1906 'n
+gekultiveerde taal, klankvol wegdeinend op bevallige ritme en telkens
+verrassend deur oorspronklike beeldspraak, ontleen aan Afrikaanse volk
+en bodem.[53] Uit tallose voorbeelde in die volgende hoofstukke sal blyk
+hoe gevaarlik diep die vreemde parasiete al deur die bas van die
+taalboom geknaag het, en hoeveel speurende sorg daar sal nodig wees om
+hulle uit te vroetel.
+
+By enkele skrywers is daar 'n welbewuste strewe na mooiheid van klank en
+frisheid van segging, by die meeste egter 'n gedagtelose naskrywery van
+geykte Hoog-Hollandse beeldspraak. Gelukkig is daar ook al prosa
+geskryf, wat bewys, dat Afrikaans in smydigheid, in seggingskrag en
+klank alleen 'n kunstenaar nodig het om tot sy reg te kom. Wanneer ons
+let op die stroom middelmatige verse, dan blyk dit hoe nuttig Jacob Geel
+se uitspraak ook vir ons kan wees: _"Laat ons het Proza bewerken: de
+echte Poëzie zelve zal er bij winnen"_.
+
+
+§ 8. Krietiese Standpunt.
+
+In die volgende hoofstukke word 'n poging gedoen om die letterkundige
+waarde van ons vernaamste prosawerk te bepaal. Wie bekend is met die
+toestande in ons land sal toestem, dat by die estetiese kritiek 'n
+verwysing na die kultuur-historiese waarde van die besproke boeke
+noodsaaklik is. In enkele gevalle word dit afsonderlik gedoen, maar hier
+kan met nadruk daarop gewys word, dat die meeste behandelde werke, wat
+ook al hul gebreke mag wees, en hoe primitief hul ook dikwels mag skyn
+vir iemand, wat op die hoogte van die moderne Europese lettere is, _tog
+almal, byna sonder uitsondering, voortreflike dienste in ons taal- en
+kultuurstryd bewys het_. Daarom pas dit ons om 'n eresaluut te bring aan
+al die voortrekkerskrywers, wat ons volk van 'n geestelike hongerdood
+gered 't, deur wie se liefdevolle ywer ons nie langer as doofstomme
+bywoners in ons eie land hoef te sit en swyg nie. 'n Eresaluut, nie
+alleen aan die begaafde artieste nie, maar ook aan die, wat in alle
+eenvoudigheid houtkappers en waterdraers was, toe die meeste nog stil
+gesit 't, of niks anders as spot oor had vir 'n beweging, wat 'n einde
+aan ons lang periode van geestelike knegskap gemaak het.
+
+Die gevoel van piëteit hoef egter ons krietiese vermoë nie te verlam,
+mag ons nie belet om sonder doekies omdraai 'n estetiese oordeel uit te
+spreek nie. Dit sou 'n verkragting van ons gewete wees en 'n fatale
+uitwerking hê op die verdere ontwikkeling van ons jong letterkunde. Nou
+dat die taalstryd feitlik afgeloop is, word dit tyd om vas te stel, wat
+ons tot dusverre bereik het; om te waardeer wat skoon is, om te laak wat
+gebrekkig is. Tyd ook, om die voortbrengsele van ons kuns te meet aan
+die meesterstukke van die buiteland. Want ons wil vorentoe beur! Ons wil
+Suid-Afrika "hoog opstooten midden in de vaart der volken". Ons wil nie
+'n pieperig-bleek kasplantjie hê nie, wat alleen 'n sukkelbestaan kan
+voortsleep in 'n vaderlandse broei-atmosfeer. Dit moet 'n _kan-nie-dood_
+wees, wat ook die kritiek van ons Dietse stamgenote nie kan ontwortel
+nie, in vaderlandse bodem geplant, maar tog bestand teen alle wind en
+weer.
+
+Op dié gedagte is ook die krietiese beskouing in die volgende hoofstukke
+gebaseer. Wie dit daarmee nie eens is nie, sal op meer as een skynbaar
+onbillike oordeel stuit. Maar laat diegene bedenk, dat ons op kuns-, net
+so min as op ander gebied 'n laer kan trek en met doringtakke inmenging
+van buite afweer. Op die gevaar van isolasie is reeds in 'n vorige
+paragraaf gewys. As ons digters reeds so 'n hoë peil bereik het, dat
+selfs Europese fynproewers hulle werk kan waardeer, dan hoef ons
+prosaïste ook nie met minder tevrede te wees nie. Jong Suid-Afrika
+streef ook op kunsgebied vooruit en die kunstenaar wat laag mik, sal in
+'n paar tiental jare skoon vergeet wees. Daarom moet ook ons prosakuns
+op 'n kosmopolietiese plan kom te staan, wat geensins denasionalisering
+hoef te beteken nie. In die stadium van ontwikkeling, waarin ons tans
+verkeer, kan 'n gemotiveerde kritiek, waarin breedvoerig op prinsipiële
+kwessies ingegaan word nuttig wees en daarna is ook in hierdie werk
+gestreef. As dit lei tot 'n ruimer belangstelling in ons prosakuns, tot
+meer vergelykende studie en 'n juister insig in letterkundige
+verskynsele, dan is die doel van die skrywer bereik.
+
+Op die ooreenkoms tussen ons toestand en die Vlaamse is al dikwels
+gewys en dit geld ook van die kritiek. August Vermeylen sê: "Elke
+flamingant achtte het zijn plicht zijne algemeene gedachten in de
+godentaal weg te brullen of uit te kwinkeleeren. In het begin onzer
+herwording, na het jaar 1830, was de literatuur het voornaamste wapen
+der Vlaamschgezindheid geweest, en lang nog meende ieder taalstrijder
+dat wapen te moeten hanteeren. Het vergde dan ook meer dan gewonen takt
+van den kritikus, om zich niet schuldig te maken aan landverraad, als
+hij den rijmelenden taalbroeder wat minder "puik" moest verklaren."[54]
+
+
+§ 9. Beperking van Onderwerp.--Indeling.
+
+Die volgende bespreking is beperk tot oorspronklike prosa, wat meer of
+min tot die terrein van die skone lettere behoort. Buiten beskouing bly
+dus _(a)_ suiwer wetenskaplike prosa, waaronder 'n groot aantal
+Afrikaanse dissertasies en die _Populêr-Wetenskaplike Serie_ van die
+Nasionale Pers; _(b)_ godsdienstige prosa, soos die kinderbybel van Ds.
+Conradie en 'n hele paar preekbundels; _(c)_ vertalings en omwerkings;
+_(d)_ kinderboeke. Daar word 'n poging gedoen om te bepaal in hoeverre
+ons historiese prosa, deur versorging van styl en ander artistieke
+kenmerke tot die gebied van die kuns behoort.
+
+In § 7 is 'n algemene karakteristiek van ons prosa gegee. Op enkele
+strominge word daar gewys, maar tewens blyk ook hoe alles by ons nog in
+wording is. Veral by die romans en verhale is dit moeilik om tot 'n
+bevredigende indeling te geraak. Waar daar nog net vae aanduidings is
+van enkele hoofgroepe, en die meeste skrywers nog in verskillende
+rigtings rondsoek, word dit onmoontlik en ongewens om nou al kampe af te
+baken. Om dié rede is die voorkeur gegee aan 'n kronologiese indeling,
+wat onder ander die voordeel bied, dat die meeste skrywers as 'n eenheid
+kan bespreek word en, waar nodig, die ontwikkelingsgang in hul werk kan
+aangedui word. Op die manier is die verbrokkeling van 'n skrywer se werk
+soveel moontlik beperk. G.R. von Wielligh word in 'n afsonderlike
+hoofstuk bespreek, omdat hy in baie opsigte _"'n Laaste stem uit die
+Genootskap van Regte Afrikaners"_ is. Vir die ander hoofstukke is geen
+opheldering nodig nie. Op enkele uitsonderings na word hier die
+Akademie-spelling gevolg.
+
+VOETNOTAS:
+
+[1] Vgl. _Die Huisgenoot_, Jan. 1922: _Eerste Skrywers en Eerste
+Geskrifte in Afrikaans_.
+
+[2] Die vyftigste verjaardag van die _Genootskap_ in 1925 mag seker nie
+ongemerk verbygaan nie.
+
+[3] Dr. L. van Niekerk: _De Eerste Afr. Taalbeweging_ (1916); _Ds. S.J.
+du Toit in Weg en Werk_, deur Dr. J.D. du Toit (1917); _Eerste skrywers_
+deur G.R. von Wielligh (1918); S.J. du Toit, _Geskidenis van die Afr.
+Taalbeweging_ (1880).
+
+[4] Vgl. _Ds. S.J. du Toit in Weg en Werk_, p. 203.
+
+[5] Preller: _Inleiding tot Die Vlakte_, 5de druk, p. 7.
+
+[6] Gesiteer deur Dr. J.D. du Toit: _Ds. S.J. du Toit_, p. 210.
+
+[7] Vgl. Dr. S.P.E. Boshoff: _Volk en Taal van Suid-Afrika_, p. 62.
+
+[8] J.H.H. de Waal in _Die Burger_, 12 en 13 Aug. 1921.
+
+[9] Dr. T.B. Muller: _Die Geloofsbelijdenis van 'n Nasionalis_. (1913),
+p. 8.
+
+[10] Preller: _Inleiding tot Die Vlakte_, 5de druk, p. 12.
+
+[11] Die taalstryd het Dr. E.C. Pienaar beskryf in: _Taal en Poësie van
+die Twede Afr. Taalbeweging_. Vgl. daarby egter Hoofstuk III.
+
+[12] Dr. W.J. Leyds: _Het Insluiten van de Boeren-Republieken_ I, p. XI.
+
+[13] Vgl. L. v. Niekerk: _De Eerste Afr. Taalbeweging^1_, p. 64.
+
+[14] _De Volkstem_, 18 Aug. 1906.
+
+[15] Ek kursiveer.
+
+[16] _Die Huisgenoot_, Julie 1919.--Prof. J.J. Smith. Vgl. ook Hoofstuk
+III, § 3.
+
+[17] _Neerlandia_, Sept. 1913.
+
+[18] Vermeylen: _Verz. Opstellen_.
+
+[19] Carel Scharten: _De Roeping der Kunst_, p. 5.
+
+[20] Vgl. my artiekel: _Kuns regeringsaak,^2 Die Brandwag_, Jan. 1921.
+
+[21] _Taal en Poësie^2_ ens. p. 110-117.
+
+[22] _Die Banier_, Aug. 1921. Dr. Steyn se verdienstelike artiekels oor
+_Die Dietse Bond_ het seker reg op meer algemene belangstelling en
+behoort herdruk te word.
+
+[23] _Die Huisgenoot_, Nov. 1921.
+
+[24] Dr. E.C. Pienaar: _Taal en Poësie^2_ ens., p. 47.
+
+[25] _Die Brandwag_, Junie 1917.
+
+[26] id. 15 Aug. 1911, _Skrywers en Gekrifte_, deur N.N. (Jan Celliers).
+
+[27] _Die Banier_, Okt. 1921. _Het Geleerde Jong Suid-Afrika 'n
+Program?_
+
+[28] _Akademie-Jaarboek_ I, p. 94.
+
+[29] Dr. H.J. Steyn: _Die Banier_, Des. 1921.
+
+[30] _Akademie-Jaarboek_ V, p. 89.
+
+[31] Id. I, p. 83. _Die Afrikaanse Volksziel_.
+
+[32] _Het Calvinisme en de Kunst_.
+
+[33] _Die Huisgenoot_. Feb. 1919.
+
+[34] Vgl. _Jaarboek_ I, p. 49 vlg. en p. 14. Vgl. ook Dr. G. Besselaar:
+_Z.A. in de Letterkunde_, p. 95.
+
+[35] In die pers is aangekondig, dat D.J. Smal, die bekende yweraar vir
+gelyke taalregte na die buiteland gaan vir tegniese toneelopleiding.
+
+[36] _Akademie-Jaarboek_ I, p. 92.
+
+[37] _Jaarboek_ III, p. 54 vlg.
+
+[38] _Jaarboek_, p. 67. Vgl. ook sy oordeel oor Beets in V, p. 95 vlg.
+
+[39] V, p. 103.
+
+[40] III, p. 68.
+
+[41] _Die Banier_, Okt. 1921 na aanleiding van die tydskrif: _Het
+Getij_.
+
+[42] Vgl. § 5.
+
+[43] Dr. W.M.R. Malherbe in 'n voorwoord by _Die Veldblommetjie_.
+
+[44] _De Roeping der Kunst_, p. 399.
+
+[45] Vgl. Jan Celliers: _Die Roman. Die Huisgenoot_, Aug. 1919.
+
+[46] t.a.p.
+
+[47] Die skrywer is J.W. van Kaapstad.
+
+[48] Stoddard: _The Evolution of the English Novel_, Chapter I.
+
+[49] Voorwoord.
+
+[50] Jan Celliers in _Die Volkstem_, 19 Junie 1907.
+
+[51] Voorrede 2de druk.
+
+[52] Voorrede: _Sy Pa se Skuld_.
+
+[53] Vgl. b.v. sy Persoonlike appresiasie van _Joh. van Wyk, De
+Volkstem_, 18 Aug. 1906.
+
+[54] _Verz. Opstellen_ II, p. 149
+
+
+
+
+HOOFSTUK II.
+
+Polemiese Prosa.
+
+"Ik houd van woorden, die op mij neêrbonken als vallende balken, van
+woorden, die mij voorbijsissen als kogels", sê Lodewijk van Deyssel.
+Sulke woorde van "roode gramschap" en "gele spotternij" sal in die
+volgende oorsig telkens aangehaal word met die doel om daarop te wys,
+dat enkele van ons strydskrifte oor die taalkwessie, nie alleen van
+histories, maar ook van letterkundig belang is. Hier word dus geen
+gedetailleerde geskiedenis van die taalstryd gegee nie--dit het Dr. E.C.
+Pienaar in sy dissertasie gedoen[55].
+
+Met die oprigting van die tydskrif, _De Goede Hoop_, in Julie 1903 onder
+redaksie van Adv. J.H.H. de Waal, 'n algemeen erkende voorstander van
+Afrikaans, wat al sedert 1897 bydraes in dié taal gelewer het in _Ons
+Land_[56] kry die Twede Beweging vaste vorm. As eindpunt van die
+taalstryd kan beskou word 7 November 1919, die dag waarop die Kaapse
+Sinode Afrikaans as offisiële kerktaal naas Nederlands erken het. Wat
+Ds. N.J. Brümmer in 1909 gesê het geld ook tans nog: "Dit is wel waar,
+dat so nou en dan nog een of ander Rip van Winkel uit syn slaap
+opflikker en teen Afrikaans uitvaar, maar dit is maar die stuiptrekkinge
+van 'n slang wat swaar vervel."[57]
+
+In die sestienjarige stryd het daar 'n groot aantal polemiese geskrifte
+verskyn, aanvanklik in Hoog-Hollands weens die groot vooroordeel teen
+die moedertaal, maar later meestal in Afrikaans. Reeds in die twede
+nommer van _De Goede Hoop_[58] moet De Waal "'n geachte correspondent
+uit Stellenbosch", wat gekla het oor "te veel Afrikaansch" daaraan
+herinner, "dat Kaapsch-Hollandsch bij velen bijval vindt en hoe langer
+hoe meer als zelfstandige taal erkend wordt." By sulke kalme
+teregwysings het dit natuurlik nie gebly nie en De Waal het later onder
+die skuilnaam _Jan van Rosenburg_ die teenstanders meer as een kopskoot
+gegee.
+
+Twee jaar later, op 19 April 1905 begint die stryd ook in Transvaal,
+wanneer Gustav Preller sy reeks artiekels _Laat 't Ons Toch Ernst Wezen_
+in _De Volkstem_ publiseer. Dit is 'n kloek, goedgedokumenteerde
+manifes, wat met onverbiddelike logika al die argumente van die
+teenstanders ontsenu en as gevolg gehad 't die stigting van _Die
+Afrikaanse Taalgenootskap_, op 13 Desember 1905. In Julie 1905 word
+Preller se artiekels met weglating van die eerste gedeelte en voorsien
+van 'n nuwe inleiding in brosjure-vorm uitgegee, met die ondertietel:
+_Gedachten over de aanvaarding ener Afrikaanse Schrijftaal_.[59]
+Afgesien van die historiese betekenis van Preller se brosjure verdien
+dit, ofskoon nog in Nederlands opgestel, ook uit letterkundig oogpunt 'n
+ereplaas onder die polemiese literatuur van die Twede Beweging. Met 'n
+forse stem verkondig hy die waarhede, wat vandag so vanself sprekend
+lyk, maar sestien jaar nodig had om algemeen ingang te vind.
+
+In die polemiek van dié jare klink daar uit meer as een artiekel 'n
+warme oortuigingsdrang op. Met die stryd vir die vereenvoudigde spelling
+(1904) het dit krioel van spellingdeskundiges en nou was weer iedereen
+filoloog! "In ons vaderland kan het gebeuren dat uw schoenmaker meer
+theologiseert dan uw zoon, die student is in de theologie," sê Allard
+Pierson in _Intimis_. Lees mens filologie in plaas van teologie, dan was
+dit presies ons toestand. Onder al die dilettante-wysheid en verwarde
+taalbegrippe kom egter ook telkens brokstukke van entoesiastiese
+welsprekendheid voor, waaruit blyk dat heel die volk in roering was.
+Naas die lekeredenasies staan dan die kalm-wetenskaplike betoë en
+ernstige pleidooie van die leiers, wat so stadig aan met hul mokerslae
+alle opposiesie vergruisel het.
+
+Van die begin af was daar al sekerheid van die uiteindelike oorwinning.
+"'n Mens kan net sowel perbeer om die see met 'n besem te keer as die
+Afrikaanse taal met sulke klein dingetjies", sê Preller op 9 Augustus
+1905 in _De Volkstem_. Met groot erns pleit Jan Celliers twee jaar later
+vir 'n eie letterkunde: "Maar dit is tog voor elke Afrikaner duidelik
+dat slegs 'n eige letterkunde, uit Afrikaanse grond opgeskote,
+deurtrokke van die Afrikaanse gees en v'r Afrikaners verstaanbaar, deur
+en deur in taal en inhoud, dat so 'n letterkunde alleen bereken is om
+hier werkelik doel te tref. Wie wil ons help om so 'n letterkunde voor
+ons mense op te bouw? Ons het 'n volk om te behou, ons het 'n nasie om
+op te voed; ons kannie wag nie!"[60]
+
+En in die volgende jaar roep Dr. D.F. Malan: _"Dit is ons Ernst!"_ "G'n
+taalgeleerde kan 'n werkelik lewende taal maak nie, ewemin als 'n
+skeikundige op syn laboratorium di lewe kan skep. Di taalgeleerde kan di
+taal alleen vind en analiseer. Iedere lewende, kragtige taal word gebore
+op di bodem van di volkshart en di volksgeskiedenis en leef alleen in di
+volksmond. G'n volk kies ooit syn spreektaal of, voor lange tyd selfs
+syn skryftaal nie, op raad van eksperte. Volke en tale word saam gebore
+en sterf saam."[61] Op helder wyse set hy uiteen, dat Nederlands nooit
+ons volkstaal kan word nie, dat Afrikaans onuitroeibaar is. "Di
+Afrikaanse Taalbeweging is niks minder nie dan 'n ontwaking by ons volk
+tot 'n gevoel van eiewaarde en tot di roeping om 'n waardiger plaas in
+te neem in di wereldbeskawing."[62]
+
+Hoe die "gevoel van eiewaarde" al sterker word, blyk uit die brosjure
+_Die Afrikaanse Nasie_ (1908) waarin Prof. N.J. Brümmer 'n uiteensetting
+gee van wat hy as 'n nasie beskou. Hy konstateer, dat tot nog toe alleen
+die Hollandse Afrikaners met die benaming kan aangedui word "omdat hulle
+'n eie en aparte volkssiel besit en hulle daarvan skerp bewus geword
+het". Hy ontken alle "nasionale eenheid" tussen Nederland en Hollands
+Suid-Afrika. "Om die eerlike waarheid te sê, is daar meer soortgelykheid
+in wereldbeskouing, gees en strewe tussen die Afrikaner en die Skot, dan
+tussen die Afrikaner en die Hollander....[63]. Wat die Hollandse
+letterkunde betref, die veelbesproke kultuurskat--die bestaan nog vir
+enkele spesialiste onder ons volk, en sekere uittreksels daarvan bestaan
+ook soms vir studente, solank as hulle vir 'n eksame of prys werk. Ons
+volk as volk dra van Hooft, Vondel, Cats of Bilderdijk net so min kennis
+as van die man in die maan. Van Couperus, Van Eeden, Perk en Kloos wil
+ek nie eers praat nie. Of hierin ooit verbetering kan kom, betwyfel ek
+sterk. Die Hollandse skrywers skryf nie vir ons nie, en al sou hulle ook
+vir ons skrywe, dan raak hulle tog ons volkssiel nooit." Dit is
+verstaanbaar, dat sulke opmerkings in die hitte van die taalstryd gemaak
+is, maar Brümmer gaan in sy militante ywer tog té ver, al sit daar
+natuurlik 'n kern van waarheid in die bewerings. Die werk van sulke
+geestelike aristokrate soos Hooft en Vondel kan nooit deur die _hele_
+nasie gewaardeer word nie. Sonder ons Cats uit, dan sou dieselfde
+bewering met die grootste stelligheid van die Nederlandse volk self kon
+gemaak word. Carel Scharten sê b.v.: "Het leelijke, het onwegwerkbare
+feit is juist, dat Vondel vergeten worden kon, en ongelezen blijft en
+ongelezen blijven zal.... Er zijn altijd de dichters voor weinigen naast
+die voor heel een volk geweest."[64] En in ander lande gaan dit net so.
+Edward Garnett sê b.v. van Engeland: "Ons toneel is het grofste in
+Europa en onze verwaarlozing van het drama van Shakespeare is werkelik
+een schandaal."[65]
+
+Clément Vautel het nog onlangs in verband met die Molière-herdenking
+opgemerk, dat die Franse dié kunstenaar alleen met die lippe eer. "Ieder
+doet alsof hij Molière op zijn duimpje kent. Maar, in gemoede, is al dat
+fraais, en is al die wierook nu wel echt? Is die geestdrift die op een
+vastgesteld uur losbarst, niet veeleer zelf ook komedie?"[66]
+
+Met 'n pleidooi vir 'n Afrikaanse letterkunde sluit Brümmer sy betoog.
+"Ons het lang genoeg ons sielkos in blikkies ingevoer en die ingelegde
+en ingevoerde kos vergewe 'n mens dikwels." Maar die manier waarop hy
+hom die ontstaan van 'n letterkunde voorstel, getuig van weinig insig.
+"As elkeen van nou af aan begin om vir sy boek stof bymekaar te maak,
+dan sal dit wel nie te lang duur nie of ons het 'n eie letterkunde"! Dis
+maar gelukkig dat al die Stellenbosse studente nie die raad opgevolg het
+nie!
+
+Saam met die Unie gebore, staan _Die Brandwag_ vanaf 1910 trou op die
+uitkyk en telkens as artiekel 137 van die grondwet veronagsaam word, het
+sy waarskuwingsienjaal weerklink. "Die Afrikaner moet beleefd wees en
+ware beskawing voorstaan, in woord en voorbeeld, maar nie tot so 'n mate
+dat hy syn eige taal verwerp, nie tot so 'n mate dat hy aan Filistijne
+die wapens in hande gee waardeur juis die hogere beskawing en
+verdraagsaamheid vernietig sal word, deurdat die Afrikaner-aard met die
+Afrikaner-taal vernietig word." (_Die Brandwag_, 1 April 1911.) Van
+maand tot maand het die redakteur, Dr. W.M.R. Malherbe die stryd vir
+Afrikaans voortgeset en 'n hele reeks warm pleidooie is daar te vinde in
+die redaksionele kolomme, veral van die eerste jare.[67]
+
+In 1911 verskyn Leipoldt se digbundel _Oom Gert Vertel_, voorafgegaan
+van 'n weldeurdagte, besadigde pleidooi van J.J. Smith, tans professor
+in Afrikaans aan die Stellenbosse Uniwersiteit. "Die werk van die
+Afrikaanse Beweging is.... 'n oortuigingswerk; en 'n oortuigingswerk
+moet dit altoos bly. 'n Vyand kan jy beveg, en desnoods dwing, maar 'n
+vrind en 'n bloedverwant, met dieselfde belange en dieselfde ideale as
+jyself, moet jy oortuig--as jy ten minste nie jou eie ondergang wil
+bewerkstellig nie."[68] Die oortuigingswerk doen Smith op meesterlike
+wyse. Hier is 'n geskoolde filoloog aan die woord, wat met kennis van
+sake praat. "Ek grond my mening op die geskiedenis van die wording van
+ander tale en op die herlewing in ons volk."[69] En met onverbiddelike
+logika bewys hy, dat die argumente van die teenstanders "alles maar slim
+praatjies" is!
+
+Ook _Die Geloofsbelydenis van 'n Nasionalis_ deur Dr. T.B. Muller is 'n
+pragstuk van logiese redenering. Hy skets die ontstaan van ons nasionale
+bewussyn. "Die puinhope van die twee republieke het die vrugbare bodem
+geword, waarin die nuwe Afrikaanse Nasie wortel, van die Kaap tot in
+Kongoland, en van Duits Suid Wes tot Brits Oos Afrika." Hier word die
+vaste stem gehoor van een wat na 'n goedomlynde doel streef. "In plaas
+van na-praat, wil ons nou saampraat en met ander nasies meewerk in die
+algemene taak van die mensheid." En op oortuigende wyse bepleit hy die
+middele om die doel te bereik, terwyl alle jeugdige voortvarendheid
+getemper word deur die besadigde erns van een wat sy verantwoordelikheid
+as leier voel. "Die karaktervorming van 'n nasie moet plaasvind deur 'n
+langsame groeiproses; deur voort te gaan op die weg reeds ingeslaan; al
+wat goed is, te ontwikkel en al wat nadelig is weg te kap.... Die gevaar
+van die oormoedigheid van 'n jong nasionale entoesiasme is ek my wel
+bewus van; maar ek weet ook, dat sonder entoesiasme niks groots op aarde
+tot stand kan kom nie...." 'n Warm entoesiasme klink dan ook heerlik op
+in sy hele betoog en met gloedvolle oortuiging leg hy sy
+"geloofsbelydenis" af: "Ek self sou my erfenis as lid van die Afrikaanse
+nasie vir geen ander burgerreg in die wereld wil verruil nie. Die grote
+nasies van Europa is wel oud en sterk en ervaringsryk, ... maar hul dra
+ook reeds die spore van hul ouderdom, en rypheid begin al op meer dan
+een plek in afgeleefdheid oor te slaan.... By ons is dit so anders. As
+'n jong nasie sien ons amper ons hele loopbaan te gemoet. 'n Jong volk
+leef vorentoe. Sy leuse is die hoop; geduld en moed sy wagwoorde; 'n
+jeugdige entoesiasme sy dryfveer; en sy ywer is nog ongekoel deur die
+ontnugterings van mislukking. Vir my altans is dit veel heerliker my
+druppeltjie te probeer bydra by die self-bewuswording en karaktervorming
+van 'n jong nasie dan om te help dokter aan; die kroniese kwale van 'n
+oue ... Misluk ons pogings en moet ons ondergaan, neergedruk deur 'n
+vrag van onoorkomelike moeilikhede, dan is dit in elk geval beter om te
+sterf as eerlike stryders op die slagveld, dan om te versink in 'n
+bedwelmende luilekker eentonigheid van niksdoen.... Laat Jong
+Suid-Afrika sy nasionale geloofsbelydenis onderteken, nie met sy naam,
+maar met sy lewe en dan het ons niks te vrees vir die toekoms nie!"
+Hoeveel erns daar in die woorde lê, blyk uit die feit, dat Muller in
+1905 'n Rhodesbeurs van £ 300 per jaar om in Oxford te studeer van die
+hand gewys 't, omdat hy "eenvoudig nie geld kon aanneem nie van 'n man
+wie se politiek hy verfoei en wie hy beskou as die aartsknoeier teen die
+vryhede van die Afrikaner-volk."[70] In 1918 is hy aan die griep oorlede
+in die ouderdom van 34 jaar. Om die warm idealisme, gesonde argumente en
+forse styl is Muller se brosjure een van die beste stukke van ons
+polemiese prosa.
+
+Namate die Afrikaanse Beweging sterker word, neem die stryd ook in
+felheid toe. In Julie 1914 word die maandblad _Ons Moedertaal_ opgerig
+as orgaan van die A.T.V., onder redaksie van J.J. Smith, T.B. Muller en
+G.C. Tomlinson. Spoedig moes die teenstanders uitvind, dat die blad
+"geen heuningtou" was nie, "waarop allerhande soorte goggas hulle kan
+kom vergas.... _Ons Moedertaal_ is veeleer 'n eselskakebeen soos die wat
+Simson met sulke dodelike gevolg op die Filistynse vyande van syn volk
+gebruik het ..." (15 Okt. 1914). Die offisiële erkenning van Afrikaans
+deur drie Provinsiale Rade het die redaksie oormoedig gemaak. "Nou
+behoef die Afrikaanse Taalbeweging nie langer te stry nie als
+Ismaeliete, teen wie alle man se hand gekeer is; hul veg nou met die
+steun van die landswette agter hul rug" (15 Julie 1914). En op
+kwaai-sarkastiese wyse het hul geveg! Veral in die kolom _Taalnuws en
+Opmerkings_ word nydige klappe uitgedeel. Die beste Nederlands van
+Afrikaners noem hul nie meer "amper-Nederlands" nie, maar
+"stertjie-Afrikaans", en as _Ons Land_ per ongeluk "_het_ universiteit"
+skryf, dan sê _Ons Moedertaal_: "Werkelik dis treurig dat daar in ons
+verligte dae nog soveel deurgekapte erdwurms is wat doelloos in twee
+rigtings tegelyk spartel." (15 Okt. 1914). Maar later word die redaksie
+moeg om die "gebasel" van teenstanders te "verpletter", omdat hul "ander
+werk het als om slapers en dromers te probeer wakker maak." (1 Nov.
+1915.)
+
+Die "ander werk" was dan ook van meer ernstige aard. B.B. Keet pleit op
+oortuigende wyse vir 'n Afrikaanse Bybel. "Daar is ontsaglik veel
+onderskeid tussen 'n taal waarmee ek my kan behelp en 'n taal wat ek
+liefhet; en al was daar g'n ander rede nie, sou ek hierdie rede afdoende
+beskou om te streef naar die doel wat ek my voorstel." (15 Sept. 1914.)
+Fagan en Tomlinson se belletristiese bydraes word onder 'n ander
+hoofstuk bespreek.[71] Smith set sy werk voort in _Die Huisgenoot_,
+waarin _Ons Moedertaal_ in 1916 opgaan.
+
+Tot die polemiese prosa moet ook gereken word G.S. Preller se twee
+_Taal-Tiepes_, Die Engelse Afrikaner en 'n Predikant (_Die Brandwag_, 15
+Feb. en 15 Maart 1914.) Jiems, 'n Engelse Afrikaner, wat saam met die
+Boere veg, raak aan stry met sy maats oor Afrikaans, wat volgens hom "te
+arm (is) om te bestaan".
+
+"Wat is 'n _"stoep"_ op Engels, Jiems?" wou een van die seuns weet ...
+Dit was ráak. Almal is tjoepstil.--"En wat bedui julle vir _koppie,
+spruit, veld, kommando_...?"
+
+Nou was 't Koen se kans om in te vryf: "Dáar het jul dit," sê hy, "die
+skatryke mooie Engelse taal leen selfs woorde uit ons armoedige
+Afrikaans." So raak Jiems getroef deur die Boereseuns, wat selfs vir die
+lastige sportterme raad weet!
+
+Ook sy eerwaarde, wat al die populêre argumente teen Afrikaans aanvoer,
+kry goed op sy baadjie. Hy wil: "Gij zult de dorschende os niet
+muilbanden" vertaal met "Jy moet die os wat koring trap die bek nie
+toebind nie". Maar sy optimistiese teenstander weet vir alles raad:
+="Vir ons is Afrikaans die taal van die Toekoms in ons wêrelddeel, ons
+glo daarin, ons werk en leef daarvoor."=
+
+"Ons skryf tien jaar na bowestaande gedagtewisseling. En, kyk,--'n mens
+moet jou oë vryf om séker te maak dat 't regtig só is! Maar dit is so!
+Sy hoogmogende is 't nou so waarlik "'n lus geworde om gade te slaan hoe
+daar gewoel word in Afrikaans, en om die eerste vrugte daarvan te
+proef!" En selfs in minder dan tien jaar, selfs in _vyf_ jaar is die
+wonder geskied!
+
+Dit hoef ons dan ook nie te verwonder nie, dat 'n warm kampvegter vir
+Afrikaans, C.J. Langenhoven, wat nog in 1911 die oorsetting van die
+psalme in Afrikaans as heiligskennis beskou 't, in 1922 self een van die
+eerstes is om die hand aan die ploeg te slaan! In _Ons Land_ van 12
+September 1911 skryf Langenhoven: "Als die Hollandse Kerk my sou vraag
+om die Bybel, die psalm- en gesangboek en die formuliere, wat aan my
+hart geheiligd is deur my vroegste herinneringe in Afrikaans o'er te
+set, dan sou ik dit ten enemaal weier, al had ik die bekwaamheid
+daarvoor; en ik sou die voorstel (hoe onlogies ook) beskouw als
+heiligskennend. Dit sou vir my smaak 'n parodie wees."
+
+Een van die laaste, maar ook een van die welsprekendste pleidooie vir
+Afrikaans het Langenhoven gelewer op die vyfde jaarvergadering van die
+Akademie in Julie 1914.[72] Hierin tril die stem van 'n fel-bewoë gemoed
+so innig, dat dit meer geword 't dan 'n episode in 'n verbygaande stryd,
+en op sigself beskou, kunswaarde het. Dit is die skone kristallisasie
+van gevoelens en gedagtes, wat jare lank in die hart van die volk geleef
+het, maar nog nie hul definitiewe uitdrukking gehad het nie. En al die
+"dorstige vulletjies", wat jare lank gesukkel en geploeter het langs
+hopeloos versperde ompaaie om by die dam te kom, weet maar al te goed
+hoe raak en hoe juis Langenhoven die vermoeienisse en vernederinge van
+die pynigende dwaaltog geskilder het! "Ik denk terug met bitterheid aan
+die verdere verlore lewensjare wat dit my gekos het, nadat ik skool en
+kollege verlaat, om vir myself te doen wat my leeraars vir my moes
+gedaan het: om dieselfde intellektuele skool-kultuur deur lange en
+pynlike self-oefening om te set en tot my siels-besitting te maak" (p.
+427).
+
+Dit is veral op die gevoelskant, die psigologiese kant van die saak wat
+Langenhoven nadruk lê. "Ik wil namelik sukkel om 'n skerpe lyn te trek
+tussen die gebruik van 'n taal als 'n verstands-medium, en sy gebruik
+als 'n gevoels-medium; en in albei gevalle nie alleen als 'n middel tot
+uitwendige openbaring nie, maar als 'n middel tot inwendige bewustsyn"
+(p. 428).... "Dit mag vir elke Afrikaner ewe verstaanbaar wees om te
+lees: "Die huis se muur is stukkend", of om te lees: "De muur van het
+huis is stuk". Eersgenoemde uitdrukking roep 'n beeld van 'n puinval
+voor sy gees. Laasgenoemde doet dit ook op 'n manier. Maar in die eerste
+geval is beeld en uitdrukking deur onheuglike lewensgewoonte
+onafskeidelik vasgeheg aan mekaar. Laasgenoemde uitdrukking val nie met
+dieselfde spontane voegsaamheid in die gedagte-wereld, waar die beeld
+uit die elemente van vroegere ervaringe deur die geheuge opgebouw word
+nie" (p. 440).
+
+Met 'n fris oorspronklikheid word al die ou argumente teen Afrikaans
+weggebesem. Bitter is die aanklag teen die Hoog-Hollandse literatuur van
+Suid-Afrika; daarin "mankeer die goddelike vuur--die element wat
+onbepaalbaar is, wat jy nie kan voorskryf nie soos jy nie van elke
+wa-skilder en klip-kapper met paster- en duimstok-voorskrifte kan 'n
+Murillo of 'n Michael Angelo maak nie" (p. 445). En die gevolg is: "'n
+land sonder skrywers en sonder lesers; 'n beskaafde nasie sonder eie
+literatuur. Die inspirasie ontbreek.... Ontbreek! ontbreek!! ontbreek!!!
+in ons heerlike Suid-Afrika, waar elke berg en elke vlakte skreeuw om
+digters, waar elke tafereel uit ons roemryke geskiedenis skreeuw om
+skrywers" (p. 447). Maar met voldoening word gewys op die ontluikende
+letterkunde in die moedertaal. "Ons wat so lank kwynend gesuig het aan
+die artifisiële gomelastiek tepels van die ingevoerde botteltjies dooie
+kondens-melk, begin nou aan ons eie moederbors gevoed en verpleeg te
+word" (p. 449).
+
+Treffend is ook die aanklag teen die skoolsisteem. "Die Afrikaanse kind
+(word) deur les en boek, voorskrif en voorbeeld ingeprent en wysgemaak
+dat die taal van sy huis nie 'n taal van kultuur en beskawing is nie"
+(p. 460).
+
+Deur die hele betoog klink "die smeekstem van 'n Afrikaner met
+mede-Afrikaners om te erken wat syne en hulle s'n is, wat dit tog maar
+altyd sal bly, wat nie van die gehalte is om ons voor te skaam nie" (p.
+461). En by die laaste gedagte tril die stem van gloeiende
+verontwaardiging: "Te skaam nie, menere! Skande op daardie skaamte! dis
+onse kostelikste roem, onse hoogste besitting: die één enigste
+witmans-taal wat in Suid-Afrika gemaak is en nie oor die seewater klaar
+gekom het nie, wat die spore van die lief en leed draag van alles wat
+ons en onse vadere hier deurleef en deurworstel en deur triumfeer het;
+die één band wat ons als nasie aan mekaar heg; die uitgedrukte siel van
+ons volk" (p. 461).
+
+In 1919 toe die Kaapse Sinode oor die erkenning van Afrikaans moes
+besluit, kom Langenhoven nog 'n keer met 'n vlammende aanklag: "Komt
+aan, gij de Villiers's en Steytlers. Gij hadt er nu honderd jaar tijd
+voor--(om 'n letterkunde op te bou) gij en degenen die het voorrecht
+hadden Hooghollands evengoed als gij, of beter, aan te leren--zoals de
+priesters in de Middeleeuwen het Latijn aanleerden. En wijst ons, mijne
+heren, waar gij gezaaid hebt? Waar is uwe oogst? Het volk van
+Zuid-Afrika hongert te midden van de overvloed zijner mededingers. Ziet,
+zoals van gemelde priesters, is uw akker dor en onvruchtbaar gebleven.
+Ge hebt ons kultuurhuis voor ons woest gelaten: gij en uwsgelijken, de
+bevoorrechten onder een onbevoorrecht volk wier plicht het was geweest
+in onze bittere behoefte te voorzien. Ge kunt me geen enkel boek
+noemen--ook niet tot één toe--dat, door een Afrikaner in 't Hooghollands
+geschreven in al de tijd toen men, volgens u terecht, het Hooghollands
+onderwees en schreef en predikte, vandaag als een volksbezitting in de
+letterkunde leeft. En deze dorre landen van u voorbijgaande zijn _wij_
+begonnen--een korte halve generatie geleden--met onze gemene
+kombuistaal. En de werken onzer schrijvers in het Afrikaans hebben ons
+nu reeds een eigen letterkunde bezorgd, zodat de Afrikaner ook in de
+kultuurwereld zijn hoofd niet meer met schaamte hoeft te laten hangen.
+Denkt gij, dat is niets? Dat wij gearbeid hebben waar degenen die ons nu
+tegenstaan niets deden?... Komt het u als een kleinigheid voor dat ook
+deze nieuwe tempelbouw belemmerd zal worden door de Rehums en de
+Simsais?" So skryf Langenhoven in sy brosjure _De Heilige Ennen van
+Rehum en Simsai_, wat onder die lede van die Sinode versprei is. Hoe
+mooi word daarin die deftige toon met sy bybelse wendinge vir die
+hoogeerwaarde here getref! Dit was sy antwoord op die brosjure _Onze
+Afrikaans-Hollandse Spreektaal_, van Melius de Villiers met 'n
+aanhangsel van Ds. A.I. Steytler (1919), waarteen ook J.J. Smith in _Die
+Huisgenoot_ op kalm-wetenskaplike wyse te velde getrek 't.[73]
+
+VOETNOTAS:
+
+[55] _Taal en Poësie van die Twede Afr.-Taalbeweging_, 2de druk, 1920.
+
+[56] Sien _Die Huisgenoot_, Okt. 1921.
+
+[57] _De Volkstem_, 30 Des. 1909. Vgl. _Die Huisgenoot_, Julie 1922, oor
+opposiesie in die gemeente Noorder-Pêrel teen Afrikaanse preke.
+
+[58] Aug. 1903.
+
+[59] Vgl. Dr. E.C. Pienaar: _Taal en Poësie van die Twede
+Afr.-Taalbeweging_^2 p. 16, waar 'n uitvoerige bespreking aan die
+brosjure gewy word. Die voorrede van Dr. Engelenburg is gedateer 14
+_Julie_ 1905. Pienaar se datum, Junie, is dus 'n vergissing. Die eerste
+gedeelte, wat in die brosjure weggelaat is, bevat 'n droom oor drie
+perskebome in 'n snaakse tussentaal, nog Hollands, nog Afrikaans,
+waarvan die volgende 'n staaltjie is: "Deze bomen waren hier geplant van
+steggies, en by al twee waren klompies mense hard bezig om te proberen
+ze te laten groeien, de een deur water te lei, de ander deur los te
+spit, de een weer deur te snoei, en de ander deur mest te geven." _De
+Volkstem_, 19 April 1905.
+
+[60] _De Volkstem_, 19 Junie 1907.
+
+[61] _Dit is ons Ernst_, 13 Aug. 1908.
+
+[62] _Dit is ons Ernst_, 13 Aug. 1908.
+
+[63] Vgl. die raak opmerkings oor hierdie bewering in _Die Brandwag_, 15
+Febr. 1913, en in 'n volgende nommer Brümmer se repliek.
+
+[64] _De Roeping der Kunst_, p. 5 en 25.
+
+[65] In 'n artiekel: _Het Boek in Engeland (Algemeen Handelsblad.)_
+
+[66] Gesiteer in die _Algemeen Handelsblad_.
+
+[67] Sommige is van Jan Celliers, soos o.a. die artiekel _Stryd en
+Taalstryd_, (1/4/11), in hierdie paragraaf aangehaal.
+
+[68] _Oom Gert Vertel^3_, p. XX.
+
+[69] t.a.p., p. XXI.
+
+[70] Tomlinson in _Die Brandwag_ Des. 1918.
+
+[71] Vir verder besonderhede oor _Ons Moedertaal_ kan verwys word na Dr.
+E.C. Pienaar: _Taal en Poësie_^2, p. 64-74.
+
+[72] Herdruk in _Ons Weg deur die Wêreld_ (1919): _Afrikaans als
+Voertaal_.
+
+[73] Augustus 1919. Op aandrang van enige predikante is Prof. Smith se
+verweer oorgedruk en as pamflet versprei.
+
+
+
+
+HOOFSTUK III.
+
+Prosa uit die Tydskrifte.[74]
+
+
+§ 1.(a) De Goede Hoop (1903-1914).
+
+Die oprigting van die tydskrif _De Goede Hoop_ in Julie 1903 deur Mev.
+Koopmans-de Wet en "Onze Jan", "benevens andere der voorste Afrikaners
+in de Kaapstad".[75] met Adv. J.H.H. de Waal, 'n erkende voorstander van
+Afrikaans as redakteur, is ongetwyfeld 'n feit van groot betekenis in
+die geskiedenis van die Twede Afrikaanse Beweging. Die talentvolle leier
+van die Eerste Beweging, Ds. S.J. du Toit, het deur sy on-Afrikaanse
+politiek van ná 1896 die hele saak, waarvoor hy en sy medestryers met
+soveel opoffering sedert 1872 ge-ywer het, laat misluk. Die laaste
+spartelings van die Genootskap van Regte Afrikaners het nog tot 1909
+geduur, toe die tydskrif _Ons Taal_ dood gekwyn 't, maar veral om
+politieke redes moes daar 'n heeltemal nuwe begin gemaak word. Die
+ondersteuning van _De Goede Hoop_ deur "Onze Jan" was 'n voldoende
+waarborg vir die eg-Afrikaanse rigting van die blad, en die redakteur
+het van die staanspoor af vasgetrap vir Afrikaans. Deur sy verstandige
+stadig-oor-die-klippers-taktiek[76] het hy veel gedoen om die ou
+vooroordele teen die moedertaal weg te ruim, terwyl sy kragtige
+artiekels onder die _nom de plume Jan van Rozenburg_ 'n groot stoot aan
+die nasionale beweging gegee het. _De Goede Hoop_ was dan ook veel meer
+as 'n "eerste voorbode van die naderende renaissance", soos Dr. E.C.
+Pienaar in sy dissertasie beweer (2de druk, p. 12). "Van Kaapstad begint
+die viktorie vir die Twede Beweging en Adv. De Waal was seker een van
+die vernaamste kampvegters, wat deur middel van sy blad suksesvolle
+voortrekkerswerk gedoen het.
+
+Dat Gustav Preller se verdienste in verband met die Twede Beweging
+besonder groot is, ly geen twyfel nie, maar om te verklaar dat dit "op
+sy kragtige inisiatief in die lewe geroep" is, soos Dr. E.C. Pienaar
+doen, (Diss. p. 1) is stellig onjuis.[77]
+
+_De Goede Hoop_ het leesstof bevat vir mense van ryper leeftyd, maar was
+tog meer bepaald vir jongeliede bedoel.[78] Dit het dan ook veral by
+jong Suid-Afrika lees- en skryflus opgewek en as propagandamiddel goeie
+dienste bewys. Op die betekenis van De Waal se werk word in 'n volgende
+hoofstuk gewys. Onder sy medewerkers was daar niemand, wat Afrikaanse
+prosa van letterkundige gehalte gelewer het nie. Dit is meestal kort,
+luimige verhaaltjies. Van 'n diepgaande letterkundige kritiek is daar
+ook nouliks sprake; kort aankondiginge is die reël.
+
+Wat De Waal se opvatting van 'n roman is, blyk duidelik uit die
+volgende: "In de gewone roman heeft de held altijd te kampen met een
+listige mededinger om de hand van de beminde ... Onverwachte
+gebeurtenissen, gemoedprikkelende verrassingen komt ge heel weinig
+tegen" (_G.H._ April 1913). Dit word gesê na aanleiding van Malherbe se
+roman _Vergeet Nie_, en in nommer van Des. 1911 hoor ons van
+"verrassingen die zo onontbeerlik zijn voor 't sukses van 'n roman".
+
+Dr. D.F. Malherbe gee in die nommer van September 1906 uiting aan sy
+bewondering vir _Johannes van Wyk_. By sy beoordeling het die betekenis
+van die roman vir die taalstryd swaar geweeg. "Ons volkstaal, ons
+dierbare boompie, swoeg vandag onder die dubbele las van vyandskap en
+verfoeielike vooroordeel. En daarom verdien diegene, wat skriftelik of
+andersins manmoedig optree vir die saak ons ondersteuning en
+waardering." Vandag sal Malherbe seker nie meer van _Johannes van Wyk_
+o.a. beweer nie: "Oral 'n diep-historiese gevoel, wat omstandighede en
+gebeurtenisse in die oog hou.... (De Waal) bied ons in sprekende simbole
+die inwendige van sy persone."
+
+
+(b). De Goede Hoop (1915-1921).
+
+Vanaf Januarie 1915 tree Prof. Ds. N.J. Brümmer as redakteur op. Hy is
+in 1866 gebore op die plaas Prospect, distrik Dordrecht.[79] In sy
+studiejare op Stellenbosch het hy blyk gegee van buitengewone knapheid
+en daarna in Skotland en Duitsland sy teologiese en filosofiese studie
+voortgeset; maar 'n dringende beroep as predikant na Jansenville het hom
+van die doktorsgraad laat afsien. Op filantropies, kerklik en
+wetenskaplik gebied het hy prominent opgetree en ook as voorstander van
+die A.T.V. belangrike werk gedoen. Sedert 1911 is hy professor in die
+wysbegeerte aan die Stellenbosse Uniwersiteit. Die grootste gedeelte van
+sy werk is in Hollands, o.a. _Spoken_ en _Eerbied_. Die Afrikaanse
+brosjure _Die Afrikaanse Nasie_ is al onder Polemiese Prosa bespreek.
+
+Die grootste gedeelte van die blad verskyn ook onder Brümmer se
+redaksie nog altyd in Hoog-Hollands, en ofskoon daar heelwat Afrikaans
+in voorkom, word dit, as mens op die inhoud afgaan, langsamerhand veral
+die orgaan van die konserwatiewe minderheid, wat aan Nederlands vashou.
+Die voorstanders van Afrikaans verenig hul rondom _Ons Moedertaal_
+(1914), later verenig met _Die Huisgenoot_ (1916) en _Die Brandwag_
+(1910). Dat die politieke beroeringe, wat na 1912 die Afrikaners in twee
+kampe splits, invloed gehad 't op die groepering van lesers is
+ontwyfelbaar. In hierdie oorsig van die letterkundige prosa uit die
+tydskrifte sou 'n nadere bespreking van die kwessie egter uit sy plek
+wees.
+
+Brümmer skryf veral oor etiese en sosiale vraagstukke en sy kragtige
+Hollandse artiekels wek in kerklike kringe groot belangstelling. Vanaf
+Augustus 1918 verskyn van hom 'n reeks didaktiese stukke _Die Spraaksame
+Ossewa_[80] in Afrikaans. Die ossewa is vir hom 'n beeld van die
+menslike lewe en elke deel daarvan kry 'n sinnebeeldige betekenis, van
+die as, wat "'n fatsoenlike karakter, die draagbalk van (die) lewenswa"
+is, tot die lunspen, die simbool van getrouheid. Die lewenswa kom by
+Brandewynshoogte, Praatdrif, Skinderkrans, ens., wat natuurlik
+aanleiding gee tot allerlei didaktiese oorpeinsings. "Die ossewa is al
+oud en daar sit wysheid in sy jare" (Sept. 1918). Dat so 'n sistematiese
+vergelyking soms uitloop op 'n soekery na vae ooreenkomste spreek
+vanself. Tog vorm dit 'n mooi bydrae tot ons didaktiese literatuur.
+Brümmer skryf 'n rustig betoënde styl, wat soms verras deur
+kernagtigheid en slegs selde storende wendinge bevat soos die volgende:
+"as 'n goeie ding gemisbruik kom worde" (Feb. 1919).
+
+Dat Brümmer soms agtiende-eeuse middels gebruik om sy blad vol te kry
+blyk uit 'n digwedstryd in die jaargang 1916. 'n Prys word nie alleen
+uitgeloof vir die beste gedig nie, maar selfs die onderwerp word
+aangegee, nl. die verhaal _Hansie Smal_, wat in een van die nommers van
+die blad verskyn het. By die beoordeling van die ingestuurde stukke gee
+Brümmer die verrassende uitspraak: "Poëzie moet vloeien, moet _zalvend_
+zijn....[81] (Sept. 1916). Dit staan daar!
+
+Hoe laag die literêre peil van die blad word, blyk uit die opname van 'n
+eindelose reeks prulrympies. As staaltjie kan die volgende "gedig" dien,
+wat in 'n maandelikse wedstryd bekroon is:
+
+ Geagte Heer, die editeur,
+ Ek wil vir jou weer pla,
+ Want ek wil in die "Goede Hoop"
+ Vir jou 'n plekkie vra.
+ Ek wil ook iets vir jou instuur
+ Soos al jou vrindetal;
+ En daarom skryf ek nou vir jou
+ Oor "Lente in die Dal",
+
+Op die manier kry die rymelaar "Charon" nog twee en 'n halwe kolom vol!
+(Sept. 1920.)
+
+Die bekroonde verhaal in dieselfde nommer is nie van veel beter gehalte
+nie. Dit is van "'n weerspannige dogter", wat "met 'n treurige, bleek
+gesiggie.... soos 'n skim deur die huis" dwaal, omdat haar vader vir
+Roelie weggejaag het. Sy is Protestants, maar voel so ellendig dat sy in
+'n ... klooster wil gaan! Gelukkig oorwin Koos, 'n ander minnaar sy
+beskeidenheid, "versamel (genoeg) moed om sy geluk te beproewe" en in 'n
+ommesientjie word die weerspannige dogter weer 'n verstandige bruid.
+
+'n Aantal verhale van E. de Roubaix staan op hoër plan, maar omdat sy
+beste werk in _Die Brandwag_ verskyn het, word dit daar bespreek.
+
+Die letterkundige kritiek van _De Goede Hoop_ bestaan nog altyd uit kort
+aankondiginge. "Dons maar op, alles sal reg kom!" word _Marius_
+toegeroep, (Nov. 1916). Wie Afrikaanse werk van letterkundige gehalte in
+_De Goede Hoop_ soek, kom egter tot die oortuiging dat alles verkeerd
+loop.
+
+
+§ 2. Die Brandwag (1910-1922).
+
+_Die Brandwag_ is opgerig op 31 Mei 1910 onder redaksie van Dr. W.M.R.
+Malherbe en Gustav Preller. Na die eerste ses nommers egter, vanaf 1
+September 1910, is Dr. Malherbe alleen redakteur, totdat hy in September
+1919 weer vervang word deur Preller, wat die blad redigeer totdat die
+uitgawe in Februarie 1922 om finansiële redes gestaak word.
+
+Die doel van die blad word in die eerste nommer só omskryf: "Die
+Brandwag heeft positie gekozen op 'n punt waar 't terrein alsnog
+onbewaakt bleef: het Afrikaner huisgezin." Dit wil die plek verower, wat
+opgevul word deur "vreemde kaf, als _Home Notes_ en _Home Chat_ en _Home
+Journal_, enz." Verder wil die tydskrif probeer om "leiding en koers te
+geven aan de vele zeer bekwaam gebleken Afrikanerpennen, die ernaar
+streven ... 'n eigen nasionaal-afrikaanse letterkunde te helpen groot
+maken." Met die uitvoering van die programma het die blad uitstekend
+geslaag en dank sy die medewerking van feitlik alle skrywers en digters
+van betekenis kon dit 'n hoë literêre peil bereik en tot die end toe
+handhaaf. Dat die blad 'n faktor van groot betekenis in die kultuur- en
+taalstryd was is ongetwyfeld, en die verdwyning daarvan moet as 'n ramp
+beskou word. Daar is werk van blywende waarde in gepubliseer en deur
+middel van die wedstryde het 'n hele reeks nuwe skrywers, soos Jochem
+van Bruggen, Léon Maré, E. de Roubaix, M. Jansen, Hettie Cillié, e.a.
+bekend geword. In die kinder-afdeling het Mev. Iz. van Heerden naam
+gemaak met haar voortreflike verhale, sodat "Tannie van Die Brandwag" 'n
+geliefde naam by die kleinspan oor die hele land is.
+
+Veel het die blad ook daartoe bygedra om gesonde begrippe oor kuns
+ingang te laat vind. Deur goeie vertalings en studies oor buitelandse
+kunstenaars is 'n poging gedoen om in voeling te bly met Europese kuns,
+terwyl talryke sketse, veral oor die Voortrekkers, die historiese
+belangstelling aangekweek en wakker gehou 't. So word b.v. aangedring op
+die publikasie van ou handskrifte: "Daar is al soveel in die laaste
+oorlog verlore gegaan, dat ons nou betyds moet begin om te red, wat nog
+te redde is." (15 Julie 1910.)
+
+Gesond was die letterkundige kritiek van die blad. Reeds in die eerste
+jaargang waarsku die opstelle-kommissie teen verhale met "awonture en
+kunsmatige verwikkelinge. Daarin moet die bekoring van 'n verhaal nie
+gesoek word nie, maar wèl in onopgesmukte voorstelling van buitengewone
+of gewone gebeurtenisse--met ware en rake tekening van karakters." (Des.
+1910.) Die krietikus X verklaar: "Ons skrywers begin in te sien, dat die
+krag en betekenis van 'n verhaal nie geleë is in gesogte samevlegting
+van buitengewone gebeurtenisse, opsetlike mooi-soekery, maar juistheid
+van skildering, natuurlike voorstelling, diepte en waarheid van
+karakter-uitbeelding, selfs in wat grappig is." (15 Feb. 1911.) Dit is
+nog iets anders as die "gemoedprikkelende verrassingen", waar _De Goede
+Hoop_ na gesoek het!
+
+Ofskoon in die eerste jare die blote verskyning van 'n Afrikaanse boek
+al 'n gebeurtenis van belang was, laat die blad hom nie verlei nie tot
+wat G.S. P(reller) noem "onnadenkende, steriotiepe koerante-aanprysinge"
+(15 Sept. 1913). Nadruklik word gewys op die waarde van elke boek vir
+die besonder Afrikaanse kultuurtoestand, maar steeds ook aangetoon, dat
+dit geen blywende maatstaf moet wees nie. 'n Mooi voorbeeld daarvan is
+J.F.E. C(elliers) se beoordeling van _Stompies_ deur Adv. J.H.H. de
+Waal. "Ons is bly met die verskyning van sulke werkies. Wat in ander
+land daarvan gesê mag word, gaat ons nie aan nie; ons weet net dat 't
+vir ons S.A. goed is, en dat manne wat hul daarop toelê om ons volk aan
+lees en aan dink en aan gebruik van sy eie taal te bring, alle lof
+verdien. Die skrywer siet goed in dat romanties aangelegde verhaaltjies,
+met 'n pikante sousie van awontuurlikheid of wonderbaarlikheid daaroor,
+meer lesers sal trek dan iets wat bepaald op letterkunde aangelê is, op
+karakter- en gevoelstudie van 'n fynere soort.... Nou die skrywer die
+_groot_ publiek al by herhaling tevrede gestel het, spreek ons die hoop
+uit nog eendag 'n roman van sy hand te sien wat in diepgang, in
+gevoel- en karakterstudie, 'n letterkundige eersteling sal wees in ons
+wêrelddeel ..." (15 Jan. 1912.)
+
+In die laaste jaargange tree veral Adv. Eugène, N. Marais op as
+krietikus, en ofskoon sy opmerkings meestal raak is, sou mens van een
+wat self digter is, nie sulke snaakse bewerings oor poësie verwag nie.
+Sonderling is b.v. die volgende uitspraak na aanleiding van Van Bruggen
+se bundel _Lente-Stemme_: "Om die soort van gediggies goed te maak, is
+veel moeiliker dan om 'n goeie stoel te maak. Dit vereis meer tegniese
+bekwaamheid en seker veel meer arbeid. Dit kos altyd handwerk om alle
+spore van sukkel uit jou werk te skaaf en weg te polieer" (Maart 1920).
+Nadat hy die aanwesigheid van "ware poëtiese gevoel" gekonstateer het sê
+hy: "Al wat makeer is die handskaaf en die sandpapier.... En laat die
+digter dit vir 'n grondbeginsel eerbiedig: in die maak van 'n volmaakte
+rympie is handewerk van net soveel betekenis as inspirasie." Na
+aanleiding van dié resensie het ek aangetoon, dat so 'n beginsel 'n
+absolute miskenning van die wese van alle egte poësie is. (_Die
+Brandwag_, Okt. 1920.)[82] Dit is bes moontlik, dat Marais met _skaaf_
+en _handwerk_ iets anders bedoel as die gewone opvatting van dié woorde
+in die letterkundige geskiedenis, wat uit die agtiende eeu dateer. Hy
+moes egter bedenk 't, dat die woorde 'n danig slegte reuk het met
+betrekking tot poësie en aanleiding kan gee tot fatale misverstand.
+
+Een van die trouste medewerkers was
+
+Jan F.E. Celliers.[83]
+
+As digter is hy bekend genoeg, maar dat hy ook een van ons mees
+verdienstelike prosaskrywers is, daarop mag nog wel gewys word. In _Die
+Brandwag_ het onder sy eie en onder verskeie skuilname heelwat
+prosastukke van hom verskyn, waarin hy op populêre wyse allerlei
+historiese, sosiale en wetenskaplike onderwerpe behandel. In dié stukke
+munt sy styl uit deur helderheid en logiese gedagtegang, eienskappe, wat
+dit dan ook bevatlik maak vir selfs onontwikkelde lesers. Die meeste
+daarvan is later herdruk in sy _Afrikaanse Leesboek_ (1920). Veel het hy
+ook gedoen om juiste begrippe oor kuns en meer besonderlik oor
+letterkunde te bevorder. In dié verband kan gewys word op 'n reeks
+artiekels, getietel _Lewe en Lettere_ in _Die Burger_, 1921,[84] waarin
+hy blyk gee van 'n gesonde kunsopvatting. In die stadium van
+ontwikkeling, waarin ons volk tans verkeer, is so 'n causerie oor kuns
+van groot waarde. 'n Verdienstelike omwerking van 'n roman van Henri
+Bordeaux, _Bang vir die Lewe_, het ook van hom in _Die Brandwag_ verskyn
+en is later opgeneem in Die Burger-leeskring (1919). _Colombo_ van
+Prosper Mérimée het hy ook daarvoor vertaal (1920).
+
+Dit is veral in sy natuurbeskrywings, dat Celliers as woordkunstenaar
+verdienstelik is. Hier openbaar hy 'n fynheid van gevoel vir die
+kleinste klanknuansering, 'n liefde vir die woord, wat ons dan ook van
+hom as digter mag verwag. Skoonheid in die natuur bring hom in 'n
+jubelende ekstase: "O _laat_ my hier verlore raak, hier altyd bly, hier
+sterwe as dit moet, want hier bereik die lewe sy hoogste heerlikheid, so
+naby die Onsienlike as nêrens anders nie...." (_Die Brandwag_, Jan.
+1917.) "Ons wil een word met die gaos van dartelende geluk en
+ongebondenheid, ons wil verfrommel word in die mallende, krullende
+skuim, ons wil onsselwe vergeet en verloor in die wilde vrye roes van
+uitjuigende, uitspattende beweging en krag ..." (Jan. 1918). In sy
+uitgelatenheid laat hy die woorde om ons wirrel-warrel, soms wel in
+verbysterende veelheid, maar altyd vol suggestiewe klank. "Die see in
+die rotse! O, nêrens soos hier is die water 'n beeld van krag--dronk,
+mal van pret, van selfbewuste eie weelderige oordaad, sigself
+oortreffend, oorrollend, oorbotsend in aksie-begeerte teen hindernis,
+swelgend in oordaad van alles-oorswalpende aanstorming, melk-wit
+oor-soppend die rotsbanke se skulp-skurfte, swoep! opdoeffend teen
+blinde klip, oppluimend, uitspattend in 'n wolk van skuim wat bo in
+puntjies uitpyl en wind-verwaaid neerswiets in die siedende karning
+omlaag; na aanstorming waggel-wild wegvallende elke keer, in
+rotstregters ingesuie, maar opgudsend weer na halwe wegsakking, in
+altyd-durende dans van strydlustige durf en ongeduld." (id.)[85]
+
+"Malkop-moedwillig spring waterdruppeltjies af van die oorleunende
+kranse bo, om te kyk wie die beste kan duik--met 'n stadig-lange swaai,
+net of die lug hul dra in hul val, seil hul neer, en pets op onse hande
+of val in die rivier naas die skuit." (_Die Brandwag_, Jan. 1917.)
+
+Sulke impressionistiese prosa is in ons letterkunde maar al te skaars!
+Noem dit navolging van die Tagtiger woordkuns as jy wil; praat van
+Querido-aanse oorlading--ook goed; maar hier is in elk geval 'n
+ontroerde, wat soek na treffende segging en juiste klank.
+
+Celliers raak nie alleen in vervoering oor die skoonheid in die natuur
+nie; hy is die peinsende wandelaar, wat steeds na dieper waarheid soek,
+telkens met 'n wondervraag stilstaan. "Pylsnel skiet 'n groot
+naaldekoker soos 'n blou bliksemstraal deur die lug en is weg met een
+van die stryders. En ek verwyder my, met die ewige vraag op my lippe,
+hier as in die groot wêreld daarbuite: Waarom, God, waarom?" (_Leesboek_
+p. 206.)
+
+"Die genius van die veld het die invloed op ons, dat ons telkens die
+vraag aan onsselwe doen: het ons lewe en bestaan op aarde 'n doel of is
+alles sommerso?" (id. p. 204.)
+
+"Soek ons hier nie wat ons soek in die donkere dieptes van ons eie gees,
+in elke ander gees, in elke oog, in boeke, in die natuur: _wat, waar is
+die groot geheim, is daar skoonheid, is daar waarheid vir my te ontdek?"
+(In die Kango-grotte. Die Brandwag_, April 1918.)
+
+Mooi plastiese uitbeelding is daar ook in _Winter-môre-mark_: "Kaffers
+wat werk toe gaan, loop met skouers hoog opgetrek, hande diep in die
+broeksakke, elke voet eina-eina neergeset,--almal ewe stuurs.... 'n
+Pikenien het 'n soldaatbaadjie aan; en as jy daar so inkyk, sien jy sy
+kaal pensie, en daaronder sy nakende maer beentjies, wat lyk of daar as
+aan kleef." (_Leesboek_ p. 133.)
+
+Drie verhaaltjies van 'n wonder-mooi innigheid het Celliers ook
+geskryf: _Sy tel nie mee nie_, en _Nie nodig nie_, in sy _Leesboek_ en
+_Waarom Hy en nie Ek nie?_ in _Die Brandwag_ (15 Maart 1914). Hier is hy
+ook die woord-arties, wat ons verras met fris beeldspraak. "Arme Gawie
+verwag 'n bondgenoot en uitredder in oupa en begin dadelik: "Meneer, is
+dit nou reg...." maar, wie sê, die ou-meid blus hom in 'n kits, met 'n
+maxim-sarsie van kort en klein gekapte skreeuerige woorde...." Onder sy
+ander verhale munt die volgende uit: _Suster Greta_, (5 Aug. 1913); _'n
+Ou Vlam_, (1 Mei 1912). _Vyf Minute_, (15 Junie 1913), is besonder goed
+gestileer. Die goeie beginsels wat hy in _Die Huisgenoot_, (Aug. 1919)
+aanbeveel, word hier toegepas--geen kakelbonte awonture nie--maar studie
+van die mens.[86] Van sy hand is ook die reeks didaktiese _Briewe van
+Bram_, waarin 'n paar treffende gedagtes voorkom.[87]
+
+Vir 'n juiste begrip van Celliers se kunsopvatting is die volgende van
+belang: _"Kuns is nie daar vir die kuns nie, maar vir die mens_,[88]
+omdat dit ook maar een van die middele in die mens se hand is in sy
+strewe naar geluk, deur volmaaktheid, waarheid, skoonheid.... In ons
+land het 'n skrywer 'n besonder moeilike taak: hy staat voor die
+moeilikheid dat die buite-bevolking ander leesstof nodig het as die
+dorpsbevolking; en hy mag die buite-bevolking nie sommer aan hul lot
+oorlaat nie, en sê, "ek bemoei my net met die dorpsmense", omdat die
+Afrikaners te min in aantal is teenoor die inkomelinge van buite, omdat
+elke Afrikaner 'n onmisbare gewig in die skaal is vir ons taal- en
+volksbestaan. _Die nasionale skrywer moet as-ware elke Afrikaner uit
+snuffel en soek om hom 'n skool te gee, 'n meester, 'n boek, wat hy kan
+verstaan, wat hom voorlig en opvoed_.[89] Hier staan Celliers dus op
+dieselfde standpunt as Langenhoven en in verband met die se opvatting
+sal die vraag nader bespreek word.[90] 'n Groot gedeelte van Celliers se
+prosawerk is dan ook suiwer didakties en ontstaan uit 'n drang om die
+volk op te voed tot 'n beter begrip van kuns. In dieselfde artiekel sê
+hy verder: "Aan die ander kant staat die dorpsman, wat al gesnuffel en
+geproe het in die letterkundige tuin van die groot wêreld.... Aan hom
+moet ook gegee word wat sy smaak bevredig en wat enigsins 'n vergelyking
+kan deurstaan met die letterkundige voortbrengsels van die buiteland....
+Die Afrikaanse kunstenaar moet dus _nie altyd_[91] uitsluitend aan die
+beginner dink nie _en sy gevoel of siening in-toom nie_[91]--hy moet
+daar dikwels die volle teuel aan gee en die allerbeste lewer wat hy kan,
+want veral die opgevoede man moet vir ons taal en nasionale saak gewin
+word ..." In sy poësie word die twede gedeelte van die program uitgewerk
+en gelukkig het dit weinig gely onder sy didaktiese en patriotiese
+geteoretiseer. As 'n =digter= ons kom vertel, dat hy _nie altyd_ ... _sy
+gevoel of siening in-toom nie_, m.a.w. dat hy dit soms tòg doen om vir
+die "beginner" bevatlik te wees, dan sou ons verwag dat dit met sy kuns
+heeltemal misloop, hoe goed die bedoeling ook al mag wees. Gelukkig is
+dit by Jan Celliers nie die geval nie. Wat C.R. de Klerk van Vondel sê,
+geld ook hier: "De beste schilders zijn niet zelden de onbeholpenste
+stamelaars als ze hun eigen werk trachten te duiden in woorden."[92]
+"Nut en stichting", "nuttigheid voor de scholieren en opluikende
+jonkheid", sulke woorde kry mens in meer dan een Berecht van Vondel,
+maar in sy beste werk, soos b.v. die _Lucifer_, vergeet hy totaal, dat
+hy die mense wou "verbeter" en is hy veral 'n _soeker van skoonheid_.
+Verblydend is dit, dat Jan Celliers in die laaste tyd ook in sy
+teoretiese beskouing 'n veel juister standpunt inneem. "Geniale
+uitbeelding, plastiese voorstelling, dis die eintlike werk van die kuns,
+die letterkunde. En die uitbeelding is hier alleen goed as dit,
+daardeurheen, die gronde en dieptes laat sien, _sonder dat dit die
+eintlike welbewuste doel van die kunstenaar was om bepaald sedelik of
+opbouend te werk te gaan, soos die predikant of die onderwyser_. 'n Ware
+kunswerk kom alleen voort uit 'n vrye estetiese stemming of gevoel, wat
+sy doel bereik sonder dat dit lyk of hy 'n bepaalde doel gehad het. As
+die vrye uiting hom 'n rigting laat voorskrywe deur 'n sedelike of ander
+doel, word persone en toestande vanself verdraai, pasklaar gemaak, om
+aan die doel of strekking diensbaar te wees, en dan is so 'n werk, as
+kunswerk, nie meer van die beste nie."[93]
+
+ * * * * *
+
+Een van die skryfsters wat baie opgang gemaak 't in die tydskrif en wie
+se werk herhaaldelik bekroon is, is
+
+Hettie Cillié.
+
+Sy is die dogter van 'n onderwyser, wat in 1884 uit Wellington na
+Transvaal getrek 't. Na die Engelse oorlog het sy haar opvoeding aan die
+Hugenote-Seminarie ontvang. In 1906 en 1909 het sy Taalbondpryse vir
+histories-romantiese verhale gekry. 'n Twintigtal van haar stories en
+sketse is in verskillende krante en tydskrifte gepubliseer.[94]
+
+Sy teken by voorkeur 'n eenvoudige verwikkeling, waarin die liefde 'n
+rol speel en verstaan die tegniek van die kort verhaal goed. Haar
+karakteruitbeelding getuig van groot mensekennis, maar is nie treffend
+genoeg om 'n blywende indruk te maak nie, veral omdat haar styl so
+onpersoonlik is. _Twee Susters, (Die Brandwag_, 1 Maart 1913) en _'n
+Ongeluk_, (15 Des. 1910) is tiepiese verhaaltjies, op rustig-aangename
+toon vertel.
+
+Emanuel H.F. de Roubaix.
+
+Van hierdie skrywer het 'n hele reeks verhale in verskillende tydskrifte
+verskyn. Hy is gebore in 1880 op Tabaktuin, 'n plaas digby
+Nieuwoudtville. Jare lank het hy sy vader se skape opgepas. Die enigste
+lektuur was die Bybel, Katkisasieboek, _Ons Kleintji_ en _Ons Tydskrif_.
+In 1898 kon hy op Nieuwoudtville skool gaan en met die Engelse "Step by
+Step" begin. Gedurende die oorlog het hy by Gen. Maritz aangesluit.
+
+In die Boland het hy gematrikuleer en sedert 1907 hou hy skool in
+Namakwaland. Veertien jaar was hy op Roggeland en vanaf 1922 is hy op
+Paardekraal (Noord-Bokveld).
+
+Die gewoontes van die Boesmanlanders, hul awonture op lang
+trektogte--dit is die tema van Roubaix se verhale. Soms gee hy 'n reeks
+los anekdotes, (_Op wag in Boesmanland_ b.v., (_Die Brandwag_, 1 Mei
+1916), maar meestal 'n afgeronde verhaal. Hy ken die mense deur en deur,
+en in eenvoudige, ongekunstelde taal, wat uitstekend pas by sy
+onderwerp, vertel hy die ervarings van eenvoudige siele. Dit is 'n
+primitiewe beskawing, wat hy beskryf in onopgesmukte toneeltjies van
+roerende eenvoudigheid. Treffend het hy die agterdog van die
+Boesmanlanders teenoor allerlei nuwighede geteken in _In die Land van
+Dr. Steenkamp_, (_Die Brandwag_, Julie 1920). In sy styl is daar af en
+toe 'n fris oorspronklikheid; sy taal en beeldspraak sit vasgewortel in
+die Boesmanlandse aarde. Met sy dialoog is hy minder gelukkig. Daar
+stuit mens telkens op gedagtes van die skrywer self. Onwaarskynlik klink
+dit b.v. om 'n Namakwalandse "boggie van veertien jaar" te hoor praat
+van "ware skuldvergiffenis, (wat) altyd volg op ware skulderkentenis",
+(_Die Brandwag_, 1 Des. 1917). Ook die outa in _Maar 'n ou Hotnot_ praat
+'n opgepoetste, onware taal.
+
+In die laaste tyd vertoon De Roubaix 'n neiging vir melodramatiese
+grieselighede. So teken hy in _Pietertjie en Johannetjie_ 'n verlore
+seun, wat op sy ouers se graf met 'n skeermes sy nekare afsny. (_Die
+Huisgenoot_, Junie 1920.)
+
+Iz. van Heerden--(VAALSWAER).
+
+Onder die jagstories, wat in _Die Brandwag_ verskyn het, verdien die
+reeks _Herinneringe van 'n Jagter_ deur _Vaalswaer_ vermelding. Dit is
+geen geweldige awonture wat hy verhaal nie. So af en toe vleg hy wel 'n
+klein anekdote in, maar hy is in die eerste plaas die peinsende jagter,
+wat onder die bekoring van die bosveld sy gedagtes vrye loop gee en met
+'n paar trekkies mooi 'n stemming aandui. 'n Goeie voorbeeld daarvan
+staan in die nommer van 1 Oktober 1916. _Vaalswaer_ is in 1870 in die
+distrik Cradock gebore. Sedert 1905 het hy met Preller saamgewerk in die
+taalstryd, o.a. as sekretaris van die A.T.G. Met sy eggenote, _Tannie_,
+woon hy nou op Potgietersrust.
+
+ * * * * *
+
+_Die Brandwag_ bevat ook verskillende goed geslaagde oorlogsverhale,
+waarvan o.a. die volgende kan genoem word: _'n Bestorming_ deur Nig
+Mimmie (15 Mei 1911); _Oormag_ deur P. (Sept. 1921); _Boere op See_ deur
+O.D. (Sept. 1921).
+
+Onder die groot aantal verdienstelike kort stories verdien die volgende
+veral aandag: _Die Bymot_ deur Carl Jeppe (15 Des. 1910); _Sy Terugkoms_
+deur Steph. Maré (1 Des. 1912); _Wraak_ deur J.F. Engelbrecht (15 Des.
+1912); _'n Brief_ deur H. (1 Des. 1915); _Oom Hans_ (Sept. 1921). Van
+sulke min of meer onbekende outeurs sou daar 'n mooi bloemlesing kan
+saamgestel word. As vervolgstorie het vanaf 1 Oktober 1914 'n roman in
+Afrikaans: _Die Niggies van die Kommandeur_ verskyn deur J.F. van Oordt
+(1856-1918),'n skrywer, wat onder die naam _D'Arbez_ 'n hele reeks
+Hoog-Hollandse romans gepubliseer het[95]. Van hom is ook die verhaal
+_Die Wolwegat_, later opgeneem in die bundel _Losse Klippe_.
+
+
+§ 3. Die Huisgenoot (1916-1921).
+
+In Mei 1916 is _Die Huisgenoot opgerig_ onder redaksie van Prof. J.J.
+Smith, as vertegenwoordiger van die Afrikaanse Taal-Vereniging en C.J.L.
+Ruysch van Dugteren, van die Nasionale Pers. Met die blad is verenig die
+A.T.V. orgaan, _Ons Moedertaal_, wat onder die oorlogsdruk moeilik kon
+bestaan[96]. Na die dood van Ruysch van Dugteren in 1918 is Prof. Smith
+alleen redakteur. Ofskoon Hollandse stukke natuurlik nog 'n enkele maal
+opgeneem word, verskyn die blad sedert 1918 feitlik uitsluitend in
+Afrikaans. Dit is ook die offisiële orgaan van die =A.T.V., A.C. V.V.,
+O.V.V.= _Helpmekaar_ en _Werda_.
+
+Die doel van _Die Huisgenoot_ word in die uitgawe van Julie 1917 só
+aangedui: "_Die Huisgenoot_ is 'n tydskrif, wat tot doel het die
+handhawing van ons taalregte en die bevordering van Afrikaans. Dit wil,
+sonder die terrein van partypolitiek te betree, meewerk in die opbou van
+ons nasionale lewe deur die aandag te vestig op alles wat goed is in die
+geskiedenis, owerleweringe en ideale van Hollands Suid-Afrika." Heel
+goed word die geaardheid van die blad deur die redakteur beskryf: "_Die
+Huisgenoot_ het probeer om populêr te wees, sonder om juis die wetenskap
+enige geweld aan te doen; en dit was altyd sy strewe om vir elke leser
+in die Afrikaanse wêreld iets boeiends te verskaf. Deur
+lewensbeskrywinge van groot Afrikaners, deur sketse uit ons dierewêreld,
+deur stukke oor Suid-Afrikaanse kuns, deur verhale vir kinders en
+grootmense, deur die bespreking van taalkwessies, deur wenke vir die
+vrou, deur foto's, grappies en ander sake, het ons probeer om met die
+smaak van al ons lesers enigsins rekening te hou. Ons het, met ander
+woorde, 'n bont verskeidenheid nagestreef...." (Mei 1918). Met groot
+sukses het die blad sy program uitgewerk. In die moeilike taak om
+wetenskaplik en daarby ook populêr te wees, het die redaksie vry goed
+geslaag. Voorlopig skyn die bestaan van 'n tydskrif nog daarvan af te
+hang, want pas in 1922 het die pogings om 'n suiwer wetenskaplike en
+kuns-blad te stig sukses gehad[97].
+
+Deur 'n konsekwente, ofskoon krietiese toepassing van die
+Akademie-reëls het _Die Huisgenoot_ veel gedoen om aan die verwarring op
+spellinggebied 'n einde te maak en die afdeling _Taalvrae_ was seker een
+van die nuttigste. Tog het die redaksie nooit uit die oog verloor nie,
+dat daar naas die taal nog ander belangrike sake was. "We moeten een
+volk zijn met eigen taal niet alleen, maar met eigen tradities, eigen
+bouwkunst, eigen schilderkunst, eigen muziek, eigen levensopvatting."
+(Feb. 1917.)--"'n Volk wat hom ten volle wens te ontwikkel en wat 'n
+waardige plek onder die nasies van die wêreld wil beklee moet hom op
+alle gebied(e) ontwikkel. Dit is nie genoeg dat ons vir ons taalregte
+stry nie; en dit is ook nie genoeg om na politieke mag te strewe
+nie...." (Julie 1919).--"Uit ekonomiese afhanklikheid spruit alte
+dikwels kultuurslawerny...." (April 1919).
+
+Daar is een geval waar die ywer vir die taal van letterkundige standpunt
+minder gelukkig was. B. Spoelstra bring, "op 'n heel interessante
+manier", seg die redakteur 'n versameling van ses-en-vyftig spreekwoorde
+in 'n verhaaltjie byeen, (Jan. en Mei 1921) en ander lesers word
+aangespoor om die spreekwoord-gimnastiek na te volg! Tot watter
+verwarrende beeldspraak dit aanleiding gee, blyk al uit die eerste sin:
+"Toe ons die ander dag _'n voëltjie gehoor fluit 't_, dat twee jong
+mense _die huweliksbootjie wou instap_, en al taamlik gou _die
+vierperdewa wou inspan_, het _menigeen sy tande geslyp_ vir die bruilof
+en gehoop om weer 'n keer lekker _te gaan skoffel_." (Jan. 1921.)
+
+Letterkundige kritiek beslaan 'n vername plaas in die blad en oor die
+algemeen is dit op gesonde beginsels gebaseer. Dat die blad hom nie leen
+tot onoordeelkundige ophemeling van minderwaardige of middelmatige werk
+nie en by sy kritiek steeds 'n hoë peil handhaaf ten spyte van heelwat
+teenstand is 'n verblydende teken.
+
+Dit spreek egter vanself dat met ongeveer 'n vyftiental resensente dit
+moeilik gaan om die eenheid op krieties gebied te handhaaf. So word
+dieselfde stuk by 'n eerste en twede druk nogal heel verskillend
+beoordeel. Dit is die geval met _Die Vrou van S.A._ (Nov. 1918 deur H.A.
+Fagan, Feb. 1922 deur F.B.).
+
+Veral in die begin van 1919 het 'n paar resensies van verskillende kante
+teenspraak uitgelok en aanleiding gegee tot vrugbare polemiek.[98]
+
+In Februarie 1919 wys J.J. S(mith) op die algemene gebrek aan tegniek:
+"Ons wil (die) skrywers net daarop wys, dat hul ons letterkunde 'n groot
+diens sal bewys as hul, voor hul aan die skrywe gaan, eers 'n bietjie
+wil studeer en nadink oor die wette wat gedurende die eeue heen in hul
+besondere kunsvak geformuleer is." In 1920 word dit nodig om aan die
+talryke skryflustiges die volgende waarskuwing te gee: "Kyk, die
+Afrikaanse Taalbeweging het darem nou 'n stadium bereik waarin ons nie
+meer alles wat daar in druk verskyn as hemelval hoef te begroet nie"
+(E.C. P(ienaar) Nov.). _Slypsteen_ ontlok aan M.T. die versugting: "Van
+Lennep, Van Lennep en sy geesgenote--dat hulle tydperk hier in S.A.
+verbygaan!" Daarby word gevoeg: _Slypsteen_ "weet oënskynlik nog niks
+van die groot strome in die hele nuwe Europese letterkunde nie." (Julie
+1921.)
+
+Dat daar vir die Europese en meer spesiaal vir die Nederlandse
+letterkunde so weinig, of glad geen plaas ingeruim word in _Die
+Huisgenoot_ nie is 'n gebrek, waarop ek in die uitgawe van Desember 1920
+gewys het. "Van die kunsafdeling in ons tydskrifte verwag ons veel meer.
+Dit behoort ons op die hoogte te hou van kultuuruitinge en -strominge in
+ander lande. Deur ons geografiese ligging loop ons groot gevaar om op
+kunsgebied agterlik en geïsoleerd te bly. Ons land lê in 'n uithoek, en
+die storme wat die gemoedere elders in heftige beroering bring, gly as
+geruislose kabbeling om ons kuste heen, soms 'n paar verdwaalde
+opdrifsels meevoerende. Vir ons tydskrifte meen ek is die tyd tans gekom
+vir 'n breër behandeling van die literatuur, vir 'n intenser meelewe in
+die literêre strominge van die wêreld, sonder welke dit onmoontlik is om
+die literatuur van enige land te begryp. Deur vergelykende studie alleen
+kom ons tot 'n besef van die groot eenheid, tot 'n begrip van die
+menigvuldige aanknopingspunte tussen die nasionale en die internasionale
+kultuur. Dit is onmoontlik om elke literatuur in 'n aparte hokkie te
+hou. Ons moet in staat wees om 'n blik oor die gehele wetenskap te werp,
+en op dié wyse alleen kan ons die onderlinge verband tussen die
+verskillende dele en die grote geheel begryp."[99]
+
+Tot die prosaskrywers, wat in _Die Huisgenoot_ gedebuteer het, behoort
+A. du Biel, (_Getrou_ en 'n paar kort verhale) en A.A. Pienaar
+(Sangiro). Die kort verhale, wat enigsins bo die middelmatige uitkom is
+besonder skaars. Die meeste daarvan verraai 'n ongeoefende hand.
+_Onsigbare Hande_ deur M. Linde (Maart 1920) en veral _Die Bosduiwenes_
+deur J.W. (Des. 1920) verdien vermelding. Laasgenoemde is sonder enige
+mooi-doenery, vol stemming en goed vertel. Ook die volgende bevat 'n
+belofte: _Die Ou Bliktrommel_ (Aug. 1917) deur _Kleinjan_, J.R.L. van
+Bruggen, die digter van _Lente-Stemme_, en _Vergeet-my-Nietjies_ deur
+Rikie Postma (Des. 1921).
+
+Van die digter, Dr. C. Louis Leipoldt het o.a. verskyn: _Wit Anjeliere_
+(Nov. 1919) en _Die Transportryer se Storie_ (Okt. 1921). Hy laat graag
+'n onopgeloste raaiseltjie aan die leser oor om tot nadenk te prikkel.
+Dit is in ooreenstemming met sy kritiek oor Van Reenen se _Celestine_,
+waar hy sê: "'n Ware kunstenaar fluister as hy by so 'n punt (waar jou
+hare moet rys) kom: juis die sagte gefluister gee die indruk van
+geheimsinnigheid, moedeloosheid, angs, gevaar, smart, vertwyfling."
+(Nov. 1919.) Maar sy besgeslaagde verhaal het in _Die Brandwag_ verskyn
+(1 Aug. 1914). Dis 'n digterlike sprokie van wondervolle teerheid: _Die
+Weeskindjie, wat 'n moeder wou hê!_
+
+Die griep-epidemie, die opstand in 1914 en die druk van die oorlog, dit
+is oorsake, wat die getal "blyeyndende" verhale so klein maak in die
+jare 1918 en 1919, en 'n besondere voorliefde vir die skildering van
+treurige voorvalle in die hand werk. Die strekkings-verhale van
+_Hermanus_ behoort tot die gebied van die traktaatjiesliteratuur. _As
+Vader gaan Biljart speel_ kan dien as staaltjie, (Nov. 1921). 'n
+Voorbeeld van valse romantiekerigheid gee N.H. Theunissen in sy verhaal:
+_Tussen die Aand- en Môre-skemer_ (April 1920). Hy wil 'n digterlike
+Voortrekkersdogter en haar dom-onnosele vryer uitbeeld. Dit sou moeilik
+gaan om meer staaltjies van verknoeide viesie en onware tekening in 'n
+kort verhaal bymekaar te bring. "Oor die lieflike gesiggie sprei daar 'n
+tergende glimlag, ... en haar oë, _diep poele van geheimsinnigheid_,
+verduister, en word _onleesbaar_." Die arme Jan kry les in digterlike
+natuur-beskouing. "Kom en kyk hoe mooi lyk die groot bome, hoe hulle
+hulde bring aan die sonsondergang." Die raadselagtige nooi word so
+geteken: "Sy was die verpersoonliking van leed en van vreugde. Die groot
+ruimtes was haar wêreld. Sy het geleef en gevoel vir alles om haar. Vir
+haar _mede-wagenote_ was sy _onaantasbaar_. Hulle siele kon nie saamgaan
+met haar langs die babbelende strome, na die _soemende_ bosse op 'n
+blosende môre nie." As Jan haar in sy arme neem is daar in haar "geen
+antwoordende vuur nie". Gelukkig, want in die dae was daar nog geen
+brandweer nie! Maar nou kry Jan weer les in sielkunde: "Die bloed wat
+deur my stroom, het die are van die wêreld gegee; die hart wat in my
+klop, is die kloppende hart van die see. Sien jy, Jan, ek kan ook
+rym!... Van uit die diepe aarde, van uit die waters het my liggaam
+gekom; en my liggaam is 'n _hok_ (sic!) van drome" ... Sy dowwe verstand
+kon haar woorde nie volg nie. Die beeldspraak was buite die enge kring
+van sy gedagtes." Ook ons slaan dit totaal dronk! Maar die domme Jan
+ondergaan 'n gedaanteverwisseling. "Sy ontvang sy lippe sonder weerstand
+... Hy trek hom weg en kyk na haar oë. 'n Straal van kennis, 'n
+profeteviesie het hom ingevloei". Soe! maar dis darem vir jou 'n nooi!
+In die aand het "die stergegordelde nag haar omhels" en na die Soeloes
+se aanval "sluit hulle hul lippe in wederkerige, ewigdurende liefde,
+terwyl die bloed hulle monde oorstelp. Al die vlekke op die gesigte van
+die dode word deur 'n engelehand uitgewis. Die man se gesig word kalm,
+oorsprei met 'n waas van alomkennis ..."--"Geef ons natuur en waarheid
+weer" mag ons wel uitroep! Gelukkig is dit op ander plekke in die blad
+wel aanwesig.
+
+
+§4. Ander Tydskrifte.
+
+In _Die Boerevrou_, 'n damesblad, opgerig in Maart 1919 onder redaksie
+van Mevrou K. Malherbe het 'n paar mooi verhale van Adv. Eugène, N.
+Marais verskyn, o.a.: _Die Brief van Nooitgedag_ (Des. 1919)[100]. Ook
+F. v.d. Heever,[101] van wie in 1919 'n bundel gedigte uitgegee is, het
+'n paar veelbelowende sketse geskryf, waaronder: _Werkstaking by die
+Kleigat_ (Mei 1922) uitmunt deur plastiese tekening.
+
+Sedert Maart 1920 het 'n orgaan van die Afrikaanse Studentebond as
+byvoegsel van _Die Brandwag_ verskyn onder die naam _Die Banier_. Die
+inhoud was meestal van wetenskaplike aard en word hier dus nie nader
+bespreek nie.
+
+In Junie 1922 het onder redaksie van Dr. D.F. Malherbe verskyn die
+_Tydskrif vir Wetenskap en Kuns_. In die voorwoord word gesê: "Ons (wil)
+met hierdie Tydskrif 'n gees van ernstige studie help aankweek,
+geleentheid bied vir elkeen wat oorspronklike beskouinge het of nuwe
+resultate of nuwe materiaal om te publiseer.... Laat die Tydskrif dan 'n
+middel wees om Afrikaans betekenis te verleen in die wetenskaplike
+wêreld, om te ontplooi die rykdom van sy vormende krag, sy vermoë om die
+nuwe woord te skep wat met raak seggingskrag verras, om te openbaar sy
+suiwerheid en helder eenvoud, om te getuig van sy mondigheid en
+bruikbaarheid op elke gebied van die geestelike lewe, om deur sy
+veelsydigheid van uiting ons volkskultuur tot skoner bloei te bevorder."
+Die blad wil ook gee "kunskritiek wat kan oprys uit die vlakteveld van
+dorre eensydigheid tot 'n hoër plan met wyer uitsigte." Die oprigting
+van so 'n tydskrif is 'n bewys van die gestadige ontwikkeling en
+ernstige strewe van die Twede Beweging.
+
+VOETNOTAS:
+
+[74] Werk, wat later gebundel is en ook los artiekels of verhale van
+skrywers, wat in die volgende hoofstukke ter sprake kom, word hier nie
+behandel nie.
+
+[75] _Goede Hoop_, Julie 1903.
+
+[76] In die Junie-nommer 1905 merk hy op dat sommige lesers beswaar het
+teen te veel Afrikaanse stukke en gee die versekering "dat na Juli de
+bijdragen in 't Kaapsch-Hollandsch een zeer gering deel van ons
+maandblad zullen opnemen." Na aanleiding van Preller se brosjure _Laat
+'t ons toch Ernst wezen_ sê hy: "Wij willen (Preller) in alle
+vriendelikheid waarschuwen niet te haastig te werk te gaan.... De
+invoering van Afrikaansch als schrijftaal moet zacht en geleidelijk
+geschieden" (Sept. 1905).
+
+[77] Na aanleiding van die kwessie het daar 'n vinnige polemiek ontstaan
+in _Die Burger_, 12, 13, 22 Aug. en 5, 14, 16 Sept. 1921. Prof J.J.
+Smith het in _Die Huisgenoot_, Sept. en Okt. 1921, 'n helder
+uiteensetting en samevatting van die korrespondensie gegee. Oor die
+geskiedenis van die Twede Beweging is die laaste woord seker nog nie
+gesê nie, maar voorlopig is m.i. Prof. Smith se konklusies heeltemal
+juis.
+
+[78] Vgl. die eerste no., Julie 1903.
+
+[79] Die lewensskets is aan _Die Brandwag_, Des. 1918 ontleen.
+
+[80] 'n Paar daarvan het eers in _Ons Moedertaal_ gestaan.
+
+[81] Ek kursiveer.
+
+[82] In sy repliek hierop maak Preller hom van die kwessie af met 'n
+paar kwinkslae oor "inspirasie-bakoond" (!) en ontydig slapende of
+badende digters--grappies wat in 'n hoogstaande tydskrif seker ongepas
+is. En hyself het nadruklik verklaar: "Die digkuns is geen handwerk
+nie". Voorwoord, _Die Vlakte_, (1920) p. 7.
+
+[83] Vir lewensskets, sien dissertasie Dr. E.C. Pienaar, p. 209.
+
+[84] Vanaf Feb. 1922 voortgeset in _Die Huisgenoot_.
+
+[85] Op die mooi passage het Dr. E.C. Pienaar in sy dissertasie ook
+gewys, 2de druk, p. 228.
+
+[86] Vgl. p. 21 vlg.
+
+[87] Een daarvan is opgeneem in die _Leesboek_, p. 185.
+
+[88] Kursivering van die skrywer.
+
+[89] Ek kursiveer. _Die Brandwag_, Julie 1917.
+
+[90] Sien Hoofstuk VII.
+
+[91] Ek kursiveer. _Die Brandwag_, Julie 1917
+
+[92] _Kultuurbeschouwende inleiding tot Vondels spelen_, p. XI.
+
+[93] _Kuns en Sedelikheid. Die Huisgenoot_, Jan. 1922. Ek kursiveer.
+Vgl. egter _Reg bo Reg_ (1922): "In onse tyd van Jonge nasionale opbou
+... is kuns wat 'n sedelike of ander strekking het, ook te verdedig."
+(Voorwoord).
+
+[94] Lewensskets aan _Die Brandwag_, Des. 1918 ontleen.
+
+[95] Vgl. _Z.A. Prozabundel_: Hoekstra--Viljoen, p. 102.
+
+[96] Op die betekenis van _Ons Moedertaal_ is in Hoofstuk II al gewys.
+
+[97] Vgl. § 4.
+
+[98] Vgl. die nommers van Feb. en April.
+
+[99] Uit 'n artiekel: _Oor Letterkundige Kritiek_. t.a.p.
+
+[100] Nadat dit afgedruk was, het twee daarvan in die
+_Almal-se-Boeke-_Serie verskyn onder die tietel _Margriet van
+Laastelust_, (1922).
+
+[101] Gebore 1894 op Heidelberg, Tvl. Sedert 1921 as advokaat gevestig
+in Windhoek.
+
+
+
+
+HOOFSTUK IV.
+
+G.R. von Wielligh.
+
+"Die Laaste Stem uit Die Genootskap van Regte Afrikaners".
+
+
+Die stamvader van die Von Wielligh-geslag was offisier in die
+Oos-Indiese Kompanjie. Gideon Retief is op 1 April 1859 gebore in die
+Pêrelse distrik. "Van sy sewende jaar af moes hy ploeglei, vee-oppas, op
+die oesland hopies maak en meer dergelike werkies wat vir 'n plaaskind
+nie ongewoon is nie."[102] Deur borgstaan het sy vader alles verloor en
+so moes Gideon self sy studie bekostig. Op sy elfde jaar het hy sy vader
+vergesel op 'n handelstog na Boesmanland. Toe hy by sy terugkeer op die
+Pêrelse Gimnasium kom, het hy net soveel Engels as Jakob Platjie geken,
+maar binne vyf jaar was hy al landmeter. Deur sy beroep het hy groot
+streke van Suid-Afrika goed leer ken. Op vyf-en-twintig-jarige leeftyd
+is hy benoem tot Landmeter-Generaal van Transvaal.
+
+In 1903 het hom 'n ongeluk oorkom, wat byna tot volslae blindheid gelei
+'t. Hy het na Delagoabaai gegaan om die astronomiese instrumente van die
+Transvaalse regering te haal. By dié geleentheid is op 'n karnaval kalk
+in sy oë gegooi. Mediese behandeling het sy toestand sover verbeter "dat
+hy nou in sy regteroog 'n kwart natuurlike gesig teruggekry het. Hy lees
+met 'n sterk bril en 'n dubbelde vergrootglas--sy neus byna op die
+papier, en dan sien hy nog maar vyf tot ses letters tegelyk."
+
+"Omdat hy lange tyd op die platteland deurgebring het en 'n ystersterk
+geheue besit, beskik hy oor 'n skat van tiepiese Afrikaanse uitdrukkinge
+soos miskien geen ander lewende persoon op die oomblik nie."
+
+Vanaf 1876 het Von Wielligh geskryf in _Die Patriot_, maar toe die blad
+'n onnasionale politiek begin te verdedig, het hy hom daaraan onttrek
+(1891). Later was hy weer medewerker vir _Ons Kleintji_, waarin die
+eerste paar hoofstukke van _Jakob Platjie_ verskyn het. Ook aan die blad
+_Ons Taal_ het hy bydraes gestuur.
+
+In 1907 het sy eerste _Dierestories_ verskyn, vier dele waarvan tussen
+1917 en 1922 uitgegee is. Verder: _Jakob Platjie_ (1918); _Eerste
+Skrywers_ (1918); _Boesmanstories_ I-IV (1919-1921); _Staan jou Man_
+(1920); _Robinson Crusoë_ (1920), _Huis en Veld_ in 1921 gepubliseer,
+maar reeds in 1916 geskryf; _Nimrod Seeling_ (1921); _Ghwennie Barnveld_
+(1922). 'n Groot aantal stories en artiekels het in die tydskrifte
+verskyn, o.a. _Ons Geselstaal_ in _Die Huisgenoot_ (1921-'22), terwyl
+nog 'n paar werke in die pers is.
+
+Von Wielligh is feitlik die enigste voorstander van die Eerste
+Beweging, wat ook aktief opgetree het in die twede. In _Eerste
+Skrywers_ (1918) skets hy die ontstaan en werk van _Die Genootskap van
+Regte Afrikaners_, en verdedig die opvattings van die genootskap
+teenoor verskillende aanklagte van die Twede Beweging. Hy deel
+allerlei feite mee wat van groot belang is vir die geskiedskrywer van
+die Patriotbeweging, polemiseer teen die spelling en organisasie van
+die Twede Beweging en gee talryke taalkundige beskouings, wat getuig
+van 'n uitgebreide kennis van die volkstaal, maar wat soms minder juis
+is deur sy gebrek aan wetenskaplike insig in taalverskynsele. Reeds
+vanaf 1877 het Von Wielligh "alle egte en suiwere Afrikaanse woorde,
+uitdrukkings, sinswendinge, ens." opgeteken, maar sy werk het in die
+Anglo-Boere-oorlog in die hande van die vyand geraak.[103] Sy
+uitgebreide studie oor _Ons Geselstaal_ in _Die Huisgenoot_ (1921-22)
+getuig van 'n onverfloude belangstelling in die ontwikkeling en
+dialektiese verskynsels van die volksspraak. Hy is 'n voorstander van
+purisme. Woorde soos "energie, soliditeit, affiliasie, alternatief"
+noem hy _taalkriekies_, "wat ons mense op die platteland--en ook baie
+dorpelinge--hoor sing, maar hulle weet nie waar die goedjies presies
+sit nie."[104] Hy waarsku veral teen die gebruik van Neerlandse
+uitdrukkings "deur skrywers wat in Hollands en in Holland gestudeer
+het."[105] Eienaardig is dan ook die poging wat hy doen om Hollandse
+en vreemde uitdrukkings "nae 's landts gheleghenheyt" te verafrikaans.
+Woordevloed word "'n waterval van woorde" (_Eerste Skr._, p. 9);
+wierookvat, "wierooktessie" (p. 59); 't onderspit delven, "die
+onderspit byt" (_Huis en Veld_, p. 31); wittebroodsdagen,
+"soetebroodsdae" (p. 32); clairvoyance, "heldersienery" (t.a.p., p.
+177); propaganda, "voortplantingplanne" (_Die Brandwag_, Feb. 1918).
+
+Von Wielligh se oordrewe purisme hang saam met sy opvatting van kuns.
+Eweas die ou Genootskap streef hy daarna om "die grote gros te bereik,
+wat letterkundig honger en dors ly".[106] "Die ou Genootskap het vir
+leesstof vir die minder bevoorregtes gesorg, terwyl die nuwe net vir
+lektuur vir ontwikkelde persone wil sorg". Hulle stelling is "Ons mik
+hoog".[107] In die voorwoord van _Huis en Veld_ verklaar hy: "Nog
+vashoudende aan die ywer om ons mense meer en meer te laat lees, het ons
+vir ons meer deur die populêre Afrikaanse verhaaltrant laat lei, as om
+ons aan praalgeskrif te bind, want ons volk hou min van geskrifte,
+volgeprop met dromery, maar verlang wel om verhale met korte bewoordinge
+in sy (_lees hul_) ware kleure afgeskilder te sien. So het ons die wenk
+gevolg van "praat gou want ek woon ver"." Von Wielligh staan dus nog
+heeltemal op die Ou _Patriot_-standpunt. Hy vergeet dat daar sedert 1875
+groot dinge gebeur 't, dat die Twede Beweging die taalstryd gewin 't,
+juis omdat die _intellektuele gedeelte_ van die bevolking die voortou
+geneem 't en nie tevrede was alleen met rympies en grappies nie. Vandag
+mag nie iedereen meer rympies maak nie "van Generaal Smuts af tot die
+veewagtertjie in die veld", en hom dan verbeel dat hy ons letterkunde
+help opbou. Dit neem natuurlik die feit nie weg, dat in die periode vóór
+1900 die Patriotskrywers op kulturele gebied nuttige werk gedoen 't, dat
+hulle die land geskoffel het waarop ons vandag ploeg en saai. Maar vir
+my is dit nog 'n ope kwessie of die taalstryd nie al vóór die
+Anglo-Boere-oorlog kon gewin gewees het nie, as die leiers van die
+Eerste Beweging hoër gemik 't.
+
+Dit is onloënbaar dat daar tans nog 'n groot skare rustelose soekers na
+skoonheid is, wat spartel om hulself te verhef bo die wanhopig reëlmatig
+terugkerende besighede van die alledaagse lewe, mense wat bevrediging
+soek vir dieper behoeftes dan dié van geldsak en liggaam. Hul sit
+dikwels op afgeleë buiteplase, waar alle middele om die vae drang na
+iets hoërs en skoners te verwesenlik heeltemal ontbreek en waar 'n
+oorspronklik warme aandrif langsamerhand jammerlik verkwyn.[108] As Von
+Wielligh hom geroepe voel om vir die "minder bevoorregtes" te skrywe,
+dan doen hy seker nuttige werk, maar dit ontslaan hom nie van die plig
+om "hoog te mik" nie, en daarby tog te sorg, dat hy nie bokant die
+vuurmaakplek van sy lesers gaan nie. Daal hy af tot hulle peil, wat hy
+in _Huis en Veld_ en elders maar al te dikwels doen, dan leer hy hul
+miskien wel hul eie taal lees, maar dan is daar geen sprake van
+kulturele opheffing nie. En dit is tog sy doel, want hy verklaar sy
+standpunt as volg: "Die kunstenaar lewer 'n kosbaar monument om sy volk
+onder die ander volke te laat uitblink; maar die Volksskrywer saai die
+sade, wat voedsel vir sy eie Volk lewer."[109]
+
+Von Wielligh is geen dienaar van die skoonheid nie. Sy begrip van kuns
+druk hy so uit: "Kuns is skoon, kuns is verhewe, kuns is edel en
+bo-aards; _maar dit neem 'n kunstenaar om kunsstukke te waardeer_. En
+dis daarom dat die grootste gros net baie van 'n goeie "rympie" dink(,)
+want dit klink in hulle ore nes die Walse van Strauss en nie nes die
+Sonatas van Beethoven nie."[110] Die gekursiveerde stelling is vals.
+Tussen die kunstenaar en leser moet daar natuurlik 'n seker mate van
+geestelike affiniteit bestaan, voordat daar sprake kan wees van
+kunsgenot. Maar terwyl die kunstenaar, gedrewe deur 'n aangebore
+skeppingsdrang die diepste aard van 'n wese of ding peil en dit dan tot
+skoonheid herskep, hoef die kunsgenieter alleen 'n normale mens te wees
+met 'n klein bietjie aanvoelings-vermoë. Die kunstenaar dring deur tot
+die kern, verwyder daarvan al wat bykomstig is en bied ons dit aan in sy
+suiwerste skoonheidsessensie. Hy doen die werk, ons moet alleen die
+vreugde, wat hy by sy skeppingsdaad ondervind het, kan navoel en
+hervoel. Von Wielligh speel dus maar 'n eenvoudige deuntjie op die
+konsertiena of "ramkie", omdat hy meen dat daar tog so weinig mense is
+wat iets beters kan geniet.
+
+Vir sy opvatting van die ontstaan van kuns is die volgende sitaat ook
+van belang: "Daar was baie briewe en gedigte uit alle oorde van die
+land.... (vir _Die Patriot_.) Baie minderwaardige stukke werd ook
+geplaas om skryflus aan te wakker. Diegene wat beter kon doen, het nie
+stil bly sit nie, en die wat swak was, het bygeleer. _Want as iemand
+iets herhaaldelik aanpak, leer hy vanself om die volgende keer dit beter
+te doen. En so werd die wieg vir aanstaande skrywers gereed
+gemaak."_[111] Hier staan Von Wielligh dus nog op die agtiende-eeuse
+standpunt: "Kunst wordt door arbeid verkregen". Sy werk dra nog
+heeltemal die stempel van die _Patriot-periode_, en die ideale, wat hy
+na streef is die van 'n verbygegane geslag. Hy staan met sy gesig
+agterwaarts gekeerd en is "'n laaste stem uit die Genootskap van Regte
+Afrikaners".
+
+Jakob Platjie.
+
+In _Jakob Platjie_ gee hy "egte karaktersketse uit die volkslewe van
+Hotnots, Korannas en Boesmans".[112] Platjie woon met sy ouers, "twee
+opregte peperkorreltjie Hotnots" by die Drakensteinberg. As hulle op die
+end van die maand hul loon ontvang, peil hul kantien toe. Iedries en
+Sina, Platjie se ouers raak in die tronk en hyself verdwaal op weg plaas
+toe en loop Koos Fonk, 'n smous raak, wat hom saam neem op 'n handelstog
+na Boesmanland, ens. Dan word die verhaal 'n aaneenskakeling van los
+anekdotes; Hotnotsfeeste word beskryf, Koos vier sy verjaarsdag en
+agtervolg Boesmans, wat sy beeste gesteel 't, terwyl saans om die
+wagvuurtjie allerlei Hotnotstiepes hul stories aan die nuuskierige
+Platjie vertel. Koos Fonk trek ook na Griekwaland, waar ons Kleopas
+Kipie hoor preek en twee kapteins sien oorlogmaak.
+
+Platjie keer na sy ouers terug, trek met hulle na Stellenbosch en kom na
+hul dood op die sendingstasie Genadendal. Daar maak hy kennis met Dr.
+Kleiner, wat uit Europa gekom 't vir etnologiese studie en vergesel hom
+op sy togte as tolk. Platjie raak net hooggeleerd, word kristen, vertel
+wolf-en-jakkalsstories aan sy kinders en sterf.
+
+ * * * * *
+
+In die voorrede verklaar Von Wielligh: "Wat die taal betref, wat ons in
+die mond van die sprekers geleg het, mag ons in die rede geval worde
+deur iemand wat sê dat in sommige gevalle die taal te verhewe is vir die
+onbeskaafde inboorling. Dit mag so wees, maar ons het genoeg aanhalings
+in hulle gewone spreekwyse gelewer om te toon van watter woorde hulle
+hul bedien het om hulle gedagtes aan ander bekend te maak. Alleen het
+ons gevrees om deur aanhoudend van die plattaal gebruik te maak, dat ons
+die lesers sou hinder." Uit 'n kunsoogpunt bederf hierdie besluit die
+hele boek, want dit beteken 'n opsetlike vervalsing van die dialoog. Dit
+was Von Wielligh se plig as kunstenaar om 'n Hotnot soos 'n Hotnot te
+laat praat en ofskoon sy standpunt verdedigbaar was in die dae van die
+Eerste Beweging, toe "Patterjots" sinoniem was met plat taal en die
+getroue weergawe daarvan die taalsaak sou benadeel het, kon daar geen
+rede bestaan om in 1918 nog so 'n apologie te maak nie.[113] Ek gee 'n
+paar staaltjies van die kunsmatig vervalste dialoog: Sina praat van
+konstabels "wat net _daarop uit_ is om _hulpelose_ mense die tronk in te
+prop" (p. 5); Iedries vertel: "Boems! Daar val 'n kanon_skot_ op see in
+Tafelbaai--_die egó bulder_ van klofie tot klofie...." (p. 14), "So 'n
+_toestand van sake_ kon nie lank aanhou nie. Daar moes _'n toenadering
+plaas vinde_" (p. 16); die ou toordokter sê vir Toel: "... maar jy is my
+regterhand en _die voorwerp van my ongeveinsde vrindskap_", (p. 62); ou
+Bleskop, 'n Koranna veewagter, vertel van die waterslang: "die water
+maak agter hom sulke wit _kabbelings_ en hy klowe die water _soos 'n
+skip_" (p. 98); Platjie sê: "die baas het hom _in vrindelikheid_ vanmôre
+gestewel en gespoor" (p. 132); Samuël praat van kieries wat "begin _te
+kletter_" (p. 77).
+
+Gelukkig staan naas sulke papiertaal baie dialoge, wat bewys, dat Von
+Wielligh die Hotnotsspraak goed beheers en hul mentaliteit deur-en-deur
+ken. En dis 'n kennis wat berus op 'n intieme aanraking met die
+inboorlinge. Hy het hul bespied in al hul gewoontes en gebruike. Veral
+die tekening van die parmantige Tys Bokkies is goed geslaag. Die
+grootste gedeelte van die Griekwapreek is ook 'n bewys, dat hy hom
+heeltemal ingeleef het in die psiege van die mense wat hy uitbeeld. Hy
+slaag daar uitstekend in om die naïewe taal en beeldspraak, die
+primitiewe gedagtegang weer te gee. Ook van die eienaardige humor van
+die inboorlinge het hy gelukkige staaltjies gegee. By die beskrywing van
+sulke toneeltjies is hy op sy beste, en ofskoon daar groot foute in die
+komposiesie is, bly dit tog altyd nog 'n verdienstelike werk deur die
+raak tiepering van enkele figure. _Die sentrale fout is, dat die mense
+daar is ter wille van die taal en nie die taal ter wille van die mense
+nie_. Von Wielligh het sy taal hartstogtelik lief. Jare lank is "pittige
+taal" sy spesialiteit gewees. Reeds in 1881 het hy die burgemeester van
+Utrecht (Holland) met sy "naieve uitdrukkingen" dronkgeslaan.[114] En
+nou het hy in _Jakob Platjie_ probeer om sy moeisaam opgegaarde taalskat
+te verwerk. Mens kry soms die indruk asof sekere anekdotes opsetlik
+bedenk en ingelas is om 'n treffende uitdrukking of komieke
+woordverdraaiing te kan gebruik.
+
+_Jakob Platjie_ is 'n etnologiese museum, vol opgestopte Hotnots,
+Korannas en Boesmans. Hulle is kunstig opgestel te midde van 'n
+nagebootste omgewing. Daar is 'n klipspelonk met mooi tekeninge, 'n
+Boesman wat staan uintjies uitgrawe met sy harde kierie, en 'n paar
+ander wat wild bekruip. Verder lê daar egte Boesmanspyle, ramkies, ens.
+Die ou wildvelle wat die Hotnotpondokkie bedek, is effens opsygeslaan,
+sodat ons 'n goeie idee van die konstruksie kan kry. Von Wielligh loop
+tussen die opgestopte poppe rond, vertel allerlei anekdotes, verklaar
+hul lewenswyse en die gebruik van die primitiewe gereedskappe. En in sy
+hande dra hy 'n besonder oulike Hotnotpoppie, wat hy Platjie noem en wat
+hy soos 'n geoefende buikspreker allerlei vrae laat stel, as die
+museumbesoekers al bietjie dooierig word van die muwwe lug. "Tata en
+memme, waar lê tog die danige geboorteland van julle?" (p. 6); "Toel,
+waar lê jou geboorteland?" (p. 58); "Oom Bles, waar lê daardie land van
+jou?" (p. 95); "Oom Ruiter, wat moes 'n mens eintlik maak as hy skielik
+in die veld teen wilde Boesmans dam?" (p. 188), ens. En dan begin Von
+Wielligh, as museumdirekteur weer te vertel van die ou dae se volk,
+terwyl Ruiter, Toel, Oom Bles en Tys Bokkies by ons staan met hul stywe
+gesigte en beweginglose lede. Telkens verseker hy ons, dat alles werklik
+waar is: "Die verhaal lyk baie romanties, maar is eg Hottentots in al sy
+besonderhede." (p. 58); "Hier volg nou 'n diskoers wat ons so dikwels
+onder Hotnots, Korannas en Boesmans hoor vertel." (p. 95.)[115] Soms
+raak die direkteur so erg boos op sy poppe, dat hy hulle reguit
+toespreek en dan gelyk sy beeldspraak erg veel op die van 'n Griekwa
+predikant soos Kleopas Kipie "O skynheilige mensdom, wat sy medemens
+oordeel. As die helder soeklig op almal gedraai word, hoeveel
+blikskottels en blikborde sal van die rakke tussen die silwergoed moet
+pad gee. En hoeveel sal bly staan, wat as egte sterling silwer verklaar
+word!" (p. 51.) Maar as Von Wielligh regtig ernstig word, dan draai hy
+sy rug op die poppe, gooi vir Platjie ook weg en trakteer sy besoekers
+op 'n lang etnologiese verhandeling. (Hoofstuk X.)[116] As 'n mens ook
+so oorloop van kennis is dit erg lastig om nog altyd eers iemand 'n
+sopie te moet injaag voor sy tong loskom! Of om iemand van Europa te
+laat oorkom soos Dr. Kleiner....
+
+Ons moet dit op prys stel dat Von Wielligh sy ervarings onder die
+inboorlinge te boek stel. Maar dit is erg jammer, dat hy nie ingesien
+het, dat hy sy eie kuns vermoor deur kort-kort allerhande didaktiese
+byvoegsels en onnatuurlike dialoog daarin te wring, in plaas van sy
+uitgebeelde persone, _soos die lewe self is_ deur hul eie natuurlike
+geaardheid en as gevolg van die omstandighede van hul bestaan _vanself_
+een of ander mening te laat bewys of suggereer. Hy is verplig om soos 'n
+museumgids by sy eie werk lang toesprake te hou, waarskynlik omdat hy
+gevoel het, dat die werk self nie sprékend leef nie.
+
+Platjie is, soos reeds aangedui, niks anders as die pomp, wat Von
+Wielligh gebruik om die water bo die aarde te kry. Ook in sy droom bly
+hy nuuskierig. "Hy voel hom so kalm as 'n lam en luister met gespanne
+aandag" (p. 224). As Platjie moeg word vir die pompery, dan kom Koos
+Fonk help en later Dr. Kleiner. Maar die droom van Platjie is tog nog
+die wonderlikste ding in die boek! Dis nie sommer vandag se Hotnot, wat
+só kan droom nie! Platjie hoor 'n koningin sê: "Sien jul daardie
+berge--ver en naby? Sien jul die klowe met hul trippelende en murmelende
+kristal strome? Sien jul die vlaktes waarop die heide vir die
+skoenlapper en die by met nektar versadig? Sien jul die hemelpurper,
+waarheen wolkies van vlas deur die son met goud geverf word?" (p. 224.)
+As Von Wielligh dan so veel belang stel in die goudmyn van Ofir--'n
+onderwerp, wat ook die leier van die Patriotbeweging in 'n roman bewerk
+het--laat hom dan in 'n wetenskaplike blad sy opienie lug. Maar hy hoef
+ons nie te kom wysmaak, dat 'n Hotnot, al is hy ook so danig geleerd
+soos Platjie, só kan droom nie. Dit is 'n psigologiese onjuistheid, so
+onbeskaamd-astrant, dat dit selfs die onnoselste "minder bevoorregte"
+moet opval.
+
+Huis en Veld.
+
+Willie Rosveld is vyf jaar op jag gewees, neem sy vader se
+produktebesigheid oor en trou met Hessie Bendel. Sy vrinde is Frans le
+Blanc, 'n ongetroude slagter, en Dolf Baumann, 'n rytuigverhuurder en
+groenteboer. Die famielies gee 'n piekniek, vier nuwejaar en gaan saam
+strand toe. Dan trek hul na die diamantvelde. Ewert, Dolf se oudste
+seun, gaan saam met 'n trek na die Dorsland. Frans word intussen
+voorsien van "'n altyd laggende Amalie" (p. 146), 'n weduwee met 'n
+groot veeplaas in Transvaal, wat hom trou "omdat sy (hom) van sy jeug af
+ken ..." en omdat hy "as slagter, so grondig met veeboerdery bekend was"
+(p. 147). As die goudvelde in Transvaal ontdek word, dan trek Willie en
+Dolf weer soontoe. Hulle word ryk, kuier rond, besoek Pretoria, waar hul
+met Oom Paul en Genl. Joubert gesels, maar word op hul ou dag van mekaar
+geskei.
+
+ * * * * *
+
+_Huis en Veld_ is 'n poging om die maatskaplike en ekonomiese toestande
+omstreeks 1870 te skets. In plaas van _memoires_ te skryf, probeer Von
+Wielligh om die mense van 'n halwe eeu gelede self op die toneel te
+voer, wat hom egter jammerlik misluk. Hy piets hul met 'n swepie deur al
+die vier provinsies rond, sodat hy 'n kans kan kry om van die ou dae te
+vertel. Dolf het gelukkig 'n seun, wat Dorsland toe kan trek, maar ons
+voel nie, dat dit Ewert is wat al die ellende deurmaak nie. Dis
+eenvoudig Von Wielligh, wat 'n opstelletjie skryf. Hy laat Willie trou
+"nie om 'n liefdesverhaal in te voer nie, _maar wel om die gebruik, of
+gewoonte, van daardie tyd aan te gee_" (p. 30). So gaan dit die hele
+boek deur. Hy vertel, o so veel van die uiterlike omstandighede en van
+die swerftogte van sy mense. Ons hoor wat die koring gekos 't, waarvan
+hul brood maak, ons weet hoe hul 'n kers snuit, dat hulle "in daardie
+tyd net so goed tandpyn gekry (het) as nou" (p. 22)--maar die mense self
+ontmoet ons nooit. Hulle is nie eers aangeklede poppe in 'n museum van
+oudhede nie, hulle is bloot _name_.
+
+Met 'n klein wysiging kan ons Von Wielligh sy eie woorde toeroep: _"Die
+huis moenie 'n preekstoel wees nie en die veld nie 'n voorlesingsaal
+nie."_ (p. 88.) Dit is juis wat hy doen. Luister maar na hierdie
+ouderwetse preek: "Jare is die vasgeklinkte skakels van 'n eindlose
+ketting, en snoer aan mekaar tot in ewigheid; ons persoonlikheid is maar
+as druppeltjie daaraan, om spoedig te verdamp en sy plek ken hom nie
+meer nie ... Dis die laaste dag van die jaar; maar nie die einde van tyd
+nie--(sou die "minder bevoorregtes" dit miskien nie weet nie?
+P.C.S.)--tussen die begin en einde van oneindig ewigheid is geen middel
+nie. (Q.E.D.!) Net soos die grootste hemelliggaam 'n stoffie in die
+oneindige ruimte is, net so is eeue 'n oogwenk in die ongebroke snoer
+van tyd," (p. 48-49.)[117] Op p. 32-33 word ons in egte traktaatjiesstyl
+vertel hoe iemand "diep onder die grond in 'n dronkaardsgraf" geraak
+het.
+
+Dat daar 'n geestelike verwantskap tussen Von Wielligh en Kleopas Kipie,
+die Griekwa-predikant bestaan, bewys die volgende: "Net so onsierlik as
+'n blomtuin sonder blomme, so nutteloos as 'n horlosie sonder wysters,
+of so onhoubaar as 'n mosterd-pleister onder 'n hond se bors, net so sal
+die samelewing op aarde sonder vrouens wees. Daarom, groot is jou mag, o
+vrou, sien toe dat jy dit op die regte tyd, en op die regte wyse
+gebruik. Maar nie om berge te wil versit, of te uithaler te wees in 'n
+kamer waar rotte komedie speel nie ..." (p. 121).
+
+Die selfde Oom Ignaas, wat beweer dat die huis geen preekstoel moet
+wees nie, sit ewe getroos twee paginas vol te preek oor huweliksgeluk
+(p. 87-88), en sy vrou klop hom nog, want sy het byna drie blaaie nodig
+voor sy uitgepraat is, (84-86). Op p. 79 preek Oom Ignaas weer oor
+weeskinders en so sou daar nog meer voorbeelde aan te wys wees, wat net
+danig "met slaapstof gespesery" is.[118]
+
+Die dialoog is meestal onnatuurlik. Soos 'n egte boekeheld sug Willie:
+"Ag mag ek die onsterflike glimlag nog eens op moeder se lippe sien, of
+die welgemeende raad van vader aanhoor!" (p. 4.) En watter Boermoeder
+sou so praat: "Willie, ons is bly dat jy die veld deurreis het, _waar
+alles deur die Natuur self geplant is_...." (p. 9). En Frans, die
+slagter, die man wat sê: "Liefde is eiebelang en selfvermaak" (p. 148),
+slaan ook 'n snaakse taaltjie uit by die Duiwels-Kantoor: "Waar is die
+skilder wat die landskap op seildoek kan weergee! Waar is die digter om
+die grillerige aanblik in woorde te beskrywe!" ens. (p. 157).
+
+Ou Kammies, wat so dapper met die doringstomp spook is goed geteken. As
+hy praat dan luister ons graag, want sy taal is nie net 'n aftreksel van
+Von Wielligh s'n nie. "Maar seur,--nou?--nou kraak my ou litte van
+kanniemeernie en ek kan nie eers meer daardie klip raak spuug nie" (p.
+47). Een so 'n sinnetjie laat ons direk voel dat ons met 'n _mens_ te
+doen het. Hoe raak is ook die toneeltjie waar Kammies met die
+piekniekwaens aankom: "Wel, hoe het dit gegaan, outa Kammies?" vra
+Willie. "Nee, goed seurtjie. Net jammer die wiele van die wa het van
+droogte begin skree," antwoord die ou wynvlieg. "En die swaarste van al
+was, outa, dat die smeergoed al die tyd op die waentjie lê," las Dolf
+tussen in. "Dis by my kool die waarheid, seur Dolf! Toe het ek maar soos
+bobbejaan gemaak--ander pad sit kyk." (p. 41.)
+
+Waarom sleep Von Wielligh kinders in sy verhaal as hy hulle net heeldag
+toesnou: Moenie dit nie en moenie dat nie! nes 'n kwaai oupa wat hoofpyn
+het? As die arm goedjies iets wil doen, dan moet hul altyd hoor: "Nee,
+volstrek nie, die muile sal jul skop" (p. 57), "die slange sal jul byt"
+(p. 44) en so word hul nog vyf keer iets verbied, (p. 42, 50, 56, 57
+voorlaaste paragraaf, en 67.)[119]
+
+Wat hy in _Staan jou Man_ verklaar, is maar al te waar van homself: "...
+ons wat groot en oud geword het, het magtig baie vergeet wat in die
+kindersiel woon." (p. 147.) Anders sou hy die twaalfjarige Ester nie so
+'n ou-menstaaltjie laat praat nie: "Kom ek om, dan kom ek om.... Sit ons
+stil tuis, dan is ons tog kinders van die Dood." (p. 177.) En die
+wonderlike Amerikaner, wat so netjies sug nes 'n middeleeuse rederyker
+(p. 201) het ook 'n snaakse begrip van 'n kinderverstand as hy vir Ester
+sê: "Hulle (die eierdoppies) het wel eens die kiem van lewe gedra, maar
+is nou siellose stof geword en is tans oorblyfsels van verongelukte
+verwagtings, nes die graffies van kinders wat slegs tydelik aan hulle
+volk geleen was." (p. 201.)
+
+Eweas in _Jakob Platjie_ hou Von Wielligh ook in _Huis en Veld_ lang
+verhandelinge oor die toestande van 'n halwe eeu gelede, wat heeltemal
+los staan van die verhaal. So kry ons in hoofstuk III besonderhede oor
+poswese, boerdery, kerk, skool, spoorweë en ... swawelhoutjies. Daar is
+historiese uitweidings en 'n beknopte geskiedenis van die
+Patriotbeweging; 'n definiesie van 'n lugspieëling (p. 109), wat sou pas
+in 'n handboekie oor aardrykskunde, 'n boereraad teen koorssiekte en 'n
+persoonlike appresiasie van die deugde van Engelse sout, kienapille en
+"grou vomitief", ens. ens. Von Wielligh het ongetwyfeld 'n goeie kennis
+van die tydperk wat hy beskrywe en sou seker 'n handboekie kan opstel
+wat vir die historikus en argeoloog nuttig sal wees, as hy maar net leer
+om te onderskei tussen gewigtige en onbelangrike sake en hul nie heel
+deftig vertel dat "die graanboer meestal sy gesprek voer oor graan ploeg
+en afoes; die wynboer belang (stel) in wingerde en wyn, en die veeboer
+verdiep (is) in sy skape en beeste ..." (p. 57-58). Hy kan gerus aanneem
+dat iedere normale mens dit oor vyftig jaar ook nog sal weet! Laat hom
+in elk geval nie weer probeer om sy kennis soos Koos Fonk in 'n roman
+rond te smous nie, want ook op letterkundige gebied is sulke
+smokkelpraktyke strafbaar.
+
+Staan jou Man.
+
+In _Staan jou Man_ word die boerelewe op die ooster-grense van die
+Kaapkolonie in die tyd net voor die Groot Trek geskets. Gert Markeland,
+weens sy groot lengte bekend as "Groot Fant" woon op die plaas
+Kliphuiskoppie in die nabyheid van Grahamstad. Een van sy bure is Samuel
+Firtree, 'n Engelse "setlaar", wat egter heeltemal Afrikaner geword het.
+Jakob Raster, 'n Hollandse matroos, is Daan Wiks se skoolmeester. Groot
+Fant gee op sy verjaarsdag 'n groot fees, en later word trekplanne op
+Org Dapperman se plaas bespreek. Daar word 'n tier geskiet, by welke
+geleentheid Raster les kry in perdry. Frankie Daai, 'n ou-jonkman maak
+flikkers by Sytjie, wat skielik ryk geword het deur 'n groot erfenis,
+maar word deur sy handelsvennoot Soekie Grasman uitgeoorlê. Victor, die
+seun van Firtree, skiet per ongeluk Org Dapperman dood en verwond sy
+vrou, waardeur die trekplanne uitgestel word. Allerlei kaskenades van
+Rennie, Groot Fant se seun en Ester, Dapperman se dogter, word verhaal.
+Ester red die bewoners van Kliphuiskoppie deur op dapper wyse die aantog
+van Kaffers aan die bure bekend te maak. Plase en meubels word verkoop
+en voorbereidings vir die Trek gemaak. Intussen het Daai en Grasman in
+die tronk geraak en Groot Fant Sytjie gekies om die plek van sy oorlede
+vrou in te neem. Die verhaal sluit met enige awonture van die trek.
+
+ * * * * *
+
+Uit _Staan jou Man_ blyk ten duidelikste dat Von Wielligh se
+intriegemasjienerie net 'n paar radjies het, wat al lelik uitgeslyt is.
+In _Huis en Veld_ het hy tweemaal gebruik gemaak van 'n verlore brief
+(p. 117 en 125), in _Staan jou Man_ doen hy dit nog eens (p. 103) en ook
+in Jakob Platjie speel 'n brief die rol van verklikker (p. 85). In
+_Staan jou Man_ bewys Sytjie ook nog Daai en Grasman se onskuld deur 'n
+brief (p. 237).[120]--Koos Fonk se verjaarsdagfees by Gansmond word
+beskryf (Hoofstuk XII)[121]; in _Huis en Veld_ is daar Nuwejaarviering
+(Hoofstuk VII), in _Staan jou Man_ alweer 'n verjaarsdagfees (Hoofstuk
+VI), en daarby nog 'n poffertjiesparty (Hoofstuk III).--Platjie sien
+"skrifgeleerde" visioene, nadat hy soutvleis en stormjaers geëet 't (p.
+222), Frankie Daai ooreet hom aan buffelkarbonaadjies en word deur 'n
+lelike nagmerrie gery (Hoofstuk IX).--In _Huis en Veld_ skrik die
+vrouens hul lendelam vir spinnekoppe (p. 181) en Tant Annie het groot
+respek vir klipsalmanders (Hoofstuk II).--Die vrindskaplike verhouding
+tussen die famielies in _Huis en Veld_ vind ons onder gewysigde
+omstandighede terug in _Staan jou Man_. Jakoba word skielik ryk (_H. en
+V._ p. 114), Sytjie ook _(S. jou M._ p. 90) en albei kry dadelik vryers.
+Birdie se twee vryers raak albei in die moeilikheid deur hul slim
+planne, Sytjie s'n netso. En so sou daar nog meer ooreenkomste aan te
+wys wees.
+
+Die oorvloed van los anekdotes in al drie boeke is ook opvallend. In
+_Staan jou Man_ loop so baie kruispaadjies, dat ons glad van die
+grootpad verdwaal. Die skrywer het dit blykbaar self gevoel, want hy
+begint Hoofstuk XIV aldus: "Ons verlang nou al so baie na Kliphuiskoppie
+... dat ons nou g'n minuut langer sal versuim om daarheen te gaan nie."
+Die enigste draad, wat die anekdotes verbind, is dat almal bewys, dat
+die persone hulle _man kan staan_. Dit word so 'n opeenhoping van dapper
+dade, dat mens naderhand voel, dat die kindere Enaks weer opgestaan het,
+terwyl Groot Fant 'n reinkarnasie van Simson is. Dat hy nog die moeite
+doen om die pilaar van die kliphuis met kruit weg te blaas en dit nie
+sommer omstoot nie, soos sy prototiep met die tempel van die Filistyne
+gemaak 't, bly 'n raaisel!
+
+Dit spreek vanself dat by 'n roman, waarin die skrywer probeer om deur
+'n semelagtige aaneenstrengeling van awontuurlike voorvalle te bewys,
+dat die vernaamste persone almal hul man kan staan, van die psigologiese
+uitbeelding niks tereg kom nie. As hy die smart van die trekkers moet
+uitbeeld, wanneer hul die Kolonie verlaat, dan roep hy uit: "Ons verberg
+ons gesig vir die warme trane van afskeid, ons sluit ons ore vir die
+_hartverskeurende_ snikke, wat sielesmart vertolk.... Vroue en kinders
+wink mekaar toe met hulle hande of sakdoeke, en die mans waai met hulle
+hoede--alles tekens van 'n _hartgevoel wat woorde magteloos slaan om
+(dit) te verklank"_ (p. 240-241).[122]
+
+Dieper dan die trane en die sakdoeke kan hy nie sien nie en daarom wil
+hy sy oppervlakkigheid agter 'n retoriese poespas wegsteek. Met die een
+voorbeeld kan ek volstaan en merk alleen nog op, dat daar selfs geen
+goedgetekende Hotnotsfiguur in _Staan jou Man_ is nie.
+
+Die neiging om lang "moralisatiën ende contemplaciën" oor sy persone
+te hou, is in _Staan jou Man_ nog baie hinderliker dan elders. "En as
+ons Frankie Daai so sien lê, dan rys die volgende oorwegings in ons
+gedagte op:--" (p. 86). Wat die "oorwegings" met die slapende Frankie
+te doen het, weet Von Wielligh alleen, want dis 'n beskrywing van die
+winter!! As Frankie egter eers gedroom het, dat Sytjie hom wurg, maak
+"hierdie afgryslike gesig ... verder 'n beroep op ons nadenking" en
+dan pas merk ons dat die wintertoneeltjie 'n aanlopie was vir 'n
+uitgewerkte preek oor die "vraatsugtige Mens", by welke uitroep ons
+seker aan Frankie se gulsigheid met die buffelkarbonaadjies moet dink!
+Maar dis glad mis! Die "vraatsugtige mens" handel nes die "kille
+nagwindjies"! So raak ons "toegespinnerak" in die "stowwerige webbe"
+(p. 88) van onverstaanbaarheid.
+
+Op p. 186 versoek hy die "waarde leser" om die pen uit sy hand te neem
+"om die blydskap van tant Annie _in skrif_ ... neer te _skrywe_"; op p.
+147 staan 'n prekie oor kinders in Griekwa-styl; op p. 270 vertel Ester
+en Rennie "hulle awonture en uitredding, _wat ons as volg teruggee_".
+Die verklaring van _stormjaers_, p. 26, wat hy oor en oor gee in byna al
+sy boeke, en die beskrywing van 'n _kakebeenwa_ moet hy bewaar vir sy
+oudheidkundige handboek.
+
+Boesman-Stories.
+
+"The religion of the Bushmen is made as clear from their own recitals
+as such a subject can be, when it is remembered that the minds of the
+narrators were like those of little children in all matters not
+connected with their immediate bodily wants. Their views concerning the
+sun, moon, and stars seem utterly absurd, but a European child five or
+six years of age, if not informed, would probably give no better
+explanation. Their faith too, that is, their unreasoning belief in many
+things that to an adult European seem ridiculous, is seen to be that of
+mere infants." So lui die verklaring van Dr. Theal in sy inleiding tot
+_Bushman Folklore by Bleek and Lloyd_ (p. XXXVIII) en wie die eerste
+deel van Von Wielligh se _Boesman-Stories_ (1919) gelees het, moet die
+juistheid daarvan erken. Die stories verplaas ons in 'n spook-wêreld,
+waar alles met toordery aanmekaar hang, waar die snaakste
+gedaanteverwisselinge plaasvind en die aller-gekste maneuwers uitgevoer
+word. In die wonderlike gedoentes is daar weinig logiese gang; daar is
+geen kliemaks wat steeds die belangstelling gespan hou, geen goeie
+motivering, geen artistieke, harmoniese eenheid nie. Meestal weet ons
+nie of ons met mense of diere te doen het nie, want ofskoon die diere
+gewoonlik enkele kenmerkende eienskappe hou, word die juiste maat in hul
+vermensliking selde getref, en verrig hul dade, wat al te spesifiek
+menslik is. So lees ons van 'n uil, wat sy mes laat val (I, p. 117), 'n
+aasvoël, wat 'n springbok skiet (II, p. 19), 'n leeuwyfie, wat met
+Boesmankinders saamwoon en hulle met knopkieries wapen (II, p. 109), 'n
+tier wat hom as 'n reisiger vermom (II p. 140). En van sulke voorbeelde
+krioel die stories. Dit word ten slotte 'n marteling om die grillige
+kronkelinge van die Boesman-fantasie te volg. Van skoonheid uit
+letterkundige oogpunt is daar heel weinig te bespeur in die kinderagtig
+inmekaargedraaide versinsels, waaraan mens geen osseriem kan vasknoop
+nie. Vir die etnoloog mag die gegewens, wat Von Wielligh met sulke
+prysenswaardige ywer byeenversamel het van groot waarde wees, maar vir
+die letterkunde is alleen enkele verhale uit die eerste twee dele van
+enige betekenis. Mooi is nommer 41 waar 'n leeu met 'n klein meidjie by
+die wagvuur speel. En so is daar ander toneeltjies uit die swerwende
+jaglewe van die Boesman, wat treffend is deur oer-naïewe eenvoud; ook
+raak skildering van diere (b.v. in nommer 44), maar selde 'n skone
+geheel.
+
+In die eerste deel word hoofsaaklik die mitologie behandel, deel twee
+bevat dierstories, terwyl die derde deel eintlik geen reg op die naam
+_Boesman-Stories_ het nie, want dis 'n geskiedkundige verhandeling oor
+die "sedes, gewoontes en bekwaamhede" van die Boesman. Heelwat
+besonderhede, wat reeds in _Jakob Platjie_ en die eerste twee dele
+voorkom, word hier herhaal, te same met persoonlike herinneringe en
+allerlei anekdotes, wat die skrywer van ander persone verneem het. In
+eenvoudige taal vertel Von Wielligh alles wat hy van die Boesmans weet.
+Gelukkig het hy sy meedelings nie "met 'n vergulde nerfie
+oor(ge)blaas"[123] nie, want soos uit 'n nader bespreking van sy styl
+sal blyk, is 't juis dìt, wat hinderlik is in sy romans. Hier loop hy
+eenvoudig padlangs en vir die ondersoeker van Boesman-gewoontes deel hy
+heelwat wetenswaardigs mee. In die voorwoord van die derde deel verklaar
+hy, dat dit "van 'n wetenskaplike aard" is. Populêr-wetenskaplik sou
+juister wees, want Von Wielligh is met als sy persoonlike ervaring 'n
+leek sonder etnologiese vorming, wat geen begrip het van die groot
+verband van sy onderwerp, en wat hom deur sy hartstog vir die Boesman
+tot allerlei gewaagde en moeilik bewysbare generalisasies laat verlei.
+So verklaar hy op p. 73, dat die Boesman 'n paar oë het, "om ver en raak
+te sien soos nog geen ander menseras hom op kan beroem nie", en op p. 68
+verseker hy ons, dat daar "op die Europese toneel min ... dansers (is),
+wat 'n Boesman in 'n riel sal uitstof ..." Op p. 21 verklaar hy: "soiets
+as mis-skiet ken 'n Boesman glad nie", terwyl hy kort daarop moet erken:
+"In sterk wind is hy minder gelukkig". Die meedeling oor die slangsteen
+op p. 52 is seker ook nie van wetenskaplike aard nie, ewemin as die
+snaakse definiesie van "deursigkunde--dit wil sê, om voorwerpe op 'n
+tekening op verskillende afstande voor te stel" (p. 67). Vir die vakman
+sal die volgende bewering ook stellig nie van veel nut wees nie: "Sy
+voedsel (d.i. die Boesman s'n) bestaan byna uit enige ding--al wat hy
+nie eet nie, is wat hy nie in hande kan kry nie." (p. 21).
+
+Die vierde deel bevat "gemengde vertellings, mees van 'n awontuurlike
+aard", wat die skrywer gedeeltelik self opgeteken 't en gedeeltelik aan
+ander bronne ontleen 't. Daar is 'n paar goeie jagstories en verhale wat
+ons 'n kyk gee op die awontuurlike lewe van die boere teen die end van
+die negentiende eeu. Uit letterkundige oogpunt is dit die besgeslaagde
+bundel, ofskoon ook hier die psigologie soms nie dieper as die boonste
+nerfie gaan nie, soos blyk uit die volgende: "Dis wonderlik watter
+indruk so 'n verandering in die lewe van 'n Boesman maak. Hy kom uit die
+wildernis, alwaar beskawing nog op sy beurt wag. Hy kom in Kaapstad en
+sien treine, skepe, hoë huise, en hoe baie mense daar besig is. Die
+groot winkels met alle soorte goed wat hy nie ken nie, is vir hom 'n
+wonder bo wonder." (p. 132.) Met dit al het Von Wielligh met die
+versameling van die stories 'n verdienstelike kultuur-historiese bydrae
+gelewer. Wat hy met onvermoeide speursin uit verborge hoekies en
+gaatjies gehaal 't sal altyd van belang bly, maar waar dit ons hier te
+doen is om letterkundige skoonheid, moet gekonstateer word, dat die
+geaardheid van 'n groot gedeelte van die stof sodanig is, dat dit slegs
+vir wetenskaplike doeleindes geskik is.
+
+Gewoonlik word die serie _Boesman-Stories_ as boeke vir die jeug
+beskou. Blykens die voorberig van die vierde deel was dit allermins die
+bedoeling van die outeur en uit die karakterisering van die inhoud is
+dit duidelik, dat hy gelyk het. Daar is seker min Afrikaanse ouers, wat
+sou wens, dat hul kinders so 'n volledige kennis van al die
+Boesman-bygelofies bevoorbeeld moet hê, as wat Von Wielligh ons aanbied.
+Niettemin sou daar seker 'n klein bloemlesing uit die vier dele kan
+saamgestel word, wat sal voldoen aan die vereistes van 'n kinderboek.
+Maar Von Wielligh is veels te optimisties waar hy sê: "...daar sal gewis
+'n tyd aanbreek dat nie alleen kinders nie, maar meer as kinders hulle
+ore sal hou teen die blaaie van _Boesman-Stories_ om te luister na
+sprokies en vertellings _asof die woorde direk en duidelik afkomstig is
+van die oorspronklike lippe wat hul vertel het_."[124] Dit is in
+flagrante teëspraak met die volgende: "Met die skrywe van hierdie
+_Boesman-Stories_ het ons die gedagtes van die Boesmans _in ons eie
+woorde vertolk ..._"[125] en gee aanleiding tot 'n ander opmerking. Die
+eienaardige bekoring van die inboorlingestories sit ongetwyfeld
+grotendeels in die persoonlikheid van die oorspronklike verteller. Dit
+het Von Wielligh self gevoel, want in die voorberig van _Diere-Stories_
+verklaar hy: "Niemand kan 'n Diere-Storie so smaakvol as 'n Hotnot
+vertel nie. Dit smaak of hy alles daar voor hom sien en hoor, wat hy
+verhaal. Haarfyn kan hy die Diere naboots en namaak--so natuurlik, dat
+ons daarvan soms bang word." Nou is dit juis dié natuurlike element, wat
+ons in die _Boesman-Stories_ mis, terwyl in _Diere-Stories, soos deur
+Hotnots vertel_ die juiste toon baie beter getref word. Gelukkig het Von
+Wielligh besef dat 'n kinderboek nie "deurspek met lesse, met sedepreke"
+moet wees nie en met uitsondering van sekere minder artistieke
+stylwendings kan die _Diere-Stories_ as aangename kinderlektuur beskou
+word, wat egter in hierdie verband nie nader kan bespreek word nie.
+
+Al dadelik blyk egter weer uit die volgende aanhaling, dat Von Wielligh,
+as leek hoegenaamd geen insig het in die wordingsgeskiedenis van
+dierverhale nie. In die voorberig van _Boesman-Stories I_ stryk hy met
+'n klein vetkersie ewe parmantig in die volle lig van 'n stralende son:
+
+"In Europa en Amerika word tot nog toe vrugtelose pogings aangewend om
+gewilde en ingrypende (?) "Diere-Stories" te skrywe; hier in Suid-Afrika
+het die Hotnots en Boesmans dié reeds vir ons eeue gelede uitgewerk. Al
+wat ons te doen het, is om die ryk oes in te samel." Hy weet dus nie,
+dat feitlik alle volke hul dieresprokies het nie, dat selfs vandag nog
+sulke vertellings van mond tot mond gaan oor die gehele aardbodem en dat
+baie van ons jakkalsstories groot ooreenstemming vertoon met die
+Europese verhale van die vos.[126] Wat die digter van _Reinaerts
+Historie_ (II), reeds in die 14de eeu geseg het bly nog altyd waar, ook
+in literêr-historiese sin: "Van Reinaerde es een groot saet Ghebleven
+dat nu seere up gaet."
+
+Van Von Wielligh het ook nog verskyn 'n Afrikaanse bewerking van
+Robinson Crusoë (1920) en 'n Boesman-Robinsonade, _Nimrod Seeling_
+(1921). Nimrod is 'n seuntjie van vier jaar, wat in die hande van
+Hotnots en Boesmans val en by hulle bly tot sy veertiende jaar. Deur
+'n aaneenskakeling van awontuurlike gebeurtenisse kry die skrywer nog
+eens 'n geleentheid om die gewoontes, sedes en bygelowe van
+verskillende inboorlingstamme te skets, terwyl ook die jag op groot
+wild beskryf word. Aangesien die verhaal vir die "jonger geslag"
+bedoel is, word 'n eenvoudige styl gebruik. Maar selfs die spannendste
+awonture word op dorre betoogtoon verhaal, sonder enige poging tot
+plastiese uitbeelding. "Die leeu is nou kort agter ons. Toe Saba in
+haar boom was, steek sy haar hand uit om my op te help. Maar helaas,
+my lang hare raak verward in 'n droge tak. Saba breek met wilde krag
+die stuk tak en pluk my op; net toe kom die leeu onder die boom en
+vang met sy voorpoot naar my voete. _Hierop_ maak Saba haar man as of
+hy uit sy boom wou afklim. Die leeu sien dit, hol soheentoe en kry 'n
+skoot met 'n gifpyl, deur die ander Boesman afgeskiet. _Hierop_ gee
+Saba haar man hom nog 'n skoot, en hy was nie meer nie." (p. 33-34.)
+Dit is maar een voorbeeld van die dooierige, kroniekagtige
+vertellings, waarin die verskillende insidente deur 'n uitgerekte
+string van hierop--daarop--waarop--daarna--verder--voorts en
+soortgelyke woorde aanmekaar geryg word.[127] Dat ook hier herkouing
+van ou motiewe aanwesig is, bewys o.a. die Griekwa-preek op p. 76.
+
+ Hy tok-tok, hy tok-tok,
+ Hy tok-tok, hy tok-tok, ens. ens.[128]
+
+Dit is die enigste ritme, wat daar in Von Wielligh se prosa is. Gevoel
+vir die klankwaarde van woorde, vir die fyner modulasies, vir die mooi
+melodie van glydende woordereekse besit hy nie. Ewe geduldig stryk hy sy
+ramkie en op die eentonige deun "kerf" hy riel na riel uit. Dit is die
+totaalindruk. In _Jakob Platjie_ word ons af en toe deur 'n mooi
+klankeffek verras en ook in die _Boesman-_ en _Diere-Stories_, maar in
+_Huis en Veld_ dreun die dowwe preektoon dwarsdeur.
+
+Herhaling van dieselfde woorde is 'n vaste kenmerk van sy styl. "As 'n
+man wild na huis bring, dan word die afgekoude _bene_ 'n entjie van die
+deur van sy hut op 'n hopie ge_gooi_. So het elke man in die kraaltjie
+sy eie _been_hopie. Die af_geëte bene_, so lank _geëet word, word_ in
+die hol bak van die bors_been_ van 'n volstruis geplaas. Is daardie
+_been_skottel vol _bene_, dan word dit na die _been_hopie gedra en daar
+neerge_gooi_." (_Boesman-Stories_ III p. 34-35.) En so gooi Von Wielligh
+nog 'n paar paragrawe aldeur _bene_ op die _beenhopie_, totdat dit 'n
+berg word! In _Huis en Veld_ (p. 145) kom behalwe ander herhalings voor:
+herstel--stel--stel, alles in een paragrafie.[129]
+
+"Onder sy aanvoer kom hul altyd vier_kant_ veilig ander_kant_ uit"
+(t.a.p., p. 67). "Dit het Daan gesê, en hy gaan toe op 'n verraderlike
+blok _sit_, wat sy plesier daarin vind om óm te slaan en die een wat
+daarop wou _sit_, nog die moeite te gee om dit weer met sukkel in ewewig
+op die grond te plaas en dan daarop te _sit_, met meer aandag wat onder
+as wat voor die _sit_ter plaasvind" (t.a.p., p. 24). Afgesien van die
+storende herhaling is dit seker besonder lompe styl. En sulke voorbeelde
+is daar soos bossies![130]
+
+Met nog een tok-tok-deuntjie kan ons volstaan. _"Daar_ was nie lopende
+_water_ in die _kloof_ nie; alleen was _daar_ 'n gat _water_ onder 'n
+_water_val. _Daar_ was geen ander ingang tot die _kloof_ as van onder af
+nie. Ons vind die dooie kalf bo in die _kloof_ digteby die _water_val en
+_daar_ het ons die slag_yster_ gestel soos dit behoort te wees, sonder
+die _yster_ aan iets vas te maak--anders draai die tier sy poot _daar_in
+af. Lê die _yster_ los, dan kan hy wel 'n entjie _daar_mee stap, dog van
+ontvlug is glad geen sprake nie, _daar_ die _yster_ te _swaar_ aan sy
+seer poot hang." (_N. Seeling_ p. 77-78.) "Ma, Pa vra of Ma nie Pa se
+osse na die wa sal laat ja nie?" is kindergestamel van dieselfde
+klankwaarde.
+
+Vir kombinasies van verwante gedagtes is Von Wielligh baie lief en
+dikwels gee hy _in aliis verbis idem_. "Dit vul ons hart egter _met
+blydskap_ om _met vergenoegdheid_ 'n terugblik te mag werp ... (_Eerste
+Skrywers_ p. 7); "Maar gelukkig het 'n _verwydering_ van liefde en
+vrindskap die lede nie van mekaar kon _skei_ nie. Vrinde as altoos!"
+(t.a.p., p. 49)--wat onsin is! "Hulle (verstaan: die Engelse) beskik oor
+wêreldberoemde skrywers en _vertalings uit ander tale"_ (t.a.p., p. 91);
+"_Hy het_ die Britse gesag _verlaat en vaarwel gesê_, en met sy Groot
+Trek _het hy_ in 1836 die Kolonie _verlaat_ ..." (t.a.p., p. 103); "'n
+lappies dorp _van tente_ of 'n blikkies dorp _van sinkhuise_" (_H. en
+V._, p. 111); "_Rusteloosheid_ egter gun hom _geen rus_ nie"[131]
+(t.a.p., p. 6); "die renbaan het Freddie se beurs omgedop, _sodat die
+binnekant nou buite sit_" (t.a.p., p. 128); "alles natuurlik onder vier
+oë _en in diepe vertroue"_ (_J. P._ p. 94); "Die trekboere het in tente,
+maar liefs _by voorkeur_ in matjieshuise gewoon" (t.a.p., p. 92); "die
+man se lyf was amper kaal en _met min klere bedek_" (_Boesman-Stories_
+I, p. 148). Dieselfde neiging om tog maar veral niks aan die fantasie
+van die leser oor te laat nie blyk ook uit tal van nuttelose opmerkings
+by die _Boesman-Stories_. Die tietel van No. 58 in deel III lui: "Nog
+meer oor Bygeloof" terwyl die _Opmerking(s)_ ons nog ewe deftig
+verseker: "In hierdie Verhaal sal ons nog meer vertel oor die bygelofies
+van Boesmans"! By No. 53 en elders gaan dit net so!
+
+ Ick sie: geen dingh en is soo kleyn,
+ Of 't gaet u tot het innigh breyn:
+ Geen dit of dat, geen boere-schuyt,
+ Of gy en treckt er voordeel uyt.[132]
+
+As Von Wielligh in die sewentiende eeu geleef 't sou hy seker 'n tiental
+emblematabundels geskryf 't. Wat van Vader Cats geseg is, geld ook van
+hom: "Niets is hem te gering; geen afstand is hem te groot, geen
+combinatie te zonderling; zijn blik volgt de vloo, dwaalt van de oester
+tot het haantje van den toren."[133] "De voorstellingen (in Sinne- en
+Minnebeelden) zijn meerendeels ontleend aan het dagelijksch leven; een
+doorgehakte paling welks twee deelen zich zoeken te vereenigen, een
+brandend hout en een mooi meisje, eene papegaai in een kooi, een
+spinneweb, een windhaan, een rattenval, een bordurende juffer ...
+verwelkte rozen, een vlinder, eene fuik, enz."[134]
+
+"Frans weer was soos sodawater: druk jy die prop in, dan bruis dit, maar
+die gas is gou uitgekook. Gou driftig, maar gou weer goed." (_H. en V._,
+p. 14.) Met 'n mooi plaatjie daarby sou dit 'n goeie _sinnebeeld_ wees.
+Cats redivivus, maar dan tog in onderbaadjiesak-formaat, want van sy fyn
+vertellerstalent is daar by Von Wielligh weinig te bespeur. Dit is
+bekend, dat Cats twistery tussen man en vrou verdedig deur daarop te
+wys, dat 'n braakmiddel af en toe goed is vir die maag. Dit is wel iets
+na Von Wielligh se smaak: "Om iemand kwaai woorde toe te voeg, of om hom
+_vomitief_ in te gee, kan jy iets onaangenamer terug verwag" (_H. en
+V._, p. 88). Dieselfde skerp "tegenstelling van verheven en plat" wat by
+Cats so 'n komiese indruk maak, tref ons ook by Von Wielligh aan. As
+Cats bevoorbeeld wil duidelik maak, dat die gedrag van iedere vryer
+noukeurig ondersoek word, dan sê hy:
+
+ Een vryer moet het lyf als op de rooster leggen,
+ Om daer, gelyck een worst, te worden omgewent,
+ Totdat men aen den reuck syn roet (vet) en reuzel kent.[135]
+
+Von Wielligh verklaar met groot erns: "... so nutteloos as 'n horlosie
+sonder wysters, of so onhoubaar as 'n mosterd-pleister onder 'n hond se
+bors, net so sal die samelewing op aarde sonder vrouens wees." (_H. en
+V._, p. 121).
+
+"Zeker, Potgieter had gelijk toen hij, met het oog op Huygens, zeide
+dat voor den waren dichter niets te laag is om het tot zich op te
+beuren. _Indien_ de dichter het lage dan ook maar opbeurt. Dat doet Cats
+zelden. Gewoonlijk bukt hij zich of hurkt er bij neer ... Liefst houdt
+hij zich bij het dagelijksch leven; maar het dagelijksche wordt licht
+alledaagsch, het alledaagsche staat niet ver van het platte, het platte
+daalt gaarne af tot het ruwe."[136] So gaan dit ook met Von Wielligh.
+Dat hy sy boere ens. van die ou dae, beelde ontleen aan hul daelikse
+bedryf laat gebruik, is goed gesien. As Frans die slagter b.v. in _Huis
+en Veld_ na aanleiding van 'n opmerking dat gebrekkige en sieklike mense
+nie behoort te trou nie sê: "Dus hulle is van egtelike Liefde
+uitgesluit. Hul moet hulle geluk in Vrindskap gaan soek--en is stompoor
+gesny en op die stoppelland geja." (p. 16), dan tiepeer dit meteens die
+man se hele persoonlikheid. Willie se grappie: "Ons het die ou jaar net
+vandag nog aan die puntjie van sy stert, vannag glip hy hand uit en
+slaan bolmakiesie oor die afgrond van die verlede" (p. 47) pas mooi in
+die koffiedrink-atmosfeer. Maar wanneer Dolf se vrou in volle geselskap
+sê: "dan maak Ma eers goed vuur op hulle asplekke" (p. 74), stap sy oor
+die grense van alle welvoeglikheid. Von Wielligh moet bedenk, dat wat
+uitstekend pas in _Jakob Platjie_ nie orals kan gebruik word nie. Koos
+Fonk se mikstuur "maak vrolik en olik en dan moet daar weer van die hond
+se hare gehaal worde om op die hond se bytplek te sit" (p. 81). Sina is
+"vir die tronk so bang ... as 'n bobbejaan vir die hits van 'n gloeiende
+yster" (p. 5)--dit is raak opmerkings, wat ons dadelik as psigologies
+juis voel. Maar ongelukkig het die Hotnot-Griekwa-Boesman-suurdesem deur
+_al_ Von Wielligh se werk getrek. Dolf se "beskouing omtrent sake het
+nie dieper ingedring as 'n speld in 'n aap se duim nie" (_H. en V._, p.
+13); sy gestalte "laat iemand aan 'n bobbejaanpaal dink ... terwyl Frans
+iemand aan 'n ronde-rib skapie herinner" (p. 13)[137]; Hessie "kielie 'n
+kort stukkie op die klavier" af (p. 36); Dolf lyk "net verspot ... asof
+hy te veel galsterige varkspek geëet het" (p. 97) en in _Staan jou Man_
+sit "algar ... by hierdie tyd soos paddas danig erg van die gemmerbier
+opgeblaas" (p. 61); "Die son steek asof hy Fant in 'n groot stuk kaiings
+wou opsmelt" (p. 18); Soekie Grasman is "so grappig dat hy 'n hele vrag
+ape van lag sal laat uitskater" (p. 104) en druk Sytjie "om haar
+beenderige ribbe" (p. 131); "M.A. en B.A.-tietels was vir hulle net
+soveel wêrd as 'n broeksak vir 'n hond" (p. 149); "ons almal weet dat
+die troos wat hieraan ontleen is, maar altyd 'n handvol vlieë bly" (p.
+244). Met sulke beelde sal Von Wielligh seker die outas en aias in die
+kombuis laat lag.[138]
+
+Met eienaardige logika probeer hy om die plat taal van die
+_Patriotters_ goed te praat: "'n Fout werd gevinde met die Eerste
+Skrywers, dat hul ongekuiste taal gebruik het. Maar dit vind 'n mens by
+die eerste skrywers van alle volke en die rede is hierin te soek: dat as
+iemand van 'n vlooi praat, dan is dit onbeskaaf, maar hy mag wel van 'n
+vlieg praat. Dis niks om van 'n koei te praat nie; maar pas op om van 'n
+bul te praat. Iemand kan sê: "dis leuenagtig"; maar "_dis waaragtig_"
+dan is dit vloek. In die opvoeding word hom geleer wat te sê en nie te
+sê nie. Dus hy word geleer hoe om in die sitkamer te praat. Alle dinge
+is geoorloof; maar alle dinge is nie oorbaar nie". (_Eerste Skr._, p.
+38.) Met iemand wat hom van sulke argumente bedien, val daar nie te
+redeneer nie.[139] Dat "die eerste skrywers van alle volke" hul van
+ongekuiste taal bedien het, is 'n bewering wat stellig onwaar is in sy
+algemeenheid; bowendien kan die gebruik daarvan in die negentiende eeu
+beswaarlik geregverdig word deur 'n vergelyking met toestande van vyf of
+ses eeue terug.
+
+In sy studie _Ons Geselstaal_ verklaar Von Wielligh: "Dog iemand wat
+regtig meen om suiwer Afrikaans te bestudeer, moet peil tot die bodem om
+die Afrikaanse gedagtegang baas te raak. Hiervoor lewer Plat Taal ons 'n
+uitstekende geleentheid om te leer hoe woorde van suiwer gehalte te
+vorm. Dit wil sê, as ons meester van die Afrikaanse Plat Taal is, dan
+besit ons die sleutel om woorde van 'n hoë gehalte te smee; besit ons
+dan sulke doeltreffende woorde, dan word praalskrif op suiwer grondslae
+vir ons so duidelik as die son aan die hemel--altyd opklim, opklim tot
+die hoogste sport."[140] Von Wielligh is hier ongetwyfeld op die regte
+spoor, al raak hy ook verward in sy beeldspraak. Met _plat taal_ bedoel
+hy blykbaar die geselstaal van die onderste lae van die samelewing, wat
+volstrek nie noodwendig plat is nie, terwyl onder _praalskrif_, taal van
+letterkundige gehalte moet verstaan word. As Von Wielligh dus bedoel dat
+die kunstenaars die volkstaal moet beluister, dan gee hy 'n raad wat
+baie groot skrywers van alle volke gevolg het. Dit is bekend hoe Vondel,
+Hooft, Brederoo en ander sewentiende-eeuers gedurende die wordingsproses
+van die Neerlandse taal geput 't uit die sappige volkstaal. Hooft sê in
+'n brief van 1630: "Verworpelingen van woorden van straet op te raepen
+ende doen dienen daar ze deugen, al was 't onder de edelen, daer kan men
+eer af hebben". Van Vondel vertel G. Brandt: "Om op elke stof en zaak de
+rechte spreekwysen te vinden, onderzocht hy, by allerley slagh van
+menschen, wat Duitsche woorden elk ontrent zyn werk, handteering en
+kunst gebruikte. De landtluiden vraagde hy, hoe sy spraaken ontrent den
+landtbou, en hoe ze 't geen daar toebehoorde noemden, en uitdrukten.
+Ontrent den huisbou vraagde hy op gelyke wyse de timmerluiden en
+metzelaars: ontrent de zeevaart en 't scheepstuig de zeeluiden; ontrent
+de schilderkunst, en wat daartoe hoorde, de schilders: en zoo voort
+ontrent alle ander bedryf, wetenschappen en kunsten. Dit strekte tot
+opbou der taale en om van al wat hem voorquam met woorden die de zaake
+eigen waaren te spreken."[141] Dit is presies wat Von Wielligh met groot
+ywer en toewyding gedoen het en die uitkomste van sy jarelange ondersoek
+is dikwels verrassend. Maar dit is van meer belang vir die taalwetenskap
+as vir die letterkunde, omdat Von Wielligh geen kunstenaar is nie, wat
+uit sy versamelde gegewens 'n werk van skoonheid kan skep. Hy is
+eenvoudig 'n belangstellende leek, wat hom verlustig in die "raak
+kolskote"[142] van die "spraakmakende gemeente", wat "sy lag nie kan
+bedwing vir die raaksê-uitdrukkings"[143] van die volksvernuf nie. As hy
+binne "die grense van sy eie ploegland"[144] bly, en die gesprekke van
+eenvoudige volkstiepes of inboorlinge weergee, bereik hy dikwels 'n mooi
+effek, maar sodra hy hom "werp op die vleuels van praalskrif" dan gee
+dit 'n lelike misoes af. Van sy fyn opmerkingsgawe waar dit dinge uit
+die alledaagse lewe geld, uit die boerebedryf en jagveld getuig byna
+iedere pagina van sy werk. Ook die gewoontes van die diere het hy ywerig
+bespied. Hy het honderdmaal geluister na geselsery oor "pynplekkies en
+weersgesteldheid"[145], hom "knippeldik" versadig aan die kwinkslae en
+"pittige" gesegdes van eenvoudige siele, wat jarelank in die veld- en
+woestyneensaamhede rondgeswerf het. Daarom is daar in sy beeldspraak so
+dikwels 'n plat-by-die-grondse geestigheid, 'n kombuisagtige bysmakie,
+daarom verlustig hy hom in bywonergrappies.
+
+
+Wanneer hy binne "die grense van sy eie ploegland" bly, dan is sy
+beeldspraak ook baie beter as die van sy "praalskrif". Ter tiepering 'n
+paar voorbeelde: "Mog daar 'n verskilletjie ontstaan, word dit so gou
+doodgedruk as die vonkie wat val op 'n pyproker se broek (_H. en V._, p.
+15); "Niemand kry die eer om hom te fop nie; hy lê altyd vir hulle
+klaar, nes 'n haas wat met sy oop oë slaap, of nes 'n ystervark met sy
+skerp penne, na die bedrieër toe." (_S. j. M._, p. 68.) "Vat hom aan sy
+hakskeen, en jy kry 'n terugskop met die polvy van 'n velskoen, waarin
+'n nommer-12-voet sit, om jou maagpyn en winduit op jou hurke te bring;
+dan pak hy die parmant aan die arms, ... stamp hom nes 'n karringstaf op
+en af, tot hy hik." (id., p. 12); "Daarom het al die mans in daardie dae
+nes spinnekoppe gelyk wat tot agter hulle nekke oopgeboener was." (id.,
+p. 6); "Fant het net soos iemand wat korhaan jag, om en om Sytjie gestap
+tot sy gaan sit, toe korrel hy" (id. p. 229); "Wie sy ou steeks perd,
+wat gewoonlik agteruitbeur as daar seekoegate agter is, verruil vir 'n
+ander wat gewoonlik die vaart neem as daar miershope en slote voor is,
+weet bepaald dat hy deurgaans in die midde van onsekerheid verkeer."
+(id., p. 239). Rosa "sal haar laaste seep uitleen en dan haarself met 'n
+baksteen skrop" (_Jakob Platjie_, p. 166). Abdol maak geld "soos
+gemaalde koffie uit 'n meul." (id., p. 71.) "Oom, my bokke is regtig
+mooi--hulle kloue kraak nes blinkleer stewels as hul so rondstap." (id.,
+p. 57.)
+
+Wanneer Von Wielligh nou sulke uitdrukkings gebruik, dan bly hy binne
+sy eie ervaringssfeer en ofskoon daar geen sprake is van digterlike
+siening nie, voel ons direk dat alles eg en deurleefd is. Maar te
+dikwels vergeet hy dat die lekker-gesels-praatjies om die wagvuurtjie in
+die oop veld sleg pas in die sitkamer en dan verspreek hy hom lelik. So
+lank as hy nog by die wagvuurtjie bly, kan ons soms met genoege luister
+na sy jaganekdotes en vertellings van die ou dae, dan hinder sy gekruide
+styl ons nie, omdat dit so innerlik-eg is, so getuig van intieme omgang
+met die natuur in sy oer-staat. Maar sodra hy die sitkamer binnestap,
+begint hy op onnatuurlike toon te preek,--dan rek hy "'n
+taai-tammeletjie so lank uit as (hy) kan"[146] en jaag die geselskap
+uitmekaar deur sy "pittige plat taal". Die gedurige botsing tussen sy
+natuurlike geselsstyl en sy onegte "praalskrif", wat hom verlei tot 'n
+ridikule vermenging van hoog en laag is juis wat ons kriewelrig maak.
+
+By die bespreking van _Huis en Veld_ is aangetoon, dat hy _Kleopas
+Kipie_ maklik uitstof, wanneer hy sy sondagse manel aantrek. Dan word hy
+gewoonlik onverstaanbaar in sy geaffekteerde hoogdrawendheid. "Met hulle
+(die Trekkers) aangesigte na die noorde gekeerd, dwaal hulle dáár ver in
+die suide op die agtergrond en sit op die verlede te broei. Die verlede
+is vir vleis en bloed onnaakbaar; dog ons herinneringe, nes 'n
+vliegtuig, is in staat om ons uit die deinsige hoogte op ons ou
+dwaalplekke te laat neerkyk. Hulle sien uit hulle voëlvlug die ouderlike
+woning, waarin hul die besitters van lewe met sy worstelinge geword het;
+hulle sien die speelplekke met die waentjies en poppe wat hul
+verbeeldingskrag gevoed en uitgeswel het, om deur bespieëling die weg
+van toepassing te volg; ... Daarop keer die herinnering langsaam terug
+... tot waar hul daardie aand gesit het. Dan lei Herinnering hul tot
+onder die uitgebreide vleuels van Hoop, wat hul aan die hand vat ..."
+(_S. j. M._, p. 282-283). Dit is seker nie moontlik om meer "vishoekvas
+in die spinnerakke"[147] van jou verbeelding te raak nie, om nou 'n
+tiepiese Von Wiellighaanse uitdrukking te gebruik. Eers _dwaal_ die
+Trekkers, dan _sit_ hul "op die verlede te broei". Hul herinnering word
+met 'n vliegtuig vergelyk; die vliegtuig kry 'n hand wat deur die
+gevleuelde Hoop gevat word! Hiermee kan vergelyk word _Eerste Skrywers_,
+p. 106: "Die heldemoed van die Afrikaner daar aan die dag gelê, het die
+sluise van nasionale ontwaking oopgetrek; want die volk werd daarvoor
+intyds ryp gemaak, sodat die verrassing nie as 'n onweerslag op hulle
+gekom het nie."
+
+In die voorwoord van _Huis en Veld_ kom nog 'n voorbeeld van verwarde
+beeldspraak voor: "Hierdie swakke poging, deur ons aan die hand gegryp
+om 'n druppeltjie in die emmer te laat val--is dit mis, dan is dit
+mis,--is die uitvloeisel van 'n dryfveer, wat ons aanspoor, nie alleen
+die skouer teen die wiel te sit nie, maar om ook volhardend ons hele
+gewig daarop te werp. Ons mog in die voorreg deel om vanaf 1875 as
+handlanger en baksteen-aangeër met die opbou van ons Afrikaanse
+taalgebou mee te help ..." Sulke voorbeelde is daar baie in Von Wielligh
+se werk.
+
+As voorbeeld van die komiese effek veroorsaak deur die teenstelling van
+sy gewone en kamma-verhewe styl kan die volgende uit die twede paragraaf
+van _Eerste Skrywers_ (p. 1) dien: "Graag het ons gesien dat 'n
+bevoegder lid ... sy kop oor die onderdeur van ons hartbeeshuis gesteek
+het om te antwoord op die herhaalde aanklop." Maar dan word hy meteens
+deftig: "Broeders en Susters! Blyhartig werp ons vir ons op die vleuels
+van die gedagte om terug gedra te worde tot daardie dae, toe die sonskyf
+van ons goeie nasionale taalsaak sy vergulde rand nog net so effentjies
+bokant die donkere berge van onbewustheid en sluimer uitgesteek het."
+Dan hoor ons van "'n koue harnas van geheimhouding oor ... brandende
+gevoele", van "'n Afrikaanse boom, wat daar sy takke vry in ons heldere
+lug uitbrei ..." en verneem dat in die dae "besigheid so slap soos
+pannekoekdeeg en handel so plat soos die pannekoek self was"!
+
+Tot welke onsinnigheid Von Wielligh hom deur sy opgeskroefdheid laat
+verlei, blyk uit die volgende voorbeelde: "Hierdie pragtige stukkie
+landskap is met die penseel van die verwoestende mensehand op die
+seildoek van die skone panorama doodgeskilder, sodat dit daar nooit weer
+sal verskyn nie." (_H. en V._, p. 71.) Die herhaling op die end is
+tiepies. "Watter angs dit op die kindersiel afgespieël het val beter vir
+die gedagte om dit te ontplooi as vir die pen om dit neer te grif" (_S.
+j. M._, p. 272); "Hulle monde was meer vloeibaar as die vloeistof wat
+uit die man se klere tap." (id., p. 243); "Toe eers ontprop hy sy
+opgebottelde gedagtes en gee hul onsigbare vleuels om oor die
+gebeurtenisse van die dag, oor die twee jongmeisies en oor homself te
+laat vlie." (id, p. 84) "Selfs die kristallug, waar die sterretjies uit
+die onmeetlike verte neerkyk, is tans met 'n swart plafon toegespyker."
+(id., p. 167.) 'n Voorbeeld van Laag-by-die-grondse humor staan op p. 95
+van _Staan jou Man_. Daar ontmoet ons ook nog juffroue, wat bordjies dra
+met die opskrif: "alle toegang ten strengste verbode" en wat hul
+voorstel hoe hul "'n weg sal baan deur 'n Eden van aardse saligheid"!!
+
+Dikwels gee Von Wielligh se neiging om abstrakte begrippe te
+verpersoonlik, of met iets anders te identifiseer aanleiding tot die
+allersnaakste kombinasies. "Die wapenhuis van Rennie en Ester was
+taamlik gevuld met 'n rommel van deug en ondeug; die taak om die gebruik
+daarvan onder 'n ystervoet vas te trap was aan streng moeders en minder
+geduldige vaders oorgelaat." (id., p. 148); "Die woorde was maar die
+vingers wat die harpsnare van aldaagse gebeurtenisse bespeel" (id., p.
+158); "Het die uitlegginge ... altyd die blou strikkies van waarheid om
+hulle nekke gedra?" (id., p. 147); "Hoe verkwikkend dit ook al vir
+moeder en dogter was om in die arms van liefde te val ... tyd, egter,
+het die skerp snede van die swaard van skei stomp gevyl en dit minder
+gevoelig gemaak." (id., p. 144); "Hulle prikkelende nuuskierigheid om
+die groot dorpe en see te sien, was die goue eiers van hulle verwagting
+waarin die kuikentjies van verrassing reeds piep." (id., p. 218). Op die
+jagveld is die Boesman "vis in die water en stuurman aan die roer van sy
+verstand". (_B.-St._ III, p. 47). "Waarom moet ons ons woordeskat gaan
+verryk met woorde wat yskoud is en wat met ons geen meegevoel koester
+nie?" (_Eerste Skr._, p. 80).
+
+In _Eerste Skrywers_ (p. 125) haal Von Wielligh met instemming 'n
+veroordeling van retoriese uitdrukkings aan, maar juis die twee
+gewraakte beelde is hy besonder lief voor. In die voorwoord al vertrou
+hy dat hy "in die _arms_ van 'n genadige beoordeling sal val" en so is
+daar nog baie ander soorte _arms_ in sy werk te vind,[148] terwyl
+"Dingaan die _teuels_ van tirannie en dood gevoer het net waarheen hy
+wou" (_S. j. M._, p. 11). Von Wielligh is trouens die laaste man, wat
+oor retoriese styl moet klaag, want dit sou geen sware taak wees om 'n
+paar paginas afgeslyte frases uit sy werk neer te skryf nie. In _Huis en
+Veld_ vind ons: "steunpilare van die samelewing" (p. 128), "stortvloed
+van trane" (p. 130); "op die louere gaan rus" (p. 177 en 14); "om 'n
+luisterend oor te neig aan die sang ... van voëls, wat ... hulle
+lieflike akkoorde laat weergalm" (p. 43). In _Eerste Skrywers_: "Toe het
+die son van ons nasionale ontwaking ... sy ligdolke in die duisternis
+van ons slapende harte ingepriem ..." (p. 103). In _Staan jou Man_: "Dit
+het 'n vaste fondament van seltstandigheid onder hulle voete geskuiwe en
+die vryheidsvlam in hul harte aangeblaas" (p. 149); "Die nag het met sy
+sneeuwit kleed gekom ...; verkwikkende slaap ... het sy sagte ferwele
+hand oor die vermoeide ooglede gestryk; die ongestadige weer het sy
+septer van gesag aan 'n kalm dag oorhandig" (p. 277). So word soms lang
+stukke aanmekaar gelas deur die banaalste beelde,[149] waarvan
+_sluier_,[150] _floers, tyd_,[151] _weegskaal_ en _spinnerak_ die
+vernaamste is.[152] Wat 'n _floers_ is weet Von Wielligh blykbaar nie,
+want hy skryf: "Om die floers van treurigheid te _onderdruk_ staan die
+haan ... vlerk klap en kraai ..." (_S. j. M._, p. 240).[153] En hoe mens
+se _oogmaat_ jou 'n _sluier voor die oë_ kan _hang_ is ook nie duidelik
+nie, (id., p. 5).
+
+'n Totale gemis aan digterlike siening openbaar Von Wielligh in sy
+natuurbeskrywing. Hy het ongetwyfeld veel opgemerk en kan ons vertel van
+watter bossies skape en bokke die meeste hou. Iemand wat van plan is om
+in die Karo te gaan boer, sal heelwat praktiese informasie in _Huis en
+Veld_ vind. Maar 'n kunstenaarsblik op die natuur soos die van Malherbe
+het Von Wielligh nie. "Bome is hier in oorvloed, ons sien hier die soet
+doring, kaffer wag-'n-bietjie, kiepersol, naboom, sekelbos, wilde vy,
+waterbessie, wilde sering, vaarlandswilg en nog honderde ander tesame
+met soveel soorte bosse." (_H. en V._, p. 155.) So kry ons telkens 'n
+dorre opsomming, presies asof dit die jaarverslag van 'n botaniese
+vereniging is. Op p. 44 gee hy 'n katalogus van die soorte voëls, op p.
+45 en 104 van die veldblomme, op p. 106 van die Karo-plante--"sommige
+egter word nie deur vee gevreet nie"![154] 'n Enkele maal tref ons 'n
+opmerking, wat van eie siening getuig: "die stoere akkerbome (brei)
+hulle arms in alle rigtings (uit) om die kleinere gewasse 'n seën toe te
+wens. Aan die stroom swaai die wilg lustig sy groen snoere en speel met
+sy swepies in die wind." (_H. en V._, p. 40.) Maar meestal vergenoeg Von
+Wielligh hom met 'n verwerking van sy boerekennis, waarin hy af en toe
+'n skoolmeesteragtige opmerking vleg om te wys dat hy ook 'n bietjie in
+botanie gepeuter 't. "Ja, so noem ons mense dit, maar die plantkundiges
+het dit 'n lang, ja 'n beesagtige lang naam gegee van Mesembrianthemum,
+wat middagblom beteken." (_H. en V._, p. 104).[155]
+
+Soos iedere boer stel Von Wielligh ook groot belang in die weer. "Kalm
+en rustig werp die _goue_ dageraad sy _sombere_ lig oor die vlaktes van
+Gwaggas. [Contradictio in terminis. P.C.S.]. Weldra verrys die son; maar
+is van sy _oogverblindende_ ligglorie ontroof--die dig gepakte dampkring
+het al die sterk uitskietende strale opgesuig. [In Gwaggas was ek nog
+nie, maar ek twyfel sterk of die lig van die _opgaande_ son daar direk
+"oogverblindend" word. P.C.S.]. Die son lyk nou so groot as 'n wa se
+voorwiel (in alledaagse taal). [?? P.C.S.]. Vroeg laat die sonbesies
+hulle hoor; die mense voorspel 'n warme dag en spoedig verandering in
+die weer." (_Jakob Platjie_, p. 115.) Natuurlik kom daar allerlei soorte
+_sluiers_ te pas by sulke beskrywings. "Kyk, hoe pragtig staan elke
+bossie onder 'n sluier van allerhande kleure van blomme" (_H. en V._, p.
+103); "die appelkoos is oortrek met 'n rooskleurige sluier" (id., p.
+40), terwyl "die ruisende melkstroom nog sleg(s) deur die mistige sluier
+van die aand sigbaar is." (id., p. 101.)
+
+"Seurtjie, kyk daar steek die dagbreek reeds sy rooi neus agter die
+bergkam uit ..." (_H. en V._, p. 38) sê Kammies, en Von Wielligh vind
+die beeldspraak so treffend, dat hy dit self gebruik: "Die grou dag
+steek spoedig sy droewige wenkbroue agter die bergrand uit...." (id., p.
+3). Hoe banaal en konwensioneel is ook die volgende: "Dit was amper,
+sononder, net toe die son die weste ligpoorte wou gaan sluit. Alvorens
+die gulde deure te grendel, werp die son eers 'n blik terug om te sien
+of die Nagwagter met sy vet gesig nog nie deur die oostelike vensters
+loer nie. Toe die laaste sonstrale wegsterf en hulle betower en die
+liggloed van die omliggende bergtoppe onttrek...." (id., p. 156); "Voor
+die vuurstokers van die son nie ekstra brandstof op die sonnehaard plaas
+nie om die slapers onder hulle komberse uit te brand...." (id., p.
+52.)[156] Dit skyn wel die vernaamste besigheid van die son, want ons
+verneem dat "die oprysende son 'n ligstraal deur die skeur van (Soekie)
+se venstergordyne (prop) om hom in die gesig wakker te kielie" (_S. j.
+M._, p. 119), en Victor "skrik in 'n vaart wakker, een oggend toe die
+grou oggendlig die gordyne van sy slaapkamer _aantas_(!)" (id., p. 109).
+Ou Kammies sal onder sy kornuite ook seker eer inlê met die volgende:
+"Die daeraad steek sy grou sakdoek hoog uit aan die oostekant, asof hy
+daarmee in die lug waai...." (id., p. 43).
+
+Nog 'n banale beeld is dat 'n maand of dag _sterf_ en _begrawe word_
+(_S. j. M._, p. 99, 277); die jaargetydes of dae is die _jasse_ van die
+veld[157] (id., p. 191), terwyl die berge _wit pruike_ dra (id., p. 100
+en _H. en V._ p. 101).
+
+"Rapen as kinderhoofies" het Potgieter in sy novelle _Blaauw Bes,
+Blaauw Bes!_ "'n ongelukkige vergelyking" genoem, wat mens "van het
+kannibalen-maal gruwen doet!" By Von Wielligh gaan "pluimvee,
+speenvarkies en lammers", wat so skoon gemaak is as "poedelnakende
+babetjies" in "die hongerige poorte des doods, of liewers gesê, die
+snakkende monde"! (_Jakob Platjie_, p. 130-1).
+
+As staaltjies van die onbeholpe uitdrukkingswyse, wat mens so dikwels in
+Von Wielligh se werk aantref, kan die volgende dien:
+
+In _Jakob Platjie_: "Dan kom hul luidrugtig in geselsery ... huistoe".
+(p. 3); "By wyle het my vader in sy stadjie by sy famielie deurgebring"
+(p. 59); "Hul had dun arms en bene met volwasse buikies, wat nie op
+gereëlde voeding kan beslag lê nie ..." (p. 108); "Hul is by
+uitnemendheid byejagters, om byneste op te spoor" (p. 112); "Dit was
+genoeglike dae van wetenskaplike voedsel vir altwee partye" (p. 211).
+
+In _Huis en Veld_: "Edelmoedig het hulle (die Uitgewers) op die
+voorgrond getree om hulle medewerking tot die bloei van 'n eie
+Afrikaanse letterkunde geldelik te ondersteun"[158] ('n Woord vooraf);
+"Die lug is ... elektries swanger" (p. 154).
+
+In _Eerste Skrywers_: "Dit was die skone ideale en toewyding" (p. 1).
+"En dan draai ons 'n sterker soeklig op al hierdie _gesigs_punte in ons
+_gesigs_veld om te getuig, nie wat ons _uit_ ander bronne ontleen het
+nie, maar waar ons oog- en _oor_getuige van was." (p. 3); "Hulle moes
+onder die wapenrusting van geheimhouding van hulle persoon hulle
+skuilhou." (p. 6.) "Hiermee word dus 'n maatstaf in die hande van die
+beoordelaars geplaas, wat wel in toepassing mag geneem worde ..." (p.
+7); "Die skrywer het ... al die westelike distrikte van die Kaap weer
+besoek met opmetings van plase" (p. 28); "dan ontruk ons nie _uit_[159]
+nie; maar werp juis gemaakte geskiedenis _in_[159] die gapende kake van
+die vergetelheid" (p. 47). "Nog minder het iemand getrag om die skone
+wêreld, wat medegevoel afdwing met te veel geleerdheid te bederwe" (p.
+53); "As 'n skrywer baie met geoefendes (in plat taal) omgegaan het, en
+hy self daar nie mis in bedeeld is nie ..." (p. 101); "Hierdie bewering
+klop ons op die skouer, eis verdediging om nie abuislike foute te maak
+nie" (p. 129).
+
+In _Staan jou Man_: "'n Lusoord van aardse skepping" (p. 3);
+"aangematigde skrik" (p. 15); "die liewe brawe koffie" (p. 37); "Sytjie
+(was) reeds daar, want sy het die aankoms van haar pleegouers eerder
+ontvang as die huismense gedink het" (p. 102)[160]; "Toe word 'n Hof van
+Heilige Geloofsgerig aangestel" (p. 150). Wat dit nou eintlik is, sal
+Von Wielligh wel alleen weet! "Sy voel gelukkig om spoedig van aardse
+smart verlos te wees en te herenig met haar eggenoot ..." (p. 164).
+
+In _Nimrod Seeling_: "twee wakker blou oge wat 'n lig van bewussyn laat
+uitstraal het ..." (p. 59); "Hulle toon toe aan dat dié soort lewe, wat
+ek verkies, 'n afbrekende eeu is ..." (p. 116).
+
+In _Boesman-Stories_: "Want 'n weerklank klink altyd mooier as die stem
+wat dit weerkaats" (I, p. 34); "sy pylkoker val aan stukkies en die pyle
+daarin verdor sy in kaf" (I, p. 141); "So gevoel die kinders hul veilig
+onder die beskerming van hulle ouers--al groei hulle op omsingel deur en
+onder verskeurende ongediertes. Een dag leef hul in oordaad, dae daarna
+vergaan hul onder die gevreet van ondraaglike honger en dors. Hulle ken
+net 'n dag van vandag en bekommer hul glad nie oor die dag van môre deur
+voedsel en deksel daarvoor opsy te sit nie." (III, p. 31); "om dit mooi
+te bewerk en glad te slyp, het hy die kuns nog nie verstaan nie" (III,
+p. 5); "Watter ander gevolg moet ons hieroor vel ..." (III, p. 105).
+
+In _Diere-Stories_: Outa is "uitgedos in vriendelikheid self ..." (I, p.
+9); Die dierestories "verskaf ... sielslewe in die hart van die ou
+bokwagter" (I, p. 12); "Toe lag die Voëls nie meer nie; maar sit mekaar
+knersend van verontwaardigheid kwaai aan te kyk ..." (I, p. 24).
+
+Oor die algemeen is Von Wielligh se taal suiwer, maar spore van Engelse
+invloed kom tog voor.
+
+"Wydbegrippig" (_broad-minded_) (_Eerste Skr._, p. 59); "Koos vra hul
+om saam brekfis _te neem_" (_J. P._, p. 70); "'n Korte wandeling gaan
+neem" (_H. en V._, p. 34); "Toe die klok twaalfuur slaan, rys die vrinde
+..." (id., p. 52); "nukomelinge" (id., p. 174); "Moet tog nie
+moeilikhede halfpad gaan ontmoet nie" (_S. j. M._, p. 17); "alles het sy
+natuurlike self gebly" (id., p. 39); "'n dood geheim" (id., p. 136);
+"die naarste van drome" (id., p. 263); "toe hy so 'n skewe kyk na Kraai
+gooi" (_B.-S._ II, p. 4 en 155);[161] "ondergroei" (id., p. 107); "Die
+Boesman kan baie wreed wees en 'n plesier daarin neem ..." (IV, 121);
+"Julle neem dit lekker" (_D. S._ I, p. 43); "Jakhals het uit sy eieself
+geweet ..." (id., p. 48); Jakhals vra aan Wolf "hoe 'n tyd hy daarvan
+gehad het" (id., p. 61); Wolf vra "in 'n fluister" (id., p. 66); "En jy
+meen te vertel die kinders het dit alles opgevreet?" (II., p. 11); Die
+kat "pir" (id., p. 19). Ook in _Robinson Crusoë_ is daar voorbeelde van
+letterlike vertaling.
+
+Met die voorsetsels raak Von Wielligh soms verward: "met bliksem ...
+vergeseld; in vatbare (?) wyse opgestel" (_E. Skr._, p. 32, 120); Die
+Boesmans "bedien hul met ribbebene wat hol geslyp is" (_B.-S._ III, p.
+20). "Kamma-geleerdes" (_E. Skr._, p. 108) is 'n gelukkige neologisme,
+"pou-trots" (_S. j. M._, p. 6) egter nie, en nog minder "posing" (id.,
+p. 27). Von Wielligh gebruik ook graag vorme soos: "as komme kan",
+"ontvalle", "soude", (_E. Skr._, p. 6, 8, 53). 'n Paar voorbeelde van
+verkeerde woordskikking kom voor, o.a.: "Oom Willem word tot kommandant
+gekies, omdat hy dapper is en kan in die grootste gevaar sy hoof koel
+hou." (_J. P._ p. 151.)
+
+VOETNOTAS:
+
+[102] _Die Brandwag_, Des. 1918, waaraan hierdie lewensskets ontleen is;
+1850 is egter verkeerd, vgl. _Eerste Skrywers_, p. 151. In _Die
+Huisgenoot_, Nov. 1919 staan 'n uitvoeriger biografie.
+
+[103] Vgl. _Eerste Skrywers_, p. 57.
+
+[104] _Eerste Skrywers_ p. 35.
+
+[105] t.a.p., p. 85.
+
+[106] t.a.p., p. 159.
+
+[107] t.a.p, p. 124.
+
+[108] Vgl. my artiekel oor Letterkundige Kritiek in _Die Huisgenoot_ van
+Des. 1920.
+
+[109] Private meedeling van die skrywer.
+
+[110] _Eerste Skrywers_, p. 113. Kursivering van my.
+
+[111] t.a.p., p. 54. Kursivering van my.
+
+[112] Vgl. Dr. L. v. Niekerk: _De Eerste Afrikaanse Taalbeweging_^1, p.
+189.
+
+[113] Vgl. oor "Patterjots" Dr. L. v. Niekerk t.a.p.
+
+[114] _Eerste Skrywers_, p. 101.
+
+[115] Vir hinderlike tussenkoms van die outeur kan ook nog vergelyk word
+p. 12, 21.
+
+[116] Vgl. ook nog p. 217 et passim.
+
+[117] Vgl. _Staan jou Man_, p. 88, 143.
+
+[118] _Staan jou Man_, p. 55.
+
+[119] Vgl. ook _Staan jou Man_ p. 47.
+
+[120] Waarom Daan Wiks so lank wag met sy gewigtige getuienis word nie
+opgehelder nie.
+
+[121] Ook nog verskillende fuiwe van Hotnots.
+
+[122] Vgl. ook die flou praatjie oor Ester se droefheid, p. 169.
+
+[123] Vgl. Voorwoord.
+
+[124] _Voorberig_ 4de deel. Kursivering van my.
+
+[125] _Voorberig_ 1ste deel. Kursivering van my.
+
+[126] Vgl. o.a. Prof. J.W. Muller se inleiding by sy Reinaert-uitgawe.
+
+[127] Vgl. o.a. p. 93, 22-23, 52, ens. Of daar in _Ghwennie Barnveld_,
+'n boek "vir jong meisies" in dié opsig verbetering is, kan ek nie
+beoordeel nie, omdat dit na die skrywe van hierdie bespreking verskyn
+het.
+
+[128] _Boesman-Stories_ II, p. 194.
+
+[129] Vgl. nog _Eerste Skrywers_, p. 27:
+gedruk--gedruk--drukkery--drukpersie; p. 60: "Ons was met ons deurkruis
+van ons land ...", ens.
+
+[130] Vgl. o.a. _H. en V._, p. 143: "Al hierdie gebeurtenisse het baie
+gevoelig 'n diepe indruk op die Afrikaanse huislike lewe en dinkwyse
+gemaak en nagelaat." Lomp is ook: "Hy skuif sy raam op en staan die
+heerlike koffie met tyd te geniet, terwyl sy oë 'n blik werp wat buite
+in die fris oggendlug plaasvind." (_S. j. M._, p. 119).
+
+[131] Vgl. _Boesman-Stories_ I, p. 55, "'n woelige Gees sonder rus".
+
+[132] Jacob Cats: _Houwelijck_ I, 235.
+
+[133] J. Prinsen: _Handboek tot de Ndlsche Lett. Ges.^2_, p. 335.
+
+[134] G. Kalff: _Ndlsche Dichters der 17de Eeuw_, p. 37 (Cats).
+
+[135] Vgl. Kalff, t.a.p., p. 100.
+
+[136] Kalff: t.a.p., p. 98.
+
+[137] Vgl. in _Glorie Pan_: "Niks op aarde is bestendig nie; alles is
+van korte duur nes 'n lappie op die seer vinger van 'n bobbejaan." (_Die
+Brandwag_, 10 Des. 1913).
+
+[138] Vgl. ook die onsmaaklike opmerking in _S. j. M._, p. 65: "Ons ou
+mense het min van snorbaarde gehou, wat so hinderlik met, soen en
+sop-eet geblyk het"!
+
+[139] Vgl. ook die snaakse betoog om te bewys dat _jy, jou_, ens., nie
+plat is nie. _Eerste Skr._, p. 97.
+
+[140] _Die Huisgenoot_, Okt. 1921, pag. 247. In Hoofstuk XII van _Eerste
+Skr._ behandel hy plat taal en ook in _Die Huisgenoot_ Junie 1921,
+Hoofstuk XV van _Ons Geselstaal_. Vgl. die voetnoot van die redaksie oor
+wat Von Wielligh onder "plat taal" verstaan.
+
+[141] _Leven van Vondel_, Ndlsche Klassieken, p. 123.
+
+[142] _Eerste Skr._, p. 100.
+
+[143] _Die Huisgenoot_, Okt. 1921, p. 247.
+
+[144] _Eerste Skr._, p. 126.
+
+[145] _H. en V._, p. 15.
+
+[146] _Die Huisgenoot_, Mei 1921, p. 25. _Ons Gesels taal_.
+
+[147] _S. j. M._, p. 133.
+
+[148] Vgl. o.a. _S. j. M._, p. 144, 195, 270, 282; _H. en V._, p. 146;
+_N. S._ Voorwoord.
+
+[149] Vgl. b.v. _S. j. M._, p. 191.
+
+[150] O.a. _S. j. M._, p. 213, _H. en V._, p. 123, 67, 86, 101, 130.
+
+[151] O.a. _S. J. M._, p. 167, 143.
+
+[152] Uit _Die Huisgenoot_ van Febr. 1922 blyk dat Von Wielligh nog
+lustig op sy "praatmasjien" die ou deuntjies afdraai. Die "spinnerakke"
+en die "kloue (wat) nes blinkleerstewels kraak" is daar, terwyl die
+katalogus van die verskillende soorte koppies en rante uitgebrei word
+deur ... "pramkoppies"! (p. 421).
+
+[153] Vgl. ook _Eerste Skrywers_, p. 49, waar "'n floers van
+neerslagtigheid" 'n somber gevoel "verwek".
+
+[154] Vgl. ook nog p. 185.
+
+[155] Vgl. ook p. 104 en p. 109 waar 'n verklaring van 'n
+"lugverheffing" gegee word.
+
+[156] Dieselfde beeld kom ook voor in _S. j. M._, pag. 19.
+
+[157] Ook die voëltjies dra "winterjassies", _H. en V._, p. 43.
+
+[158] "Ondersteunen" is waarskynlik 'n drukfout. Die twede "hulle" slaan
+op "ondersteuners" in die vorige sin. Vergelyk _S. j. M._, p. 239:
+"Rustig verhef hulle die woonhuis ... deur die Trekkers hulle eie hande
+opgebou".
+
+[159] Kursivering van Von Wielligh.
+
+[160] Vgl. _N. Seeling_, p. 57: Baie seediere, wat my geheuge ontsnap
+het ..."!
+
+[161] _N. S._, p. 50, "afskeidskyk".
+
+
+
+
+HOOFSTUK V.
+
+Romans, Verhale en Sketse.
+
+
+§ 1. Adv. J.H.H. de Waal.
+
+Jan Hendrik Hofmeyr de Waal is gebore op 30 Desember 1871 op die plaas
+Bakkerskloof, Stellenbosch. Sy vader was boer en handelaar, sy moeder
+die oudste suster van "Onse Jan". Aan die Normaal Kollege in Kaapstad
+het hy gematrikuleer en daarna was hy 'n tydlank onderwyser o.a. op
+Uitenhage en Utrecht. Later het hy 'n betrekking aangeneem in sy vader
+se ysterhandel, maar die joernalistiek het hom aangelok en as
+voorbereiding vir dié vak het hy regte gaan studeer in Londen, waar hy
+aangesluit 't by die Inner Temple en as studievrind o.a. Generaal Jan
+Smuts had. Nadat hy in besonder kort tyd sy wetseksamens afgelê het,
+tree hy in die huwelik met Emma de Kock (1898) en woon vir ses jaar in
+dieselfde huis as "Onse Jan", vir wie hy as "luitenant" dien.
+
+In Julie 1903 word hy redakteur van die tydskrif, _De Goede Hoop_,
+waarin _Stompies, Johannes van Wyk_ en _Die Twede Grieta_ verskyn het.
+"Sy bedoeling met daardie geskrifte was om die jong lesers soveel
+moontlik met leesstof in populêre skryftrant te voorsien, en wel in die
+taal wat hy van jongsaf voorgestaan het--Afrikaans."[162]
+
+Op sy kantoor is op 5 Oktober 1906 die Afrikaanse Taal Vereniging
+ontstaan. Aan sy inisiatief is die erkenning van ons taal in die Kaapse
+geregshowe te danke.[163] In Des. 1914 het hy afgetree as redakteur van
+_De Goede Hoop_, as gevolg van 'n wryving met die uitgewers oor
+politieke kwessies. Onder die _nom de plume_, _Jan van Rozenburg_ had hy
+naamlik Generaal Hertzog se politiek verdedig by die kabinetskriesis in
+1912. Nederland het sy dienste as voorvegter vir ons taalregte erken
+deur sy benoeming tot lid van die Leidsche Maatschappij. Op die oomblik
+is hy lid van die volksraad vir Piketberg en een van die voormanne van
+die Nasionale Party in die Kaapprovinsie.
+
+Johannes van Wyk, (1906).[164]
+
+Johannes van Wijk is 'n jongeling van edel inbors, wat deur sy
+onbesproke gedrag, hoflike maniere en fyn beskawing die gunsteling van
+die Kaapse samelewing word. Dit wek die jaloesie en haat op van sy neef,
+Gert Rass, wat besluit om sy ondergang te bewerk. 'n Plan om Johannes
+deur die Boesmans te laat doodmaak misluk. Gert word egter tot nuwe
+wraakplanne geprikkel deur die feit, dat Hester Linde aan Johannes die
+voorkeur gee. Deur vervalsing van 'n brief slaag hy daarin om Johannes
+op 'n aanklag van hoogverraad teen die Goewerneur, Adriaan van der Stel,
+in die gevangenis te kry. Johannes ontsnap, word deur Gert en sy
+handlangers agterna gesit, maar vind eindelik onder die naam Koos Emmert
+'n skuilplaas by 'n boer, Pierre de Villiers aan wie hy hom as kneg
+verhuur. Hier raak hy weer deurmekaar met die Boesmans, maar word op die
+laaste tippie deur sy vrinde, Malherbe en Joosten, gered. Intussen het
+die goewerneur sy ontslag gekry en hoef Johannes nie meer as droster te
+lewe nie. Gert drink 'n vergiftigde kelkie wyn, wat hy vir Johannes
+bestem had en sterf. Met 'n driedubbele huwelik eindig die verhaal.
+
+_Johannes van Wyk_ het oorspronklik in _De Goede Hoop_ verskyn, die
+eerste hoofstuk in Jan. 1904. Die skrywer verklaar self, dat die
+ontstaan van die roman te danke is aan sy betrekking as redakteur van
+die blad.[165] De Waal het skrywer geword, nie deur 'n innerlike
+skeppingsdrang nie, maar deur die dwingende mag van omstandighede.
+Toevallig het 'n yweraar en hartstogtelike voorstander van die lang
+geminagte volkstaal die middel in die hand gekry om aan verstokte
+teëstanders te wys, dat in dié taal 'n roman kon geskrywe word. Eers
+probeer hy om deur uitlowing van 'n honorarium die skryflus van sy
+lesers op te wek, maar die resultaat was teleurstellend; al die stukke
+moes in die snippermand. Aangemoedig deur die sukses van sy toneelspel
+_Angelina_ het De Waal toe besluit om self 'n roman te skrywe. Met sy
+nugter verstand het hy 'n reeks toneeltjies op kunsmatige wyse inmekaar
+gepas en die resultaat was 'n leesbare roman, wat veral die jongeliede,
+vir wie _De Goede Hoop_ in die eerste plaas eintlik bedoel was met
+groot spanning gevolg het. Ons staan hier voor 'n gewigtige
+kultuurgebeurtenis. Dit naamlik: _in 1904 het die eerste Afrikaanse
+roman van die Twede Beweging verskyn_.[166]
+
+Die skrywe van _Johannes van Wyk_ was 'n daad van betekenis. Na al die
+gekibbel 'n _daad_. En 'n daad, wat vir meer as een die oë laat oopgaan
+het. Vir lange jare had die teëstanders van Afrikaans met triomfantlike
+gebaar hul onweerlegbare stelling opgedreun: "Het Afrikaans heeft geen
+letterkunde!" De Waal se antwoord was: _Johannes van Wyk_. "Die eerste
+oplaag het bestaan uit 500 eksemplare, en die drukkerskoste was toe
+slegs een-sesde van wat dit vandag vir so 'n aantal sou wees. Tog is ek
+destyds gelukgewens geword met my moed dat ek dit gewaag het om 'n boek
+in Afrikaans uit te bring."[167] Vir die voorstanders van Afrikaans was
+_J. v. W._ dan ook 'n welkome bondgenoot. Die Afrikaanse Taalgenootskap
+in Pretoria het onmiddellik 'n beroep gedoen op alle Afrikaners om dit
+te lees, en die meeste krante het dit warm aanbeveel.
+
+By die beoordeling van _J. v. W._ moet veral rekening gehou word met die
+omstandighede waaronder dit ontstaan het. Maar sedert die eerste uitgawe
+het nou byna twintig jaar verloop. De Waal het dit herhaaldelik omgewerk
+en in 1921 het reeds die vyfde druk verskyn, veral omdat dit vir drie
+publieke eksamens tegelyk voorgeskrywe was.[168] Noudat die taalstryd
+verby is moet ook die literêre waarde van _J. v. W._ bepaal word. Omdat
+egter in bou en opset _Die Twede Grieta_ soveel ooreenkoms daarmee
+vertoon, kan die twee romans tegelyk bespreek word.
+
+Die Twede Grieta
+
+is die dogter, van Johan Conradie, wat kort na haar geboorte, waarby
+haar moeder sterf, uit die huis van haar vader gesteel word en in Natal
+as Miss Grace Palmer opgroei. Andries Burger, pleegsoon van Conradie,
+loop saam met sy vrind, Bertie Muller, van die S.A. Kollege weg aan die
+begin van die Anglo-Boere-oorlog en hul sluit by die republikeinse leërs
+aan. Phineas Marais, stiefbroer van die "eerste" Grieta, Conradie se
+oorlede vrou, is die sondebok van die roman. Hy verlaat die Teologiese
+Kweekskool op Stellenbosch na die dood van sy vader, wat 'n groot
+erfenis nalaat, word 'n geldwolf, loop in die oorlog oor na die Engelse
+en vervolg Andries en Bertie, vir wie Hester Fourie, sy verloofde
+afgewys het as doodsvyande. Andries en Bertie beleef die wonderlikste
+awonture in die oorlog. Andries red Grace uit die hande van Kaffers, en
+Bertie word verpleeg deur Hester. Na die oorlog ontdek Conradie dat
+Grace Palmer sy doodgewaande dogter is, 'n feit wat Phineas se
+roofproses teen hom in duie laat val. Presies soos Johannes van Wyk
+eindig die verhaal met 'n driedubbele huwelik. Andries trou met die
+twede Grieta, Bertie met Hester en selfs Conradie slaag daarin om "'n
+sagsinnige liewe vroutjie van ag-en-twintig jaar" raak te loop, terwyl
+Phineas na Engeland vertrek om die reputasie van S. Afrika daar te
+verbeter.
+
+Ook die _Twede Grieta_ het in _De Goede Hoop_ verskyn, vanaf Jan. 1912.
+
+ * * * * *
+
+"Het grondplan van de meeste Scottsche romans is: de held trekt de
+wereld in, beleeft komische of tragische avonturen en sluit in het eind
+zijn bruid in de armen. Dit geldt voor Waverley, Old Mortality, Abbot,
+Fortunes of Nigel, Peveril of the Peak, Quentin Durward, Rob Roy en meer
+andere; de avonturen zijn meestal die van den oorlog en van de politiek
+... En naast dit hoofdtype spreekt dikwijls de sensatieroman van
+Radcliffe in de geheimzinnige verwikkelingen, het duistere mysterie, dat
+den lezer tot het eind in spanning houdt."[169]
+
+In hoofsaak pas hierdie karakteristiek ook op die twee romans van De
+Waal. Dit word begryplik as ons lees, wat hy self omtrent die ontstaan
+van _Joh. Van Wyk_ meedeel:[170] "Ek het tevore (d.w.s. vóór die skrywe
+van _J. v. W._) maar min romans gelees--net die van Van Lennep, Victor
+Hugo en 'n halfdosyn ander ..." Van Lennep herken ons dan ook dadelik in
+De Waal se romans en aangesien Van Lennep al sy slim draaitjies van
+Walter Scott geleer 't, het ons hier te doen met 'n navolging uit die
+twede hand.[171]
+
+Aan 'n goeie historiese roman kan die volgende eis gestel word: "Hij
+make gansch een tijdperk uit het verleden weer levend, in den vollen
+rijkdom van al wat er in omging, idealen en vooroordelen, zeden en
+gebruiken; hij geve voor een oogenblik de illusie, dat we tijdgenooten
+zijn van een voorbijgegaan leven, van een vergeten beschaving."[172] So
+iets eis natuurlik diepgaande historiese studie en nog veel meer. "Het
+is een gave van het genie, het algemeen menschelijke, het grootsche en
+geweldige, zoowel als de teerste gevoelstrillingen in de tragédie
+humaine onder welke vormen, in welke tijden ook, te voelen, te zien, te
+grijpen en uit te beelden met middelen die altijd treffen, die altijd
+leven van innerlijke waarheid."[173] Die historiese romanskrywer moet,
+soos Victor Hugo van Scott gesê het, wees: "'n buigzame solide geest,
+die in zich opneemt als weeke was het cachet van iedere eeuw en van
+ieder land en dezen indruk voor de nakomelingschap bewaart als
+onvernielbaar brons.[174]
+
+Nou ontstaan die vraag: In hoeverre het _Johannes van Wyk_ reg op die
+naam historiese roman? Walter Scott maak gebruik van 'n spannende
+intriege om sy historiese stof kleur en lewe te gee. Daar is 'n sterk
+didaktiese element in sy werk: "het aanbrengen van historiekennis, niet
+zoo zeer tot leering en waarschuwing voor toekomstige geslachten als wel
+uitsluitend om het hebben van die kennis zelve, het wekken van liefde en
+belangstelling voor het verleden. Die tendenz spreekt duidelijk uit de
+lange inleidingen, de geleerde noten bij den tekst, de ophelderingen en
+citaten aan het slot, de historische uitweidingen in de romans
+zelve."[175]
+
+In _Joh. van Wyk_ is egter die _intriege hoofsaak_. Die historiese
+agtergrond word gebruik alleen om die leser die illusie van werklikheid
+te gee. Daarvoor het De Waal 'n besonder awontuurlike tydperk uit die
+vroegste geskiedenis van die Kaap gekies, waarin hy sy karakters die
+wildste kaskenades kon laat uitvoer, sonder om die skyn van waarheid
+prys te gee.
+
+Pas in 1911 is die dagboek van Adam Tas ontdek op die Kaapse Biblioteek
+en in 1914 het Dr. Leo Fouché dit uitgegee. Die aantekeninge van Adam
+Tas stel ons in staat om diep in te dring in die Kaapse toestande
+gedurende die stryd van die boere teen W.A. van der Stel. Op vertroulike
+manier deel Tas allerlei klein feitjies mee, met behulp waarvan 'n
+romanskrywer sonder veel moeite 'n kleurryke beeld kan skilder van die
+boerelewe aan die begin van die 18de eeu. In 1904 het De Waal natuurlik
+nie die dagboek tot sy beskikking gehad nie, maar selfs na 1911 het hy
+skynbaar geen aandag geskenk aan die nuwe gegewens, met die gevolg dat
+sy uitbeelding van die historiese persone en toestande vaag en soms
+heeltemal onjuis is. Selfs die dokumente wat reeds in 1904 beskikbaar
+was,[176] het De Waal nie geraadpleeg nie, want die historiese vernis,
+wat op _J. v. W._ lê, is _baie dun_. Die feite wat die outeur verwerk,
+kon hy uit die eerste die beste skoolhandboekie gehaal het. Hy doen
+hoegenaamd geen poging om deur te dring tot die psiege van die manne,
+wat in die worsteling teen Adriaan van der Stel die eerste saadjies van
+ons nasionale bewussyn gesaai het nie. "Adam Tas en de mannen van 1705,
+die de rechten en voorrechten der kolonisten zo onmiskenbaar
+geformuleerd en zo dapper gehandhaafd hebben, mogen ... met recht
+genoemd worden de grondleggers van ons politieke zelfbewustzijn."[177]
+
+Wat vertel De Waal ons van die manne? Hulle was "_almal welopgevoede,
+knap boere, hoog aangeskrywe in die samelewing"_.[178] Henning Huising
+het _"die rykste man aan die Kaap geword deur 'n monopolie_". En die
+arme drommels is so onversigtig om by 'n "_effe opgeskuifde raam_",
+waarvoor "_net 'n dun wit gordyntjie_" hang "_op nie 'n alte sagte
+toon_" 'n gesprek te voer sodat Johannes _elke woord_ kon opvang! En dit
+terwyl daar sulke mense soos Piet Rob was, van wie Tas verhaal: "Mij is
+vertelt als dat de noordse Piet Rob deese morgen met zijn Paarde wagen
+na Hottentots Holland is gereeden, die Schoft heeft welligt op deese
+Lichtmis dag weder wat aan te brengen, want het een zeekere zaak is dat
+die vent 't verklikkers ambagt sterk oeffent, dan hij staat er
+mettertijd voor beloont te werden....[179] Selfs die gewigtige dokument
+teen die goewerneur lê oop op die skryftafel! En dis die manne, wat flou
+grappies maak met Starrenburg, die vent wat hul soos die pes gehaat 't,
+en van wie Tas in sy dagboek praat as "de schoft Landdrost,[180]
+Landdrost Beelzebub,[181] schofagtigen roffiaan".[182] Set maar 'n paar
+sinnetjies uit Tas se dagboek naas die floue geteem, wat De Waal hom in
+die mond lê en dan voel iedereen direk hoe onwaar, hoe absoluut vals die
+uitbeelding in _J. v. W._ is. Op Van der Bijl se raad om die dokumente
+teen die goewerneur liewer stukkend te skeur antwoord Tas: "Ag", sê Tas
+spottend, "lelik in die pekel bring! Wat is daar op stuk van sake, om te
+vrees? In g'n een van die ag-en-dertig beskuldigings teen die Goewerneur
+kom daar 'n sweem van sediesie voor nie...."[183] Vergelyk hiermee wat
+Tas in sy dagboek onder datum 28 Des. 1705 aanteken: "... immers zoude
+die eervergeeten vend (A. v.d. Stel) ons gaarne van kant helpen zoo 't
+hem anders doenlijk was, die vervloekte Tyran heeft de Ingeseetenen
+zederd eenige jaaren op een ongehoorde manier gedrukt en geplukt, dat ze
+bijna baloorig zijn geworden, nu soekt die onbeschaamden schendbrok de
+schuld van zijn hals af te schuiven en mannen van eeren op dusdanigen
+manier een smette aan te wrijven. O Tijden! O Zeden! dog de regtvaardige
+God mag men hoopen zal 't quaad eens op des bazen kop doen nederdaalen
+en niet toelaaten dat de Vroomen langer onderdrukt worden."[184] In die
+paar sinne voel ons die woes-laaiende passie van 'n man, wat veel gely
+'t. Dis glad 'n ander kêrel dan die Tas, wat De Waal so kalmpies laat
+redeneer oor die Goewerneur wat "ons planne mag dwarsboom".[185]
+
+Op pagina 186 word ons meegedeel, dat die goewerneur die volgende
+persone gevange geneem 't: Wessel Pretorius, Jacob van der Heiden,
+Pieter van der Bijl en Henning Huising. Op die volgende pagina begin
+Hoofstuk XXX met die woorde: "Op las van die Goewerneur en sy raad ...
+is Pieter van der Bijl, Henning Huising _en die twee ander_ op 'n skip
+wat op weg was na Amsterdam, gesit...." Wie is die _twee ander_? Uit die
+verband kan ons alleen tot die gevolgtrekking kom, dat De Waal Pretorius
+en Van der Heiden bedoel. Maar wat hy daarop laat volg is in stryd
+hiermee, want ons verneem, dat Van der Heiden in die Kaapse tronk bly.
+Hier bestaan dus duisterheid in die voorstelling.[186] Die historiese
+waarheid is, dat Henning Huising, Pieter van der Bijl, Ferdinand Appel
+en Jan van Meerland na Holland gestuur is om voor die Here XVII te
+verskyn.[187] Dat àl die gevangene, met uitsondering van Tas en
+Louw[188] die goewerneur om vergifnis gevra het, is ook in stryd met die
+historiese feite. Zevenhoven b.v. kon die landdrost met al sy
+dreigemente nie klein kry nie, en toe die raadslid Brommert hom aanraai:
+"Ga bij den Goeverneur en bid hem om vergiffenisse" was sy manlike
+antwoord: "Dat kan ik niet doen, ik hebbe de waarheid gezegd.... Is dit
+naer recht handelen? 't Lijkt beter naer Inquisitie."[189]
+
+Op pagina 186 kom daar nog 'n onjuiste bewering voor: ".... Willempie
+het aan die kêrels te kenne gegee dat, as hulle die waarheid van die
+klagtes wil ontken, hy hulle sal laat loop; maar _die laaste een het
+geweier."_ Fouché egter beweer: "Enkelen werden reeds bij het eerste
+verhoor door de dreigementen van Starrenburg zo bang voor "de scherpere
+middelen" die hen wachtten, dat zij alles deden, wat hun gevraagd
+werd."[190] Ook die spesiale pluimpie wat De Waal aan Tas gee, kan die
+leser onder 'n verkeerde indruk bring. "Na zijn gevangenneming gedraagt
+hij (d.i. Tas) zich niet met de standvastigheid, die velen van zijn
+minder begaafde broeders tonen.[191]
+
+Ook _Die Twede Grieta_ noem die outeur "'n historiese roman", maar weer
+is hier die intriege hoofsaak en staan die geskiedkundige gedeeltes
+meestal geheel los, nes hoofstukke wat gelig is uit 'n historiese
+handboek. In Hoofstuk II b.v. gee die skrywer op p. 52-62[192] 'n skets
+van die Engelse anneksasie-politiek. Op p. 159-163 word die oorgawe van
+Cronjé beskrywe; op p. 290-295 vind ons militêre beskouings en selfs die
+vernaamste punte van die vredesverdrag van Vereniging. Waarskynlik het
+De Waal met hierdie opsetlike byvoegsels die bedoeling gehad om sy jong
+lesers op aangename wyse 'n les in vaderlandse geskiedenis te gee, wat
+hulle in 1912 erg nodig had, want dit is bekend, dat die onderwys in dié
+vak veel te wense oorgelaat 't en dat selfs vandag nog die waarheid op
+allerlei wyse verdraai word. Die didaktiese element is dan 'n welbewuste
+poging van 'n patriotiese skrywer om die anti-nasionale onderwyspolitiek
+van die Engelse oorwinnaar teë te werk. Hier het ons dus 'n voorbeeld
+van die wyse waarop die politieke toestand na die oorlog invloed
+uitgeoefen het op die letterkunde.
+
+Dat die skrywer alleen deur 'n dorre betoog die nodige atmosfeer vir sy
+verhaal kan skep is 'n teken van swakheid. So kry ons geen begrip van
+die dramatiek van die worsteling nie. "De moderne historische romankunst
+veronderstelt, dat ge uw historie kent en dat een enkele toespeling
+genoeg is, om u in den tijd te verplaatsen en wie ze niet kent, moet aan
+die enkele toespeling maar genoeg hebben om zich het noodige decor te
+fantaseeren."[193] Die historiese verhoudinge moet ons voel "als een
+vanzelf sprekende bijzaak". Die doel moet wees om ons die reële lewe te
+laat meelewe, "gezien in zijn algemeene menschelijkheid door een
+modernen mensch en kunstenaar...."[194] Die moderne historiese roman is
+"een roman als elke andere, een greep uit het leven, het algemeen
+menschelijke in schoonheid gezien en uitgebeeld, om esthetische motieven
+gedacht en gevoeld in oude tijden en verhoudingen. De historische
+romanschrijver is niet langer de soms weerspannige slaaf der historie;
+de historie is zijn dienares geworden, die onderdanig en hulpvaardig,
+zich op den achtergrond houdend, aanbrengt, wat tot kennis van de
+economische, sociale, maatschappelijke toestanden, waarin de helden van
+'s kunstenaars verbeelding leven ter beschikking moet zijn."[195]
+
+De Waal staan dus nog heeltemal op die ou standpunt en dit spreek
+vanself, dat vir ons jongere, wat die moderne opvatting ken en waardeer,
+sy historiese uitweidings die eenheid van sy romans hinderlik verstoor.
+Die ware kunstenaar laat ons deur middel van die ervarings van sy
+persone, deur die uitbeelding van hul sielelewe voel, wat daar omgegaan
+het in die hart van die volk gedurende 'n seker tydperk. In Hoofstuk
+VIII slaag De Waal dan ook uitstekend daarin om ons deur middel van 'n
+samespraak tussen Bertie Muller en Kaptein Glide 'n stukkie
+oorlogspsigologie te gee. Maar meestal bly die intriege hoofsaak en is
+die oorlog 'n handige raam waarop die outeur oneindige awonture borduur.
+Dit was dan ook volstrek nie sy bedoeling om die innerlike roersels van
+die volksiel gedurende die wanhopige worsteling uit te beeld nie.
+Presies soos by _Johannes van Wyk_ het hy 'n periode uit die geskiedenis
+geneem, waarin hy sy persone die bontste awonture kon laat beleef en tog
+'n glimp van waarheid behou.
+
+De Waal se twee werke is geen historiese romans nie, maar wel
+_intriegeromans_, presies soos die van sy leermeester, Jacob van Lennep.
+J.H. van den Bosch het op voortreflike wyse hierdie soort roman
+geskets[196]: "De stof der kunst is het karakteristieke en typische in
+zijn steeds nieuwe verwerkelijking. Als voortbrengsel der phantazie,
+behoort tot de kunst ook de reproductie van het toevallig-uiterlijke.
+Niet echter tot de beste. Het toevallige is niet noodwendig, het is waar
+noch onwaar. Tijdelijk mag het behagen, misschien door nieuwheid en
+gloed, voor een oogenblik spannen door vreemde ongewoonheid--weldra is
+het achter de bank geworpen en verouderd; de onverschilligheid der
+nakomelingschap velt er een zwijgend maar welsprekend vonnis over. Wil
+het eeuwig leven als de natuur, dan moet het kunstwerk--zelve Eeuwige
+natuur zijn, typisch en voleindigd.
+
+De Intrigeroman als zoodanig, niet kind van rijpe ervaring ... kind van
+één dag daarentegen is bestemd om op denzelfden dag te sterven. Het is de
+roman der willekeur, wier type men in den Graaf de Monte Christo heeft
+leeren kennen. De intrigekunstenaar (al is zijn gave benijdenswaardig)
+geeft ons geen werkelijkheid, niet de wereld vol karakter rondom ons te
+aanschouwen,--het is de droomwereld eener spelende phantazie. Zijn helden
+zijn marionetten, hij de man in de poppekast. Het is de roman der
+oppervlakkigheid, zonder diepte van leven, zonder inwendigen samenhang. In
+de mysterieuze natuur is ook alles bont en willekeurig dooreen-geworpen,
+als in een uitdragerswinkel;--voor oppervlakkige blikken: want in de
+diepte is alles één. Het is kunst zonder waarheid, zonder wijsheid, geest
+en beteekenis, omdat het kunst zonder idee is."[197]
+
+Ook De Waal se helde is marionette, aangeklede poppe, waarby die
+awontuur alle psigologie verdring. "Scherp getrokken is de lijn tussen
+deugd en boosheid. Hier ontwikkelen zich dan ook geen karakters; hier
+wordt ook geen moeite gedaan, om uit elk, overigens zo wonderlik
+samengesteld menselik hart, te halen, wat er, onder de werking van
+allerlei samenlopende of elkander strijdige invloeden, uit te halen is;
+verre van daar; onder al het levendig bedrijf, speelt ieder zijn hem
+toebedeelde rol op de meest passieve wijze; ieder van zijn kreaturen is
+gewaarmerkt tot een vast en onmiddellik te herkennen tiepe...."[198] Die
+enigste ontwikkeling, wat daar by De Waal se hoofkarakters te bespeur
+is, bestaan daarin dat die oorspronklike eienskap waarmee hy hul bedeel
+het, hoe langer hoe sterker word. Sy helde word al dapperder, sodat
+hulle in die laaste hoofstuk _Uebermenschen_ is, sy skurke al hoe
+swarter, totdat hul die baarlike duiwel in persoon word. Hy bedenk
+allerlei middeltjies, wat daarop bereken is om ons bewondering vir sy
+held te laat styg, of ons veragting vir sy skurke te vergroot.
+
+Johannes van Wyk bied homself as vrywilliger aan teen die Boesmans; hy
+is vergewingsgesind teen Gert en verpleeg hom as hy gewond is; hy red
+Hester Linde op besonder dapper wyse; as hy Gert heeltemal in sy mag
+het, neem hy geen wraak nie, maar wil alles vergeef; selfs Gert prys sy
+saggeaardheid: "As 'n vlieg in sy karringmelk val, dan red hy dit!"[199]
+Hy gee twintig guldens aan ou Fekkie; "die gebrek aan intellektuele
+geselskap het hy geweldig gevoel"[200] op die plaas by Villiers; van
+Fritz Köhler wil hy nie skinder nie; en as Gert sterf, dan voel Johannes
+"weer die kinderlike, broederlike liefde van jonger jare opstyg in
+hom".[201] Voorwaar, 'n voorbeeldige jong kêrel! 'n Tugendheld!
+
+So ook Andries Burger. Hy is wel 'n bietjie koppig op skool, maar De
+Waal laat ons goed voel, dat dit eintlik 'n goeie eienskap is, wat net
+pedagogiese leiding nodig het. As Andries dan ook Perold se skool
+deurloop het, word hy 'n tiepe van die nasionale student. Hy wil nie
+eers met sulke "rou rooi" dametjies, soos Grace Palmer praat nie, en die
+koppigheid van die kind moet ons bewonder, omdat 't die onversetlike
+wilskrag van die jongeling verklaar, wat teen die wens van sy pleegvader
+en professor tog oorlog-toe gaan. Andries is ook 'n sportsman van die
+eerste water; hy weier om met sy beste vrind 'n dop te gaan steek en
+verwyt hom ernstig sy losbandigheid en gebrek aan nasionale sin. Bertie
+se swakheid moet dien om ons 'n hoër dunk van Andries te gee. In die
+oorlog word Andries so gou gebrei, dat, "hy amper enigiets sou
+waag".[202] Hy maak 'n stoutmoedige aanbod aan Generaal De Wet (p. 159)
+en as verkenner is hy die dapperheid in persoon, wat altyd die vyand
+baas raak. Op 'n koppie red hy Bertie, neem drie National Scouts gevange
+en skiet een dood. Sy gewonde vrind verpleeg hy met die grootste
+selfopoffering (p. 206). Phineas voel "glad ongerus in Utrecht" as hy
+hoor, dat daardie waagduiwel ... in die rondte swerf as verkenner"[203]
+en al is hy ook nie vandag se kind nie, waar dit op geslepenheid aankom,
+moet hy telkens erken, dat Andries hom uitoorlê. Andries kry altyd die
+mooi rol; hy red Grace van die Kaffers, bring haar in veiligheid en
+voorsien haar van geld; hy maak die geld buit, wat Phineas en Loogman
+van die weduwee afgeneem het en stuur dit aan haar terug met De Jager.
+As Genl. De Wet 'n skitterende oorwinning behaal, dan is Andries
+daarby.[204] As veldkornet Potgieter in die nood raak, dan is 't
+Andries, wat hom raad gee[205], en met die hulp van twee vrinde bestook
+hy die Engelse uit 'n voordelige posiesie sodat die kommando ontsnap en
+die vyand groot verliese ly. Maar Andries is nie alleen 'n onverskrokke
+krygsman en verkenner nie, hy kan ook 'n mooi gedig maak en behaal selfs
+'n prys daarmee.[206] As die vrede gesluit word, dan hoor ons: "niemand
+het die prysgee van die duurgekogte onafhanklikheid van die Transvaal
+dieper ter harte geneem nie as die jong hooghartige Andries."[207]
+
+By die tekening van sy skurke gaan De Waal presies op dieselfde wyse te
+werk. Die een laag swartsel na, die ander smeer hy op.
+
+Gert Rass steel blomme, bring Johannes daardeur in die moeilikheid, val
+hom aan met 'n karwats en wil hom verwurg; hy stook Abram op om Johannes
+deur die Boesmans te laat vermoor; wil die laken nie opsteek om Johannes
+te red nie, en het selfs minder gevoel vir sy neef dan die Boesman,
+Abram; jak Johannes af, wat hom verpleeg 't en laat sy ouers onder die
+indruk kom, dat sy neef hom gewond 't; aan Klaartjie vertel hy kluitjies
+oor sy neef; op die basaar fop hy met sy nommer, beskinder Joosten en
+beroof hom van sy "violet"; hy laat 'n vervalste brief in Johannes se
+sak stop om hom van hoogverraad beskuldig te kry; is dadelik gereed om
+sy ontsnapte neef te agtervolg en wil hom koelbloedig doodskiet; bedreig
+Hester Linde met 'n pistool, lieg as hy in die moeilikheid raak, en
+huigel vrindskap vir Johannes om hom te kan vergiftig. Gert word só
+gevaarlik in sy duiwelagtige haat, dat De Waal verplig is om hom op te
+ruim voor hy Johannes en sy vrinde kan beloon vir hul deug.[208]
+
+Phineas Marais, die eks-teoloog is ook 'n monster, wat al monsteragtiger
+word. Sy huigelary word hoe langer hoe geraffineerder, en om die
+bewondering vir Andries des te hoër te laat styg word sy teëstander al
+hoe gewikster in Fariseïese listigheid. Hy moet deur sy verraad en
+geldsug die nodige verwikkelinge skep, sodat Andries 'n kans kan kry om
+sy edelmoedigheid en onverskrokkenheid aan die dag te lê. Die laagheid
+van Phineas is die terrein waarop die patriot Andries, _le chevalier
+sans peur et sans reproche_ steeds met sukses opereer. Andries is
+dwarsdeur die roman die lieweling van die outeur, orals word hy
+verheerlik, orals word die pad vir hom skoongemaak.
+
+Op De Waal pas dan ook uitstekend die volgende verklaring van M.H. van
+Campen: "Twee eigenaardigheden hebben alle pseudo-menschscheppers
+gemeen, ten eerste: het verzoeten hunner nobele figuren tot dupen en
+engelen--welke twee begrippen, als men de gewikstheid der duivelen
+daarbij in aanmerking neemt, vrij wel elkander dekken!--; zij doen dit
+zuiver instinctmatig, of wel: een onduidelijk bewustzijn van hun
+onvermogen, in de menschschepping de aesthetische schoonheid te
+bereiken, doet hen streven naar de ethische, welk streven tevens tot
+gevolg heeft dat zij hun ignobele schepselen zoo zwart maken als de
+satan zelf is, daardoor wordt de ethische schoonheid langs een omweg
+bereikt: de lezer voelt, hoe boos de auteur op zijn figuur, hoe
+verontwaardigd hij is, het ethisch schoon bevindt zich dus in den
+auteur-zelf! En als het tweede dezer eigenaardigheden moet genoemd, dat
+de pseudo-menschschepper, hetzij min of meer bewust van zijn onvermogen
+als zoodanig, hetzij zelfs geheel onbewust daarvan en instinctief, de
+menschbeelding op het zooveelste plan doet terugwijken en het bijwerk
+brengt op het allereerste: het bijwerk van de "intrigue", van de taal,
+van de natuurbeschrijving, het bijwerk van alles en nog wat. Schiep de
+Heer in zes dagen heel de wereld en één menschenpaar, zij besteden dunkt
+mij, volle zes dagen aan het scheppen eener menschenlóóze wereld en
+stelen vijf minuten van den sabbath, om honderd menschen te maken! Die
+menschen zijn er dan ook naar ...--"[209] Alleen die volgende reserwe
+moet ek maak: wat bywerk van taal en natuurbeskrywing betref, is daar by
+De Waal geen sprake nie--hy vertrou enkel op 'n spannende intriege en 'n
+historiese versiering om sy verhaal leesbaar te maak--wat later bewys
+word.
+
+Hoe dat by De Waal alles afhang van die grillige toeval blyk uit die
+verlowing van Hester Fourie en Bertie. Hester sê Phineas af, nie as
+gevolg van 'n geweldige sielekonflik nie, waarin haar patriotisme en
+liefde in botsing kom. Tot op die laaste behou sy haar naïewe geloof in
+sy opregtheid, ja verneder haarself voor haar veragtelike aanbidder: "Ek
+weet, dat jy my sal beskou as 'n bedriegster, 'n valse skepsel ... Ek
+weet dat jy die naam van Hester Fourie sal verag, sal verfoei, sal wil
+uitdelg uit jou geheue, ...[210]. Sy is selfs gewillig om Phineas te
+trou al was hy ook "handsupper"--eenvoudig omdat haar eie pa ook sy
+nasie verraai het--'n rede wat psigologies absoluut vals is, omdat juis
+die skrynende pyn daardeur veroorsaak, haar die verlore ideaal des te
+inniger sal laat koester en haar verlange om dit in die minnaar terug te
+vind oneindig versterk. "Pa het my diep teleurgestel, maar Phineas sal
+sy man staan--_hy_ sal aan sy volk getrou bly", so sou die _vrou_ Hester
+geredeneer het, die vrou wat geloof het dat hy 'n volksleier behoort te
+word![211] As De Waal wou gehad 't, dat ons Hester Fourie moet bewonder
+as 'n fiere dogter van die Vrystaat, dan moes hy die bitter kneusing van
+haar meisieshart uitgebeeld 't by die oorlopery van haar vader en
+minnaar, die wondere, geheimnisvolle rypwording van haar kinderliefde
+vir Bertie en haar langsame bewuswording van die feit, dat haar gevoel
+vir Phineas 'n vergissing was. Maar in die roman gehoorsaam sy aan "'n
+onverklaarbare, waarskuwende stem ... 'n instink wat na geen menslike
+raad wou luister nie",[212] terwyl sy tog héél goed =weet=, dat Bertie
+die plaas van Phineas in haar hart ingeneem 't. Of het Phineas haar ook
+leer huigel?
+
+Haar liefde vir Bertie is nie 'n allesbeheersende, allesoorwinnende
+passie nie, wat haar met dwingende mag na die geliefde dryf, maar haar
+lot word beslis deur die absoluut _toevallige_ ontdekking van Nurse
+Nellie. Haar lewe is nie die langsame ontplooiing uit 'n innerlike
+drang, wat onverbiddelik dryf na die vervulling van 'n eie
+sielsgeaardheid nie, omdat die skrywer _nog nooit_ geloop 't op die
+slingerpaadjies, wat soos 'n wirrel-warrel-vlegwerk uitgesprei lê oor
+die groot wonderland--_das Ewig-Weibliche_.
+
+Die _blinde_ toeval! In _Johannes van Wyk_ het die nommertrekkery op
+die basaar 'n beslissende invloed op die lewensgeluk van ses persone. En
+as Johannes sy kans laat glip, dan speel dieselfde _blinde_ toeval hom
+die meisie nogeens in die hand, dan kry hy 'n geleentheid om Hester te
+red en verseker die flink optrede van sy vrinde hom 'n ongestoorde
+wandeling met haar. By die eetmaal is dit wéér die _blinde_ toeval, wat
+hom 'n sitplaas naas Hester gee; wat die kaptein en kolonel met
+plotselinge doofheid slaan, sodat hy sy geheimpies uitvoerig aan haar
+kan vertel. Voorwaar, Johannes laat ons dink aan Van Lennep se motto by
+_De Roos van Dekama_. Hy is die man wat: _"wacht en stille sitt"_ en tog
+alles kry, terwyl Gert met al sy slim planne homself in die ongeluk
+stort.
+
+Joosten, vir wie Fritz Köhler, "g'n enkele keer die kans wou gee
+nie"[213] om met Jeanette te praat nie, word ook deur die _blinde_
+toeval gehelp--anders was hy vandag seker nog ongetroud!
+
+En Grace Palmer? Haar huwelik is afhanklik van die toevallige
+ontdekking, dat sy die Twede Grieta is. Sy self gee drie redes op,
+waarom 'n huwelik met Andries onmoontlik is.[214] "De Intrigeroman kan
+alles bewijzen. Hij is een droom; de natuurwet is er buiten dienst
+gesteld."[215] Om dié rede behoef dit dan ook geen verbasing te wek nie,
+dat daar nog 'n hele reeks onwaarskynlikhede in die twee romans te vind
+is, o.a. die verdwyning van Grieta, die onvoldoende motivering van die
+haat tussen Andries en Phineas en veral die feit, dat Conradie die Kaap
+verlaat sonder Andries mee te deel wie Grace is. Op die manier kry
+Andries nog 'n kans om sy koppigheid te wys en die feit, dat hy nou al
+deur sy oorlogervarings tot selfstandige man geryp is, verhinder sy
+pleegvader nie om hom nog soos 'n stout seuntjie te behandel nie! In _J.
+v. W._ laat die karakter van Abram ons ook twyfel aan die egtheid
+daarvan; die skoot wat Abram net presies in die hart tref, terwyl hy op
+Johannes se hart mik, verwek 'n skeptiese glimlag. Dat Gert in die
+gifdrinktoneel hom so maklik laat fop, klink ook onwaarskynlik. De Waal
+slaag daar nie altyd in om sy sterk-romantiese gegewens deur 'n
+onweerstaanbare suggestiewe werking tot onbetwyfelbare realiteit te maak
+nie.
+
+Dit blyk ook duidelik uit Andries se awontuur by Utrecht. Ons verneem
+dat 't "buitengewoon donker" is--só donker selfs, dat die ruiter
+"nouliks die kop van sy pêrd kon sien."[216] Tog laat "'n warrelwindjie
+'n dun stofwolkie ... opstuif"! Later eers word die terrein deur bliksem
+af en toe verlig. Maar dit bly só donker, dat die kaffer "slegs 'n
+donkere gestalte" is. Die skrywer laat ons egter nie =voel= deur
+allerlei fyn trekkies nie, dat dit werklik donker is. Hy teken die hele
+toneel asof dit alles in die skroeiende son gebeur 't. "Verbysterd en
+asof half lam leun sy (Krysie) met haar een hand teen een van die
+opstaande rotse." Het Andries kat-oë gehad, of het hy dit ook alles,
+"met die hulp van (die) weerlig" so haarfyn gesien? Hy soek nie
+voel-voel na die gewere en bandeliers nie--hy tel sommer "een van die
+twee Lee-Metfords en die bandeliers op ...". Hy loop nie
+struikel-struikel oor die los klippe in die donker nie--"hy _nader_ ...
+die meisie". En sy =sien= hom "verward" aan; "sy skud haar kop", as hy
+haar iets vraag en "aan haar kappie en jas kon jy ... =sien=, dat sy
+terdeë met klei in botsing gewees het." Het dit ook alles gebeur met die
+hulp van bliksemstrale, want dis nog só donker, dat hy byna oor die twee
+doodgeslaande perde val.
+
+Die gebrek aan suggestiewe besonderheidjies belet ons om die waarheid
+van die nagtelike toneel te voel. Die skrywer het dit nie innerlik
+deurleef nie, maar met sy nugter verstand die awontuur inmekaar gesit.
+En hy was hier tog op bekende terrein, want hy was self onderwyser in
+Utrecht en het seker meer as een van die donderstorme gesien, wat met
+sulke plotselinge felheid kan neerswaai, so geheel anders as in die
+Kaap.
+
+Die donderstorm word as volg beskrywe: "Die stormwolk, waaruit soveel
+_vog gegiet_ en _vuur geskiet_ was, was nog met onverminderde water en
+elektrisiteit belaai en woed nog aldeur voort, (dus 'n wolk, wat
+voortwoed!) maar nie meer vlak bo-kant die hoofde van die jong twee nie.
+Die reusagtige massa was na die noordweste gedrywe, en slegs die
+nadruppels val nog by die vlugtelinge. Met die ooptrek van die hemel kom
+ook die opgaande maan te voorskyn."[217] Van natuurviesie geen sprake
+nie, nog minder van indiwiduële impressie of verrassende segging. Die
+hele beskrywing word gegee enkel om die laaste sinnetjie, want Andries
+moet 'n kans kry om "die sewentienjarige poppie" te bekyk.
+
+Die beskrywing van Patrysvlei[218] is soos die van 'n afslaer, wat 'n
+plaas wil verkoop. Patrysvlei is "'n lushof" met mooi draadheinings.
+Daar is 'n "deftige woonhuis" met "netjies ingerigte buitegeboue,
+stalle, krale, kampies en pluimveehokke"; "_in_ sag groen gelowerde
+vrugteboorde", 'n groot tuin, 'n "massiefgewalde dam", deur 'n
+"altydlopende stroom gevoed" en verder "uitgebreide, duidelik
+afgebakende saai- en weilande". Die skrywer verseker ons, dat 't "'n
+bekoorlike landgoed, 'n paradysie" is, maar so 'n vendusieagtige
+ophemeling laat ons totaal koud en het met kuns niks te maak nie. Die
+van buitegekome obserwatoriese gewaarwording is nie deur die van binne
+opstygende deurvoeling tot 'n psigiese verbeelding geryp nie.
+
+Die verslag van die voetbalwedstryd in hoofstuk vyf van _Die Twede
+Grieta_ is ook 'n bewys van De Waal se onmag as kunstenaar. So 'n
+beskrywing kan 'n rapporteur van 'n agterveldse krantjie ook gee, want
+dis kleurlose joernalistiek, sonder 'n persoonlike aksent, in die
+allergewoonste voetbaljargon. Die partytjie by Bertie was in 'n groot
+saal "waar die meeste _van_ die mense in vrolike gebabbel vergader
+was.... Verversings en lekkernye is intussen rond_gedeel_ en van die
+keurigste sterk dranke kon jy te drink kry."[219]
+
+In _Johannes van Wyk_ nog 'n staaltjie: Hester en Johannes sing saam op
+die rots: "Toe begin hulle _weer_. Al die ander was stil as die graf.
+Heerlik _weer_ lui (weerlui?) die skone melodie. Trillend _weer_ het
+iedere noot in die rotsagtige kloof van kant tot kant _weer_klink. Met
+soveel _ge_volg is elke woord uit_ge_bring _ge_word dat dit in_ge_dring
+het tot in die diepste hoekie van elke hart en die fynste snare daar
+_ge_roer het. Was dit dan wonder dat selfs Louise haar oë vogtig
+_ge_word het?[220] Viermaal _weer_; sesmaal _ge_ opmekaar gestapel! en
+dit in ses-en-'n-halwe reël! By die waaragtige kunstenaar, wat hom diep
+in sy stof inlewe, verander ritme, styl, taal, woordekeus voortdurend al
+na gelang van die stof. De Waal wil hier musiek in woorde verklank en hy
+hakkel soos 'n doofstomme. Die mooi alliterasie: "Trillend weer het
+iedere noot in die rotsagtige _k_loof van _k_ant tot _k_ant weer_k_link"
+gaan verlore in die aanswellende gutturale kakofonie.
+
+De Waal se styl het geen eie geluid nie. Sy taal is die van die koele
+gedagte, ontspring nie uit 'n ontroerde gemoed nie, mis harmoniese
+ritme. Nooit voel ons; daarin die koorsagtige klop van die digter, nooit
+tintel daarin die warm liefde vir singende woorde nie. Kort en saaklik
+deel hy ons mee, soveel as nodig is om die intriege te verstaan, soms
+met katalogusagtige dorheid. Grace word ingelei in "'n kamer van
+middelmatige grootte, wat klaarblykelik gedien het vir eet-, slaap- en
+werkkamer tegelyk, want in die middel staan daar 'n tafel met 'n bord,
+'n kaasbak, 'n suikerpotjie, 'n standertjie, 'n paar koppies en
+pierinkies en nog meer sulke goed; naby die venster sien jy 'n tafeltjie
+met 'n goedkoop naaimasien en 'n werkmandjie daarop, terwyl, aan die
+teenoorgestelde kant van die kamer, die voetenent van 'n ledikant van
+agter 'n Japanese skerm uitsteek. Verder bemerk jy daar ook 'n
+wastafeltjie en enige ander meubelstukke--almal oud en eenvoudig, maar
+net en sindelik."[221] Geen verrassende wending, geen metaforiese
+vermoë. Dit is net asof hy 'n reusagtige settery het, waarin die sinne
+netjies in hul bakkies gerangskik staan--_la phrase fait une fois pour
+toutes_.[222] As iemand skrik of verbaas is, dan het hy "wydgespalkte,
+wit kykers", (_J. v. W._, p. 37); Malherbe en Joosten volg Johannes se
+bewegings "met beklemde harte en wyd-geopende oë", (_J. v. W._, p. 71);
+"Die dominee sien sy dogter met wydgespalkte oë aan", (_J. v. W._ p.
+149); "die meid, met 'n uitdrukking van angs in haar groot, wit oë".
+(_Tw. Gr._, p. 7). "'n Klein gil _verlaat_ sy bors, en met wydgespalkte
+kykers starend staan hy vir 'n oomblik asof versteend", (_Tw. Gr._ p.
+173); "ontsettend verras staar hy die meisie met wydgespalkte oë en ope
+mond aan", (_Tw. Gr._, p. 392); "Palmer!?" roep Conradie, met groot oë,
+verbysterd", (_Tw. Gr._, p. 353); "Maar voor hy iets meer sê, deins hy
+verskrik terug, en staar haar met wydgespalkte oë aan", (_Tw. Gr._, p.
+350); "Met wydgeopende, verwilderde kykers staar hy die besoekster
+asemloos aan", (_Tw. Gr._, p. 369); "Met ope monde asof deur towery
+geboei, gaap hulle die singers in verlore bewondering aan", (_J. v. W._,
+p. 97); "die trotse Chrissie staar met wye fonkelende oë vaag op na die
+plafond", (_Tw. Gr._, p. 224). As Boonzaaier dié romans moes illustreer
+...! Dieselfde uitdrukking kom ook by Van Lennep voor: "Welnu! waar
+wacht gij op?" vroeg de man, wien de uitdaging gold, aan den voerman,
+die _met wijd opgespalkte oogen_, dit tooneel stond aan te gapen."[223]
+
+Soms laat De Waal nogal wonderlike maneuwers uitvoer: "Maar Jeanette het
+alreeds haar _oë_ met stille valksblikke na huis, werf en elke plekkie
+daar rondom, vir sover as haar gesig nie =versper= was nie _geslinger_",
+(_J. v. W._, p. 199); "Sy oë begin van vooraf in sy kop te rol", (_J. v.
+W._, p. 15).
+
+Nog 'n ander stylverstening is: "'n Rilling loop deur sy lyf", (_J. v.
+W._, p. 38); "'n Vinnige rilling loop deur die hele lyf van Johannes",
+(_J. v. W._, p. 215); "'n Ysige rilling tref die lede van die
+sielvermoeide student", (_Tw. Gr._, p 389); "Hester haar liggaam tril
+van die skok", (_Tw. Gr._, p. 200); "wat 'n gril skud sy lede", (_Tw.
+Gr._, p. 250); "Dit was of Andries 'n geweldige skok deur al sy lede
+kry", (_Tw. Gr._, p. 314). "Wat 'n rilling loop daar deur sy hart", (_J.
+v. W._, p. 72). Van Lennep gebruik die uitdrukking ook: "Een koude
+rilling liep mij door de aderen."[224]
+
+Nog 'n ander stylverstening is _asvaal_ of _vaal soos as_.[225] So sou
+ons die hele inwentaris kan opmaak van die bakkies in De Waal se
+settery; van die beperkte aantal stereotiepe uitdrukkings, wat met
+tergende reëlmatigheid by amper elke dialoog voorkom--die "knersende
+tande", "geamuseerde gesigte", die "hande in die hare", die krappery
+agter die ore, of op die kop, die "bevestigende knikkies", "wit bewende
+lippe", "glinsterende, _wetende_, verwilderde, verslindende ... oë";
+"vuurrooi wange", "veel-betekende (?) glimlaggies", "angstig-kloppende,
+bonsende harte" en al die verskillende soorte _kyke!!_--o.a. "die kyk
+... wat as 'n dolk tref", (_J. van W._, p. 46). Dan nog De Waal se
+besonder hartlam-uitdrukking =kykers=--van allerlei aard, diep, vurige,
+swart, donkerbruin, glimlaggende, skitterende, medely wekkende,
+sielvolle[226], glimmende, bewonderende, grys, groot, ope, blink,
+pragtige, patetiese....[227]
+
+'n Enkele maal word ons verras deur 'n raak tekening: "rooi as 'n
+granaatappel", (_Tw. Gr._, p. 121); "met 'n berouvolle krakie in sy
+stem", (_Tw. Gr._, p. 269),--maar dis nes 'n eensame blommetjie in 'n
+vaal stoppelland. Meestal is De Waal doodtevrede met die ou beskrywende
+adjektiewe, wat die Neerlandse skrywers van vóór 1880 duisendmaal
+afgerinkink het. Dit blyk veral waar hy die uiterlik van sy persone
+teken. Hester Linde het "'n _lelie-blanke_ kleur, afgewissel deur die
+_roseblos_ van gesondheid, ... daarby vertoon sy 'n paar oë so helder,
+so _hemelsblou_, so _sielvol_, as g'n digter of skilder sou kan teken
+nie; 'n lieflike neusie gelyk en reg _as van 'n marmer beeld_." (_J. v.
+W._, p. 63). Sy is 'n _engelagtige_ wese, (_J. v. W._ p. 72 en 162) met
+_hemelse_ oë; ook Grieta is "'n _beeldfraaie_ mens.... meer geskik vir
+die tuiste van engele, dan vir hierdie prosaiese aardbol", (_Tw. Gr._,
+p. 1); "'n buitengewone _juweel_" met "melkwit hals" en "goudbruin hare,
+wat tot sieraad sou gestrek het vir die skoonste _towergodin_", terwyl
+Hester weer 'n "liewe _juweeltjie_" is, "'n allerpragtigste kind, die
+_beeldskone_ predikantsdogter" met "'n _sneeublanke_ gelaat". Sy is "die
+liewe engel wat dag en nag Johannes se gedagte besig hou en 'n _vuur_ in
+sy hart _aangesteek_ het wat niks kan uitblus nie...." (_J. v. W._, p.
+178). Ook Grace laat "'n _vlammetjie ... ontbrand_, wat Andries nie lig
+kon _blus_ nie". Nes by Hester word ons verseker van die magteloosheid
+van die skilder en nou ook nog van die beeldhouer: "Het ooit 'n skilder
+'n kinnetjie pragtiger geskets? Het ooit 'n beeldhouer 'n mondjie bedeel
+met soveel uitdrukking, soveel karakter, soveel _soete onskuld_, as wat
+vertoon word deur daardie twee gesonde, klein, allerliefs gevormde
+lippies?" (_Tw. Gr._, p. 239). Sy is ook soos haar moeder "meer geskik
+vir die tuiste van engele": "Dat 'n regtige, gewone, aardse mens so
+_fouteloos_ (anglisisme!) daar kon uitsien, sou hy nooit kan geglo het
+nie." Ons glo dit dan ook nie!! Mens moet na Tollens en sy konfraters
+gaan om die sussies van De Waal se engeltjies te kry. Hoor maar hoe
+Tollens "_Het Ongenoemde Meisje_" "besing"[228]:
+
+ "Der nachtegalen zang is schoon,
+ Maar tienmaal schooner is haar toon,
+ Haar stem doortintelt merg en bloed;
+ Geen ziel, die zij niet smelten doet;
+ Geen booswicht is er, als zij zingt,
+ Wien niet een traan in de oogen dringt.
+
+ Zij zweeft, als had zij wiekjes aan:
+ Haar zooltje laat geen teeken staan.
+ Haar vlechten zijn als ravengit,
+ Haar boezem is als zwanenwit;
+ Geen enkel sproetje vlekt haar kin
+ En 't englenzieltjen evenmin.
+
+ Wie zulk een meisje ooit ontmoet,
+ Zoo schoon, zoo rein, zoo engelgoed;
+ Wie 't orglen van een stem vernam,
+ Zoo fraai of ze uit den hemel kwam,
+ Geloof hij 't vast--zweer hij 't vrij:
+ Dat is mijn meisje! dat is zij!"
+
+De Waal se "fouteloos fraai" meisies dra natuurlik ook klere, "fouteloos
+passend" soos Grieta; hul het "lieflike gelaatstrekke", "pragtige
+elegante" gestaltes, of anders "heerlik-fraai--slank en tog vol";
+meestal "langwerpige" gesiggies soos Hester Linde, Hester Fourie en
+Grace; maar die koddigste is wel die _plomp_[229] wange, wat by De Waal
+blykbaar die betekenis van die Engelse _plump_ het!!
+
+Vergelyk ons nou hiermee die manier, waarop Van Lennep sy dames en
+here teken, dan val die sterk ooreenkoms dadelik in die oog. In _De Roos
+van Dekama_ word Madzy as volg voorgestel: "Voor zooveel men, nu zij
+gezeten was, haar gestalte kon beoordeelen, was zij rijzig van postuur;
+doch haar fijne leest was gewikkeld in een zwarten zijden mantel, die
+niets liet bespeuren dan de bevallige ronding van een _leliewitten_
+arm.... De kap van den mantel bedekte het hoofd, en was onder de kin
+vastgestrikt, doch liet echter vryheid om de _edelste_ en tevens
+innemendste _wezenstrekken_ te beschouwen, welke immer in het hart eens
+jongelings liefde verwekt hebben[230]. De strenge regelmaat des beloops
+van neus en voorhoofd, welke aan het profiel der Grieksche Juno
+herinnerden, was getemperd door den zachten, minzamen opslag van _twee
+groote, helder hemelsblauwe oogen_, overwelfd door gitzwarte
+wenkbrauwen, zoo zuiver van omtrek, _als waren zy door een
+penseelgevormd_, en door de kuiltjes welke in de van gezondheid
+schitterende wangen en in de ronde kin als tot een schuilplaats voor de
+bevalligheden gevormd waren. Een klein vlekje ter zijde der bovenlip,
+instede van het gelaat te ontsieren, stak geestig af tegen de blanke
+tinten van het fijne, met blauwe adertjes gemarmerde vel, en verhoogde
+de levendigheid van uitdrukking der wezenstrekken, vooral wanneer zij
+zich tot een lachje saamtrokken, en de halfgeopende rozemond, de dubbele
+rij der hagelwitte tandjes ontdekken liet."[231] Vir Reinout is Madzy
+dan ook dadelik 'n "_lieve engel_". "Reinout ... had een wel niet
+rijzige, maar toch in allen deele _fraai gevormde_, gestalte.
+_Ravenzwart haar krulde_ hem met bevalligheid om de slapen; zijn
+gelaatstrekken waren fijn en regelmatig, en schoon van nature bleek en
+door de zuiderzon en de vermoeienissen des oorlogs met een gele tint
+overdekt, hoogst bevallig en innemend. Geest en _scherpzinnigheid_
+straalden uit zijn gitzwarte oogen, wier _levendigheid_ waarde gaf aan
+alles wat hij zeide."[232] Malherbe "was middelmatig van gestalte,
+welgeset, kragtig gebou. Sy blas kleur en Paryse neus het duidelik te
+kenne gegee dat hy van Franse afkoms was; en sy groot welgevormde kop,
+versierd met 'n bos digte, _pikswart krulhare_, het blyk gelewer van
+meer dan 'n gewone mate van harsings; terwyl sy diep, vurige,
+donkerbruin kykertjies, wat treffend gepas het by sy swaar wenkbroue,
+die _wakkerste skerpsinnigheid_ verraai het." (_J. v. W._, p. 61.)
+
+Daar is nog meer reminisensies aan die versteende terminologie van vóór
+1880 by De Waal. "Iedereen luister met ingetoë bewondering na die
+_sielverheffende_, heerlike musiek", (_J. v. W._, p. 228);
+_verbryselende_ tyding, (_J. v. W._, p. 251); "wat daar in sy gemoed
+omgaan, kan beter verbeel dan beskrywe word", (_J. v. W._, p. 106); 'n
+_ontluikende_ man, (_J. v. W._, p. 8). De Waal besef nie die
+gevoelswaarde van die woord _ontluikende_ nie, want ofskoon "'n
+ontluikende _maagd_" 'n doodgewone staaltjie van die Parnastaal is, kan
+ons ons moeilik 'n ontluikende _man_ voorstel. In _Die Twede Grieta_ kom
+ook nog voor: "_verhewe_, edele gelaatstrekke", (p. 209);
+"_onvergeetlike, hartstrelende_", (p. 318); "'n soet druppel in die
+bitter beker", (p. 12); "_hartedrif_" (p. 382); "dit was asof 'n _priem_
+sy hart deurboor en sy bloed yskoud word", (p. 96)[233] "'n Vloed van
+bitter onaangename gewaarwordings deurstroom sy beklemde gemoed", (id.
+vgl. _J. v. W._, p. 174); "sy was weggevaar na die heerlike wêreld van
+die sorglose vergetelheid, rustig in die arms van die slaapgod ...", (p.
+238); "_oorstelp_ van vreugde en droefheid", (p. 174).
+
+Aan beelde waag De Waal hom baie selde en as hy dit doen, dan is 't
+gemeenplaatse, of ridikule voorstellings soos: "Hy kon sy brein in geen
+ander rigting laat vloei nie" (_Tw. Gr._, p. 259); "Die nommer van die
+meisie wat nou so dryf op die hete onstuimige stroom van sy gedagtes",
+(_J. v. W._, p. 64); sy gedagtes rol oor al die gebeurtenisse van die
+aand terug", (_J. v. W._, p. 106); "Die digte sluier wat haar geestesoog
+bedek het, is afgeruk", (_J. v. W._, p. 174); Andries hoor Grace se
+"silwerstem. Dit _tril(!)_ die snare van sy hart", (_Tw. Gr._, p. 259);
+"Byna onmiddellik daarna, soos in 'n towerslag verander haar gelaat in
+glad 'n ander plooi ..." wat net so 'n wonderlike metamorfose is soos
+die van Andries, wat volgens Phineas van 'n _askoek_ tot 'n _doring
+ontwikkel_, (_Tw. Gr._, p. 242 en 382).
+
+"Jacob van Lennep was van 1829 tot zijn dood in 1868, Rijks-advokaat;
+bijna 40 jaar dus. Het ambt maakt de man. Deze man moet dus wel tot in
+z'n tenen advokaat zijn geworden, vooral omdat-ie van z'n eigen natuur
+al had, wat dat ambt in 'n mens pleegt te ontwikkelen: handigheid in 't
+pareren en uitvallen; scherpzichtigheid van elk plekje dat de
+tegenpartij bloot geeft; en bij deze schermmeesters-talenten, toch
+eenvoudige waarheidszin en oprechtheid....[234] Dieselfde eienskappe is
+ook te vind in die romans van Advokaat De Waal. Hy het sy eie
+pleiterstalent aan Malherbe geskenk en die kruisverhoor van Gert is een
+van die besgeslaagde gedeeltes van _Johannes van Wyk_. Phineas behaal
+ook 'n advokate-oorwinning op die Smithfielders en die weduwee, en sy
+listige draaitjies laat ons meer aan die geregshof dan die Teologiese
+Kweekskool dink. Vir die samestelling van sy intrieges kon De Waal dan
+ook profiteer van sy eie ervaring by die geregshof, 'n element wat 'n
+ruim plaas beslaan in albei romans. Die lewendigheid van sy dialoog laat
+aan dieselfde invloed dink. Oor 'n raak antwoord staan sy persone selde
+verleë, en tog ontaard dit nie in 'n vernufsdialoog nie, maar is
+gewoonlik 'n weergawe van die los natuurlike gesèlstoon. Dat hy dit
+egter nie altyd tref nie, bewys die volgende kromtaal, wat hy in die
+mond van Professor Clarke lê: "Jy het skone vooruitsigte, _my jong_
+(sic!), as jy net getrou by jou studies wil bly; en ek gee jou my woord,
+dat alles, wat ek kan doen om jou meriete bekroon te kry met die sukses,
+wat dit verdien, _sal_ ek.[235] Ook Ds. Kestell en Conradie spreek
+Andries toe as _my jong_.[236]
+
+'n Staaltjie van gebrekkige psigologie vind ons in _Die Twede Grieta_.
+Dis Andries se verjaarsdag en hy moet natuurlik die gewigtige
+gebeurtenis aan sy maat op skool meedeel. "Mag jy soet opgroei! fluister
+die ander grappig terug."[237] Wie sou so 'n ou-tante-agtige wens verwag
+van 'n kind van elf jaar? As hy nou nog gevra 't: "Het jy baie presente
+gekry?" dan kon ons dit verstaan!
+
+By De Waal kan ons konstateer 'n byna volslae veronagsaming van die
+volkstaal. Hy was een van ons eerste skrywers en het soos weinig ander
+die kans gehad om gebruik te maak van tiepies Afrikaanse wendinge, wat
+in die rykste verskeidenheid net op die lewewekkende adem van die
+kunstenaar gewag 't. Maar in plaas daarvan gebruik hy die dorre beendere
+van 'n voos ou-tydse retoriek, wat al twintig jaar morsdood was. Of wat
+uit kultuuroogpunt nog veel erger was, hy leen hot en haar van die
+Engelse en set die jong lesers van _De Goede Hoop_ 'n onsmaaklike
+hutspot à l'anglaise voor--juis dié mense, wat hy, as taalyweraar, moes
+oortuig van die deugdelikheid van die Afrikaanse taal. As De Waal
+woordkunstenaar gewees 't, dan sou hy op sy togte met die Rondgaande
+Hof, wat hom in nou aanraking met al die klasse van die samelewing oor
+'n uitgestrekte gebied van die Kaapprovinsie gebring 't, die volkstaal
+beluister 't, met volle teue die fris veldgeur van die ongerepte
+Afrikaanse idioom ingedrink 't. En indien hy ook al dikwels die
+verpestende lug, wat stadig maar seker by ons taalvensters ingewaai het,
+moes opsnuif, was dit dan nie juis sy heilige plig as _voorman_ om met
+speurende sorg alle uitlandse bysmakies uit die nasionale taalspys, wat
+hy vir argelose jongeliede opgedis het te verwyder nie? Maar die Engelse
+stormwind het De Waal omgewaai en al het hy in die afgelope sewentien
+jaar effentjies gespartel om op te staan, die vyfde druk van _Johannes
+van Wyk_ en die twede druk van _Die Twede Grieta_ bewys dat dit hom tot
+nog toe nie geluk 't nie.
+
+In sy dissertasie _Taal en Poësie van die Twede
+Afrikaanse-Taalbeweging_ het Dr. E.C. Pienaar gekonstateer, dat met
+betrekking tot anglisismes _Johannes van Wyk_ "aan 'n ongeneeslike kwaal
+ly".[238] In _Die Burger_ van Augustus 1921 laat De Waal hom as volg
+daaroor uit: "Is dit die skuld van die outeur dat soveel anglisismes
+burgerreg verkry het in ons taal? Toe ek die boek geskrywe het, het ek
+die spreektaal ten naastenby weergegee soos hy gebruik geword het, nie
+soos ek of my taalvriende sou verkies het dat hy moet wees nie. My
+skryftaal was maar 'n weerspiegeling van die spraak.... Die woorde lyk
+(hou van) en kyk (blik) ... sou ek darem in geen geval laat vaar het
+nie. Hulle het pos gevat in ons taal en verarm dit nie." Dr. Pienaar het
+ongetwyfeld gelyk as hy beweer, dat De Waal se taal "'n weerspiegeling
+was van 'n kunsmatigvervalste spraak-werklikheid, soos die onder
+bepaalde anti-nasionale skool-invloede in bepaalde kringe geheers
+het."[239] Tereg word ook verder gelaak die gebrek aan "historiese
+atmosfeer" in _Johannes van Wyk_ "omdat die skrywer deftige Hollanders
+van die jaar 1700 anglisismes in die mond lê, wat tuis hoort by
+verengelste Afrikaners van twee honderd jaar later, en selfs dan nog
+maar in sekere kringe."[240]
+
+"Moed broei moed" is die vertaling, wat Grace Palmer gee van "Courage
+breeds courage". Andries verbeter dit tot: "Moed kweek moed"[241]. Dit
+is presies die wyse waarop De Waal te werk gaan. Sy _gedagtewêreld_ is
+Engels; en sy skrywery is 'n langdurig gesukkel, 'n kriewelagtige
+gepeuter om aan Engelse gedagtes 'n Afrikaanse tint te gee. Só kan geen
+kunswerk ontstaan nie. Ons stuit gedurig op uitdrukkings en woorde,
+waarvan die Engelse voorbeelde hul direk aan ons opdring. Dit is dan ook
+'n vergeefse poging om die twee romans van anglisismes te suiwer, wat
+die skrywer alreeds probeer doen 't; die rooi suurdesem het deur-en-deur
+getrek tot in hul kern, soos blyk uit die volgende paar voorbeelde wat
+gemaklik verdubbel kan word. In _Johannes van Wyk_, vyfde druk 1921, kom
+voor: p. 29, "sou hy 'n twintigtal van daardie gebroed binne vyf minute
+kon uitgevee het; p. 149, "Wat 'n jammer ..." p. 173, "dat F.K.... sy
+kop mag verloor en 'n hand in so 'n daad hê; p. 174, Sou sy nie ... iets
+kan sê of doen wat hom mag weggee nie? p. 215, (hy) bind sy rooi sakdoek
+oor _die groter deel_ van sy gesig; p. 224, Die twee lawwe kêrels ...
+vind hulle uitgesny deur "die Franse advokaat"; p. 76, "Gou nou!" _haas_
+Joosten sy twee vrinde _aan_, ...
+
+In _Die Twede Grieta_, twede druk, 1921: p. 11, watter adres hom in
+Johannesburg sou vind, p. 54, Brittanje steek weer sy vinger in die
+pasty; p. 136, 'n Stuiwer vir jou gedagte; p. 149, maar sy vrees het nog
+die bo-hand gevoer; p. 213, Ons kon om die lewe nie raai; p. 242, in die
+klein uurtjies van die nag; p. 308, die gees van jingoïsme--waarvan alle
+... Afrikaners in die stede prooi was; p. 326, koerasie byeengesamel; p.
+328, in watter woorde die nuus te breek; p. 377, Die aparte
+uitdrukkings, wat daar beurtelings op die gelaat van Grieta verskyn het
+... was 'n studie.--_Plompe_ wange is reeds in 'n ander verband genoem.
+In _Die Twede Grieta_ hoor ons nog van 'n _milde_ behandeling! (Eng.
+mild).
+
+Ook die volgende uitdrukkings, meestal onbeholpe vertalings, toon
+duidelik aan hoe De Waal in Engels dink en dan 'n woord of wending kies,
+wat glad nie in die verband pas nie. In _Johannes van Wyk_ b.v. p. 48,
+aan die agterdeel van die huis; p. 80, 84, 246 die gestremde (Eng.
+strained) stilte, verhouding, ens.; p. 84, En hy ... ontmoet haar lippe
+met syne ... in 'n soete, hartelike kus; p. 101, U het ons almal uiters
+gul vergas; p. 180, Die stem klink op verhewe toon[242]; p. 217, jy 't
+my in 'n desperate weg gedring; 'n goeie dag gee.
+
+In _Die Twede Grieta_: p. 41, Die ruime stellasies ... was besprenkeld
+van toeskouers[243]; p. 56, Op laasgenoemde plek spring daar 'n stad op;
+p. 59, tegelyk sou die forte by Pretoria gegryp word; p. 198, sy
+volledig die sin; p. 175, Intussen doen die verpleër aldeur alles in sy
+vermoë om die vloei van die bloed te stuit, en werklik was die
+lekkasie(!) binnekort aanmerklik verminder.
+
+_Kyk_ (blik), _kom kyk_ (besoek) en _lyk_ (hou van) is vaste
+uitdrukkings van De Waal. By die gebruik van voorsetsels is hy ook
+gedurig onder Engelse invloed of maak hy die snaakste foute. In
+_Johannes van Wyk_ b.v. p. 19, onttrek ... uit; p. 24, voorsien ...
+met[244]; p. 59, trakteer met lekkers; p. 60, deelneem in; p. 61, Aan sy
+breë mond kan jy ... lees; p. 71, vermorsel aan 'n rots; p. 96, hy roep
+op die sangpaar; p. 128, vervang met; p. 170, gedagtes in die saak vorm;
+p. 180, om jou naamtekening aan hierdie getuigskrif ... te verkry; p.
+204, hy hou hom onledig aan die heel-maak van 'n ... mandjie; ens.
+
+In _Die Twede Grieta_: p. 335, om hom met die nou gang te begewe na sy
+kompartement; p. 344, berus by haar laaste antwoord; p. 369, hy spring
+met 'n skrik _in_ sy sitplaas op; p. 388, 'n kelkie ... tot mekaar se
+gesondheid drink; p. 227, "Kom!" roep die boer aan die pêrde; p. 156,
+duskant van Paardeberg; p. 285, ryk in bobbiaan ...; ens.
+
+'n Voorbeeld van stokkerige Hollands vind ons in _Johannes van Wyk_, p,
+190: Die _verbeide_ vyand. Telkens is die woordskikking verkeerd. In die
+_Tw. Gr._, p. 47, b.v. Die trant van die spel, ja, het so 'n keer
+geneem, dat, binne vyf minute na die ongeluk, _was_ een van die
+donkerbloues in staat ...; p. 79, Hy het my onder ander vertel ... dat
+ofskoon Hollands en Engels op papier gelyke regte het, _word_ daar in
+die praktyk gesorg....[245]
+
+Die lidwoord ontbreek in: om sake weer op ou voet te kry; pas het hy
+hierdie prooi in oog gekry; hulle wag tot oordeelsdag.[246] Of anders
+staan dit waar dit onnodig is: Omtrent honderd kanonne (word) in _die_
+werking gebring.[247]
+
+Verder kom daar nog 'n hele stel uitdrukkings of woorde voor wat (a) 'n
+allerkoddigste indruk maak deur hul lompheid; (b) volmaak onverstaanbaar
+of ongebruiklik is; (c) waarvan De Waal die gevoelswaarde nie besef 't
+nie. Ek gee enige voorbeelde:
+
+(a) Uit _Johannes van Wyk_:
+
+(p. 42) Toe verkwik hy sy gestel by 'n dammetjie; p. 68, die lewendige
+kou water; p. 70, Versigtig en langsaam kom hy (die skuit) met sy
+_swaarbelaaide_ mense_vrag_ gedurig nader; p. 82, die gemoedvolle vader;
+p. 192, 't Was allesbehalwe 'n gevoel van gerustheid waarmee die
+verdediger van die kraal nou _beset_ was. Hy moes die toneel ...
+_toe_skou; p. 226, Die liewe natuurlike musiek, wat hierdie lewendige
+water op sy weg ... ondertoe na die vlakte _baan_; p. 82, En wat kom die
+gewaad ook daarop aan, solank as dit nog reg is miet sy _inhoud_! (Ds.
+Linde tot Hester); p. 227, Daardie selvolle kykers, wat so sy hart
+_verteer_ het.
+
+Uit _Die Twede Grieta_:
+
+(p. 236) Haar storie ... het sy op so 'n belang-prikkelende manier
+vertel, dat dit van begin tot end die _aandag_ van haar _geleide
+boeiend_ geïnteresseer het; p. 295, So het die burgers hulle _gelate wil
+berus_ by die besluite ...; p. 394, die vooruitlopende weet-al-leser; p.
+4, in die wye, rond-gegruisde tuinpaadjie.
+
+(b) Uit _Johannes van Wyk_
+
+p. 7, Sy ... _ontlos_ haar van haar helper; p. 201, die bedleërige; p.
+163, 'n aangestrande vreemdeling, 'n vermoede gevlugte seeman; p. 24,
+spieder en bespeurder; p. 2, sy goedbelynde gesig.
+
+Uit _Die Twede Grieta_:
+
+p. 295, die harttrillende vierkleur; p. 308, weervaardigheid; p. 381,
+die salig-oorstelpte besoeker.
+
+(c) Uit _Johannes van Wyk_:
+
+p. 5, die dik _prettige_ dogter; p. 235, met 'n gesig oppervlakkig
+prettig; p. 140, 'n prettige boer; p. 169, 253, nering; p. 102, Het komt
+my voor dat tante Debora hem daartoe _aansart_; p. 58, die mense was
+gemoedelik aangedaan; p. 68, Köhler het haar (die meisie) met geweld
+_weggeraap_; p. 80, terugwerping; p. 75, toewerping; p. 165, Ek weet
+waarlik van niemand wat 'n mooier _vorm_ en postuur het nie (van
+Johannes geseg); p. 188, en al die huisgesinne ... het met waens en
+karre _na die setel_ van plesier en vrolikheid vertrek.
+
+Uit _Die Twede Grieta_:
+
+p. 19, Wat sal van daardie verskriklike wil van hom word, as ...; As ek
+jou belet om dit met geweld _uit_ hom te _delg_; p. 20, Phineas Junior
+... het welig opgegroei; p, 34, Haar geselligheid, wat sy by al haar
+kennisse ... _beoefen_ het; p. 114, na 'n koppie koffie by 'n buurman te
+_benuttig_ het; p. 286, om Andries _handtastelik_ te verwelkom; p. 302,
+tasbare dank; p. 265, nouliks was daardie aanval aanvaar.
+
+Stompies.
+
+_Stompies_, 'n bundel stories, rympies en toneelspelletjies is, wat die
+prosastukke betref, uit dieselfde hout as die romans gesny. Tien of
+twaalf sulke _stompies_ met timmermansvaardigheid aanmekaar gelas en met
+historiese kleefstof van 'n patriotiese merk vasgelym vorm die lang
+_stompe_ van die romans. Maar dis dorre stompe van 'n stokoue,
+doodgebloeide boom, wat De Waal omgekap 't om die taalvuurtjie mee op te
+stook.
+
+In _Stompies_ (1911) word die getal van die "engelagtige" meisies met
+hul "betowerende, hemel-fraaie kykers (o.a. p. 7, 10, 156), _plompe_
+rooskleurige wangetjies (p. 98), Venusagtige gestalte (p. 140), ens.
+vermeerder. Hulle "stuur 'n elektriese stroom deur al die lede" (p. 156)
+van hul aanbidders en as hulle so onversigtig is om in die water te val,
+of deur Kaffers toegetakel word, dan kry die dapper redders, wat
+_toevallig_ daarop afkom die welbekende "koue rilling" wat "deur hul
+hele lyf loop" (o.a. p. 78), totdat hul uiteindelik "die hemelse
+gedaante van hul teergeliefde(s) te gemoet _vlieg_" (p. 83) en
+"verrukkelike vreugde in hul _hart_ straal." (p. 83.) Die gelukkige
+paartjies word dan nog almal voorsien van 'n liewe gesonde seuntjie (p.
+60), "twee fraaie kindertjies" (p. 104) of "drie gesonde kleintjies" (p.
+158).
+
+Die voorwoord bevat nog 'n merkwaardige verklaring: "Soals die ironie
+dit wil, gee _ek_, die alle digters en rympiesmakers beskou als
+beklagenswaardige dromers en dwepers, nou self 'n klomp rympies uit!--"
+Dat iemand wat so 'n beskouing daarop na hou, geen kunswerk kan lewer
+nie, spreek vanself. Hy het self dan ook erken dat hy nie "in die wieg
+gelê was om romans te skrywe nie. (Hy) het maar die leeslus onder ons
+volk vir Afrikaans wil help opwek"[248]. Hierdie oordeel kan na ons
+ondersoek volkome bevestig word. Sy romans het geen letterkundige, maar
+wel kultuur-historiese waarde. Dit was propaganda-werk, wat verskyn het
+in 'n tyd toe die meeste ander voormanne nog niks gepresteer had en daar
+feitlik geen Afrikaanse leesstof was nie. Sy doel het De Waal dan ook
+bereik; _Hy het 'n groot deel van die Afrikaanse volk hul eie taal leer
+lees_. Wanneer ons nou dat die stryd vir Afrikaans gewin is, behoefte
+gevoel om ook die letterkundige waarde van die eerste prosawerk te
+bepaal, dan moet daar nogeens met nadruk op gewys word, dat _Johannes
+van Wyk_ met al sy gebreke 'n faktor van belang in die taalstryd was.
+
+Dat dit gelees is, is veral te danke aan die spannende intriege. Wat J.
+Koopmans van Van Lennep sê is ook van De Waal waar: "Meesterlik worden
+de draden in één punt samengetrokken; als in een vuurwerk knapt en
+knettert de kruithuls aan alle kanten; de ene vonk ontsteekt de andere
+en draait de spil naar de gewenste zijde"[249]. Solank as daar mense is
+wat 'n boek lees alleen "vir die storie", sal De Waal se romans seker
+gelees word.
+
+
+§ 2. J. Lub.
+
+J. Lub is op 1 Mei 1868 gebore te Garijp, 'n dorpie in die provinsie
+Friesland. In 1892 het hy as onderwyser na die Transvaal gekom. In die
+Anglo-Boere-oorlog was hy vir ses maande in diens van die Rooi Kruis as
+bestuurder van die ambulanstreine. Na die vrede het hy opgetree as
+Hollandse dosent aan die Johannesburgse Normaal-Skool en tans is hy
+inspekteur van skole op die Rand. Vyf bundels sketse het van hom
+verskyn: _Eenvoudige Mense_ (1908), _Donker Johannesburg_ (1910)[250],
+_In en om de Goudstad_ (1912), _Het Zwarte Gevaar_ (1913), _Oom Frikkie
+en ander Sketse_ (1918).[251]
+
+Van Lub se sketse is 'n groot aantal in Afrikaans geskrywe, maar dit is
+die Afrikaans van 'n buitelander, waarin, hoe goed hy die taal ook al
+deur 'n langdurige verblyf onder ons mense geleer 't, tog altyd nog iets
+vreemds klink. Omdat sy persone meestal in 'n Engelse milieu optree, kom
+daar in sy werk nogal baie Engelse uitdrukkings voor en hoewel dit soms
+deur die geaardheid van die sketse noodsaaklik word, moet die
+veelvuldige gebruik van woorde soos "cab, stretsjer, uitgeswindel,
+loafers, motormen, sweets, gingerbier" ens. beslis afgekeur word.
+"George lyk om te "marry", maar sy "job" betaal maar net £12-10s., en hy
+het die laaste tyd op die reisies verloor, want sy "friend" het hom die
+"wrong tip" gegee" (_Eenv. Mense_^3, p. 52). Al dien so 'n staaltjie nou
+ook ter karakterisering, tog word die herhaling van sulke gebrabbel op
+lange laas onleesbaar.
+
+Die verwording van die Afrikanerkarakter in die kosmopolietiese
+goudstad--dit is die vernaamste onderwerp van Lub se sketse. "Daar binne
+in die kuil (Johannesburg), vergaan 'n deel van ons arm mense, wat in
+hoë plekke behoort te wees, maar wat nou in hole van ellende omkom en
+bedelaars is ... of nog erger" (_Oom Frikkie_, p. 66). Die degenerasie
+van sulke sosiale drenkelinge word in lewendige tafreeltjies beskryf.
+Die algemene opset is gewoonlik so: eers word met 'n paar vegies die
+stadsbeeld geteken; dan ontmoet "meester" een van sy oud-leerlinge of 'n
+ander bekende van die plaas, wat nou in die uiterste ellende verkeer. So
+kry "meester" af en toe 'n kans om die rol van Hildebrand teenoor die
+diakenhuismannetje te speel. Anders word allerlei straattiepes op die
+manier van Justus van Maurik beskryf, soms met 'n moraliserende prekie
+as slot. "Dink tog 'n bietjie, as julle die busdrywer(s) sien, dat hy
+ook een van ons medemense is", ens (_Eenv. Mense_, p. 36). Met 'n
+poliesman as geleider besoek Lub die gevangenisse, agterbuurte en
+reddingshuise. Die redakteur van _Die Brandwag_ het sy werk juis
+gekarakteriseer: "Sulke sketse is menslike dokumente ... 'n simpatieke
+argief, wat die koue koerante en dokumente-argief van vandag se
+geskiedenis aanvul vir die toekoms" (t.a.p., Des. 1918). Dit is goeie
+joernalistiek, met veel mensekennis geskryf, en dit werp 'n lig op die
+ontstaan van ons arme blanke, 'n kwessie wat nog altyd aktuëel is.
+
+By die beskrywing van sy melankoliese tonele gebruik Lub soms
+melodramatiese motiewe, wat as pakkende slot moet dien. Op die manier
+verswak hy die indruk van roue realiteit, wat sommige van sy woordfoto's
+op ons maak. Ter afwisseling kry ons sketse in die komiese genre, wat
+meestal goed geslaag is.
+
+
+§ 3. J.G. Engela.
+
+J.G. Engela is gebore in 1862 op Ceres, waar hy alleen Engels op die
+skool kon leer. Op sewentienjarige leeftyd was hy al ouerloos en toe
+moes hy tog-ry, skoolhou en allerhande ander werk doen om 'n bestaan te
+maak. In die Transvaal was hy op die kantoor van die mynkommissaris, toe
+die oorlog uitbreek. Hy is by Paardeberg gevang en na Ceylon gestuur. Na
+die vrede was hy klerk in 'n winkel en in dié tyd het sy boeke verskyn.
+In 1914 is hy as winkel-inspekteur aangestel, en toe hy op sestigjarige
+leeftyd volgens die regulasies moes aftree, het hy gaan boer op "Die
+Vlakte", in die distrik Bloemhof.
+
+Afrikaanse Verhale en Gesellige Half-Uurtjies.
+
+In die voorwoord van sy twede bundel, _Gesellige Half-Uurtjies_ verklaar
+die skrywer, dat hy "in alle eenvoudigheid getrag (het) om ons volk tot
+meer lees aan te spoor." Dié doel het hy seker bereik, veral omdat in
+1909, toe die eerste bundel verskyn het, Afrikaanse boeke nog baie
+skaars was, maar ook omdat hy sy grappies op aangename wyse vertel.
+Engela laat gewoonlik een of ander norse persoon in 'n strik loop. Hoe
+om iemand 'n poets te bak is sy spesialiteit. Wie onder humor nog iets
+anders verstaan dan pure grapperigheid sal dit seker nie eens wees met
+Nico Hofmeyr nie, waar hy in die voorrede van die _Verhale_ die skrywer
+se "fyn humor" roem.
+
+Minder gelukkig is Engela met sy ernstige verhale, wat by voorkeur 'n
+moordgeskiedenis behandel en erg melodramaties is. Vir romantiekerige
+situasies is hy ook lief. So hoor ons dat Gratia "plaas neem op die ou
+omgevalle boomstam, en ... haar betraande oë omhoog-slaan, naar die
+heerlike groen lommer waarmee die woud so kunstig in 'n Septembergewaad
+versier was.... Saggies roer sy die snare van haar Mandoliene aan...."
+(_Half-Uurtjies_, p. 33). Tog ken Engela Rhijnvis Feith seker net uit sy
+gesangeboek.
+
+Gesels.
+
+_Gesels_ (2de druk, 1913) is die swakste van die drie bundeltjies. Taal
+en styl is hier besonder onbeholpe, die grappies word flou, soms selfs
+stuitend. _Die Storms van Bergendal_ is seker die summum van alle
+bereikbare onnatuurlikheid. 'n Broer, wat met sy verlore gewaande suster
+trou, haar dan keel af sny; 'n lyk, wat na 'n vreeslike storm deur die
+"rumoerige woelwaters ... met alle sorg" in 'n kar "neergelê" word; 'n
+gedrogtelike misgeboorte, wonderlike drome, en geesverskynings, waarby
+vier predikante te pas kom, 'n groot skat, ens ... brr! Dis 'n
+gruwelstuk, wat Jan Vos sou laat watertand!
+
+As 'n staaltjie van Engela se gebrekkige sinsbou kan die volgende dien:
+"David was 'n Hotnot van ongeveer 40 à 50 jaar: Kort en sterk geboud, en
+was van nature 'n buitegewoon opgeruimde skepsel, en kon hom ..." (p.
+41); "Hy was uit op huisbesoek, en waarmee hy toe klaar was, en weer op
+die terugreis huis toe" (p. 42). Dié snaakse gebruik van die voegwoord
+tref mens deur die hele boek aan.
+
+
+§ 4. Adv. C.J. Langenhoven.
+
+Polietikus, joernalis, digter, prosaïs en toneelskrywer is
+Langenhoven, en veral in die laaste tyd toon hy 'n veelsydige
+bedrywigheid op letterkundige gebied. Op Oudtshoorn was hy redakteur
+van _Het Zuid-Westen._ In 1911 het verskyn _Stukkies en Brokkies_, "'n
+leesboekie vir almaal en hulpboekie vir Kristelike Jongeliede- en
+Debatsverenigings". Dit is in 1914 opgeneem in _Ons Weg deur die
+Wêreld_,[252] grotendeels 'n didaktiese werk, wat egter ook verhale,
+fantasieë, samesprake, aforismes en gedigte bevat. Die verhale en
+fantasieë word hier bespreek, die didaktiese gedeeltes in hoofstuk VII.
+Die samesprake behoort tot die toneel-literatuur en die "Spesiale
+stukke vir Debatsvereniginge" (Afd. V.) kan buiten beskouing bly.[253]
+
+Op Langenhoven se belangrike aandeel in die taalstryd het Dr. E.C.
+Pienaar gewys[254]. Nadat hy 'n tydlank lid van die Kaapse Provinsiale
+Raad was, word hy volksraadlid vir Oudtshoorn. Tans is hy senator.
+
+Van hom het ook verskyn: _Die Pad van Suid-Afrika_, 'n digbundel; twee
+satieries-humoristiese verhale: _Sonde met die Bure_ (1921) en _Doppers
+en Filistyne_ (1922), wat in hoofstuk VI bespreek word; _Die Hoop van
+Suid-Afrika_ en ander toneelstukke; _Twee Geskiedkundige Opstelle_[255]
+in samewerking met G.S. Preller; in Engels: _Republicans and Sinners_ en
+_The Everlasting Annexation_. _Aan Stille Waters_, wat nou in _Die
+Burger_ verskyn, is 'n reeks artiekels oor onderwerpe van uiteenlopende
+aard. Daar is verhale, fantasieë, gedigte en bewerkings van psalme,
+gesange en Engelse liedere. Binnekort verskyn dit in die _Almal se
+Boeke_-serie, terwyl die gesange al afsonderlik uitgegee is onder die
+tietel _Afrikaanse Gesange_. _Die Eensame Hoop_ (1922) is 'n
+kinderverhaal.
+
+Ons Weg deur die Wêreld.
+
+(Afdelings II en III.)
+
+In die eerste verhaal raak Ou Verkeerde Faans "'n onvermoeide ou
+twismaker" onder die strelende warmte van die kaggel al sy kwellings
+kwyt. Maar daar sal "nie more weer vuur in die kaggel wees nie" en
+daarom moet Neef Kerneels maar dadelik die saak oor die bogslootjie
+tussen hom en sy buurman skik. _Lammetjie en Wolf_ is die verhaal van 'n
+verdwaalde kindjie, wat in die hande raak van 'n verstokte misdadiger,
+vir manslag tot lewenslange gevangenisstraf veroordeel. Klein Miemie
+verteder die ou sondaar se hart en hy bring haar terug na haar ouers.
+Die omkeer by Hans Bonsa word alleen op betogende wyse beskryf; daar is
+geen plastiese uitbeelding, soos van Miemie se dwaaltog nie, wat met
+mooi innigheid geteken word. Dieselfde innigheid tref ons in _Twee Oues
+van Dae_, waar 'n grysaard op gevoelige wyse uiting gee aan sy liefde
+vir 'n troue hond. _Die Nuwe-Jaars-offer_ is 'n verhaal van 'n jonge
+man, wat gewillig die dood tegemoet gaan om 'n medeminnaar te red. In
+die _Brief_ klink die fyn sarkastiese toon van _Doppers en Filistyne_ al
+helder op, en ook die _Sonde met die bure_-motief is aanwesig.
+"Eergister het Bertus Bakbene weer 'n straal van my beurt water gesteel
+om sy ou pattatta-tuintjie nat te maak en ek het sy jong se graaf daar
+uit sy hande geruk en hom 'n skrams raps daarmee oor die korrelkop gegee
+en toe in die uitkeerplek ingerol om weer reg te lawe" (p. 48)[256].
+Waterlei-moeilikhede gee ook in _Doppers en Filistyne_ aanleiding tot
+kostelike humor, maar Oom Stoffel moet op die dorpse bure 'n meer
+verfynde taktiek toepas. Die naskrif van die brief is 'n mooi voorbeeld
+van misplaatste moederliefde. _Die Kluisenaar van die Karro_ "kon ...
+uit elke bossie 'n preek haal" (p. 60). Dit is 'n botaniese les in
+aantreklike vorm. _Meester_ bevat skoolherinneringe. Dat meester egter
+"'n _suiwere_ Nederlandse aksent" had is onjuis, want die Nederlandse
+"e" is allesbehalwe "presies die Afrikaanse ij" (p 62).
+
+Die _Fantasieë_ begint met 'n allegorie in Bybelse styl. In die orige
+stukke is "Boet Nelie" 'n grysaard, wat soos Jonathan in _Waarheid en
+Droomen_ op weemoedige wyse aan mymer gaan. Hy het 'n hunkering na die
+ou "romantiese, skilderagtige" boereplase "met onbewerkte hoekies en
+kweek-plekkies onder 'n skaduboom om op te lê en droom" van sy kinderdae
+(p. 77). Niks is daar wat hom so treurig stem nie as die gestadige
+verwoesting van soveel heerlikheid in die natuur deur die moderne
+boerderymetodes. "Alles moet nou gelyk gemaak word--gelyk en reghoekig
+en reglynig. Die tyd van sentiment is verby: dis nou die dag van
+besigheid". Daarom gaat Boet Nelie vir laas kuier na die ou watersloot
+en hy gesels op vertroulike wyse daarmee oor die ou dae. Hy is ook, die
+vriend van die ou wa, wat vir brandhout moet verkoop word. Die sê van
+Nelie "Sy hart is so vol liefde dat daar plek is vir al die ou goedjies
+wat hy as kind mee maats gemaak het en al is hy nou 'n bejaarde man ...
+dan kom hy nog met my gesels net soos toe hy 'n kind was--met my, die
+stomme ou wa asof ek 'n mens was net soos hy" (p. 100). Die motorkar wat
+Nelie mee plaas toe ry "is 'n masien. Daar is geen siel in hom nie en hy
+roof my van my siel ook." (p. 105.) Op die ou geboorteplaas vind hy
+nêrens troos nie. "Al die ou dinge wat sy hart aan vasgekleef het en die
+metgeselle van sy skooldae en die dierbare van sy huisaltaar word een
+vir een weggeruk ..." (p. 107.) Maar die ou berg het staande gebly en
+die moet vir hom die raaisels van die lewe help oplos. "Seg my, my ou
+berg, wat is die plan van die hele besigheid?" (p. 109.) Net soos Elia
+wil hy weg wees "van die kranksinnige gewoel van die wêreld en nader
+naar die troosvolle rus van die voorportaal van die hemel" (p. 110). En
+die berg vertel hom: "dis nie die groot dinge wat belangrik is (nie)."
+(p. 110.)
+
+Op die weemoedige kadans van sy mymerstemming laat Nelie hom saggies
+voortwieg en die klare eenvoud[257] van sy volsinne, wat met rustige en
+kalme geleidelikheid mekaar opvolg is in harmoniese ooreenstemming
+daarmee. Maar die doodnugter opmerkings oor mishandeling van die maag,
+en die walging vir "insak-gansveermatrasse", waarin party mense op
+"bloedige Karro-somerdae" kruip--dit is wanklanke in die
+fantasie-atmosfeer.
+
+Blykens die voorberig van die derde druk het Langenhoven afgesien van
+"die imperfektum wat (hy) eentyd van malligheid wou invoer".[258]
+
+Eienaardig is die gebruik van "ieder 'n mens" i.p.v. iedere mens[259],
+"tussenposend" (p. 67), "'n lustige gemak" (p. 84, _Ons Weg_). Enkele
+minder gelukkige uitdrukkings kom voor: die kalwertjies wat wil laat
+drink wees (p. 15); die dik doringplate ... het begint minder te
+weergalm (p. 19); 'n groot karree-boom, _wie se_ diepgaande wortels....
+(p. 41); hy stuur hom daar haal (p. 54). Daar is 'n paar
+opslag-mangelwortels tussen die beetrye,[260] o.a.: "sonder om enige
+partikuliere persoon toe te spreek (p. 6); met 'n effe suggestie van
+rood (p. 80, _Ons Weg_); die doodskleed van die nag word ingegaar deur
+die hand ... (id. p. 79).
+
+Daar is oorspronklike beeldspraak: as verkoue en sinkings jou gelyk
+beetkry "een aan die disselboom ... en die ander aan jou briek ..." (p.
+6); maar taamlik afgeslyte kom ook nog voor o.a.: die veld ... weef 'n
+prag-tapyt op die vloer van die aardse tempel ... (_Ons Weg_, p. 29);
+die onstuimige boesem van die rivier (p. 88); om snare in die
+liefde-ontblote hart aan te roer (p. 21); die laken of doodskleed van
+die winter, (_Ons Weg_, p. 78).
+
+
+§ 5. Christian Zinn.
+
+Van Christian Zinn het in 1911 verskyn: _In Harte Verenigd_, of _Sketse
+uit die Boere-Lewe_. Dit is 'n verhaal uit die tyd van die
+Jameson-strooptog en Anglo-Boere-oorlog, waarin die skrywer geleentheid
+vind om heelwat politieke beskouings aan die man te bring. Die dapper
+held, mooi meisie en lae verraaier ontbreek nie. Die liefdesverhaaltjie
+is vol soeterige sentimentaliteit. Daar is o.a. sprake van "'n miljoen
+dralende soene"! Die historiese gebeurtenisse word oppervlakkig behandel
+en die uitwerking daarvan op die uitgebeelde persone uiters gebrekkig
+aangedui. Letterkundige verdienste het die verhaal nie, want die styl is
+onbeholpe, gebrekkig en taamlik vol anglisismes. Vir die taalkundige kan
+dit interessant wees, omdat daar soveel oorgangsvorme in voorkom. Van
+die woord _baie_ het Zinn blykbaar 'n groot afkeer; dit kom glo maar
+eenmaal voor (p. 127). As voorbeeld van taal, styl en spelling kan die
+volgende dien: Dit was net als of Suid Afrika verdoemd was om 'n
+vreselike terugsetting te kry net so's voorspoed in bereik was. Die land
+had mooi vooruit gegaan, in alle rigtinge was verbeterings te bespeure,
+kapitaal had ingevloei, en die wonderlike rykdom wat S.A. eige is, werd
+geopend, (p. 33); Sannie haar auntie Maria maak net goeie vooruitgang
+met haar jongste minnaar, 'n jeugdige luitenant die met 'n party van die
+Yeomanry uitgekom had, en die so opgenome was met die lewe in die
+uitgestrekte Karroo, dat hy met graagte daarnaar vooruitsiet om sig neer
+te set tot vee-boerdery ... (p. 132).
+
+
+§ 6. Dr. D.F. Malherbe.
+
+Vir sy lewensloop en werk kan verwys word na Dr. E.C. Pienaar se
+proefskrif.[261] Van belang is die volgende meedeling: "As 17-jarige
+knaap het hy een keer deur die Karo gery sonder om meer te sien as 'n
+vervelige uitgestrektheid van vlakte, dor en verlate. Maar toe hy in
+1907 weer in daardie omgewing kom, het dit hom magtig aangegryp. Daar
+was vir hom so 'n wonderlike geheimsinnigheid in, so 'n bekoring dat hy
+gemeen het om daar vergoed te bly. In dié stemming is sy eerste werklike
+gedigte geskrywe."[262] Vir sy prosawerk ook, is soos nader sal blyk, sy
+verblyf in die Karo van groot belang gewees.
+
+Vergeet Nie, (1913).
+
+In die nabyheid van die rustige Karodorpie, Steenburg woon die Du Pré
+famielie op die plaas Rietfontein. Oom Willem en Tant Annie het saam oud
+geword in die Karo-eensaamheid. Hul dogter, Bettie is ook 'n "kind van
+die vrye veld, 'n pragtige voorbeeld van die Afrikaner-meisie". Oom
+Willem is enigsins melankolies van geaardheid en die oorlogsgerugte
+vervul hom met 'n donker voorgevoel. "Die vuur sal brand van noord tot
+suid ... en dit is my asof ... ek die end nie sal belewe nie", so lui sy
+profetiese woorde op die vooraand van die groot kriesis. En die plegtige
+huisgodsdiens is nog nie afgeloop nie, toe Servaas Vermaak, die bywoner,
+wat dorp toe was en daar Adonis as skaapwagter gehuur 't, met die
+oorlogstyding vergoed 'n end maak aan die "rustige rus" van die
+plaasbewoners. Nie lank na Servaas kom Bettie se verloofde, Piet Marais,
+geneesheer op Steenburg om afskeid te neem. Hy is Kolonialer, maar offer
+al sy goeie vooruitsigte op om by die Boere-ambulans in diens te tree.
+Oom Willem, wat in alle sake die Bybel tot rigsnoer neem, veroordeel
+rebellie, maar heg tog sy goedkeuring aan Piet se daad, as hy hoor dat
+hy veral gaan om geneeskundige hulp te gee. Met gloeiende geesdrif
+verdedig Piet sy handelwyse teenoor Bettie se besware en peil dan op sy
+vosperd reguit Boere toe. Ons ontmoet hom weer by die Boeretroepe, maar
+nie meer as Rooikruisdokter nie, want dis al die tydperk van
+guerilla-oorlog. Piet is trots al die teleurstellings nog dieselfde
+vurige entoesias, die geswore vyand en bestryer van papbroekerigheid.
+"Nee, manne, laat ons saamstaan(,) almal wat kan tot die end." Onder sy
+invloed word die flouhartige Japie du Plooy en Oom Jan ook
+"bitter-einders".
+
+Intussen kom Bester, die beroemde rebelle-kommandant met 600 man die
+eentonigheid van 'n vervelige namiddag verdryf op Rietfontein. Bester,'n
+35-jarige man, wat tot hiertoe alle vroue met onverskilligheid verby
+gegaan 't, moet dadelik "hands-op" vir Bettie! As sy na Piet verneem,
+deel hy haar mee, dat hy weet van 'n Dr. Marais, wat vroeg in die oorlog
+aan koorssiekte dood is. Hy beloof haar om nader inligtings in te win.
+Oom Willem verwek heelwat ontstemming onder die rebellekommando deur die
+verdediging van sy bybelse standpunt aangaande trou aan die regering.
+Die volgende oggend sukkel hy dorp toe met sy eseltjies om die besoek
+van die Boere aan Kommandant Hunt te rapporteer, en loop 'n lelike
+skrobbering op, omdat sy rapport so laat inkom.
+
+Bester se liefde vir Bettie beïnvloed die bewegings van sy kommando en
+deur sy herhaalde besoeke aan Rietfontein raak die Du Pré famielie in
+die moeilikheid. Oom Willem, pas herstel van 'n swaar siekte word in 'n
+vreeslike storm dorp toe gevoer deur die Engelse. In haar radeloosheid
+bedenk Bettie 'n wanhopige plan om haar pa te red. Sy skryf 'n brief aan
+Bester, wat met sy kommando nog in die nabyheid verkeer, en laat dit
+deur Servaas besorg. Maar Adonis verklik alles aan die Engelse en as
+Servaas terugkom van sy vrugtelose tog, word hy saam met Bettie en haar
+moeder na die tronk geneem. Oom Willem en Servaas word na Port Alfred
+gestuur deur die militêre, Bettie kom agter die tralies, terwyl Tant
+Annie vrygelaat word op parool.
+
+Intussen het Dr. Marais een van Genl. De Wet se vertroudes geword en as
+Du Plooy met rapporte na die Kolonie vertrek, kry hy 'n brief vir Bettie
+mee, wat hy in Bester se hande laat. Maar deur sy poging om die brief
+aan Bettie te besorg, raak Bester gevange en word ter dood veroordeel.
+In die tronk kry hy geleentheid om Bettie te vertel, dat Piet nog leef.
+Kort na Bester se teregstelling keer Bettie en haar moeder weer terug na
+Rietfontein. Oom Willem het kort na sy aankoms in die kamp op Port
+Alfred beswyk. Na die vrede kom Piet terug om sy bruid te trou.
+
+ * * * * *
+
+Bettie word ons voorgestel as 'n ideale Boermeisie. Alleen die feit, dat
+sy haar afgeleefde ouers nie kan verlaat nie, weerhou haar om Piet se
+voorbeeld te volg en aan te sluit by die ambulans. In die gevangenis en
+teenoor Hunt gedraag sy haar kloek. Sy is blykbaar trots op die rol wat
+sy gespeel 't, en as Piet haar na die oorlog vra, of sy bereid is om vol
+te hou in die groot stryd teen die Engelse kultuuroorweldiging, antwoord
+sy met 'n tikkie verontwaardiging in haar stem: "Piet, mag jy my nog so
+'n vraag vra nadat ek _soveel opgeoffer en gely het?_"[263] Dit kom my
+egter voor asof Bettie haarself _moedswillig_ in die ongeluk gestort 't,
+en as dit die geval is dan verloor haar "offer" vir die nasionale saak
+heelwat van die heroïese kleure, wat die skrywer daarin geweef 't.
+
+Op pagina 66 staan: "Al die veerkrag van haar nasionale gevoel is deur
+die oorlog in volle beweging gekom, en niks is daar sterker by haar
+gewees as _die wens om positief te mag meedoen aan die stryd nie_. Maar
+hoe kon sy haar ouers verlaat? Onmoontlik vir haar om uit te gaan as
+verpleegster! En so is dit haar ernstige gebed geword dat sy op watter
+wyse dit God behaag 'n aandeel mog kry aan die oorlog. En as sy niks kan
+meedoen nie, dan wou sy meely met haar volk." Hoe edel hierdie besluit
+op sigself ook al mag wees, dit neem die feit nie weg, dat Bettie se
+naasbysynde plig ongetwyfeld was om vir die veiligheid van haar
+afgeleefde ouers te sorg. Maar as sy by haar vader se siekbed moet waak,
+dan spook die gedagte van deelneem aan die oorlog, wat 'n _idée fixe_ by
+haar word altyd deur haar brein: "Sou die Here haar roep om haar siek
+vader op te pas, en mag sy daarom geen deel hê aan die oorlog nie? Sou
+dit haar roeping en werk worde, beskeie en stil, _waar sy hoë aspirasies
+had?_"[264] Piet Marais se oorlogsgeesdrif en wie weet, miskien ook die
+Engelse romans, wat sy van die skool af meegebring 't,[265] het haar
+blykbaar taamlik sentimenteel gestem en haar belet om 'n nugter kyk op
+sake te behou. As Bester haar meegedeel 't, dat 'n sekere Dr. Marais in
+die begin van die oorlog aan koorssiekte dood is, maak sy allerhande
+onuitvoerbare planne--"sy sou stilletjies wegraak, te voet loop as dit
+al was, haar lewe daaraan waag, sy sou sôre, dat sy êrens by die Boere
+te lande kom, sy sou Piet soek ... en as hy waarlik dood was, _sy graf
+met haar trane bevogtig!_"[266] Die laaste sinnetjie kon wel in een van
+Feith se romans gestaan 't! Daar is trouens meer wat ons aan die
+sentimentele romans van die agtiende eeu herinner. 'n Paar ou briewe van
+Piet maak sy "met voldoening ope en lees dit in stil mymering en met die
+gevoeligheid van 'n teer vrouehart." (p. 64.) Dat Bettie "in die
+traag-skrydende ure van die nag" romantiese plannetjies uitgedink het,
+is psigologies volkome juis, maar ons is nie gewend, dat 'n flink
+Boermeisie van drie-en-twintig jaar, wat bowendien reeds op haar
+agtiende jaar "selfbewus en ryp genoeg vir verantwoordelikheid" (p. 33)
+was, dat so 'n meisie, tans die enigste[267] stut en steun van haar grys
+ouers in uiters benoude dae haar al te lank oorgee aan 'n Wertheriaanse
+sentimentaliteit nie.
+
+Bettie se volgende dade toon dat sy doelbewus, ja moedswillig alles doen
+om "'n aandeel aan die oorlog te kry"--m.a.w. sy leg die veiligheid van
+haar ouers in die waagskaal ter wille van 'n meisiesagtige gril, wat sy
+vir "hoë aspirasie" aansien! Sy weet, dat haar pa 'n swartkruis agter sy
+naam het, dat die geringste suspiesie hom in lewensgevaar kan bring en
+tog ontvang sy Bester "alleen in die sitkamer" (p. 92). Bester het
+ongetwyfeld 'n sterk indruk op haar gemaak, en ofskoon sy trou bly aan
+Piet en haarself wys maak, dat "as Piet dood is, sy ook dood (sou) wees
+vir die wêreld" (p. 90), sien sy tog verlangend uit na Bester se
+terugkeer. En nie alleen omdat sy hoop, dat hy nuus van Piet bring nie.
+Piet behou wel die ereplaas in haar gemoed, maar uit die omstandigheid,
+dat sy oorweeg wat Bester vir haar kan beteken in geval Piet werklik
+dood is, kan ons besluit dat sy persoonlikheid haar diep getref het. Sy
+redeneer so: "Sy is mos sterk genoeg, sy het Piet _te_ lief om aan enig
+ander man te dink" (p. 95). En sy doen dit tog! Bettie maak 'n kriesis
+van ernstige weifeling deur. Sy het Bester lief en al wat haar terughou
+is "die dure besef van plig en eer." (p. 99.)
+
+Oom Willem het dadelik die groot gevaar ontstaande uit die herhaalde
+besoeke van Bester ingesien en Bettie ernstig gewaarsku (p. 95). Sy het
+volkome goed geweet, "dat alle persone, wat geheime konneksies met so 'n
+gevreesde en verwenste mens het op die ongenadigste manier sou gestraf
+word." (p. 96.) Tog ontvang sy Bester nòg eenmaal alleen--sy dink nie
+aan die gevaar waaraan sy haar ouers blootstel nie, ofskoon hy haar
+meedeel dat sy stap gevaarlik is en dat die Engelse dus naby is--sy gaat
+_swygend_ met hom die sitkamer binne en steek nog daarby 'n kers op (p.
+97). Op die manier, bewerk sy haar pa se ongeluk. Kan ons haar dus glo
+as sy uitsnik: "Ag Pa, ek kan dit nie help nie, ek is net so onskuldig
+soos Pa"? (p. 102). Miskien wel; miskien was dit bloot vroulike
+onversigtigheid. Maar die volgende stap van Bettie--die brief wat sy aan
+Bester skrywe--is alleen verklaarbaar as 'n moedswillige poging om
+haarself "'n aandeel aan die oorlog" te verskaf. Sy kom tot die
+konklusie, dat alleen Bester haar pa kan red. Het sy gemeen, dat hy die
+Engelse moet agtervolg en Oom Willem terugbring plaas toe? Moes Bester
+vervolgens Rietfontein verdedig teen die Engelse oormag? homself, sy
+kommando en die vrouens laat platskiet ter wille van één man? Of moes hy
+die afgeleefde, sieklike grysaard, teen die se eie wil saamsleep op sy
+swerftogte? In haar opgewondenheid het hierdie eenvoudige oorwegings nie
+by haar opgekom nie en in haar naïewe geloof aan Bester se al-sterkheid
+skryf sy aan hom--'n impulsiewe daad--psigologies volkome juis. Maar
+haar moeder se opmerking, dat haar plan gevaarlik is, bring haar nie tot
+nadenke nie. En plotseling blits dit deur haar gedagte: Nou kan ek my
+"hoë aspirasies" bereik--sy kry die "besef ... dat sy self in die
+draaikolk van gebeurtenisse begin meedans. Was dit dan nie altyd haar
+ernstige versugting nie?" (p. 107). Juis, sy is lank al moeg vir die
+eensame lewe op die plaas, waar sy al meer dan 'n jaar opgesluit sit.
+Haar romantiese siel smag na dade van durf en intussen suggereer sy
+haarself, heeltemal ter goeder trou, dat sy alles doen om haar pa se
+ontwil!
+
+Maar Servaas is die man, wat haar tot rede sal bring! Hy weet meer dan
+sy: "Die vlakte, die bossies, dit lewe van duisende kakies so na Vaaldam
+se kant toe. Die hele wêreld is vanaand vol van hulle." (p. 110.) Hy
+erken: "dis byna verniet om so iets te probeer en daarby gevaarlik." (p.
+109.) Helaas! Arme Servaas verloor ook àl sy gewone boere-nugterheid--hy
+kan "die vurige pleit van 'n skoon jonkvrou" nie weerstaan nie! En hy
+gaat jou waarlik waar op die dollemansboodskap uit, ofskoon sy vrou
+uitdruklik verklaar dat dit "gek mense se werk is om so iets te doen"
+(p. 112).
+
+By 'n nugter beskouing van die feite moet ons kies tussen twee
+opvattings: (1) òf Bettie is ten spyte van haar drie-en-twintig jaar nog
+maar _'n bogkind_ soos Janetta haar noem, wat met die grootste
+onversigtigheid haarself, haar ouers en Servaas in die ongeluk stort, òf
+(2) in 'n toestand van radelose opgewondenheid maak die _idée fixe_ "om
+haar deel aan die oorlog by te dra" haar onbekwaam om die simpelste
+logiese gevolgtrekking te maak. In albei gevalle word dit dan egter
+onmoontlik om haar handelwyse as 'n onselfsugtige, edele daad te beskou
+en verloor haar =offer= sy grootse betekenis. Soos Malherbe haar geteken
+'t kan sy nooit as heldin, as die "moedige Boermeisie met haar sterk en
+besliste karakter"[268] beskou word nie. Sy is eenvoudig die slagoffer
+van haar kinderlike onnoselheid of van haar "hoë aspirasies", wat ons
+medelyde opwek, en die bewondering vir haar kloek gedrag in die
+gevangenis word getemper deur die bewussyn, dat dit alles onnodig was,
+terwyl ons haar bowendien met reg kan verwyt, dat sy haar ouers en
+Servaas met sy famielie in die ongeluk gestort 't--ja selfs die dood van
+haar vader verhaas het. Bettie, soos die outeur haar wil voorstel, is 'n
+psigologiese teenstrydigheid.
+
+M.H. van Campen het die raak opmerking gemaak, "dat kunst het
+_zichtbaar worden der noodwendigheid in 't, voorgesteld gebeuren_ ten
+gevolge heeft, en dat het blijken dier noodwendigheid de schóónheid van
+'t _voorgesteld gebeuren_ uitmaakt."[269] Dit is juis die sigbaarwording
+van die noodwendigheid, wat ons in Bettie se "offer" mis. Malherbe het
+een van die mees dramatiese momente in sy verhaal laat glip. Hy gee ons
+self die gegewens vir die uitbeelding van 'n geweldige konflik: aan die
+een kant Bettie se geheime liefde vir Bester, die bestaan waarvan sy
+self nog nie wil erken nie; daarmee saamgevleg die hoop, dat hy haar
+iets omtrent Piet Marais sal kan meedeel en bo-op dit, haar kriewelige
+ongeduld om na 'n jaar van gedwonge niks-doen eindelik haar lang
+gekoesterde plan om aktief op te tree in die oorlog uit te voer. Aan die
+ander kant: die besef dat dit haar plig is om terwille van haar ouers en
+as verloofde van Piet, wat miskien nog leef alle omgang met Bester te
+vermy. As Bettie in só 'n konflik eenvoudig haar naasbysynde plig gedoen
+'t, dan sou ons haar _ook sonder om te weet_, dat sy dapper was in die
+tronk, as 'n heldin kan bewonder.
+
+_Vergeet Nie_ is 'n aaneenskakeling van dramatiese tonele, waarin die
+oorlog voor ons geestesoog verbytrek. Sonder veel verandering sou dit
+dan ook moontlik wees om die roman om te werk tot 'n toneelspel, waarin
+daar wel veel aksie, maar weinig botsing van hartstogte sou voorkom Ons
+kry 'n indruk van wat daar gewoel en gekook het in die hart van die volk
+gedurende die oorlogsjare, van die lyding van vrouens en oumense, van
+die dapperheid van die Kolonialers, die laagheid van die _National
+Scouts_, die vervolging en plaery onder die krygswet. Maar by die
+beoordeling van die boek moet ons een faktor veral nie veronagsaam nie:
+dit naamlik, dat die teenswoordige geslag nog in meerder of minder mate
+_onmiddellik_ betrokke was in die gesketste gebeurtenisse, dat daar
+tallose herinneringe van die groot oorlog nog lewe in ons bewussyn. Dié
+herinneringe word deur die skrywer in dramatiese verhoudinge gegroepeer
+en iedereen kan dadelik uit sy eie ondervindinge analoge gebeurtenisse
+rekonstrueer. Dit versterk die indruk wat die gelesene op ons maak
+honderdvoudig. Die skrywer roep ou halfvergete impressies uit hul
+wegkruipplekkies te voorskyn. Op onbewuste wyse vul ons self die verhaal
+aan, en so kry dit op laas 'n aktuële kleur, 'n sterk geprononseerde
+persoonlike karakter, wat die leser tot in die diepste roersele van sy
+siel beweeg, maar wat die verhaal _op homself nie besit nie_.
+
+Ek noem een voorbeeld om my bewering te verduidelik. Die teregstelling
+van Bester herinner ons dadelik aan Kommandant Scheepers. Die
+oorspronklike ontroeringe, veroorsaak deur die tragiese uiteinde van
+Scheepers, versterk die indruk, wat die soortgelyke lot van Bester by
+ons verwek en raak daar gedeeltelik mee geïdentifiseer. Die gevolg is,
+dat Bester-Scheepers in die roman 'n werklik lewende persoonlikheid vir
+ons word.
+
+Maar nou ontstaan die vraag: Is Bester, wanneer ons ons persoonlike
+ervarings heeltemal uitskakel, nòg 'n lewende persoonlikheid, ontroer
+die wyse waarop Malherbe hom uitgebeeld het ons dàn nog? Dit is die
+enigste wyse waarop ons die kunswaarde van _Vergeet Nie_ vir die
+_nageslag_ kan bepaal, want oor 'n tagtig of honderd jaar, sal die boek
+nie meer in so 'n voordelige posiesie verkeer nie, dan kan dit alleen
+nog profiteer van die nasionale oorleweringe van die groot stryd. En
+selfs dìt sal die boek nog 'n groot voorsprong gee, want by 'n volk met
+'n kragtige bewussyn word die nasionale helde uit 'n vergange
+glanstydperk altyd met 'n stralekrans van heilige aanbidding versier.
+Dit is bekend dat _De Geuzen_ van Onno Zwier van Haren lank as 'n
+kunswerk van die hoogste skoonheid beskou is, eenvoudig omdat dit 'n
+nasionale onderwerp behandel.
+
+Maar ons keer terug tot Malherbe se karakteruitbeelding en vraag: Wat
+weet ons nou eintlik van Bester? Hy is 'n bekwame en dapper kommandant,
+wat verlief raak op Bettie. As hy hoor, dat haar verloofde nog leef,
+besluit hy na enige stryd om haar dit mee te deel. In die hof verdedig
+hy sy handelwyse op hartstogtelike manier en gaat sy dood tegemoet soos
+'n held. Alleen by die beskrywing van sy laaste dae kry ons enigsins 'n
+blik op sy sielelewe en die totaalindruk bly vaag. Bester is sonder
+lewensdoordringing geteken, daar is niks indiwiduëels, wat hom tot 'n
+duidelike persoonlikheid maak nie.
+
+Piet Marais eweso. Hy is 'n tiepe van die ontwikkelde Afrikaner, wat
+deur 'n vyfjarige studie in Europa sy insigte verruim en sy lewe verdiep
+het. Hy het daar "jare van worsteling" gehad, hy moes dikwels "met smart
+afskeid neem van oortuiinge wat (hom) in vlees en bloed oorgegaan (was)
+van (sy) kindsheid af." Hy was 'n ernstige soeker na waarheid, wat uit
+ou tradiesies en nuwe wetenskap vir homself 'n eie lewensbeskouing
+gebeitel het. In die karakter van Piet lê seker 'n stukkie
+outobiografie, maar in 'n oorlogsroman was daar geen kans vir 'n
+psigologiese uiteenrafeling van hierdie interessante fase in die
+ontwikkeling van die Afrikaanse student nie. Ons wag nog op die
+kunstenaar, wat die botsing en gedeeltelike samesmelting van die
+Afrikaanse en Europese kultuur moet uitbeeld.
+
+Ons verneem ook nog enige besonderhede van Piet se oorlogservaring en
+hoe hy verlang na Bettie. Maar 'n lewende persoonlikheid, met wie ons al
+die wisselende stemminge van die awontuurlike kommandolewe deurvoel,
+word hy nie.
+
+Ook Tant Annie bly 'n vae figuur. Op Bettie het sy blykbaar geen invloed
+nie. Selfs aan Hunt was dit duidelik, dat sy geen aktiewe rol kon speel
+nie en die treurige gebeurtenisse slaan haar dan ook heeltemal terneer.
+
+Oom Willem is met meer liefde geteken. In sy bybelvasteid, sy afkeer van
+pronk en na-apery is hy 'n tiepe van die Afrikaanse boer. Ons verneem
+dat "dors na kennis hom aangespoor (het) tot selfopvoeding", maar uit
+die opgawe van sy biblioteek blyk, dat dit hoofsaaklik godsdienstige
+kennis was, waar hy na gestreef 't. Hy bly getrou aan die Engelse
+regering, omdat sy godsdienstige oortuiging hom leer, dat rebelleer
+sonde is. Maar, as hy later persoonlik kennismaak, met die onregverdige
+taktiek van die Engelse, laai sy haat op teen die vyand van sy volk en
+kry hy simpatie met die rebelle. _Vergeet nie_ is die plegtige boodskap,
+wat hy aan Servaas gee op sy sterfbed.
+
+Bester, Piet Marais en Tant Annie is karakters, wat _getiepeer_, maar
+nie psigologies _gekreëer_ is nie. Die skrywer staan te veel met sy eie
+ekheid tussen die objektief beeldende teksdele, hy mis die gawe om sy
+gegewens tot 'n saamgegroepeerde eenheid te bring, om sy persone
+heeltemal objektief van uit hul eie innerlike wese te laat lewe. Deur
+die subjektief deurleefde werklikheid vleg hy sy eie beskouings en
+daardeur verdwyn die realiteitsillusie. Die roman word 'n
+aaneenskakeling van dramatiese momente, maar geen epiese struktuur,
+waarin die ganse sielelewe van 'n groot tydperk in sy gehele menslikheid
+tot een grootse beelding samesmelt nie.
+
+As Piet Marais oorlog toe ry hoor ons: "Dis die eerste rit vanaand van
+'n besielde Kolonialer na 'n slagveld wat so groot sal word soos byna
+die gehele beskaafde Suid-Afrika, na 'n oorlog wat nie sal oortref word
+in gemene gruweldade nie ... ens." (p. 22). Dit is wat Malherbe weet,
+maar Piet was tog geen profeet nie. Op hinderlike wyse dring die skrywer
+homself hier op die voorgrond.
+
+Sy historiese kennis verwerk Malherbe presies soos De Waal. Op pagina
+52-54 staan 'n lang oorsig van militêre gebeurtenisse en op pagina 63-64
+'n uiteensetting van die toestande onder die krygswet. Alleen deur 'n
+betoog kan hy die nodige atmosfeer vir sy verhaal skep. Só kry ons geen
+begrip van die dramatiek van die worsteling nie.
+
+Soms egter slaag Malherbe daarin om deur pittige plastiek die leser
+direk te tref. 'n Voorbeeld daarvan is die mooi kommando-toneeltjie in
+hoofstuk X, waar 'n lewendige dialoog ons dadelik op hoogte van sake
+bring. Die brief uit die konsentrasiekamp met sy bemoedigende woorde:
+"Gaan voort, want ons saak is reg en God sal ons nie verlaat nie" laat
+ewe ons gemoed tril en ons sien die duisende vroue in geduldige lyding.
+'n Oomblik later vaag die nugter vraag van Generaal De Wet: "Hoe is die
+posiesie?" alle droomgepeins weg. Maar as kort daarop "soos 'n magtige
+gebed waar berusting in ruis" die burgers se plegtige lied tussen die
+koppies weergalm en die generaal en sy staf met eerbiedig gebaar hul
+hoede afhaal, dan sweef ons op die klankedeining na 'n wonderland van
+heilige herinnering--dan sien ons die stoere manne "saamsing met vrou en
+kind, met vrind en bloedverwant onder gewyde dak...." Hier is innigheid
+van weergawe. Ons voel die diepe kneusing van sterk manneharte, wat op
+die nuwe dag in stille Godsvertroue wag. 'n Skrywer, wat so mooi die
+nodige sfeer met uiters gevoelige tikkies kan aandui, hoef waarlik nie
+sy toevlug tot koel-verstandelike histories geredeneer te neem nie. Hy
+hoef nie uit sy denkbewussyn allerlei verklarende toeligtings aan te
+voer nie--die leser vang dadelik die aksent van waaragtigheid uit die
+klank van sy woorde op.
+
+Maar selfs by hierdie mooi veldtablo kom die skrywer se opdringerigheid
+te pas. Hy vind dit nodig om weer blyk te gee van sy historiese kennis
+en vertel ons dat "die wêreld in kampe van blokhuise afgeperk is ...
+waaromheen swaar kolomme opereer met 'n onuitputlike gedetermineerdheid
+om die groot veggeneraal van die Boere in die reusenetwerk van bewegende
+lyne toe te wikkel".[270] Dat De Wet se gevangeneming die Boer-magte sou
+knak is 'n feit, só vanselfsprekend, dat die meedeling daarvan absoluut
+oorbodig is, vir ons _èn vir die nageslag_. Mens sou ewegoed 'n Fransman
+daaraan kan herinner, dat Blücher en Wellington vir Napoleon wou vang by
+Waterloo!! As die skrywer die orige informasie tog wou meegedeel 't, dan
+moes hy dit so in die dialoog gevleg 't, dat ons dit nie voel as 'n
+opsetlik skoolmeesteragtige opmerking nie.
+
+Gebrek aan plastiek is daar in die volgende sinnetjie: "In 'n
+omsientjiestyd is die welkom bevel uitgevoer." (p. 135.) Dit is 'n blote
+konstatering, wat by die leser geen impressie van die handeling wek nie.
+En juis in die vorige sin slaag die skrywer daar pragtig in om deur die
+herhaling van die woord _afsaal_ 'n duidelike gehoorbeeld te suggereer.
+"Afsaal", klink dit deur die rye, "afsaal tot ver agteruit en rondom".
+Ons hoor hoe slaperige burgers met sware basstem mekaar die woorde nasê,
+totdat die klankeketting dreun in die agterste gelid. Maar in plaas van
+die gehoorhallusinasie te verinnig deur die geskuifel van die saals, wat
+met dowwe plof en stiebeuelgerinkel op die aarde bons, kom die skrywer
+met sy niksseggende verklaring: "In 'n omsientjiestyd is die welkom
+bevel uitgevoer."
+
+Nog so 'n geval vind ons op pagina 13. "Dit kan stil, ontsettend stil
+word op Rietfontein. In die middel van die dag kan dit gebeur dat daar
+geen lewensteken te bespeur is nie." Uit so 'n beskrywing blyk duidelik,
+dat die outeur nie _in_ die toestand is nie, maar praatjies _oor_ die
+toestand maak. Hoeveel mooier is die beeld waarmee hy ons dadelik die
+stilte en eensaamheid op Steenburg laat voel--die dorp, "waar alle
+geluid en rumoer van menslike bedrywigheid nietig wegsterwe _soos die
+breek van 'n dun, droë takkie in 'n ontsaglike woud_".
+
+Dan is daar nog iets wat hinderlik is in die kommando-toneel. Japie du
+Plooy is "deur die invloed van Dr. Marais tot 'n waaghals en onvermoeide
+verkenner _omgetower_." (p. 138.) Ook al "in 'n omsientjiestyd"? Vir so
+'n sielkundige bolmakiesie het mens 'n ouderwetse toordokter nodig en ek
+twyfel of Piet dié kuns in Duitsland geleer 't.
+
+Daar is nog meer voorbeelde van die neiging van die skrywer om hom
+tussen sy verhaal en die leser te plaas. Servaas kom die dorp ingery op
+die 12de Oktober 1899. Dan kry ons in enkele raakgetekende lyne 'n
+pragtige ets van Steenburg en omgewing,--maar dit is nie _Servaas_, wat
+die dorp so sien nie--dit is _Malherbe_. Ons loop nie saam met Servaas
+onder die peperbome nie. Nee, die skrywer sit op een van die koppies en
+peins oor die "sukkel-werksaamheid" van klein mensies en die
+wyd-omhemelde velde, waarin die dorpie "soos 'n nouliks sigbare stippie"
+wegsink. Intussen vergeet ons Servaas totaal, verdwyn alle
+realiteitsgevoel. Malherbe vertolk die gedagtes van sy persone deur _sy_
+lieriese parafrase in plaas van die gedagtes self, in hul eie taal te
+gee.
+
+Op pagina 34 word die gang van die verhaal onderbreek deur die volgende
+opmerking: "Arme Bettie en Piet, watter reggeaarde sou nie medely hê met
+julle nie, ..." en op pagina 46 roep hy uit: "O, die wonderlike gawe van
+heerlike ontboeseming aan die mensekinders gegee, ..."
+
+Bettie se innerlike lewe word soms op fyn-psigologiese wyse deurvoel.
+Haar tobbery oor die lot van die geliefde, die nuansering van haar
+gevoelens by die verskyning van Bester, die manier waarop sy wik en weeg
+wat hy vir haar sou kan beteken ingeval Piet werklik dood is, dit is
+treffend uitgebeeld. Maar haar karakter word onwaar, omdat ons nie kan
+glo aan die egtheid van haar "offer" nie. Ook die tekening van Oom
+Willem is aandoenlik in sy egte menslikheid. Maar die groot betekenis
+van _Vergeet Nie_ as literere kunswerk lê nie in die karakter-tekening
+of komposiesie nie, maar in die styl met sy sterk persoonlike aksent.
+
+Malherbe se prosa is byna heeltemal vry van vreemde invloed. Dit is
+prosa met 'n eie ritme, prosa waarop 'n fyn digterlike waas rus. Hy
+beskryf nie alleen die uiterlik van wat hy sien nie, maar dring deur tot
+die innerlikste wese, sodat ons die geur daarvan kry. Die skroeiende son
+brand ons deur die hele boek, ons sien die stowwerige dwarrelwinde op
+hul grillige togte oor die vaal Karovlaktes. Al die wisselende
+natuurtonele het die skrywer diep ontroer--die skaduwees van die swart
+wolke, langsaam skuiwend oor die jong skaapbossies, wat "soos dwergies
+koes"; die plasreens, wat neerbons met woeste geswiep, die langgerekte
+kettingligte wat geheimsinnige tekens aan die swart hemel skrywe. Op
+Rietfontein het hy die witgeswelde arms van die vyelaning gesien, "waar
+die jong vye soos klein kindervuisies aan uitloer"; Steenburg teken hy
+met 'n paar uiters fyn penseelstrepies--die "rustige Karodorp, dromend
+in selftevredenheid en wyd omwoon deur slapende koprande wat in
+donkerbruin pantser en ylvaal groei uitgebeiteld rus teen die ewig-blou
+hemel aan."[271]
+
+Sonder aarseling vertolk die digter die fantastiese skyn wat die dinge
+in sy oog aanneem; sy impressionistiese beelde tril en bewe van jong
+lewe. Sy metafore is nie spoggerige blinkgoed, wat as versiering van
+buite opgeplak is nie, hul sit vasgegroei in sy skepping, wel spontaan
+op uit sy onbewustheid. Adonis se ou baadjie is "lewensmoeg en klaar met
+die wêreld", die kleurevariasie van sy gelapte ferweelbroek is "soos 'n
+bont mensesee by 'n wedstryd waar die son sy ligte glans oor heenstrooi
+op 'n vrolike somermiddag". So gee Malherbe ons telkens met 'n paar
+raak-etsende woorde 'n verrassend-nuwe kyk, en haal hy skoonheid selfs
+uit die flenter-ploiings van 'n ou Hotnot. Op die plaas het hy die
+"dowwe basmusiek van die ooie, swaar van dreuning nes dié van 'n
+aanstormende vloed afgewissel deur indringende skreenote van die
+lammertjies" gehoor; hy het die kalwers stofdraaie sien maak as hul
+onbekommerd die jong dag ingaan. Die swaar reendruppels spat teen die
+vensterruite "of jy ertjies saai"; die westewind, "die hoopbederwer van
+die Karoboer ... vlie tussen die wolke in en skeur hul uiteen met
+dreunende en druisende gebaar. Wild klop hy hulle uiteen, die swaar
+gepakte wolkemassas _soos 'n geoefende hanteerder van 'n sweep 'n digte
+klomp vee_, totdat hul uitgedun heenseil, een-een wegsmeltend onder sy
+verskroeiende asem, en die lug weer vry neerblou in die hittige
+sonstrale."[272]
+
+So magtig is die indruk van die natuur op die skrywer, dat hy al die
+wisselende stemminge van sy persone met 'n stukkie natuurviesie
+deurwewe. As Servaas "vol van vrees vir die toekoms" teen "die vaal
+hange uitslinger met sy kar", dan lyk "die swygende rande so naar, so
+onvriendelik nes dreigende ongediertes", dan ry hy op 'n pad, wat
+"spookagtig wegslinger tussen die donker swartkoppe in." Wanneer Piet
+Marais wegry van Bettie oorlog toe, dan is dit donkermaan, dan sing "'n
+byterige Oktoberluggie 'n klaende sangetjie" in sy ore. En as Bettie hom
+agterna kyk dan straal "die blinkende sterre met oë van genade op 'n
+verbroke vrouehart" neer. By haar ontwaking die volgende oggend "lê die
+sonnegoud heilig en skoon soos 'n glimlag van Gods genade" op tafelrande
+en koppies. Vir Japie du Plooy en sy maats is die rooi lug 'n
+onheilspellende teken. Die westewind laat Bettie huiwer; "net so wreed
+en meedogenloos soos die stofstorm daar buite heenbruis, so het die
+omstandighede ook met haar lewe gespeel!" Wanneer Oom Willem weggevoer
+word van Rietfontein hang "'n afgryslike weer in die lug" en na die
+storm ruis die sagte buitjies "soos 'n vreedsame verontskuldiging vir
+verbygegane wreedheid" neer oor die onskuldige grysaard. En die vroue op
+die plaas voel "of die natuur selfs geen simpatie en gevoel vir hul leed
+had nie." Oor die kindertjies van Servaas "gly die sonstrale van 'n
+koninklike somermiddag beskermend en seënend." Oom Willem sterf saam met
+die ondergaande son en die geruis van die see is 'n plegtige dodeklag".
+Wanneer Bester sy doodvonnis hoor, sien die son "soos 'n rustige god in
+spraaklose medely op 'n toneel van menslike leed" neer. By die
+uitvoering van die vonnis kom die son weer "net agter verre rande uit
+... terwyl rondom die _ligfontein_ 'n bloedrooi halwe maan ver in die
+blou uitsirkel. _Betyds gekom om bloedvermaak te aanskou_". Hier egter
+kry ons die indruk, dat die son en die bloedrooi maan daar =met geweld=
+bygesleep is. Veral die gekursiveerde sinnetjie bederf die stemming,
+terwyl die omskrywing "ligfontein" banaal is.
+
+Wanneer Piet en Bettie na die oorlog op die klipheuwel by Rietfontein
+sit, dan "_treur_ ook die son in sy bloedrooi vlieserige omhulsel, 'n
+weerglans van die bloed wat vergiet is op die Afrikaanse velde", maar
+enige oomblikke later as hul twee siele "saam(vloei) in 'n heilige
+vervoering van onvermengde geluk, van toekomsdrome en toekomsweelde" dan
+"skemer die laaste _glimlag_ van die ondergegane son in roerlose stilte
+uit...."
+
+_Vergeet Nie_ begint met die son en eindig met die son. Meestal slaag
+die skrywer daarin om met sy digterlike viesie op die natuur sy
+stemmingsbeelde te verinnerlik, maar dit word ook soms bloot _manier_.
+
+Naas eg-Afrikaanse beelde, wat getuig van fyn waarnemingsgawe kry ons
+egter ook flou-geryde uitdrukkings soos: "Verder het hy die sleutel
+waarmee hy onmiddellike toegang tot Bettie sou verkry", (p. 69); Bester
+is oortuig van sy "onblusbare liefdegloed" vir Bettie (p. 96); Aan Oom
+Willem het die willekeur sy skaamtelose hand geslaan (p. 149); Bester
+het sy vonnis in die gesig gekyk soos 'n marmerbeeld (p. 186); die
+maatskappy, waarvan hy 'n bruikbaar lid geword het (p. 17); vanaand sal
+'n nog bitterder leed haar siel deurboor (p. 19); Daar brand 'n vuur,
+daar gloei 'n drif, 'n hartstog wat geen stormvloed sal uitdoof nie,
+daar setel 'n beslistheid wat die teerste bande nie sal verander nie.
+(p. 22). En so staan hy daar voor Servaas as 'n toonbeeld van goeie
+voornemens.... (p. 7); ens.
+
+Ook onvervalste retoriek: Die suiwer suiderhemel met sy ontelbare
+_flikkerbronne_ ... 'n _klanklose(?) prag van lewende juwele_ gesaai oor
+die grondelose _boesem_ van die lug, ... (p. 44); 'n gloeiende naald
+boor langsaam deur sy siel, agterlatend 'n smal baan van verskroeide
+lewensvreugde (p. 44)--'n beeld wat positief walglik is.
+
+Dan vind ons ook nog uitdrukkings, wat onduidelik en onbeholpe of
+minstens vreemd is: Bettie is besig om met haar eenvoudige musiek "die
+grond_toon_ van haar lewensgeskiedenis te _vertel_ (p. 73); die _trek_
+van verwyt in haar vader se woorde (p. 105); 'n woord wat wreed sou val
+op die tere _bodem_ van plegtige liefde ... (p. 38); Bettie is die
+_voorwerp_ van die liefde (p. 18); Dit is of sy beperktheid oor homself
+weggegroei ... het (p. 195); Bester met sy listige planne en
+parmantigheid moes in die _hand_ kom, ja selfs op sy _lewe_ was dit
+gemunt, waar kleurlinge in diens van Sy Majesteit hul _lewe_ moes
+_prysgee_ onder sy _hande_! (p. 161); Bester "met sy onverskrokke
+_bende_ (p. 161);[273] program (p. 31); _aan_speling i.p.v.
+toespeling[274] (p. 77 en 90); vuurgeveg (p. 140); Daarheen word gestuur
+wat in die oë van die Engelse outoriteite as lastige pro-Boer-mense
+_verskyn_ het ... (p. 151). Alle kommunikasie met die distrik (is)
+afgesny en handel _tot 'n nietigheid afgedruk_ (p. 82); sommige
+oomblikke voel dit hom of sy verstand hom begewe onder die invloed van
+gedagte (p. 150).
+
+_Waagmoed_ is 'n ongelukkige neologisme; _wikkelwakkel_ is ontleen aan
+Guido Gezelle se gedig: "_Bonte Abeelen_" "Die Dood se grillige
+_ont_klemming" is geen Afrikaans nie. (p. 154). 'n Voorbeeld van lelike
+klink-klank staan op p. 175: Dit was 'n beleefde voor_spel_ van die
+treur_spel_." Malherbe is trouens nogal lief om kort op mekaar, soms in
+een sin dieselfde woorde te gebruik. So kry ons tweemaal _toevallig_ op
+p. 99; warrel op p. 65; huis op p. 17, skynbaar op p. 18, nou op p. 14.
+
+Gevoel is maar al te dikwels _gemengd_--'n stereotiepe niksseggende
+uitdrukking: (p. 24) daar woel 'n mengeling van gevoele in haar siel;
+(p. 66) 'n warreling van gemengde gevoel.
+
+As 'n kunstenaar ons vertel dat iets _onbeskryflik_ is, dan is dit 'n
+belydenis van onmag of 'n retoriese reminisensie. Enige voorbeelde: (p.
+65) Wie beskryf haar sielelyding ...; (p. 44) met 'n onbeskryflike krag;
+(p. 46) die onbeskryflike weelde van onbeheerste gevoel.[275] Op p. 34
+kom nog 'n ouderwetse slim draaitjie voor: "Bettie is toe na haar kamer
+gegaan en ... wat sy daar gemaak het, sal iedereen wel weet wat van
+meisies kennis het"! En wat moet ons dink van die "arme student wat met
+'n _verskeurde_ hart en _verslae_ gees moet afskeid neem van sy
+_dierbaarste op aarde_ en dit vir baie lang tyd"! (p. 34).
+
+Afgeslyte uitdrukkings ontstel ons in dubbele mate by Malherbe omdat sy
+stylkuns oor die algemeen deur so 'n innige, suiwer-eenvoudige woordkeus
+beheers is. Ons voel dat hy gesoek het na die alleen-juiste woord en
+dikwels klink daar 'n harmoniese toon in sy geïndiwidualiseerde sinsbou.
+Hy wou méér gee, dan 'n gewone amusementsroman en as een van die eerste
+_kuns_-uitings in prosa sal sy werk steeds van belang bly. Hy het die
+joernalistieke vaalheid uit ons taal weggevaag deur sy fleurige beelde,
+ontleen aan Afrikaanse veld en lug, en daarby besit hy as digter 'n fyn
+gevoel vir woord- en klankwaarde.
+
+Ten spyte van die foute in sy styl en komposiesie hang _Vergeet Nie_
+soos 'n klein druiwetrossie in die groen wingerd van ons letterkunde.
+Die beelde met hul Karo-omwaasde ongereptheid is die wynkleurige
+korrels, mekaar verdeukend in die transparante ronding van sappige
+swelling, wat die tingerige steeltjies in hul liefdegroei bedek. En wie,
+stil-gelukkig, die korrels een vir een in al hul sonnegeurende
+sappigheid geproef het, sal ook die tere stingeltjie nie àl te wreed
+vergooi nie.
+
+
+§ 7. Mej. Chris. C. Euvrard.
+
+Van Chris. C. Euvrard, onderwyseres in Rhodesië het drie novelles
+verskyn: _Twee Susters, Lena_ en _Twee Broers_. Haar werk word hier
+alleen vermeld, omdat aan _Twee Susters_ in 1914 die eerste prys
+toegeken is in die jaarlikse wedstryd van die Akademie. Dit is van geen
+letterkundige belang nie, en bevat oorlogsondervindings in onbeholpe
+skoolmeisies-styl. Ter tiepering 'n enkel staaltjie: "Lena was skaars
+onder die _seil_ uit, toe een van die wagte wat by die wa was, vir haar
+vra of hy die _seil_ sal aftrek. Lena sê ja en in 'n paar oomblikke was
+die _seil_ af en kon almal weer lug kry. Die _seil_ was maar net af van
+die wa, toe 'n offisier daar kom. Hy begin met mev. van Eeden en tant
+Sannie te _praat_, en terwyl hulle nog _praat_, kom 'n paar soldate ook
+by die wa en begin ook met die meisies te _praat_." (_Twee Susters_^2,
+p. 45.) Die redakteur van _Die Brandwag_ het in Des. 1918 nog verklaar,
+dat ofskoon haar werk oppervlakkig is dit "veel daartoe by(dra) om
+leeslus op te wek by die wat anders nooit 'n boek sou opneem nie" (p.
+214). Vir die taalstryd mag dit dus miskien wel van enige betekenis
+gewees het.[276]
+
+
+§ 8. Joubert Reitz (1880-1919).
+
+Joubert, 'n seun van President F.W. Reitz is gebore op Bloemfontein in
+1880, kort na die slag van Majoeba. Daarom het sy vader Generaal Piet
+Joubert gevra om sy peetoom te wees. Met die oorlog van 1899-1901 het hy
+dadelik aangesluit by die Pretoria-kommando. In 1900 het hy gedien onder
+Kaptein Heinrich du Toit en terwyl hy in die Soutpansbergse distrik siek
+lê aan die koors, het die Engelse hom gevang en na Bermuda gestuur.
+
+Na die vrede is hy met twee broers Madagascar toe, maar omdat dit daar
+nie na hulle sin was nie, het hulle teruggekom na die Transvaal. Joubert
+het hom toe as prokureur op Potchefstroom gevestig, waar hy in 1919
+oorlede is.
+
+Van hom het verskyn twee romans: _Die Dolosgooier_ (1916) en
+_Beproewing_ (1918). Vir die Potchefstroomse koerant het hy dikwels
+gedigte en prosastukke geskrywe, meestal van grappige aard. Onuitgegee
+is 'n reeks artiekels oor "_Oom Fanie_ en sy ervarings met 'n maai- en
+vliegmasjien."[277]
+
+Die Dolosgooier.
+
+Frits Kok, 'n Johannesburgse klerk gaan na die diamantvelde by Bloemhof,
+maar die groot geluk bly weg. Gedurende 'n aanval van moedeloosheid wil
+hy vertrek, nadat hy op die stasie "'n sterretjie" gesien het, maar sy
+kaffer gooi die dolosse en die se voorspelling blyk juis, want Frits kry
+'n paar mooi diamante. Nou trek hy weg om sy "sterretjie" te gaan soek
+en al gou blyk dit, dat sy die dogter is van Harvey, met wie hy 'n
+vennootskap gesluit het. Met Collins het hy op Bloemhof moeilikheid
+gehad en dié strooi nou skinderpraatjies uit, want hy het ook 'n oog op
+die "sterretjie". Collins slaag daarin om 'n fabelagtige skat uit
+Sekekoen se kafferstad te roof, maar hy beswyk aan 'n wond op die
+hoëveld, waar Frits hom nog eers verpleeg. Frits laat die kaffers £5000
+betaal vir die verlore diamante en die dolosgooier se twede voorspelling
+kom ook reg, want hy sluit Maria in sy arms.
+
+Beproewing.
+
+Hierdie roman is meer of min op dieselfde plan gebou as _Die
+Dolosgooier_. 'n Doodgoeie jonge man word vervolg deur 'n gewetelose
+skurk, maar na baie moeilikheid triomfeer die onskuldige, word
+plotseling skatryk en trou met die meisie, terwyl sy mededinger deur 'n
+koeël uit die weg geruim word. Die ekspediesie na Duits-Suid-Wes en die
+opstand vorm die agtergrond van die verhaal; 'n vervalste tjek gee
+aanleiding tot verwikkeling en die spanning oor die erfenis word deur
+middel van 'n naamsverandering tot die ontknoping bewaar.
+
+ * * * * *
+
+Teen sy sin en oortuiging het die skrywer deelgeneem aan die
+Duits-Wes-veldtog. Die raamwerk van _Die Dolosgooier_ het hy in 'n
+militêre gevangenis geskryf, want hy het in die hande van die Duitsers
+geraak. Later het J.H. Malan, die "Oom Fanie" van die voorwoord dit
+persklaar gemaak, onvoltooide gedeeltes verder uitgewerk, taal en styl
+verbeter, kortom die hele boek oorgeskryf met behoud van die
+oorspronklike intriege.[278] Dat die aandeel van die bewerker taamlik
+groot was, blyk uit 'n vergelyking met _Beproewing_, waarin taal en styl
+so sleg versorg is, dat die verhaal feitjik onleesbaar is. Dit krioel
+van anglisismes en alle moontlike foute. Reitz had aanleg om 'n
+spannende intriege inmekaar te sit, maar sy uitdrukkingsvermoë was
+hopeloos swak. Selfs na die skawery van die bewerker het daar in _Die
+Dolosgooier_ soveel oorgebly, wat onbeholpe is, dat van letterkundige
+verdienste weinig sprake is, ofskoon dit deur die handige toepassing van
+Afrikaanse motiewe seker tot die beste van ons awontuur-romans behoort.
+
+As voorbeeld van die kreupel styl en taal kan die volgende dien: "Frits,
+hoewel 'n jonge, onervare man, terwyl hy nog onder sy komberse half-sit,
+half-lê, naar die pragtige natuurprent kyk, gedronge om die natuurskoon
+in oëskou te neem en, daar hy 'n dorpenaar was, moes tot die konklusie
+kom ... ens. (p. 17); Harvey ... had die saak van die likwidasie moet
+laat vaar.... Harvey het dit so haastig aangeneem, dat die kêrel had
+begin te dink...." (p. 105). Anglisismes groei ook nog geil: (Hy) moes
+van skool om sy eie lewe te verdien (p. 4); ons geluk is uit (p. 26); hy
+begin te voel dat die grappie nie die kers wêrd was nie (p. 146), ens.
+
+Op p. 3 is daar al 'n toespraak tot die "troue geagte leser" en
+dwarsdeur die verhaal bly die skrywer aan die woord. Collins, Hooper en
+Petrus is tiepes van die bekende volbloed skurke. In _Beproewing_ neem
+die politiek 'n groot plaas in. Die skrywer sê self: "Maar laat ons
+liewer nie van die dinge praat nie, anders word die verhaal 'n politieke
+vlugskrif...." (p. 97), wat dit dan ook teen die end werklik word.
+
+
+§ 9. Jochem van Bruggen.[279]
+
+J. van Bruggen is gebore te Groede in die provinsie Zeeland, Nederland,
+op 29 September 1881. In 1892 het sy vader hom in Johannesburg gevestig.
+Aan die Pretoriaanse gimnasium het Jochem begint verse maak oor die
+Voortrek. Die Anglo-Boere-oorlog het 'n end gemaak aan sy studie en vir
+sewe maande was hy op kommando, totdat hy, by die oorgawe van
+Johannesburg vasgekeer is. Van toe af moes hy vir homself sorg en in
+plaas van ingenieur te word moes hy lewe van die geringe verdienste, wat
+'n agentskantoortjie aan 'n onervare jong man in daardie tyd kon gee. Na
+die vrede het hy in 'n wassery die gestrykte wasgoed in pakkies
+opgemaak, boordjies getel, ens. Maar dit kon hy nie uithou nie. Hy het
+uitgebars die veld in, ruimte toe en by sy boesemvrind G.J. Oosthuizen
+op Steenkoppies gaan woon. 'n Tydlank was hy daar onderwyser aan die
+C.N.O. skool. 'n Debatsvereniging en koor het onder sy leiding gebloei,
+terwyl daar ook van hom toneelstukke opgevoer is. Sy volgende
+onderneming was 'n tabaksbesigheid, wat hy met sy vrind Oosthuizen
+opgerig het. Aanvanklik het alles goed gegaan, maar later, veral deur 'n
+konneksie met 'n uitgeslape seun van Israel het die besigheid 'n totale
+mislukking geword, met die gevolg dat albei in 1909 diep in die skuld
+was. In _Ouboet_ is o.a. 'n sydelingse herinnering aan hierdie episode,
+wat vir 'n tydlank sy letterkundige aspirasies heeltemal gesmoor het. In
+1912 het hy sy Voortrekkerverse weer verwerk, maar kon geen uitgewer
+daarvoor kry nie. In 'n wedstryd van _Die Brandwag_ het _Die
+Praatmasjien_ in 1914 'n prys gehaal en van toe af het Van Bruggen sy
+koers gekry.
+
+In 1917 het sy roman _Teleurgestel_ die Hertzogprys van die Akademie
+behaal en in 1920 is sy kort verhale onder die tietel _Op Veld en Rande_
+gebundel. Van 'n nuwe roman, _Ampie_ het twee hoofstukke in tydskrifte
+verskyn. "As boer moet ek in hierdie swaar tye net my kop gebruik om die
+boerdery agtermekaar te hou, wat my werk as skrywer uitermate belemmer",
+skryf Van Bruggen na aanleiding van _Die Burger_ se enquête. _Die
+Burgemeester van Slaplaagte_ het in die serie _Almal se Boeke_ in 1922
+verskyn.
+
+Teleurgestel,
+
+is 'n roman uit die Anglo-Boere-oorlog. Die Boere van Waterval en
+omstreke is besig met skyfskiet as die veldkornet hulle kom
+opkommandeer. Dirk Liebenberg het sy afgeleefde ouers na die kruitbadjie
+by Waterval gebring en op 'n wandeling deur die kloof probeer hy om
+Maria Brinkman oor te haal om sy vrou te word. Sy gee egter die voorkeur
+aan haar ou speelmaat, Gys, wat as gevolg van 'n speelse opmerking van
+haar die kordaatstuk uitvoer om 'n blom op 'n gevaarlike krans by die
+waterval te pluk. By dié geleentheid word Gys en Dawid, Maria se broer,
+deur Swartbooi, 'n geheimsinnige potteskuurder in 'n spelonk gelei, waar
+hy vir hulle dolosse gooi en somber voorspellings oor die naderende
+oorlog maak.
+
+Na vyftien maande kom 'n kommando nuwejaar vier op Waterval. Dirk
+koester hands-op-planne, wat afstuit op die idealisme van die vrouens.
+Later vind hy geleentheid om met Stols en Greef, wat graag hul famielies
+wil besoek stilletjies af te swenk van die kommando. Hy trakteer hulle
+op 'n paar goeie doppe "perskesop". Stols is 'n swak jabroer en laat hom
+maklik oorhaal, maar Greef ry met sy maats se perde terug kommando toe.
+Dirk vind Maria nog onhandelbaar en sluit in groot verbittering by die
+Engelse aan, waardeur hy sy pa se dood veroorsaak, Stols sukkel terug
+Boere toe, maar laat in sy verbouereerdheid sy geweer agter, wat die
+vyand aanleiding gee om die woonhuis op Waterval af te brand. Deur Dirk
+se verraad word Gys en Dawid vasgekeer in Swartbooi se grot, waaruit
+hulle met moeite ontsnap. Gys word later gewond, die vrouens raak in die
+kampe, maar na die vrede trou Gys met Maria, en Dawid met Elsie Greef,
+terwyl Dirk 'n suiplap word.
+
+In _Teleurgestel_ het Van Bruggen sy oorlogservarings verwerk. "Hy het
+die verwoeste plase gesien na die oorlog, en hy het geluister na die
+ondervinding van die _Bittereinders_, na die verhale uit die tyd toe die
+Engelse oor Steenkoppies en omgewing hot en haar getrek het en uit die
+droewe tyd van Johannesburg se renbaan."[280] Swartbooi se prototiep was
+"'n verdwaasde ou kaffer, wat die Hartleys--daardie tabakmagnate--se
+kombuisgereedskap geskuur het, dag vir dag in 'n driffie en as 'n
+malmens geskreeu het party nagte as hy rondloop."[281]
+
+In _Die Burger_ het Van Bruggen verklaar: "In ooreenstemming met my
+vorige werk, sal my strewe bly: 'n afbeeldsel van die lewe soos ek dit
+gewaar, wat duidelik sal staan in die skynsel van romantiek."[282] Nou
+is "romantiek" juis een van die terme wat moeilik definieerbaar is, maar
+Van Bruggen wil blykbaar te kenne gee, dat hy geen realis in die enge
+betekenis van die woord is nie. Is die opvatting juis, dan gaan hy van
+dieselfde beginsel uit as meer dan een kunstenaar van betekenis. Johan
+de Meester sê b.v. "En als ik iets als onbelangrijk voel--als een ding
+dat me niet interesseert--dan is 't het realisme, dat aan de loutere
+beschrijving zonder meer van een brok werkelijkheid z'n volle kracht
+geeft. Dat zou ik nooit kunnen doen."[283] Cyriel Buysse verklaar: "De
+beschrijving van een realiteit is toch heel iets anders dan die
+realiteit.... Als de artiest niets aan de werkelijkheid toevoegde, zou
+hij geen artiest zijn. Het beschrijven van détails zonder meer, zooals
+Van Deyssel wel eens heeft gedaan, daar voel ik niets voor. Dat kan ik
+niet mooi vinden. "L'âme des choses", zooals de kunstenaar die voelt,
+moet uit zijn werken spreken."[284] En Is. Querido verklaar met die
+grootste stelligheid: "Ik moet met mijn innerlijk leven ingaan op de
+dingen ... ik kan de dingen niet klein zien: ik moet ze vergrooten,
+doorlichten ... ik moet er heelemaal door vervoerd worden ... =Ik heb
+niets aan de realiteit=!"[285]
+
+Ofskoon ons Van Bruggen se beginsel dus kan aanvaar, lei sy
+ver-romantisering dikwels tot 'n sodanige vermooiing en opsiering van
+die werklikheid, dat die egtheid van sy figure in die gedrang kom. En
+daarvan sê Querido: "Elke willekeurige fantastische belichting van 'n
+werkelijkheidstafereel ... wordt valsch maakwerk, onechte,
+gedrochtelijke romantiekerij."[286] Swartbooi met "sy dwalende brein,
+wat sy lewe so vol misterie maak" (p. 195), sy geheimsinnige grot en
+orakeltaal is seker romanties geteken, maar wek skeptiese bedenkings van
+ernstige aard. Gys en Maria op wie ook 'n sterk romantiese skynsel val,
+bly vir ons vae figure. Stols daarenteë, wat deur sy jabroer-geaardheid
+geen aanleiding tot romantiekerige vermooiing gegee het nie, is deur 'n
+raak-realistiese uitbeelding tot 'n lewende mens geword, wat ons nie
+maklik vergeet nie. Arme Liepie met sy "bang-oormekaar-kyk oë", seer rug
+en orige knipmes ken ons deur en deur. Nog 'n ander byfiguur, Moeder
+Greef met haar laslappies en ou-mens gemaal is met trekkies van
+boetserende fynheid geteken, terwyl Luikes Greef met sy droë humor ook
+goed geslaag is.
+
+By die uitbeelding van Dirk Liebenberg gee Van Bruggen 'n psigologiese
+uiteenrafeling, maar sy afkeer van die skepsel van sy eie verbeelding is
+só groot, dat dit hom nie geluk om onpartydig teenoor die figuur te
+staan nie. Sy haat vir die walglike kreatuur het hom verhinder om
+heeltemal op te gaan in Dirk se psiege. Reeds in die eerste hoofstuk
+verraai hy deur 'n kwasi-twyfel sy vooroordeel. "Ons huiwer om hom so
+wreed te beskuldig, _want ons ken sy verlede nie in besonderhede nie_.
+Miskien sal die toekoms 'n gedagte aan die moontlikheid daarvan
+regvaardig."[287] Nou weet ons al: Dirk gaan die sondebok word, en die
+ongeregtigheid word dan ook by wavragte op hom gelaai! Maar let wel, Van
+Bruggen sèlf _ken sy verlede nie in besonderhede nie_. Hoe kan so 'n
+persoon nou ooit fel-lewend vir ons word? Met 'n sug van verligting neem
+die outeur afskeid van hom: "En so het ons klaar met Dirk" (p. 219). Hy
+het só boos geword, dat hy hom, na 'n paar kwaai trappe vir ou-laas, uit
+sy verhaal bons! Dit word mos bruilofstyd en daarby pas Dirk, die
+suiplap met sy "valse gryns" nie. Maar dis 'n oplossing, wat ons nie
+bevredig nie. Geslaag is die figuur nie, ofskoon daar telkens brokke
+treffende analiese is. Maar meestal neem Van Bruggen teenoor Dirk die
+houding van 'n bestraffende regter aan. "Kan 'n wolwe-aard so gou
+verander in skape-gedweeheid; 'n dwingeland in 'n oë-dienaar ...?" (p.
+12). 'n Oomblikkie tevore het hy nog gehuiwer "om hom so wreed te
+beskuldig", maar nou is sy vonnis al gevel. Juis die bo sy onderwerp
+staande gevoelloosheid verhinder hom om 'n warm-menslike omtrek aan die
+verraaiersfiguur te gee. Later word Dirk dan ook eenvoudig as 'n
+_besetene_ uitgebeeld. "Die fluisterstem van sy gewete sterf in die
+diepte weg, wat Satan bliksemsnel met misdaadplanne vul" (p. 145). By
+die dood van sy moeder kry hy 'n "laaste kans" (p. 191). "Dis een van
+die momente, waarin 'n goeie gees, so hom die tyd gegun werd om tot die
+harde hart van Dirk deur te dring, 'n ander mens (van hom) sou kon
+maak". Gelukkig bly ons die koddige psigologiese gedaanteverwisseling
+bespaar!
+
+Soms gaat Van Bruggen so op 'n paar tree van sy persone af staan en
+bepeins dan hulle toestand. Gys is "in strak starend gepeins" (p. 216).
+En dan roep die outeur uit: "O watter gedagtes! So sterk nog as in sy
+volle kragtyd ...." ens. Daar is nog meer sulke hinderlike ingrypsels
+van die outeur. "Die leser wat onsigbaar agter Dirk aangestap en oor sy
+skouer geloer het ... Dirk is te ongeduldig om die kamer rond te kyk,
+maar ons kan dit nog net doen, vóór die aandskemering ons dit belet" (p.
+23).[288] Dit is verroeste romantegniek van die jaar nul! Dat Van
+Bruggen egter 'n plastiese gawe van geen geringe betekenis het nie,
+bewys die welgeslaagde toneel, waar Liebenberg vir Greef en Stols wil
+oorhaal om die wapens neer te lê.
+
+'n Weemoedige klaagtoon van verdrietige berusting deurhuiwer die ritme
+van Van Bruggen se styl in _Teleurgestel_. Die smart oor verlore
+onafhanklikheid en die droewige herinnering aan oorlogsleed tril na in
+somber klanke. En teen die end word Van Bruggen moeg vir die trommelslae
+wat "die doodmars deurdof". "'n Lange sombere storie ... ons wil hom
+deurhardloop" (p. 222). Tog klink daar soms 'n skaterlag; as die kakies
+retireer vir 'n rollende pampoen (p. 173) en Greef vir Stols laat
+"handsop" (p. 156). 'n Paar mooi kindertoneeltjies beloof iets vir die
+toekoms.
+
+Opvallend is die gebruik van koppelwoorde soos:
+knutselwerk-uitdenk-vermoë (p. 230), swaai-arm-beduie (p. 9),
+goudblom-oorlaai (p. 20), droomglans-dowwe oë (p. 195). 'n Enkele maal
+word daarmee 'n mooi effek bereik, maar meestal gee die oorvloedige
+aanwending 'n indruk van gesogtheid, terwyl baie saamkoppelings in stryd
+met die taaleie is. Die voorliefde vir lang-asem sinswendings versterk
+die sware klank van sy prosa, wat met afgemete pas moeisaam voortbeweeg.
+En daardeur ook hoor ons telkens dissonante b.v.: "Van onder oop, het
+hoëveld se voor- en najaarsstorme daardeur gestroom en binne die lang
+huise opgestuiwe in die smal-langwerpig drukke reghoek-ruimte, waar die
+lewe in en uit rumoer na sy hokkies, en kinders spelend raas,
+natbesweet" (p. 221). Tog het Van Bruggen deurgaans 'n fyn gevoel vir
+woordklank. Telkens kry ons brokkies van sinne, wat in gereëlde
+versritme vorentoe gly; "en vínnig word haar stáp, ofskóon sy dralend
+peíns oor wóndervraág...." (p. 77). Maar ons stuit ook op klinkklank:
+"terwyl sy _rol_-oë die kamer vergenoeg deur_rol_" (p. 114); _Al kante
+uit_ wil hy koers vat, so rol sy uitpuil oë _al kante uit_ (p. 149); dat
+drie ... by die _val_ hulle eie _val_ sal vind (p. 194); dit _beslis_
+die twyfel van die _onbesliste_ goeie man (p, 150).
+
+Koppelwoorde en sinsbou gee aan Van Bruggen se styl 'n moderne cachet.
+'n Allersnaakste indruk maak daarnaas, die ouderwets-retoriese taal,
+soos ons die ken uit die Hollandse predikante-literatuur van vóór 1880,
+wat ook nog dikwels van Suid-Afrikaanse kansels gehoor word. 'n Knagende
+wee, wat die hart verteer (p. 86); Daar drup dit in sy hongerige siel
+heilsame lafenisdruppe en sy gedagte sien, as deur hemelse ingewing ...
+(p. 83); wat alles die plegtige oomblik verhewe maak (p. 67); 'n Sug ...
+tower 'n nuwe gevoel in sy boesem (p. 51); 'n swarte afgrond ... gaap
+(p. 76), ens. Dit krioel ook van sulke domineesterme soos: hartsvriend
+(p. 202), hartebodem (p 76), brandende gemoed (p. 50), tomelose hartstog
+(p. 126), geestesoog (p. 57), skoonste hemeldeug (p. 80), ens.
+
+En hoe deftig paradeer Van Bruggen met 'n hele kommando holrug perde!
+Dit is perde wat al meer as 'n halwe eeu nie meer "pylsnel oor die pad
+sweef" nie (p. 70), dis ou doodgemoorde knolle, wat skaars nog 'n
+vuiliskar kan trek. Gys is die "eweknie van Dawid in geesdriftige
+opwerping van oorloglugkastele"; daar is in die kloof "'n reusemagneet"
+wat hom trek (p. 56); "Die ontboeseming was as 'n warme son, wat die
+yskors ontdooi" (p. 82); "toegedekte liefde (het) haar windsels
+afgegooi" (p. 99); Die liggie lei hom soos 'n vuurtoring die ... skip
+(p. 167); aan bande gelê (p. 169); ens. Gelukkig kry ons tussen die
+muwwe, onpersoonlike beeldspraak so 'n enkele keer 'n fris veldwindjie:
+As Swartbooi die plaasmense sien wegvoer deur die kakies dan is "die
+lewe wat in sy oë kom blink, ... soos die ... in 'n koei se oë, wat wild
+oor die kraalmuur kyk, wanneer haar pasgebore kalfie hok-toe weggedra
+word", (p. 196); "die stryd teen onsigbare wapens ... soos mambas in die
+ruigte" (p. 192); "Af drif toe ... kom 'n groot tentwa aangeklop" (p.
+7). Daarnaas kry ons egter weer sulke badkamer-beeldspraak soos: Maria
+"aarsel niks om 'n doeltreffende bekoeling uit te giet nie oor sy
+brandende gemoed"! (p. 50); "Of 'n vloed yskoue water oor hulle rugge
+uitgegiet word, so laat, wat agter is hulle ril" (p. 65). Ook
+onsmaaklike triwialiteite soos: "Daar is geen druppel bloed meer in
+Stols se neuspunt nie; dis alles weggestroom na die midde van sy romp
+..." (p. 157).
+
+In sy natuurbeskrywing is Van Bruggen onbeholpe en soms banaal. Hy
+skerm met groot woorde wat volkome retories en aandoeningloos van
+algemeenheid is. "Die _skone dal_ lê voor die perdelose ruiters in
+_volle somerweelde_. Die ou opstal lyk so _skilderagtig_.... Ook is dit
+of die _skouspel_ hom _hipnotiseer_.... Die ganse moot brei uit _in
+sombere somerweelde_" (p. 126-7). Sulke niksseggende frases laat ons
+heeltemal koud. Nie deur die woord _somber_ ontstaan die indruk van
+somberte nie. Die somberte-emosie moet hy in beeld bring, moet hy ons
+laat aanvoel deur plastiese trekke. Maar hy verswak nog meer die indruk
+van sy frases deur te praat van "die lentegroen, (wat) in jeugdige
+ydelheid wou spog ..." En dan vervolg hy met valse, ondeurvoelde
+beeldspraak: "Uit egaal donkergroen _spreek_ nou éénselfde stemmige
+gedagte, waar uitgeswelde rypheid elke deeltjie van die _ernstige_
+boskasie herinner aan verwelking." Dit is viesie-verknoeiing. "Die
+stemming deel sig onbewus mee aan die twee ..." Juis, _onbewus_, want
+hoe dit gebeur bly vir ons 'n raaisel. En dat Stols en Dirk albei in
+presies dieselfde stemming geraak, is papier-psigologie! Daar is nog
+meer holle frases: "Dieselfde voorjaarsagtermiddag het ook sy
+toweraandeel volbreng in die natuurherlewing" (p. 20). Dirk kry
+"lewens-lente-visioene"! Die voëltjies sing mooi "en dis of die ganse
+omgewing wil meedoen aan 'n _gemoedsontboeseming_"! (p. 31) "Grootse
+natuurskoon" (p. 47), "roerlose aandskoonheid" (p. 90); "dis van die
+aande, waarin natuur sy _wonderskoonheid_ wys met _stille majesteit_"
+(p. 166), "ruwe natuurprag" (p. 52); "Die lente het weer 'n jong gewaad
+oor die velde gesprei" (p. 202). En op p. 52 is daar weer "'n grootse
+gedagte, wat _setel_ in die lower-woestheid". Die gedagte spring van sy
+"setel" af en hou 'n netjiese prekie in die tale Kanaäns. "Dis 'n
+plekkie, wat mensekindere wil goedmaak en verhef bo wêreldse
+nietighede," ens.
+
+Duisterheid is dikwels die gevolg van die retoriese opblasery. "Die
+kranse voor en weerskante is hoog en amper loodreg, bedek met ruwe
+natuurprag, wat gestapel op kwynend-skemerlig en duister ... (p. 52).
+Hoe moet mens jou nou 'n voorstelling vorm van wilde plante _gestapel_
+op _skemerlig en duister?_ Op p. 32 is daar "_klanke_, wat hemelwaart
+_denk_ en dankbaar swewe, vir sparende liefde ..." Al slaan _denk_ ook
+op _gevoel_ dan is dit nog 'n onbeholpe parallelisme. Onverstaanbaar is:
+"Ligvlekke, wat die boomskaduwees werk, hou vaste lyne" ens. (p. 87). En
+wie hoor nie die gekreun van die bombastiese blaasbalk agter sinne soos
+die volgende: "Dis pynlik om die _afbreuk van geesverbystering_ (?) te
+sien, wat flou, al flouer 'n kwynend verset teen eie onmag vertoon en in
+sielsmart oorgaan ..." ens. (p. 9). Maria se "sterk gestel (het) begin
+te luister na die stem van siekte. Tallose skrikgedagtes het
+senewee-skokkend met haar liefde gespeel en bondgenoot geword van 'n
+ongesteldheid wat haar sou neerdruk ens. (p. 234-5) En daarom het die
+siekte so gesloer om uit te breek, uit eerbied vir die grondigheid van
+haar verset en heldepoge." Sy kom uit die hospitaal "met twee (!) grote,
+siel-vertolkende oë, verhewe-boeiend"! En daar is nog meer voorbeelde
+van sulke opgeskroefde woordkramery. Wat moet mens aanvang met
+taalgeknoei soos die volgende: "Humeur lê diep bedolwe onder tallose
+swaardrukkende gedagtes" ens. "'n Onmag van sy logies verstand, laat
+pessimisme die vrye teuel" (p. 82); Luikes is "oortrek deur die waas van
+sy karakter ..." (p. 35); "die inwendige Greef" (p. 36);[289] ens. ens.
+
+Die verpersoonliking van abstrakte begrippe gee aanleiding tot
+raaiseltaal en gesogte wendings. "As die _sluipgang_ van hulle
+genegenheid tuis gekom het is dit getrouheid tot die dood ..." (p. 35);
+"die koers ... waar vinnig verlange die bome deursoek" (p. 76);
+"_Hartverheffende_ momente wat _grondslag_ vir 'n toekoms lê en lewens
+bou of brokkel--kort as 'n sug, 'n fluisterwoord, 'n oogstraal as
+diamante bly skitter aan die langste lewensdraad en nog glansies op sy
+rafelpunt werp; gebonde aan seisoen nog tyd" (hoe rym dit met "kort as
+'n sug"? P.C.S.) ens. (p. 106.) Met nog een voorbeeld van Van Bruggen se
+onbeholpenheid kan ek volstaan: "Maar lewe het vasgeklem aan sy omhulsel
+met ongekende adhesie, waardeur die wetenskap verbaas, wat eers
+verwaarloos werd, omdat geen hoop bestaan het nie, met ywer die omhulsel
+onder sy behandeling geneem het." (p. 214).
+
+Die dialoog is meestal onnatuurlik-styf en soms so deftig as 'n
+redevoering. Gys sê: "Dis of natuur 'n moedwil toon om haar wonderwerke
+treffender te maak. (p. 53); Ons volksaard is opgeruimd en vol korswil,
+wat wys veral op sulke dae, waar hoop, by nuwe begin, ook nuwe ambiesie
+gee" ens. (p. 89). En hoe netjies ryg Dirk sy sinne aan mekaar as hy
+pleit vir Maria! Hy eindig so: "Die hoop sal my in doodsgevaar
+dapper-versigtig, in moedeloosheid vasberade maak en my nasie laat
+liefhê, omdat jou ideale myne sal word!" Met dié woorde vat hy haar hand
+"wat sy nie kon terug trek nie, omdat haar sielestryd _onbeskryflik_
+geword het." Dieselfde onmag om heftige emosie plasties uit te beeld
+vertoon Van Bruggen ook waar hy Dirk se houding moet beskryf: "As hy
+verneem dat sy moeder gestorwe is, _voel hy getref en kyk somber na die
+aarde voor sy voete_." (p. 191.)
+
+Die taal van _Teleurgestel_ is sterk Hollands gekleur. Woorde soos _bot,
+mat, meewarig, halfliggend, gebly_ (gesneuwel) (p. 111), _hawe, struik,
+dryn_ word dikwels aangetref. Maar ook die sinsbou is onafrikaans en
+veral die gebruik van infinitiewe vorme is storend. "Maria hunker na
+meer _wete_, nou die _skiete_ opgehou het" (p. 171). Van sulke vorme
+krioel die boek en dit gee soms aanleiding tot duisterheid soos op p.
+184: "'n wese, wat versuim tot _sy kom_". Onafrikaans is ook: "Maria en
+Elsie doen saam in die spel" (p. 91); "waarvoor diensies" (p. 6). Die
+gebruik van die vorme _hê_ en _het_ is soms verkeerd.
+
+Op Veld en Rande.
+
+In _Op Veld en Rande_ (1920) is dit moeilik om die skrywer van
+_Teleurgestel_ te herken, as die laaste verhaal, _Die Beeswagtertjie_
+buiten beskouing bly. Alleen enkele stylwendings soos "wit orkaan
+gedrewe wolke" (p. 122), en 'n paar geykte frases soos "toe twee harte,
+wat lief en leed van die wêreld verstaan, opreg ineensmelt!",
+"sielsgenot" (p. 109), "hartsgevoel" (p. 28), "hartetaal, vol gloed" (p.
+59), herinner aan die manier van _Teleurgestel_. Hier ook geen
+romantiekerige opsiering, maar onvervalste werklikheid. Hoe raak en
+eenvoudig-waar word Sitman, die "meeldiaken" met sy "ongebleekte
+kussingsloop" nie geteken nie! Hy is die man, "wat sit waar hy sit",
+"die elfde plaag" (p. 27). Soos Van Bruggen hom geteken het met sy
+astrante indringerigheid, altyd kunsies bedenkend om tog maar nooit aan
+die werk te kom nie, sy windmaker-praatjies wat eie nietigheid moet
+bedek, sal die bywonersfiguur lewe in ons letterkunde. Hy staan vlak
+voor ons met al die flenters van sy verslegting. Hoe goed is nie geteken
+sy poging om tog nog 'n skyn van vernaamheid te ontleen aan die
+reputasie van sy onbekende "ouboet Karel van Staanderton se distrik". En
+die dialoog is so spontaan--dis die lewende terugbeelding van egte
+gesprekke sonder retoriese byspinsels van die outeur. Hoor maar ou
+Sitman se gesanik: "Nou ja! ek hoor toe gister ... of was dit eergister
+... nee dit was gister, dit wil my nou goed byval--Willemse het gister
+hawer gelaai--ja dis reg, dit was gister.... Nou ja, ek hoor toe gister
+by Oom Andries dat meneer de Klerk altemit iemand sal nodig kry om hand
+by te sit" (p. 23). Hoe raak is ook die bywoner se hele persoonlikheid
+geteken in die kwasi-gewigtige wyse waarop hy meedeel, dat hy "tot 'n
+besluit gekom 't" (p. 256), of as hy klaag oor die baie werk (p. 43).
+Uit so 'n paar plasties uitgebeelde toneeltjies word Sitman vir ons
+meteens fel-lewend, terwyl Dirk Liebenberg, trots al die swaarwigtige
+analiese alleen 'n toneelskurk bly.
+
+Ook "kromrug Bettie" met haar huilende kleinspan in die rokerige lug van
+die hartbeeshuis is goed getiepeer. Hoe mooi leef die moeder-instink op
+in die verdwaasde skepsel, as daar planne gemaak word om haar kinders na
+die weeshuis te stuur. Sy glo tog so vas, dat niemand anders so goed vir
+hulle sal kan sorg nie, al sit sy in die grootste ellende. "Daar is
+Driesie!... Uit die staanspoor is sy maag onderste bo!... Sal hulle
+tussen die kliprandjies rondloop om aambeibossie te soek? En dit laat
+trek? En dit vir hom ingee?--Nog nooit nie!..." (p. 54). Hoe diep het
+Van Bruggen ingedring in die kommergedagtetjies van die arme sieltjie!
+
+Die ander bywoners se mentaliteit word ook met 'n paar fors trekke
+aangedui: Willemse, die staatmaker voorman, Neef Niklaas met sy
+naïef-wysgerige praatjies oor "bestiering" en "bestuur", Gouws, die
+dwarskop. Stols, uit _Teleurgestel_ kon deur die oorlog nie in sy gewone
+lewe geteken word nie. Maar nou sien ons die bywoners in hulle daelikse
+besigheid, hulle getob oor allerlei kwellings en die wrokkende gevoel
+oor hul afhanklike posiesie. En ook hulle baas, Andries Vry, die
+konserwatiewe boer en Bybelvaste ouderling ontmoet ons.
+
+'n Enkele maal kom Van Bruggen self om die hoekie loer, op pagina 29
+nl., waar hy verstandige maar onletterkundige opmerkings maak oor
+kafferpolitiek.
+
+_Ouboet, Oom Jannie_ en _Die Praatmasjien_ is ook goed geslaag. Veral
+die lugtige verhaaltoon val op na die sware sleepgang van
+_Teleurgestel_. Daar is 'n vaardigheid in komposiesie, 'n handige
+groepering van allerlei tiepes uit die boerelewe, wat met al hul
+eienaardighede goed geteken word. As realistiese skilder van die
+plattelandslewe openbaar Van Bruggen 'n bewonderenswaardige
+deurdringingsvermoë. Stoffel Harmse, die omslagtige verteller en
+lastige buurman, met sy vervelende "jy kan vir Sarie ook vra", Oom
+Jannie en die weduwee, wat by "gebrek aan stof vir vertroulike
+konversasie hoofpersone uit geslagregisters van al twee kante opnoem en
+bespreek" (p. 101)--dit is fyn-psigologiese trekkies, wat bewys dat die
+skrywer hom ingeleef het in die mentaliteit van sy mense. Hulle
+karakter word nie bestuur deur geestige bokkespronge van die outeur
+nie, maar daar is 'n innerlike ontplooiing, wat ons direk as waar en
+noodwendig voel. Dit geld egter nie van _Die Beeswagtertjie_ nie, wat
+eenvoudig 'n nugter bedenksel is, en waar alleen Kleinbooi met enige
+lewenswarmte geteken is. Die mynwerkers is alleen met so 'n paar
+strepies toneelverf bestryk en die styl het weer dieselfde
+opgeskroefdheid as in _Teleurgestel_. Veral pagina 140 is swak, waar
+"die onmusikale Josef 'n singlus uiter", en "'n siel-treffende Engelse
+liedjie" deur sy neus gons "met omgewing-influenserende dreun"! Die
+beskrywing van die begrafnis in _Oom Jannie_ (p. 83) is ook gedeeltelik
+misluk. Die toespraak tot die "onverskillige, gevoellose ligmis" is
+heeltemal misplaas, terwyl die volgende sinne ons aan die paddas
+herinner, wat met so 'n voortreflike gawe des onderskeids die boere op
+Waterval verwelkom (p. 88). "Kyk! die osse hou op met wei, of die
+redelose vee gevoel, dat nou die tyd nie is vir sinlike lus nie," ens.
+(p. 83).
+
+In die natuurbeskrywing tref ons nog gemeenplaatse aan. "In
+lewensvolheid juig die veld-van-reuse-blare, vol frisse groeikrag,
+(wat?) met die fynste silwer blink en as diamante skitter" (p. 121). 'n
+Enkele stylwending en woord, b.v. mande (p. 21), welk (p. 112) verraai
+nog Hollandse invloed. Onbeholpe of foutief is o.a. die volgende:
+argelose boerewerwe (p. 55); voorbeeldige besef (p. 112). In sy beperkte
+moreel-voel is 'n verdrietige wens (p. 129); _myners-_ontboeseming (p.
+133); Met Sitman op die onderpunt ... gaap die reeks van bywoners en
+spring op die gros ... (p. 12) diamante te grawe wat stadig in die
+stroewe hersens vreet (p. 14); 'n Ry van arbeid (p. 15); 'n gehele
+voorkoms, wat H. dadelik kooi toe bring (p. 41), ens. Die volgende
+meditasie is van die outeur en nie van Oom Jannie nie: "Daar moet weer
+lewe kom, waar sorgvolle vlyt...." (p. 90).
+
+In die roman _Ampie_, waarvan nog net twee hoofstukke verskyn het[290]
+is Van Bruggen op sy beste. Hier laat hy ons as objektief-beeldende
+kunstenaar die lewe van die opgevoerde persone intens meeleef. Hoe
+suiwer is die weergawe van Ampie se gewaarwordings as sy maat, die esel
+verkoop word! En op wat 'n innerlik-ware toon is sy in-hom-self-pratery
+meegedeel! Los en natuurlik is die dialoog, waarin soms ewe 'n toon van
+die rou werklikheid opklink: "Ampie stamp sy simpel suster eenkant-toe:
+"Gee pad van my plek af!--Ma, kyk vir Ampie!--Ampie jy sal bars! brom
+die ma, sonder om te roer." Raak-psigologies is dit om ou "Goor Dawid"
+saam met Booyse vir sy seun te laat vermaan: "Ja Ampie, doen jou bes,
+... dis Kaffersleg as 'n mens ongeleerd bly." Hoe rats is hy om 'n
+ekskusie te bedenk as hy die kontrak moet teken: "Oom Kasper, jy weet
+die griep.... Ek het hom in my rug gehad, en my hande was daardie tyd
+glad dood, en ek het glad verleer om my naam te teken. Kom Ampie, vat
+die pen onder: ek sal bo vat."[291] 'n Enkel minder gelukkige
+uitdrukking kom af en toe voor o.a.: "Nou is hy die voortbrengsel van
+wat sy taaie liggaamstemming eis en sy sintuie."[292]
+
+Die Burgemeester van Slaplaagte.
+
+In _Die Burgemeester van Slaplaagte_ bly die opgaande lyn in Van
+Bruggen se kuns gehandhaaf. Dis 'n heel eenvoudige geskiedenis van 'n
+paar eenvoudige mense in 'n dooierige dorpie, maar Van Bruggen maak dit
+tot 'n stukkie treffende realiteit deur sy lewensware uitbeelding. Oom
+Lood wat "almelewe oorhoekse jukskeie en vrot voorslae" (p. 88) met 'n
+toegeknypte oog verkoop, is famielie van Stols uit _Teleurgestel_. Maar
+hy is met 'n dieper indringingsvermoë geteken. Ons ken nie alleen sy
+uiterlike eienaardigheidjies nie, sy lus vir 'n boegoesopie, sy neiging
+om alles voor die voet te sekondeer op 'n vergadering, maar droom saam
+met hom oor sy toekomstige kosterskap, kreun saam met hom in sy
+vadersmart. Want Lewina, sy dogter, doodmoeg vir die eentonige lewe in
+'n slaperige stofholte trek na Johannesburg. Goed is die ouers se
+instinktiewe wantroue vir die grote-stadslewe aangedui. Maar as hul
+dom-gerus oor die dogter se toestand huistoe kom, is dit tog lekker om
+so 'n bietjie te spog oor die ryk "huwelik"! Wanneer Lewina eindelik met
+haar skande terugkeer, tob haar vader oor die raaisels van die
+stadslewe, wat hy met sy onnosele Slaplaagte-logika wil oplos. Oom Lood
+is met soveel gelukkige trekke uitgebeeld, dat ons hom deur-en-deur ken.
+Die nasionale skoolmeester se skoene word toegedraai in die Engelse
+krant, waarmee Peach hom wou oortuig van die Duitse gruweldade! Van
+sulke kostelike humor is daar meer staaltjies. By Oom Lood staan dit
+vas: "Daar was net een vèrplie baklei, en dit was in een-en-tagtig se
+oorlog; en daarom het ons die Rooies toe uitgestof"! (p. 39). Van 'n
+kunstenaar, wat so diep in die psiege van 'n eenvoudige siel kan
+deurdring, kan seker nog veel verwag word. Treffend-juis is ook die
+uitbeelding van Tant Lewina, 'n eenvoudige werk-esel met tog so 'n
+gevoelige moederhart. As Boet Heina met sy plegtige waarskuwing kom,
+gaan sy sit "soos 'n huismoeder op 'n Sondagmôre se boekevat as sy
+tewens die kokery moet dophou" (p. 51). Deurtastend van geaardheid hou
+sy haar met geen gepiep op nie (p. 84) en verstaan die kuns om
+nuuskierige famielielede te troef met haar ratse tong.
+
+Ook die byfigure word met enkele raak trekke geteken, sodat die hele
+stowwerige Slaplaagte met sy bewoners helder voor ons staan. Daar is
+Pieter van Staden met sy moedelose, _don't-kêr_-stemming, omdat die
+reent nie wil kom nie, maar vol vuur op die skoolkommissie-vergadering,
+waar hy sy wysheid oor windpompe uit. Die hele vergadering is 'n mooi
+geslaagde voorbeeld van Van Bruggen se "copiëerlust des dagelijkschen
+levens". Hy hoef ons nie nog te verseker, dat 'n voorval "histories" is
+nie (p. 60), ons voel direk dat alles eg is, so noukeurig selfs, dat dit
+telkens die indruk van 'n "document humain" maak.
+
+'n Enkele maal kan hy 'n uitroep nie bedwing nie; "O, die kwaadpraat en
+kwaaddink van die mensdom!" (p. 38). Ook in die dialoog is daar hier en
+daar 'n plekkie, waar ons die skrywer, en nie die uitgebeelde persone
+hoor praat nie. So sê die meester: "Ek hoop julle sal van teleurstelling
+vrywaar wees" (p. 70), en Oom Lood: "Alles is net een infame bedrog" (p.
+101). Komies is dit om net na die beskrywing van die groot droogte te
+hoor dat "niks (voor)val wat _stof_ gee tot gesels nie"! (p. 4).
+Onduidelik is die volgende: "Op die bulteveld ... boei die eensaamheid
+deur 'n magtige bekoring die onsigbare werking van die skeppende
+Almag...." (p. 73); en slordig: "'n _Trek_ van onverskilligheid om_trek_
+haar oë" (p. 35).
+
+
+§ 10. Gordon Tomlinson.
+
+Gordon Tomlinson is gebore op Swellendam in 1889. Vir alles wat
+Afrikaans is, was hy van jongs af aan 'n sterk propagandis, sodat hy
+b.v. in die Anglo-Boere-oorlog van skool weggeja is, omdat hy 'n
+Vierkleur-ruiker in sy knoopsgat gedra het. Later het hy voortdurend
+stroebeling gehad met die Engelse hoof. Die meeste awonture, wat in
+_Deur die Smeltkroes_ beskrywe word het in Swellendam gebeur tydens die
+oorlog. Eers wou Tomlinson predikant word, maar weens 'n keelaandoening
+moes hy die plan opgee. Op Stellenbosch het hy in die regte gestudeer en
+daar het hy saam met Dr. Tobie Muller en Professor J.J. Smith een van
+die voormanne van die A.T.V. geword, en deel uitgemaak van die redaksie
+van _Ons Moedertaal_. Later het hy hom ingespan vir die Helpmekaar en
+tans woon hy in Vredefort, waar hy hom met sy eggenote aan die
+skilderkuns wy.[293]
+
+Deur die Smeltkroes, (1917).
+
+Op die dorp Vergenoeg woon Oom Gert de Bruyn, "'n egte tiepe van die
+opregte Afrikaner" (p. 4) en Van der Bijl, 'n jingo, wat "rooier dan
+rooi" is. As die Anglo-Boere-oorlog uitbreek kom daar 'n end aan die
+vrindskaplike verhouding tussen die bure, tot verdriet van die kinders,
+wat oor en weer verlief geraak 't--Piet de Bruyn op Susan van der Bijl,
+en haar broer John op Lenie, Piet se suster. Susan het egter 'n "Engelse
+modepoppie" geword en deur toedoen van Carel Nel, wat by die Van der
+Bijls inwoon raak Piet in die moeilikheid en val in ongenade by Susan.
+Verskeie awonture van Piet en John se skooldae word vertel, asook hul
+ondervindings aan die Victoria Kollege. Hulle sluit by die kommando van
+Scheepers aan en as John gevang word, slaag Piet daarin om die verraaier
+Nel te ontmasker. Van der Bijl word 'n goeie Afrikaner en tussen die
+jongspan kom alles reg, terwyl Nel so vrindlik is om in Australië
+spoorloos te verdwyn.
+
+_Deur die Smeltkroes_ het 'n sterk-propagandistiese strekking. Tomlinson
+verdedig die Afrikaanse beginsels teenoor die imperialistiese idee van
+Engelse en verengelste Afrikaners. Hy gaat te keer teen die
+verwaarlosing van Hollands op die skole, die onnasionale
+geskiedenisonderwys, die eksamenstelsel, "die oudwyfse Skotse sisteem
+alhier deur 'n Dr. Muir ingevoer" (p. 59), en "die nuwe
+kindergarten-metode" (p. 9). Hy laat "Jong Suid-Afrika sug om die
+vryheidsin, wat leef en sal leef, solank daar Afrikaners op Afrikaanse
+bodem wandel" (p. 53) en gebruik elke geleentheid om sy patriotiese
+gevoelens te lug. As pleidooi vir 'n suiwer-Afrikaanse kultuur het die
+boek ongetwyfeld waarde. Maar as roman beskoud is dit 'n mislukking.
+Behalwe die regstreekse propaganda, tree die outeur van die staanspoor
+af gedurig op die voorgrond. Hy spreek sy lesers toe,[294] vertel hulle
+wat hy met "die spelers in hierdie drama" (p. 6) gaan doen, en omdat hy
+hoofsaaklik 'n outobiografie skryf, verval hy telkens in persoonlike
+mymeringe.[295] Telkens moraliseer hy oor die dade van sy persone, b.v.
+"Arme Piet! Had hy maar geweet, wat voorlê. Gelukkig, egter, het die
+Voorsienigheid ons so gevorm, dat ons slegs vandag kan sien--en skaars
+dit" (p. 62)
+
+Ofskoon hy blykbaar sielkunde by "Pappie (saliger gedagtenis)" (p. 69)
+geleer het, blyk daar weinig van in die roman. Van kalwerliefde kry ons
+die volgende vermaaklike verklaring: "Nie 'n nooi, leser, soos u en ek
+seker al gehad het, maar een, wat jy in 'n meer idealistiese sin
+liefhet. Jy het haar lief, maar hoe, weet jy nie. Jy het haar, hulle
+ook, lief, as jy nog so jonk is, sonder dat die liefde miskien ooit
+bekend word. Dis somar liefhê." (p. 17-18).
+
+Hoe weinig begrip Tomlinson het van die ingewikkelde prosesse van die
+puberteitsjare blyk uit die beskrywing van Piet se aankoms op
+Stellenbosch. "Piet stuur 'n stille gebed van dankbaarheid op, dat hy in
+so 'n omgewing kan studeer en besluit om van die studentelewe in sy
+geheel gebruik te maak, sodat hy 'n veelsydige ontwikkeling kan geniet
+om also bes sy land te kan dien" (p. 66). Dis kastig dieselfde Piet wat
+sulke uithaler kaskenades op die dorp aangevang het! Nou is hy meteens
+'n suikersoet oompie, op wie Van Alphen 'n mooi gedig sou gemaak 't!
+
+As Piet die eerste maal in 'n geveg is, word sy gewaarwordings as volg
+beskryf: "Die eerste paar oomblikke wis Piet nie eintlik, wat om te maak
+nie. Sy hart klop vinniger, en as 'n koeël oor sy hoof fluit, koes hy
+een kant toe. Maar gou-gou het die oorlogsgees hom oormeester...." ens.
+(p. 125).
+
+Hoe oppervlakkig die psigologie is blyk uit die pogings om felle emosies
+te beskryf. As Piet onverwags op sy maat by die kommando afkom, word ons
+vertel: "Soos 'n mens maklik kan verstaan, was die wedersydse vreugde by
+die ontmoeting groot." (p. 122.) "Ons sal liewer 'n sluier trek oor die
+afskeid tussen die jong verloofde; waar die liefdegodin alheersend vir
+'n oomblik is, moet die gewone mens soetjies trap." (p. 96.) Met sulke
+praatjies maak hy hom van die saak af!
+
+Piet het die slapende Susan wakker gemaak met die vraag: "Het jy my
+lief?... Vir Piet was daardie oomblik een van die vreeslikste, wat hy
+ooit deurleef het. Dit was, asof die lot van die hele wêreld, van die
+heelal selfs van haar hart afhang. Hy hoor duidelik die klop van sy
+hart. "Is jy kwaad vir my?" fluister hy. Stadig draai sy haar hoof weer
+om, en met 'n gloed van vreugde deur sy are, sien hy 'n vrindelike
+glimlag op haar gesig. Hy buig neer, en die hele wereld verheug hom met
+Piet, as hy die eerste reine soen van die onbevlekte lippies
+ontvang...." (p. 37).
+
+Van der Bijl se bekering tot opregte Afrikaner is seker goed gemotiveer,
+maar dit is geen proses, wat as 'n _coup de foudre_ in een sinnetjie kan
+beskryf word nie. (p. 110). Presies so gaan dit met Susan (p. 112) en
+haar moeder (p. 111).
+
+In die karakteruitbeelding is daar die bekende skerp teëstelling tussen
+goed en sleg. Oom Gert is die ideale patriot, Piet en John die dapper
+helde, Van der Bijl die vurige jingo, Nel die lae verraaier. Die meisies
+is "twee beelde van deug en skoonheid" (p. 146). As Nel genoeg moeite
+veroorsaak 't om die "dapper helde" se "verhewe" karakter aan die lig te
+bring, word hy nog vir ou-laas ekstra swart gesmeer en dan eenvoudig
+uitgewip (p. 141). Dit is "merely a mechanical device for stopping
+somewhere", soos Cross tereg opmerk. "A literary form cannot exist
+without its art. If a fable may drift along at the pleasure of an
+author, with the episode thrust in at will, then anybody can write a
+novel."[296]
+
+Die swaarmoedige Piet werp hom "in wanhoop ... neer op sy bed, _wat
+skud van die storm_, wat in die siel van die onstuimige jongeling woed"!
+(p. 22). Die "edele siele" van die arm meisies word ook "deur storme
+geteisterd" (p. 134, 92), hulle droom "van rose en melk, van ongekende
+en verrukkende klanke, van ruisende strome en bedwelmende blommegeure"
+(p. 72). Die toneel op die strand tussen Susan en Piet (p. 41) is
+taamlik sentimenteel.--"Die misterie van die nag pak hul beet; en met 'n
+kleine skudding,(?) skuiwe Susan nader aan Piet.... "Piet, wat makeer?
+Waarom is jy so stil?"--"Dit weet ek nie, maar ek word so swaarmoedig.
+_Ek dink, dit is die verhewenheid van die heelal, wat my aangryp_." ...
+"Dit was asof hy met die onbekende worstel, asof daar 'n wêreld van
+gedagte hom oormeester. Naderhand, asof tot homself sprekende, fluister
+hy 'n Lied van Smart...." Die gevolg is "dat Susan bitterlik ween" en
+"met geboë hoofde keer hulle huiswaarts."
+
+Die talryke sugte in ons Afrikaanse romans vul Tomlinson onder ander met
+die volgende variëteite aan: "geskok tot in die diepste wese styg daar
+'n sug van die bodem van sy _beroerde_(?) hart--'n sug, wat 'n
+wêreldspraak was. (p. 29); Susan sug alleen die sug van die tevredene en
+die regvaardige"! (p. 116), ens.
+
+Tomlinson skryf 'n gemaklike styl, sy taal is suiwer en die dialoog
+meestal los en natuurlik. Daar is lewendige toneeltjies met rake praat
+en weerpraat o.a. p. 44-45, waar Oom Gert en sy buurman aanmekaar
+spring. Onwaar word die dialoog wanneer hy Piet, wat toe nog nie deur sy
+matriek was nie, laat sê: "Kerel, wie sal hom daar onder daardie
+mengelmoes begeef behalwe alleen die met Imperialisme besetene?" (p.
+54.) Bybelse wendings word met voorliefde gebruik, en dikwels is daar
+ook 'n predikanterige kleur, b.v. "om sy sondedaad uit te wis" (p. 30).
+Die veelvuldige gebruik van stereotiepe beelde is opvallend. "Maar al
+was hul harte bloedende, het niemand dit getoon nie. Hulle harte was
+aanmekaar gesnoer deur nuwe bande en deur 'n gemeenskaplike liefde
+teenoor hul geliefde Suid-Afrika" (p. 142). Sulke gemeenplaatse ontneem
+aan die styl alle persoonlike aksent.
+
+Onvervals retories word Tomlinson veral in sy natuurbeskrywings. "Die
+son, bloedrooi, begin hom stadig in die arme van 'n veelkleurige see te
+werp. Dit was, asof bruid en bruidegom ontmoet, albei in die fynste en
+pragtigste kledy uitgedos.... Fyn goud val oor die hele aarde en
+verfraai die skoonste _paleise_ en die armoedigste strooihuise--ens."
+(p. 40).[297] Die _paleise_ sou 'n mens aan Potsdam kan laat dink! Maar,
+die "ouderwetse woning" van Van der Bijl had ook "_honderde_ klein
+venstertjies" (p. 4). Mooi is die stemmingsvolle gedig op p. 72, met
+uitsondering van 'n enkele stoplap.
+
+
+§ 11. Adv. H.A. Fagan.[298]
+
+H.A. Fagan is gebore op Tulbagh in 1889. Van 1905 tot 1910 het hy op
+Stellenbosch gestudeer en behalwe B.A. honneurs ook die Prel. L.L.B. en
+Kerkadmissie-eksamens afgelê. Nadat hy ses maande op die Teologiese
+kweekskool was, het hy vir enige tyd opgetree as waarnemende professor
+aan die Victoria Kollege en vervolgens sy juridiese studie voortgeset in
+Londen, waar hy advokaat geword 't aan die Middle Temple en ook die
+L.L.B. graad behaal 't. In die begin van 1914 het hy hom gevestig as
+advokaat in Kaapstad. Hy was een van die eerste direkteure van die
+Nasionale Pers, 'n tydlank assistent-hoofredakteur van _Die Burger_ en
+daarna vir enige tyd professor in Hollands-Romeins reg aan die
+Stellenbosse Uniwersiteit. Tans het hy weer sy praktyk as advokaat in
+Kaapstad hervat.
+
+Van hom het verskyn _'n Eerste Digbundel, Uit 'n Studente-Album_[299] en
+'n bloemlesing _Uitgesogte Afrikaanse Verhale_ (Burger-Leeskring, 2^de
+jg.).
+
+Uit 'n Studente-Album.
+
+_Uit 'n Studente-Album_ bevat ses kort verhale, twee waarvan tot die
+komiese genre behoort, _'n Vondeling_ lyk die meeste op jeugwerk. Die
+beskrywing van Japie se ontnugtering bly aan die buitekant, en die
+melodramatiese ontknoping word deur niks voorberei nie. _Op 'n
+Vakansiereis_ en _Tableaux Vivants_ gaan baie dieper en bevat 'n
+belofte. Dit geld ook van _'n Gewone Rosie_, waarin daar iets teers
+sprokiesagtig is. Twyfel ontstaat egter aan die psigologiese
+uitbeelding, wanneer ons hoor, dat die seuntjie hom die nag voorgestel
+het "as 'n meetlose swarte ruimte, waarin jy sou dool en swerf as 'n
+verlore siel" (p. 168). Ook die volgende sin mis die kinderlik-naïewe
+toon, wat anders goed bewaar word: "Tog is daar 'n waas van
+geheimsinnige betowering oor die hele natuur gesprei" (p. 169).
+
+Fagan het 'n aangename verteltoon, 'n goedversorgde styl, wat net hier
+en daar bietjie konwensioneel word. "Die dood van sy vrou het 'n
+ledigheid in sy hart gelaat ... (p. 116); Sy was 'n sonnestraal in sy
+koue, sombere woning (p. 117); die spore van wrange sielsverdriet" (p.
+126). Erg ongemaklik moet Japie gevoel het "met 'n gloeiende vuur in sy
+brein"! (p. 28).
+
+_'n Eerste Digbundel_ bevat ook enkele prosastukke.
+
+Uitgesogte Afrikaanse Verhale.
+
+Hierdie bundel bevat negentien kort verhale van die volgende outeurs:
+Helene Oldendorf, T. Schumann, G.R. von Wielligh, Rikie Postma, F.E. de
+Villiers, C.R. Swart, Eugène C. van Wijk, Sarah Goldblatt, Essie Malan,
+Frina Roux, Marjorie Hofmeyr, Chris. Fourie, N.H. Theunissen, D.W.
+Wessels en "Veritas". Afgaande op die tietel sou mens verwag, dat dit 'n
+bloemlesing is, maar die meeste verhale verraai 'n ongeoefende hand.
+Daar is spore van diep gevoel, hier en daar 'n geslaagde toneeltjie,
+maar weinig wat ontroer deur skoonheid van segging, klank of
+uitbeelding. Die taal is deurgaans suiwer,--die skaaf van die
+versamelaar het seker daaroor gegaan--en tog is daar kreupel
+uitdrukkings soos die volgende: "Hy ken die druk van sy moeder toe hy
+(aan) haar bors _gekweel_ het (p. 22); Sy vraag ... bring haar terug (p.
+51); die vryerpaar wat hier ... staan te sug, te verwyt ... (p. 73); die
+onmeetbare landstonele van die gedagtes (p. 145); in vyftig jaar het die
+land die mantel van beskawing aangegooi (p. 147); Watter rede het u om
+nooit ag te gee aan ons uitnodiginge nie? (p. 175); Is u boodskap in
+militêre belange? (p. 198); Sy geheue hou nog 'n allerskoonste gesig en
+onwillekeurig bring hy sy hand aan die saluut" (p. 202).
+
+Die taal kon beskaaf word, maar die ouderwets-retoriese beeldspraak het
+te diep gesit. Daar is b.v. 'n verhaal van "onbreekbare skakels in 'n
+ketting deur smart gesmeed" (p. 42), waarin reeds op die eerste pagina
+onder meer die volgende staaltjies voorkom: "Oorlog is in die lug. Selfs
+die lieflike geur van die nuut-ontwaakte lenteblomme word verdring deur
+'n verstikkende reuk van kruit en rookdamp; Offers ... op die altaar van
+die nimmerversadigde oorlogsgod; die awendstond van sy veelberoerde
+lewe", ens. (p. 36). So gaan dit die hele boek deur, alles mooi
+grammatikaal korrek, maar sonder die fris geur van oorspronklikheid. Die
+dames met hul "sielvolle blou oë" sug danig baie en die wind maak nogal
+koddige maneuwers met die "geslaakte" dingetjies. "Dadelik skraap die
+nagwind die suggie op, neem dit op sy vlerke en ry daarmee weg: oor die
+velde en vlaktes, oor berge en dorpe, tot hy eindelik by 'n groot stad
+kom. Tussen die hoë geboue deur vind hy sy pad tot by 'n oop venster.
+Hier vertoef hy net 'n halwe sekonde, om die suggie van sy vlerke af te
+skud, sodat dit binne in die kamer val"! (p. 128).
+
+Van Von Wielligh is daar 'n soort politieke allegorie, waarin hy dit
+regkry om Dr. Jameson vóór die Groot Trek te laat optree. Ook nog 'n
+vaderlike predikasie oor blomme: "Eiliewe nee, laat ons hartsnare dan
+liewer weerklank vind" ens. (p. 29). Sy gehoor het so fyn geword, dat hy
+"_klap_wiekende skoenlappers" (p. 32) ontdek het!
+
+Drie verhale gebruik die Duits-Suid-Wes-veldtog en verandering van
+politieke oortuiging as motief en die meeste is dan ook geskryf tussen
+1915 en 1918.
+
+_Droogte_ van Helene Oldendorf bevat 'n belofte, _Oog om oog_ is in sy
+soort goed. Die gelukkige en treurende paartjies van die meeste verhale
+maak geen blywende indruk op ons nie, wat behalwe aan reeds genoemde
+oorsake ook gewyt moet word aan onbekendheid met die tegniek van die
+kort verhaal. "More real brains are required for the construction of an
+excellent short story than for a hundred pages of many a novel", sê
+Harry T. Baker,[300] en die uitspraak bevat seker waarheid.
+
+
+§ 12. Reenen J. van Reenen.
+
+Reenen J. van Reenen is in 1884 op Calvinia gebore. In 1902 het hy met
+sy B.A.-eksamen die eerste Koningin Victoria-beurs aan die S.A. Kollege
+behaal. Vier jaar later het hy in Amerika sy studie vir siviele
+ingenieur voltooi en na 'n jaar praktiese ondervinding op groot
+besproeiingswerke in Nebraska na Suid-Afrika terug gekeer. Gedurende sy
+studiejare het hy hom ook op taal en lettere toegelê en reeds van 1898
+af op die tekenkuns. Aan die _Brandwag_-interviewer vertel hy: "Dit was
+met die herlewing van die Afrikaanse Taalbeweging, wat in 1915/16 so
+sterk gegaan het, dat die skryflus by my opgekom 't. Ek het 'n paar
+hoofstukke prosa en verse geskrywe, wat my vrinde hier op Bloemfontein
+beval 't. Hulle aanmoediging het my beweeg om _Die Agterstevoortrekkers_
+(1917) uit te gee. Maar gedurende die voorbereiding van dié werk moes ek
+toe my ou teorie toepas: n.l. dat die poging om leeslus onder ons volk
+op te wek, sal misluk, of in alle geval baie langer sal neem eer dit met
+sukses bekroon word, as die leesstof nie geïllustreer is nie."[301]
+
+Van Reenen is ook 'n kampvegter vir die bestryding van grondverspoeling
+en het hom spesiaal gewy aan die studie van die Boesmankuns, nadat hy in
+1917 'n voordrag van die skilder Pierneef oor die inboorlingekuns gehoor
+het. Ook op die gebied van folklore het hy al interessante ontdekkinge
+gedoen. Behalwe die genoemde werk het van hom verskyn _Celestine_
+(1919), en _Verborge Skatte_ (1920), twee bundels sketse; 'n roman: _Die
+Lokaas_ (1921) en twee kinderboekies. Hy het ook baie ander werke
+geïllustreer. _Die Agterstevoortrekkers_ word in hoofstuk VI bespreek.
+
+Celestine en Verborge Skatte.
+
+Dit is twee bundels verhale, hoofsaaklik navolging van Edgar Allan Poe
+aan wie _Verborge Skatte_ dan ook opgedra is. _Celestine_ bevat
+spookstories, met een waarvan die skrywer in 1903 'n prys behaal 't in
+_The South African News_. Dié verhaal, _'n Hopie Bene_, is 'n droom,
+maar in die orige word die geheimsinnige element nie verklaar nie,
+behalwe in _Tant Annie_. James Russel Lowell het aan Poe toegeken "a
+power of influencing the mind of the reader by the impalpable shadows of
+mystery".[302] Verder sê hy: "In raising images of horror, also, he has
+a strange success; conveying to us sometimes by a dusky hint some
+terrible _doubt_ which is the secret of all horror."[303] Dit is wat ons
+grotendeels by Van Reenen mis. Sy voorstellinge is te nugter, sy
+geheimsinnigheid te deursigtig. Die subtiele realistiese illusie, wat
+Poe b.v. in een van sy beste verhale _Ligeia_ skep, lê buite Van Reenen
+se bereik. Wie b.v. Poe se nagwake by die lyk van die Lady Rowena
+vergelyk met die enigsins analoge situasie in die verhaal _Celestine_
+(p. 30) voel direk, dat dit veral realistiese uitbeelding is, wat by Van
+Reenen ontbreek. Poe verstaan die kuns om deur allerlei suggestiewe
+besonderhede 'n dodelik beklemmende atmosfeer te skep--Van Reenen noteer
+alleen die geheimsinnige feit. Die vergelyking wat Dr. Dorothy
+Scarborough tussen Poe en Hoffmann maak, pas ook op Van Reenen "His
+(Poe's) horrors have a more awful effect because he is an incomparably
+greater artist. He knows the economy of thrills as few have done. His is
+the genius of compression, of suggestion."[304]
+
+Die _Verborge Skatte_ word deur Professor Erts se buitengewone vernuf
+ontdek. Die raaiselskrif in _Die Voortrekker se Skat_ is gebaseer op die
+van Poe se verhaal, _The Gold-bug_. In _Die Kinderdief_ word gebruik
+gemaak van 'n motief, waarop Poe o.a. _The Purloined Letter_ gebou het:
+"the intellect suffers to pass unnoticed those considerations which are
+too obtrusively and too palpably self-evident. The Minister had
+deposited the letter immediately beneath the nose of the whole world, by
+way of best preventing any portion of that world from perceiving it."
+Ook in die uitwerking van die besonderhede is daar ooreenstemming.
+
+Van Reenen het 'n aangename verteltoon en sy verhale is verdienstelike
+ontspanningslektuur.
+
+Die Lokaas.
+
+Gert Vermaak, 'n begaafde weeskind word deur oom Willem en tant Miem
+aangeneem. Toe hy ses jaar oud was, kom 'n ontwikkelde Hollandse
+skeepskaptein om gesondheidsredene op die Karoplaas woon. Onder sy
+leiding word Gert so buitengewoon skerpsinnig, dat dit die
+opmerksaamheid van 'n kapitalis trek, wat hom na Europa stuur om vir
+advokaat te leer.
+
+Na sy terugkoms vestig hy hom in Kaapstad en word gou een van die leiers
+van die Boereparty. Maar die kapitalis gebruik 'n mooi vrou as lokaas,
+en by die stemming oor 'n gewigtige wetsontwerp word Gert ontrou aan sy
+party.
+
+ * * * * *
+
+Voorop moet gestel word, dat die skrywer geen poging doen om die
+geleidelik voortskrydende geestelike ontwikkeling van 'n geniale kind te
+skets nie. Hy gee alleen "'n loshangende versameling van staaltjies wat
+Gert (hom), af en toe in die laaste dertig jaar ... vertel het." Die
+skrywer is nie die objektiewe uitbeelder van 'n deurleefde werklikheid
+nie, hy is net die verteller van Gert se geskiedenis. Hy self tree
+telkens op die voorgrond, spreek "die welwillende leser" toe (p. 29), en
+voel hom kort-kort gedronge om brokkies van sy eie wysheid by die
+verhaal in te las. Daarom mis dit die warme tinteling van intimiteit,
+daarom bly die skrywer maar al te dikwels aan die buitekant van sy
+persone. "Dit lyk asof (Gert) teenoor die kaptein voel soos 'n minnaar
+teenoor sy nooientjie ... hulle gesprekke was hom heilig en dit sou
+heiligskennis wees om dit te publiseer" (p. 29). Alweer die treurige
+sluiertaktiek, 'n vyeblaartjie om eie magteloosheid as kunstenaar te
+bedek! Is dit dan nie juis die kunstenaar nie, wat met sy wondere
+intuïesie moet deurdring tot die heilige der heilige? Die uiterlike
+lewensfeite sien ons almal, lees ons daagliks in die krant, maar dit is
+die kunstenaar, wat die verborge roersele van die hart moet openbaar. Hy
+moet so opgaan in die persoonlikheid van sy figure, dat hy alles _seker
+weet_, dat hy die kleinste nuansering van gevoelens en gewaarwordinge
+kan ontleed. As hy alleen kan sê: _"Dit lyk asof ..."_ (p. 29), dan
+twyfel ons aan die egtheid van sy voorstelling. Hoe moet ons nou met
+Gert meelewe, as van die drie belangrikste jare uit sy ontwikkeling
+selfs geen "loshangende versameling van staaltjies" meegedeel word nie?
+Maar wat wèl verhaal word is, dat die _R.M.S. Tartar_ presies om vieruur
+uit Tafelbaai gestoom 't met Gert aan boord en dat hy met die _R.M.S.
+Scot_ uit Europa teruggekeer 't! Van die jong advokaat weet ons nie veel
+meer dan die plaat by p. 132 ons te sien gee nie--'n jongkêrel soos
+duisend ander--geknip uit die eerste die beste kleermakerskatalogus!
+
+Gelukkig is daar enkele gedeeltes waar Van Reenen nie alleen die
+verteller nie, maar Gert self is. Die uitmekaarhalery van Oom Willem se
+oorlosie (p. 19-20), die waterlei in die nag (p. 40) en nog ander
+toneeltjies uit Gert se kinderjare toon, dat die skrywer 'n fyn
+psigologiese insig het. Dit geld ook van die manier, waarop Gert sy
+besluit neem om Stella nie op te gee nie. Hoe treffend-juis is dit
+gesien om die nesmakende duiwe die deurslag aan sy redenasies te laat
+gee! Maar die mooi gestileerde sinne, wat Gert se dink-taal moet
+voorstel is weer van Van Reenen. Ook enkele gelukkige trekke in Tant
+Miem en Oom Willem toon, dat die skrywer 'n taamlike uitbeeldingsvermoë
+het. Maar dit is alles so fragmentaries, dat die persone tog vaag bly.
+So word die planne van die intrigerende kapitalis met dieselfde
+behendigheid as in _Verborge Skatte_ uitgewerk, maar daar is weinig
+aanduiding, dat hy behalwe draadtrekker ook _mens_ is.
+
+Gert is blykbaar 'n uitsonderingsfiguur, maar selfs so beskou, is daar
+enkele trekke in sy karakter, wat wys op 'n verdraaide psigologie. Op p.
+24 word ons verseker: "Soos 'n openbaring ... word sy volksbewussyn
+skielik gebore". Hy is nog maar ses jaar oud, maar omdat hy so 'n
+talentvolle knapie is, wil ons dit aanneem. Ongeveer ses of sewe jaar
+later hoor ons egter: "Volksbewussyn sal hy maar ontwikkel in die
+vreemde lande wat hy later sal deurreis" (p. 68). Afgesien van die
+teëspraak is die voorstelling hier absoluut vals, want daar is geen
+enkele jongeman van twaalf of dertien jaar nie wat, selfs al begryp hy
+die abstrakte idee ook, so 'n wonderlike besluit kan neem. En die
+wysgerige bespieëlinge op p. 52-53 is geen "raaisel" nie, maar eenvoudig
+gedagtes van die skrywer self, wat hy aan die twaalfjarige knapie
+opdring.
+
+As voorbeeld van die swak tegniek kan aangehaal word, dat deur die lang
+uitweiding op p. 11-12 die spelende Gertjie skoon vergeet raak. Net so
+gaan dit met die kaptein. "Ons durf darem nie langer by hierdie
+interessante woordkuns vertoef nie, want ons vriend die seevaarder wag
+nog al die tyd vir ons op die drumpel van die voordeur ..." (p. 16). Op
+p. 22 heet dit: "Maar ek loop my verhaal verby, en ons moet eers weer 'n
+bietjie terugkeer."
+
+Van Reenen het 'n los, gemaklik-vloeiende styl, wat egter weinig
+persoonliks het. Beeldspraak gebruik hy maar selde; die "verdraaide
+beeld" op p. 139 is nie gelukkig nie, en die "spatsels van die smeer van
+die misvloer" wat mens aan golwe laat dink nog minder (p. 66). Die
+"liefdesbeker" (p. 52) ken ons al van toeka se dae af! "In hierdie dae
+begin Gertjie al in brein en liggaam tamelik uitrek" (p. 39)--'n pynlike
+proses, wat mens aan die inkwisiesie laat dink! Verkeerd is: "Maar die
+werk wat hy gedoen het, gee 'n _weerkaatsing_ in sy professionele werk"
+(p. 92). Veral in _Verborge Skatte_ is die anglisismes volop. "Toe ek my
+op my ou dag geskilder het as omring deur 'n kring talryke kinders (p.
+112); om hande op die skobbejakke te lê (p. 151); Alles wys daarheen
+...; Kan ek vanaand ... met my kollega opkom?" (p. 154) ens. In
+_Celestine_ kom o.a. voor: "Gelukkig had ek nie lank te wag ... (p. 93);
+van êrens ... val daar 'n geweldige hou (p. 33); haar brood en botter
+verdien" (p. 20).
+
+
+§ 13. Léon Maré.
+
+H.L.F. Maré is in 1889 op Pietersburg gebore. Na 1902 het hy o.a. op
+Wellington en Pretoria sy opvoeding voortgeset. Maar hy moes al gou sy
+eie potjie skraap en toe het hy, terwyl hy in die posdiens was, privaat
+gewerk vir Skool-Hoër. Hy is nou amptenaar in die Uniegebou, Pretoria.
+Party van sy eerste stukke het in Nederlands verskyn. Van 1911 af is hy
+'n troue medewerker van _Die Brandwag_ gewees. Van hom het verskyn: _Die
+Nuwejaarsfees op Palmietfontein_ (1918) en _Ou Malkop_. Laasgenoemde is
+bekroon met die Hertzog-prys van die Akademie (1919)[305].
+
+Die Nuwejaarsfees, (1918).
+
+Léon Maré is een van die weinige Afrikaanse skrywers by wie die
+awontuur bysaak en die mens hoofsaak is. 'n Armsalige putgrawertjie, wat
+deur 'n harde rotsrif skade ly, 'n houtryer op weg na die mark met 'n
+vrag--sulke eenvoudige motiewe gebruik hy vir verhale. Tog leer ons Toot
+veel beter ken in die omvang van 'n kort verhaal, dan al die
+brawe-Hendrik helde van die awontuur-romans, wat hemel en aarde beweeg
+deur hul buitengewone dade. Léon Maré besit die gawe om sy karakters te
+laat lewe, só te laat lewe, dat mens hul asem op jou aangesig voel. Deur
+die tekening van allerlei uiterlike eienaardigheidjies,
+gelaatsuitdrukking, gebare, ens. sien ons hul vlak voor ons staan.
+Terselfdertyd openbaar hy in sy beste stukke 'n indenkingvermoë, wat hom
+in staat stel om selfs die fluistergeheimpies van 'n mensehart te
+verstaan, deur te dring tot die diepste kern daarvan en al die
+begeertes, stemminge en lewensaanvoelinge uit te beeld. Deur ligte
+aanwaaisels van allerlei herinneringe laat hy ons heel die verlede van
+sy figure begryp, terwyl ook die inwerking van hul omgewing plasties
+voorgestel word. Selfs waar hy romantiese gegewens kies, soos in die
+oorlogsverhale is dit tog altyd meer die mense, as hul awontuurlike
+ondervindinge, wat Maré interesseer. Met hoeveel liefde verwyl hy nie in
+_Die Kommandeer van Japie Moolman_ by allerlei besonderheidjies, die
+aanval van die waghond, die trappery op die kat, ens. Soms is sy
+tafreeltjies 'n byna dood-nugter kopie van die gewone lewe en tog
+ontroer dit omdat deur die beskrywing so iets warm-mensliks huiwer. Daar
+is b.v. die inmekaar gekrimpte Toot op die putwal (p. 152)[306] met sy
+brood en koffie; langs hom sy verkluimde seuntjie. Hoe suiwer en eg word
+die outjie se kindergedagtes weergegee! Dan weer Toot in sy huur-kamers,
+met 'n konsertiena op die knie, of besig om 'n kinderskoentjie heel te
+maak. Goed gesien is dit ook om Outa Booi na die oorlog op Japie Moolman
+se geroeste ploeg te laat afkom (p. 85). Deur sulke eenvoudige middels
+bereik die skrywer sy doel. Met tallose klein handelinge bou hy vir ons
+'n lewende mosaïek.
+
+Op iedere pagina gee hy blyke van fyn waarneming. Hy het gesien hoe
+die wind met die ou ooms se baard speel, hoe die stoffies agter 'n
+galopperende ruiter uitslaan en wegkwyn, hoe die wagvure opflikker en
+fantastiese skaduwees ronddans. Vir al die wisselinge in die natuur
+het hy 'n ope oog--vir die songetinte wolke, die wasige mis op die
+bergrande, die wondere van die sterrehemel. Ook weet hy hoe die
+steenbokkie "sy eerste bekkie vol soet gras onderuit 'n graspol"
+afknyp (p. 195), hoe die rysmiere uit hul gaatjies glip, hoe die
+muggies "in sirkels van tallose spikkeltjies wals en sigsag ... oor
+waterpoele" (p. 102). Telkens weef hy mooi stemmingsstukkies inmekaar,
+gee hy met 'n paar trekke die atmosfeer so duidelik aan, dat dit die
+werklikheidsillusie versterk.
+
+Altyd geluk dit hom natuurlik nie. Hy is te veel geneig om iedere keer
+weer te praat van _gordyn, disk, karmosyn, silhoeëtteer_, ens. Op p. 42
+las hy op storende wyse 'n kwasi-astronomiese opmerking in: "Die klein
+fonkelende sterretjies is ligte van die eindelose Planete-wêreld ..."
+ens. Grotendeels misluk is ook die tekening van Annie Bester voor die ou
+harmonium: "In die voorhuiskamer, voor 'n oopgetrekte vensterraam ..."
+ens (p. 37-38). Uit allerlei klein besonderhede blyk dat Maré die
+toneeltjie alleen as toeskouer beskryf.[307]
+
+In _Die Nuwejaarsfees_ word die vrolikheid van 'n klomp olifantjagters,
+met forse trekke geteken. Die kaskenades van Oom Klaas, wat 'n ankertjie
+egte brandewyn op slinkse wyse bespring, is goed beskryf. _Annie Bester,
+Japie Moolman, Freek en sy perd Bles_ behandel episodes uit die
+vryheidsoorlog. In _Wrange Vrugte_ word 'n geeerde volksraadslid deur
+kindergebabbel en die afskietery van klappers op Krismisaand aan sy
+verraad in dieselfde oorlog herinner. Die skets gee blyk van 'n goeie
+psigologiese insig. Die afskeid van voortrekkers aan Dassieshoek in die
+ou Kolonie en die rit van Frans Malan om die laers vir Dingaan te
+waarsku, word in twee sketse beskryf. _Die Stem van die ou
+Kafferkraal-Murasies_ is 'n poging om die mentaliteit van 'n
+Soeloesoldaat te teken, 'n poging, wat herhaal word in _Soeloe-Eer_ uit
+die bundel _Ou Malkop_. _Moebie_ vertel van die tobbery van 'n
+kaffermoeder oor haar seun, wat toevalle kry en _Joggem Helberg_ is 'n
+jongkêrel, wat in 1863 deur leeus verskeur word. Die eerste druk van
+_Die Nuwejaarsfees_ het ook nog bevat 'n retoriese beskrywing van 'n
+storm, wat met reg by die twede druk weggelaat is. Drie nuwe verhale,
+_Wrange Vrugte, Moebie_ en _Joggem Helberg_ het daarvoor in die plaas
+gekom, terwyl tallose taal- en stylverbeteringe gemaak is.
+
+Onvoldoende taalkennis gee Maré se werk 'n lelike knou. Hy maak foute,
+wat skooljongens kan verbeter. Sy interpunksie is swak, sy spelling
+treurig. Hy skryf b.v. _lysels, geoeffende, vors_ (fors), _vergaarderde,
+gesannikie_, ens. Die dubbele negatief ontbreek dikwels en anglisismes
+is volop o.a. "die hele van die ander dag (p. 42); een onheil, wat moet
+plaas neem (p. 56); 'n menende knik (p. 60); afwerk (p. 92); twee meer
+veldstoele (p. 105); (ek) lei die weg soheentoe (p. 138); opgelig (p.
+141); hy gee 'n ander gapie (p. 148); gesette kake (p. 193); as die
+vlamme ... opflaar (p. 201); haar bors ... hewe op en af (p. 225); (hy)
+rys hom uit sy sitplek (p. 61); toe het bloedvergiftiging in die been
+gesit" (p. 217) ens. ens. Woordskikking en verbuiging van byvoeglike
+naamwoorde is dikwels gebrekkig, b.v. "En hy word gou agterna gevolg, na
+die plek van bestemming, _goed of sleg_, deur sy troue manskappe (p.
+78); deftig_e_ geklede dames (p. 157); 'n spoelende en bruisend, kristal
+stroom water (p. 102).
+
+Die opdrag om 'n kort skets te skryf, waarin die woorde _alleenliks_ en
+_nouliks nog_ nie mag voorkom nie sou seker vir Maré die swaarste straf
+wees. Tot vervelens toe prop hy dié woorde in alle hoekies en gaatjies,
+en naderhand weet hy absoluut nie meer, wat hul eintlik beteken nie! In
+_Ou Malkop_ kom selfs voor _uiteindeliks_ (p. 145), _oogverblindeliks_!
+(p. 148), _natuurliks_ (p. 195), en die volgende: "Guillaumet kan geen
+woord uitkry van verbasenheid (!) nie en blik die gouverneur _alleenliks
+net_ meer in verwondering aan" (p. 198).
+
+Foutiewe meervoudige vorms soos die volgende kom voor: lofliede (p.
+178), sugge (p. 95), streeltjies (p. 94), wandels (p. 131), getjilpe,
+gefluite, gebruise (p. 43, 45, 52) ens. Die werkwoord word verkeerd
+gebruik in: "Die son kom agter die koppie uit en _skitter_ strale van
+goud oor ... (p. 101); 'n vensterraam, waardeur 'n groot hanglamp sy
+breë wit lig ... na buite ... _stroom_ (p. 37); tante _sweef_ haar arms
+so voor haar uit ... (p. 35). Maar hy _gewaarword_ nie 'n meisie nie (p.
+75); Towenaars alleen _woon_ so 'n kluisenaarslewe (p. 131); deur sy
+fluksheid het hy gou _bevorder_ tot kommandant ... (p. 209); Uit die
+gewoel ... _hef_ 'n nat voorhoof omhoog (p. 211); agtervolg (p. 60); die
+doudruppels ... blink en skitter en _rol_ boomstamme orals _af_" (p.
+54).
+
+Lomp, of heeltemal onverstaanbaar is o.a. die volgende: "Haar gemoed
+skiet haar diep (p. 60); Die grasdak ... skep nuwe herinneringe ... te
+voorskyn (p. 98); met 'n gefynde oor (p. 79); Ek worstel om van 'n
+betowerende wilskrag los te kom (p. 123); 'n stulpende onderaardse skok
+(p. 141); 'n Vaal hond ... vlieg ... uit sy skuilplek, haal-haal oor die
+gedraai of die ruiter hou-hou met sy karwats agtertoe ... (p. 61); die
+vroutjie ... word veronderstel deur haar rokende man langs aan (p. 152);
+die agent is toegehul in die geheime; deur al sy omgewings van grootheid
+en deftigheid, word geen ondersoek ingestel nie ... (p. 155); nog 'n
+terugdeinsende tree vorentoe" (p. 228).
+
+Die volgende rariteite gebruik Maré ook: geheelal (p. 42); die
+_toeskou_ van so 'n klomp waens ... het 'n dagbreek-oujaarsmore net
+toepaslik gekleur (p. 14); gewigte rapport (p. 40); 'n staanbeeld
+uitgehou in graniet (p. 43); met opgestrekte lippe (p. 56); wyshooftig
+(p. 70); diep bewoog (p. 72); Die jonge rapportganger ... arriveer terug
+(p. 114); opgedoste krygsmanne (p. 125); sissende-vurige dinamiet
+lonte[308] (p. 141).
+
+Hoe die skrywer soms sukkel, blyk uit die volgende. In die eerste druk
+kom voor: "'n toegerankte grennadella stoepie" (p. 43). Dit word in die
+twede druk: "'n grenadella gerankte stoep"! (p. 44). Op p. 122 kry ons
+weer "'n toegerankte grenadella-veranda".[309]
+
+Soms is daar iets telegramagtigs in die styl, meestal veroorsaak deur
+die veelvuldige gebruik van verlede deelwoorde. Wanneer Ter Blanche die
+voorhuiskamer beskou, lees ons: "'n Mooi aardige skulpaddoppie kom
+eindelik onder oog, _opgestaan en oorgetree, en_ dit word gou opgetel
+van die tafeltjie, waar 'n groen kleedjie netjies oorgetrek is, _en_
+waarop 'n groot lamp met 'n kleurige oorglas staan, _en_ dit word
+noukeurig beskou _en_ bewonder." (p. 56.) Dit is 'n tiepiese voorbeeld
+van Maré se verwarde, inmekaargedrukte sinne, slordig aanmekaar
+gekoppel. Sulke _en-en_-reekse is daar soos bossies. "_En_ eindelik
+sissend _en_ stomend verlaat die lokomotief die treinstasie stadig, _en_
+onder 'n geween _en_ geskreeu van "hoeré!" _en_ hoede in die lug
+opgegooi. _En sy_(!) trek voort, _en_ nouliks ... ens." (p. 68). Dat die
+koppelwoord naderhand glad geen betekenis meer het nie, of heeltemal
+verkeerd gebruik word, blyk uit sinne soos die volgende: "Onderwyl hy
+besig is, kom die diensmeisie binne, _en_ met 'n silwer teepot, en
+sinese koppies en pierings ... (p. 151); Behalwe vir 'n paar opmerkinge
+nog oor die mooi onweer, wat diekant in die lug lê, _en_ die seun gaan
+haastig vooruit ..." (p. 65). Ook _hul-hul_-sinne kom voor. "Menige van
+die burgers ... is ... in _hul_ distrik teruggekeer as versterking, maar
+hoewel in _hul_ eie deel van _hul_ land, was _hulle_ geskei van _hul_
+famielie-betrekkinge, want _hul_ plase was so kaal ... en _hul_
+famielies was almal _in_gevoer deur die vyand na die kampe ..." (p. 69).
+Daar is nog meer sulke herhalings, wat aantoon, dat Maré se klankgevoel
+soms erg gebrekkig is. "Bo op die kruin ... bars die son deur ... _en
+verlig_ met uitgespreide trillende strale die gras_toppe_ van die
+berg_toppe_, _en verlig_ donkere spelonke _op_(!) (p. 195). Maar hy
+gewaarword (!) nie 'n meisie nie wat buite_kant_ _kamp_ drade die_kant_,
+op haar knieë neersak, haar hande tesame omhoog _vou_, ver_trou_end op
+na die _troue_ heldere wagtertjies bo haar kyk (p. 75); Skerp flikker
+die staal mes voor aan die punt van sy ge_weer weer_ ... (p. 76); 'n
+gekletter van _perde_pote van verwilderde _perde_" (p. 49). Maré is ook
+te lief vir langdradige omskrywings, wat soos 'n remskoen op sy
+verhaalgang werk. As ons lank al weet wie Annie is, dan hoor ons nog
+altyd van "Oom Andries Bester se dogter Annie" of "oom se dogter", (o.a.
+p 37, 38).
+
+Nog 'n paar staaltjies van die skrywer se gebrekkige uitdrukkingsvermoë:
+"Die tyd tree weer met haar sikkel soos gewoonlik in, en die uur of so
+se vereniging hier word ook eindelik weer die verwyderde sny gegee[310]
+(p. 73); Daar verlos hy hom gou van sy swaar dik winter jas (p. 147);
+baie hartseer luister die oubaas na die laaste koei vanaand op die plaas
+se melk ... (p. 93); die generaal halt voor en klim uit sy saal, die
+manskappe uit hul saals, en nouliks is al die tooms versamel of 'n paar
+burgers kyk voor vasgehoude perde hul maats agter, wat so agter die
+leiers aan wegtree, met hul mousers (p. 72); Dan maak ou oom en sy troue
+oujong Jonathan stoele en rusbanke uit aardige houtsny uit stinkhout ...
+(p. 203); Die hele dorp spring in wakkerte" (p. 80).
+
+Daar is ook voorbeelde van afgeslyte beeldspraak soos: "deurboorde harte
+(p. 74 en 100); eindelik sprei die duisternis ... soos 'n swart kleed
+wat neerval (p. 72); die bytende tand (p. 78); die hamer van Tyd" (p.
+95). Komiek word dit wanneer ons hoor: "haar bors bewe meteens op en
+neer soos die rustelose golwe van die see"!! (p. 60).
+
+Maar ten spyte van sulke opvallende stylgebreke ontroer Maré se prosa
+ons tog, omdat, soos Jan Celliers tereg opmerk in sy voorwoord, hy
+"dinge so gesien en gesê het as nog geen ander skrywer in ons land nie".
+Sy krag lê nie in die tekening van groot-opgesette tonele nie; dit is
+die vlugge vegies, waarmee hy op verrassende wyse 'n realiteits-illusie
+kan skep. In sy beste werk is daar 'n innigheid, wat die kleinste
+voorval beglans met 'n sagte en suiwer lig. Dan klink daar ook op in sy
+sinne 'n sterk persoonlike aksent, dan vind hy die juiste woorde om sy
+emosie te vertolk. Dit is 'n gebrek aan tegniese vaardigheid, wat sy
+werk hier en daar soos skooljongens-geskryf laat lyk.
+
+Dié gebrek is in sy twede bundel
+
+Ou Malkop
+
+só markant, dat mens nie anders dan van _taalgemors_ kan praat nie.
+Voorbeelde daarvan staan op byna iedere pagina, en sitate word feitlik
+oorbodig. Heeltemal misluk is die beskrywing van die ontsporing van die
+Engelse trein (p. 41-42). "Hy kom aangestoom en aangedroom op sy
+masjienery en hardloop los vooruit met alle krag en verdelgende mag....
+Die bodem van die aarde tril! Dis of die sterre in hul blou firmament
+gril met iedere naderende stamp en uit hul gewelf wil losbeef!... 'n
+Gehom-mmm! van raddewerk van masjienery!--en meteens! 'n lang ry
+swart-kamers hol dol en ril duiselig oë verby!--'n groot windvlaag skep
+alles op onder die kranksinnige gedruis! 'n Stulpende onderaardse skok!!
+'n donderende donderslag!! en daar omrol 'n stuk swaar ysterwerk soos 'n
+kanon in die lug" (p. 42). Dit is magtelose gestamel met viesie- en
+taalverknoeiing, wat in die historiese skets _Etienne Barbier_ 'n
+toppunt bereik en soms geheel onverstaanbaar word. "Mnr. Guillaumet gryp
+_sy_ musiek in die een hand fermer, laat _sy_ krullende kop effens op
+_sy_ skouer val en _sy_ basstem rol uit _sy_ breë bors:
+
+ Ons blink gespande snare!
+ Saam 't stem van sangster's hare;
+ Roep my hart van Cabo's kuste walm
+ Terug na Nederlandse strande kalm!
+
+_En_ daar volg handeklappies onder 'n toejuiging, _en_ deur twenk!
+twenk! snare alweer _en_ 'n basstem klink ernstig deur...." (p. 168).
+
+Enkele staaltjies moet nog gegee word om aan te toon hoe Maré se taal
+en styl verwilder het: "Die skaduwees dans en flonker hier en daar (p.
+11); hy roep protestend deur 'n bol rook (p. 21); Uitgestrekte liggame
+van slapende burgers is gedompel en verswak in die diepte van die nag se
+boesem (p. 33); 'n opgeheefde sabel (p. 43); en nouliks of hy 's te
+voorskyn gekom om te ontwapend (p. 44); met verslaagde oë (p. 53); ek
+(het) my die vraag al gesit (p. 72); waar ... hiënas eentonig in
+monotoon af en toe tjank (p. 81); ou Loftus ... wat 'n groot moege
+glimlag vir hulle dra (p. 128); in 'n verre afwykte land (p. 133);
+Borste hewe op en af ... (p. 142); die jagveld (is) nog in die luim van
+die vroeë stilte gedompel (p. 154); Die meisie aan die sy van G. tree
+die ontvlugte man uit die kasteel te voorskyn (p. 181); Vir 'n oomblik
+is die voorgeneemde moordenaar ... in al sy ruheid gestem (p. 190); En
+die aand laat, toe daar nog 'n tippie roesrooi in die verre geskiet
+langs die verhewende bergkruine opskemer ..." (p. 200).
+
+Dit alles en veel wat nog erger is staan in die boek wat _mirabile
+dictu_ in die jaar onses Heren 1919 deur die Suid-Afrikaanse Akademie
+vir =Taal=, =Lettere= en =Kuns= bekroon is met die Hertzogprys!
+
+Hier en daar is natuurlik nog enkele gelukkige trekke, wat ons aan die
+skrywer van _Die Putgrawer_ herinner. Veral in _Fekkie_, die verhaal van
+'n blomverkoopstertjie en _O so 'n harde Hart_, waarin die besoekers van
+'n kantien geteken word, is daar goeie gedeeltes. _Die Liefling van die
+Korps_ gee 'n skildering van die kommando-lewe; _'n Wonderlike Ongeluk_
+en _Die ou Poskoets_ voer ons terug na die ou dae. In 'n brief aan _Die
+Burger_ praat Maré van "die onuitputlike bron van die lewes van ons
+gewesene Afrikaners" en dit blyk dat veral "die stoere ou
+olifants-jagters van 1861 se dae" hom aantrek. "In die algemeen is die
+rigting van my strewe om al die goudgeel sonstraaltjies van die verlede
+van ons voorgeslagte te herroep en te trag om dit vars te laat bly in
+die geheues van ons jong geslag."[311]
+
+In die skets _Ou Malkop_ word moralisasies van die skrywer tussen die
+gepeins van die kaffer ingevleg en op p. 150 is daar 'n uitweiding oor
+"die ou dae". In _Eensame Prospektors_ is die dialoog onnatuurlik.[312]
+Ook in sy portret-tipiek is Maré nie gelukkig nie. As ons lees op p. 82,
+dat Van der Walt 'n "dik gedraaide swart buffel-horing snor" het, en as
+hy lag "geluide maak soos wat kom van wegdrentelende makoue" (p. 92),
+dan ontstaan daar al twyfel; wanneer ons enige pagina's verder hoor, dat
+Hoard "'n stywe snor oor die bo-lip soos gevoude swawelvlerkies" het (p.
+100), dan versterk dit die suspiesie, dat die opsetlik bedagte kenmerke
+meer van 'n lomp toneelspeler afgekyk is, dan na die lewe geteken.
+
+Sal Maré na 'n paar jaar ernstige studie alle tegniese moeilikhede
+oorwin, en ons 'n kunswerk van rype voldragenheid aanbied? Dan vergeet
+ons sy jeugdige _malkop_-onderneming, ten spyte van die
+onsterflikheidsstempel van die Akademie.
+
+
+§ 14. D.P. du Toit.
+
+D.P. du Toit is 'n afstammeling van die Du Toits Van Daljosafat, waar hy
+groot geword 't. Sy moeder was 'n suster van Ds. S.J. du Toit. Omdat sy
+gesondheid toe nie teen plaaswerk bestand was nie, het hy van 1891 af
+onder Ds. S.J. du Toit gewerk op die redaksie van _Di Patriot_ en ander
+blaaie. In 1896 was hy sekretaris van die eerste Afrikaanse Taalkongres
+in die Pêrel en _Ons Kleintji_ het hy feitlik geredigeer onder toesig
+van Ds. S.J. du Toit. Later was hy aan verskillende krante verbind, by
+_Het Westen_ o.a. as redakteur. Sedert die oprigting van _Die Burger_ is
+hy een van die subredakteure van die blad.
+
+Een van sy toneelstukke, _Die Bedriegers_ is in 1893 geskryf. Wanneer
+Melt Brink se toneelwerk buiten beskouing bly, dan is dit die eerste
+Afrikaanse stuk wat gedruk en opgevoer is.[313] Op Somerset-Oos is dit
+vir die eerste maal gespeel. Van Du Toit het verder verskyn die
+toneelstukke _Geldsug of Jaloesie_ en _Die Herwonne Koninkryk_; 'n
+roman, _Sy Pa se Skuld_ (1918) en 'n bundel grappige versies
+_Treinnonsens_ (1922).
+
+Sy Pa se Skuld.
+
+Lina trou teen haar vader se sin met Fred, 'n volbloed skurk, wat met
+die huwelik sy finansiële ondergang wil voorkom. Sy word onterf en Fred
+moet vlug na 'n hele reeks misdade. Sy seun, Gert boet vir die misdade
+van sy vader en word in sy liefde gedwarsboom. Op die ou end kom alles
+tog reg en selfs die berouvolle Fred word in sy eer herstel.
+
+Du Toit doen wel 'n poging om deur te dring tot die innerlike lewe van
+sy karakters, maar vir die uitbeelding van 'n geweldige psigologiese
+kriesis is hy te huiwerig. "Dis te heilig, ons mag nie probeer om dit na
+te speur nie" (p. 99); "Die afskeid sal ons egter nie trag te beskrywe
+nie, eenvoudig omdat dit nie kan beskrywe word nie"[314] (p. 113). Op
+dieselfde manier glip hy oor die smart wat Gert en Lorrie uitstaan as
+gevolg van die vervalste briewe. Dit is nie 'n deurleefde verhaal nie,
+waarin die roersele van 'n mensehart blootgelê word. Du Toit beskou sy
+persone meestal op 'n afstand as belangstellende toeskouer. "Terwyl hy
+daar agter die randjie ry, raak hy ons ook uit die gesig" (p. 106). Die
+handeling word nie direk in plastiese vorm gegiet nie, sodat iedere
+leser onmiddellik sien en hoor wat daar gebeur. Die skrywer self is
+telkens aan die woord en deur sy nugter opmerkings en prekerige
+uitweidings kom die gebeurde tot ons langs 'n groot ompad, sodat dit nie
+tot werklikheid kan vergroei nie. "Nou dis nie nodig om die twee nes hul
+skaduwee te agtervolg nie...." (p. 48). "Die betrokke persone het ons
+heeltemal uit die oog geraak" (p. 144). Daar is meer sulke aanduidings
+van gebrekkige tegniek.[315] Die preek oor die teks "Ik stond op het
+zand der zee" is 'n nuttelose uitweiding en die lang beskrywing van die
+viskopery net so. Die skrywer vertel ons self ewe naïef, dat Gert en
+Lorrie "ook maar bloed weinig van die hele toneel gesien het"! (p. 151).
+
+Besonder omslagtig is Du Toit se verhaaltrant dikwels. 'n Enkele keer
+besef hy dit self: "Dog ons sal nie op haar hande staan en kyk om te
+sien hoe sy werk nie." ens. (p. 51.) Hy vermoei deur 'n langdradige
+opsomming van allerlei onbelangrike besonderheidjies (vgl. b.v. p. 212),
+terwyl ook die gesprekke met reportage-noukeurigheid weergegee word.
+
+Die styl verraai die hand van die geoefende joernalis, wat met gemak sy
+sinne aanmekaar ryg, sonder juis te streef na skoonheid van klank. Maar
+selfs die haastige joernalis mag nie sulke sinne soos die volgende
+neerskryf nie: "Hy herinner hom nou goed, so duidelik as kan wees, dat,
+toe hy gistraand sy tabaksak uit die sak wou haal sy sakdoek bo-op die
+tabaksak in sy sak was, dat hy toe die sakdoek eers uitgehaal het en toe
+die tabaksak en toe weer die sakdoek in sy sak gesteek het, en na hy sy
+pyp gestop het, het hy die tabaksak somar so onverskillig bo-op die
+sakdoek in sy sak gesteek." (p. 104)[316] Maar sulke sinne is gelukkig
+uitsondering en die styl is deurgaans helder en goed versorg. Om dié
+rede veral moet die roman, ofskoon dit geen aanspraak kan maak op hoë
+letterkundige verdienste nie een van die leesbaarste Afrikaanse romans
+genoem word. "'n Rousteen vir die binnemure" noem die skrywer sy werk
+met goeie selfkennis in die voorrede. Voorlopig kan ons sulke roustene
+nog goed gebruik, al bestaan daar gegronde rede om te vrees, dat dit
+mettertyd sal verbrokkel.
+
+As 'n voorbeeld van Du Toit se beeldspraak kan die volgende dien: "'n
+Vat kan maar 'n sekere hoeveelheid hou. Pomp jy daar meer in, dan loop
+dit oor. So is ook die menslike gemoed." (p. 87.)
+
+Engelse invloed blyk uit die volgende: "'n Man van professie (p. 178);
+dit help nie vir ons om oor gestorte melk te huil nie (p. 190); tot my
+dooddag toe (p. 207); 'n buig" (p. 160).
+
+
+§ 15. A. du Biel.
+
+A. du Biel is die 27ste Oktober 1884 gebore op Geelhoutboom, distrik
+Mosselbaai. Gereelde onderwys het hy nooit gehad nie en in "die bittere
+publieke skool van die lewe" het hy al sy kennis opgedoen. Van sy
+twaalfde jaar af het hy baie gelees en van kleins af met sy vader lang
+reise gedoen. Maar reeds op vyftienjarige leeftyd moes hy sukkel om vir
+homself 'n bestaan te vind en 'n weinig later het die sorg vir sy ouers
+ook op hom geval.
+
+_Getrou_ het hy in 1914 onder baie moeilike omstandighede geskryf.[317]
+_Die Misdade van die Vaders_ het in 1919 verskyn. 'n Nuwe roman, _Kain_,
+wat oor die periode 1870-80 handel is nou in die pers. Op die oomblik
+verskyn in afleweringe _Oor Berg en Vlakte of Onder die Vierkleur_, 'n
+verhaal vir die jeug, in die eerste nommer waarvan "pakkende awonture"
+in vooruitsig gestel word.
+
+Die letterkunde beskou Du Biel as "die kragtigste wapen om ons volkie te
+ontwikkel". Hy streef veral daarna om die leeslus van jong Suid-Afrika
+op te wek.
+
+Getrou.
+
+Dit is 'n Hugenote-roman, die gebeurtenisse waarvan in Frankryk,
+Holland en Suid-Afrika plaasvind. Die Europese atmosfeer is egter so
+swak aangedui, dat dit net so goed Pole of Tibet kon gewees 't. Moet die
+praatjies oor Lodewyk XIV, die "prag en praal van Versailles" en 'n paar
+armsalige _ma chère's_ ons nou onder die indruk bring, dat ons in
+Frankryk verkeer? Met die innerlike kern van die tydperk kom ons nooit
+in aanraking nie, en die historiese vliesie is baie dun. Met 'n
+komieklike naïwiteit vertel Du Biel ons in beeldspraak, wat baie op die
+van Von Wielligh gelyk, hoe hy gesukkel het om "Vader Tyd se rytuig" te
+laat stil hou! (p. 142). "Dit neem dan ook heelwat inspanning van die
+verbeeldingskrag om die plek voor te stel soos dit twee eeue gelede was,
+want die meedoënlose hand van vooruitgang spaar nie die oudhede nie" (p.
+141). Dat die koms van die Hugenote was "die stigting van die Afrikaanse
+volk" (p. 127), is 'n onjuiste bewering. Verrassend is die meedeling,
+dat die sewentiende eeu veral die eeu was "waarin die hele wêreld sy eie
+sienswyse wou handhaaf ten spyte van Kristelike liefde, van reg--ja, ten
+spyte van die Almagtige" (p. 147). Ook die volgende slaan ons heeltemal
+dronk: "As ons die Amerikaanse volk beskou ... dan vind ons oral 'n diep
+bewussyn van die majesteit van die Allerhoogste" (p. 127). Sulke
+bewerings toon duidelik dat die skrywer 'n primitiewe historiese insig
+het.
+
+Van 'n realistiese uitbeelding is daar dan ook geen sprake nie. "So 'n
+man was ds. Pierre Simond, en ons kan aanneem dat voorgaande in hoofsaak
+sy lewensgeskiedenis was" (p. 146). Moet hy felle emosie beskryf, dan
+pas hy die welbekende _sluier-taktiek_ toe! "Wel, leser, ons sal die
+twee vanaand nie verder volg nie. Daar is tye in die lewe van 'n mens
+wat te heilig is om aan vreemde oë te ontbloot" (p. 30).[318] Gedurig
+dring die skrywer homself op die voorgrond. Hy lewer prekies soos 'n
+teologiese student en gebruik selfs die dialoog vir sedekundige
+verhandelinge.[319] Die twee "ou seerobbe", wat op p. 160 begin te
+praat, het nog nooit soutwater geruik nie! Hoeveel sou die sewejarige
+Marie van Henri se storie (p. 15-20) verstaan het?
+
+Die verhaal is van die _Johannes van Wyk_-soort--'n aaneenstrengeling
+van awonture--soms erg onwaarskynlike. Daar is 'n toneelheld, wat
+wondere verrig, 'n skurk doodsteek en selfs Adriaan van der Stel laat
+sidder. Die skurk is "nie geheel sleg nie--geen mens is" (p. 99).[320]
+Tog kom daar van die psigologie nie veel tereg nie. Die ontstaan van
+liefde is vir Du Biel eenvoudig. "Daar is diepe agting in haar hart vir
+haar vriend--'n agting wat besig is om in liefde te verander: _die
+enigste weg_ waarlangs 'n edele liefde kan ontstaan"! (p. 53)[321] Die
+ingewikkeldste psigologiese prosesse word ons in een sinnetjie
+meegedeel. "In een uur het hy van 'n jongeling tot 'n man geword" (p.
+38). Ofskoon heeltemal slegte mense volgens Du Biel dus nie bestaan nie,
+skyn hy aan heeltemal goeies tog te geloof, want Van Bergen is stroperig
+braaf en daar is nog ander ook wat niks op hul kerfstok het nie.
+Potsierlik is veral die toneel met Juffr. Le Notre. (p. 54 vlg.)
+
+Die Misdade van die Vaders.
+
+Veel beter geslaag is _Die Misdade van die Vaders_. Hier is die skrywer
+op meer bekende terrein, want dit is 'n verhaal uit die
+Voortrekker-periode. Jan Alpenveld, 'n misdadiger besluit om aan die
+Kaap 'n fatsoenlike lewe te begin. Met sy hoflike maniere verower hy die
+hart van Annie Bester, 'n eenvoudige plaasmeisie, die aangenome kind van
+Petrus Liebenberg, wat verloof was aan sy seun Tjaart. As Oom Petrus
+beswaar maak teen die huwelik, vlug Annie met Jan Kaap toe. Annie is die
+dogter van "'n roekelose kêrel en 'n hopelose dronkaard" (p. 11 2^de
+druk). "Die Heilige Skrif is vir (Liebenberg) 'n lewendige wet en hy
+trag om dit letterlik te volg". Na Annie se vlug sny hy haar naam uit
+die famielie-register voor in die Bybel en lees daaruit die vervloeking
+plegtig voor: "Die de misdaad der vaderen bezoek aan de kinderen, aan
+het derde, en aan het vierde lid dergenen, die Mij haten." Jan Alpenveld
+raak na enige tyd in die hande van die gereg maar tussen sy seun,
+Nikolaas en Tjaart se dogter, Lenie ontstaan weer 'n liefdesbetrekking,
+wat deur dieselfde Bybelteks verydel word. Nikolaas trek alleen na die
+woeste Noorde, waar hy later op geheimsinnige wyse groot dienste aan die
+Trekkers bewys. Hy ontmoet Lenie weer en val in 'n geveg met die
+Kaffers. Tjaart word deur sy vrou geleer, dat die grootste gebod die van
+die liefde is.
+
+Twee motiewe uit _Getrou_ word nog 'n keer gebruik. Soos Annette in
+haar eenvoud verlei word deur die genoegens van Parys en die mooi
+praatjies van La Fontaine, word ook Annie Bester bekoor deur die fyner
+lewe in Kaapstad en die vername houding van "Graaf Alpenveld". Van
+Bergen bewys sy ou vrinde groot dienste sonder dat sy ware naam bekend
+word, Alpenveld net so. Die geheimsinnige "Verdwynende Boerewag" is 'n
+knap verafrikaansing van die dolende middeleeuse ridder. In plaas van
+gifbrakende monsters veg hy teen leeus; die skone dame word nie uit 'n
+onderaardse kerker van 'n betowerde kasteel gered nie, maar uit die hut
+van 'n Kafferkaptein.
+
+Die Voortrekkers word verdedig teen lasterpraatjies; die vrymaking van
+die slawe, die kafferpolitiek van die Britse regering en die handelwyse
+van die Engelse sendelinge word bespreek, 'n Poging word gedoen om dit
+alles binne die kader van die verhaal te hou; die historiese uitweidings
+is kort. "Dit sou te lank duur om alles hier mee te deel ... en dit is
+ook geskiedenis." (p. 124). Dat Du Biel ten spyte van sy goeie verhaal
+tog nie daarin slaag om ons in die volle werklikheid van die
+Voortrekkertydperk te plaas nie, is hoofsaaklik 'n gevolg van sy
+gebrekkige en verouderde tegniek. Hy hou gedurig 'n praatjie met die
+leser, gee beskouings oor die gedrag van die karakters, las sedekundige
+prekies in net waar hy kan. Die hoofverhaal loop oor drie geslagte, maar
+daarby moet ons o.a. ook nog kennis maak met al die bewoners van Uitkyk.
+Die gevolg is dat die meeste persone baie vaag geteken word. Selfs waar
+dit enigsins uitvoeriger gebeur, soos o.a. met Lenie, kry ons selde die
+indruk, dat ons met werklik lewende mense te doen het. Lenie word ons op
+p. 59 voorgestel as 'n digteres. Dit word verseker, dat haar vader die
+"kundigheid"(!) waardeer, ofskoon ons van die waardering nooit iets merk
+nie. Die geduldige leser word op p. 135 weer aan Lenie se digterskap
+herinner en 'n gediggie "wat sy in dié dae gemaak het" word meegedeel.
+"In die dae" is net voor die Groot Trek, maar op p. 141 word ons
+vertel--dis nou 'n goeie paar maande later--dat van dieselfde gedig, wat
+ons al klaar gelees het nog net "enkele reëls" geskryf is! Deur sulke
+onhandige sette[322] is dit, dat ons in plaas van die uitgebeelde
+persone altyd sien Meneer Du Biel aan sy skryftafel, verskans agter
+Theal, Cory en ander historisie!
+
+"In 'n oomblik sien hy alles in sy ware kleure. Hy aanskou sy eie siel
+in al sy naaktheid...." (p. 144). Dit is van die soort blits-psigologie,
+wat so dikwels in _Getrou_ voorkom.[323] Van wat in die siel van
+Nikolaas en Lenie omgaan na die indrukwekkende vervloeking deur Oom
+Tjaart hoor ons weinig. Du Biel bly te veel aan die buitekant. Nikolaas
+"lyk jare ouer: die gewone hoopvolle glimlag is van sy gelaat weg, en in
+plaas daarvan staat erns geskrywe" (p. 98).--"Arme Lenie! Sy is nou maar
+slegs die gees van wat sy vroeër was; en die treurige en hopelose blik
+op haar gesig is onvergeetlik" (p. 99). Later slaag Du Biel daar veel
+beter in om ons te laat voel die tragiese noodlot, waarteen Nikolaas
+tevergeefs stry. Die vloek wat op hom rus deur sy geboorte kan selfs
+deur sy dapperste dade nie weggeneem word nie. "Die misdade van sy
+vaders" maak 'n volkome rehabilitasie in die trekkerslaer onmoontlik, en
+dat hy sy lewe opoffer vir dieselfde mense, wat hom as 'n onwaardige uit
+hul gemeenskap stoot is 'n treffende kliemaks van 'n eg-menslike drama.
+Met sy dood is die drama uit, en die slothoofstuk verswak alleen die
+indruk.[324] Lenie behoort aan niemand anders as aan die gevalle held
+nie.
+
+Deur die kreasie van Nikolaas Alpenveld word _Die Misdade van die
+Vaders_ iets meer dan 'n gewone awonture-verhaaltjie. Die moralisasies,
+wat 'n groot gedeelte van die roman inneem is van dieselfde gehalte as
+in _Getrou_. Daar is geen sprake van mooiheid van segging of
+oorspronklikheid nie. "Hoe wonderbaar is ons lewe! Alles is veranderlik;
+niks bly vir een enkele uur geheel dieselfde nie." (p. 124.) Van sulke
+afgesaagde bewerings krioel die boek. Of anders kry ons twyfelagtige
+stellings soos die volgende: "Dit is een van die wonders van die
+skepping dat dit in die mag van die mens is om te word wat hy verkies"
+(p. 50).
+
+"Die taal en styl openbaar 'n bekoorlike helderheid en eenvoud",
+verklaar Prof. J.J. Smith in sy voorwoord. Helder en eenvoudig is dit
+seker, maar dit mis alle bekoorlikheid, omdat Du Biel geen eie stem het
+nie. Daar is niks persoonliks in sy styl, nêrens iets wat ons ontroer
+deur fynheid van segging of klank, nie. Dikwels stuit ons op 'n
+eentonige "hul-lerigheid" "_Hul_ wou blomme pluk. Plotseling het _hul_
+'n aantal Kaffers na _hul_ sien aankom, en _hul_ het begin hardloop.
+_Hul_ het gou gesien dat _hul_ nie sou voorbly nie, en het na 'n dik
+plek bosse weggedraai, waar _hul_ gedink het dat _hul_ miskien kon
+wegkruip. _Hul_ het die bosse gehaal; maar _hul_ was doodmoeg, en die
+Kaffers was kort agter _hul_. _Hul_ moed was al byna op, toe _hul_ by 'n
+erdvarkgat kom." (p. 187.)
+
+In die taal is daar 'n paar anglisismes, onder meer die volgende:
+"watter goeie doeleinde kan dit dien (p. 98); ontdoen" (p. 132, 228). In
+_Getrou_: "En die dogter, is sy _skoon?_ (Hollandisme).--O ja, sy is
+gangbaar (p. 39); sy is in geen haas om terug te gaan nie (p. 92);
+vroulike vorms" (p. 48). Die gebruik van _beken_ en _erken_ (p. 65, 71),
+gelaster (p. 86)[325] is verkeerd.
+
+
+§ 16. Mevrou M. Jansen-Pellissier.
+
+Martha M. Pellissier is gebore op Bethulie. Haar grootvader was 'n
+Franse sendeling. Aan die Hugenote-Kollege het sy in 1909 die B.A. graad
+behaal, daarna onderwys gegee in Pieter-Maritzburg en in 1912 in die
+huwelik getree met Advokaat E.G. Jansen L.V. Vir jare al is sy een van
+die stuwende kragte van die Afrikaanse saak in Natal. Vir verskillende
+vereniginge het sy ge-ywer en onder haar leiding het die Saamwerk-Unie
+die eerste openbare eksamens in Afrikaans gehou. In verband met die
+eksamens het sy haar ook toegelê op taalstudie en met medewerking van
+C.M. Booysen 'n Afrikaanse grammatika geskryf. Haar _Brandwag_-verhale
+is in 1919 gebundel onder die tietel _Die Veldblommetjie en andere
+Verhale_. Verder het sy nog geskryf _Afrikaner Harte_, 'n toneelstuk.
+
+ * * * * *
+
+Die meeste verhale in _Die Veldblommetjie_ het 'n duidelike strekking.
+Dit is veral pedagogiese en seksuele vraagstukke, wat behandel word.
+"Die skryfster toon ons die sedebederf aan wat saam met 'n
+bioskoopbeskawing tot ons oorgewaai het" sê Dr. W.M.R. Malherbe in sy
+voorwoord. Daar is eintlik drie "veldblommetjies". Een volbring haar
+kinderplig ten spyte van die ontevredenheid van haar verloofde, die
+ander twee word verlei deur die skynskoon van die wêreld. _Waarom die
+Agteruitgang?_ is geskryf "uit oortuiging dat die agteruitgang van ons
+mense op godsdienstig gebied grotendeels toe te skrywe is aan die feit
+dat Afrikaans nie van die kansel gebruik word nie ..." (p. 47).
+
+Die skryfster gaan só te werk: verskillende episodes uit die lewe word
+op so 'n manier samegevoeg, dat dit as afskrikwekkende voorbeeld of
+direkte les kan geld. Om haar moraal beter te laat inslaan, verskerp sy
+die situasie gewoonlik en eindig met 'n melodramatiese slot, wat soms
+nogal onwaarskynlik is, soos b.v. die moord op p. 169. Om meer nadruk te
+lê op die didaktiese doel word die lesers direk toegespreek[326] en
+beskouings oor die gedrag van die karakters ingevleg.[327]
+
+As gevolg van dié werkwyse het _Die Veldblommetjie_ 'n bydrae op
+nasionaal-sedekundige gebied geword, wat 'n ernstige waarskuwing bevat,
+en sal meewerk tot opbouing van 'n gesonde Afrikaanse kultuur. Uit 'n
+letterkundige oogpunt moet egter die bewuste vooropstelling van 'n
+tendens afgekeur word. Die vernaamste fout is "that the moral suggests
+the tale far more frequently than the tale suggests the moral"[328].
+"Zoodra je de bijgedachte hebt: ik wil 't leven zóó laten zien, dat de
+menschen onder den invloed van mijn werk op ideeën komen, die ze anders
+niet zouden hebben, moet je het leven een beetje verwringen, datgene er
+uitkiezen, waardoor die ideeën worden opgewekt, en zoodoende een
+eenigszins valsch beeld geven van het leven."[329] Dit is 'n gevaar
+waaraan die skryfster in haar ywer om ons oor te haal tot haar
+opvattings nie ontsnap nie, maar dit geld meer die bou en opset van die
+verhale, want in die uitwerking van details word ons dikwels getref deur
+raak tekening van die lewe op plaas en dorp. Natuurlik kan tendensieuse
+werk ook goeie kuns wees. Volgens Frederik van Eeden is die verskil
+tussen goeie en verkeerde tendens-literatuur dit: "dat de kunstenaar,
+die een zuiver kunstwerk maakt, daarbij wordt bewogen door de schoonheid
+van zijn idealen, ook al zijn dit ethische idealen. De mensch, die
+onzuiver werk maakt, denkt om den invloed, dien hij op anderen zal
+hebben, tracht zijn lezers over te halen tot zijn overtuiging. Dit nu
+kan een echt kunstenaar als zoodanig niets schelen. Die let alleen op de
+schoonheid van hetgeen hij voor zich ziet. Let u op een van de
+hoofdwerken van Shelley, dan voelt u, dat hij in grenzelooze bewondering
+is voor hoog-menschelijke eigenschappen. Maar u merkt niet in hem de
+kleinste poging om iemand te bekeeren tot zijn opvattingen. Als die
+bekeering komt, dan moet ze komen door de schoonheid van wat hij te
+aanschouwen geeft."[330]
+
+Bedenklik lyk my die houding, wat Professor Jan F.E. Celliers in sy
+voorwoord by die sketse _Uit die Lewe_ van Gawie J. Otto aanneem teenoor
+strekkings-literatuur. "Die meeste sketse laat hy heeltemal vir hulselwe
+spreek. Dog as egte Afrikaner, wat voel vir sy volk, sien hy met
+besorgdheid hoe gebruike en sede onder ons verander, en nie altyd in
+voordelige sin nie. Daarom verwyl hy graag met liefde by herinneringe
+uit die verlede ... en kan hy nie nalaat nie om nou en dan voor die
+ligbeeld te tree wat hy op die doek gooi en 'n paar ernstige woordjies
+met ons te praat.... So 'n opbouende strekking vra nie in die eerste
+plaas of hierdie of daardie opvatting van kuns daarmee tevrede is nie;
+en dit was maar altyd en oral die kenmerk van die letterkunde van 'n
+jong volk, wat vir sy opbou waarskuwing en lering nodig het. Van die
+ouere skrywers is daar menigeen wat ook, so tussenin, gemoedelik met ons
+kan gesels." Die sedeprekery in ons letterkunde kan op dié wyse nie
+geregverdig word nie. Aan 'n letterkunde wat in die begin van die
+twintigste eeu pas ontluik, moet tog ander eise gestel word, dan aan die
+van volke wat al vyf of ses eeue bestaan. Is daar dan miskien sedert die
+tyd van Maerlant b.v. geen vooruitgang in kunsbegrip gewees nie? Moet
+ons literatuur dan opgebou word op hopeloos verouderde beginsels? Die
+Europese volke van vandag het seker nog net soveel "waarskuwing en
+lering" nodig as in die tyd van Maerlant, en tog is daar geen enkele
+kunstenaar, wat nou nog b.v. natuurlike historie op rym gee nie. As ons
+skrywers voortgaan met die "gemoedelike geselsery" en sedeprekery, dan
+kry ons 'n versameling van traktaatjies en geen letterkunde nie. Wanneer
+iemand sketse _uit die lewe_ skryf, dan moet dit só lewend wees, dat die
+skrywer nie nog met 'n stokkie by sy beeld hoef te staan en preek nie.
+Teken hy die egte Boereseuns, dan sal ons vanself weet, dat hy nie die
+"bioskoopaanbidders, sigaretteverslinders, ens." bedoel nie. (p. 16.)
+
+"Al wat werkelijk schoon is geeft een zekere veredeling en heeft
+daardoor ook overeenkomst met godsdienstige dingen. Als iemand die goed
+begrijpt en als iemand een stuk kunst goed begrijpt, dan wordt hij
+daardoor tot nadenken gebracht en dan wordt hij er ook beter door. Het
+zal ethisch werken, zooals ook de muziek ethisch werkt ..."[331] Op dié
+wyse werk die kuns mee tot die opheffing van 'n nasie. Die dae van Vader
+Cats is verby. Ons het tot die oortuiging gekom, dat "juist het
+aller-subliemste in den mensch, het edelste, door iemand die er
+didaktisch naar zou streven niet kan worden bereikt ... Zoodra je
+didaktisch te werk gaat, moet je de menschen al redeneerend er toe
+brengen goed te zijn. Maar wanneer je de menschen kunt ontroeren door
+schoonheid, dan worden zij vanzelf goed."[332]
+
+Enkele verhale in _Die Veldblommetjie_ is sonder strekking. _Ons
+Heldinne_ beskryf die tyding van vlugtende vroue gedurende die
+Anglo-Boere-oorlog; _Andries_ is 'n grapperige vertelling van die
+makmaak van 'n kwaai vrou en _Die Storie van 'n Lam_ 'n goeie
+kinderverhaal.
+
+Die skryfster het 'n aangename verteltoon, wat alleen in _Liefdeswee_
+spore van retoriek vertoon. Hier hoor ons o.a. van _hartsnare_ (p. 177)
+en dat "die tand van twee lange jare byt" (p. 183). Ook die beeldspraak
+word troebel: "In sy donkere kykers, skuil daar nou weemoedige skaduwees
+wat die weerkaatsing is van die soet-suur liefdesbrand in die hart" (p.
+174). Die styl is egter deurgaans helder en natuurlik. In _Liefdeswee_
+is daar 'n paar mooi brokkies natuurbeskrywing. Enkele anglisismes kom
+voor, o.a.: "Perderuiters ... dring hul 'n weg deur die skaar (p. 24);
+ek gaan vir 'n wandeling (p. 42); Tante ... haas na die kombuis (p. 88);
+klok-gesig (p. 111); die kinders neem daar 'n pret in" (p. 142).
+
+Foutief is: "eikeboom, _wie se_ spreiende takke (p. 154, 171) en
+_gesuiwer_ (p. 115). Die dubbele negatief ontbreek ook soms.
+
+
+§ 17. J.H. Malan.
+
+J.H. Malan is in 1874 op Groenberg, Wellington gebore. Sy eerste
+onderwys het hy van C.P. Hoogenhout ontvang. Van 1894-1897 was hy
+onderwyser in die Vrystaat. Daarna het hy verder gestudeer en tydens die
+Anglo-Boere-oorlog Hollands gedoseer aan die Hoëre Skool op Seepunt. In
+1904 begin hy sy joernalistieke loopbaan by die _Re-Echo_. Vervolgens
+het hy gewerk by _Het Zuid-Westen_ en _Het Westen_. In Potchefstroom was
+hy ook redakteur van die tydskrif _Werda_, wat vir ongeveer 'n jaar
+bestaan het. Op die oomblik is hy op die redaksie van _Die Volksblad_ in
+Bloemfontein.
+
+Na die drie-jarige oorlog het Malan sy historiese ondersoekings in die
+argiewe begin en 'n versameling van Africana aangeleg. _Boer en Barbaar_
+het in 1913 verskyn,[333] 'n toneelstuk _Na Olikheid kom Vrolikheid_ in
+1917, en _Die Swerweling_ in 1921.
+
+Tydens die veldtog van Dr. W.J. Viljoen ten gunste van die
+Vereenvoudigde Spelling het Malan in _Ons Land_ vir Afrikaans gepleit
+onder verskeie pseudonieme, soos _Cabo, Bonhomie_, ens. Op
+joernalistieke gebied is hy as _Oom Fanie_ bekend. Hy het o.a. deur die
+halfkroon-fonds £4000 vir Generaal De Wet se boete ingesamel. Vir sy
+aandeel in _Die Dolosgooier_ van Joubert Reitz word na die bespreking
+van dié boek verwys.
+
+Die Swerweling.
+
+_Die Swerweling_ is "'n verhaal uit die tyd van die Franse Hugenote in
+Drakenstein". Lambert Lourier, wat in Frankryk baie Hugenote oor die
+grense gebring het, word in Suid-Afrika "'n onverbeterlike makdroster,
+swerweling en niksdoener" (p. 165). Hy is 'n sieltjie sonder sorg, wat
+"geen staanplek in hierdie wêreld (wou) hê nie." (p. 40.) "Ek is wat ek
+nog mag word. Ek glo aan geen instelling van die mens nie" (p. 47). Sy
+vernaamste besigheid is dan ook rondkuier, jag en ipocras drink by die
+landdros, Samuel de Meurs, wat ook vroeër Hugenote gehelp 't om te
+ontvlug. Van dié vlugtelinge woon daar ook in Drakenstein, en in die
+smidswinkel ontdek Danie Hugo, dat Lambert die melkjong van die Orleanse
+klooster, en De Meurs die brandwag was, wat hom so fluks gehelp 't om
+met die meisies Anne en Jeannette te ontsnap. Anne het die vrou geword
+van Pierre Rousseau, maar Jeannette, Hugo se verloofde het aan die
+ontberings op die vlug beswyk. Lambert toon 'n neiging om sy
+swerwersbestaan op te gee as hy verliefd raak op Anna, die dogter van
+Rousseau. Maar hy verspeel sy kanse, omdat sy Kaapstadse "pepermintjie"
+Isabella so vrypostig met hom omgaan. Nadat Danie vir Anna uit die see
+gered 't, kry sy die ou-jonkman lief, terwyl Lourier troos soek by
+Isabella. Op voorspraak van sy vrinde, benoem die Goewerneur, Louis van
+Assenburgh, Lourier tot onder-stuurman op die retoervloot en op die
+Amsterdamse skeepstimmerwerf vergeet hy al sy swerwersideale en word 'n
+rustige werksman.
+
+_Die Swerweling_ is 'n historiese roman, die hoofdoel waarvan die
+aanbrenging van geskiedkundige kennis is. Daar is tallose historiese
+uitweidings o.a. oor die vervolging van die Hugenote in Frankryk, die
+politiek van die Oos-Indiese Kompanjie, ens. Uit allerlei besonderhede
+blyk ten duidelikste dat hier 'n historikus, wat jare lank met groot
+toewyding in argiewe sy gegewens bymekaar gesnuffel het aan die woord
+is. "Dit is 'n jammerte dat geen enkele brief uit die tyd bewaard gebly
+is nie in sover dit die Kaapse Hugenote aangaan" (p. 17). Soms deel hy
+sy kennis op betogende wyse mee, soos in hoofstuk V, of anders laat hy
+iemand 'n opsetlike vraag stel. Anne wil weet, wat vir mense die
+Dragonders is (p. 20); Anna vra: "Maar wat is nou eindelik (eintlik?)
+die galeie? (p. 22); De Smit: "Maar Aploon, wat is nou eintlik die
+Buddhisme? (p. 59); en op p. 105 vra Anna weer: "Maar wat doen die
+Hugenote en die misdadigers dan nou eintlik op die galei?" En so is daar
+meer voorbeelde, wat ons telkens laat voel, dat ons hier met geen
+_mense_ te doen het nie, maar alleen met 'n skrywer, wat onder allerlei
+vermomming sy byeengegaarde kennis aan die man wil bring.
+
+"Koopmans heeft voor eenige jaren in _De Beweging_ (III jg.) den
+historischen roman vergeleken bij die eigenaardige soort van publieke
+vermakelijkheden, die zich toen nog wel als aanhangsel van
+tentoonstellingen, onder den naam van Oud-Antwerpen, Oud-Dordt,
+Oud-Holland en wat niet al voordeden. Een oudheidkundige en een
+architect zetten zich aan het werk; oude prenten worden geraadpleegd, en
+oude kaartboeken en werken over meubel- en kostuumkunde opgeslagen en
+daar verrijst na wat passen en meten, wat "woekeren met de ruimte" een
+marktpleintje met een straatje en een grachtje, overschaduwd door
+vierjarige iepen, alles opgebouwd uit pleister, paklinnen, riet en
+bordpapier. Een vroegere keukenmeid komt er u misschien als
+oud-Hollandsche kellnerin een potje peuzelaar uit Heineken's brouwerij
+brengen. Ge krijgt een oogenblik een gezellige illusie, maar dat is het
+frissche, rijke leven niet. Gij houdt ten slotte het besef, dat alles
+maar komedie en aanstellerij is, midden in de moderne maatschappij.
+Achter gindsche schutting, die het raadhuis voorstelt, snort de
+electrische tram voorbij."[334]
+
+Die vergelyking pas op _Die Swerweling_, want ten spyte van die
+argaïstiese tintjie in die styl, ten spyte van al die moeite wat die
+skrywer gedoen het om histories juis te wees in die skildering van die
+omstandighede, gewoontes, huisraad en klere van die Kaapse Hugenote voel
+ons direk, dat dit 'n bordpapiere wêreldjie is, wat ons die moderne
+werklikheid nie laat vergeet nie. Die indruk word nog versterk deur die
+gebruik van sulke outydse foefies soos die volgende: "Ons mag 'n
+gedeelte van die gesprek by die voordeur afluister, solang die slaaf in
+die kombuis aan slaap is ..." (p. 92); As 'n mens 'n dag na die gebeurde
+in die vorige hoofstuk vermeld, en dit kort na sonsondergang, saggies by
+die opestaande gang binnestap en by die deur links in die kamer kyk, sou
+'n mens 'n meisie van omtrent 19 jaar oud voor 'n groot spieël het sien
+staan." (p. 144.) So teken die moderne kunstenaar nie. Die laat ons geen
+gesprekke by die voordeur afluister nie, maar plaas ons in die volle
+realiteit, omdat hy met sy eie persoonlikheid die lewe van sy
+uitgebeelde persone deurleef het. "Il faut que la réalité extérieure
+entre en vous; =á nous en faire crier=, pour la bien reproduire", sê
+Flaubert.
+
+Mens is halfpad deur die boek voor jy weet wie Anna en Anne is en die
+ongelukkige gelykluidendheid van die name gee aanleiding tot
+kindergestamel. "Anna mag wel verliefd op Lourier wees of word, maar dit
+sal ten minste nie met die toestemming van Anne wees nie, as Anne weet
+dat hy van Anna meer as van 'n vriendin hou." (p. 83.) Anna openbaar in
+haar liefde so 'n netjies-redenerende nugterheid, dat ons twyfel aan die
+egtheid van haar gevoel. Dit geluk haar uitstekend om haar vader se raad
+op te volg. Sy moet "met Lourier se innerlike karaktertrekke soveel
+moontlik in aanraking ... kom ... met intoming van gevoelens, sodat daar
+'n terugtrekking kan wees" (p. 127). As Lambert by haar aandring op 'n
+beslissing, dan antwoord sy ewe verstandig: "Dit is ingewikkeld vir 'n
+meisie van my jare en onbedrewenheid om alles so haarfyn oor my verlange
+en my wense uit te pluis en te beslis." (p. 133.) Tog het sy hom werklik
+lief, maar na die onthullings in die bootjie volg daar so 'n plotselinge
+ommekeer in haar gevoelens, dat dit baie op geestelike akrobatiek gelyk.
+Vóór die bootongeluk het sy vir Hugo "nie die minste ontferming of
+vriendelike nagedagte nie" (p. 168), maar kort daarna "huil (sy) bitter
+en lang in haar pynlike verlange na hom" (p. 175). Sy is ongetwyfeld 'n
+"fatsoenlike dame", wat heel verstandig handel en weinig las het van 'n
+impulsiewe Franse temperament, maar in so 'n koel-berekende "liefde",
+waarby finansiële oorwegings 'n groot rol speel[335] is niks wat ons
+deur skoonheid ontroer nie.
+
+Dat Lourier "die onverbeterlike swerweling en niksdoener" so 'n rustige
+ambagsman in Amsterdam word, waar hy "'n verantwoordelike en winsgewende
+pos" beklee (p. 198) is ook in stryd met die gewone menslike geaardheid.
+
+Hugo, "die verstandige, kalme figuur aan die Bergrivier" (p. 125) bly
+ook meestal doodbedaard. Hy vind dit heeltemal billik, dat Anna "die man
+se innerlike (moet) leer ken, wat verlang dat hy haar lewensgesel sal
+wees" (p. 84). En as dit blyk dat sy verwagtings op 'n sandbank gebou
+is, bring Pascal hom tot die heldhaftige besluit: "Hy sal losbly van
+homself(?), om nie te verlang nie, dat sy vir hom liewer as vir 'n ander
+sal hê en dit net omdat hy vir haar lief het" (p. 116). Van lange duur
+is die filosofiese wysheid egter nie, want hy gaan slaap "met die
+gedagte wat streef om die holligheid in die huis en haard tog eenmaal op
+te vul met die geluk waarna hy in sy troostelose allenigheid smag" (p.
+117). Dit kom my voor dat die neiging van die outeur om in die persoon
+van Hugo die Hugenote te idealiseer hom hier parte speel. "Hy (behoor)
+ook groot genoeg te wees om vir hom (aan 'n teleurstelling) te
+onderwerp, soos hy met sy geloofsgenote gewoon was om te doen" (p. 116).
+Maar van die grootheid merk ons nie veel nie, want as hy gaan slaap,
+verlang hy al weer na Anna, doen hy dus presies, wat hy hom voorgeneem
+'t om nie te doen nie!
+
+Die slemppartye van Lourier en De Meurs is miskien die besgeslaagde
+toneeltjies in die boek. De Meurs met sy toegeknipte oog en knorrende
+brak. Lambert in sy astrante vrindskaplikheid is goed geteken, terwyl
+die dialoog meestal fris en lewendig is. Hoe styf en onnatuurlik word
+dit egter op ander plekke! "Ja, as dit (die liefde) die diepte van die
+ware moederliefde het en 'n vermeende liefde nie 'n bandelose drif is
+nie wat te dikwels en helaas, al te gou tot 'n ontnugtering van die
+werklikheid (?) kom." Sulke en nog swaarwigtiger betoë lewer Jacob de
+Smit op p. 137. Hy praat van "'n nimmereindigende lewenswroeging",
+terwyl ook Isabella so deftig soos 'n dominee redeneer: "Jy sien daar so
+beteuterd en ontredderd na liggaam en siel uit, asof jou sterwensuur
+naby is." De Smit vertel Lourier dat sy ouershuis "nou 'n droom, 'n
+ysingwekkende, nimmereindigende herinnering (is). Terwille van (sy
+moeder) het (hy) nog teen die verdrietelikhede van die lewe manhaftig en
+hygend geworstel...." (p. 46). De Smit met sy triestige beskouings moet
+dien as teëhanger van Lambert Lourier met sy lugtige swerwersnatuur.
+Maar die hele selfmoordepisode behoort tot die swakste gedeeltes van die
+boek. Malan verstaan nie die kuns om deur intuïtiewe deurdringende
+details sy persone te laat leef nie en De Smit bly vir ons 'n skim. Sy
+teatrale lamentasies mis alle egtheid en die tekening van sy geval is so
+alledaags, dat dit by ons geen dieper gevoel opwek nie dan soortgelyke
+berigte, wat ons af en toe terloops in 'n krant raaksien.
+
+Die onverstaanbare praatjies van Aploon oor Boeddhisme lyk baie na
+onhandige vertalings uit 'n handboek oor Oosterse wysbegeerte. Onder
+ander sê hy: "Die mens het geen eie ek nie. Hy bestaan uit 'n
+liggaamlike uiterlike gevoel, waarneming, begeerte en bewussyn wat hy
+hom kan verbeel en as hy sterf, plof dit almal uiteen" (p. 59). Die
+vertalings uit Pascal is ook nie almal gelukkig nie "Die teenwoordige
+is nooit ons _end_ nie...." (p. 115). Die Franse teks lui: "Le présent
+n'est jamais notre fin: le passé et le présent sont nos moyens; le
+seul avenir est notre fin".[336] Dit lyk baie of 'n Engelse vertaling
+Malan hier op 'n verkeerde spoor gebring 't, want uit die verband blyk
+dit dat Pascal wou sê: Die teenwoordige is nooit ons _doel_ nie.
+Onduidelik is ook Malan se vertaling van: "Si nous naissions
+raissonnables et indifférents, et connaissant nous et les autres, nous
+ne donnerions point cette inclination à notre volonté.[337] "As ons
+onverskillig--oplettend...." ens. (p. 115).
+
+Onverstaanbaarheid is 'n vaste kenmerk van Malan se styl. Telkens stuit
+mens op sinne, wat jy drie of vier keer moet lees, voordat dit op 'n
+manier duidelik word. Sy verwronge uitdrukkingswyse laat mens dink aan
+'n swaargelaaide wa, wat kreun-kreun teen 'n knaende opdraand uitgesleep
+word.
+
+Die duisterheid word meestal veroorsaak deur 'n onbeholpe sinsbou en
+woordskikking, of 'n verwarde gedagtegang. "'n Halwe of hele bottel wyn
+by glasieswyse genuttig in 'n aand deur een persoon, is nie juis beskou
+deur die fatsoenlikste in die land nie, dat 'n mens op 'n ongeoorloofde
+wyse oor jou maat gaan." (p. 92); "Ek snap dit nie, maar ek glo dat 'n
+Indiese bende ook in die rigting van die onsienlike en harmonie vir
+hulle beweeg" (p. 122); "Daarmee is hulle die aand, byna histories vir
+die famielie se geskiedenis uitmekaar" (p. 126); "Hugo redeneer, dat
+hier daar nou 'n mooi geleentheid moontlik sal kom ..." (p. 101); "Die
+okkultistiese wysbegeerte ... had 'n vèrreikende invloed op die
+ongelukkige man, waaroor hy dae lang steeds gedroom en met sy eie
+toestand vergelyk het." (p. 61); "In geen land is 'n somersnag
+bekoorliker nie as in Suid-Afrika.[338] Die suidooste wind het af en toe
+die dag gewaai en alhoewel dit in Olifantshoek byna pynlik was, die
+alom-besielende stilheid in die natuur, kon die aanhoudende dreuning van
+die "Sedoos" se geblaas ... nog duidelik gehoor word ..." (p. 132); "Vir
+sy onderwyserskap wil hy verhoging van traktement hê, wat maar twee dae
+in 'n week ... duur" (p. 12); "Dit was ons leiers se grootste fout
+gemaak, dat hulle ..." (p. 19); "Vir haar skyn daar met 'n oormate van
+poeier aan die gesig, voorligting oor betaamlikheid en stemmigheid
+sonder suur en spraakloos te wees, ten minste ontbreek te hê" (p.
+144-5).[339]
+
+Naas meer sulke voorbeelde kom daar nog baie staaltjies van onbeholpe
+styl en verkeerde woordgebruik voor, waarvan enkele voorbeelde ter
+tiepering gegee word: "Die geplas van die strooidak neerstromende water"
+(p. 15); "oorstelp" (p. 64); "En as hy met ander honde op straat brutaal
+is, dan as hy aan die kortend kom, vlug hy tussen sy baas se bene, wat
+sy Nimf ... dan met sy stok verdedig" (p. 69); "ontbreek" (p. 72); "Toe
+hy sy hand bo sy oë hou, om die gedaante ... te ontsyfer" (p. 74);
+"herinner" (p. 124); "onderhoud" (p. 135); "Hy het ... so skokkend
+geskrik" (p. 149); "bevel" (p. 178).
+
+Storende herhaling van dieselfde woord kom maar al te dikwels voor:
+"Hy kan moontlik Hugo se sukses al onmoontlik gemaak het;
+ongetwyfeld--sonder twyfel; belangstelling ... gestel het of stel" (p.
+82-3); "weer ... weer ... weer" (p. 86, in een sin); so ook "buurman"
+(p. 102); "Toe was sy ook etlike male voor die spieël en vol van mooie
+bespiegelings oor haar indrukwekkende postuur ..." (p. 146); "almal
+... almal; wispelturige; Daar was ten minste 'n kenlike gemoedsvrede
+... in die kombuis van Pierre Rousseau kenbaar" (p. 9); ens.
+
+Die beskrywing van die verjaardagfees op die kasteel in Hoofstuk XVII
+mag in alle opsigte histories juis wees, maar met kuns het dit seker
+niks te maak nie. "Eindelik tree die goewerneur, onder menigvuldige
+buigings van die gaste ... binne. Daaronder word opgemerk, onder meer,
+landdros de Meurs, lede van die Politieke Raad, ander vernaamste
+ingesetene van die stad.... Isabella was in 'n platgeplooide swart
+syrok, mevr. luitenant Rheede in 'n polonnaise-plooirok...." (p. 153-4).
+So 'n verslag kan die jongste rapporteur van _Die Volksblad_ ook skrywe!
+In wat blykbaar as 'n kunswerk bedoel is, behoort so iets, om die minste
+te sê seker nie voor te kom nie.
+
+Malan het 'n manier om met die grootste erns uit te wei oor alledaagse
+onbelangrikheidjies. "Anne wat in die kombuis besig was om te stryk, het
+binnegekom nadat Anna, haar dogter, vir haar van die gaste vertel het en
+sy het hulle almal hartlik welkom geheet, nadat sy vir hulle gegroet
+het" (p. 8). Nou weet ons dit tog sekuur: eers groet, dan welkom heet!
+Maar, "intussen sal Anna voorbereidsels vir die ete maak" en "solang die
+gaste en Pierre oor die rit, die weer en die boerdery praat is die tafel
+gedek en verder alles in verband met die aandete in orde gebring. Toe
+hulle almal aansit, was daar genoeg vir almal." Gelukkig vir die
+huisvrou, maar hoe sy dit so sekuur kan weet by die begin van die
+maaltyd al, is nie erg duidelik nie! Dan volg 'n uitweiding oor die
+"Fransche brood". "Na die ete is die huisgodsdiens, wat deur Pierre
+_gelei is, waargeneem_. Eers is 'n hoofstuk uit die Bybel uit
+voorgelees, toe 'n psalmvers gesing, ens ..." Waarom moet sulke
+welbekende sake so plegtig meegedeel word? Hier het Malan nou 'n mooi
+geleentheid gehad, om deur enkele plastiese trekkies, deur die tekening
+van 'n paar gebare of die aanduiding van 'n reeks klein handelinge sy
+persone uit te beeld. Maar vir hom is dit, as historikus hoofsaak, dat
+die leser moet weet van "die worsteling van die Camisarde, (wat) op die
+punt is om onderdruk te word".
+
+Na die huisgodsdiens gaan die gaste in die kombuis om die vuurherd sit.
+Die poging om die nuwe atmosfeer aan te dui is nie erg gelukkig
+nie--daar is storende herhalings en verwronge sinsbou--terwyl die
+volgende sin seker uit 'n kinderboekie verdwaal het: "Anne vra vir Anna
+om die tessie met die stoof asseblief te gaan haal; en nadat sy dit
+gebring het, (gewigtige meedeling! P.C.S.) het sy vir haar moeder daar
+kole met die tang ingedoen en dit het onder Anna se voete in die stoof
+gekom"! (p. 9-10).
+
+Gevoel vir die natuur het Malan wel, maar hy vergenoeg hom meestal met
+konwensionele beeldspraak. Die bergpunte gooi hul "wit musse" ongeduldig
+af (p. 5); "van die sonneskyf (spat) 'n see van gloeiende vonke (af)"
+(p. 6); "Statig en deftig is die son reeds agter die westerkimme
+weggestap in sy fonkelende mantel van goud en oranje en violet" (p.
+199). Waag hy hom aan 'n nuwe beeld dan kry ons rariteite soos die
+volgende. 'n Wyfie-kokkewiek antwoord haar maat "in 'n perfekte maat
+..., met _halleluja's_" (p. 63), terwyl die lenteson elke jaar
+"nimmerfeilend oor elke boom en blad na 'n gure winternood _halleluja's_
+neergiet--helaas, helaas, ook as requiem vir die voorgeslag wat verby
+is, wat leef, wat kom." (p. 80-1). Halleluja's as requiem! 'n
+_Voor_geslag wat leef, wat kom! Dit staan daar!
+
+In hoofstuk III moet 'n vergelyking van die voortreflikhede van
+"eiland- en waterleipatats" ons in die stemming bring vir 'n lofrede op
+die Bergrivier "die lewensaar en voeder van die allereerste wegbaners in
+die nuwe vaderland" (p. 38). "Aan sy oewers is hy die een na die ander
+geslag as 'n neulende _kindjie_ in die skommelende wieg, 'n
+nooit-vergete troos." Maar in die volgende sin hoor ons: "By hulle moes
+die Bergrivier se aansyn en waterrippeling die afspieëling van 'n
+_moederportret_ gewees het ..." Dat "die puriteinse gedeelte van die
+volk ... die rooivlag ... uitgehang het" teen die ou bruilofsliedjies is
+'n anakronistiese beeld, wat 'n snaakse indruk maak in die
+agtiende-eeuse sfeer. (p. 183.) In die "aambeeldklanke aan die oewers
+van die Eersterivier" klink 'n harmoniese toon, maar waarom moet ons
+driemaal hoor dat die water "haastig" is? (p. 81).
+
+Stereotiepe uitdrukkings soos die volgende kom dikwels voor: "'n
+Skynende lig in die ... dikste duisternis" (p. 108); Lourier bly "as 'n
+soutpilaar staan" (p. 86), en voel "asof hy langsamerhand in 'n see van
+wanhoop wegsink" (p. 162); ens. Naas retoriese uitdrukkings soos: "Sy
+kreun van sielswroegende spyt" (p. 173) ook die mees alledaagse
+beleefdheidsfrases: "By die geleentheid het hulle vir hom met die
+innigste hartlikheid vir sy heldhaftige daad bedank en Hugo het dit met
+die minlikste bereidwilligheid aanvaar" (p. 176). En hoeveel "sugte"
+word daar nie "geslaak" nie! De Meurs "slaak die een na die ander
+sielsverstorende sug" (p. 72); Anna "slaak ... 'n diep sug van troos en
+verligting" (p. 174); ens.[340]
+
+Onder die anglisismes kom voor: kyk (blik, en iemand besoek, p. 6, 13,
+186, 62, 76); sieniek (sienikus, p. 84); "om daar ... so 'n ekshibiesie
+van hom te maak" (p. 162); afgetrek (p. 183). Malan gebruik dikwels
+Hollandse woorde en wendings: tors (p. 27); desulke (p. 32); verhole (p.
+44); ens. Die volgende voorsetsels is foutief: "Uit die gang uit gaan 'n
+mens _by_ 'n rei[341] trappe op na bo" (p. 24); "student _in_ 'n
+Neerlandse Uni(w)ersiteit" (p. 48); "die kroon was ... _deur_
+mak-roosmaryn ... versier" (p. 183); "sakdoeke _aan_ die vertrekkende
+gewaai" (p. 189); "As amptenaar van die O.I.K. het hy ... _by_ hom die
+stempel van Batavia gedra" (p. 66). Uit 'n taalkundige oogpunt sou daar
+nog heelwat op Malan se sinsbou aan te merk wees. Onder ander is sy
+gebruik van die dubbele ontkenning, van _het_ en _hê_ dikwels foutief.
+
+
+§ 18. Ds. J.H. Kruger.
+
+Ds. J.H. Kruger is in 1878 gebore op Venterstad, K.P. Aan die
+Teologiese Skool, Burgersdorp het hy gestudeer en daarna enige tyd
+onderwys gegee. Sy teologiese studie is in 1899 deur die oorlog
+onderbreek. Met die hulp van vriende het hy deur Grootrivier gevlug en
+as rebel by die kommando's aangesluit. Na herstelling van 'n wond by
+Spioenkop, Natal opgedoen, het hy by Generaal De Wet aangesluit, maar in
+die verwarring by die slag van Sandrivier is hy gevang en moes twee jaar
+as balling in Ceylon deurbring. In 1906 het hy in Potchefstroom
+proponentseksamen gedoen. Sy eerste standplaas was Elliot en van 1911 af
+Postmasburg. In 1921 het van hom verskyn 'n roman, _Twee Rampe en Twee
+Gelukke_, waaraan in die prysvraag van die firma J.H. de Bussy die
+twede, prys toegeken is.
+
+Twee Rampe en Twee Gelukke.
+
+Bram, die eienaar van die plaas Leeukop het agteruit geboer en was
+verplig om geld op te neem by sy buurvrou, ou tant Anna Smal, wat van sy
+verleentheid wil gebruik maak om haar buffelagtige seun Hans met sy
+fynopgevoede dogter Isabella te laat trou. Met skinderpraatjies steek
+tant Anna vir Bram op teen die Breed-famielie, sy beste vrinde, wat op
+die aangrensende plaas Oupos woon. Isabella het vir Piet Breed lief,
+maar haar vader se afhanklike posiesie verplig haar om met Hans uit te
+gaan, wat haar na 'n dansparty sleep. Tant Anna en Bram jaag die Breeds
+van hulle huurplaas weg, maar Bram se gewete plaag hom so, dat hy sy
+dogter en die Breeds kort voor sy dood om vergewing vra. Hans word in
+die pad gesteek deur Bram se weduwee en as tant Anna die geld opsê, word
+Piet Breed deur die vrygewigheid van Oom Segrys Boshof in staat gestel
+om Leeukop te koop.
+
+ * * * * *
+
+Die roman is hoofsaaklik in dialoogvorm geskryf. Die gesprekke word baie
+breedvoerig weergegee, en as gevolg kry die verhaal hier en daar 'n
+slepende gang. Heel weinig word aan die fantasie van die leser
+oorgelaat. Daar is soms 'n neiging om alles tot op die been af te kluif.
+Groetery, koffiedrinkery en soortgelyke dinge word oor en oor vertel.
+Die skikkinge vir die begrafnis word baie omstandig meegedeel en ou
+Jefta se relaas (p. 37-40) kon heelwat korter gewees 't.
+
+Die dialoog tref deur 'n besonder losse natuurlikheid. Die mense praat
+geen kunstig inmekaar gesette vernufstaaltjie nie, maar hul gesprekke
+word gekenmerk deur die sig-sag gang, die toevallig gebrokene van die
+geselstaal.[342]
+
+Maar, "gesprekjes weergeven is geen dialoog, hoe letterlijk de
+weergegeven woordjes en zinnetjes ook zijn.... De hooge en werkelijk
+groote dialoog ontstaat pas in de door de ziel van den kunstenaar
+herschapen taal-levingen. Dialoog krijgt alleen dan diepte, als hy
+geheel op hetzelfde geïndividualiseerde plan staat van de waarde der
+menschen en omgeving. Dialoog scheppen is even moeilijk als tragiek
+scheppen, of liever moet zich geheel scheppend oplossen in de gansche
+uiting. Evenmin als 'n _fotografische_ opname eener omgeving, die alleen
+door de ziel van een kunstenaar er in te brengen stemming kan weergeven
+_van_ die omgeving, evenmin kan een _fonografische_ op- en overname van
+een gesprek de stemming weergeven van de ziel der wezens die spreken.
+Dialoog is stemmingskunst in de hoogste volmaking en 'n innig-levende
+dialoog kan nooit 'n klankweergeving zijn van _afgeluisterde_
+zinnetjes."[343] Fonografies korrekte sinnetjies is seker volop in die
+roman, maar in die pratery van ou tant Anna bereik Kruger ongetwyfeld
+iets van die hoë dialoog. En dat sy mense op natuurlike wyse gesels is
+ook al iets om dankbaar voor te wees, aangesien so baie van ons skrywers
+nog soos Bredero van Rodenburg sê "de Vrouwen, Dienst-meysjens, ja
+Stalknechts doe(n) Philosopheren ... dat ick doch meer voor een bewijs
+van uwe wetenschap acht, als voor een eygenschap in die slach van
+Menschen."[344]
+
+Kruger verstaan die kuns om uit die dialoog die innerlike wese van sy
+mense te laat opduik en daardeur bereik hy meer dan baie ander skrywers
+met analiese of beskrywing. Tant Anna het skaars haar mond oopgemaak of
+ons ken haar al deur-en-deur in al haar skynheilige vroomheid. As
+skinderbek veral is sy goed geteken. Op listig-diplomatieke wyse word
+die driftige Bram eers opgestook, maar as hy te ver wil gaan in sy woede
+laat sy hom bedaar met 'n bybelteks! (p. 66). Deur allerlei gelukkige
+trekkies en haaltjies word sy so goed uitgebeeld, dat sy naderhand
+lewendig voor ons staan met die vetswam onder haar kin, die vuil-gelige
+tande, bleekrooi sakdoek en snuifdosie. Ook van Hans en Jan Booise kry
+ons 'n realistiese portrettekening. Ou tant Anna se vroom uitvalle, haar
+met bybeltekste deurspekte taal en haar manie om almal te dokter is goed
+weergegee. So ook die buffelagtige lompheid van Hans. Maar die
+kenmerkende eienskappe van moeder en seun word teen die end van die
+verhaal só aangedik, dat die tekening karikatuuragtig word. Kruger moet
+dit nie vergeet nie: "il n'y a point d'unité complète dans l'homme, et
+presque jamais personne n'est tout à fait sincère ni tout à fait de
+mauvaise foi."[345]
+
+Tog is daar 'n paar mooi realistiese toneeltjies uit die lewe op
+Tweefontein[346] en die manier waarop Hans van Leeukop verwilder word
+(p. 202, vlg.) is 'n gelukkige vinding, wat van diep-psigologiese insig
+getuig. Dit is ook waar van die uitbeelding van die oplopende Bram, wat
+na die dansparty tot inkeer kom; die kwaai-koppige Oom Segrys, wat dit
+nie kan kleinkry nie, dat dit na 'n dansparty altyd so mooi reent (p.
+182); tant Martina, wat so trots is op haar "skoon geslagte" en die so
+fyn kan uitrafel. Maar Piet bly 'n skim en die maklike manier, waarop hy
+eienaar word van Leeukop gee hom die allures van 'n "romanheld". Dit is
+die swak punt in die komposiesie van die boek. Oom Segrys se
+buitengewone vrygewigheid word wel enigsins gemotiveer deur die feit,
+dat die Breeds hom in die stormagtige nag gered 't, maar die oubaas, wat
+so 'n swak het vir famielie-betrekkings het tog seker nog nader verwante
+gehad, wat meer reg op sy geld het as Piet. Oom Segrys is eenvoudig die
+_deus ex machina_, wat die ontknoping van die verhaal moet bewerk. Sulke
+goedhartige ooms is maar bra skaars in die werklike lewe.
+
+Die tekening van Isabella is ook net gedeeltelik geslaag. Haar
+ervarings op die dansparty is meer die indrukte van 'n dood-onskuldige
+teologiese student, wat vir die eerste maal iets van die sondige wêreld
+sien en notiesies maak vir 'n retoriese preek teen wêreldsgesindheid.
+"Will Bottel het op haar 'n treurige, sonde-vieslike[347] indruk gemaak"
+(p. 151). Sy sien hom lê op die vloer "soos iemand in die poel van
+rampsaligheid moet lê" (p. 172). "Dit was vir haar of sy in 'n onheilige
+omgewing staan en 'n besoedelde atmosfeer inasem, 'n atmosfeer, waarin
+verpestende sondekieme ronddrywe" (p. 152). "Die onreinheid en
+onheiligheid het haar angstig gemaak, ontevrede, ongemaklik en
+verwaarloos laat voel, net soos iemand, wat vuil was en lanklaas gewas
+het"!! (p. 177). Sulke opmerkings bewys, dat hier die predikant baas
+speel oor die outeur. Hy kon hom nie vereenselwig met die malkop-dansers
+in hul "dolle gloria" nie, maar bly 'n onwillige _toeskouer_ van al die
+sondige pret. Sy aanvoeling van Isabella se gewaarwordings is
+grof-manlik en nie vroulik-subtiel nie. Maar as Isabella met Koos dans,
+dan maak hy 'n raak opmerking: "Sy dans en voel, dat dit 'n genot moet
+wees om te dans met 'n jonkman, wat sy sou bemin" (p. 163).
+
+Oom Freek is geen figuur wat ons tref deur indiwiduële tekening nie. Sy
+mymering op p. 10-11 sit te netjies inmekaar om eg te wees. Dieselfde
+indruk maak ook p. 74, terwyl Hans onmoontlik ou Jefta se woorde so
+presies in sy gedagte kan nasê (p. 78). Dat al drie reisigers dieselfde
+indruk van die verlate Oupos kry (p. 138) is ook onmoontlik. Mooi word
+egter die atmosfeer aangedui as Piet in die waanhuis die doodkis
+toeskroef (p. 20) en treffend-eg is die uitbeelding van sy
+grillerig-bange gevoelens. "Piet verbeel hom meteens, daar uit die
+groot, wye spinnekop-nes kom 'n grillerige langbeen....; die verewa
+agter in die waanhuis kyk hom aan met groot starende oë".[348] In die
+damtoneeltjies is daar stukkies beskrywing van 'n suggestiewe
+fynheid.[349]
+
+In die verhalende gedeeltes is Kruger se styl soms so kort afgebyt, nes
+een wat ver gehardloop het en nog uitasem sy storie vertel.[350] Eweas
+in die dialoog kom hier ook 'n breedvoerigheid voor, wat af en toe
+hinderlik word. "Die predikant staan op, maak keel skoon, haal sy bril
+uit die skyf, vee dit af, hak hom met albei hande agter die ore vas, gee
+'n versie op, lees 'n kapittel en begin toe, so effens oor die
+brille[351] loerend." (p. 30.) So 'n eentonige reeks moment-opnames
+steek lelik af by realistiese skilderytjies soos die volgende: "Ou tant
+Anna lag met wyd oopgerekte mond, die vetswam onder haar ken uitdyend en
+die gehemelterooi agter haar vuil-gelige tande wysend." (p. 65.) En wat
+maak vlak-vaal sinne, waarvan die volgende maar een voorbeeld is in 'n
+letterkundige werk? "Die meeste meisies was in die groot langwerpige
+eetkamer, waarin, behalwe 'n eettafel en 'n paar ouderwetse swart
+stinkhout stoele, niksnie besonders was nie." (p. 152.) Onbeholpe van
+segging is o.a. die volgende: "'n groot mis_stof stof_wolk (p. 70); die
+om sy lyf met 'n riem vasgegorde te wye ferweelsbroek (p. 86), Oom Freek
+(vra) met bewende ken, waaraan die lang yl baard skud en vlammende oë"
+(p. 87); die herhaling van _slaap_ op p. 181.
+
+'n Voorbeeld van smaaklose klink-klank is die beskrywing van die wind op
+p. 146. "Draaiende, swaaiende kom met die paaie aangewaai stowwe suile
+(stofsuile?), wat soos geel krullende kuiwe opstuiwe. Die hollende,
+jollende wind skop die stowwe bolle (stofbolle?) soos dwalende, malende
+vuilkolle hoog in die lug in...." So rym en allitereer hy dapper voort
+nes 'n poëtaster, wat sy eerste versfabriekie aanmekaar klink!
+Ondertussen word die _stofsuile_ van _krullende kuiwe_ tot _stofbolle_
+en die weer tot _vuilkolle!_ Komies is die klankeffek in die volgende:
+"Die slappe wilkertakke ... skoppermaaie rusteloos, moedeloos, lindelam
+heen en weer oor die dam"![352]
+
+In sy beeldspraak is Kruger 'n enkele maal fris en oorspronklik. Ou
+Jefta se hemp word deur die wind _bulsak_ geblaas tussen sy skouers (p.
+147); Isabella sidder "soos 'n voëltjie vir 'n mamba-slang" (p. 153);
+Jana lyk "soos 'n Bloemfonteinse straat, wat ... opgemaak (is) vir die
+hertog van Connaught" (p. 149). Die gewone cliché-praatjies is egter ook
+volop: Die lykpreek het "byna 'n eeu geduur" (p. 30); "Koud soos 'n stuk
+ys, waaraan sy gloeiende hart raak ..." (p. 84); "Haar hart het ...
+gebrand van verlange, maar sy moes daardie liefdekole in haar boesem
+dra"! (p. 223). Arme meisie!
+
+Storend is die gebruik van 'n driedubbele negatief en weglating van die
+dubbele negatief. "Vir haar was daar _niksnie_ aangenamer _nie_ (p. 24)
+nooitnie ... nie; ens. "G'n blaartjie het geroer" (p. 7); ens.
+
+Ofskoon die gebruik van dialektiese vorme in die dialoog toelaatbaar is,
+moet dit afgekeur word in die verhalende teks. Kruger gebruik o.a.
+suffel, groos, espres, bebliek, ens. Wat hy o.a. met _preer_ (p. 204),
+_effetroon_ (p. 62), _eenspaier_ (p. 141) bedoel is my onbekend.[353]
+Verkeerd is: ongehawende stemme (p. 8), kostelike gordyne (p. 214),
+terwyl _moedvallig_ 'n Krugerisme is.
+
+Afsonderlik moet nog vermeld word, dat Kruger sy eie persoon nooit op
+die voorgrond dring nie. Hy hou geen toesprake tot sy "geagte lesers" en
+moraliseer nie oor sy karakters nie. Van 'n skrywer, wat in sy eerste
+werk so 'n psigologiese indringingsvermoë openbaar en so realisties
+teken, kan nog veel verwag word.
+
+
+§ 19. Mej. Sadie Bosman.
+
+_Langs Kronkelende Weë_ (1921). Dit is 'n verhaal van "hartverskeurende
+afskeid", van eindelose gekreun en gesteun, van sugte en snikke! Dis nie
+die gewoonte om statistiese tabelletjies in 'n letterkundige kritiek te
+gebruik nie, maar in hierdie geval moet tog vermeld word, dat daar byna
+_vyftig_ maal gesug word! Dan nog al die trane! Emmers vol! Soms kom al
+om die ander bladsy byna die uitdrukkings "met 'n sug", "met betraande
+oë" voor.[354] Met sulke en dergelike huilerige woordjies, met 'n
+salwende tederheidsbetoon, 'n sieklik-verweekte gevoelerigheid probeer
+die skryfster om ons te ontroer. Met sielsleë frases wil sy ons in 'n
+droefnisstemming bring! "Duisenderlei bange vrese vervul steeds haar
+treurende hart en die skoon oë was moeg van al die stil geween ... die
+oë vol skaduwees (waaragter) 'n wêreld van wee verberg was" (p. 155).
+"Maar vanaand moes die sterre hulle aangesig verberg vir die
+hartverskeurende strome van mensebloed(!) wat orals vloei, en skyn die
+hemelse vrede verder as ooit te wees van die oorlog-geteisterde aarde"
+(p. 61). "Met gebukte hoof, verbleekte gesig, en dromende oë hervat sy
+haar lewenstaak; maar die glimlag op haar lippe het vir altyd verdwyn,
+(So, so! P.C.S.) en haar hart daarbinne was versteend" (p. 96). Nêrens
+'n gevoelde woord, met pure aanstellerige bombas. Of anders 'n mislike
+foefie om eie onmag te bedek. "Oor die bitter skeiding en
+hartverskeurende vaarwel laat ons saggies 'n sluier neer" ens. (p. 47).
+
+As Lear uiting gee aan sy droefheid oor die dood van Cordelia, dan sê hy
+met 'n eenvoudige gebaar: "Pray you, undo this button. Thank you sir".
+Só werk die beeldende kunstenaar.
+
+Groot en egte lewensgevoel kan alleen geuit word deur groot
+styleienskappe. Daar is duisende diep ontroerdes, by wie alleen
+hakkelwoordjies of stomme gebare 'n aanduiding gee van die
+lewenstragiek. Maar alleen die kunstenaar kan die donker dieptes vir ons
+oopblits. Dit kan nie gedaan word met praatjies oor "snikkende geween"
+en "gesmoorde smartelike kreune" nie. In Sadie Bosman se styl is daar
+nooit 'n opglansing van oorspronklikheid nie. Dit is wat Querido noem 'n
+"grijseffene breikousenstijl", waarin die dooiste gemeenplaatse met 'n
+geroetineerde ratsheid afgerittel word. Nooit raak sy verleë oor 'n
+woord nie, die naalde klik-klik met masjinale reëlmatigheid.
+
+Tog het sy 'n stof behandel, wat by 'n waarlik voortreflike werker tot
+'n geweldig aangrypende tragedie sou kon gegroei het. Hannes en Miemie
+is verloof, maar deur die rebellie en die veldtog teen Duits Suid-Wes
+(1914) ontstaan daar vyandskap tussen hul vaders. Hannes kom tot ander
+insigte deur sy omswerwings in die Vrystaat en op die end van die
+"kronkelende weë" kry hy tog vir Miemie. Geteken word dus die reaksie op
+'n paar persone van die geweldige konflik, wat die Afrikanerdom in twee
+partye verdeel 't en vandag nog soveel bitterheid veroorsaak. Maar die
+twee vroue, deur wie Hannes tot _Nasionalis_ bekeer word is geen gewone
+sterwelinge nie--hulle is engele! Veral Lida word ons voorgestel as "'n
+vleklose engel" en selfs die dokter "'n bedaarde ou Engelsman" (p. 198)
+verklaar, dat "vir so 'n engel ons besoedelde aarde 'n onwaardige
+woonplek (is)" (p. 199). Maar ook Miemie is so 'n voorbeeldige
+jongedogter, dat dit geen verbasing wek as ons hoor dat sy "engelagtig
+lyk" nie (p. 16) en Hannes "met so 'n hemelse teder blik aan(sien)"[355]
+(p. 44). Hannes is "'n treffende beeld van 'n flink jongeman, wat 'n
+suiwer, eerbaar en opreg lewe lei" (p. 24). Sy enigste sonde is, dat hy
+'n _Sap_ is, maar die stroopsoet seuntjie word deur die liewe engeltjies
+so mooi reggehelp, dat hy ook volmaak word! Beskou ons nou die orige
+figure van die limpatiese geselskap, dan blyk dit, dat Oom Gideon
+ooreenkoms vertoon met die swaarmoedige grysaards uit _Vergeet nie_ en
+_Teleurgestel_. Hoe dat Oom Koos nou eintlik tot berou kom, word nie
+vertel nie. Die bedrywige Tant Lizzie, wat gelukkig geen tyd het om te
+veel te sug nie is die bes geslaagde figuur. Waar daar geen geleentheid
+vir sopperige sentimentaliteit is nie, blyk dit dat die skryfster 'n
+goeie opmerkingsgawe het. Tant Lizzie is ten minste 'n menslike mens.
+
+Tot watter onsinnigheid die sentimentele neiging aanleiding gee blyk
+hieruit: Miemie het "'n ondeunde kuiltjie, wat elkemaal so skelmpies uit
+die wange loer, en waarin die hart van Hannes lank reeds baie diep
+ingetuimel het"! (p. 3). Sy gaan na die somerhuisie waar "die
+roostakkies en kamperfoelie om die latwerk heen(slinger); daar steek sy
+dikwels haar arms na hulle uit "om hulle aan haar bekommerde hart te
+druk"! (p. 56). Stel mens jou die dinge nou nugter voor, dan is dit om
+van te skater!
+
+Die toneeltjie waarin die oue Basson, wat aan die maal geraak het oor
+sy in die rebellie gevalle seun in die middel van die nag vir Hannes kom
+vra: "Vir watter kant het jy gestem?" (p. 167) laat ons op plastiese
+wyse voel, wat 'n lewenssaak die politiek vir ons mense is. Dit is
+psigologie-in-aksie en heel wat anders dan 'n bewering soos die
+volgende, wat ons op goed geloof moet aanneem, sonder dat ons daar iets
+van gevoel het. "In die oorlogskool het (Hannes) geleer dat helde
+gebore, en nie gemaak word nie, en dat die beesagtige in die mens soms
+die redelose dier ver oortref" (p. 102).
+
+Die politieke tendens en die feit dat daar resente gebeurtenisse van
+nasionale belang in behandel word, gee die roman 'n aktuele kleur. Deur
+die een party kan dit as 'n wapen in die politieke stryd beskou word,
+maar van letterkundige belang is dit nie. Feitlik is dit dan ook slegs
+'n vertaling, want die oorspronklike uitgawe van 1916 was in
+Hoog-Hollands.
+
+
+§ 20. G.J. Otto.
+
+Gawie Joh. Otto is in 1880 gebore op Marico, Transvaal. Ottoshoop is na
+sy vader genoem, wat onder die Republiek daar Mynkommissaris was. In
+1896 het hy klerk geword in die Onderwys-Departement. Met drie wonde het
+hy by die slag van Elandslaagte na awontuurlike ondervindings ontsnap en
+deurgeveg tot 1901, toe hy gevang is en na Indië gestuur. Na die oorlog
+was hy werksaam by C.N.O. skole. Hy het ook besonder aktief opgetree in
+verskillende verenigings, asook op kerklike en politieke gebied. In _De
+Volkstem_ het behalwe baie ander artiekels van hom 'n feuilleton, _Koen
+Vermaak_ verskyn. Sy brosjure _Vreemde Stertvere_ (1910) is 'n
+aansporing om ons taalregte prakties toe te pas. 'n Toneelstuk, _Josef_
+het in _Die Brandwag_ verskyn, _Uit die Lewe_, 'n bundel sketse in 1921.
+Sedert 1919 is hy Inspekteur van Blanke Arbeid vir die Vrystaat en o.a.
+ook Sekretaris van die Raad van Advies vir Jongeliede.
+
+Uit die Lewe.
+
+Die skrywer vertel in 'n paar kort sketse hoe die Boereseuns in sy jong
+dae skyfgeskiet, vis gevang en klippe gerol het. Hulle wys 'n Hollander,
+wat sy Hoog-Hollands blykbaar eers in Afrika geleer 't, hoe om kalwers
+te ry en met 'n nooi op te sit. Verder gee Otto 'n verslag van die
+eerste twee maande van sy lewe en skets die ongerustheid van 'n paar arm
+blankes wat ure lank op die Bloemfonteinse trein wag. Prof. Jan Celliers
+het in sy voorwoord die bundeltjie goed gekarakteriseer: "Sonder te
+danig hoë pretensies, wil (die skrywer) net die Afrikaanse lewe weergee,
+en padlangs-eenvoudig met ons daaroor praat." Die klein stukkie lewe wat
+hy teken, ken hy goed, maar hy is nie by magte om sy sintuiglike
+waarnemings op te hef tot 'n hoër plan nie, omdat dit hom ontbreek aan
+styl en uitbeeldingsvermoë. Dat 'n paar sketse 'n strekking het, is
+alreeds opgemerk.[356]
+
+
+§ 21. "Wolla".
+
+Wolla vertel in _My Groot Dag_ (1921) die vakansie-awonture van Petrus
+Breytenbach, onderwyser in Ermelo, van wie se Ford-outo 'n diamante-dief
+met 'n mooi vroutjie behendig gebruik weet te maak. Die drietal word
+deur speurders agtervolg en na allerlei wonderlike en soms erg
+onwaarskynlike ondervindings gepak. Pietjie en Thea kom met die skrik
+vry, maar Pietjie slaan 'n onnosele figuur as hy uitvind, dat hy in
+plaas van 'n Duitse vliegenier 'n dief gehelp 't, en dat van sy mooi
+plannetjies met Thea niks kan kom nie. Dit is 'n goed vertelde
+amusements-verhaaltjie, net geskik vir spoorweg-lektuur. As die outo
+verby Majoeba en ander slagvelde ry, dan vergeet Pietjie vir 'n ruk sy
+"verhewe romantiese gedagtes" (p. 48) en verval in patriotiese
+oorpeinsings. Af en toe laat Wolla ons effentjies glimlag, maar die
+humor is soms plat by die grond, "'n Kêrel het eenmaal gesê, hy dink hy
+kan gewoon word om te lewe op kasterolie, as hy net lank genoeg kan
+aanhou daarmee. Ek glo dit goed." (p. 64.)
+
+Wolla vertoon 'n bedenklike ratsheid in letterlike vertaling uit
+Engels, soms van die _slang_ soort. "Om alles te kroon (p. 3 en 68);
+Wel, van al die pedante snuiters ... vat die vent die koek (p. 127);
+Wel, ek was al net siek van die plek (p. 93); Vir eenmaal het hy niks te
+sê gehad nie.... (p. 123); Ermelo Hoger Skool" (p. 1); ens.
+
+
+§ 22. "Slypsteen".
+
+"Slypsteen" het blykbaar De Waal se romans goed bestudeer. Hy gebruik
+motiewe uit _Johannes van Wyk_ en _Die Twede Grieta_, maar slaag daar
+nie in om sy storie so oulik inmekaar te draai nie as De Waal. Hans is
+die "karakterlose wreedaard" (p. 79) van die verhaal _Broerliefde_
+(1921). Maar hoe volleerd in duiwelstreke ook, hy word uitoorlê deur
+Gert, wat 'n plaas in die heilige-kalender verdien.'n Gesteelde kind
+veroorsaak 'n verwikkeling, waardeur Gert byna met sy suster trou. Daar
+is 'n oujonkman, wat sy bes doen om 'n paar grappies te maak, in sy
+"mymering" 'n hele storie vertel en in sy moralisasie tot by Adam en Eva
+verdwaal! (Hoofstuk IX). Twee opgeskote seuns wat stroebeling kry, laat
+Slypsteen so praat: "Ek meen, dat as jy jou nie verbeter nie, 'n
+treurige toekoms jou deel sal wees, en jy 'n armsalige uiteinde sal
+hê."--"Jou kleine niksnuts!" skree Hans.... "Wag, wag, Hans," hervat
+Gert, ... "Kyk, toe jy daar op Kransburg my oor 'n draai gegee het, toe
+moes ek dit verdra, maar sinds daardie tyd het ek 'n bietjie groter
+geword. Egter, waarom sal ons nes vuil skuim teen mekaar bruis. Daardeur
+sal my karakter net besoedel word, en jy nog dieper in die modder sak as
+waar jy al reeds sit" (p. 47). Mens sou sê die brawe Gertjie was al 'n
+paar jaar op die Teologiese Kweekskool!
+
+Op die heel laaste bladsy word in die gouigheid drie huwelike gesluit,
+terwyl selfs die oujonkman nog verloof raak aan 'n ryk weduwee! Hans
+trek na Rhodesië. Of hy daar nog altyd "helse planne" brou word nie
+vermeld nie!
+
+Slypsteen skryf 'n eentonige styl, waarin nooit iets persoonliks
+opklink nie. Hoe weinig hy sy taal beheers blyk uit voorbeelde soos die
+volgende: "geondersoek (p. 17); sobat (p. 109 en 116); speuljies (p.
+109); poosjie (p. 85); op plig (p. 91) en die verkleinwoorde: soenjie,
+swaweljie, ens.
+
+VOETNOTAS:
+
+[162] Hierdie feite is ontleen aan _Die Brandwag_, Des. 1918.
+
+[163] Vgl. _Die Burger_, 23 Sept. 1921.
+
+[164] Eerste hoofstuk in _De Goede Hoop_, Jan. 1904.
+
+[165] _Die Burger_, 12 Aug. 1921.
+
+[166] Vgl. vir "voorbodes" van die Twede Beweging: E.C. Pienaar, _Taal
+en Poësie van die Twede Afrikaanse-Taalbeweging_, 2de druk, p. 195.
+
+[167] De Waal in _Die Burger_, Aug. 1921.
+
+[168] Voorwoord Vyfde Druk, waaraan al die sitate ontleen is.
+
+[169] J. Prinsen: _De Oude en de Nieuwe Historische Roman in Nederland_,
+p. 18.
+
+[170] _Die Burger_, 12 Aug. 1921.
+
+[171] Volgens Prinsen, t.a.p., p. 51 is die "romantische roes in Scott
+gekristalliseerd. Van dit kristal is Van Lennep de grove namaak in
+ordinair vensterglas." Na 'n vergelyking van die twee skrywers kom
+Prinsen tot die gevolgtrekking, dat al oorspronklikheid van Van Lennep
+is "een zekere Hollandsche, soms lamlendige, soms goedmoedige
+breedsprakigheid en een evenzeer Hollandsche ordinaire neiging tot
+laag-bij-de-grondsche moppigheid." p. 53.
+
+[172] Louis Maigron, _Le roman historique_, gesiteer deur Prinsen,
+t.a.p., p. 1.
+
+[173] Prinsen t.a.p. p. 7.
+
+[174] id. p., 25.
+
+[175] id. p., 21.
+
+[176] _Het Dagboek van Adam Tas_: Leo Fouché, Hoofdstuk II § 1-3.
+
+[177] t.a.p., p. 362.
+
+[178] _J. v. W._, p. 133.
+
+[179] _Dagboek_ onder datum 2 Febr., p. 126. Vgl. ook p. 142 waar Tas
+gewaarsku word: "ook zeijde hij mij dat ik op mijn hoede moeste
+weesen...."
+
+[180] _Dagboek_, p. 138 onder datum 18 Feb. 1706.
+
+[181] t.a.p., p. 142.
+
+[182] p. 150.
+
+[183] _J. v. W._ p. 133.
+
+[184] _Dagboek_, p. 90.
+
+[185] _J. v. W._ p. 134.
+
+[186] Eers op p. 232 verneem ons, dat Jan van Meerland op die see
+gesterf het.
+
+[187] Fouché, _Dagboek_, p. 236.
+
+[188] _J. v. W._, p. 187.
+
+[189] Fouché, p. 248.
+
+[190] p. 242.
+
+[191] t.a.p., p. XXVI.
+
+[192] Twede Druk, 1921.
+
+[193] Prinsen: _De Oude en de Nieuwe Historische Roman_, p. 91.
+
+[194] id.
+
+[195] t.a.p., p. 104.
+
+[196] _Taal en Letteren_, 1892.
+
+[197] Vgl. hierby nog Prinsen: _Handboek tot de Nederl. Lett. Ges._ p.
+613-614.
+
+[198] J. Koopmans: _De Beweging_, 1913.
+
+[199] _J. v. W._, p. 126.
+
+[200] t.a.p., 164.
+
+[201] t.a.p., p. 250.
+
+[202] _Tw. Gr._, p. 160.
+
+[203] t.a.p., p. 242.
+
+[204] Vgl. p. 217.
+
+[205] t.a.p., p. 261.
+
+[206] p. 283.
+
+[207] p. 295.
+
+[208] Feitlik die enigste menslike gevoel, wat beide Gert en Phineas
+besit, is liefde vir hul ... perde!
+
+[209] _Nederlandsche Romancières van onzen Tijd_, p. 10.
+
+[210] _Tw. Gr._, p. 305.
+
+[211] t.a.p., p. 38.
+
+[212] t.a.p., p. 306.
+
+[213] _J. v. W._, p. 210.
+
+[214] _Tw. Gr._, p. 331.
+
+[215] _Taal en Letteren_, 1892.
+
+[216] _Tw. Gr._, p. 225. _Dag_ op dieselfde pagina is seker 'n drukfout
+vir _nag_.
+
+[217] t.a.p., p. 233.
+
+[218] t.a.p., p. 89.
+
+[219] t.a.p., p. 313.
+
+[220] t.a.p., p. 229.
+
+[221] _Tw. Gr._, p. 349. Beter geslaag is die beskrywing van Johannes se
+kamer, _J. v. W._, p. 163.
+
+[222] Vgl. Rémy de Gourmont: _Esthétique de la langue française_.
+
+[223] _Ferdinand Huyck_, p. 42.
+
+[224] o.a. _Ferd. Huyck_, p. 91.
+
+[225] Vgl. o.a. _J. v. W._, p. 101, 122, 201; _Tw. Gr._, p. 200, 357.
+
+[226] Uit _J. v. W._
+
+[227] Uit _Tw. Gr._
+
+[228] _Dichtbloemen_, p. 150.
+
+[229] _J. v. W._, p. 63 en 226.
+
+[230] Vgl. hiermee _Tw. Gr._, p. 233-4 waar Krysie ook 'n kappie dra.
+
+[231] t.a.p., p. 106. Uitgave Sijthoff.
+
+[232] t.a.p., p. 44.
+
+[233] Vgl. ook _J. v. W._, p. 174.
+
+[234] J. Mathijs Acket: _Nieuwe Taalgids_, 15de jg., 6de afl., p. 275.
+
+[235] _Tw. Gr._, p. 67.
+
+[236] t.a.p., p. 295, 311.
+
+[237] t.a.p., p. 14.
+
+[238] Twede Druk, p. 153, noot.
+
+[239] _Die Burger_, Aug. 1921.
+
+[240] Vgl. ook Dr. Pienaar se dissertasie, p. 151-6 en Dr. Boshoff:
+_Volk en taal van Suid-Afrika_, p. 407-424 waar die kwessie uitvoerig
+bespreek word.
+
+[241] Vgl. hiermee _J. v. W._, p. 210 "'n Vreesagtige hart sal nooit 'n
+flinke vrou vang nie."
+
+[242] Vgl. p. 62, 'n _verhewe_ betrekking in die diens van die Kompanie.
+
+[243] Vgl _J. v. W._, p, 226 en _Tw. Gr._, p. 237.
+
+[244] Vgl. _Tw. Gr._, p. 296.
+
+[245] Vgl. ook _J. v. W._, p. 199 en _Tw. Gr._, p. 333.
+
+[246] _Tw. Gr._, p. 309, 51, 80.
+
+[247] t.a.p.. p. 159.
+
+[248] _Die Burger_, Aug. 1921.
+
+[249] _De Beweging_, 1913.
+
+[250] Ook in Engels verskyn as _Dark Johannesburg_.
+
+[251] Lewensskets ontleen aan _Prozabundel_ van Hoekstra en Viljoen.
+
+[252] Die derde druk verskyn nou in afsonderlike afdelings.
+
+[253] Vgl. Hoofstuk I, § 9.
+
+[254] _Taal en Poësie^2_ ens., p. 58-64.
+
+[255] Sien Hoofstuk X.
+
+[256] Nuwe Deel I. Sitate uit die nuwe druk word afsonderlik vermeld.
+
+[257] Vgl. die opmerkings oor 'n eenvoudige styl op p. 190-1. In _Die
+Banier_, Julie 1921, staan ook 'n artiekel oor: _Lett. Styl._
+
+[258] _Opvloog_ op p. 5 is seker 'n drukfout.
+
+[259] O.a. p. 17. Vgl. _Ons Weg_: "elk 'n man", p. 136.
+
+[260] Vgl. p. 46.
+
+[261] _Taal en Poësie_ ens.^2, p. 329. In 1921 het nog van Malherbe
+verskyn: _Die Timmerman_, 'n Verhaal in Verse en _Koringboere_ 'n
+toneelstuk; in 1922: _Rivier en Veld_, 'n digbundel.
+
+[262] _Die Brandwag_, Des. 1918.
+
+[263] _Vergeet Nie_ (1920), p. 198. Ek kursiveer.
+
+[264] t.a.p., p. 91. Ek kursiveer.
+
+[265] Vgl. p. 15.
+
+[266] p. 89. Ek kursiveer.
+
+[267] Sy het nog wel 'n broer, "wat op die aangrensende aanleg woon",
+maar van hom verneem ons net, heeltemal teen die end van die roman, dat
+hy na Servaas se gevangeneming die plaasbelange behartig 't--'n rol wat
+erg onwaarskynlik klink.
+
+[268] p. 129.
+
+[269] _Over Literatuur_, p. 110.
+
+[270] p. 138.
+
+[271] _Uitgebeiteld_ is minder gelukkig, want terwyl ons deur die woorde
+om_woon_ en slapende die goliat-rotse as =lewende= monsters voel, laat
+_uitgebeiteld_ weer aan 'n dooie materie dink. "De hoofdzakelijke
+schoonheid van een "beeld" bestaat daarin, dat het de _verborgen
+eenheidsessentie_ van twee verschillende of zelfs schijnbaar
+tegenstrijdige begrippen, zaken of wezens aantoont. En hoe duideliker en
+overtuigender ons die eenheid wordt aangetoond, hoe grooter onze
+verrukking is." (M.H. v. Campen _Over Literatuur_, p. 138). Die
+_verborgen eenheidsessentie_ wat Malherbe ons eers so goed laat voel,
+verbreek hy deur een ongelukkige woord.
+
+[272] p. 65.
+
+[273] Die verkeerde gebruik van _bende_ is oor die hele land verbrei
+deur 'n welbekende lied uit die _Hallelujah_-bundel, waarin van "'n
+Daniëlsbende" sprake is! Ook Von Wielligh praat in _Eerste Skrywers_ (p.
+138, by die portret) van "die klein _bende_ van die Genootskap van Regte
+Afrikaners".
+
+[274] 'n Germanisme.
+
+[275] Vgl. nog p. 101, 158, 104; en p. 24, Piet met sy _onnoembaar_ soet
+glimlag!
+
+[276] Die Kommissie vir Taal en Lettere het gerappotteer: "'t Novelletje
+... _Twee Susters_, hoewel taal, stijl en inhoud nog veel te wensen
+overlaten, is nochtans van genoegzame historiese waarde en geeft blijk
+van belofte voor de toekomst ..." _Akademie-Jaarboek_ V, p. 51.
+
+[277] Meedelings van Oud-President F.W. Reitz.
+
+[278] Meedeling van die heer J.H. Malan. Vgl. ook voorwoord van "Oom
+Fanie". Sitate volgens die 1ste druk.
+
+[279] Die biografiese feite is ontleen aan _Die Brandwag_, Des. 1918.
+
+[280] _Die Brandwag_, Des. 1918.
+
+[281] _Die Brandwag_, Des. 1918.
+
+[282] Brief van 6 Jan. 1922.
+
+[283] D'Oliveira, _De Jongere Generatie_, p. 21.
+
+[284] t.a.p., p. 70.
+
+[285] t.a.p., p. 139.
+
+[286] Querido: _Over Literatuur_, p. 43.
+
+[287] p. 8. Twede druk. Ek kursiveer.
+
+[288] Vgl. ook p. 206 en 222. In _Op Veld en Rande_ kry ons net eenmaal
+'n toespraak tot die "geduldige leser" (p. 101).
+
+[289] Vgl. p. 108.
+
+[290] In _Die Burger, Nuwejaarsno._ 1922 en _Die Brandwag_, Des. 1921.
+
+[291] _Die Burger, N.J. No._ p. 19.
+
+[292] _Die Brandwag_, t.a.p., p. 172.
+
+[293] Die lewensskets is ontleen aan _Die Brandwag_, Des. 1918.
+
+[294] O.a. p. 14-15, 17-18, ens.
+
+[295] O.a. p. 7.
+
+[296] W.L. Cross, _The Development of the English Novel_. (1920), p. 64.
+
+[297] Vgl. ook p. 47: "goue velde met karmosyn geskilder".
+
+[298] Lewensskets ontleen aan _Die Brandwag_, Des. 1918.
+
+[299] Sonder jaartal. Die meeste verhale is in 1914 vir _Ons Moedertaal_
+geskryf.
+
+[300] _The Contemporary Short Story_, (p. 101).
+
+[301] _Die Brandwag_, Des. 1919.
+
+[302] _The Works of E.A. Poe_ I, p. XI (1866).
+
+[303] t.a.p., p. XII.
+
+[304] _The Supernatural in Modern English Fiction_, p. 59.
+
+[305] Uit: _Lett. Leesboek_, Bot-Kritzinger.
+
+[306] Alle sitate volgens 2de druk.
+
+[307] Hy vergeet selfs die "groot hanglamp", want op p. 40 word die
+huisgodsdiens by kêrslig gehou.
+
+[308] So word die meeste saamgestelde woorde dwarsdeur sy werk geskryf.
+
+[309] Vgl. hiermee: "'n wit seil bemaste Jonge Thomas", _Ou Malkop_, p.
+168.
+
+[310] Vgl. ook p. 100: "iedere stamp en skok, wat die wa gee is 'n
+verwyderende skeur in droewige harte."
+
+[311] Brief van 17 Jan. 1922.
+
+[312] Vgl. b.v. p. 74.
+
+[313] Meedeling van die outeur.
+
+[314] Vgl. ook nog o.a. p. 29.
+
+[315] O.a. p. 194 "Daar dit nie goeie maniere is om af te luister wat
+sulke twee jonge mense ... praat nie, word die gesprek hier nie
+meegedeel nie."
+
+[316] Vgl. ook p. 238. "Die twee is getroud ..." ens.
+
+[317] Oorspronklik as vervolgstorie in _Die Huisgenoot_ verskyn; in 1921
+in _Die Burger-Leeskring_ uitgegee.
+
+[318] Vgl. o.a. ook nog p. 210. "Ek laat dit aan die verbeeldingskrag
+van die leser oor ..."!
+
+[319] O.a. p. 184.
+
+[320] Waarom is dit "die treurspel van mislukte lewens"?
+
+[321] Ek kursiveer.
+
+[322] Vgl. b.v. p. 41. "Albei sê baie wat nie juis vir ons van belang is
+nie". Hoofstuk XIX staan op 'n verkeerde plek, en daarom moet die leser
+uitgenodig word "om 'n weinig terug te gaan"!
+
+[323] Vgl. ook die plotselinge omkeer by Oom Tjaart, p. 234.
+
+[324] Die sgn. _proloog_ kan ook gerus weggelaat word.
+
+[325] Ook _gespot in M. v.d. V._, p. 201.
+
+[326] O.a. p. 61.
+
+[327] O.a. p. 183.
+
+[328] _The English Novel_: Walter Raleigh^5, p. 268.
+
+[329] Willem Kloos in _De Mannen van '80 aan het Woord^3_: D'Oliveira p.
+46.
+
+[330] t.a.p., p. 76.
+
+[331] Lodewijk van Deyssel. t.a.p., p. 32.
+
+[332] Herman Robbers in _De Jongere Generatie_: D'Oliveira, p. 120.
+
+[333] 2de druk 1918.
+
+[334] Prinsen: _De Oude en de Nieuwe Hist. Roman_, p. 71.
+
+[335] Vgl. p. 127.
+
+[336] _Pensées de Pascal_, par A. Gazier, p. 318.
+
+[337] t.a.p., p. 158.
+
+[338] Vgl. 'n dergelike naïewe opmerking op p. 178: "'n Boerenhave
+(sic!) was daar nie in die ganse volksplanting nie ..."!
+
+[339] Vgl. nog p. 80: "Die rus en kalmte ..." en p. 81: "Is dit nie
+dieselfde streling ..."
+
+[340] Vgl. o.a. nog p. 199, 29.
+
+[341] Dwars deur die boek word dié woord en ook _uitwei_ verkeerd
+gespel. Dimunitiewe op _-fie_ ook. Vgl. ook neer_vlei_ op p. 192, ra_t_
+op p. 121. Die sinstorende drukfoute moet, soos die skrywer my meedeel,
+gewyt word aan die besonder omstandighede, waaronder die boek gedruk is.
+
+[342] Die ketting-sin op p. 67 lyk egter wel "ghevernuftizeert".
+
+[343] Is. Querido: _Studiën_, p. 219.
+
+[344] Voorrede: _Griane_.
+
+[345] Benjamin Constant: _Adolphe_.
+
+[346] O.a. p. 81.
+
+[347] 'n Ongelukkige koppelwoord.
+
+[348] Waarom die stuitende en onnodige herhaling van _spinnekop_?
+
+[349] Vgl. p. 220 b.v.
+
+[350] Vgl. b.v. p. 7.
+
+[351] Verstaan: glase.
+
+[352] Vgl. nog p. 171: berge--werwe--swerwe; p. 194 dwars bars.
+
+[353] Duister is ook: "dat die ou jong simpatie ken", p. 188.
+
+[354] Vgl. o.a. p. 184-204.
+
+[355] Daar is ook 'n verpleegster, wat 'n _engellied_ sing, (p. 71).
+
+[356] Op pag. 207.
+
+
+
+
+HOOFSTUK VI.
+
+Satieries-Humoristiese Prosa.
+
+
+§ 1. Ds. Willem Postma. (1874-1920). (Dr. O'Kulis).
+
+Ds. Willem Postma was 'n seun van Prof. Dirk Postma, die vader van die
+Gereformeerde Kerk in Suid-Afrika. Hy is in 1874 in Burgersdorp gebore,
+waar hy hom vir die leraarsamp voorberei het onder Prof. Jan Lion
+Cachet, (Ou Oom Jan). Op Bethulie, Bloemfontein en Reddersburg was hy
+predikant. In die oorlogsjare (1899-1902) moes hy uitwyk na Middelburg,
+K.P., omdat hy geen eed van trou wou aflê nie. Daar het hy die kos vir
+sy gesin in 'n winkel en deur privaatlesse verdien.
+
+Onder groot moeilikhede het hy die gemeente in Bloemfontein gestig. In
+Mei 1905 het hy onder die skuilnaam _Jong Afrika_ in die Hollandse
+_Friend_ begin te skryf oor die Afrikaanse taal, sonder dat hy iets van
+Preller se stukke afgeweet het. As gevolg van die groot byval het Ds.
+Postma toe gereeld bydraes onder die tietel _Oogdruppels_ gelewer. Toe
+die setter verstaan, dat die ondertekening van die eerste stuk, nl.
+_Okulis_, oogdokter beteken, het hy daarvan Dr. O'Kulis gemaak en so het
+die naam gebly. "Deur dié stukke het hy hom as volksman geopenbaar, het
+hy hom 'n weg gebaan na die hart van die Vrystaatse volk ...," verklaar
+Totius.[357] In Bloemfontein was hy ook die stigter van wat tans bekend
+is as die "Voorbereidende Tegniese Skool".
+
+In die aangehaalde artiekel gee _Totius_ 'n paar persoonlike
+herinneringe en sê o.a. dat hy "nie maar 'n merkwaardige figuur (was)
+nie, maar 'n heldeverskyning". Van hom het verskyn: _Die
+Eselskakebeen_,[358] _Doppers_ (1918) en _Die Boervrou_ (1919).
+
+In _Die Brandwag_ (1912) het hy 'n teorie oor die ontstaan van Afrikaans
+uitgewerk.[359] Sedert 1918 was hy lid van die Akademie. Van belang is
+nog dat sy vriende huiwerig was oor die uitgawe van die _Eselskakebeen_.
+In 1920 is hy oorlede.
+
+Die Eselskakebeen.
+
+In _Die Brandwag_[360] het die skrywer verklaar, dat die boek 'n
+"suiwere outobiografie" is met uitsondering van die laaste hoofstuk.
+Maar dit is veel meer; dit is ook die biografie van etlike Afrikaner
+geslagte, wat nog vir 'n tiental jare na die Anglo-Boere-oorlog gekreun
+het onder dieselfde treurige onderwysstelsel deur hom beskryf. Pas in
+die laaste jare het daar verbetering gekom en in sommige dele van ons
+land heers feitlik dieselfde misstande noù nog.
+
+Eers beskryf Dr. O'Kulis sy geboorte, waarby Tant Antjie met haar
+medisynetrommeltjies gehelp 't. Spoedig begint die taalmoeilikhede en in
+'n donker onweersnag doen hy die ontdekking, dat ons liewe Heer ook
+Afrikaans verstaan. Op skool is dit van die eerste dag af 'n gedurige
+stryd teen die _step-by-step_-denasionalisering, wat die doel was van 'n
+verpolitiekte stelsel, as so 'n onpedagogiese gedoente ten minste die
+naam stelsel ooit verdien het. Mooi word die wisselwerking tussen die
+skool- en huislike invloed beskryf. "Wel, die Boere het van al daardie
+Royal Reader gedoente niks geglo nie as ek hulle bietjie wou vertel. Al
+wat ek vir my moeite gekry het, was: "Jou Rooinek, glo jy al daardie
+leuns?"[361] Langsamerhand groei die verset van die aanvanklik deur
+skoolwysheid oorblufte seuntjie. Die omgang met Boerfamielies, wat
+vashou aan die ou _Trap der Jeugd_ en die Bybel versterk die Boergees in
+hom, totdat hy die geleerde weefsel van bedrog wegvee en met volle
+selfkennis sy Engelse meester toevoeg: _Ek is 'n Boer_ (p. 44). Hy wil
+nie langer "'n agterryer in sy eie land", 'n jingo of weeluis wees nie
+(p. 42). Wanneer die seun 'n man word, maak hy 'n eselskakebeen
+vogtig[362] met die trane van sy lang opgekropte spyt en dan dreun die
+mokerslae op "die Filistyn in die Afrikaner". Dit word 'n geweldige
+wapen in sy hand, waarmee hy seker meer as 'n "duisend man" verslaan
+het! In die begin is daar 'n bietjie goedaardige skerts o.a. oor die
+dominee se gesukkel met die Hollandse geslagte (p. 16), maar wanneer hy
+die toestande op die Engelse skool beskryf, word die toon
+kwaai-sarkasties en bitter. Die eensydige onderwys uit die _Royal
+Reader_, oor _British en Cape History, Geography_, ens. word met
+satieriese skerpsinnigheid aan die kaak gestel. Met 'n speelse vernuf
+word die oorsprong van die Engelse nasie uitgepluis. "Daar is van die
+geskiedskrywers, wat die oorsprong wil aflei uit die naam, nl. Angel
+(Engel) en dan wil meen dat hulle van 'n Engele-geslag is. Of dit van
+die gevalle engels is of van die ander is onmoontlik om uit te maak"! Op
+aanskoulike wyse word aangetoon dat die geïmporteerde eksamenstelsel
+geen rekening hou met die eise van ons samelewing nie. "Jannie het op
+skool net 'n bietjie algemene kennis en die _School-Higher_-sertifikaat
+opgetel. Vir die lewe moes hy daarna eers klaar maak." (p. 55.)
+
+Selfs vandag het die boekie nog aktuele waarde, en dis 'n
+kultuur-historiese dokument, wat selfs die verre nageslag nog met
+belangstelling sal lees. Al sal dit hulle nie so heftig ontroer nie soos
+ons, wat al die ervarings self ondervind het, tog moet dit altyd
+treffend bly deur sy raak voorstelling en bytende spot. Daar is enkele
+uitweidings, wat die eenheid van die strydskrif verstoor, 'n paar
+anekdotes, wat die direktheid van die aanval verminder, maar omdat dit
+iets is wat werklik "uit (die) hart opgeborrel het"[363] sal dit altyd
+sy waarde behou.
+
+
+§ 2. Reenen J. van Reenen.
+
+Die Agterstevoortrekkers (1917).
+
+Johan van Heemskerck het in sy _Batavische Arcadia_ (1637) 'n paar
+Haagse here en dames 'n plesiertoggie laat doen met die doel om "onder
+'t soet van minnepraetjes al spelende (te) komen tot kennisse van de
+vaderlandtsche gelegentheden, daer niemandt een vreemdelingh in behoort
+te zijn." Van Reenen stuur 'n aantal Bloemfonteinse geleerdes en
+kunstenaars met hul famielies op die ou voortrekkerpad "om te probeer of
+daar nie, daar in die bosse en klowe, in die kranse of op die bulte nog
+van die heldemoed van die ou voortrekkers te bespeur is nie, en of daar
+op die wye ope veld nie 'n kans is om weer die helder eenvoudige
+duidelike uitsig op die lewensprobleme op te vang en in (hul) daaglikse
+omgang te gebruik nie" (p. 32). Die ooreenkoms is duidelik, ofskoon daar
+seker van bewuste navolging geen sprake kan wees nie. By Van Reenen is
+daar nie soveel "loofwerck van liefkooserijtjes", maar die minnende
+paartjie ontbreek tog ook nie. Die poging om pastorale en didaktiese
+motiewe te verenig is al merkbaar in die aangehaalde sin. Oom Jakob sê
+ook nog: "Dis die doel van die uittog ... om 'n veldwasempie op te vang
+uit die _Afrikaanse Son en Veld_" (p. 31). Nog duideliker straal die
+pastorale motief uit die volgende deur: "Daar in Bloemfontein in 'n
+atmosfeer van kunsmatigheid, val die klank (van die ossewa) weg, hier op
+die veld, ver van die besmetlike invloed van groot stede, mag die plof
+plof van die ossevoete nou en dan in die sand wegval, maar die skok van
+die wiele bly." (p. 110). Die didaktiese motief blyk ook nog hieruit:
+"Opgewonde gee ek antwoord dat dit 'n eerste klas plan was om die
+sienswyse van die voortrekkers te verstaan, en hulle geskiedenis met
+smaak te leer lees...." (p. 20). En die sewende trekreël lui: "Elke aand
+sal een van die trekkers ... 'n lesing gee oor die een of ander in die
+geskiedenis van die Voortrekkers" (p. 37).
+
+Maar sterker nog dan die pastoraal-didaktiese motiewe van die verhaal
+is die satieries-humoristiese element. Die meeste van die Bloemfonteinse
+deskundiges verbeel hulle wat wonders. In die "afskeidsbrief" heet dit:
+"Ons is beslote om ... ons diep kennis vir almal wyd en syd bekend te
+maak" (p. 40). Die Professor wil drie waens vol boeke laai "om aan die
+boere te verkoop"; Jan, die "goggadeskundige" wil die boere waarsku teen
+skadelike insekte, en Antoon, die musikus hoop dat deur sy musiek "nuwe
+ideale mag ingeboesem word in diegene wat binne die betowerde sirkel van
+ons skitterende strale inkom." (p. 31.) Oom Jakob egter voel dat die
+groot geleerdheid van sy maats eensydig is. "Op seker gebiede het ons
+... vooruitgegaan, maar op ander ... is ons baie versleg" (p. 32). Hy is
+dan ook gewillig om aan die voete van die plattelander te sit en lesse
+van hom te leer. Ook Oom Kaas, die "diepgeleerde professor in
+geskiedenis" voel, dat die hele spul dalk sal verkeerd loop, dat die
+_Agterna_-trekkers bes moontlik _Agterstevoor_-trekkers sal word, en sy
+voorspelling kom uit.
+
+Die vernaamste, doel van die skrywer is om die verwaandheid van die
+hooggeleerde akademiese here bespotlik voor te stel. Die heel eerste
+voorval gee al dadelik die toon aan. Die osse trek afdraand net so swaar
+as opdraand en terwyl hulle 'n geleerde dispuut hou oor dié
+raaiselagtige omstandigheid, kom 'n onnosele konstabel die moeilikheid
+oplos deur die styfaangedraaide briek los te draai! Dat klein Leon aan
+die ossewabriek dieselfde funksie as aan die van 'n outo se slinger
+toeskryf, is meer dan 'n gelukkige grappie; dit is meteens al 'n
+simboliese voorstelling van die groot afstand tussen die voortrekker- en
+die moderne beskawing.
+
+Die trek is skaars aan die gang of die entomoloog vind uit, dat Oom
+Gert iets oor goggas weet, wat hy nog nooit in sy diepsinnige handboeke
+van gelees het nie, en met 'n ironiese laggie voeg die skrywer hom toe:
+"Neef Jan, ek het gemeen jy gaan vir die boere leer, nie hulle vir jou
+nie." (p. 54.) S.K., die professor in fiesika vind uit, dat al sy
+gekompliseerde instrumente en spitsvondige berekeninge minder
+vertroubaar is dan die kennis van die eerste die beste ou boertjie. En
+dan is dit nog boonop klein Botterkoppie wat hom tot die erkentenis
+bring! Op die tuinfees slaan almal behalwe Oom Jakob 'n gek figuur. Die
+dorpelinge verskyn in trekkersdrag, maar die kastige trekkers in haastig
+bymekaar geskraapte Europese spektakels! Alles doen hulle agterstevoor!
+Die steekse motor van die dokter, wat deur die osse dorp toe moet
+gesleep word is weer 'n ironiese beeld--die moderne vernuf afhanklik van
+die ouderwetse trekkersmetode. Die professor kry in "'n hoekie van die
+Vrystaat" 'n resep vir heuning-bier, wat hy tevergeefs in sy geleerde
+foliante gesoek het, maar sy onbekendheid met die praktiese uitwerking
+daarvan besorg hom 'n wetenskaplike hallusinasie, wat tot 'n algemene
+bespotting aanleiding gee.
+
+By die afgebrande huis loop die trekkers 'n gewone boer raak, met 'n
+ontwikkelde kunsgevoel en so 'n fyn beskawing dat dit hulle bewondering
+afdwing. Wanneer die trekkers by Kerkenberg kom, waar Piet Retief se
+naam op die rots staan, word die toon van die verhaal ernstiger. Die
+historiese gevoel ontwaak en Oom Kaas bevredig Emmie se weetgierigheid
+deur allerlei besonderhede oor die Voortrekkers se ossewaens mee te
+deel. Op die Natalse pad kom die piëteitsgevoel tot uiting in 'n
+humoristiese regsaak tussen ossewa en outo. "Ek het die Afrikaner Nasie
+gedra toe dit nog 'n suigeling was; en nou, op my ou dag, wil julle hê
+dat ek moet pad gee vir 'n bog kind, so jong dat hy self erken dat hy
+nog nie eers gebore is nie." "Grootgeraas" is 'n outo van "aanstaande
+jaar se model" en "Die Dromedaris" weier om pad te gee vir so 'n
+"aangewaaide, buitelandse ding--niemand weet eers wie sy ouers is nie!"
+(p. 210.) Hier is die soort humor aanwesig, wat volgens Schopenhauer is
+"der hinter den Scherz versteckter Ernst",[364] want uit so 'n toneel
+spreek die wil van 'n volk om die erfenis van sy voorvaders te bewaar
+"van vreemde smetten vrij".
+
+Dirk vind nog 'n geleentheid om die "geleerde ape", S.K. en die
+Goggadoktor droog te sit. Hy verydel die grootskeepse opgrawingsoperasies
+van die twee deur die egte voortrekkervurk met sy pennemes uit te grawe,
+terwyl 'n verroeste valse "versigtig in watte opgewoel" tereg kom in Jan
+se trommel. Dis 'n laaste verbluffende kopskoot op die dorre
+kamergeleerdes!
+
+Die manier waarop die dansparty eindig is 'n bewys, dat die
+agternatrekkers tog onder die besielende invloed van hul voorvaders
+geraak het en hul onder al die malligheid goed ingeleef het in die gees
+van dié grootse tydperk met sy skrynende wee. As die maan wegraak, en
+die uile droewig skree, begint Antoon se viool "te huil soos 'n moeder
+oor haar kind se lykie.... Soos diegene wat pas 'n dierbare vriend in sy
+graf gelê het, uitmekaar gaan, so verdwyn nou stilletjies die gaste een
+vir een" (p. 235). Om 'n toneel van sulke roerende stemming in al sy
+innigheid uit te beeld--daarvoor was Van Reenen nie woordkunstenaar
+genoeg nie. Die oorgang van uitgelate malligheid kom te plotseling. Dirk
+se gulle lag oor sy welgeslaagde grap, sy "dis nou regtig 'n lekker bal"
+klink nog in ons ore as ons by die "stille snikke van sterk mans" kom.
+Maar ons voel tog iets van die stille plegtigheid van die oomblik en
+enkele dowwe dreunings van 'n verre dodemars kom uit die verte
+aansuis.... Verswak die skrywer nie die ernstige ondertoon van sy werk
+deur na so 'n toneel weer met minnepraatjies aan te kom nie? En smoor hy
+dit nie heeltemal deur die _ragtime_-klanke van die agterrede nie? Ek
+meen van wel.
+
+Magteloos, totaal magteloos staan Van Reenen as woordkunstenaar teenoor
+die natuur. Die trekkers mag 'n "veldwasempie" opgevang 't--ons kry nie
+eers die ruik daarvan nie! "My hand het net gejeuk vir 'n kwas en verf
+om die pragtige kleure op doek of kaart te skilder, maar al had ek die
+gehad sou dit my darem onmolik gewees het om uit te druk wat ek gevoel
+het...." (p. 84). En met die pen kom hy ook nie verder as 'n gestamel
+oor die _onbeskryflike kleure_ nie (p. 138). Dit is vir hom "'n soort
+heligskennis om die wonderwerke van die Natuur te veel in hulle
+teenwoordigheid te analiseer" (p. 152). Daarom moet ons tevrede wees met
+die kennis, dat hy 'n lekker pypie daar op die Nek gerook 't, en dat hy
+nooit moeg word van die Treurwilgers rondom die damme nie! (p. 85.)
+
+Beskouings oor bou- en skilderkuns, meubilering en musiek word in die
+verhaal ingevleg. "'n Mooi sandsteengebou gepleister met sement, soos
+klipwerk nagemaak" word die aanleiding om teen na-apery van vreemde
+kultuurvorme te waarsku (p. 86). Tussen die sekretaris en Antoon vind 'n
+kunsdebat plaas (p. 138 vlg.). As Van Reenen egter meen dat die doel van
+die kuns is om "die Natuur akkuraat ... weer (te) gee" (p. 141), dan is
+hy nog op 'n dwaalpad.
+
+Met die taal sukkel hy ook nog baie. Sy woordskikking en voorsetsels is
+telkens verkeerd. "In Switserland[365], elke tien jaar voer hulle 'n
+toneel op wat gebeurtenisse in die lewe van die Here Jesus voorstel....
+(p. 121); om aan die datum van die almanak te kyk (p. 102); wat ek voor
+strewe" (p. 141). Ook 'n hele paar anglisismes kom nog voor: "in herfs
+(p. 19); Harrismith Distrik" (p. 154) ens. Gebrekkige taalgevoel blyk
+o.a. uit die volgende: "Afrikaans het _haar_ swak punte (p. 119);
+Basoetoeland wat _haar_ berge vir ons wys (p. 138); die woede eienaar"
+(p. 42). Die juffrou M., op p. 153 moet blykbaar deurgaan vir 'n
+Hollandse, maar "dat berg" het sy tog seker nooit gesê nie! Hoe weinig
+"felicity in the flow of words" daar by Van Reenen is blyk uit
+kreupelsinne soos die volgende: "Dan kom die sonsondergang en asof 'n
+reuse skilder met 'n reuse rooi of rooskleur kwas die landskap skilder,
+neem die blou berge 'n rooskleur skynsel aan. Dan word die kleur meer en
+meer pers." (p. 138.) Ook die beeldspraak is weinig oorspronklik: "die
+deken van die grappe (p. 137); 'n lugkombers" (p. 237). Beets is ook
+versot op die banale deken- en mantelbeelde (vgl. XXI). Sou hy nou
+werklik gemeen het, dat sy erbarmlike gerymel in dieselfde hoofstuk vir
+poësie moet deurgaan?
+
+Die dialoog word meestal gekenmerk deur 'n besonder losse natuurlikheid
+en tallose lewendige toneeltjies getuig van groot plastiese talent.
+Sommige daarvan is egter skadelik vir die eenheid van die werk en dit
+geld ook van enkele langer vertellings, wat die aandag op storende wyse
+van die hooftema aflei. Dit is o.a. die geval met hoofstuk XXIV, wat
+"Herinneringe uit die Engelse oorlog" bevat. Daar is nog meer sulke
+uitweidings, wat die verhaal soms na 'n versameling van los anekdotes
+laat lyk.
+
+
+§ 3. Adv. C.J. Langenhoven.
+
+(Sagmoedige Neelsie).
+
+Sonde met die Bure, (1921).
+
+"Die ou wêreld is nou so treurig donker.... Om my dan self 'n bietjie op
+te beur--en as ek dit kan regkry, menige ander arme drommel ook wat
+altemit teen dieselfde versoeking moet stry om nie maar gedurig
+miesrabel te voel nie ... (het) ek hierdie noukeurige en onverbloemde
+verslaggie geskryf van 'n baie gelukkige vakansieplan...." (p. 1-2). Die
+ou wêreld het té treurig geword, en daarom sit Langenhoven die hele
+werskaf onderstebo neer. Sy bure het hom versondig en nou sê hy: Ek maak
+soos =ek= lekker kry en kom julle nog verder met my lol, dan koggel ek
+julle almal uit! Dit is so ongeveer die stemming waarin Neelsie geskryf
+het.
+
+Sy vrou wou haar nie laat vermaak deur die weelderige leefwyse van haar
+bure nie--dit was in die dae van Oudtshoorn se volstruisgloria. Sy het
+aan hom gekarring en al sy besware "doodgealmiskie". Hy koop "'n
+afgeleefde tremwa" in die Kaap, en toe agtien osse die soort strandhuis
+nie kon trek nie, verower hy op 'n sirkusvendusie die olifant, Herrie.
+Dwars deur die dorp gaan die tog, Olifantsrivier op. Almal wat hom
+lastig val raak lelik gepier. Die burgemeester is eerste aan die pen en
+sy bemoeisug gee Neelsie 'n kans om sy ergernis oor belastingkwellings
+te lug. Op Stolsvlakte raak die pad versper deur die slingerende
+gevaarte en van weerskante word die verkeer opgedam. Maar Herrie
+verwilder die spul met sy gesnork deur 'n motorbeuel. So ver as Neelsie
+gaan versondig hy sy bure--maar hulle het mos eerste begin te lol! En hy
+slaan nog geld uit hulle ergernis ook om vir Engela, sy dogter se
+numodiese klere te betaal! Dit word 'n wraakneming van 'n getergde man.
+Die magistraat, Afdelingsraad en geregtelike mag agtervolg hom, maar
+moet met hangende pootjies en skoongewaste koppe stamp-stamp huistoe ry
+oor 'n omgeploegde pad. In Meiringspoort vind hy eindelik rus--vir 'n
+tydlank ten minste. Daar raak hy aan filosofeer oor "al die nietige ou
+mensies op aarde" (p. 61) en die wondere van die skepping. Maar die
+lekker rooipit perskes, wat gedienstige jongkêrels vir Engela aandra,
+laat hom uitvaar teen die nuwe soorte, wat allerhande plae in die land
+gebring 't. En 'n stapel koerante maak hom briesend! Vroutjie peuter aan
+hom oor sy ongeselligheid en as gevolg praat hy die arme dominee skoon
+dronk van pure gasvryheid. Met 'n groot reent raak die kos skaars, maar
+die jongkêrels knoop al De Rust se kabeltoue aan mekaar om oor die
+kranse van dertienhonderd voet nuwe voorraad en ... Engela se beste
+vryer af te hys!
+
+Een van die afdrifsels op die rivier is 'n dronk Hotnot, wat onder die
+sing van "God save the King" op 'n stomp afdryf! "Ons het later gehoor
+dat hy deur Oudtshoorn se distrik met Olifantsrivier af is, al singende
+"Rule Britannia". En die laaste berigte wat van hom bekend is, is dat hy
+onder Gouritzrivier se brug deur is see-toe met die laaste van sy drie
+liedere. Dit was "Home Fires" (p. 93). Kostelike ironie!
+
+Oom Hendrik kom ook aangespoel om 'n goeie spook-storie te vertel. En
+met sy vasgereende bure kom Neelsie gelukkig so goed klaar, dat selfs
+die arm-blanke-vraagstuk aan sy geselligheid geen afbreuk doen nie.
+Engela is ook in die skik met haar uit die lug gevalle vryer en die hele
+wêreld kom so stadig aan weer reg.
+
+Skaars is die pad egter rybaar of die "sondesoekery" begint weer. Twee
+deputasies kom Neelsie vra om hom verkiesbaar te stel, Prins Albert vir
+die volksraad en Oudtshoorn vir die stadsraad. Prins Albert hoop om op
+die manier sy paaie ongeploeg te hou en Oudtshoorn sê: "Ons wil hê jy
+moet so vas wees in die dorp dat jy nooit weer daar uitkom nie" (p.
+118). Dit is die laaste, maar glad nie die enigste klap wat Sagmoedige
+Neelsie aan sy eieliefde gee nie. Die "sagmoedigheid" van hom is sommer
+bossies. Juis die manier waarop hy daarmee omspring, sy koddige pogings
+om kastig eie vernaamheid te handhaaf en homself te rehabiliteer is een
+van die besgeslaagde humoristiese trekke. "Neelsie, ons bring jou De
+Rust se groete. Jy weet hoe lief ons jou het. Moenie laat daar iets
+tussen ons kom nie.... Bly op Oudtshoorn.... En die beswaar het ek
+gewaardeer.... En tot vandag toe het daardie mense my nog lief. Ek moet
+darem maar 'n goeie man wees" (p. 46).
+
+Komieklike verdraaiings, woordspelings en paradokse, die eienaardige
+nuanse wat hy in geestige maar ook in die eenvoudigste opmerkings
+lê--dit is 'n paar middels wat gebruik word. "Soos die ou spreekwoord
+tog sê, as 'n mens dom is moet jy slim wees." (p. 6); tafelpote "moet
+glo op een of ander manier ongelyk wees om gelyk te wees." (p. 10); "Ek
+wil nie altyd wil nie, maar as ek darem nou wil, dan wil ek, of as ek
+nie wil nie, dan wil ek nie." (p. 23.) Met 'n paar woorde bereik hy soms
+'n mooi effek. Nadat hy 'n opsomming gegee het van al die swaar goed wat
+op die tremwa is, voeg hy so ewe droog by: "En Engela se klere." (p.
+48.) Anders kom hy weer met groot vertoon van erns die mees
+vanselfsprekende feit vertel: "Engela en Willem het hulle, met
+prysenswaardige bedagsaamheid jegens ons ouere smaak, onderwerp om maar
+besonders van ons geselskap te bly en met hulle eie tevrede te wees, by
+gebreke aan beter." (p. 110.)
+
+"The sense of the Comic is much blunted by habits of punning and of
+using humouristic phrase: the trick of employing Johnsonian
+polysyllables to treat of the infinitely little. And it really may be
+humorous, of a kind, yet it will miss the point by going too much round
+about it."[366] Gelukkig kan dit nie van Langenhoven gesê word nie. Hy
+maak 'n spaarsame gebruik van al die foefies en om die bos loop hy ook
+nie. Mens kry by hom, wat Meredith noem "stout animal laughter", maar
+ook "spiritual laughter".
+
+"Die geagte leser kan glo wat hy wil en as hy nie wil nie kan hy laat
+staan," sê die skrywer in sy voorwoord. Maar die onwaarskynlikheid is in
+so 'n verhaal 'n deug. "There is nothing more powerfully humorous than
+what is called _keeping_ in comic character ... (i.e.) consistency in
+absurdity; a determined and laudable attachment to the incongruous and
+singular. The regularity completes the contradiction; for the number of
+instances of deviation from the right line, branching out in all
+directions, shows the inveteracy of the original bias to any
+extravagance or folly, the natural improbability, as it were, increasing
+every time with the multiplication of chances for a return to common
+sense, and in the end mounting up to an incredible and unaccountably
+ridiculous height, when we find our expectations as invariably baffled.
+The most curious problem of all, is this truth of absurdity to itself.
+That reason and good sense should be consistent, is not wonderful: but
+that caprice, and whim, and fantastical prejudice, should be uniform and
+infallible in their results, is the surprising thing."[367]
+
+Nou is daar nog 'n paar "muggies"[368], wat moet katswink geslaan word,
+vóórdat hulle ons slaapsiekte kan gee! In _Die Brandwag_ (15 Mei 1912)
+het Langenhoven gepleit vir "sulke handige woorde as: mistyk,
+baaisikkel, drein, spiets, toast". In dieselfde artiekel kom voor:
+_papier_ (krant), _gedrop, hendikep, remnant, op te dres_. As 'n
+takhaar, soos Oom Stoffel in _Doppers en Filistyne_ praat van "die haai
+sosaaietie van die dorp", dan het ons daar vrede mee. Ons sien hom sy
+neus optrek vir die hele gedoente en hoor in die klank al sy veragting.
+Dit is dieselfde beginsel wat hom laat sê _Broes Dekstrooi_ en
+_Makpaatrie_ en dit tiepeer die man meteens. Maar die _gereelde_ gebruik
+van die sogenaamde "handige woordjies" moet stellig afgekeur word en dit
+kan ons met Langenhoven se eie woorde doen: "Sal 'n groot Afrikaanse
+letterkunde ooit ontstaan, dan sal hy groot wees omdat hy Afrikaans is:
+Afrikaans in sinsbou, idioom, taalgenie, taalopvatting, taalgevoel,
+taalstandpunt." (t.a.p.). In _Sonde met die Bure_ stuit ons taalgevoel
+op: "bargain (p. 16), trieks (p. 18), sake in order bring (p. 22),
+kerrietse (p. 36), wybel (p. 98); ons dogter Engela had ook intussen
+teruggekom (p. 20); nie alleen dat Vroutjie haar daaraan sou moes
+versoen.... (p. 15); Vroutjie gee my weer 'n kyk" (p. 88). En is die
+vorm _aan die gesels_ (p. 41) nie veel meer Afrikaans nie as _aan 't
+afkom, aan 't uitspan_, ens.?
+
+Doppers en Filistyne, (1922).
+
+"Nou ja, net soos Delila met Simson gemaak het--gekerm en gekarring tot
+sy haar sin gekry het--net so het Soetlief met my gewerk tot sy my
+oorgelewer het aan die dorpse Filistyne" (p. 7). Soetlief volg dieselfde
+taktiek as Vroutjie. Sy is moeg vir die rustige plaaslewe en dwing dorp
+toe om ook in die "adelkringe" te kom. Oom Stoffel, 'n opregte ou
+takhaar moet toegee en dan begint die sonde met die dorpse bure, en die
+dorpse gewoontes. Alles is "blink bedrog". In plaas van sy koele
+rietdakhuis trek hy in "'n moderne ongerieflike verspotterigheid ... wat
+jy kon omstoot buiten dat die uitgeknipte blikversierseltjies jou hande
+sou stukkend sny." (p. 18.) Van "sonde en ergernis en dorpse modes en
+dorpse vleis en brood" word hy dodelik siek. Neelsie jaag hom die stuipe
+op die lyf en as die dokter hom wil opereer, slaan hy die kêrel "dwars
+oor die wastafel" en vlug na die plaas.
+
+By sy terugkoms begint die spokery met sy buurman Makpaatrie oor die
+waterlei-beurt. Steekbaard, die ou plaashond bevlieg die Skotsman, want
+hy reken: "'n Vroumens met 'n lang rooi snorbaard en rokkies bokant die
+kaal knieë--nee, soiets moenie wees nie" (p. 63), En hy veroorsaak nog
+meer moeilikheid deur 'n slagting onder die Skot se "uitheemse soorte
+bog-ongedierte".
+
+Die anderkantse buurman was "Ja-mes Wénderbaail". Miesies Ja-mes gee
+Soetlief 'n kursus in dorpse beskaafdheid, maar Oom Stoffel hou sy lyf
+nog altyd takhaar. Die onderhoud tussen hom en Miesies Ja-mes is 'n
+meesterstuk van vlymende satiere. (p. 73-75.) Soos Langenhoven die
+verengelste Van der Byl-famielie geteken 't sal hulle bly lewe in ons
+letterkunde. Hier is hy werklik 'n "virtuoos van het sarcasme".
+
+Neelsie se joernalistieke ervaring kom Oom Stoffel te pas as hy die
+Taaims-vaatdoekie aan flenters skeur en die hele redaksie met sy
+karreekierie deurloop. Die Progressiewe Hollandse predikant word ook
+ongenadig geroskam. As Neelsie met 'n vernuftige varkeberekening bewys,
+dat Oom Stoffel koninklike bloed in sy are het skaam die ou hom
+bitterlik. "Ek het gedog my peddekrie was skoon"! (p. 113.) Dit is die
+ou Boeretrots wat met al sy veragting van uitheemse tietels hier
+opflikker.
+
+Engela se klererekening bring vir Neelsie "in die verknorsing" en dit
+gee aanleiding tot 'n humoristiese hofsaak. Die gedig wat hy in die
+tronk maak, het egter onder sy verdrietige stemming gely.
+
+"Die dorpse duiwels se naam is legio" en in die loop van die verhaal kry
+meer as een 'n goeie raps onder Oom Stoffel se kierie. Dit word 'n
+deurlopende veroordeling van alle nuwe boggedoentes, van die "met blink
+klatergoud-beslane doodkis", die "Mayoral Sunday", die ingevoerde
+Engelse honde tot die vrot perskes, pere en appels met _fensie_-name en
+_fensie_-wurms om maar 'n paar te noem. Oor alles moet hy sy
+takhaar-wysheid lug, en as hy nie te kwaad word nie, laat hy ons glimlag
+oorslaan in 'n onbedaarlike skaterlag. Al die nuwerwetse
+verspotterigheid word met die ou plaaskierie goed deurgeloop.
+
+Dan kom egter "'n groot versoening ... my ou teëparty is almal bekeerd;
+wat my vyande was is vandag my vriende" (p. 136). "Soos met 'n towerslag
+is ons gevoelens teen mekaar verander en van onverdraagsaamheid tot
+liefde oorgegaan. Makpaatrie en Broes is nie meer uitlanders nie; hulle
+is Afrikaners.... Op die ent van vergaderings en konserte sing ek God
+save the King uit volle bors ... (p. 67). Die groot versoening het nie
+alleen van die Engelse Jingo's Afrikaners gemaak nie, maar ook die
+Afrikaner-Jingo's bekeer (p. 86). Voortaan werk Oom Stoffel saam met
+Miesies Ja-mes by die verkiesings.
+
+Maar die kastige "versoening" is juis die toppunt van alle ironie! Oom
+Stoffel gee homself sy eie doodsteek! Hy het die teëparty so ongenadig
+gekneus en gelooi, dat ons voel dat húlle nooit ofte nimmer met hom kán
+saamwerk nie. Hoe moet ons dan die psigologiese raaisel van die
+versoening verklaar? Delila-Soetlief het die ou takhaar se baard
+afgeskeer! Nie alles nie--hy het nog heelparty van sy ou
+swaap-nukke--maar Soetlief "knip elke oggend (s)y bokbaardjie vir (hom)
+met die skêr reg volgens die nuutste S.A.P.-mode" (p 142). En al die tyd
+verbeel hy hom, dat Soetlief en sy ou vyande "aan (s)y kant kom staan
+het en saam met (hom) voel vir die beginsels en ideale, wat (hom sy)
+lewe lank besiel het ..."! (p. 141.) So kom daar 'n vlymende politieke
+ironie in die boek. En dit is 'n raak hou, omdat Langenhoven dit reg
+gekry het om die ou takhaar homself te laat veroordeel.
+
+"If you detect the ridicule, and your kindliness is chilled by it, you
+are slipping into the grasp of Satire. If instead of falling foul of the
+ridiculous person with a satiric rod, to make him writhe and shriek
+aloud, you prefer to sting him under a semi-caress, by which he shall in
+his anguish be rendered dubious whether indeed anything has hurt him,
+you are an engine of Irony."[369] Die "satiric rod" was Oom Stoffel se
+kareekierie; die "semi-caress" het van Soetlief gekom.
+
+"The foppish irony fretting to be seen, and the irony which leers, that
+you shall not mistake its intention, are failures in satiric effort
+pretending to be treasures of ambiguity"[370]. Omdat Langenhoven so goed
+daarin geslaag het om ook hierdie fout te vermy, daarom sal die satiere
+ook vir later tyd sy oorspronklike frisheid behou, wanneer die politieke
+koaliesie daarin gehekel al lank reeds tot die geskiedenis behoort. Hy
+het self die grootste gedeelte van Oom Stoffel se ervarings deurleef en
+kon die oubaas teken in 'n stemming van vergewende spot. Sy humor is
+soos Höffding sê "das Gefühl des Lächerlichen auf Grundlage der
+Sympathie". Al is hy vandag Oom Stoffel se politieke teenstander, hy het
+die ou bondgenoot nog lief. "Der Humor trägt die Versöhnung im Gemüte.
+Er unterscheidet sich von dem Witze, dasz er an den Dingen mit denen er
+spielt einen innigen Herzenanteil nimmt, und das die Lust des Lachens
+ein inniges Mitgefühl der Rührung für das Verlachte begleitet und
+durchklingt."[371] Die simpatie behoort Langenhoven in staat te stel om
+ook die langsame groeiproses van die versoening in Oom Stoffel se gemoed
+uit te beeld.
+
+Oom Stoffel word ons voorgestel as 'n ongeletterde takhaar. Sagmoedige
+Neelsie, sy neef skuld hom 'n klompie geld en die moet sy spelling en
+interpunksie verbeter. Dat Neelsie die Akademie-spelreëls op krietiese
+wyse toepas--daaroor sal weinig hom seker berisp; maar van die kommas
+het hy seker 'n goeie honderd vergeet. "Inhoud woordekeus en
+styl"--alles is van Oom Stoffel. Hoe goed Neelsie hom ingeleef het in
+die psiege van die ou takhaar blyk uit iedere pagina. Oom Stoffel word
+vir ons 'n lewende persoonlikheid. Hy redeneer met die egte
+boere-logika. "Soetlief het rooihare. Met 'n rooihaar-ding--of jy hom
+ruil of koop of aanteel of trou; hoé jy hom ook kry--steek jy jou in 'n
+waag." (p. 19.) Dié stelling bewys Oom Stoffel deur sy ervarings met
+vosperde. "Onder al ... die klomp was maar een goeie. Nou kan die leser
+by homself uitsyfer wat die kanse is wanneer 'n man 'n rooihaar-ding
+aanskaf." Dit is 'n raak psigologiese uitbeelding, wat ons direk tref
+deur sy egtheid. Ook Oom Stoffel se gesukkel om die hoe en die waarom
+van al die dorpse instellings en gewoontes te verstaan is goed
+weergegee. "Hoe dít uitwerk weet ek nie en Neelsie kan my dit ook nie
+uitlê nie.... Waarom kan die Engelse kerk my kerk vat en hom uit 'n
+blote dorp optel en in 'n city neersit?" (p. 29.) Dit is deur sulke
+trekke, dat Oom Stoffel lewendig voor ons kom staan. Hy bly nie in die
+boek nie. Die dorpelinge het straatlampe, "om hulle op hulle pad hel-toe
+te verlig" (p. 34). Die dokter "kap met die punte van sy vingers oral
+oor my bors en my maag rond _nes 'n houtkapper aan 'n vrot
+wilgerboomstam_" (p. 46). "Waarom sou ek daardie ou koeie uit die sloot
+opgrawe _en aan hulle dooi beendere kou en gallamsiekte kry?_" (p. 136).
+"Ou Ja-mes wat anders so suinig is dat hy 'n vlooi sal afslag en dan die
+soutkorreltjie viermaal middeldeur maak om die vel in te pekel" (p. 84).
+Uit sulke en tallose ander voorbeelde blyk hoe diep Langenhoven
+ingedring het in Oom Stoffel se gedagtewêreld. Oom Stoffel is 'n
+afsonderlike persoonlikheid. Hy leef, en hy leef sy eie lewe. Hy praat
+ook sy eie taal, maar wanneer hy skryf, dan herken ons af en toe
+_Neelsie_ se gladdigheid, regsgeleerdheid en humor. Opvallend is dit
+nie, maar ons voel dit tog in sinne soos die volgende: "Maar toe die ou
+weer met my oor die muur aan 't raas gaan, beskuldig ek hom dat hy met
+vrou en kinders en volk, en _met die medepligtigheid en korrupsie en
+kollusie_ van ou Broes Dekstrooi, my stelselmatig van my water besteel."
+(p. 66.) Só kan 'n ou takhaar nie skryf nie.
+
+Enkele minder gelukkige uitdrukkings kom voor: "gedryfde gelukjag (p.
+17); dat ek _aan_ 'n boek _aan_ 't skrywe was"[372] (p. 1); ook 'n paar
+anglisismes, o.a. "die doem van die Adamskind (p. 26).
+
+"Ek het geen rede om te dink dat Oom Stoffel Multatuli lees nie," sê
+Sagmoedige Neelsie (p. 83 voetnoot). Ons ook nie, maar vir Neelsie self
+moet Multatuli in baie opsigte 'n simpatieke skrywer wees. Fonkelende
+vernuf, bytende sarkasme, 'n voorliefde vir paradokse en soms ook vir
+oud-testamentiese wendings, dit en nog meer het Langenhoven met
+Multatuli gemeen. Ook sy spelling-opstandigheid en afkeer van
+"hooggeleerde akademiese here" en deskundiges herinner ons aan
+Multatuli. "Die geleerde mense is alleen geleerd--die verstandige mense
+is ongeleerd" (p. 135). "Die land wemel van skitterende deskundiges"
+(_Die Burger_, 14 Aug. 1922). En dat hulle self so weinig presteer en
+net "die verstandige mense" se werk wil kritiseer--dit steek Langenhoven
+in die krop. Is dit nie of ons Multatuli se uitdaging hoor aan die
+"hooggeleerde Muurling": "Laat zien wat _gij_ voor den dag brengt, gij
+... geen doctorandus meer, maar doctor, leeraar! Gij, geen doctor meer,
+geen leeraar meer, maar _hoog_-doctor, _hoog_-leeraar, leeraar van
+doctoren, doctor _van_ leeraren, opperleeraar, opperdoctor!" (Idee 279.)
+"Komäan, hoog-geleerden en zeer-geleerden, lever eens wat
+volkeren-wijsheid aan 't volk dat uwe wijsheid in huur heeft, en
+betaalt!" (Idee 281.) Sou Langenhoven hom nie met Multatuli vrolik maak
+nie oor "den armen speciaal-professor die gestruikeld is over 'n
+speciaal eigenschapje van 'n speciaal-atoom zijner specialiteit"? Ons
+gun hom die plesier, as hy maar onthou dat 'n kunstenaar nog iets anders
+is as 'n hooggeleerde.[373] En ons lag saam met hom oor "taal- en
+spelling-grille" as hy net nie in ernstige letterkundige werk daaroor
+peuter nie![374]
+
+VOETNOTAS:
+
+[357] In _Die Huisgenoot_, Jan. 1921, waaraan hierdie lewensskets
+ontleen is. Enkele feite kom uit _Die Brandwag_, Des. 1918.
+
+[358] Twede druk 1909. Die datum van die eerste druk is my onbekend.
+_Doppers_ en _Die Boervrou_ word in hoofstuk X bespreek.
+
+[359] Vgl. Boshoff: _Volk en Taal van S.A._, p. 76 vlg.
+
+[360] Des. 1918.
+
+[361] Derde druk, p. 31.
+
+[362] Vgl. _Richteren_ 15:15.
+
+[363] Voorwoord by die 3de uitgaaf.
+
+[364] _Welt als Wille und Vorstellung_ II, p. 109.
+
+[365] Bedoel word Oberammergau, wat tog nie in Switserland lê nie.
+_Vollendam_ op p. 120 moet wees Volendam.
+
+[366] _An Essay on Comedy_ by George Meredith, p. 65.
+
+[367] _English Comic Writers_: W. Hazlitt, p. 10. (Bohn's edition).
+
+[368] Sien voorwoord, No. 4.
+
+[369] Meredith, t.a.p., p. 79.
+
+[370] id., p. 83.
+
+[371] Backhaus: _Das Wesen des Humors_, p. 70.
+
+[372] Vgl. _Sonde met die Bure_: "En toe gaan ek aan 't skiet aan die
+haan", p. 24.
+
+[373] Oor die onvrugbaarheid van akademiese professore het Langenhoven
+hom herhaaldelik uitgelaat. In _Die Banier_, Julie 1921, beweer hy
+selfs, dat dit daarna lyk of 'n akademiese opleiding vir die vorming van
+'n kunstenaar noodlottig is--wat seker 'n onjuiste bewering is. So 'n
+opleiding "het uitgeloop, nie op 'n mislukking nie, maar op 'n sukses:
+op die sukses van 'n beoogde mislukking, want hy was opsetlik bereken om
+te misluk"! Vir sulke spitsvondigheidjies is Langenhoven maar àl te
+lief!
+
+[374] Vgl. b.v. _Ons Weg deur die Wêreld^2_, p. 81: "gesteelde--nee,
+gestole moet ek sê--...." In _Aan Stille Waters_ is daar ook
+spellinggrappies.
+
+
+
+
+HOOFSTUK VII.
+
+Didaktiese Prosa.
+
+
+§ 1. Adv. C.J. Langenhoven.
+
+Ons Weg deur die Wêreld I, IV, VI, IX.[375]
+
+Die eerste afdeling: _Naarheid en Waarheid_ bevat aforismes. Bestaande
+spreekwoorde word aangevul, verbeter of ontken. "Dis wáar, klere maak
+nie die man nie. Maar slordigheid nog minder." "Een swaaltjie maak geen
+somer nie. Hy maak nie eers 'n nes nie." "Daar mag halwe eiers wees wat
+beter is as leë doppe, maar die halwe eiers wat naar my koers toe gekom
+het was nog altyd vrot." 'n Groot aantal spreuke is woordspelings: "Om
+te weet is net so maklik as om nie te weet nie. Wat swaar is, is om te
+weet wát jy weet deur te weet wat jy nie weet nie." In andere klink daar
+'n sarkastiese toon: "In 'n vrye land behoort elke koerantskrywer die
+reg te hê om dwaasheid te verkondig." Die sonde-met-die-bure-motief is
+hier ook aanwesig: "Dis makliker om die gemeente lief te hê as jou
+buurman, en die hele menslike geslag as jou vrou se famielie." Oom
+Stoffel sal seker instem met die volgende: "As die son nou met die
+beskawing wil saamgaan, moet hy in die nag skyn wanneer die mense wil
+wakker wees en in die oggend ondergaan wanneer hulle wil slaap."
+"Vroutjie" se redeneerkuns word so getiepeer: "Oortuig 'n vrou dat sy
+nie reg is nie, sy klap jou om met simpel almiskié."
+
+Die spreuke is 'n pittige samevatting van die skrywer se lewenswysheid.
+Daar is raak opmerkings, wat getuig van 'n helder, logiese gedagtegang
+en 'n uitgebreide ervaring; nuwe waarhede, op pakkende wyse uitgedruk;
+ou waarhede, in 'n nuwe, oorspronklike vorm. As voorbeelde van sy
+kernagtige styl kan die volgende dien: "Waar die vader op 'n donkie gery
+het en die seun op 'n galop, kry jy die kleinkinders te voet."
+"Kleinserigheid is die voorkant van seerkleinigheid."
+
+In die _Ligte Leekprekies_ (IV) is daar 'n preek vir kinders oor
+wedywer. "As julle nie weet wat kompetiesie is nie, soek 'n handvol
+koring en gooi die vir 'n klompie hoenders. Dan sal julle kompetiesie
+sien." (p. 71, Derde druk.) Die verskille tussen "hoender- en
+mens-kompetiesie" word dan uitgewerk na aanleiding van wedywer op
+sportgebied. Die deurmekaar Engels en Hollands pratery "is my
+skoolmeester se skuld" verklaar Langenhoven. Mooi is dit seker nie!
+
+In _'n Preek vir Nooiens_ word die deugde van die voorouers teenoor die
+hedendaagse nuwighede geplaas, en die vergelyking val nie ten gunste van
+die laaste uit nie, soos blyk uit die volgende lang-asem sin met sy
+komieklike nadraaitjie: "En onse jonge dogters begint in te teken vir
+ryk ge-illustreerde mode-joernale en 'n aangeleerde smaak te ontwikkel
+vir bloedsomloop-versperrende nou-ryg borste-rokke, voet-martelende en
+senuwee-renewérende spyker-polfytjies; vir die gesig-belemmerende
+wa-wiel-hoed en die bene-belemmerende hobbelskirt; vir die lae-nek blous
+en die ope-werk kous." (p. 80.) Teen die wedywer in huweliksgeskenke
+word ook protes aangeteken: "Maar onder die teenswoordige opjaagvendusie
+wat van menige bruilof gemaak word, weet jy nie watter geskenk 'n
+konvensionele pligvervulling verteenwoordig en watter werklik van harte
+gemeen is nie...." (p. 83).
+
+In _Beweging_ word die ontwikkeling van ons vervoermiddels geskets en
+die voorgeslag verheerlik: "Baie van ons voorouers had stoomharte by die
+remskoenwaens; baie van ons het remskoenharte by die stoomwaens." (p.
+88.) Al die menslike voertuie is egter onvolmaak, wanneer dit vergelyk
+word met een "deur die liewe God gemaak." "So stil, so absoluut
+eengalig, loop die ou aarde wat vir ons oor en deur die peillose
+afgronde van die hemelruim veilig meevoer, dat die oorgrootste
+meerderheid van die mensdom vandag nog oortuig is dat sy dood-stil bly
+staan in een plek, beweegloos, roerloos." (p. 89.) Die aarde is "ons ou
+moeder-wa" waarop die lewensreis afgeleg word. Dan ontstaan die vraag:
+"Waarheen? Waartoe? Waarom?"
+
+In die kinderprekie oor _Ideale_ word die volgende spreuk nader
+uitgewerkt "Die grootste gebeurtenisse in die geskiedenis van die wêreld
+is maar die oeste van ongesiene gedagtesaadjies."
+
+In die sesde afdeling word _Die Betekenis van Opvoeding_ op aanskoulike
+en helder wyse uiteengeset en nagegaan wat _Die Kenmerke van 'n goeie
+Toespraak_ is.
+
+In die negende afdeling, waaraan die boek sy naam ontleen, tree
+Langenhoven op as 'n gids op _Ons weg deur die Wêreld_. In 'n honderdtal
+kort prekies, elkeen voorsien van 'n pittige teks word onderwerpe van 'n
+groot verskeidenheid behandel. Daar is preke oor die mode, dronkenskap,
+skindery, politiek, sedelike kwessies, ons eksamenstelsel, opvoeding,
+skuldmaak, fariseïsme, liefdadigheid, eerlikheid, borgstaan, godsdiens,
+die dood. Ook maatskaplike vraagstukke, soos die verhouding tussen
+kapitaal en arbeid word bespreek. Hy probeer om homself en sy bure
+grondig te leer ken. Hoe moeilik die _ken jouself_ is, weet hy maar al
+te goed: "Die enigste mens in die wêreld wat in die posiesie is om jou
+te beoordeel is jyself, maar jy is die onbevoegdste, want jy is tegelyk
+regter en beskuldigde. Jy alleen kan in jou hart inkyk: maar ongelukkig
+dis jy wat inkyk--die baas en dienaar van die hart." (72.)
+
+Op sy weg deur die wêreld vind hy baie dinge wat verkeerd is, maar tog
+bly hy optimisties: "Laat ons moed hou, maat, die ou wêreld is darem nie
+so sleg nie!" (92.) "Die grote waarhede van godsdiens en wetenskap en
+idealisme en vaderlandsliefde: immers dié regeer die wêreld." (id.) Tog
+moet hy af en toe peins oor die volmaakte wêreld, wat sou ontstaan as
+die menslike natuur anders was: "Veronderstel die hele mensdom sou
+volkome waarheid-sprekend word, wat sou almal nie win daarby nie!" (50.)
+"Die wêreld kon 'n soort van lushof gewees het waar ons al singende en
+huppelende 'n lower-beskadude en bloem-bestrooide weg vervolg het van
+ons wieg tot aan ons graf." Maar ons moet "met skaamte bely: ... Alles
+is hier skoon en edel en groots behalwe die inwoners." (53.)
+
+Enkele volkstiepes word raak gekarakteriseer; in nommer 10 die man wat
+by alles voor-op-die-wa wil wees, in 64 die lastige kuiergas, wat "nie
+gesels nie, maar gesels-maak". In 78 kom een van die weinige anekdotes
+voor, want die direkte preektoon word maar uiters selde deur 'n verhaal
+onderbreek.
+
+In die honderdtal preke vind ons veel wat fris en oorspronklik is, en
+selfs die ou waarhede word op 'n besonder persoonlike wyse uitgedruk,
+sodat dit prikkel tot nadink. "As jy op trou staan sal jy geen goeie
+raad aanneem nie, en as jy op sterwe lê sal jy dit nie kry nie." (14.)
+"My liewe man, moenie vrees vir jou dood nie: vrees vir jou lewe. By jou
+dood sal jy verby kom: hy sal nie te swaar wees nie; want as hy te swaar
+sou wees, sou hy onmooglik wees; en as hy onmooglik sou wees, sou jy
+onsterflik wees. Wees gerus oor daardie laaste plig wat van jou gevorder
+sal word op die aarde: jy sal nie kortkom nie--daardie laaste skuld sal
+jy betaal tot op die uiterste greintjie van die uiterste penning" (55).
+Dit is deur so 'n ongewone manier van sê, deur sulke verrassende
+wendings, dat Langenhoven meestal daarin slaag om ons aandag vas te hou,
+want sy preke is pure pit-kos, wat nie in oomblikke van verstrooiing
+moet gelees word nie. Die oorvloedige gebruik van abstrakte begrippe,
+die epigrammatiese styl met sy vernufspelings, paradokse en parallele
+sinsbou vorder die grootste opmerksaamheid van die leser. "'n Bekwame
+booswig sou minder van 'n booswig gewees het als hy 'n onbekwame booswig
+was. Dáár, o mens, is jou kostelikste besitting: jou karakter wat jou
+bekwaamheid bekwaam kan maak ten goede" (68). "Die meeste wyse mense wat
+ek nog raak geloop het is dom mense, en die meeste slim mense dwaas"
+ens. (9). "Al ons geluk is verbeelding en alle verbeelde geluk is geluk"
+(_Aan Stille Waters_). "Leugenliewende waarheidgierigheid (92), die
+ontsag vir sy gesag (93), die onreg dat 'n ander die reg ... het"
+(77)--vir sulke knal-effekte is Langenhoven besonder lief. Dat hy met sy
+puntige gesegdes soms 'n mooi indruk maak is seker; maar die vuurwerk
+van sy vernuf verteer ook soms die gedagte wat hy wil uit. Op die manier
+gaan die eenvoudigheid wat hy bo-alles na streef verlore. "Die
+eenvoudigste sprekers, die eenvoudigste skrywers, is die wat die
+diepste, diepste denkers is.... 'n Suiwere gedagte, 'n suiwere waarheid,
+is van self soveel wêrd dat hy die beste indruk maak as hy op sy eie
+verdienste, op sy eie waarde, ten toon gestel word in plaas van deur 'n
+misdamp onduidelik bespeurbaar te wees." (_'n Goeie Toespraak_.)
+
+Op enkele minder gelukkige taalvorme kan hier nog gewys word: "Die man
+_wiens_ raad (21 et passim); toe hulle van alle invloede van Kerk en
+Skool en Wet _ont_stoke was (27); die taktieke voordeel (37); meineders
+(85); verrottenheid (86); om te wanregeer (91); ons _beweeg_ die graaf
+in die grond in" (p. 85, Derde Dr.). Die woordskikking is soms foutief
+o.a.: "Anders maklik kan jou eie redenasies jouself naderhand ...
+verlei" (p. 218). Troebel is die volgende beeldspraak: "die lente van
+nuwe lewe en bottende, bloemende, bloedgalop." (p. 90, Derde Druk.)
+
+Afgesien van die storende gebruik van Engelse woorde soos: dres, mistyk,
+blackmailer, safe, snobbery, jollie, shabby, independent, ens. is die
+aantal anglisismes taamlik groot. Die volgende voorbeelde is aan
+afdeling IX ontleen: "'n Klassiek van die literatuur (12); in growwe
+opsigte (20); naar 'n gevolgtrekking te spring (21); op die lange baan
+verydel die luiaard sy eie doel (25); sy professie van reine bedoelings
+(37); nou en dan trek ons 'n blank; om deliberaat meineed te pleeg (48);
+raar (Eng. _rare_) (52); die eerste plig is die makliker plig (61); die
+wilde-hawer-saaiers in hulle jeug ...; sy iedere woord (71); die ou
+vriende van jare lange stand" (83). In _'n Goeie Toespraak_ hoor ons van
+welsprekendheid, wat _platval_ (p. 216). Ook in die sinsbou stuit mens
+op Engelse wendings.
+
+Uit die reeks artiekels _Aan Stille Waters_ kan ons Langenhoven se
+letterkundige opvattings leer ken. "Die hedendaagse Europese dekadensie
+van die kubiste en futuriste en impressioniste (volgens wie 'n ding moet
+lelik wees om mooi te wees)" moet nie "aan ons Afrikaanse waarheidssin
+en eenvoudsgevoel ... af(ge)smeer" word nie. (_Die Burger_, 14/8/22.) In
+dieselfde artiekel spreek hy hom teen 'n beroepstoneel uit: "Ek (sou)
+liewer ons kultuur op die gebied van die drama onontwikkeld sien bly as
+dat ons beroepsbeoefenaars sou hê.... Ek hoef nie meer te sê nie as dat
+volgens my insigte 'n klas van beroeps-vermaak-skaffers nie tot genoeg
+nut vir die samelewing is om op te weeg teen die besware wat daar in te
+bring is nie." As 'n beroepstoneel niks anders dan "vermaak-skaffers"
+oplewer nie, sal baie die bewering seker onderskryf; maar van 'n goeie
+toneelspeler verwag ons tog veel meer dan bloot _vermaak_! Ook "vir die
+gewone mens" moet die kuns méér wees as "ontspanning ... tussen die
+harde en dikwels onlieflike pligte van die lewe." (28/8/22). Maar hoe
+hoog Langenhoven sy roeping as kunstenaar opvat, blyk uit die volgende:
+Vir die kunstenaar sal die kuns "nie 'n afwisselende tydverdryf wees
+nie; dit sal sy hele lewe wees." (id.)
+
+Die Bybel, die psalms en gesange is vir hom die toppunt van alle
+bereikbare skoonheid. "Hy (d.i. Langenhoven) haal uit die Bybel aan,
+omdat hy van geen letterkunde in die wêreld weet wat, as 'n saak van
+blote verhewenheid en skoonheid, in die verte daarby kom nie; en uit ons
+Psalms en Gesange, _omdat hy van niks in die Nederlandse lettere weet
+wat daarby kom nie"_ (31/7/22).[376] By so 'n uitspraak het die gewyde
+inhoud van die aangehaalde werke met hul geheiligde herinneringe seker
+swaar geweeg. Veral die gekursiveerde stelling wek verwondering, want
+wanneer die Bybel, weens sy unieke posiesie as die geïnspireerde Woord
+buiten beskouing bly, dan is daar tog seker genoeg geestelike liedere
+wat 'n vergelyking met die offisiële gesange glansryk kan deurstaan.
+
+Langenhoven se ideaal is om 'n boek te skryf "wat genot verskaf by die
+veewagterskraal en nie benede die aandag van die hoogsgeleerde
+uniwersiteits-professor (is) nie." (12/6/22). "Skryf ek vir die geleerde
+mense, met die veronderstelling van kennis en ontwikkeling wat hulle
+reeds klaar besit, dan word ek vir die grote meerderheid van die volk
+onleesbaar--dan kan hulle geen vattigheid by my kry nie. Skryf ek met
+die oog op die onbevoorregtes, waar my hart van jammerte en medelye is,
+dan loop ek die gevaar dat teen die hoof van my nasie die vernederende
+vreemde verwyt kan geslinger word: Julle is onbeskaaf; julle kultuur is
+benede die hedendaagse ontwikkelde peil" (id). Die "versoening tussen
+hierdie twee teenstrydige uiterstes" vind hy in die Bybel en by Homerus.
+"Daarin is die verhewenste bereik waartoe die kuns van die lettere in
+staat is, en bereik _langes die weg van die allernederigste
+eenvoud_."[377]
+
+Duidelik word sy didaktiese standpunt uiteengeset in _Hoe skryf 'n
+mens?_ (17/14/22). "Wat ons roeping en plig is, ons wat skryf, is om
+naar ons broers om te kyk wat die opvoeding van node het wat aan hulle
+in hulle jonge dae weerhou is en wat hulle nergens anders kan kry nie as
+by ons.... Met ons boeke, met ons tydskrifte, met ons koerante, behoort
+ons veral diegene te help wat hulle nie self kan help nie." Langenhoven
+streef na gemeenskapskuns. Sterk ontwikkel is by hom die liefde vir die
+massa, vir _"die onbevoorregtes, waar (s)y hart van jammerte en medelye
+is_." Op hom is die woorde van Frans Bastiaanse toepaslik: "Als een
+kunstenaar zoo veel houdt van die massa-idee als een ander bijv. van
+zijn geliefde of zijn moeder kan houden, dan kan die massa-idee in hem
+dien ontroeringsstaat wekken, die tot het kunstenaarsschap aanleiding
+geeft."[378] Langenhoven begaan egter die fout om aan àl ons skrywers 'n
+didaktiese dwang op te lê en in sy ywer en liefde vir die "arme
+sukkelaars op die nederigste onderste sportjie" vergeet hy, _dat die
+waaragtige kunstenaar geen skoolmeester is nie_. Die waaragtige
+kunstenaar is iemand wat deur skoonheid ontroer is en wat die wondere
+gawe besit om sy ontroering in taal of klank of kleur of marmer so te
+uit, dat die oorspronklike verrukking wat hy by sy skeppingswerk
+ondervind het, vir ander navoelbaar is. Dat daar van alle goeie kuns 'n
+veredelende werking uitgaan, is vir die kunstenaar iets bykomstigs; doel
+mag dit nooit wees nie. "Het primaire van een kunstwerk is de ontroering
+die er in schuilt, en of die ontroering bij den kunstenaar nu gewekt
+wordt doordat hij haar krijgt uit het massa-sentiment, of door het
+natuurleven, of wat dan ook, dat blijft ten slotte hetzelfde, mits de
+diepere ontvankelijkheid en het kunstenaars-temperament er zijn."[379]
+'n Kristen-kunstenaar b.v. sal in sy werk, ja =moet= as dit eg is, sy
+godsdienstige gevoelens openbaar, omdat hy in 'n kunswerk vorm gee aan
+die innerlikste roersels van sy wese. Maar as die self-openbaring van
+die Kristen-kunstenaar ontstaan, nie uit 'n suiwer-estetiese drang nie,
+dog met die bedoeling om ander te bekeer, dan word dit 'n preek, wat met
+kuns niks te maak het nie. As die Kristen alleen uiting gee aan sy
+godsdienstige ontroering en alleen daardeur gedryf word tot skepping van
+sy werk, dan kan dit kuns wees. Op dieselfde wyse kan iemand wat diep
+ontroer is deur die nood en behoefte van ons arm blanke, soos
+Langenhoven b.v., kuns skep wat hul harte sal raak. Maar gaat al ons
+skrywers nou voor hul skryftafels sit met die bewuste, vooropgestelde
+doel: Ons moet "die duisende onbevoorregtes van ons volk", wat nou vir
+die eerste maal boeke in hul eie taal kan lees, help, tot 'n hoër trap
+van beskawing ophef, dan kan daar wel goeie didaktiese verhandelinge,
+ens. ontstaan, skoolboekies vir grootmense, maar nooit ofte nimmer
+_kunswerke_ nie. Eenvoudig omdat kuns nie gefabriseer of gekommandeer
+kan word nie, omdat kuns sy ontstaan dank aan 'n spontane ontroering van
+'n begenadigde eenling. "An essential in creative art is the artist's
+temperamental absorption in his own work. Art in that respect is
+essentially aristocratic, however democratic its appeal may be. That is
+what Meredith meant when he said, 'Do not democratize literature'. Beer
+or blankets or biscuits or braces may be manufactured to please the
+taste of the average man, but art cannot be so dealt with under penalty
+of losing its quality as art."[380]
+
+Langenhoven beweer: "Die meesterstukke van die wêreld, die klassieke wat
+die toets van die tyd deurgestaan het, is nie dié wat te hoog vir die
+volk was nie, maar juis die wat elementaal (verstaan: _elementêr_) was
+en hulle beroep gemaak het op die ewige gevoelens en behoeftes en
+ervarings van die ongekunstelde volkshart." (17/4/22). Om dié snaakse
+bewering te bewys, neem hy die Bybel as voorbeeld. Maar afgesien van sy
+letterkundige waarde, wat ongetwyfeld groot is, het die Heilige Skrif
+deur sy godsdienstige inhoud só 'n bevoorregte posiesie, dat daarop geen
+argument kan gebou word nie. Shakespeare, Dante, Vondel--aan sulke
+kunstenaars moet ons die bewering toets. Hulle was en is nog altyd "te
+hoog vir die volk", soos in hoofstuk II al aangetoon is. Dit is pure
+onsin om van 'n kunstenaar te verwag dat hy hom na die publiek moet rig.
+Hy moet eenvoudig getrou wees aan die innerlike stem, aan die heilige
+ontroering, wat die skepping van kunswerk vir hom tot plig maak.
+
+ "Wer den Dichter will verstehen
+ Muss in Dichters Lande gehen"
+
+sê Goethe. "Dat is een wet van alle tijden voor de poëzie.... Een
+dichter moet in niets anders leven dan in de aandoening, in de idee die
+hij aan het dichten is. Hij moet niet met zijn verstand een geleidertje
+bij zijn werk zetten, dat toekijkt of hij wel zoo schrijft dat vele
+menschen het zullen kunnen lezen. Dan is de toestand niet zuiver meer en
+is de poëzie vertroebeld."[381]
+
+Met dit alles word volstrek nie beweer, dat die kuns buiten die
+maatskappy, buiten die volk hoef te staan nie. "Goede en groote kunst
+heeft steeds in de maatschappij gestaan; al werkt ze niet rechtstreeks
+op de massa, zij is en blijft een macht in de gemeenschap. Het
+voortbrengen van goede, groote kunst is iets zeer persoonlijks en
+individueels. Als toevallig dat persoonlijke en individueele dwingt tot
+het scheppen van gemeenschapskunst, prachtig! _Maar zoo iets opzettelijk
+aan te kweeken of bij politieke leuze voor te schrijven is een
+dwaasheid_. De hoogste en teerste en tevens machtigste kunst oefent haar
+levenden invloed rechtstreeks meestal slechts in beperkten kring, zal
+wel zeer zelden spreken tot het gevoel en begrip van de grove
+massa...."[382]
+
+Laat dié kunstenaar wat deur sy innerlike geaardheid en natuurlike
+aanleg tot gemeenskapskuns geroep word, dit voortbring; maar laat ons
+dit nie as enge dogma aan almal voorskryf nie, want iedere waaragtige
+kunstenaar dien die mensheid op sy eie manier. Kloos sê: "Een gedicht is
+de individueelste expressie van de individueelste gevoelens", en Adama
+van Scheltema se formulering is presies die teenoorgestelde: "Een
+gedicht moet zijn een muziekstuk van woorden en gedachten, dat door
+zooveel mogelijk onzer medemenschen kan worden gevoeld en
+begrepen."[383]. Tog het albei skoonheid geskep. Maar die indiwidualis,
+wat in stryd met sy roeping die hele gemeenskap wil dien met sy kuns
+gaat ten gronde. Ons hoef alleen aan Gorter te dink. En didaktiese kuns
+wat nie is "ontvangen en geboren uit de onweerstaanbare
+schoonheidspassie, gesteund door kennis en arbeid" kan wees "leerzame
+propagandistiese lectuur ..., maar dat gaat voorbij, daaruit vloeit niet
+de koesterende warmte van het stralend vuur, _the joy for ever_."[384]
+"Even in novels of a superior order, which may be marked by some
+psychological insight, atmospheric truth, and a highly consciencious
+exposition of character and motive, we find that the didactic touch
+often robs the story of the qualities of flexible grace and naturalness
+which are essential to fine craftmanship."[385]. Dit is 'n waarskuwing
+wat ons kunstenaars gerus kan oorweeg.
+
+Gelukkig hoef ons in Suid-Afrika voorlopig nie te vrees vir
+indiwidualistiese verwildering nie. Ons kunstenaars sluit hul nie op in
+_ivoren torens_, gaat nie op in egoïstiese aanbidding nie, maar staan in
+die middel van die volk. En as daar nog baie onbevoorregtes is, wat
+selfs ons nasionale kuns nie kan waardeer nie, dan is dit omdat die weg
+tot ware kunsbegrip lank is. Deur aan die volk hul moedertaal op die
+skool te gee het Langenhoven die enigste weg ingeslaan waarlangs hul
+gelei kan word tot 'n waardering van egte kuns.[386]
+
+
+§ 2. Dr. C. Louis Leipoldt.[387]
+
+Praatjies met die Oumense, (1918).
+
+Die grootste gedeelte van die bundel bestaan uit 'n
+populêr-wetenskaplike behandeling van mediese onderwerpe, soos kanker,
+geslagsiektes en die drankkwessie. 'n Vyftal opstelle behoort egter tot
+die didaktiese literatuur. Die _Praatjies_ is geskrywe "om oumense,
+veral die wat ouers is, aan te spoor om vir hulleself te dink".[388]
+Groot nadruk word gelê op die noodsaaklikheid om logies te redeneer en
+die skrywer toon dan ook dat hy dié kuns goed verstaan. Sy rustige
+betoogtrant munt uit deur klare eenvoudigheid. "Soos dit nou gaan, is
+die meeste gepraat selfs oor belangrike sake net maar babbelpraat, omdat
+diegene wat in die bespreking deel neem nie die moeite gedoen het om
+vooraf die feite, wat op die onderwerp van toepassing is, te leer ken
+nie." (p. 17.)
+
+Die kuns om te lees, verbeelding, opvoeding, vryheid en
+verdraagsaamheid--dit is die didaktiese onderwerpe wat behandel word. Sy
+pleidooi vir 'n suiwer Afrikaanse beeldspraak verdien die aandag: "Ons
+hoef vir geen nasie agter te staan nie, wat vergelykenisse, geput uit
+ons natuur, ons geskiedenis, ons alledaagse lewe, betref, maar waar sien
+of hoor jy dat ons publieke sprekers van sulke nasionale beelde 'n
+algemene gebruik maak?" (pag. 43.)
+
+Telkens word Multatuli met groot ingenomenheid aangehaal en die lesing
+van sy werk aanbeveel[389]. 'n Paar van Leipoldt se denkbeelde is
+taamlik rewolusionêr en sal, deur ons land ten minste, seker 'n klein
+Multatuliaanse "rilling" laat gaan. Hy is 'n teenstander van
+godsdiens-onderwys op skole. "Is dit nie veel beter nie om uit die Bybel
+te put stories en stukkies wat 'n rein opvoedkundige waarde het, en dit
+voor te dra in die skool as deel van die algemene geskiedenis soos dan
+ook die Herbartse volgelinge dit doen?" (p. 84.) Sendingwerk beskou hy
+as 'n uiting van onverdraagsaamheid. Die sendelinge is "uitstekende,
+mensliewende persone.... En tog, dieselfde beminnelike mense gaan naar
+ander mense, wat nie juis bely wat hulle bely nie, en kwets die mense in
+hulle diepste en heiligste gevoelens op 'n manier wat hulle van jou en
+my nooit sal verdra nie." (p. 150.) Op p. 34 is sprake van "die
+middeleeuse hipotese van erfsonde" en "die predestinasie of
+verdoemingsleer van die Kristelike kerk." Predikante en prokureurs kry
+'n opslagskoot op p. 16: "Die meeste van ons is geneig om die deskundige
+te wantrou. Daar is net twee van die soort mense aan wie onder ons mense
+'n algemene roem toegeken word, naamlik die predikante en die
+prokureurs, en op die keper beskou is hulle deskundigheid tog maar van
+die minste waarde"!
+
+Leipoldt se helder prosa bevat ongetwyfeld 'n belofte. "Ek weet dat wat
+ek aanvoer van belang is vir ons volk, en dat dit algar dinge is,
+waaroor 'n verstandige mens behoort na te dink" verklaar hy in sy
+voorwoord. Die waarde van sy _Praatjies_ lê daarin, dat dit 'n
+aansporing tot selfstandig dink bevat. Op enkele minder gelukkige
+taalvorme kan nog gewys word: "Ons herinner, hoe sy ewe manmoedig ...
+pal gestaan het (p. 12); as ek dus iets verbeel (p. 29); hy is een van
+die mense wat ... die naam van mistiek mag dra" (p. 32). "Die strikte
+onderwyser" (p. 87) en "vandag is ons begrip nog geverwe deur gewoonte"
+(p. 145) is anglisismes.
+
+
+§ 3. G. Jordaan.
+
+G. Jordaan vertel in _Die Muurkassie_ (1919) hoe Oom Andries "deur
+oppassendheid en sorg ryk geword het". Hy hou vas aan die voorvaderlike
+gewoontes en gereeld kom die Bybel uit die muurkassie. As klein Andries,
+uit wie se jeug allerlei awontuurtjies meegedeel word, egter groot is,
+trou hy met Florence McWire. Hy word een van die "society-mense" en dit
+duur nie lank nie of die muurkassie word die bewaarplek vir kaarte en
+brandewyn. Armoede volg en na 'n beskouing oor die arm-blanke-kwessie
+roep die skrywer sy lesers, "wat ook grond geërf het van hulle ouers"
+toe: "Daar kom 'n stroom van immigrante uit Europa. Vele oë is op die
+erwe van die voorgeslagte (die plase van die boere). Laat ons met
+rotsvaste beslistheid Naboth nasê: Dit zij verre van mij dat ik u geven
+(of verkopen) zal de erve mijner vaderen!"
+
+Jordaan "skryf as gewone boer aan (s)y landgenote"[390] 'n eenvoudige
+lekeprekie oor 'n aktuele kwessie. Ter afwisseling vertel hy 'n paar
+grappies: Oom Willie val in die stampkarring, Oom Andries in 'n bad
+water, ens. Maar sy waarskuwing is ernstig, en ofskoon van geen
+letterkundige, seker van kulturele belang. Hy is ook die skrywer van:
+_Hoe zij stierven_.
+
+VOETNOTAS:
+
+[375] Twede Dr. 1919. In afd. IX word by sitate die nommers van die
+stukke aangegee. Waar nie vermeld nie, word volgens die twede druk
+gesiteer.
+
+[376] Ek kursiveer.
+
+[377] Ek kursiveer.
+
+[378] E. D'Oliveira: _De Jongere Generatie_ p. 93.
+
+[379] t.a.p., p. 94.
+
+[380] Edward Garnett: _Friday Nights_, p. 257.
+
+[381] D'Oliveira, t.a.p., p. 233. P.N. van Eijck.
+
+[382] Prof. Dr. J. Prinsen: _Handboek_^2 ens., p. 554. Ek kursiveer.
+
+[383] D'Oliveira, t.a.p., p. 211.
+
+[384] Prinsen, t.a.p., p. 671.
+
+[385] Garnett, t.a.p., p. 265.
+
+[386] Vgl. my artiekel oor die kwessie in _Die Huisgenoot_, Aug. 1922.
+In sy repliek (_Die Burger_, 4/9/22) slaag Langenhoven daar nie in om
+die persoonlike element buiten die kwessie te hou nie. Dit word 'n
+kriewelrige filippika teen "akademiese Fariseërs" en "skrifgeleerde
+ape", onder wie Kloos, Van Deyssel, Van Eeden en Robbers gereken word!!
+Hoe weinig begrip Langenhoven van die letterkundige kritiek het, blyk
+o.a. uit die volgende: "Die grootste vyande van alle kuns is die
+katedrale (sic!) kuns-eksperte." Die feite wat ek aangevoer het bly
+onaangetas staan, soos in een van die volgende nommers van _Die
+Huisgenoot_ aangetoon word.
+
+[387] Vir 'n lewensskets kan verwys word na Dr. E.C. Pienaar: _Taal en
+Poësie_^2 ens, p. 300 vlg.
+
+[388] Voorwoord.
+
+[389] O.a. p. 88.
+
+[390] Voorwoord.
+
+
+
+
+HOOFSTUK VIII.
+
+Dierebeskrywing.
+
+
+§ 1. A.A. Pienaar. (SANGIRO).
+
+Sangiro is in 1894 in die distrik Pretoria gebore. Op elfjarige leeftyd
+het hy met sy ouers die voortrek na Duits-Oos meegemaak. Groot was die
+ontberings op die lang trek van die kus af na Kilimandjaro. Eers was dit
+malaria, toe vrek die trekdiere en eindelik was al die voedselvoorraad
+op--verweg in wilde bosstreke, waar niks te kry was nie. Kort na die
+aankoms by Kilimandjaro, waar toe al 'n paar Boerfamielies was, is twee
+van sy broers dood aan die gevolge van malaria en die ontberings langs
+die pad. Daar was geen ander maats naby die plaas nie en dus het hy
+alleen opgegroei tussen die diere. Van die tyd vertel hy: "Die grootste
+plesier het toe nog bestaan in die jagawonture en die doodskiet. Maar ek
+het baie behae daarin geskep om jong wilde diere lewendig te vang en aan
+my gewend te maak. Daardie eerste jare was 'n gedurige worsteling om die
+vee snags teen roofdiere te beskerm. Dié werk het hoofsaaklik op my
+gerus. Deur gedurige aanraking--jag en naspoor gedurende die dag en
+opsit in die kraal snags, het ek natuurlik 'n baie intieme kennis van
+die roofdiere veral gekry. Hierdie lewe het vier jaar geduur. Toe is ek
+na Suid-Afrika om te studeer. (Heidelberg, Tvl. en Stellenbosch). Toe ek
+in 1917 gaan kuier na Duits-Oos, was my lewensbeskouing baie verander.
+Ek het dit nou swaar gevind om wild dood te skiet, en het die jag alleen
+nog geniet wanneer dit gevaarlike teenstanders, soos die leeu en
+renoster geld. Die grootste plesier het ek nou daarin gevind om die
+diere in hulle eie omgewing gade te slaan. Die gebeurtenisse in my
+boekie het gedurende hierdie twee jaar plaasgevind. Die stories is waar.
+Die leeus het ek 'n weeklank elke maanlignag sit en beskou uit 'n boom.
+Ek kon elke beweging bespeur en later weergee in my boek. Die jagters
+wat daarin voorkom is my broer, ('n jonger een) en ek self."
+
+In 1920 het _Sangiro_ aan die Stellenbosse Uniwersiteit gegradueer. Hy
+is nou op die redaksie van _Die Burger_, en uit die blad is sy sketse
+_Uit die Lewe_ bekend. In 1921 het van hom verskyn: _Uit Oerwoud en
+Vlakte, Sketse uit die Oos-Afrikaanse Dierewêreld_[391]. Daarvan vertel
+hy: "Die boekie is geskryf in Quarta, Stellenbosch, waar 'n groot
+verlange na die wildernis van my besit geneem het, sodra ek in 1918 weer
+teruggekeer het uit Duits-Oos.... Ek kan dit nie help nie, maar ek het
+'n gedurige heimwee na die wildernis--nou ook weer." So skryf _Sangiro_
+net na sy terugkeer van 'n lang jagtog. Die jag was egter bysaak en die
+volgende keer neem hy miskien net sy kamera saam. _Sangiro_ is die
+bynaam wat die Kaffers hom gegee het.
+
+Sketse uit die Oos-Afrikaanse Dierewêreld.
+
+M.H. van Campen het opgemerk, dat in die loop van die eeue die
+beroemdste skrywers die dierewêreld "nimmer om zich-zelfs-wil in
+literaire kunst" uitgebeeld het nie. In die Pancatantra, die fabels van
+Aesopus, die Reinaert-sage en ook vir La Fontaine is die dier alleen van
+belang "voor zoover het als acteur te gebruiken viel, wien een
+_menschelijke_ rol kon worden toebedeeld."[392] "Zeer zeker ging al
+dezen schrijvers het eigenaardige van het dier-leven niet onopgemerkt
+voorbij, maar dat leven zagen zij niet als een schoonen stroom, machtig,
+diep en hunner aandacht ten volle waardig, ook al hadden zij er nooit de
+_spiegeling_ van der _menschheid_ gelaat in gezien.... De dieren spelen
+(in de Indo-Europeesche dierensage) wel de eerste rol, maar die dieren
+denken en handelen met _menschelijk_ verstand, die dieren zijn _verkapte
+menschen_, zijn _menschen in een dierenhuid gestoken_, gelijk in
+Rostand's _Chantecler_." Natuurlik erken Van Campen dat "door spel en
+tegenspel dezer als 't ware psychologisch-_kunstmatige_ en _niet_ naar
+de doorgronde-werkelijkheid gebeelde dierfiguren, tafereelen van tot
+schoonheid gestegen schalkheid, satyre, wijsgeerig en _mensch_-kundig
+inzicht ontstaan (zijn), die voor geen andere werken van letterkunde
+onder hebben te doen."
+
+In die diere-epos en diereroman van ons tyd word die dier om sy eie
+ontwil uitgebeeld. Jack London se _Pittah_ noem Van Campen: "een
+dierenverhaal, dat ons den schrijver doet zien, zóó verzonken in de
+contemplatie van het _dier_-leven, dat _dit_ op het allereerste plan van
+het werk staat, en de _menschen_ er slechts in optreden voor zoover zij
+invloed hebben op geest of lichaam van het dier." So langsamerhand het
+daar 'n uitgebreide literatuur ontstaan, heeltemal gewy aan diere van
+allerlei soort. Charles Derennes raak in sy _bestiaire sentimentale_
+selfs in geesdrif oor 'n vlermuis en in _Le Roman de la Rivière_ van
+Georges Ponsot is die held 'n jong snoek. By sommige kunstenaars is dit
+die herlewing van die ou pastorale idee, 'n wegvlugtery uit die
+smoor-atmosfeer van die moderne beskawing. Edward Garnett vertel ons van
+W.H. Hudson "who, (flings) off the soiled dust of our human
+thoroughfares, and (goes) into nature's wilderness to escape the sight
+of the _pale civilized faces_, with the mean round of petty human
+interests of their _artificial indoor lives_."[393] In Suid-Afrika met
+sy wyd uitgestrekte vlaktes, wat nog so dun bevolk is, kan daar van so
+'n motief egter geen sprake wees nie. By ons is daar nog maar weinig
+"kinderen van weelderige overbeschaving",[394] want die grootste
+gedeelte van die volk leef nog in landelike eenvoudigheid. Maar deur die
+gedurige rondtrekkery in woeste streke het die Boere in intieme
+aanraking met die natuur gekom, en had hul die geleentheid om die lewe
+van die groot wild van naby te bestudeer. In ons letterkunde is daar dan
+ook tallose jagverhale. Maar so 'n digterlike gees soos Sangiro is nie
+tevrede met die optekening van sy jagervarings nie. Deur 'n langdurige
+verblyf in woeste streke geraak hy onder die mistieke bekoring van die
+oerwoud, gaat hy geestelik heeltemal op in die geweldige drama van die
+natuur. "Man ... can only enter into the vast world of (nature's) myriad
+sentient life by employing all the old emotional tools--his sense of
+mystery, love of beauty, poetic imagination, and human love--to
+supplement and vivify the _impassive_ truths of Science."[395] Dit is
+wat Sangiro doen. 'n Leeu is vir hom nie alleen "'n aantreklike wit" en
+"na 'n goedgeslaagde skoot ... 'n stuk dooie vleis" nie, maar in elke
+leeu sit "'n fyn georganiseerde lewe ..., 'n persoonlikheid in sy soort
+ruim so interessant as dié van die mens" (p. 83). "Ook onder die wilde
+diere bestaan daar 'n soort van geesteslewe, wat die opmerksame
+waarnemer telkens weer met verwondering vul; vir hom word dit naderhand
+moontlik om die diere se gewaarwordinge uit hul uiterlike beweginge te
+verstaan" (Voorwoord). Maar Sangiro is veel meer as 'n "opmerksame
+waarnemer"; sy liefde vir die diere maak hom die digterlike vertolker
+van al hul emosies en instinkte en deur middel van sy plastiese
+uitbeelding laat hy ons dit ook navoel. "Wild nature's life being a
+natural drama of instinct, an unceasing play of hunger, love, battle,
+courtship, fear, parental emotion, vanity, and most of all, perhaps,
+pure enjoyment of physical powers, it is obvious that every man who is
+irresponsive in his feelings, or possessed of a dull artistic
+imagination, or weak aesthetic sensibilities, must remain practically
+aloof from wild nature and its infinite feast of characteristic
+displays."[395]
+
+Edward Garnett het in die aangehaalde artiekel duidelik aangetoon, dat
+die noukeurige wetenskaplike waarnemings van die beroepsnatuurkundige
+aangevul en vertolk moet word deur artistieke en poëtiese verbeelding.
+Tot die wetenskaplike ondersoeker sê hy: "You tell us countless facts
+about the laws of life, but the actual spirit of life, its living
+feeling, which is the essential volatile principle of life, can never be
+fully assessed by you." Dié artistieke verbeelding en innige
+aanvoelingsgawe besit Sangiro en daarom is sy sketse ook 'n kunswerk
+geword.[396] Hoe diep en innig die liefde vir diere kan word, blyk uit
+die volgende verklaring van Dr. Jac. P. Thijsse: "Ik heb nu al zoovele
+voorjaren met de vogels bewust meegeleefd, dat ik ook de Aprilmaand min
+of meer op vogelmanier gevoelen kan en ik voel 's morgens bij 't
+ontwaken, welke vogels in den nacht aangekomen kunnen zijn."[397]
+
+In die eerste skets beskryf Sangiro die lotgevalle van 'n leeufamielie.
+In al hul houdings het hy die diere bespied, op al hul dwaalpaadjies het
+sy oog hul gevolg. Die speelse vrolikheid van die kleintjies, die
+versigtige sluipgang op die jagveld, die kennismaking met nuwe vrinde en
+die nagtelike smulpartye word op mooi realistiese wyse geteken. Hy
+probeer om al die fyn klanknuanserings in die leeuegebrul te verstaan.
+Wanneer hy die smart van die trotse bosreuse oor 'n doodgeskiete wyfie
+beskryf, die hulpelose verlatenheid en swerftogte van die bangerige
+kleintjies, dan bereik hy 'n diepte en innigheid van plastiese
+uitbeelding waar 'n roerende skoonheid in bewe. Die langsame ontplooiing
+van die jaginstink by die jong diertjies word met treffende waarheid
+geskilder. Die wilde natuur waarin die geweldige dieredrama afgespeel
+word is nie alleen dekor, is nie louter omlysting nie, maar maak
+onafskeidelik deel uit van die handeling. In die stilte van sy donker
+wegkruipplek, in die lange ure van sy spannende nagwake het die
+geheimsinnige gees van die wildernis hom aangeraak. Hy het die glans van
+die maanspatsels oor donker blare gesien, die wegskuiwende skaduwees in
+hul trage gang gevolg; die blitsoë van getergde leeus het hom laat
+huiwer; die geritsel van die gras, die gekreun van die bome, die
+jagkrete van al die oerwoud-bewoners het hy leer verstaan; die slagtande
+van gulsige hiënas het hy hoor kners op die afgevrete bene van hul
+prooi. En deur die skoonheid van sy woord laat hy ons dit ook alles sien
+en hoor.
+
+"Ek sou ... vandag die geweer opsy laat en net met kamera en dagboek ter
+hand 'n beeld uit die daaglikse lewe van die oerwoudbewoners probeer
+opvang." (p. 169.) So ontstaat die skets: _In die Oerwoud_. By 'n
+reënpannetjie is sy wagplek en al die lewe rondom hom word met raak
+trekke geteken, terwyl ook die hele atmosfeer van die oerwoud goed
+aangedui word.
+
+Die derde skets _Renosterlewe_ is 'n deurlopende verhaal van die
+vrindskap tussen 'n renostertjie en 'n jong seekoei, wat albei hul ouers
+deur die koeëls van die jagters verloor het en troos en veiligheid in
+mekaar se geselskap vind. Al hul awontuurlike ondervindings op lang
+swerftogte deur oerwoud en oor vlaktes word met liefdevolle oorgawe in
+treffende tafereeltjies uitgebeeld. Die hele tropiese omgewing met sy
+miljoene dier-bewoners en weelderige plantegroei word vir ons 'n skone
+realiteit, trillende van intense lewe tot in sy donkerste
+wegkruipplekkies. In so 'n geweldige oerwoud is die mens maar 'n nietige
+stippeltjie, en in die atmosfeer van plegtige stilte, waar elke geritsel
+'n betekenis het vir duisende ore, besef ons, "that man's mind, though
+the most marvellously complex instrument of all, is still, as it were,
+but a human eyelet hole, through which the Universe can only be
+refracted back to us in certain aspects of its incalculable whole."[398]
+Hoe dankbaar moet ons wees, dat daar kunstenaars soos Sangiro is, wat
+ons nader aan die natuur bring, wat ons iets laat begryp van die intieme
+lewe van die diere. Hy is op die jagveld nie alleen 'n vernielende
+oorwinnaar nie, aangehits deur 'n primitiewe uitroeiingsinstink, maar
+ook die digterlike aanskouer, wat voel dat daar in die krioelende lewe
+om hom heen skoonheid te vind is. Dat hy protes aanteken teen die
+onridderlike praktyke van party jagters kan ons verstaan.[399] Maar sy
+hele boek is so 'n welsprekende aanklag teen menslike wreedheid, dat 'n
+direkte pleidooi, wat ook uit kunsoogpunt nie kan goedgekeur word nie,
+oorbodig is.
+
+Treffend is die tekening van die eensame renosterwesie. "Sy ongeduldige
+geproes, waarmee hy eers die seekoeitjie wou uitlok, onderwyl hy
+opgewonde op die oewer ronddrentel en die sagte brak vol ronde
+spoortjies trap, het langsamerhand, namate sy maat verder en verder
+swem, in 'n smekende gepiep oorgegaan.... Nog 'n rukkie staan die donker
+figuurtjie daar op die wit brak, af en toe sag kwiekende onderwyl hy oor
+die water staar, die knoestige koppie vooruitgestrek in 'n poging om
+verder te sien met die klein ogies. Eensaam en verlate genoeg lyk hy,
+met sy kneukelige dik lyfie, gerimpelde moddervelletjie en swaarmoedige
+renostergesiggie" (p. 204-6). So vind Sangiro vir al die woudbewoners
+die juiste, tekenende woord. Van 'n gekweste seekoei kry ons die
+volgende realistiese skildering: "In stomme wanhoop-staar hang die
+massiewe kop omlaag, die verbryselde kakebeen bloederig-kwylend in
+aanhoudende vergeefse poginge om tande op mekaar te knars." (p. 225.)
+Ook die atmosferiese verskynsels, die tropiese sonsondergang, die
+miswolke teen die hang van die berge, die sombere reënseisoen laat
+Sangiro in fyn stemmings-beskrywinge vir ons leef. "Dae het verbygegaan,
+en nog duur die sonskyn. Met die groei van die maan het die weer skielik
+verander, en na 'n week van woeste, stikdonker nagte en droefskemerige
+reëndae wasem die oerwoud weer geur uit onder 'n sonnige safierhemel; en
+wellustige dae word gevolg deur toweragtige maanlignagte, wanneer
+vuurvliegies oor 'n misties-glimmende watervlak dans en dowwe
+eggo-klanke van nagdiere onder 'n donker, vogtige oerwoud rondom
+weerklink." (p. 229.) Mens voel dat die skrywer sy gedagtes gekoester
+het, sy woorde liefhad en hul met sorg neergeskryf 't. Daar is 'n
+vloeiende buigsaamheid, 'n musikale streling in sy sinne. Telkens word
+ons verras deur raak seggingskrag en fyngevoelige uitbeelding, sonder
+dat aanstellerige en bygemaakte woordpronksels die klare eenvoud van sy
+styl bederf.
+
+'n Enkele maal skryf hy aan die diere miskien te spesifiek menslike
+gevoelens toe, en soms twyfel ons aan die juistheid van sy psigologie.
+"Die renostertjie (staan) nog snuiwend in die rondte, gereed om te storm
+... en heeltemal seker dat hy nou vreeslik boos en luidrugtig is." (p.
+233.) In so 'n geval bring die skrywer sy eie waarneming op die dier oor
+en oortuigend is dit seker nie. Maar daarteenoor staan, dat hy hom so
+ingeleef het in die diereverstand, dat sy intuïesie hom selde op 'n
+dwaalspoor bring.
+
+Oor die beeldspraak nog 'n opmerking: maak dit nie 'n komiese indruk
+nie, as ons lees dat renosters "in alleryl die _hase_pad gekies het"?
+(p. 188.)
+
+
+§ 2. Hans Anton Aschenborn.
+
+Aschenborn is in 1888 gebore in Kiel. Sy vader is 'n Duitse admiraal.
+In Mecklenburg het hy op 'n groot landgoed prakties leer boer. Van Prof.
+Burmester in Kassel het hy skilderles gehad en sedert 1910 boer en
+skilder hy in Suid-Wes-Afrika. Op die gebied van die artistieke
+afbeelding van ons wilde diere is hy 'n baanbreker en verskeie uitgawes
+is al deur hom geïllustreer.[400] In 1921 het verskyn: _Uit die Lewe van
+'n Gensbok_, die eerste van 'n reeks, waarin Aschenborn ook die koedoe,
+wildebees en eland wil beskryf en afbeeld. "Die gensbok het ek op my
+plaas in Suid-Wes so noukeurig gadegeslaan, dat hy vir my 'n intieme
+vriend geword het", verklaar hy in sy voorwoord. Maar so 'n
+woordkunstenaar soos Sangiro is hy nie. Sy boekie is van meer betekenis
+vir die skilderkuns as vir die letterkunde. In eenvoudige, soms
+gebrekkige taal skets hy 'n paar insidente uit die lewe van 'n gensbok.
+
+VOETNOTAS:
+
+[391] Oorspronklik in _Die Huisgenoot_ verskyn.
+
+[392] Over Literatuur, Twede Bundel: _Pit-tah, De Grijze Wolf_, door
+Jack London, p. 205 vlg.
+
+[393] _Friday Nights_: Hudson's "Nature Books," p. 15 vlg.
+
+[394] Vgl. J.H. van den Bosch, Inleiding by Hooft's _Granida_, Zw.
+Herdr.
+
+[395] Garnett, t.a.p.
+
+[396] Wanneer hy ons in sy voorwoord verseker, dat die verbeelding geen
+rol speel nie, dan bedoel hy alleen dat sy interpretasie op self
+waargenome feite berus.
+
+[397] _Het Intieme Leven der Vogels_, p. 221.
+
+[398] Edward Garnett, t.a.p.
+
+[399] Vgl. o.a. p. 83 vlg.
+
+[400] Ontleen aan _Die Huisgenoot_ Des. 1920.
+
+
+
+
+HOOFSTUK IX.
+
+Reisbeskrywing.
+
+
+§ 1. A.J. Jacobs.
+
+Reisavonture op Land en See deur 'n Dómine, (1920).
+
+Volgens _De Goede Hoop_, Augustus 1919 is _Dómine_ die skuilnaam van
+A.J. Jacobs. Hy het oor Madeira 'n reis gemaak na Buenos Aires en
+vandaar na die Boerekolonie in Argentinië om vir die geestelike belange
+van die uitgewekene te sorg. 'n Lywige boekdeel het hy nodig om al sy
+ervarings te vertel. En dan betreur hy dit nog, dat hy nie alles haarfyn
+kan meedeel nie! "Dis tog jammer dat hulle nog nie 'n instrument soos 'n
+gramafoon uitgevind het nie, wat mens op reis by jou kan dra nie. Dit
+moet nes 'n sakkamera wees en daarmee moet mens _alles wat jy hoor kan
+opvang en bewaar_. Daar gebeur so baie dinge, wat mens hoor en dis
+moeilik om alles akkuraat weer te gee."[401] Die neiging om _alles_ mee
+te deel is juis _Dómine_ se fout. Hy veronderstel, dat tallose
+besonderhede, wat vir hom persoonlik van belang is, ook die leser sal
+interesseer en weet eenvoudig van geen ophou nie. En dit is jammer, want
+hy het ongetwyfeld slag om 'n anekdote smaaklik te vertel, soms met so
+'n droog-humoristiese draaitjie, dat iedereen daarby moet glimlag. Maar
+sulke onderhoudende gedeeltes lê diep toegepak onder wavragte van
+onbelangrike sake. So kry ons b.v. allerlei banaliteite oor die _Saxon_;
+tot selfs die tonnemaat van die skip word meegedeel! (p. 18.) Soms lyk
+dit of die skrywer hom 'n klein agterveldse leserskring voorstel, wat hy
+met groot syfers kan dronkslaan! Is dit nou nodig om nog in 1920 te
+vertel: "Eendag is die pond sterling veel meer waard as op 'n ander
+keer"? (p. 61.) Dit is maar een voorbeeld van die tallose uitweidings,
+wat allermins op 'n fris oorspronklikheid kan aanspraak maak en
+eenvoudig 'n herkouery van oorbekende sake word.
+
+Soms lyk dit weer of die skrywer 'n handleiding vir toekomstige
+emigrante wou skryf.[402] Hy gee selfs kook-resepte![403] En so word sy
+reisbeskrywing 'n sonderlinge byeenskraapsel van allerlei wysheid.
+
+Dat _Dómine_ op spellinggebied geen deskundige is nie, blyk al uit die
+tietel van sy boek. Afgesien van die tallose drukfoute kry mens op byna
+iedere bladsy rariteite soos die volgende: "vollende, dokse, hemdjie,
+kerritse, nuwes, baik, stadte, raste (i.p.v. rasse), geflatter" ens. Ook
+anglisismes is volop en dwarsdeur die boek stuit mens telkens op sinne
+waarin die negatief, woordskikking en voorsetsels verkeerd is. Lomp
+uitdrukkings soos "puur bloed inboorlings" (p. 169), "die besnedenis van
+sy gesig" (p. 148) ens. toon duidelik, dat _Dómine_ sy taal glad nie
+beheers nie. Hoe sou hy anders so iets, soos die volgende kan skryf:
+"Verre van in 'n soort afsondering, as in 'n groewe, vas te sit, het
+hulle met hul sedelike en nywerheids talente gewoeker. Die rykes het die
+armes voortgehelp deur onderlinge geselskappe om hout te saag, land van
+bosse rein te maak en alle soorte ambagte te beoefen." (p. 184.)
+
+Natuurbeskrywings kom daar baie in die boek voor, maar gewoonlik word
+die land uit die oogpunt van 'n boer gesien. "Die plek waar ons sou
+staan, was besonder waterryk; groot kuile en helder strome loop deur die
+ganse breedte van die kañedón of vlei. 'n Boer se hart sal bly word, as
+hy die rykdom van gras en water kan aanskou" (p. 227). Hy is gedurig in
+die stemming van 'n boer, wat 'n nuwe landstreek opneem om die beste
+plek vir 'n plaas uit te soek, en ondertussen bereken watter soort
+boerdery daar die voordeligste sal wees. In 'n handboek vir emigrante
+sou sulke aanwysings seker onmisbaar wees, maar die skrywer wou tog iets
+anders gee. As hy by die glanspunt van sy reis kom, en sy tog oor die
+mere en deur die oerwoude moet beskryf, is hy 'n opmerksame toeris, wat
+gedurig syfertjies en berekeninge in sy sakboek opteken. "Die formasie
+van mere tussen hoë berge is in veel opsigte merkwaardig. Op gesag van
+Delgado weet ek dat hierdie een 12,000 vt. bokant die oppervlak van die
+see geleë is" (p. 174). Gevoel vir skoonheid het hy ook, maar wanneer
+dit tot uiting kom, blyk sy volslae magteloosheid as taalkunstenaar.
+"Alles skyn omtower in iets onnatuurliks, denkbeeldigs, fantasties!...
+Nee, geen kunstenaar kan op die doek verewig, wat daar ieder dag
+afgespeel word nie. Die Skepper wat daardie _onbeskryflik heerlike
+gloed_ van lig as met 'n towerslag op berg en bos heenwerp ... laat Sig
+nie naboots nie!... Bokant ons hoofde _ver_skiet bundeltjies
+agterblywende sonstrale _ver_by.... Dit word aand en die stil maar _guur
+lug voel skerp_ teen hande en gesig.... Van alles wat mens sien en
+ondervind, skyn die bloedsomloop vinniger en warmer in sy werk te gaan:
+_geen_ honger of _koue_ hinder in hierdie towerwêreld nie...."[404] Wie
+sou nou in só 'n omgewing praatjies verkoop oor honger, kou en
+bloedsomloop--en nogal teenstrydige praatjies ook! "Majestueuse en
+reuse-berge, ontsaglike kratermond, onpeilbare diepte, toweragtige
+effek" ens.--dit is almal holle frases, wat ons gladenal nie kan ontroer
+nie.
+
+By die beskrywing van die oerwoud kom die sakboekie weer te pas. Die
+"sirkelvormige bek van die onderaardse blaasbalk ('n krater) moet enorm
+groot wees ..." (p. 177); ongelukkig kon _Dómine_ hom nie meet nie! Maar
+die bome is 150 vt. hoog, die uitholling vir die pad 20 vt. diep en die
+boomstamme lê 15 vt. dik op mekaar gestapel in 'n moerassige plek. "Een
+boom was 6 vt. dik, as die vet humus van varens en struikgewas wat
+daaraan kleef, meegereken word". Sulke duimstokbeskrywings kan nou
+eenmaal geen "onvergetelike afdruk op die geheue" maak nie. Dit doen
+_Sangiro_ wel, al meet hy sy bome nie.
+
+Beter slaag _Dómine_ as hy die toestande en gewoontes in Suid-Amerika
+beskryf. Hier val sy neiging om oor-akkuraat te wees nie so in die oog
+nie. Ook die ervarings van die trekkers en hul moeilikhede in die
+vreemde land het hy op lewendige wyse geteken.
+
+VOETNOTAS:
+
+[401] p. 85. Ek kursiveer.
+
+[402] Vgl. o.a. p. 103 vlg.
+
+[403] p. 173.
+
+[404] p. 175. Ek kursiveer.
+
+
+
+
+HOOFSTUK X.
+
+Historiese Prosa.
+
+
+§ 1. Inleiding.
+
+Reeds voor die oprigting van die _Genootskap van Regte Afrikaners_ het
+'n paar voorstanders van die moedertaal gewerk aan _Die Geskiedenis van
+ons Land, in die Taal van ons Volk_.[405] By die verskyning van die boek
+in 1877 word opgemerk: "Engelse, mar gen Hollanse Geskiedenis van ons
+land bestaan daar tot nog toe. En dat ons op die Engelse Geskiedenisse
+nie so mar o'eral kan afgaan nie, sal elke leser wel sien voor hy ons
+boek uitgelees het." Nog lange jare het dit geduur voordat Theal en Cory
+dié uitspraak in sy algemeenheid geloënstraf 't, en telkens moet ons
+historisie nog optree teen 'n uitgebreide laster-kampanje. Preller het
+op een van die oorsake daarvan gewys in die voorrede by die sewende druk
+van _Piet Retief_ (1911), waar sprake is van "die gaotiese en primitiewe
+toestand waarin ons openbare dokumente-versamelinge asnog verkeer.... As
+die dokumente beskikbaar was ... dan is daar net een geskiedkundige
+waarheid bestaanbaar; dié naamlik, wat stap vir stap gesteun staan op
+die oorspronklike stukke."[406] 'n Stelselmatige geskiedverdraaiing
+wortelende nie alleen in politieke animositeit nie, maar met voorbedagte
+rade as politieke wapen gebruik--dit is een van die grootste prikkels
+wat tot historiese studie aangespoor 't. Die navorsingswerk van ywerige
+historisie met liefde en groot opoffering gedaan, het 'n felle lig
+gewerp op ons _eeu van onreg_. Onder sulke omstandighede is dit
+verstaanbaar dat naas die besadigd-wetenskaplike weerlegging ook die
+bitterste verontwaardiging opgelaai het.
+
+Die verhoogde belangstelling in ons vaderlandse geskiedenis is 'n uiting
+van die groeiende volksbewussyn, want eers wanneer 'n nasie volkome
+oortuig is van sy eie selfstandigheid ontwaak die begeerte om die helde
+van die wordingstydperk te eer. Die grootste gedeelte van ons historiese
+prosa bestaan dan ook uit biografieë. Rondom groot figure soos Piet
+Retief, President Steyn, Generaal De Wet en ander word die geskiedenis
+van 'n hele tydperk gegroepeer.
+
+Die historisie wat daartoe bygedra het om die eer van ons nasie te
+rehabiliteer en aan die volk 'n gevoel van eiewaarde en selfrespek te
+gee kan reken op die eerbiedige hulde van 'n jonger geslag, wat nog maar
+gister verlos is van die benoude nagmerrie van hul skooljare. En hul
+aantal is veel groter dan die wat vir die volgende paragrawe in
+aanmerking kom. Hier word alleen 'n oorsig gegee van die vernaamste
+historiese werke in Afrikaans onder die Twede Beweging en 'n ondersoek
+ingestel na die _letterkundige_ gehalte daarvan, 'n Bespreking van die
+historiese waarde val buiten die kader van hierdie werk.[407] Dit spreek
+natuurlik vanself, dat ook die dorste kroniek vir die historikus groot
+waarde kan hê.
+
+Die herstelling van die Voortrekkerskerk in Pieter-Maritzburg en die
+inrigting daarvan as museum, die Vroue-monument en tallose ander
+gedenktekens--dit is maar 'n paar bewyse, dat die Afrikanervolk ontwaak
+tot 'n besef van die betekenis van sy nasionale verlede. Die oprigting
+van die Historiese Bond in 1920 met die doel om bronne op te spoor en te
+versamel, die tiende druk van Preller se _Piet Retief_ in dieselfde jaar
+is ook tekens in dié rigting, terwyl op die jaarlikse Dingaansvierings
+die tradiesies van die voorgeslag bestendig word.
+
+ * * * * *
+
+='n Nuwe nasie het besit geneem van sy erfporsie en is besig om sy
+geestelike onafhankelikheid uit te werk! Die Afrikaanse Bestemming is
+"wyd en breed soos die Afrikaanse veld=."[408]
+
+
+§ 2. Gustav Schoeman Preller.
+
+Preller is 4 Okt. 1875 gebore op die Plaas Klipdrif, distrik Pretoria.
+Sy oorgrootvader Preller was wat ons ou mense nou nog 'n "blommesoeker"
+noem, d.i. natuurkundige. Hy het aan die Kaap gewoon, terwyl die
+grootvader veeboer geword 't in Natal, waar sy Friese beeste die aandag
+getrek 't. Komdt. Robert Preller ([oorlede] 1916), die vader van die
+skrywer het na die Vrystaat verhuis en in die oorlog onder Genl. De la
+Rey gedien. Hy was getroud met 'n dogter van H. Schoeman ([oorlede]
+1890), wat met die Voortrek saamgekom 't en in die tyd van President
+Pretorius generaal en waarnemende president geword 't.
+
+Gustav Preller se eerste herinneringe gaan terug na 'n plaas in die
+nabyheid van Standerton, Paardekop, wat destyds aan sy vader behoort 't.
+Op sy vyfde jaar is hy te perd met sy vader saam na die Swasielandse
+bosveld. In 1886 is hulle verhuis na Rietspruit, ook in die distrik
+Standerton. Toe kort daarop hy en sy suster egter moes skoolgaan, het sy
+vader die skaapboerdery opgegee en dorp toe gegaan, omdat losjies vir
+die kinders nie te kry was nie. In 1891 gaan die famielie na Pretoria,
+waar Gustav eers 'n rukkie in 'n Boere-winkel gewerk 't, toe op 'n
+prokureurskantoor en later in staatsdiens getree 't. Voordat hy egter
+sover was moes hy verskeie jare hard werk onder private onderwysers en
+ook daarna het hy sy studie voortgeset. Hy was eerste klerk op die
+hoofkantoor van mynwese toe die twede vryheidsoorlog uitbreek. Dié stryd
+het hy meegemaak met die derde battery van die staatsartillerie tot vier
+maande voor die vrede, toe die hele res van sy afdeling oorrompel en
+gevangegeneem is. Na sy terugkoms uit Indië was al wat hy besit 't skoon
+weg. Op versoek van Eugène Marais word hy toe redakteur van _Land en
+Volk_. Voor die oorlog al het hy dikwels artiekels geskryf vir die
+koerante en tydskrifte--dikwels in Engels!--o.a. in _The Moon_ en _De
+Pers_. Vir _De Volkstem_ het hy gedurende enige jare al die mynnuus
+gelewer en _Land en Volk_ voortgeset tot Maart 1903, toe hy subredakteur
+van _De Volkstem_ word, 'n pos wat hy vandag nog beklee. Die meeste
+opstelle en stories wat tussen 1905-'10 in dié krant verskyn 't as
+feuilletons is van sy hand. Die bekende artiekels getietel: _Knop oor
+Landsake_ is ook van hom. Hy is lid van die S.A. Akademie, van die
+Historische Genootschap in Utrecht en die Maatschappij van Nederlandsche
+Letterkunde. Van hom het verskyn: _Laat 't ons toch Ernst Wezen_ (1905);
+_Piet Retief_ (1906); _Baanbrekers_ (1915); _Kaptein Hindon_ (1916);
+_Dagboek van Louis Trigardt_ (1917); _Voortrekkermense_ I en II (1918 en
+1920); _Generaal Botha_ (1920). Saam met Dr. Engelenburg het hy ook
+geskryf: _Onze Krijgsofficieren_ (1903) en _De Familie Kruger_ (1904).
+_Charley's Aunt_ het hy vertaal, (_Piet s'n Tante_), _Les Héritiers
+Rabourdin_, (_Erfgename van Erasmus_) en _Jock of the Bushveld_ van Sir
+Percy Fitzpatrick. Die voortrekkers-rolprent is onder sy leiding
+opgestel. In 1919 het hy met C.J. Langenhoven geskryf: _Twee
+Geskiedkundige Opstelle_. Op sy aandeel in die taalstryd en sy werk as
+redakteur van _Die Brandwag_ is alreeds gewys.[409]
+
+Sy vernaamste werksaamheid is op geskiedkundig terrein en sy navorsings
+oor die Voortrekkersperiode veral verseker hom 'n plaas as baanbreker
+onder die Afrikaanse historisie. "Uit 'n aantal oorspronklike historiese
+dokumente, in die koerant (_De Volkstem_, 13 Des. 1905) openbaar gemaak
+... is langsaam gegroei" die kloeke boekdeel _Piet Retief_, waarvan die
+oplaag in 1920 al veertienduisend eksemplare bereik 't.[410] "Sedert die
+tyd (1905) het daar ander werke van Preller oor die Voortrek gevolg.
+Want hy set sy arbeid onvermoeid voort.... Wie op sy studeerkamer kom,
+sal kan sien die reeks gekatalogiseerde lewens van Voortrekkers, soveel
+moontlik met die portret of portrette van die betreffende man of vrou
+daarby.... Preller leef =in=, leef =vir= daardie tyd. Die naspeur en die
+bekendstel daarvan het langsamerhand sy eintlike lewenstaak geword,
+sodat ons vandag oor die lengte en breedte van ons land tevergeefs sal
+soek na die eweknie van Preller as kenner van die Voortrek en sy mense,
+tot selfs van die kleredrag wat in die tyd gedra is."[411]
+
+'n Hele reeks belangrike dokumente oor die Voortrek het Preller bymekaar
+gemaak in
+
+Voortrekkermense, I en II, (1918 en 1920).[412]
+
+Daarin kom o.a. voor die herinneringe van Van Gass, J.H. Hatting, L.C.
+de Klerk, Karl Trichardt, Anna Steenkamp en 'n herdruk van Erasmus Smit
+se dagboek. Die laaste is oorspronklik uitgegee deur Ds. H.F. Schoon
+(1896). 'n Groot gedeelte van die gegewens het Preller in sy _Piet
+Retief_ verwerk. L.C. de Klerk het hy in 1908 "teruggeneem naar die
+Natalse slagvelde Van die Voortrek, en dáar ter plase opgeskryf wat hy
+daarvan te vertelle had" (I, p. 211). "Hier had ik een van die
+Voortrekkers op die eienste grond van die Voortrek; my doel was om, as
+'t kon, die ander Voortrekkers _as mense_ daar te sien herleef, inplaas
+van die steriotiepe "itinerant prayer-meeting", waar ander van vertel."
+(id., p. 212.) Die dokumente stel ons in staat "om die Voortrekkers te
+leer ken soos hulle hulself gesien het, op die trek, in die laer, op die
+jag en in die huislike kring; aan hul arbeid, hul godsdiens en vermake,
+in hul gewoontes en in die kleredrag van hul tyd. Buitendien verskaf 't
+uitsluitsel oor tal van belangwekkende historiese gebeurtenisse" (id.,
+p. 1). Die krietiese opmerkings van Preller getuig van groot
+skerpsinnigheid en 'n intieme kennis van die voortrekkerperiode. In die
+twee dele het hy dokumente van die grootste belang op wetenskaplike wyse
+uitgegee.
+
+Op dieselfde manier het hy ook (1917) in opdrag van die Akademie
+uitgegee die
+
+Dagboek van Louis Trigardt (1836-8).
+
+"Vir die kennis van ons volk besit ons uit die tyd van die Voortrek geen
+ander dokument wat hiermee te vergelyke is--die daaglikse aantekeninge
+van 'n Afrikaner wat die grote, ja grootse in die historie volbring
+sonder dit nogtans as bewuste doel voorop te stel, maar tevrede is om 't
+vanself, as dominante gevolg van sy handeling voor 'n dag te laat tree
+uit 'n kroniek van die kleine" (p. XI). Preller toon verder aan hoe
+belangrik die _Dagboek_ is "vir ons kennis van die inboorling bevolking
+van Transvaal, vir verskeie seer merkwaardige historiese uitkomste, vir
+(ons) aankomende nasionale letterkunde, vir die volkekundige en ons
+kennis van Suid-Afrikaanse meteorologiese toestande." (XII vlg.). Die
+belangrikheid van die _Dagboek_ word seker aanmerklik verhoog deur die
+voortreflike inleiding en note, asook deur die feit dat die teks op 'n
+wetenskaplike wyse behandel is. Ontroering tril daar in die woorde
+waarmee die resultate van Trigardt se trek beskryf word: "Die voorste
+Voortrek is volbring! Dis slegs 'n Verkenning gewees vir die
+Afrikaner,--van die Vryheid en die See. 'n Verkenning egter, net soos
+dié van Piet Retief, wat nie vrugteloos is nie.... Hans van Rensburg se
+ongelukkige trek had tot eind-bestemming die oseaan; en die 49 manne,
+vroue en kinders wat daar aan die Limpopo-boorde geval het onder die
+Soeloe-asgaai, was die eerste dúre offer wat die Boere Nasie gebring het
+aan 'n ingeskape vryheidsdrang. Trigardt se trek en ál die mensewee, wat
+uit hierdie Dagboek soos 'n seëning oor die nageslag saggies snik, was
+aangeleg op éen-selfde hoë nasionale Bestemming...." (CXXVI vlg.)
+
+Piet Retief, (1906).
+
+Dit is Preller se hoofwerk, wat hy met jarelange ywer en groot liefde
+tot stand gebring het. Alles wat van die groot Voortrekker bekend is
+word meegedeel. Maar uitsluitend biografie is dit allermins. Ons kry 'n
+volledige beeld van die moeilikhede op die Kaapse grens, die oorsake van
+die Trek, die onderlinge verhoudings en geskille tussen die aanvoerders,
+die internasionale status en grondwettelike instellings van die
+Trekkers, die moeilikhede van hul togte en hul betrekkinge met die
+naturelle. Die gebeurtenisse wat aanleiding gee tot Dingaan se groot
+verraad word haarfyn uitgepluis en die konklusies van die skrywer se
+ondersoek op helder wyse uiteengeset en gestaaf. Ook die gebeurtenisse
+na Retief se moord tot aan die Bloedrivierslag word beskryf en die
+betekenis van Retief se optrede bepaal.
+
+Dit gaan uiters moeilik om objektief te staan teenoor 'n boek soos _Piet
+Retief_, want die tragedie daarin uitgebeeld is op sigself al só roerend
+in sy dramatiese afwikkeling en só betekenisvol vir die lot van ons
+nasie, dat selfs 'n uitgedroogde kroniekskrywer sonder 'n vleugie
+verbeelding nog daarin sou slaag om ons die grootsheid van die
+worsteling te laat gevoel. Dit het Preller blykbaar ook besef, want hy
+gee 'n onopgesmukte verhaal, in sober gehoue styl waarin die tragiese
+gebeurtenisse self tot hul reg kom, sonder dat die aandag afgelei word
+deur bykomstige woordfraaiigheid. Treffend is dit veral by die
+hoogtepunt van die verhaal, waar in die beskrywing van die oorrompeling
+deur die dansende kaffers alleen 'n joernalistieke draaitjie in die styl
+hinderlik is. In 'n _Volkstem_-artiekel mag so 'n uitdrukking soos "die
+welwillende leser" (p. 272, 10^de dr.) op sy plek wees--híer seker nie!
+Nadat die posiesie van die _dramatis personae_ aangegee is, word die
+dansbeweging mooi beskryf:
+
+"Drieduisend pare voete kom in forse beweging om tyd te hou na 'n
+wild-eentonige maatsang, wat al naarder en wilder word na gelang
+Dingaan se improwisasie hul opwinding aanspoor, sodat naderhand die
+nugtere aarde dril en dreun onder die neergehurkte Boere...." (p.
+273). Wanneer Retief protesteer as "die bokspringende rye" teen sy
+vrinde aanstort in hul lawaaierige dans, vervolg Dingaan sy
+onheilspellende deuntjie: "Drink, o drink van die bier! Jul brandende
+kele roep daarom! Drink soveel jul kan; want môre sal jul nie meer
+drink nie." (p. 274.) Dan klink meteens temidde van die "barbaarse
+orgie" die fatale sein: "_Boelàlánie abatágatie_!" Juis deur die
+sobere eenvoud in die styl, die kalme weergawe van die historiese
+besonderhede raak die toneel ons tot in die hart, moet dit ook iemand
+van 'n ander nasie raak. Saggies huiwer die ontroering in die woorde:
+"Retief ... troue, moedige Retief, regskape, opregte Afrikaner, siel
+van die aankomende Afrikaner-nasie!--sy marteling moes die
+onmenslikste gewees het van almal!... Met knopkieries werd hy
+afgemaak--laat ons hoop vóórdat Dingaan se laaste bevel aan sy
+afgebeulde liggaam voltrek was!" (p. 277.)
+
+Hoofstuk XXIX is 'n meesterlike samevatting van Retief se optrede en die
+betekenis daarvan. Hier kom Preller se forse styl meer tot sy reg, omdat
+hy geen historiese dokumente hoef aan te voer nie. Met breë blik oorsien
+hy die hele Trek en met simpatieke aanvoeling van die Boere-standpunt en
+lewensbeskouing deel hy in helder, logiese redenering sy gevolgtrekkinge
+mee. "Piet Retief het 'n nasie gestig; of, as dit histories te veel gesê
+is, het hy ten minste met volkome bewustheid die grondslag gelê waarop
+'n nasie ontstaan is. Hy was idealis in nasionale sin--dit is te sê, hy
+het hom met die Voortrekkers, met sy volk, duidelik voor oë gestel die
+nastrewing van 'n ideaal, wat insluit 'n onafhanklike ontwikkeling en
+voortbestaan van dié volk as nasionale eenheid op die wêreld." (p. 345.)
+Retief het "die Afrikaanse Bestemming in woorde ontwerp--wyd en breed
+soos die Afrikaanse veld...." (p. 351.) "Hy is die eerste gewees wat die
+gebore Afrikaner se nasionaliteit in woorde gebring het, toe hy van
+Suid-Afrika as sy "vaderland" gewaag het; terwyl die meeste ander die
+land sowel as hulself nog maar beskou het as 'n volslae willose
+aanhangsel van een of ander Europese ryk." (p. 350.) Hy het "deur sy
+werk, sowel as deur sy dood, die Hollands-Afrikaanse Emigrant laat
+begryp ... dat hy nie somar 'n op sigself rondswerwende eenling is nie,
+maar deel uitmaak van 'n groot volksverband, met een belang en een
+bestemming." (p. 355.)
+
+Solank daar 'n Afrikaner is "jaloers op sy geskiedenis, jaloers op die
+waaragtige waarheid daarvan" sal _Piet Retief_ gelees word, want Preller
+het daarmee 'n duursame monument opgerig van die wordingstydperk van ons
+nasie. Buitendien het _Piet Retief_ deur sy verskyning in 1906 'n
+besonder plaas in ons letterkundige geskiedenis. Saam met _Johannes van
+Wyk_, wat in dieselfde jaar in boekvorm verskyn 't is dit die eerste
+prosawerk van betekenis onder die Twede Beweging.
+
+Kaptein Hindon, (1916).
+
+Dit is die _Oorlogsaventure van 'n Baas-Verkenner_, "'n getroue weergawe
+van die middellike dagboek-aantekeninge van die krygsman self."
+(Voorwoord). Maar groter waarde het Preller se bewerking: "Die
+toevallige omstandigheid, dat die outeur die grootste gedeelte van
+dieselfde gebeurtenisse as Hindon--al was 't ook soms op 'n
+afstand,--meegemaak 't, (is) vanself bevorderlik gewees aan 'n
+lewendiger opvatting by die beskrywing dan anders die geval kon gewees
+'t; en ... 'n gevolgelik dieper ingeleefde voorstelling." Hieraan is dit
+te danke dat Preller se bewerking van die dagboek nie geword 't 'n
+eentonige relaas van awonture nie, maar 'n lewendige voorstelling van
+belangrike episodes uit die twede vryheidsoorlog. Daarby verloor hy
+nooit die historiese verband uit die oog nie, en word al die
+alleenstaande oorlogsfeite ingeskakel in die groot geheel. So word dit
+'n saamhangende verhaal van die gebeurtenisse tussen 1895 en die vrede
+van Vereniging. Deur 'n handige gebruik van Engelse bronne, soos die
+outobiografie van Sir William Butler, geluk dit Preller om tallose
+belangrike historiese feite te staaf en onverdiende laster aan die kaak
+te stel. Onder ander word die opstokery van die Kaffers op oortuigende
+manier bewys.
+
+Die tallose heldefeite van Hindon en sy maats word op aanskoulike wyse
+beskryf. Dit geld ook veral van die veldtog in Natal, wat met groot
+uitvoerigheid geteken word. Vermaaklik is Hindon se awontuur by die huis
+van die Middelburgse volksraadslid (p. 291 vlg., 2^de druk). Deur
+talryke anekdotes, wat 'n helder lig werp op die toestande tydens die
+stryd en die mentaliteit van albei vegtende partye word die beskrywing
+van die militêre gebeurtenisse op aangename wyse afgewissel.
+
+Hoe mooi Preller daarin slaag om sy veldslag-indrukke te verklank, blyk
+o.a. uit die volgende: "Die eienaardige dubbele koe-ka knal van die
+Engelse lee-metfordgewere, wat mens in die begin duidelik kon onderskei
+van die dowwe mouser s'n énkele dodelike doef-slaggie, smelt nou saam in
+éen gelykmatige kraakgeluid, wat soos springmielies in 'n vetpot sing
+deur die laagte en teruggewerp word van die bergkante af, deurmekaar in
+'n sware dreuning, waarin net die kanonne-bas naderhand oorheers. By die
+skansmuurtjes zip-zip die klein koëltjes teen die klippe, en stukkies
+fluit vrolik een-kanttoe, of 't skuur met so 'n snaakse sing-sangetje
+skielik deur die lug oorheen, waarvan mens die dodelike vyandskap eers
+merk as 't raak is, en 'n man inmekaar sak op die grond, of die fyn
+blaartjes van die mimosa-boompies hier bokant afspat, op die vilthoede"
+(p. 58). "Bom na bom breek briesend op hul klipskanse uitmekaar, en bars
+met brullende giering bôkant hul toegewyde hoofde in nydige
+moment-blitse oop, om hul inhoud oor die Boere uit te braak, soms vyf,
+ses tegelyk, wat die kante van die kop omkarn in kokende kraters en 'n
+onweer van skerwe en rotse opjae." (p. 125).
+
+Baanbrekers, (1915).
+
+Hierdie brosjure, 'n herdruk van _Brandwag_-artiekels bevat "'n
+Hoofstuk uit die voorgeskiedenis van Transvaal", waarin die moord van
+ag-en-twintig persone by Moorddrif in 1854 en die belegering van
+Makapaansgat deur 'n strafkommando beskryf word. By dié ekspediesie was
+ook Paul Kruger en besonder interessant is die waagstukke wat van hom
+meegedeel word. Preller moet weer verskillende verdraaide voorstellings
+weerleg. "Die dinge is verby, en die laster-kampanje het sy uitwerking
+gehad. Praktiese, materiële voordeel kan 't nie meer aanbring om 't te
+weerleg nie. Tog is 't tyd om, terwille van die waarheid alleen, 'n
+oordeel wat op dié manier gevorm werd teen die Boere-volk, in hersiening
+te neem, en inplaas van die fantasie-beelde van politieke
+feuilletoniste, of die sentiments-oorweginge van 'n wekelike altruïsme,
+die onweerlegbare feite alleen te laat spreek" (p. 33). Met die
+optekening van so 'n "heroiese insident" het Preller ongetwyfeld nuttige
+werk gedoen.
+
+Preller en C.J. Langenhoven het saam uitgegee:
+
+Twee Geskiedkundige Opstelle, (1919).
+
+Eersgenoemde se opstel oor _Suid-Afrika s'n Boere-Republieke_ is 'n
+bondige opsomming van die vernaamste feite uit ons geskiedenis in die
+tydperk 1486-1910. In enkele pagina's word daarvan 'n handige oorsig
+gegee en juis die snelle opeenvolging van die gebeurtenisse laat 'n
+sterk indruk van ons "eeu van onreg" na.
+
+Langenhoven gee _'n Paar Algemene Oorweginge omtrent
+Geskiedenis-studie_. Met aanskoulike beelde toon hy aan "dat die hele
+wilde natuurlewe 'n onafgebroke stryd is" (p. 114.) Een van die
+vernaamste stellings in die betoog is "dat die geskiedenis 'n eindelose
+ketting is van oorsake en gevolge wat nie plotseling begin en nie
+plotseling afbreek nie." (p. 130.) Na 'n paar opmerkings oor die
+kudde-instink word die ontwikkeling van ons volksbewussyn geskets en
+daarop aangedring, dat geskiedenis-studie meer behoort te wees as 'n
+ondersoek van "die blote geraamte van uitwendige datums en
+gebeurtenisse" (p. 143). "In ons vurige idealistiese vaart word ons
+skielik nugter geskok teen 'n feit van die guurste en nakendste
+realisme" (p. 147)--ons honderd-duisend arm blanke naamlik. "Dit is 'n
+baie ernstige siekte-verskynsel. Die geskiedkundige moet die diagnose
+van die kwaal vind en daaruit moet ons die remedie soek" (p. 154.)
+Preller beweer daarenteen in sy _Eksplanasie_: "Die diagnose is egter
+die werk, nie van die Geskiedenis nie, maar van die Staat. Die
+geskiedenis word eers daaruit opgebou" (p. XII). Preller wil die
+statistiese metode van ondersoek op die arm-blankevraagstuk toepas.
+
+Generaal Botha, (1920).
+
+In hierdie brosjure het Gustav S. Preller 'n paar artiekels oor Genl.
+Botha verenig. Dit is "meer brokstukke van die boustof (vir 'n
+lewensbeskrywing) as dat 't aanspraak wil maak op 'n afgeronde
+behandeling." (Voorwoord.) Hy deel dan verder mee dat hy op hom geneem
+'t "die byeenbrenge van die materiaal vir 'n uitvoeriger 'lewe' van
+Suidafrika s'n grootste staatsman". Die brosjure bevat enkele
+herinneringe van persone wat Genl. Botha intiem geken 't en 'n herdruk
+van 'n artiekel uit _Neerlandia_ deur Dr. J.H. Kiewiet de Jonge. Daar is
+meedelings oor die generaal se famielie en kindsdae, oorlogservarings,
+sy politiek en huislike lewe. In kleine omvang is heel wat interessants
+bymekaar gebring.
+
+ * * * * *
+
+Vir die kennis van Preller se letterkundige opvattings is van belang een
+en ander uit sy reeks artiekels: _Eerstelinge--'n Persoonlike
+appresiasie van J.H.H. de Waal s'n Roman, Joh. van Wyk_. (_De Volkstem_,
+18 Aug. 1906 vlg.). _Joh. van Wyk_ is volgens die artiekel "op s'n best
+'n vernuftig inmekaar gewarde verhaal van 'n paar mense met hul haat,
+afguns en liefde, wat s'n 'boeiendheid' ontleen aan die manier waarop
+dit inmekaar geset is, aan die ontknoping en aan 'n gemaklike
+verhaaltrant. Die mens-tragedie daarin blyf klein ... die romantiek is
+partykeer voos, die stylmiddele gebrekkig, die psychologie hopeloos
+vals." Tog kon hy die kulturele waarde van die roman insien: "Dis net
+die ding wat ons nodig het om te leer lees. Al die ander sal later kom."
+Maar dit is merkwaardig, dat hy van die staanspoor af sy mening sonder
+doekies omdraai uit, en sy letterkundige oordeel nie deur bykomstige
+omstandighede laat benewel nie. _Eerstelinge_ open die literêre kritiek
+van die Twede Beweging op waardige wyse. Onder ons prosaskrywers is daar
+seker weinig wat al in 1906 so 'n fors, persoonlike styl had. Wie kon
+toe al iets so raak sê, soos die volgende: "Die klompie afgejakkerde
+woorde ... wat 'n sukkellewe bymekaar gesweet het ...; Die hele wereld
+bekyk hul van die hopie waar húl op staan; ómdat húl die hang anderkant
+die bult nie kan sien nie, is die aarde pannekoek-plat op syn pilare
+gegrondves." Ook met sy _Inleiding tot Jan Celliers_ in _Die Vlakte_
+(1908) het Preller 'n kloek stuk prosa gelewer wat uitmunt deur fris
+beeldspraak en kragtige geluid.
+
+Vir sy taalgebruik is die volgende van belang: "Dis glad nie nodig om
+voor wat hul taal-barbarisme noem ... juis so wild te wees als 'n
+histeriese jong meisie voor 'n groot miskruier-gogga...." En in sy werk
+is woorde soos _touchant, subiet, marsiale, parafernalië, imminente,
+violente, skrupules_ ens. glad nie skaars nie.[413]
+
+Oor dialoogkuns maak hy die volgende juiste aanmerking: "Dialoogkuns ...
+is in algeval nie die nakende natuurlikheid nie; maar, gepaard aan
+grondige mensekennis die neerslag van 'n skeppende verbeelding; iedere
+stenograaf sou 'n mens kon verseker dat jij die grootste onsin van die
+wereld sou hoor als jij presies moes neerskrijf, woord voor woord, wat
+daar gesproke word...." Dan leg hy die vinger op 'n tegniese fout, wat
+vandag nog deur byna àl ons verhaalskrywers gemaak word: "'n Techniese
+fout wat De Waal nou en dan maak is om telkens _self_ so 'n gemoedelike
+gesprekkie met sijn lesers te hou, wat totaal nie te pas kom nie." Hy
+wys ook daarop dat De Waal "Adam Tas als historiese figuur ... geen reg
+laat wedervaar nie."
+
+Die volgende pleidooi vir fris beeldspraak is vandag nog net so nodig
+as in 1906: "De Waal sal in sijn latere werke ... 'n groter en 'n warmer
+liefde (krij) voor sijn _woord_, voor die afgebeulde, seerrug woord, wat
+waarlik tog nie meer kan nie. Die sal hij bêre, en alleen gawe, ronde,
+hele woorde inspan, en mooi agtermekaar, so's 'n span breed-gerugde
+vaarlandse osse, wat gelijkweg beur om sijn mening te trek en te draag.
+'So geseg, so gedaan' ... gaat ons perbeer opvolg, maar als 'n vorm van
+uitdrukking voor éwig begrawe, en in die uitbeelding van gedagte en
+gevoel gaan ons altijd soek naar die raakste woorde, en al die
+verslonste ou plunjes en toiens weggooi.... Gee ons maar 'n kans; ons
+gaat ons woorde navoel, en wik en weeg iedereen, sodat iedereen
+naderhand weer inbom, en dreun en gons so's die ko'els van 'n pompom, in
+plaats van so's 'n uitgewaaide ou stofstorm op ons neer te sak." Word
+hier nie op tiepies Afrikaanse wyse die denkbeelde van die Tagtigers
+weergegee nie? Dat Preller dit al _aan die begin_ van die Twede Beweging
+gesê het, is merkwaardig. En dat die strewe na 'n persoonlike woordkuns
+by hom erns was, blyk uit al sy prosawerk. Dit sou seker nie moeilik
+wees om daarin ook pagina's aan te wys, wat nie meer as goeie
+joernalistiek is nie, bladsye waarin "die afgebeulde, seerrug woord" nog
+gemoor word, uitdrukkings met die haastigheid van 'n koerantskrywer
+neergeklits. Maar meestal klink uit sy prosa op 'n eie stem en telkens
+verras hy ons deur skoonheid van segging en mooiheid van klank.[414]
+Omdat by ons nog soveel muwwe, onpersoonlike stylkuns is, so 'n oorvloed
+van "verslonste ou plunjes en toiens", of anders aanstellerige
+woordpraal, daarom is dit 'n ware verademing om te luister na die
+harmoniese deining en wieging, wat Preller se periodes vorentoe stoot.
+Hy is ten minste iemand, wat nie sommer die eerste die beste frases wat
+in sy gedagte opkom afskryf nie; sy sinne maak nie die indruk van "so
+gemaak en so gelaat staan" nie; hy hoor nog die taalklanke, deurvoel die
+nog in hul volle betekenis.
+
+Dat Preller historiese gegewens ook kan omwerk tot 'n aangrypende
+verhaal, daarvan het hy die bewys gelewer in _Moedersmart_.[415] Op
+treffend-realistiese wyse word daarin uitgebeeld die foltering van 'n
+moeder, wat die sterwensgeroep van een kind moet veronagsaam om 'n ander
+gesonde uit die hande van die kaffers te red. In sy historiese werk word
+die moordlustige bedrywe van die kaffers op saaklike wyse meegedeel,
+maar hier is dit deur plastiese tekening tot 'n roerende tragedie
+gegroei.
+
+Oor Preller se taalgebruik hoef na die genoemde bespreking van Dr. E.C.
+Pienaar nie uitgewei te word nie. Op enkele minder mooie uitdrukkings
+kan hier nog gewys word: "In die tyd het hy en hy alleen in breë en
+diepe trekke in die kinders van Suidafrika _uitgehou_ die wye omvang van
+'n selfstandige Afrikaner-nasie" (_P. R._ p. 350); "Die werke van dié
+manne ... wat _verminder aan_ die nasionale onbewustheid ... (id. p.
+347); "sodat honderde gesinne ... van gebrek sou moes _krepeer_" (id. p.
+300); "Die Nylstroom ... wat hier breed is en ruig _bewas_ met bos en
+riet; twee stamme ... van die oorspronklike ras _afgespring_
+(_Baanbrekers_, p. 9, 12); "g'n kopere _bendes_ om begeestering van
+buite in of uit te blaas nie" (_K. Hindon_, p. 31); "dan kan jy enige
+tyd jou weg uitkry" (id. p. 293); "In die verdere loop van dieselfde
+gesprek sê hy te glo, dat...." (id. p. 317); "Weinig wonder, dat baie
+van hulle die voorkeur daaraan gegee het...." (_Trigardt_, LXXIII); "die
+welsprekende wond in sy hofie" (_Moedersmart_).
+
+
+§ 3. J.H. Malan.[416]
+
+Boer en Barbaar, (1913).
+
+By die twede druk in 1918 het Malan sy werk in omvang byna verdubbel. Hy
+gee "die geskiedenis van die Voortrekkers tussen die jare 1835-'40 en
+verder van die kaffernasies met wie hulle in aanraking gekom het," soos
+die ondertietel lui. Dit is "volgens sy beskeiden mening, ('n) volledige
+geskiedenis van die eerste Voortrekkers tydperk" (p. IX).[417]
+
+Malan begint met Slagtersnek, bespreek die oorsake van die Groot Trek
+breedvoerig, asook die kafferoorloë van dié tydperk. Hoofstuk V bevat 'n
+kultuur-historiese beskouing, waarin uitvoerige meedelings oor vee- en
+wynboerdery voorkom en 'n beskrywing van die huislike lewe van die
+Afrikaner tydens die Trek. Dan volg 'n oorsig van die eerste trekke
+onder Trigardt en Van Rensburg, en 'n breedvoerige verhandeling oor die
+verhoudings, oorloë en swerftogte van die talryke kafferstamme, asook
+die betrekkinge van die emigrante met hulle. Groot aandag word ook gewy
+aan die optrede van die Engelse en Amerikaanse sendelinge. Vervolgens
+kry ons 'n breedopgesette geskiedenis van al die ander trekke, die
+opkoms en ondergang van die Soeloenasie, die eerste Engelse kolonie in
+Natal, die moord van Retief met die daarop volgende moorde en veldtogte
+en die vestiging van die Boere-republiek in Natal. As aanhangsel volg
+nog 'n verhandeling oor die argitektuur in die westelike provinsie.
+
+Sedert 1901 is Malan besig met sy ywerige navorsingswerk en die groot
+aantal bronne deur hom ondersoek getuig van 'n onvermoeide vlyt en 'n
+hartstogtelike speursin. Hy het dan ook heelwat interessants en
+belangriks opgediep uit die voortrekkersperiode. Maar tot die historisie
+wat die uitkomste van hul ondersoek in skone vorm weet om te werk
+behoort Malan nie. Sy styl mis artistieke kwaliteit en die gawe om op
+helder, logiese wyse die gang van 'n groot beweging te teken, ontbreek
+by hom maar al te dikwels. Die beeldende fantasie, wat al die tallose
+feite en besonderheidjies moet orden en rangskik, sodat dit tot 'n
+grootse tafereel vergroei, die besielende asem wat die stof van die ou
+foliante wegblaas en die vergete helde in lewende lywe voor ons laat
+staan--die besit Malan slegs in geringe maat. Dit help nou eenmaal nie
+om net te praat van "die hartroerendste episodes" (p. 286),
+"onuitwisbare tonele" (p. 299), "hartdoorborende reise" (p. 301),
+"ontsettende toestande", "verbryselde manne" (p. 302), want dit is tog
+maar niksseggende woorde, só banaal, dat dit ons alleen hinder. As die
+toneel dan werklik "onuitwisbaar" is, teken dit dan in al sy kleure en
+geure, in al sy roerende droefheid, met al sy tragiese nasleep, sodat
+ook óns daar iets van kan voel. Toon ons die ding self, moenie net
+daaroor praat nie. Want Malan wil meer gee as 'n gekatalogiseerde
+feiteversameling of 'n wetenskaplike verhandeling. Hy raak telkens aan
+die moraliseer en wys op die deugde van die voortrekkers, wat dan met
+die teenswoordige sedebederf gekontrasteer word. (o.a. p. 317-8). Die
+geskiedenis is vir hom "die leermeesteres des lewens" (p. 396). As die
+nageslag "afdwaal van die eienskappe van welvoeglikheid, statige
+fatsoenlikheid, ysterklip karakter en godsvrug van ons wegbaners", dan
+raak hy op die pad wat lei "tot ondergang en vernietiging".
+
+Malan probeer ook om deur te dring tot die gevoelslewe van die
+trekkers. Hy laat vir 'n paar bladsye die kroniekstyl met al sy feite en
+syfers staan en beskryf "die laaste aand" in die ou Kaapse woning (p.
+136 vlg.).[418] Hier sê hy nie: "Niemand kan sig inbeel, welke tonele
+deur die brein van elkeen ... gevlieg het" (p. 285); hy is nie meer 'n
+blote toeskouer op 'n distansie van 'n "onuitwisbare toneel" nie, maar
+die trekker self wat afskeid neem. Omdat hy die geval werklik deurleef
+het in sy eie gemoed, daarom hoor ons ook die ontroering in sy woorde,
+al stuit ons taalgevoel telkens op wanklanke en al verdwyn die
+weemoedige stemming geheel en al deur so 'n potsierlike beeld: 'n
+Maanstraaltjie is "_'n teken van die Ewigheid, sag, op wolle slippers
+wadend oor die menslike stipjes_...."! (p. 140). Daar is nog tallose
+voorbeelde van viesie-verknoeiing, o.a.: "'n hartebranding, wat
+onuitspreeklik was" (p. 275); "snoewende woordegloed" (p. 398); "Shaka
+rol die golwe van kaffers oor die Drakens Berre soos 'n grote bosbrand"
+(p. 156); ens.; ook onbeholpe uitdrukkings soos: "'n diepheuse buiging"
+(p. 123); "geen Britse leërmag met hulle destyds verwaande
+Europees-Waterloo militêre geflikker.... (p. 348); hy "was bestemd, om
+die finale verwoesting van Dingaan se kolossale mag ... te help
+vernietig (p. 381); die gevolg was 'n sieklike jammerte ... wat as 'n
+hitte stroom deur Europa gestroom het...." ens. (p. 49); "hy had egter
+intussen 'n groot verlies van bloed wat die mensliewende, dappere
+Afrikaner in 'n floute skok (p. 310). Die onbeholpenheid bereik sy
+toppunt in onleesbare sinne: "Piet Retief was seker een van die
+merkwaardigste leiers onder die voortrekkers gewees en besonder bekwaam
+en--lankmoedig sowel as takvol om oor die grootste swakhede, veral in
+die begin, onder die emigrante: 'n volslae gebrek aan disipline, sug
+naar eer en 'n possie bekwaam of onbekwaam, te kom." (p. 186.) "Stuart
+vertel, dat die weduwee van P. Retief, wat 'n nooi de Wet was, en na
+eers met Jan Greijling gehuud te wees, na sy dood met P. Retief in 1814
+was getroud, en dat hy in 'n huis aan die Mooi Rivier die veldfles van
+Piet Retief aan die muur het sien hang, synde in die huis van die heer
+H.S. Lombaard en daarop was die simbole van vrymetselary te sien" (p.
+289). Sulke voorbeelde van 'n verwronge, hopeloos verwarde sinsbou staan
+by klompies op byna iedere bladsy. Skoonheid uit letterkundige oogpunt
+hoef ons seker nie te soek in 'n boek waar die argitektuur van die sinne
+so 'n gaotiese warboel is nie--'n ordelose hoop klippe van alle
+moontlike soorte,--agteloos op mekaar gesmyt, sonder vaste plan, sonder
+sierlike lyne. Watter fyngevoelige leser sal nie struikel oor sinne soos
+die volgende nie: "Ek het dadelik enige poorte van die laer laat
+opemaak, skryf hy op die 23^ste Des., 1838 naar Kaapstad en verskyn in
+die _Zuid-Afrikaan_...." (p. 349); "Hulle noem die raad deur 'enige
+persone' te syn gekies." (p. 202); "Op die 28^ste Jan., 1837 was ... die
+Kommando terug, sonder een enkele man, behalwe vier van Moroko se
+Barolongs gesneuwel, verlore te hê." (p. 186); "toe Paul Kruger hem die
+hand in sy stoel gesete en waarom sy kinders en kindskinders geskaard
+was, druk, ..." (p. 147).
+
+Dan is daar nog staaltjies van mislukte hoogdrawendheid soos: "Die
+_Mayflower_ kwaker pelgrimvaders is nou verander in 'n weelde baaiende,
+onsindelikheid en bedrog...." ens. (p. 133).
+
+Die taalkundige sal ongetwyfeld 'n paar wavragte onkruid in Malan se
+akker kan oplaai. Hier kan alleen gewys word op die storende inwersie
+van onderwerp en gesegde wat dwarsdeur die boek voorkom, om van ander
+foute in die sinstelling en onafrikaanse wendings nie eers te praat nie.
+Tot die anglisismes behoort o.a.: "'n warme tyd" (p. 30); "die Londen
+Sending Genootskap" (p. 35); "China skoteltje" (p. 132); "Wat die
+opvolging van Shaka betref, het Mbopa vir Mahlangana vals gespeel" (p.
+235).
+
+Wat ook al die streng-historiese waarde van _Boer en Barbaar_ mag wees,
+dít staat in elk geval vas: deur sy gebrekkige styl en taal is die
+letterkundige waarde daarvan gering. Laat ons hoop dat die boek van
+Malan, wat met soveel toewyding gewerk 't en daarby gewillig was "to
+scorn delights, and live laborious days" vir die historikus groter
+waarde het. Deur die belangstellende leek sal dit meer geraadpleeg as
+gelees word.
+
+
+§ 4. Dr. S.P.E. Boshoff.
+
+Stephanus Petrus Erasmus Boshoff is in 1891 gebore op Vaalbank, distrik
+Senekal. Eers het hy in die Boland skool gegaan en later na die Grey
+Kollege gekom. Na sy M.A. eksamen in 1912 het hy aan die Uniwersiteit
+van Amsterdam in die Nuwe Lettere gestudeer. Met die uitbreek van die
+oorlog het hy na Suid-Afrika teruggekeer en daar deelgeneem aan die
+rebellie. Sy ondervindinge op kommando en in die tronk het hy beskryf in
+_Vaalrivier, die Broederstroom_ (1916)[419] en _Rebellie-Sketse_ (1918).
+
+Na die troebele is hy aangestel as professor aan die Potchefstroomse
+Uniwersiteitskollege. In 1921 het hy sy studie in Amsterdam voltooi en
+_cum laude_ gepromoveer tot doktor in die Nederlandse Taal en Lettere op
+'n dissertasie: _Volk en Taal van Suid-Afrika_.
+
+Hy sê self "dat hy hom nog nie en miskien nooit sal reken tot die
+Afrikaanse skrywers nie. Wat hy doen is maar houthakkers- en
+waterputterswerk vir ons ontluikende letterkunde" (_Die Brandwag_, Des.
+1918). Hy is in die eerste plaas dan ook filoloog, en sy dissertasie is
+'n monumentale werk, die vrug van jarelange arbeid. Ook uit bowegenoemde
+sketse blyk sy voorliefde vir taalkundige waarneming. In samewerking met
+L.J. du Plessis het hy ook uitgegee twee deeltjies _Afrikaanse
+Volksliedjies_, 'n versameling van piekniek- en minne-rympies. Die
+inleiding getuig van onvermoeide nasporingsywer op die gebied van
+folklore. Meer as een fyn liedjie, wat in een of ander uithoek van ons
+land lê en roes, sal deur die bundels algemeen bekend word.
+
+Van Boshoff het verder nog verskyn 'n toneelstuk _Jannies, Johnnies en
+Jantjies_ en 'n gewysigde bewerking van Ds. S.J. du Toit se _Magrieta
+Prinsloo_. Hy is onlangs tot lid van die Leidsche Maatschappij benoem.
+
+Vaalrivier, die Broederstroom en Rebellie-Sketse.
+
+_Vaalrivier_ behandel veral die laaste dae van Generaal C.F. Beyers,
+terwyl _Rebellie-Sketse uit my Dagboek 1914-1915_ verskillende gevegte
+en ook die tronklewe beskryf. Dit is feitlik alles persoonlike
+ervarings, wat die skrywer meedeel en hy doen dit op 'n aangename
+verteltoon, in 'n goed versorgde styl. Hy het daar mooi in geslaag om
+die taamlik eentonige militêre en topografiese meedelings af te wissel
+met lewendige dialoog, waardeur ons 'n goeie kyk kry op die stemming
+onder die burgers. Veral die beskrywing van die tronklewe munt uit deur
+aanskoulikheid en raak humor. Mooi staaltjies van boerekwinkslae word
+ook gegee en o.a. die knaende rooklus goed uitgebeeld. Daar is burgers
+wat selfs van die dominee twak kry "want die predikante was prakties en
+hul roltwak was gewoonlik langer as hul predikasies" (_R. S._ p. 132).
+"Na die preek kon 'n mens dan ook gewoonlik 'n gelukkige roker hier en
+daar onder die skare onderskei aan die blou rookwolkies om hom heen, en
+aan die streep minder gelukkige broeders, wat agter hom aanstryk om tog
+maar net die ruik van die rook te kry." (t.a.p., p. 133.) Daar is meer
+sulke voorbeelde van goeie waarneming, wat getuig van intieme kennis van
+die boere-mentaliteit. Die rake slag, waarmee sommige persone uitgebeeld
+word is 'n aanduiding, dat die skrywer ook op die gebied van die roman
+sukses sou hê.
+
+Die styl word gekenmerk deur 'n besonder voorliefde vir alliterasie,
+waarvan reeds die eerste sin van _Vaalrivier_ 'n voorbeeld is. In die
+beeldspraak verras meer as een oorspronklike wending, b.v. "'n eensame
+en blykbaar verlate woonhuis ... waarby 'n lang en nog eensamer ou
+bloekomboom half staan en slaap, nes 'n reier op sy een been langs die
+vlei" (_Vaalrivier_ p. 92). 'n Paar maal word _die_ as relatief gebruik
+o.a. "Genl. Maritz, _die_ hy in daardie geval...." (_R. S._ p. 5).
+Telkens kom _vyandige_ i.p.v. _vyandelike_ voor, b.v. "vyandige
+perderuiters" (_Vaalrivier_ p. 55). Die anglisisme op p. 36 "die Jingoes
+(het) my 'n vreeslike lewe gelei" moet seker op rekening van die spreker
+gestel word. Die bewering, dat kuns "'n lukseartiekel" is (_R. S._ p.
+122) moet blykens die verband nie _au sérieux_ geneem word nie. 'n
+Voetnoot, soos die eerste op p. 24 (_Vaalrivier_) kan gerus weggelaat
+word.
+
+
+§5. J.A. Smith.
+
+Johannes Anthonie Smith is gebore op Grootfontein, distrik Aberdeen in
+1886. In sy jeug het hy _Ons Kleijntji_ gelees en vir Afrikaans geywer.
+Toe hy byna vyftien jaar was het hy weggeloop na die Boere-kommandos en
+tot die vrede geveg. Aan die Hoëre Skool in Stellenbosch het hy sy
+studie voortgeset en daarna gaan boer. Die groot droogte van 1915 het
+aanleiding gegee tot die keuse van 'n joernalistieke loopbaan. Eers was
+hy tydelik werksaam by _De Nieuwe Tyd_, 'n Aberdeense krant en later
+redakteur van _Het Westen_. Sedert 1917 is hy redakteur en bestuurder
+van _Onse Courant_, Graaff-Reinet. Dit is die eerste krant wat in die
+Kaapprovinsie oorgeslaan het in Afrikaans. Smith het daarin en ook
+andersins aktief opgetree in die stryd om Afrikaans as voertaal erken te
+kry. Die gevolg was die invoering van die Afrikaanse medium in die Hoëre
+Skool op Graaff-Reinet. Hy versamel tans gegewens oor die mense en
+toestande in dié distrik vóór die Groot Trek, en werk aan 'n brosjure
+oor die teregstelling van Komdt. Scheepers. Van hom het verskyn: _Brit
+en Boer, van Slagtersnek tot Jopie Fourie_ (1917) en _Naar Bloedrivier
+en Paardekraal_ (1918)[420].
+
+Brit en Boer.
+
+Die skrywer gee 'n kort oorsig van die historiese gebeurtenisse van
+1814 tot 1915. "By ons volk is 'n groot behoefte aan 'n kort, duidelik,
+onpartydig en in Afrikaans geskrywe historieboek...." verklaar hy in sy
+voorwoord. Deur gebrek aan 'n lewendige, persoonlike styl het dit egter
+alleen 'n versameling van feite geword. As voorbeeld van die dikwels
+gebrekkige styl en kanselagtige beeldspraak kan die volgende dien: "Hier
+werd Afrikaanse lewens ontneem deur die Engelse, vir die eerste maal en
+werd later nog weer herhaal.... Die diepe wond is nooit geen balsem
+toegedien, maar steeds meer nuwe wonde in die boesem van die
+diepgeteisterde volk geslaan." (p. 21.) Vorme, soos die volgende laat
+mens twyfel of die boek wel in Afrikaans geskryf is: "Op s'n treurigs
+(p. 22); Retief en de syne (p. 39); Die Regering ... het moe geword ...
+en dag dit best.... (p. 64). Na veel moeite kreeg men die inwoners so
+ver.... (p. 66); Goud werd gevonden" (p. 82) ens. Dan krioel dit nog van
+taalkundige rariteite o.a. kalmtjes (p. 110); Men sal herinner (p. 77);
+Southey het lang reeds in sy verstand gehad ... (p. 81) ('n Anglisisme);
+sy bedriegelik invloed (p. 85); vermompte despotisme (p. 96); Mettertyd
+het die uitlander populasie, die op sigself nie 'n presiese dreigende
+gevaar was ... (p. 107); die ver-engelsen van die hele aardbol" (p. 108)
+ens. As die dubbele negatief reg gebruik word is dit 'n uitsondering.
+
+Naar Bloedrivier en Paardekraal.
+
+Op eenvoudige wyse gee die skrywer 'n beknopte oorsig van die
+gebeurtenisse, wat in verband staan met Bloedrivier en Paardekraal,
+volgens sy beskouing "'n onuitputtelike bron van sede- en nasionale
+lesse" (p. 11). Hy wou 'n werk lewer "wat vir die opkomende geslag
+onmisbaar moet wees in verband met die hedendaagse Dingaanfees." Of die
+onmisbaarheid van lange duur sal wees val te betwyfel, omdat die styl,
+ofskoon beter versorg dan in _Brit en Boer_ so weinig artistiek en
+dikwels onbeholpe is. "Na hierdie aanval is die laers in vier groot
+laers verdeel en teruggeset en het onder die bevel van Maritz ...
+gestaan" (p. 41). Daar is meer sulke voorbeelde. Die dubbele negatief
+ontbreek nog telkens en uitdrukkings soos "skatte-buiters (p. 59),
+verpeins (p. 82); 'n bewering te maak uit denkbeeldige inisiatiewe" (p.
+70) is 'n aanduiding van gebrekkige taalbeheersing.
+
+Nadruk word veral gelê op die verband tussen Bloedrivier en
+Paardekraal: "As 'n mens Dingaansdag kan of mag vier, dan kan en _moet_
+'n mens die herstelling van die onafhanklikheid in 1880 ook vier. Albei
+jaartalle het dieselfde betekenis vir die volk." (p. 93.)
+
+
+§ 6. Dr. J.D. du Toit (Totius).[421]
+
+Ds. S.J. du Toit in Weg en Werk, (1917).
+
+"Een omstandigheid moet by die lees veral nie vergeet word nie. Ds.
+du Toit was 'n Ismaël: sy hand was teen almal, en almal se hand was teen
+hom.... By die beskrywing van sy lewenstaak was dus wysheid en tak 'n
+hoofvereiste, en die skrywer wil hier die opregte versekering gee, dat
+hy sy uiterste bes gedoen het om by oue gevoelighede verby te skram en
+om oue wonde nie seer te maak nie. Vandaar dat deurgaans geen kritiek
+geoefen en geen beoordeling van persone en gebeurtenisse gegee word nie.
+Die dag daarvoor sal wel later aanbreek. Die skrywer wou volstaan met
+die blote meedeling van _feite_ (soveel molik in sitaat)...."
+(Voorwoord). Met dié woorde het Totius sy werk goed gekarakteriseer. Dit
+is 'n feiteversameling van die grootste belang oor "'n periode van
+Afrikaanse oplewing", soos die ondertietel lui. Die rangskikking van die
+feite, die ordening van sy biografiese materiaal het Totius met talent
+gedaan. Van alle oorde het hy met groot vlyt en nasporingsywer sy
+boustowwe bymekaar gemaak. Netjies opgepak lê die stene in afsonderlike
+stapels. Die fondament is ook al gelê en daarop moet die boumeester nou
+vir ons 'n sierlike skepping van monumentale skoonheid oprig. Dit is 'n
+taak waarvoor die digterlike seun van 'n groot vader allesins berekend
+is. Maar hy deel ons mee: "Die dag daarvoor sal wel later aanbreek". Die
+redene wat Totius voorlopig van 'n interpretasie van sy feite laat
+afsien het, moet ongetwyfeld gebillik word, as ons onthou, dat sy vader
+se hand "teen almal was, en almal se hand teen hom". Addison het in 1716
+al verklaar: "The truth of it is, as the lives of great men cannot be
+written with any tolerable degree of elegance or exactness within a
+short space after their decease; so neither is it fit that the history
+of a person who has acted among us in a public character, should appear,
+until envy and friendship are laid asleep, and the prejudice both of his
+antagonists and adherents be, in some degree, softened and
+subdued."[422] Maar die opmerking van Samuel Johnson is nie minder juis
+nie: "If a life be delayed till interest and envy are at an end, we may
+hope for impartiality, but must expect little intelligence; for the
+incidents which give excellence to biography are of a volatile and
+evanescent kind, such as soon escape the memory, and are transmitted by
+tradition."[423] Dit is juis dié soort insidente wat Totius, blykbaar
+met opset verwaarloos het. "Die skrywer van hierdie reëls was toe maar
+vyf jaar oud. Tog styg daar nog verskeie witte wolkies van skerpe
+herinnering op bo die wegduisterende gesigseinder van kinderverlee. Die
+skrywer sal daarmee die leser nie te veel lastig wees nie." (p. 243).
+Doodjammer, want deur die verswyging van sy persoonlike herinneringe
+ontbreek daar lewenswarmte aan die biografie. Die beeld van sy vader is
+groot en imposant, maar daar is weinig _lewe_ in. Soos 'n reusagtige
+silhoeët staan dit teen 'n agtergrond van die bontste verskeidenheid.
+Maar Ds. Du Toit se pelgrimsreis van die wieg tot aan die graf, sy
+titaniese worsteling met die lewe, die dramatiese afwikkeling van dié
+geweldige stryd, die diepe kneusing van 'n groot siel wat van smaad en
+hoon meer as sy volle deel gehad 't--daarvan val alleen 'n dowwe
+flikkerlig op die beeld. En die indruk kom Totius self bevestig: "Van
+Ds. du Toit se inwendige lewe weet ons nie veel nie" (p. 248).[424] "Ons
+het tot dusver veel gesê van Ds. du Toit se _werk_ en weinig laat
+deurstraal aangaande sy _persoon_. So hoort dit, want dis ons in die
+eerste plaas te doen om die grote werk wat Ds. du Toit verrig het. Maar
+daarom mag 'n beskrywing van sy persoon nie agterwege bly nie" (p. 378).
+Die "persoonsbeskrywing" (Hoofstuk XVII) bring ons egter nie veel verder
+nie. Dit bly aan die buitekant; ons mis daarin die vermoë om deur te
+dring tot die innerlike psiege. Dit kan ons al weer met die skrywer se
+_eie_ woorde bewys: "Nou oorgaande tot die beskrywing van Ds. du Toit se
+meer inwendige lewe, _natuurlik soos dit sig naar buite geopbenbaar het_
+(want "wie weet wat in de mens is dan de geest des mensen die in hem
+is?") sal ons eers bespreek sy emosionele lewe." (p. 381).[425] En hier
+wou Totius tog meer wees as 'n feiteversamelaar, hier wou hy ons iets
+van die persoonlikheid van sy vader laat voel. "The biographer must be
+more than the mere realist who can photograph facts--he must be
+something of the idealist as well, for he has to create as well as to
+reproduce: and we value a biography exactly in proportion as its author
+has succeeded in creating for us the character of a new man or woman to
+be added to our own personal acquaintance."[426] Nou lyk dit vir my of
+Totius met die metode wat hy volg, soiets nie kán bereik nie. Hy
+verklaar: "Nou gaan ons oor tot 'n beskrywing van Ds. du Toit se
+verstand en wil. Vanself hoef dit nie so uitvoerig te wees nie. Sy ganse
+lewe en werk deur ons beskrewe lê getuigenis af van die grootte van sy
+verstand en die krag van sy wil." (p. 396). Dit mag nou wel waar wees,
+maar so 'n bewering help ons geen druppel om die persoonlikheid van 'n
+mens te begryp nie. En buitendien, het ons nie die reg om van die
+biograaf 'n artistieke sintese, 'n psigologiese interpretasie te verwag
+nie? Ons is nie tevrede met hier 'n raps en daar 'n raps nie, ons wil 'n
+volledige beeld hê. Die skrywer vervolg: "Ook moet hier die opmerking
+gemaak word dat dit ons nie te doen is om 'n strenge groepering van die
+sielsfunksies nie. Ons het 'n skema gemaak wat prakties aanwendbaar is.
+Bowedien is die siel van 'n mens 'n eenheid, wat sig nie uit mekaar laat
+kerf nie. Op die feit wys veral die nuwere sielkunde. Vandaar dat ons
+reeds die verstand en wil laat inwerk het op sommige van die beskrewe
+emosies of gemoedsaandoeninge." (p. 397.) Almal netjies beredeneerd,
+maar hier help al die skemas en tabelletjies van die hele wêreld jou
+totaal niks! Die biograaf staan voor dieselfde probleem as die
+romanskrywer: Hoe moet ek die mens laat _lewe_? En as hy dié groot
+wonder reg kry, dan is dit nie omdat hy 'n knap psigoloog is nie, goed
+op die hoogte van die allerlaaste emosionele _formulae_, maar enkel en
+alleen omdat hy kunstenaar is. Hoe die wonder geskied weet hy miskien
+self nie, en ons kan dit alleen by benadering uitrafel; maar as ons sy
+boek gelees het, dan is daar nog 'n man of vrou toegevoeg by die getal
+van ons intieme vriende. En in die sielkundige skema van Totius mis ek
+die warme intimiteit; ek ken sy vader na meer as 450 bladsye nog nie so
+goed as my eie vader of een van my vriende nie. Die "witte wolkies" van
+sy herinnering, die moes hy nie laat wegwaai het nie!
+
+Beskou ons Totius se biografie nou alleen as feiteversameling, dan is
+dit inderdaad 'n handige kompilasiewerk, wat onmisbaar is vir die kennis
+van ons letterkunde en geskiedenis. Hy het die outobiografie, briewe en
+sitate op bekwame wyse inmekaar gevleg, sodat iedereen na bestudering
+van die bewysstukke sy eie oordeel kan vorm. Daarmee het hy seker
+bereik, wat hy Kuyper op die tietelblad laat sê: "Niet vergeten van onze
+doden is niet genoeg. Er kan zo dikwels veel ook voor onze doden nog
+gedaan worden. Om hun eer en goede naam te verdedigen tegenover
+miskenning en laster.... Bitterheden weg te nemen, die als onkruid
+tussen hen en hun omgeving waren opgeschoten...." Hy het as onpartydige
+historikus sy vader sy eie saak laat voordra, hom uit sy werke, self tot
+ons laat spreek; nou moet hy nog as _seun_ sy vader vir ons uitbeeld met
+al die warmte van 'n liefdevolle kinderhart. Die voorwoord laat ons
+hoop, dat "die dag daarvoor wel later (sal) aanbreek." Vir ons
+letterkunde kan dit 'n blye dag word!
+
+Die biografie bevat besonderhede oor Du Toit se jeug, sy werk as
+predikant van die gemeente Noorder-Pêrel, sy stryd vir die beginsel van
+Christelik Nasionale Onderwys. Die oprigting van die _Genootskap van
+Regte Afrikaners_, _Die Patriot_ en ander blaaie word uitvoerig
+bespreek, asook die stryd vir die Afrikaanse taal. Duidelik blyk hoe
+groot die invloed van Ds. S.J. du Toit sedert 1875 was, en van hoeveel
+bewegings hy die eintlike vader kan genoem word. Die oprigting van die
+Afrikaner Bond, die oplewing in die Kaap-Kolonie en die aandeel van _Die
+Patriot_ in die Transvaalse Vryheidsoorlog is ook breedvoerig uitgewerk.
+Uit die belangrike sitate kan ons 'n helder beeld van die kulturele lewe
+van dié tyd saamstel. Ds. Du Toit se werk as Superintendent van Onderwys
+en polietikus in die Transvaal, sy Bybelvertaling en reise word ook
+behandel. Dan volg sitate oor sy houding tydens en na die Jameson-inval.
+Die verklaring van Adv. J.H.H. de Waal, soos aangehaal op bladsy 2 word
+deur Ds. Du Toit se eie woorde bevestig: "Die houding deur my in
+_Patriot_ en _Getuige_ ingeneem teenoor die Transvaal-regering van die
+laaste tyd was egter nie populêr in die Kolonie nie, veral sedert die
+Jameson-inval. Dit het gemaak dat die blaaie agteruit gegaan het." (p.
+313.) Oor Du Toit se stryd teen sektes en kettery word ook meedelings
+gedaan. Met 'n beskrywing van sy persoon en laaste dae sluit die boek,
+waarin ook nog enige gedigte van hom afgedruk is.
+
+Van Du Toit se veelsydige bekwaamheid, sy onvermoeide ywer vir
+godsdiens, taal en nasie is op byna iedere bladsy bewyse te vind. Sy
+lewensbeskrywing is meteen ook die geskiedenis van die ontwaking van die
+Afrikaner bewussyn en sy aandeel daarin was ongetwyfeld belangrik.
+
+Of ons die deur moet oopset vir woorde soos die volgende, is
+twyfelagtig: leaders (o.a. p. 41); waiter (p. 283); debater (p. 350);
+smoking-cap (p. 379), wasies (p. 380).
+
+
+§ 7. Ds. W. Postma (1874-1921), (Dr. O'kulis).
+
+Doppers (1918).
+
+Dr. O'kulis verklaar in sy inleiding: "Ik het die egte ou Doppers nog
+goed geken en hulle opregte nasate leef ik nog mee saam, sodat ik meen
+in staat te wees om enigsins 'n suiwere portret te skilder van 'n
+eienaardige groep van ons volk...." Hy het 'n ruim opvatting van die
+woord Dopper. "Al die Doppers (is) nie in die Dopperkerk nie, en ... nie
+alle lidmate van die Gereformeerde Kerk van S.A. (is) egte Doppers nie."
+(p. 8.) "Ons profeteer dan ook beslis ... dat ons volk altyd meer terug
+sal draai naar die _Backveld_, al meer Dopper sal worde, naarmate ons
+nasionale selfbewustheid ontwaak en ontwikkel" (p. 15). Op kernagtige
+wyse word die hele lewensbeskouing van die Dopper uiteengeset en alles
+wat daarmee in stryd is afgekeur. Die oorsprong van die Doppers, hul
+isolement, godsdiens en beskawing word geskets en hul beginsels met
+warmte verdedig. Ten slotte word daar 'n staanplek gevra vir die Dopper
+in die Afrikaanse samelewing: "Ons vra geen guns, geen medelyde, geen
+beloning, geen verering nie. Ons vra net staanplek in die Boer-geledere
+om saam te werk en saam te stry vir die heilige pand ons saam
+toevertrou" (p. 116). In die bylae volg die opienies van ander skrywers
+oor die Doppers.
+
+Die grootste gedeelte van die boek is van godsdienstige aard en kan
+buiten beskouing bly. Dat ons hier egter te doen het "met 'n faktor, wat
+geweldig invloed uitgeoefen het op die kultuurlewe van ons volk" (p. 71)
+is ongetwyfeld waar, en Dr. O'kulis se pleidooi vir die Doppers is 'n
+belangrike bydrae op kultuur-historiese gebied. Daaruit kan ons die
+Dopper se standpunt teenoor die wetenskap, die kuns, opvoeding, sport,
+ens. leer ken. Die skrywer het 'n persoonlike kyk op al die probleme van
+ons tyd, al is sy behandeling daarvan dan ook dikwels sketsagtig.
+Kapitalisme en sosialisme kan seker nie met so 'n paar sinnetjies soos
+die volgende afgemaak word nie: "Geen van bei ken soiets as 'n
+lewens- of nasionale ideaal nie--hulle klim nooit hoër op as hulleself
+nie. Daar is niks verhewens of opheffends in hierdie rigtings nie--dit
+is net:--"Laat ons eet en drink en vrolik wees, want more sterf ons."
+Ook die definiesie van modernisme is vaag en misleidend, (p. 65.)
+
+Die Boervrou, (1918).
+
+_Die Boervrou_, "Moeder van haar Volk" is saamgestel op versoek van die
+Nasionale Helpmekaar- en Kultuur-Vereniging, Reddersburg. Die skrywer
+verklaar: "Dis my doel om die lewe en dade van die Boervrou in die
+geskiedenis op te spoor en voor te stel op eenvoudige en heldere wyse."
+(Voorwoord).[427] Hy wil probeer om self "so min molik te sê en soveel
+molik getuienis van vreemdelinge (ook vyandige), wat die mense geken het
+invoer." (p. 20.) In hoofsaak is dit dan ook 'n kompilasiewerk, waarin
+veral die periode van die Groot Trek en daarna uitvoerig behandel word.
+Onder ander word die gedenkskrif van Anna Stenecamp afgedruk en 'n paar
+krante-artiekels oor Maria Koopmans-de Wet. Daar is nog naklanke van die
+_Eselskakebeen_: "Ongelukkig dat ons altyd op skool nog moet ly aan die
+verouderde Engels-Turkse stelsel van afgryslike geestesmoord." (p. 104.)
+"Dis nodig om die wissels van die spoor van ons Vaderlandse Geskiedenis
+eers reg te sit vir ons, wat op skool deur _Cape History_ en
+Jingo-laster so hopeloos verknoei is...." (p. 44.)
+
+"Die godsdienssin van die Boervrou is die sleutel van haar hele
+geskiedenis; die wat dit nie vooropstel, en gedurig voor oë hou nie, kan
+haar nie begryp, haar portret nie skilder nie" (p. 66). Godsdienstige
+beskouings neem dan ook 'n groot plaas in, en telkens word 'n klein
+prekie ingelas (o.a. p. 160, 179). Die streng-Kalvinistiese
+lewensbeskouing van die skrywer laat hom dikwels teen allerlei
+maatskaplike euwels te velde trek, teen "die sonde van kinderbeperking"
+(p. 157), die vrouestemreg en allerlei vreemde sedes. "Hoe geleerd en
+ontwikkel ons ook al word, laat ons Boer bly. Praat van _beskaaf_--wel
+ik het nergens hoër, fyner beskawing gesien as by ons egte kristen Boer
+voorouers nie." (p. 109.) Hy is nie teen vooruitgang nie: "Die Boervrou
+mag die kappie en die manteltjie vaarwel sê en tog haar grootmoeder in
+alles gelyk bly." (p. 177.) Maar ons moet voortbou op "die hegte breë
+Boerfondament" en alle "vreemde modelle" vermy. "Daar is geen hoër adel,
+geen fyner beskawing, geen edeler siel as die van die Boervolk self nie.
+Al wat ons daarvan afwyk, gaan ons verkeerd, breek ons onsself af,
+ondermyn ons ons indiwidualiteit. Ons mog dan wat vreemds byspyker, en
+daar uitlandse vernis oor smeer, maar dit sal nie hou teen die
+Afrikaanse son nie.... Wat ons het is egte goud, al mag dit nog nie
+gelouter en bewerk wees nie, wat ons in die vreemde naloop is
+klatergoud." (p. 206.) Hier ontaard die gevoel van nasionale eiewaarde
+in chauvinisme, en werk die ou isolasie-drang van die Boer, en sy afkeer
+van alle vreemde beskawing nog na. Op 'n ander plaas is sprake van "die
+gesonde lewenswyse en wêreldbeskouing van die Boervrou, so afkerig van
+die verfynde en demoraliserende uitlandse 'beskawing'...." So voer die
+groot nadruk wat op die Afrikaanse voortreflikheid gelê word en die
+waarskuwing vir alles wat vreemd is tot die stelling, dat alles in
+Afrika goed is en alles daarbuite sleg. Dit was seker nie die bedoeling
+van die skrywer nie, maar wanneer 'n goeie beginsel te veel op die spits
+gedryf word, lei dit tot bekrompenheid.
+
+Die neiging vir allerlei moeilik verdedigbare generalisasies, wat ook in
+_Doppers_ aangetoon is, blyk uit so 'n bewering: "Is die teenwoordige
+oorlog nie vrug van die onvrouelikheid van die vrou van Berlyn, Parys,
+Brussels, Londen?" (p. 180.)
+
+Die portret en karakter van die Boervrou het Dr. O'kulis met liefde
+geteken. Veral in die sewende en agste hoofstuk, waar die skrywer self
+meer aan die woord is, kom juiste opmerkings en 'n persoonlike
+uitdrukkingswyse voor. Die nuwere geskiedenis wil hy verbygaan, maar oor
+die konsentrasiekampe kán hy nie swyg nie. (p. 141.) "Die geskiedenis
+swyg nie, al vergeet ons ook al graag." (p. 148.) "_Dwars deur ons land
+loop die bloedspoor van die Boervrou_" (p. 114). Met eerbiedige hulde
+volg hy die spoor deur ons geskiedenis. Van die politieke
+vroueverenigings verwag hy weinig heil. Ook die foute van die Boervrou
+word beskryf. In Mevrou Marie Koopmans-de Wet "sien ons die Boervrou
+soos sy ontwikkel op die hoogste sport" (p. 181.) Die bylaes bevat
+hoofartiekels van die _Mediator_ oor die trekkers en oor
+vaderlandsliefde, asook 'n stuk uit Preller se _Voortrekkermense_.
+
+Tot die minder juiste uitdrukkings behoort o.a.: "'n daghelder feit"
+(_Doppers_, p. 63); "die ster-rol speler in die bioskoop" (id., p. 66);
+"Die meisies was ... op reken van die moeder...." (_Boervrou_, p. 59);
+"oor algemeen" (id., p. 94); "meedoen met allerhande lewensdrukte" (id.,
+p. 97); "geleerdheid bring in 'n groef" (id., p. 105); "om oor die
+toekoms te praat en te plan (id., p. 149); "omdat men hiervoor geen oog
+had" (id., p. 24); "om die verdrukte landgenote te help met tonne van
+selfgemaakte en geofferde versagting" (id., p. 92). As staaltjies van
+retoriese beeldspraak kan dien: "Twee feite het hulle diep in die hart
+deurboor" (id., p. 118); "die hartverskeurende skouspel; die vlym nog
+dieper voel" (id., p. 148).
+
+
+§ 8. Thos. Blok.
+
+Thos. Blok is in 1879 gebore. In Holland was hy 'n tydlank onderwyser en
+sedert 1913 in Bloemfontein, waar hy tans hoof van die Voorbereidende
+Tegniese Skool is. Hy het hom dadelik na sy vestiging in Suid-Afrika op
+Afrikaans en geskiedenis toegelê. Hy streef daarna om die resultate van
+sy argiefondersoek in aantreklike vorm uit te gee en bewerk veral die
+periode van die Oranje Rivier Soewereiniteit. Van hom het verskyn 'n
+serie leesboeke _Ons Eie Taal, Klein Jannie, Oom Willem, Hendrik Afbeen_
+en _Willem Kruger_, skool- en kinderlektuur, 'n paar bundels
+kinderversies en _Grensboere_ (1918).
+
+Grensboere.
+
+Dit is 'n verhaal uit die dae van President Hoffman, "'n inleiding tot
+die geskiedenis van die (Basoeto)-oorloë." Blok wil "'n duidelike beeld
+... gee van die toestande, wat geheers het, en die moeilikhede, waarmee
+die Boere te stry gehad het op die grens van Basoetoland.... Behalwe die
+vorm, waar die storie in verskyn, is alles suiwer geskiedenis."[428] Die
+geskiedenis smoor dan ook die verhaal dood; die argieflug is te sterk.
+In die begin kry ons nog iets van die mense te sien, maar ons verloor
+hulle gou tussen al die historiese feite en dokumente. In 'n suiwer
+historiese vorm sou Blok se werk meer voldoening gee, want die feite wat
+hy meedeel is belangrik en van sy simpatieke inlewing in die
+Boerekarakter getuig iedere bladsy van die boekie. Die helder,
+eenvoudige styl, wat alleen op enkele plekke spore van Hollandse invloed
+vertoon, maak _Grensboere_ uiters geskik vir die jeug. Hinderlike
+herhaling kom voor o.a. op p. 21: skaf--skaap; op p. 57:
+gekies--kiesers--kies.
+
+
+§ 9. Ds. G.B.A. Gerdener.
+
+G.B.A. Gerdener is in 1881 gebore op Wupperthal, 'n Rynlandse
+sendingstasie in die Sederberge, Clanwilliam, waar sy vader, 'n Duitse
+sendeling gearbei het. Sy gehele opvoeding het hy feitlik in
+Stellenbosch geniet, en daar is hy ook tot predikant opgelei. Sy
+teologiese studie het hy in 1922 voltooi aan die uniwersiteit in
+Tübingen, waar hy die graad Dr. Phil. _cum laude_ verwerf het en hom
+veral op die nuwere geskiedenis en die tydperk van die Hervorming
+toegelê het. As sekretaris van die Christelike Studente-Vereniging het
+hy in 1907 en 1910 groot buitenlandse reise gemaak. Gedurende 1912-17
+was hy onder die Mohammedane in Kaapstad werksaam en daarna as twede
+predikant op Stellenbosch. Van hom het verskyn 'n bundel gedigte: _Uit
+Mijn Jonkheid_ en verskeie godsdienstige werke, alles in Hollands.
+_Sarel Cilliers, Die Vader van Dingaansdag_ is egter in Afrikaans
+(1919). Hy was ook redakteur van _Het Gereformeerd Maandblad_.
+
+Sarel Cilliers.
+
+Piet Retief word die martelaar van die Groot Trek genoem, Andries
+Pretorius, die krygsman en Sarel Cilliers die profeet (p. 3). "Beter
+tiepe van die diepe godsvrug en die innige vroomheid, wat in dae van
+donkerheid en droefheid aan die hart van die Trekkers lig en troos
+verskaf het is daar nie dan Sarel Cilliers" (p. 4). Sy kinderjare en
+uittog na die noorde word beskryf, terwyl ook in vlugtige trekke die
+verloop en betekenis van die beweging van 1836 geteken word. Episodes
+waarin Cilliers 'n groot aandeel gehad 't, soos die slag by Vegkop en
+die aflegging van die gelofte word uitvoerig behandel en op helder wyse
+toegelig. Cilliers se ervarings in Natal en later in die Vrystaat, sy
+rol in die kerklike lewe is op aanskoulike wyse in die laaste hoofstukke
+geskets. Deur verskillende anekdotes kry ons 'n helder beeld van sy
+persoonlikheid. In die slothoofstuk word sy betekenis so saamgevat: "Hy
+was 'n onverskrokke baanbreker van die beskawing, 'n dapper stryder vir
+vryheid, 'n edel patriot en 'n vroom Godsman" (p. 90.) Die geskiedenis
+van die Dingaansfees en die beste manier om dit te vier word bespreek.
+Dit was dan ook die aanleiding tot die ontstaan van die biografie (p.
+4). Die aanhangsels bevat 'n joernaal en verskeie briewe van Cilliers.
+
+"Die meeste mense van die twintigste eeu sal (Cilliers) noem 'n
+onbuigsame, ouderwetse puritein" (p. 84). Deur sy verwante
+lewensbeskouing kon Gerdener so 'n figuur met 'n begrypende liefde
+aanvoel en hy slaag dan ook daarin om veel wat vaag was te verduidelik.
+As hy ons egter vertel dat hy liewer "die sluier van vergetelheid" (p.
+34) oor die onaangenaamheid tussen Cilliers en Smit wil trek, dan twyfel
+ons aan sy objektiwiteit. Vir 'n geskiedkundige werk kan die
+omsluieringsmetode nóg noodlottiger wees as vir 'n roman! Deur so 'n
+sinnetjie bring die lewensbeskrywer homself onder die verdenking dat hy
+te werk gegaan 't volgens die gesegde: _De mortuis nil nisi bene_.
+Onwillekeurig vraag ons: Wat het nog meer onder "die sluier van
+vergetelheid" geraak? In die aangehaalde geval is dit alleen getuigenis
+uit 'n ander bron wat Gerdener tot 'n bespreking dwing. Maar die feit
+dat hy dit met blykbare teësin doen, kan ons die indruk gee, dat hy
+alleen 'n _lofrede_ op "die vader van Dingaansdag" wou skryf. En selfs
+die vaagste sinspeling in dié rigting moet die biograaf vermy, as hy
+geen agterdog wil opwek teen sy onpartydigheid nie.
+
+Ook die volgende verklaring is 'n erkenning deur die skrywer self van
+wat daar nog ontbreek in sy werk: "Ons sluit hierdie Hoofstuk "Bloed en
+Trane" met die gevoel dat daar taferele in die geskiedenis is, wat
+niemand kan beskrywe nie. Neem b.v. Piet Retief, bo-op die Drakensberg
+met sy aangesig in die rigting van die Indiese Oseaan.... Gebeurtenisse
+kan 'n mens nog beskrywe, maar sulke manne, so groot, so onsterflik: die
+Martelaar, die Profeet en die Staatsman van die Grote Trek. Hier moet
+die digter en die skilder ons te hulp kom!" (p. 47.) Die
+kunstenaar-biograaf mag egter sy taak nie so maklik op ander skuiwe nie!
+Dit spreek vanself dat iemand wat uit stowwige oorkondes en
+fragmentariese oorlewerings 'n beeld van 'n mens moet opbou daarin slegs
+gedeeltelik kan slaag; die tydgenoot, steunende op intieme kennis en
+persoonlike omgang is daartoe veel beter in staat. Maar waar die
+tydgenoot dit nagelaat het is 'n biografie soos die van _Sarel Cilliers_
+vir ons van groot belang. Uit die beskikbare gegewens het Gerdener 'n
+duidelike beeld van die man en sy betekenis saamgestel. By 'n twede druk
+sal hy seker die onafrikaanse vorme wat daar nog in sy styl voorkom
+vermy, en ook nie die piëteitlose afkorting _Maritzburg_ vir die ou
+Voortrekkerstad gebruik nie (o.a. op p. 31).
+
+
+§ 10. A.J. van der Walt.
+
+Andries Jacobus van der Walt is gebore op Grootfontein, Middelburg,
+K.P. Van sy tiende tot sy vyftiende jaar het hy skool gegaan op
+Ratelpoort, waar hy leer hoera skree het, toe die anneksasie van
+Transvaal (1877) bekend word. Maar nadat hy enige jare skool gehou 't is
+hy Transvaal toe en daar het hy gou tot 'n ander oortuiging gekom. Kort
+na die Jameson-inval is sy Hollandse roman _Afrikaner wees u zelf_
+geskryf.[429] Gedurende die Twede Vryheidsoorlog moes hy saam met ander
+die wyk neem na Delagoabaai en vandaar na Holland. In Europa het hy byna
+twee jaar gebly, baie rondgereis en sy ondersoekings oor Andries Hendrik
+Potgieter begin, wat nog op 'n uitgewer wag. Na sy terugkoms was hy eers
+tien jaar lank by 'n versekeringsmaatskappy en toe weer onderwyser in
+die distrik Potchefstroom, waar hy nog is. _Noordwaarts_, wat in 1906 al
+klaar was het hy in Afrikaans omgewerk vir die _Burger_-leeskring
+(1919).[430] In 1920 het ook nog verskyn _Vastrappers I_.
+
+Noordwaarts.
+
+In 1877 het 'n groot aantal huisgesinne die Suid-Afrikaanse Republiek
+verlaat en noordwaarts getrek. Die skrywer het historiese gegewens oor
+hierdie Dorsland-Trek versamel en dit as Deel II van _Noordwaarts_
+uitgegee. Die verhaal van D.J. Erasmus word afgebreek deur die volgende
+opmerking van Van der Walt: "En dan volg 'n hele reeks van kostelike
+informasie ... wat vir 2/3 as boustof verstrek ('t) van Boek II" (p.
+217). Boek II is 'n gedeelte van 'n romantiese verhaal, wat aan die
+_Boustowwe_ voorafgaan. Hier het ons dus te doen met 'n onwetenskaplike
+vermenging van waarheid en verdigting, wat die boek vir die historikus
+vrywel waardeloos maak. Selfs op die _boustowwe_ kan ons nie reken nie:
+"Die skrywer het eers gemeen, by die _omwerking en besnoeiing van die
+handskrif_, om die verdwaal-episode maar agterweë te laat....[431] Nog
+duideliker blyk sy werkwyse uit die volgende: "Ons moes dus by die
+skrale bedeling van boustof, nadat ons ons so goed moontlik onder ons
+omstandighede op hoogte van die Land- en Volkkunde van die streke
+waardeur die twee van Stadens denkelik getrek het, gebring het, toe maar
+verder die regte van 'n romanskrywer ons aanmatig, om so op dié manier
+die leemtes enigsins aan te vul." (p. 185.) Teen 'n historiese roman oor
+die Dorsland-trek bestaan daar natuurlik geen besware nie, maar die
+onoordeelkundige vermenging van fantasie en waarheid in 'n boek, wat die
+ondertietel _Historiese Sketse_ draag, moet ten sterkste afgekeur word.
+
+Van der Walt het verskillende episodes uit sy boustowwe tot een verhaal
+saamgeflans. Hy gee 'n reeks gekleurde historie-prente en laat op
+bioskoopagtige wyse die vernaamste episodes voor ons verbytrek. In die
+_uiterlike_ omstandighede van die trekkers het hy hom goed ingeleef. Hul
+ontberinge en eindelose gesukkel in die dorsland word op skilderagtige
+wyse geskets. "Die opeenvolging van ellendes" (p. 58), die lyding van
+mens en dier in woeste oorde, die moeilikhede met die inboorlinge is op
+duidelike en aanskoulike wyse voorgestel, sodat die geheel 'n treffende
+rolprent van die volhardingsvermoë van die Afrikanerpioniers word. Maar
+ons mis die hand van die kunstenaar wat só kan skilder, dat die figure
+van die doek af na ons toe kom, met ons praat en die roersels van hul
+innerlikste menssyn openbaar. Want daarvoor deins die skrywer terug.
+"Ons laat maar liewer die sluier val!" (p. 112);[432] "Maar laat ons
+maar liewer van Tys van Wyk, die vader en van Roelf, die liefhebbende
+oom, swyg--swyg van algar se verdriet, wat elkeen op sy eie manier
+getoon het...." (p. 136); "O, geen pen kan die aakligheid van die reis
+beskrywe nie!" (p. 139); "Wie sal 'n vroumens se trane deurgrond?" (p.
+162). So soek die skrywer altyd maar uitvlugte. Net waar hy 'n kans kry
+om die dieper menslikheid te teken, getuig hy sélf van sy onmag. Hy bly
+meestal die belangstellende toeskouer, wat nie die ellende self deurleef
+nie, maar op 'n goeie distansie aantekeninge maak: "Laat ons, Leser,
+hulle afkyk in hulle doen...." (p. 65). Die kranksinnige Mieta is "die
+ware beeld van wanhoop" (p. 51) en 'n paar reëls verder weer "die beeld
+van verregaande onverskilligheid". Tog het hy daarin geslaag om 'n hele
+paar lewendige toneeltjies te teken, soos o.a. die dood van Joggie (p.
+68 vlg.). Ook die vaste vertroue op die Voorsienigheid onder die bangste
+gevare, en die stille godsvrug van die trekkers is goed weergegee.
+
+Die gebeurtenisse deur Van der Walt beskryf was vanself al danig
+romanties. Maar hy is nog nie tevrede nie! Dit word so aangedik, dat
+mens jou naderhand verbeeld dat jy onder die oud-testamentiese bedeling
+leef. Daarom verbaas dit ons nie dat die steenbokkie reguit in Tys se
+knipmes inloop nie! (p. 144). Die meisie wat deur die kaffers ontvoer
+word, ontbreek ook nie, nog minder die paartjie wat mekaar "kry".
+"Leser, ons paar _het_ mekaar nou. Sal ons ook nou maar ophou?" (p.
+157.) Asseblief tog neef, want ons het dit al só baie gehoor! As jy van
+die verliefde paartjie nie twee lewendige _mense_ kan maak nie, wat op
+hul eie manier liefhet en nie mekaar sommer "kry" en "het" nie--bly dan
+maar liewer stil! Die bruilof ens.--ja kyk--soiets lees ons elke dag in
+_Die Burger_ en _De Volkstem_. Ons weet presies hoe dit gebeur en daar
+in die wildernis is 'n mens ook maar 'n mens! Hou tog maar liewer op!
+
+In plaas van plastiese uitbeelding kry ons moralisasies en godsdienstige
+oorpeinsings, soos by die beskrywing van Sarie Swarts se lotgevalle. Hoe
+sterk die moraliserende tendens is blyk duidelik uit
+
+Vastrappers I.
+
+In die voorwoord al staan 'n heftige tirade teen allerlei "onruswekkende
+verskynsels". Daartoe behoort: "die prysgewing van ons jeug aan die
+Rugby-Moloch, ... die goddelose Rugby-gedoente" (p. 7); "die gruwelike
+en gevaarlike sigarette-draak, gemengde baaiery, die Malthusiaanse
+euwel" ens. Ook in die teks kom sulke uitvalle voor. Van der Walt het
+seker die volste reg om vir sy lewensbeskouing propaganda te maak, maar
+in 'n historiese werk kom sulke sedeprekery nie te pas nie.
+
+Die eerste afdeling van _Vastrappers_ bestaan uit sitate van "wat ander
+mense so ongeveer van Boer geskryf het." Waarom ons dit eers moet lees,
+is nie duidelik nie. Dan volg: "Die Historie van seker vier
+Potgietergeslagtes", 'n reeks "oorspronklike famielieverhale", wat "so
+orgineel moontlik" afgedruk word. Hy hoop dat "veral Jong S.A. se oë
+meer mag oopgaan om die egte goud van ons skone Verlede te onderskei van
+baie namaaksels en klatergoud van ons tye." (p. 37.) Die derde afdeling
+"Baanbrekers en Vastrappers" is 'n soort sedekundige verhandeling om aan
+te toon, dat daar "'n goue streep van Kalvinisme deur heel ons
+Vaderlandse Geskiedenis (lê)" (p. 200). Afdeling IV dra 'n uit
+taalkundige oogpunt onjuiste tietel: "Uit vanmelewe ou Potchefstroom se
+dae". Dit is 'n herdruk van 'n artiekel uit _Het Westen_ van 1908, met
+'n naskrif van 1919 waarin gedeeltes uit ou Potchefstroomse krante
+afgedruk word. III en IV is albei "_onvoltooide_ sketse". "Omstandighede
+het ons belet om al die informasie behoorlik te verwerk soos dit eintlik
+behoort. Dit het gekom deels omdat ons nog nie klaar het met ons
+histories ondersoek" (p. 211). Met dié woorde veroordeel die skrywer sy
+eie werk. Die wanordelike allegaartjie wat hy ons aanbied, met sy
+doolhof van inleidings, aanhangsels, naskrifte, note en
+bymekaargeskraapte sitate is 'n duidelike bewys dat naas liefde vir die
+voorgeslag 'n deeglike, wetenskaplike voorbereiding onmisbaar is. As
+_Vastrappers I_ enige waarde het, dan moet dit gesoek word in die
+Potgieterverhale, wat die grootste gedeelte van die boek beslaan. Die
+beoordeling daarvan kan egter aan die historisie oorgelaat word.
+
+In _Noordwaarts_ skryf Van der Walt 'n gemaklik-vloeiende taal, wat
+egter weinig persoonliks het. Die invloed van die Hollandse skool van
+vóór '80 blyk nie alleen uit sy "bewerkte" sitate van Ten Kate nie, maar
+ook uit beeldspraak soos: "'n vlym deur sy siel" (p. 152). Hinderlik is
+die gebruik van "geword" (p. 60), en die verkeerde sinstelling: "Sy het
+vooroorgeval, en het haar liggaam 'n skok gekry" (p. 90). In
+_Vastrappers_[433] is die styl minder versorgd. Daar kom voor o.a.: "Die
+Barbaar gevaar" (p. 202); "verhaalde" (p. 232); "Soiets sou wel meer
+konsekwent, ... en op tot datum (up to date) gewees het, as al die
+onnasionale _dus_ egoïsme in die hand werkende voetbal-gedoe." (p.
+215.)[434].
+
+
+§ 11. Senator G.G. Munnik.
+
+Kronieke van Noordelike Transvaal, (1920).
+
+In die eerste hoofstukke word die nedersetting van blanke onder
+Generaal Hendrik Potgieter in Soutpansberg beskryf. Dan volg 'n
+uiteensetting van die moeilikhede met die talryke kafferstamme en die
+gebeurtenisse wat gelei 't tot die belegering van Makapaan in sy
+grotte.[435] Ook die politieke kibbelarye tussen verskillende
+Transvaalse leiers en die toestande op die goudvelde word geskets. Uit
+die lewe van die goudsoekers en jagters vertel die skrywer interessante
+voorvalle. Sy ondervindings as mynkommissaris en landdros lewer die stof
+vir meer as een vermaaklike anekdote, wat op lewendige toon vertel word.
+Ons kry ook 'n goeie kyk op die verhouding tussen die regering, die
+amptenare en die burgers. Die skrywer slaag daar goed in om ons 'n
+kleurige beeld te gee van die lewe van die baanbrekers in die noorde,
+die wisselvallighede van hul swerwersbestaan, hul moed en uithou-vermoë.
+Veel beter as deur 'n lang betoog word die toestande geskets met 'n
+voorval soos die volgende: "Uit die getuienis blyk ..., dat elkeen van
+twee vyandige gemeentes die kerk, 'n sinkgebou, eis. Daarop breek die
+wakkerste gemeente die kerk, die van hout en yster was, af, en karwei
+dit weg op bokwaens, voordat hulle teenpartyders daar iets van wis" (p.
+69). Ook die talryke Kruger-anekdotes word op aangename wyse vertel.
+Sonder dat dit aanspraak kan maak op groot letterkundige verdienste is
+die herinneringe van Senator Munnik ongetwyfeld 'n aantreklike boek,
+waarin die algemeen-menslike kant van 'n so goed as onbekende historiese
+tydperk mooi belig word. Sulke bydraes kan ook vir die geskiedkundige
+navorser van groot belang wees en die skrywe van soortgelyke
+herinneringe verdien navolging. Van Oud-Pres. F.W. Reitz het in
+verskillende tydskrifte ook sulke memoires gestaan, wat behoorlik
+bygewerk 'n interessante bundeltjie oor die ou dae kan word.
+
+Volgens 'n meedeling het Munnik sy werk nie oorspronklik in Afrikaans
+geskrywe nie. Sy taal en styl laat nog heelwat te wense oor. Hy gebruik
+_die_ as relatief; daar is 'n klompie anglisismes o.a. raar (Eng. rare)
+(p. 21); "om vir verlore kanse op te maak" (p. 72); "hy was ook gemeng
+met die affêres...." (p. 82). Die woordskikking is telkens verkeerd
+b.v.: "Met die _vooruitsig_ (anglisisme) van 'n Hooglander het hy hom 'n
+massa kruit saamgebring en het dit die Republikeinse Goewernement
+aangeneem...." (p. 53).
+
+
+§ 12. Ds. J.D. Kestell.
+
+Ds. Kestell is 15 Des. 1854 gebore op Pieter-Maritzburg. In sy jeug is
+hy persoonlik met verskeie Voortrekkers in aanraking gewees. Hy vertel:
+"Sarel Cilliers het ek gesien in die huis van my vader, en later op sy
+eie plaas, Doringkloof. J.N. Boshoff het ek as kind op Pieter-Maritzburg
+geken. Marthinus Oosthuijse het ek dikwels ontmoet, en uit sy eie mond
+die geskiedenis van die Trek gehoor. Daniel Bezuidenhout het my self
+verhaal wat sy wedervaringe was."[436] Na sy teologiese opleiding op
+Stellenbosch het hy 'n jaar lank gestudeer aan die Utrechtse
+uniwersiteit. As predikant het hy gestaan op Kimberley, Harrismith,
+Ficksburg en Bloemfontein. Daarna was hy redakteur van _De Kerkbode_ en
+op die oomblik is hy rektor van die Grey-Uniwersiteits-Kollege.
+
+Sy eerste geskrif was 'n toneelstuk oor Slagtersnek, _The Struggle for
+Freedom_. In sy studiejare het hy ook 'n Engelse roman oor dieselfde
+onderwerp geskryf. "Onse Jan" het dit vir _Het Z.A. Tijdschrift_
+vertaal. _Uit het Afrikaansche Boerenleven_ (1897) is 'n bundel
+dorpsnovelles.[437] _De Voortrekkers_ of _Het Dagboek van Izak van der
+Merwe_ (1898) is in samewerking met Nico Hofmeyr geskryf, _Johanna
+Cloete_ in 1899. Gedurende die Twede Vryheidsoorlog het Ds. Kestell
+Pres. Steyn en Genl. De Wet vergesel op hul togte en die stryd meegemaak
+tot die bitter einde toe. Na die vrede het verskyn: _Met de
+Boerencommando's_ of Mijn Ervaringen als Veldprediker en _De
+Vredesonderhandelingen tusschen Boer en Brit_ (1909), die laaste in
+samewerking met D.E. van Velden.
+
+Sy skoonvader se biografie het Ds. Kestell in 1911 uitgegee onder die
+tietel _Het Leven van Prof. N.J. Hofmeyr_, die van _Christiaan de Wet_
+in 1920.[438]
+
+_Die Voortrekkers_ (1920) is 'n omwerking van 'n reeks voorlesings op
+Kimberley gegee. Ds. Kestell is lid van die S.A. Akademie, die _Leidsche
+Maatschappij_ en die _Historische Genootschap_ van Utrecht. Op kerklike
+en nasionale gebied is hy een van die volksleiers. Volgens die redakteur
+van _Die Brandwag_ is hy "in baie opsigte vir ons die verpersoonliking
+van die beste wat daar in ons Afrikaanse volk woon."[439] Aan die
+redakteur het hy ook vertel "hoe dit hom spyt, dat hy in die ou dae nie
+deelgeneem het aan die stryd vir die regte vir Afrikaans nie." Hy is nou
+besig om al sy verhale in Afrikaans te vertaal.
+
+Die Voortrekkers.
+
+Dit is "'n kort geskiedverhaal", waarin die oorsake en die vernaamste
+gebeurtenisse in verband met die Groot Trek tot op 16 Desember 1838
+beknop en helder uiteengeset word; 'n handige boekie vir iedereen wat
+die groot gang van die emigrasiebeweging wil begryp, sonder om daarvan
+eintlik 'n studie te maak. Van Gardiner en Owen word gesê: "Maar so
+bitter vyandig teen die Boere was hulle ook nie, dat hulle 'n barbaarse
+opperhoof kon aanhits tot 'n gruwelike bloedbad." (p. 76). Die bewyse
+vir die stelling ontbreek egter.
+
+"Ek vertrou dat wat aan my werk iets wat op sigself staan sal gee is,
+dat ek persoonlik met eminente Voortrekkers in aanraking is gewees." (p.
+VI.) Gedeeltelik is dit waar, maar daar is tog geen figuur, wat so
+geteken is nie, dat ons na die lesing van die boekie voel, dat ook ons
+in persoonlike aanraking met 'n Voortrekker gewees is. Kestell mis die
+plastiese gawe wat vir so 'n uitbeelding nodig is. Hy verseker ons
+trouens self, dat dit onmoontlik is. "_Onbeskryflik_[440] was die
+aandoening in (Retief se) siel, toe hy staar op die land wat daar aan sy
+voet lê: Natal, met sy golwende berge en dale" (p. 60). Ook die
+beskrywing van Retief se eerste blik op Natal toon duidelik, dat Kestell
+geen woordkunstenaar is nie, wat deur die mag van sy skilderende woord
+'n beeld kan laat lewe nie. "In die jonge groen van die vroeë lente was
+alles gedos.... Oral sien hy die veld _met_ 'n ryke oorvloed bedek
+_met_[441] blomme van allerhande vorm en kleur en geur...." (p. 60). Ook
+die moord van Retief is "onbeskryflik" (p. 76), en in die
+Bloedrivierslag beleef die Trekkers "onbeskryflike ure" (p. 101). Of
+anders is die tonele weer "ontsettend, hartverskeurend" (p. 86),
+retoriese skrikmaak-frases, wat geen ontroering wek nie. In die eerste
+hoofstuk (§ 6) het ons al gesien, dat Kestell van die Hollandse kuns van
+na 1880 niks wil weet nie en in sy werk kom dan ook versteende
+beeldspraak soos die volgende voor: "onuitwisbar(e) littekens in die
+hart ... gebrand" (p. 8); "'n golf van onuitspreeklike smart" (_C. de
+Wet_, p. 64).
+
+Die taal van _Die Voortrekkers_ is erg onafrikaans. Die dubbele
+ontkenning word selde reg gebruik; _die_ as relatief, _hem_ en vorme
+soos die volgende is storend: Het is nie swaar ... (p. 15); die droewig
+pad (p. 103); Hulle het nie beter op die hoogte kon gewees het nie (p.
+1);[442] geontbied (p. 71). Onbeholpe is die volgende: Dingaan (het) in
+sy stad in druk gesprek gesit praat met twee van sy vernaamste kapiteins
+(p. 78); Toe die dag breek kon dit beter gesien word om sig te verdedig.
+(p. 82.)
+
+Christiaan de Wet.
+
+In die eerste hoofstukke word 'n oorsig gegee van sy jeug en die
+moeilike jare wat op sy huwelik gevolg het. Op lewendige wyse word sy
+aandeel in die Transvaalse Vryheidsoorlog meegedeel. Nadat hy 'n tydlank
+veldkornet en volksraadslid gewees 't in die Transvaal, keer hy terug
+Vrystaat toe, waar hy ook gou op politieke gebied optree. "Sy breë kyk
+op sake" word veral geroem. Dan volg 'n historiese oorsig van die
+gebeurtenisse wat aanleiding gee tot die Twede Vryheidsoorlog. De Wet
+gaan op kommando as gewone burger, maar word gou veggeneraal en na die
+oorgawe van Cronjé hoofkommandant. Met gebruikmaking van De Wet se
+oorlogsboek gee Kestell dan 'n oorsig van die vernaamste
+krygsgebeurtenisse. Die besoek van die Boere-generaals aan Europa word
+beskryf en ook Mevr. De Wet se ondervindings gedurende die oorlog. Onder
+die verantwoordelike bestuur word De Wet minister van landbou.
+
+Die gebeurtenisse na 1914 is breedvoerig behandel. Hier gee die skrywer
+nie alleen 'n relaas van die uiterlike feite nie, maar hy toon duidelik
+aan wat daar in die siel van die generaal omgegaan 't en hoe sy besluit
+om te rebelleer geryp 't. Die laaste gedeelte van die biografie is die
+bes geslaagde, omdat ons daar werklik in aanraking kom met 'n
+persoonlikheid. De Wet se laaste veldtog, sy verhoor en gevangenislewe
+word op gevoelvolle wyse beskryf. Met verskeie historiese bylaes sluit
+die boek.
+
+Op die gebrek aan sielkundige analiese maak die skrywer ons 'n enkele
+maal self weer opmerksaam: "Geen woorde kan beskryf wat daar op die
+oomblik deur die siel van C. de Wet gaan nie" (p. 84).[443] Die
+plastiese skildering is meestal geslaag, ofskoon die gemeenplaatse soms
+hinderlik word: "Daar kom generaal De Wet aangery van die voorpunt, en
+hy roep die burgers bymekaar. Hy bly sit op sy perd, en die burgers kom
+voor hom staan. Hy is woedend kwaad. Hy byt op sy tande. Deur sy tande
+kom die woorde sissend ... Daarna word hy kalmer, en eindelik haal hy sy
+hoed af. "Kom ons bid", sê hy. Wat 'n gebed was dit uit die mond van dié
+man, daar op die perd! Dit roer elkeen tot op die bodem van sy wese.
+Elkeen voel dat die hare op sy hoof rys...." (p. 68-9). Meer as een
+lewendige kommando-toneeltjie is treffend deur juiste tekening. Die
+begin van hoofstuk XIII is daarvan 'n mooi voorbeeld. Ook uit die
+generaal se jeug het die skrywer heelwat voorvalle opgeteken wat ons 'n
+goeie insig in sy persoonlikheid gee. De Wet se eie meedelings is op
+aangename wyse verwerk en munt uit deur aanskoulike voorstelling.
+Kestell het gesegdes van hom opgeteken, wat 'n kosbare bydrae is tot ons
+kennis van die groot heldefiguur, terwyl die na-oorlogse periode van sy
+loopbaan op treffende wyse verduidelik is.
+
+Vergeleke met _Die Voortrekkers_ is die meeste on-Afrikaanse wendings
+uit die styl verdwyn. Slegs selde stuit mens op 'n sin wat minder goed
+in mekaargeset is, soos die volgende: "As hierdie manifes nou gelees
+word, dan tref dit dadelik dat daarin uitdrukkinge voorkom soos dié nie
+sou verwag word as uit die pen van Beyers te gevloei het nie, maar wat
+dikwels van die lippe van De Wet geval het" (p. 202).[444]
+
+
+§ 13. Dr. N.J. van der Merwe.
+
+Hy is gebore in 1888 op Senekal, O.V.S. Aan die Grey-Kollege het hy in
+1907 gegradueer met honneurs in moderne tale. Twee jaar lank was hy
+onderwyser in Fauresmith en daarna het hy teologie studeer aan die
+Stellenbosse Kweekskool, waar hy in 1911 ook die B.D. eksamen afgelê
+het. In 1914 was hy reisende sekretaris vir die C.S.V. en daarna
+predikant op Wepener. Sy teologiese studie het hy voortgeset aan die
+Vrye Uniwersiteit op Amsterdam, waar hy in 1921 gepromoveer het op 'n
+dissertasie _Die Sosiale Prediking van Jesus Christus_. Op die oomblik
+is hy predikant op Theunissen O.V.S. Hy is in 1916 gehuud met 'n dogter
+van President Steyn. Sy skoonvader se lewensbeskrywing _Marthinus
+Theunis Steyn_ het in 1921 verskyn in twee dele.
+
+Marthinus Theunis Steyn.
+
+Die skrywer van 'n politieke biografie staan voor 'n groot moeilikheid
+wat deur Winston Churchill goed aangedui is in sy voorwoord by die lewe
+van _Lord Randolph Churchill_. "The style and ideas of the writer must
+throughout be subordinated to the necessity of embracing in the text
+those documentary proofs upon which the story depends. Letters,
+memoranda, and extracts from speeches, which inevitably and rightly
+interrupt the sequence of his narrative, must be pieced together upon
+some consistent and harmonius plan. It is not by the soft touches of a
+picture, but in hard mosaic or tessellated pavement, that a man's life
+and fortunes must be presented in all their reality and romance. I have
+thought it my duty, so far as possible, to assemble once and for all the
+whole body of historical evidence required for the understanding of Lord
+Randolph Churchill's career." Op dieselfde manier het Van der Merwe te
+werk gegaan. Die grootste gedeelte van sy biografie bestaan uit
+historiese dokumente, waaronder 'n uitgebreide diktaat van Pres. Steyn,
+briewe, redevoerings en offisiële stukke. Tereg verklaar hy dan ook in
+sy voorwoord: "Met die volle bewussyn dat daar in die voorliggende werk
+_dikwels eenvoudig boustof gelewer word_ waar die leser miskien 'n gebou
+sou verwag, dog met die oortuiging dat dit onder die huidige
+omstandighede voorbarig sou wees om meer te doen...."[445]
+
+John Morley het voor dieselfde probleem gestaan in sy _Life of William
+Ewart Gladstone_: "Where the subject is a man who was four times at the
+head of the government--no phantom, but dictator--and who held this
+office of first minister for a longer time than any other statesman in
+the reign of the Queen, how can we tell the story of his works and days
+without reference, and ample reference, to the course of events over
+whose unrolling he presided, and out of which he made history?...
+Assuredly I am not presumptuous enough to suppose that this difficulty
+of fixing the precise scale between history and biography has been
+successfully overcome by me. It may be that Hercules himself would have
+succeeded little better."[446]
+
+Selfs by 'n gewone lewensbeskrywing het die biograaf al 'n moeilike
+taak. Hy moet 'n verslag gee van die uiterlike wederwaardighede van die
+persoon; maar hy moet ook sy intellektuele en geestelike groeiproses
+teken en die gestadige wisselwerking tussen die twee nooit uit die oog
+verloor nie. Is die onderwerp van die lewensbeskrywing so 'n
+buitengewone persoon soos Pres. Steyn, wat gedurende die periode
+1896-1916 feitlik aan die hoof van die hele volk gestaan 't, dan word
+dit nog noodsaaklik om die geskiedenis van die nasie ook te vertel. Op
+die manier loop die biograaf gevaar om die eenheid van sy werk te
+verstoor, presies soos die skilder van 'n groot veldslag, wat probeer om
+àl die soldate van weerskante op sy doek in te druk. Die verstandige
+biograaf sal soveel moontlik aan die historikus oorlaat en dit het Van
+der Merwe dan ook meestal gedoen o.a. met die twede Vryheidsoorlog en
+die vredesonderhandelinge. Sulke gebeurtenisse behoort tot die terrein
+van die historikus. "To make some roughly effective summary of (such)
+doings, in the way of epitome or extract, will be all that can fairly
+come within the province of biography"[447]
+
+Edmund Gosse het verklaar, dat dit 'n groot fout is om, wat genoem word
+_Life and Times_ van 'n mens te probeer beskryf. "History deals with
+fragments of the vast roll of events; it must always begin abruptly and
+close in the middle of affairs; it must always deal, impartially, with a
+vast number of persons. Biography is a study sharply defined by two
+definite events, birth and death. It fills its canvas with one figure,
+and other characters, however great in themselves, must always be
+subsidiary to the central hero."[448]
+
+Per slot van rekening bly dit 'n moeilikheid wat iedere biograaf op sy
+eie manier moet oplos. Dit verdien in elk geval die noukeurige oorweging
+van ons toekomstige lewensbeskrywers. Die lewensbeskrywing van Pres.
+Steyn sou m.i. aan eenheid gewin het, as daar 'n skeiding gemaak was
+tussen die historiese en biografiese gegewens. Die diktaat van die
+president, sy redevoerings en die offisiële dokumente kan gemaklik as
+historiese aanhangsel gegee word. Omdat dit alles in die teks van die
+biografie geskuif word, verloor ons telkens die persoonlikheid van die
+president uit die oog. By die behandeling van die Hertzog-kriesis (II,
+Hoofstuk XII), en die Rebellie (II, Hoofstuk XIII) is dit veral die
+geval. Hier word die lewensbeskrywing feitlik 'n offisiële blou-boek, 'n
+bronnepublikasie. Maar dit is dan ook van dié gebeurtenisse waarvan die
+skrywer in sy voorwoord sê: "Die rook trek nog uit meer as een brand ...
+en daarom word hier 'n poging aangewend om so objektief moontlik te
+wees; om die _ipsissima verba_ van die verskillende persone wat op die
+toneel verskyn, letterlik weer te gee; en om alle kommentaar wat aan
+partygevoel kan toegeskrywe word, te vermy." (I, p. 11.) Waar dit sulke
+delikate kwessies geld, sou dit seker onbillik wees om nou al van die
+skrywer 'n samevattende oordeel te verwag. Maar as die rook eendag
+weggetrek 't is dit sy plig as biograaf om ons te laat voel wat daar in
+die siel van die groot staatsman omgegaan het in die tyd. Dan sal sy
+boek waarlik 'n _lewens_beskrywing word, want ten spyte van die
+moeilikheid waarop Churchill sinspeel, bly dit tog waar dat 'n
+versameling briewe, dokumente en redevoerings nog geen biografie uitmaak
+nie, al word dit ook hoe netjies gerangskik. Die volgende bewering bevat
+ongetwyfeld veel wat juis is: "A correspondence worth preserving should
+be preserved apart. What the true biographer has to do with it is to use
+it. The more he can extract of its purport; the more he can absorb of
+its spirit; the better will be his book. The more he thrusts it in
+bodily--how admirable so ever in itself--the more will his book be a
+thing of shreds and patches. To depict worthily and enduringly any human
+life really deserving to be depicted, is a task which was never yet
+achieved without a strain on all the faculty the writer could upgather
+for the occasion. That fact should suffice, one imagines, to convince a
+man that letter-copying can go but a little way. Any penman can
+transcribe letters--or without even inking his fingers--can put them
+together, scissors-and-paste fashion, much quicker than any printer can
+put them into type."[449]
+
+Van der Merwe het dikwels die skêr-en-lympot-metode toegepas, soms uit
+noodsaak, soos in die laaste gedeelte van sy werk, maar gelukkig het hy
+ons ook nader gebring tot die mens in Pres. Steyn. In die eerste ses
+hoofstukke slaag hy daar uitstekend in om 'n duidelike beeld te gee van
+Steyn as kind, boereseun, student, regsgeleerde en staatshoof. Met groot
+liefde het hy alle beskikbare gegewens so verwerk, dat selfs iemand wat
+die president nooit geken 't nie, die man vlak voor hom sien staan. Hier
+spreek die biografie nie alleen tot ons verstand nie, maar ook tot ons
+hart; hier is die warm tinteling van 'n aanraking tussen mens en mens,
+die intiem-gesellige sfeer en nie alleen die bloot serimoniële
+"kennismaking" tussen wildvreemdes nie.
+
+Alleen teen een opmerking het ons 'n bedenking: "Talryke staaltjies
+word vertel van Steyn se jowiale natuur as student en sy hartlike
+verkeer met sy Nederlandse vriende. Dit is egter nie nodig om die leser
+met hierdie studentegrappies langer op te hou nie. Die lewe van elke
+gesonde en vrolike student, soos Steyn was, is daar vol van" (I, p. 36).
+Dit kan ons alleen betreur, want Plutarchus merk tereg op in sy
+_Alexander_: [Greek: Oute tais epiphanestatais praxesi pantôs enesti
+dêlôsis aretês ê kakias alla pragma brachy pollakis, kai rhêma, kai
+paidia tis emphasin êthous epoiêsen mallon ê machai myrionekroi,
+parataxeis hai megistai, kai poliorkia poleôn].[450] Samuel Johnson het
+ook 'n juiste opmerking gemaak. Sommige biograwe, sê hy, "rarely afford
+any other account than might be collected from public papers, but
+imagine themselves writing a life, when they exhibit a chronological
+series of actions or preferments; and have so little regard to the
+manners or behaviour of their heroes, that _more knowledge may be gained
+of a man's real character by a short conversation with one of his
+servants, than from a formal and studied narrative begun with his
+pedigree and ended with his funeral_."[451] Wanneer die skrywer sy
+boustof omwerk tot 'n gebou, verdien die gekursiveerde woorde seker
+nader oorweging.
+
+In die volgende hoofstukke word die onderhandelinge, wat gelei 't tot
+die nouer vereniging van die twee republieke beskryf. Dan volg die
+diktaat van President Steyn waarin die staatkundige gebeurtenisse vanaf
+1896-1899 uiteengeset word. Vervolgens gee die skrywer 'n
+gedokumenteerde verslag van die onderhandelinge wat aan die
+oorlogsverklaring voorafgegaan 't. "Die tak, geduld sowel as
+staatsmansbeleid en beslistheid van die Vrystaatse President word
+daardeur duidelik geopenbaar" (I, p. 235). "Hoewel hy ook lank reeds aan
+vrede gewanhoop het, was hy egter beslis om nie na die wapen te gryp nie
+voor hy met 'n rein gewete sy volk kon verseker dat elke moontlike
+middel te baat geneem was om die onheil af te keer" (I, p. 246). Die
+President se houding blyk duidelik uit sy antwoord aan 'n paar offisiere
+wat gesê 't: "Laat ons maar veg": "Ek stem nie toe tot oorlog 'n minuut
+voor dit nie anders kan nie, maar weet dit, as ek die dag sê "Oorlog",
+dan moet julle nie met my van vrede kom praat nie. Dan moet dit gaan tot
+die bitter einde" (I, p. 273). Manlike woorde van een, wat ook met dade
+bewys 't, dat hy tot die grootste van die _Bittereinders_ behoort! Hoe
+graag sou ons meer wil weet van die "sieleworsteling" daar in die
+eensame veld, op 'n stille sabbatsmore, 8 Oktober 1899--net voor die
+versending van die ultimatum. (I, p. 275.) Maar dit is een van die
+dramatiese momente wat die biograaf net vir ons aanstip. Wanneer Steyn,
+gebroke in die liggaam, maar onverwinlik in die gees afskeid neem van sy
+getroue by Vereniging, dan sê Van der Merwe ook: "Geen pen kan dit ooit
+beskryf nie" (II, p. 51). En as die sterke man, gedeeltelik herstel
+terugkeer na sy geannekseerde vaderland, dan roep die skrywer weer uit:
+"Wat dié middag deur die hart van die Vrystaters by Kaalspruit-stasie
+(naby Onzerust) gegaan het, sal geen pen ooit beskrywe nie" (II, p.
+148). Maar sulke verklarings help ons nie om die tragiek van Steyn en sy
+volk se lyding te begryp nie. Hier moet die kunstenaar-biograaf deur die
+skoonheid van sy beeldende woord, deur die innigheid van sy weergawe ons
+ontroer, hier kan hy nie volstaan met 'n blote vermelding van feite nie!
+
+In die twede deel word Steyn as "die siel van die vryheidstryd" geteken.
+"Om sy ware grootheid te leer ken, moes 'n mens hom egter in sy
+daaglikse handel en wandel onder sy offisiere en burgers sien" (II, p.
+34). Hier word Van der Merwe in waarheid weer _lewens_-beskrywer, want
+uit die kommando-anekdotes leer ons Steyn as mens veel beter ken as uit
+sy offisiële depêches. Sou "die half-barbaarse gesegdes van Ruiter" (II,
+p. 37) wat ons weerhou word, "uit vrees dat die leser wat Ruiter nie
+geken het nie" dit "wat ru en plat sal vind", sou dit nie die realiteit
+van die skildering verhoog 't nie? Hier geld Plutarchus en Johnson se
+opmerkings weer.
+
+In die volgende hoofstuk is die president weer self aan die woord en
+vertel hy van die "poginge tot vrede". Mev. Steyn se oorlogservarings en
+haar ontmoeting met die president na die vrede, hulle vertrek na Europa
+om herstel van gesondheid te soek word dan beskryf. Onder die
+geneeskundige behandeling van prof. Winkler kom die langsame herwinning
+van lewenskragte en eindelik keer die volksheld weer tot sy vaderland
+terug. Die beskrywing van die lewe op Onzerust is goed geslaag, en op
+treffende wyse word Steyn, as "volksiener en raadsman" geteken. Sy
+bemoeiings om selfregering en die vereniging van die verskillende state
+te verkry is die onderwerp van die volgende hoofstukke. Wanneer die
+politieke verdeeldheid na die totstandkoming van die Unie begint, is
+Pres. Steyn weer die raadsman van al die leiers. "Die enigste plek waar
+al die partye so nou en dan in die gesonde lug van vertroue kom asem
+skep het, was daardie boerplasie op die vlaktes van Kaalspruit. Almal
+het daar hulle hart kom lug. Niemand het tevergeefs na Onzerust gekom
+nie. Soos 'n vader innig besorg oor dreigende onenigheid onder sy
+kinders, het President Steyn alles in sy vermoë gedoen om vrede en
+eenheid te bewaar" (II, p. 242).
+
+Die onderhandelinge tydens die Hertzogkriesis en die rebellie word _in
+extenso_ afgedruk. Daar is ook 'n uiteensetting van die president self
+oor sy houding tydens laasgenoemde gebeurtenis. In die slothoofstuk word
+die laaste dae van die president, sy begrafnis en die roudienste
+beskryf.
+
+In sy voorwoord het die skrywer die hoop uitgedruk, dat sy arbeid "iets
+sal bydra om die inspirasie van president Steyn se lewe vir die Volk te
+bewaar en lig te werp op 'n seer belangrike deel van ons
+volksgeskiedenis...." (p. VII). Dié doel sal hy ongetwyfeld bereik, nie
+alleen omdat sy stof van soveel nasionale belang is nie, maar ook omdat
+sy lewensbeskrywing uitmunt deur 'n helder, goedversorgde styl.
+
+
+§ 14. Mevr. Lenie Boshoff-Liebenberg.
+
+Moedersmart en Kinderleed, (1921).
+
+"Dis van die grootste belang dat persoonlike ondervindinge, soos
+hierdie in verband met die lewe in die Konsentrasiekampe, vir die
+nageslagte bewaard bly. Dis almal kosbare materiaal vir die toekomstige
+skrywers wat ernstige werk sal maak van ons geskiedenis en ons volk se
+geaardheid noukeurig sal bestudeer." Aldus Jan Celliers in sy voorwoord,
+en daarmee het hy die waarde van die boekie goed aangedui. Die skryfster
+het agtien maande in die konsentrasiekampe gesit en deel haar ervarings
+op ongekunstelde wyse, sonder enige literêre pretensies mee. Sy praat so
+reg uit haar hart oor die dae van bitter swaarkry en ons luister met
+ontroerde gemoed.... In algemene trekke ken ons die lydensgeskiedenis
+van die kampe, maar dis juis die persoonlike element van herinneringe
+soos die van Mevr. Boshoff wat daar 'n inniger lewe aan sal gee vir die
+nageslag. Daar is ander vroue wat hul ondervindings ook te boek gestel
+'t, en dis 'n voorbeeld wat navolging verdien, want daar gaat nog meer
+as een vertelling uit dié tyd van mond tot mond, wat vir ons geskiedenis
+nie mag verlore gaan nie.
+
+Die twede gedeelte van _Moedersmart en Kinderleed_ bevat "herinneringe
+uit die laaste oorlog", o.a. 'n verhaal van 'n huisgesin verwoes deur
+drank", wat oor die algemeen minder geslaag is as die eerste gedeelte.
+
+"Alles hierin meegedeel is die _waarheid_ en niks minder dan die
+_waarheid_," verklaar die skryfster. Dit verhoog die waarde van die
+meedelings, wat dus van historiese belang is en ons ook 'n merkwaardige
+kyk gee op die lyding van die Boerevrou en die heroïese wyse waarop sy
+dit gedra 't.
+
+VOETNOTAS:
+
+[405] Vgl. Dr. L. v. Niekerk: _De Eerste Afr.-Taalbeweging_^1, p. 18
+vlg.
+
+[406] t.a.p., p. VII (10de druk).
+
+[407] Vgl. Hoofstuk I, § 9.
+
+[408] _Piet Retief_, p. 351.
+
+[409] Vgl. Hoofstuk II en III.
+
+[410] Voorwoord, 7de druk.
+
+[411] _Die Brandwag_, Des. 1918.
+
+[412] In 1922 het _Voortrekkermense_ III verskyn. Dit bevat dertien
+geskiedkundige dokumente.
+
+[413] Oor die taal van Preller kan vergelyk word: Dr. E.C. Pienaar,
+_Taal en Poësie_^2, (p. 146-151).
+
+[414] Vgl. b.v. die aangehaalde voorbeelde uit _Kaptein Hindon_.
+
+[415] Oorspronklik verskyn in die _Jaarboek van Het Westen_(1909), later
+in _Die Burger-Nuwejaarsnommer_ (1922).
+
+[416] In Hoofstuk V, § 17, is 'n lewensskets al gegee.
+
+[417] So staan die saamgestelde woorde deur die hele boek los van
+mekaar.
+
+[418] Hiermee moet vergelyk word 'n soortgelyke toneel van F. Lion
+Cachet.
+
+[419] Sitate volgens 2de druk (1917).
+
+[420] Gedeeltelik ontleen aan _Die Brandwag_, Des. 1918.
+
+[421] Vir 'n lewensskets kan verwys word na Dr. E.C. Pienaar: _Taal en
+Poësie_^2 ens., p. 256 vlg.
+
+[422] _Freeholder_, No. 35.
+
+[423] _Rambler_, No. 60.
+
+[424] So 'n bewering is beslis onjuis, as ons onthou dat die _tietels_
+van Ds. S.J. du Toit se boeke sewe paginas in beslag neem! (p. 426-432).
+Daaruit moet tog 'n volkome beeld van die man se inwendige lewe op te
+diep wees.
+
+[425] Ek kursiveer.
+
+[426] Rev. Thomas Davidson: _Chambers's Encyclopaedia_ in die artiekel
+"Biography".
+
+[427] 'n Werk van dieselfde geaardheid het onlangs verskyn: _Die
+Afrikaanse Vrou_, "'n Beknopte oorsig van die rol wat die vrou in die
+Geskiedenis van S.A. gespeel het in die 350 jaar tussen 1568 en 1918"
+deur Eric Stockenström.
+
+[428] Voorberig.
+
+[429] Vgl. Dr. G. Besselaar: _Z.A. in de Letterkunde_, p. 80.
+
+[430] Lewensskets ontleen aan _Die Brandwag_, Des. 1918.
+
+[431] p. 228. Ek kursiveer.
+
+[432] Vgl. ook p. 130.
+
+[433] Die tipografiese uitvoering van die boek laat veel te wense oor.
+
+[434] Ek kursiveer.
+
+[435] Ook deur Preller in _Baanbrekers_ beskryf.
+
+[436] Voorberig, _Die Voortrekkers_^2.
+
+[437] Oor Kestell se Hollandse werk kan vergelyk word Dr. G. Besselaar:
+_Z.A. in de Letterkunde_.
+
+[438] In 1922 het die twede uitgebreide druk van _Christiaan de Wet_
+verskyn, te laat egter om hier nog bespreek te word. Die sitate is
+volgens die eerste druk.
+
+[439] Des. 1918.
+
+[440] Kursivering van my.
+
+[441] Kursivering van my.
+
+[442] Vgl. hiermee: "Hulle was te ver vooruit, anders het hy 'n grote
+voorraad ammuniesie kan opgelaai het wat op die trein was." (_C. de
+Wet_, p. 82.)
+
+[443] Vgl. ook p. 61, 143.
+
+[444] Vgl. ook op p. 215 die sin wat so begint: "Hierop het Smuts aan
+hom meegedeel...."
+
+[445] p. VII. Ek kursiveer.
+
+[446] t.a.p. vol. I, p. 1-2.
+
+[447] Vgl. Edwards and Hole: _A Handbook to the Literature of General
+Biography_, p. 13-22.
+
+[448] _Encyclopaedia Britannica_, in die artiekel: Biography.
+
+[449] Edwards and Hole, t.a.p., p. 24-5.
+
+[450] Gesiteer deur James Boswell in sy _Life of Samuel Johnson_. Hy gee
+daarby die volgende vertaling van Langhorne: Nor is it always in the
+most distinguished achievements that men's virtues or vices may be best
+discerned; but very often an action of small note, a short saying, or a
+jest, shall distinguish a person's real character more than the greatest
+sieges, or the most important battles." Uitgawe Napier, I, p. 6.
+
+[451] _Rambler_, No. 60.
+
+
+
+
+NAAMREGISTER.
+
+
+Alleen die name van Suid-Afrikaanse skrywers en persone is hier
+opgeneem. Die plek waar die vernaamste bespreking(s) voorkom, is met
+kursiewe syfers aangedui.
+
+A.
+
+Aschenborn, Hans Anton, 269
+
+B.
+
+Beyers, Generaal C.J., 292.
+
+Bezuidenhout, Daniel, 313.
+
+Biel, A. du, 58, _200-205_.
+
+Blok, Thos., 304-305
+
+Boonzaaier, 121.
+
+Booysen, C.M., 205.
+
+Boshoff, J.N., 313.
+
+Boshoff-Liebenberg, Mevr. Lenie, 324.
+
+Boshoff, Dr. S.P.E., 292-293.
+
+Bosman, Sadie, 225-228.
+
+Brink, Melt, 2, 3, 197.
+
+Bruggen, J. van, 21, 23, 46, 47, _161-176_.
+
+Bruggen, J.R.L. van (Kleinjan), 47, 58.
+
+Brümmer, Ds. N.J., 14, 29, 32, 33, 43, 44.
+
+C.
+
+Cachet, Prof. Jan Lion, 231.
+
+Cillié, Dr. G., 12.
+
+Cillié, Hettie, 46-53.
+
+Celliers, Prof. J.F.E., 5, 7, 10, 11, 12, 15, 17, 22, 31, 47, _48-53_,
+194, 207, 228, 285, 324.
+
+Conradie, Ds., 27.
+
+D.
+
+D'Arbez, Sien Oordt, J.F. van.
+
+Dómine, Sien Jacobs, A.J.
+
+Dugteren, C.J.L. Ruysch van, 55.
+
+E.
+
+Engela, J.G., 135-136.
+
+Engelbrecht, J.F., 55.
+
+Engelenburg, Dr. 277.
+
+Erasmus, D.J., 308.
+
+Euvrard, Chris. C, 158-159.
+
+F.
+
+Fagan, Adv. H.A., 36, 57, _181-183_.
+
+Fanie, Oom, Sien Malan, J.H.
+
+Fouché, Dr. Leo, 105.
+
+Fourie, Chris, 185.
+
+G.
+
+Gass, Van, 278.
+
+Gerdener, Ds. G.B.A., 305-307.
+
+Gieljam, Stoffel, Sien Langenhoven.
+
+Goldblatt, Sarah, 182.
+
+H.
+
+Hatting, J.H., 278.
+
+Heerden, Ds. J.P. van, 11.
+
+Heerden, Mevr. Iz. van (Tannie van die Brandwag), 46.
+
+Heerden, Iz. van, (Vaalswaer), 54.
+
+Heever, Adv. F. v.d., 60.
+
+Hermanus, 59.
+
+Hertzog, Genl., 6, 101.
+
+Hoffman, Pres., 304.
+
+Hofmeyr, J.H. (Onze Jan), 41, 313.
+
+Hofmeyr, Marjorie, 182.
+
+Hoogenhout, C.P., 209.
+
+J.
+
+Jacobs, A.J. Dómine, 270-273.
+
+Jansen-Pellissier, Mevr. M., 46, _205-209_.
+
+Jeppe, Carl, 55.
+
+Jordaan, G., 261.
+
+K.
+
+Kamp, Prof. J., 18.
+
+Keet, Prof. B.B., 36.
+
+Kestell, Ds. J.D., 17, _313-317_.
+
+Kleinjan, Sien Van Bruggen, J.R.L.
+
+Klerk, L.C., de 278.
+
+Koopmans-de Wet, Mevr. Maria, 41, 302.
+
+Kruger, Ds. J.H., 219-225.
+
+Kruger, Pres., 7, 23, 283.
+
+L.
+
+Langenhoven, Adv. C.J., 21, 24, 37, 38, 39, 40, _136-140_, _239-248_,
+_249-259_, 277, _284_.
+
+Linde, M., 58.
+
+Leipoldt, Dr. C. Louis, 34, 58, _259-261_.
+
+Lombaard, H.S. 291.
+
+Lub, J., 21, _133-135_.
+
+M.
+
+Malan, Dr. D.F., 13, 31.
+
+Malan, Essie, 182.
+
+Malan, J.H., 21, 159, 160, _209-219_, _288-291_.
+
+Marais, Adv. Eugène, N., 47, 48, 60, 276.
+
+Marais, Prof. I.J., 16, 17.
+
+Maré, Léon, 23, 46, _188-197_.
+
+Maré, Steph, 55.
+
+Marius, 45.
+
+Malherbe, Dr. D.F., 43, 60, 94, _141-158_.
+
+Malherbe, Mevr. K., 60.
+
+Malherbe, Dr. W.M.R., 33, 45, 206.
+
+Maritz, Genl., 53, 293.
+
+Merwe, Dr. N.J. van der, 317-324.
+
+Meurant, L.H., 1.
+
+Mimmie, Nig., 54.
+
+Moorrees, Prof. A., 17.
+
+Muir, Dr., 177.
+
+Muller, Dr. T.B., _34-36_, 176.
+
+Munnik, Senator G.G., 311-313.
+
+N.
+
+Neelsie, Sagmoedige,--Sien Langenhoven.
+
+O.
+
+O'Kulis, Dr.,--Sien Postma, Ds. Willem
+
+Oldendorf, Helene, 182, 183.
+
+Oordt, J.F. van, 55.
+
+Oosthuyse, Marthinus, 313.
+
+Otto, G.J., 207, _228-229_.
+
+P.
+
+Pannevis, A., 1.
+
+Pienaar, A.A., (Sangiro), 23, 58, _262-269_, 293.
+
+Pienaar, Dr. E.C., 11, 29, 42, 57, 128, 137, 141, 287.
+
+Pierneef, 184.
+
+Plessis, L.J. du, 292.
+
+Postma, Rikie, 58, 182.
+
+Postma, Ds. Willem (Dr. O'Kulis), _231-233_, _300-304_.
+
+Preller, G.S., 5, 21, 24, 30, 31, 37, 42, 45, 46, 47, 137, 274, 275,
+_276-288_.
+
+Pretorius, President, 276.
+
+R.
+
+Reitz, Pres. F.W., 2, 312.
+
+Reitz, Joubert, _159-161_, 210.
+
+Rey, Genl. de la, 276.
+
+Roubaix, E. de, 45, 46, _53-54_.
+
+Roux, Frina, 184.
+
+Rozenburg, Jan van, Sien Waal, Adv. de
+
+Reenen, Reenen J. van, 11, 23, 59, _183-188_, _234-239_.
+
+S.
+
+Sangiro, Sien Pienaar, A.A.
+
+Schoon, Ds. H.F., 278.
+
+Schumann, T., 182.
+
+Slypsteen, _230_.
+
+Smit, Erasmus, 278.
+
+Smith, J.A., 294-295.
+
+Smith, Prof. J.J., 1, 2, 15, 34, 36, 40, 55, 57, 176, 205.
+
+Smuts, Generaal Jan, 65, 100.
+
+Steenkamp, Anna, 278.
+
+Steyn, Dr. H.J., 11, 15.
+
+Steyn, President, 275, 313.
+
+Steytler, Ds. A.I., 40.
+
+Swart, C.R., 182.
+
+T.
+
+Tannie van die Brandwag, Sien Mevr. Iz. van Heerden.
+
+Theunissen, N.H., 59, 182.
+
+Toit, D.P. du, 24, _197-199_.
+
+Toit, Ds. S.J. du, 1, 2, 41, 197, 292, 297, 298, 300.
+
+Toit, Dr. J.D. du, (Totius), 16, 231, 232, _296-300_.
+
+Tomlinson, G.C., 36, 176-180.
+
+Totius, Sien Toit, J.D. du,
+
+Trichardt, Karl, 279.
+
+V.
+
+Vaalswaer, Sien Iz. van Heerden.
+
+Velden, D. van, 313.
+
+Veritas, 182.
+
+Viljoen, Dr. W.J., 210.
+
+Villiers, F.E. de, 182.
+
+W.
+
+Waal, Adv. J.H.H. de, 21, 24, 29, 30, 41, 42, 43, 47, _100-133_, 230,
+285, 286, 300.
+
+Walt, A.J. van der, 307-311.
+
+Wessels. D.W., 182.
+
+Wet, Generaal De, 313.
+
+Wet. Mevr. De, 316.
+
+Wielligh, G.R. von, 28, _62-99_, 182, 183.
+
+Wijk, Eugène C. van, 182.
+
+Wolla, 229.
+
+Z.
+
+Zinn, Christian, 140-141.
+
+
+
+
+STELLINGE.
+
+
+I.
+
+Die aandeel van GUSTAV PRELLER in die Twede Afrikaanse Beweging word
+deur Dr. E.C. PIENAAR in sy dissertasie oorskat.
+
+II.
+
+By die literatuuronderwys behoort die hoofdoel nie te wees die
+uitpluisery van taalkundige vraagstukke nie, maar wel die opvoeding tot
+'n begrip van skoonheid.
+
+III.
+
+ "Wanneer de schaduw valt, en dat het sterflijck Dal
+ Snachts vleughelen bespreet, zoo slaept den grooten Al,
+ De Son, in Thetis schoot, ..."
+
+ _Pascha_, (739-41)
+
+Verklaar met DIFEREE, dat de schaduw des nachts de aarde met vleugelen
+bespreidt en dat "den grooten Al" de zon is die 't alles verlicht, en
+niet 't heelal zoals VAN LENNEP en UNGER menen.
+
+IV.
+
+In het geding tussen Dr. LEENDERTZ en Dr. STERCK of EUSEBIA, aan wie
+VONDELS _Peter en Pauwels_ werd opgedragen, ANNA VAN DEN VONDEL of MARIA
+TESSELSCHADE ROEMERS zou zijn, heeft Dr. STERCK gelijk.
+
+V.
+
+De bewering van JOHN MIDDLETON MURRY, dat JAMES BOSWELL een absolute
+pionier op het pad der biografie was, is onjuist.
+
+VI.
+
+De mening van Dr. THEAL, dat JAN VAN RIEBEECK uit lage stand in
+Kompanjiesdienst is opgeklommen kan niet als juist worden aanvaard.
+
+VII.
+
+"In sommige van sy liedjies en in 'n heel enkele reël ook, is daar
+onmiskenbare bewys van ware poëtiese gevoel en digterlike uitdrukking.
+Al wat mankeer is die handskaaf en die sandpapier." (Adv. E.N. MARAIS in
+_Die Brandwag_, Maart 1920.) So 'n bewering is in stryd met die wese van
+alle egte poësie.
+
+VIII.
+
+Gemeenskapskuns behoort nie as algemene leuse voorgeskryf te word nie.
+
+
+ Transcriber's notes:
+
+ Gesperrt indicated by =
+ Date of death character transcribed as [oorlede] in text version.
+ Superscripted text indicated by ^
+ Ons Kleintji standardised from Ons Klyntji, and Ons Klintji
+
+
+
+
+
+
+End of the Project Gutenberg EBook of Die prosa van die twede Afrikaanse
+beweging, by Pieter Cornelis Schoonees
+
+*** END OF THIS PROJECT GUTENBERG EBOOK DIE PROSA VAN DIE TWEDE ***
+
+***** This file should be named 18203-8.txt or 18203-8.zip *****
+This and all associated files of various formats will be found in:
+ http://www.gutenberg.org/1/8/2/0/18203/
+
+Produced by Christine D., Michael Ciesielski and the Online
+Distributed Proofreading Team at http://www.pgdp.net
+
+
+Updated editions will replace the previous one--the old editions
+will be renamed.
+
+Creating the works from public domain print editions means that no
+one owns a United States copyright in these works, so the Foundation
+(and you!) can copy and distribute it in the United States without
+permission and without paying copyright royalties. Special rules,
+set forth in the General Terms of Use part of this license, apply to
+copying and distributing Project Gutenberg-tm electronic works to
+protect the PROJECT GUTENBERG-tm concept and trademark. Project
+Gutenberg is a registered trademark, and may not be used if you
+charge for the eBooks, unless you receive specific permission. If you
+do not charge anything for copies of this eBook, complying with the
+rules is very easy. You may use this eBook for nearly any purpose
+such as creation of derivative works, reports, performances and
+research. They may be modified and printed and given away--you may do
+practically ANYTHING with public domain eBooks. Redistribution is
+subject to the trademark license, especially commercial
+redistribution.
+
+
+
+*** START: FULL LICENSE ***
+
+THE FULL PROJECT GUTENBERG LICENSE
+PLEASE READ THIS BEFORE YOU DISTRIBUTE OR USE THIS WORK
+
+To protect the Project Gutenberg-tm mission of promoting the free
+distribution of electronic works, by using or distributing this work
+(or any other work associated in any way with the phrase "Project
+Gutenberg"), you agree to comply with all the terms of the Full Project
+Gutenberg-tm License (available with this file or online at
+http://gutenberg.org/license).
+
+
+Section 1. General Terms of Use and Redistributing Project Gutenberg-tm
+electronic works
+
+1.A. By reading or using any part of this Project Gutenberg-tm
+electronic work, you indicate that you have read, understand, agree to
+and accept all the terms of this license and intellectual property
+(trademark/copyright) agreement. If you do not agree to abide by all
+the terms of this agreement, you must cease using and return or destroy
+all copies of Project Gutenberg-tm electronic works in your possession.
+If you paid a fee for obtaining a copy of or access to a Project
+Gutenberg-tm electronic work and you do not agree to be bound by the
+terms of this agreement, you may obtain a refund from the person or
+entity to whom you paid the fee as set forth in paragraph 1.E.8.
+
+1.B. "Project Gutenberg" is a registered trademark. It may only be
+used on or associated in any way with an electronic work by people who
+agree to be bound by the terms of this agreement. There are a few
+things that you can do with most Project Gutenberg-tm electronic works
+even without complying with the full terms of this agreement. See
+paragraph 1.C below. There are a lot of things you can do with Project
+Gutenberg-tm electronic works if you follow the terms of this agreement
+and help preserve free future access to Project Gutenberg-tm electronic
+works. See paragraph 1.E below.
+
+1.C. The Project Gutenberg Literary Archive Foundation ("the Foundation"
+or PGLAF), owns a compilation copyright in the collection of Project
+Gutenberg-tm electronic works. Nearly all the individual works in the
+collection are in the public domain in the United States. If an
+individual work is in the public domain in the United States and you are
+located in the United States, we do not claim a right to prevent you from
+copying, distributing, performing, displaying or creating derivative
+works based on the work as long as all references to Project Gutenberg
+are removed. Of course, we hope that you will support the Project
+Gutenberg-tm mission of promoting free access to electronic works by
+freely sharing Project Gutenberg-tm works in compliance with the terms of
+this agreement for keeping the Project Gutenberg-tm name associated with
+the work. You can easily comply with the terms of this agreement by
+keeping this work in the same format with its attached full Project
+Gutenberg-tm License when you share it without charge with others.
+
+1.D. The copyright laws of the place where you are located also govern
+what you can do with this work. Copyright laws in most countries are in
+a constant state of change. If you are outside the United States, check
+the laws of your country in addition to the terms of this agreement
+before downloading, copying, displaying, performing, distributing or
+creating derivative works based on this work or any other Project
+Gutenberg-tm work. The Foundation makes no representations concerning
+the copyright status of any work in any country outside the United
+States.
+
+1.E. Unless you have removed all references to Project Gutenberg:
+
+1.E.1. The following sentence, with active links to, or other immediate
+access to, the full Project Gutenberg-tm License must appear prominently
+whenever any copy of a Project Gutenberg-tm work (any work on which the
+phrase "Project Gutenberg" appears, or with which the phrase "Project
+Gutenberg" is associated) is accessed, displayed, performed, viewed,
+copied or distributed:
+
+This eBook is for the use of anyone anywhere at no cost and with
+almost no restrictions whatsoever. You may copy it, give it away or
+re-use it under the terms of the Project Gutenberg License included
+with this eBook or online at www.gutenberg.org
+
+1.E.2. If an individual Project Gutenberg-tm electronic work is derived
+from the public domain (does not contain a notice indicating that it is
+posted with permission of the copyright holder), the work can be copied
+and distributed to anyone in the United States without paying any fees
+or charges. If you are redistributing or providing access to a work
+with the phrase "Project Gutenberg" associated with or appearing on the
+work, you must comply either with the requirements of paragraphs 1.E.1
+through 1.E.7 or obtain permission for the use of the work and the
+Project Gutenberg-tm trademark as set forth in paragraphs 1.E.8 or
+1.E.9.
+
+1.E.3. If an individual Project Gutenberg-tm electronic work is posted
+with the permission of the copyright holder, your use and distribution
+must comply with both paragraphs 1.E.1 through 1.E.7 and any additional
+terms imposed by the copyright holder. Additional terms will be linked
+to the Project Gutenberg-tm License for all works posted with the
+permission of the copyright holder found at the beginning of this work.
+
+1.E.4. Do not unlink or detach or remove the full Project Gutenberg-tm
+License terms from this work, or any files containing a part of this
+work or any other work associated with Project Gutenberg-tm.
+
+1.E.5. Do not copy, display, perform, distribute or redistribute this
+electronic work, or any part of this electronic work, without
+prominently displaying the sentence set forth in paragraph 1.E.1 with
+active links or immediate access to the full terms of the Project
+Gutenberg-tm License.
+
+1.E.6. You may convert to and distribute this work in any binary,
+compressed, marked up, nonproprietary or proprietary form, including any
+word processing or hypertext form. However, if you provide access to or
+distribute copies of a Project Gutenberg-tm work in a format other than
+"Plain Vanilla ASCII" or other format used in the official version
+posted on the official Project Gutenberg-tm web site (www.gutenberg.org),
+you must, at no additional cost, fee or expense to the user, provide a
+copy, a means of exporting a copy, or a means of obtaining a copy upon
+request, of the work in its original "Plain Vanilla ASCII" or other
+form. Any alternate format must include the full Project Gutenberg-tm
+License as specified in paragraph 1.E.1.
+
+1.E.7. Do not charge a fee for access to, viewing, displaying,
+performing, copying or distributing any Project Gutenberg-tm works
+unless you comply with paragraph 1.E.8 or 1.E.9.
+
+1.E.8. You may charge a reasonable fee for copies of or providing
+access to or distributing Project Gutenberg-tm electronic works provided
+that
+
+- You pay a royalty fee of 20% of the gross profits you derive from
+ the use of Project Gutenberg-tm works calculated using the method
+ you already use to calculate your applicable taxes. The fee is
+ owed to the owner of the Project Gutenberg-tm trademark, but he
+ has agreed to donate royalties under this paragraph to the
+ Project Gutenberg Literary Archive Foundation. Royalty payments
+ must be paid within 60 days following each date on which you
+ prepare (or are legally required to prepare) your periodic tax
+ returns. Royalty payments should be clearly marked as such and
+ sent to the Project Gutenberg Literary Archive Foundation at the
+ address specified in Section 4, "Information about donations to
+ the Project Gutenberg Literary Archive Foundation."
+
+- You provide a full refund of any money paid by a user who notifies
+ you in writing (or by e-mail) within 30 days of receipt that s/he
+ does not agree to the terms of the full Project Gutenberg-tm
+ License. You must require such a user to return or
+ destroy all copies of the works possessed in a physical medium
+ and discontinue all use of and all access to other copies of
+ Project Gutenberg-tm works.
+
+- You provide, in accordance with paragraph 1.F.3, a full refund of any
+ money paid for a work or a replacement copy, if a defect in the
+ electronic work is discovered and reported to you within 90 days
+ of receipt of the work.
+
+- You comply with all other terms of this agreement for free
+ distribution of Project Gutenberg-tm works.
+
+1.E.9. If you wish to charge a fee or distribute a Project Gutenberg-tm
+electronic work or group of works on different terms than are set
+forth in this agreement, you must obtain permission in writing from
+both the Project Gutenberg Literary Archive Foundation and Michael
+Hart, the owner of the Project Gutenberg-tm trademark. Contact the
+Foundation as set forth in Section 3 below.
+
+1.F.
+
+1.F.1. Project Gutenberg volunteers and employees expend considerable
+effort to identify, do copyright research on, transcribe and proofread
+public domain works in creating the Project Gutenberg-tm
+collection. Despite these efforts, Project Gutenberg-tm electronic
+works, and the medium on which they may be stored, may contain
+"Defects," such as, but not limited to, incomplete, inaccurate or
+corrupt data, transcription errors, a copyright or other intellectual
+property infringement, a defective or damaged disk or other medium, a
+computer virus, or computer codes that damage or cannot be read by
+your equipment.
+
+1.F.2. LIMITED WARRANTY, DISCLAIMER OF DAMAGES - Except for the "Right
+of Replacement or Refund" described in paragraph 1.F.3, the Project
+Gutenberg Literary Archive Foundation, the owner of the Project
+Gutenberg-tm trademark, and any other party distributing a Project
+Gutenberg-tm electronic work under this agreement, disclaim all
+liability to you for damages, costs and expenses, including legal
+fees. YOU AGREE THAT YOU HAVE NO REMEDIES FOR NEGLIGENCE, STRICT
+LIABILITY, BREACH OF WARRANTY OR BREACH OF CONTRACT EXCEPT THOSE
+PROVIDED IN PARAGRAPH F3. YOU AGREE THAT THE FOUNDATION, THE
+TRADEMARK OWNER, AND ANY DISTRIBUTOR UNDER THIS AGREEMENT WILL NOT BE
+LIABLE TO YOU FOR ACTUAL, DIRECT, INDIRECT, CONSEQUENTIAL, PUNITIVE OR
+INCIDENTAL DAMAGES EVEN IF YOU GIVE NOTICE OF THE POSSIBILITY OF SUCH
+DAMAGE.
+
+1.F.3. LIMITED RIGHT OF REPLACEMENT OR REFUND - If you discover a
+defect in this electronic work within 90 days of receiving it, you can
+receive a refund of the money (if any) you paid for it by sending a
+written explanation to the person you received the work from. If you
+received the work on a physical medium, you must return the medium with
+your written explanation. The person or entity that provided you with
+the defective work may elect to provide a replacement copy in lieu of a
+refund. If you received the work electronically, the person or entity
+providing it to you may choose to give you a second opportunity to
+receive the work electronically in lieu of a refund. If the second copy
+is also defective, you may demand a refund in writing without further
+opportunities to fix the problem.
+
+1.F.4. Except for the limited right of replacement or refund set forth
+in paragraph 1.F.3, this work is provided to you 'AS-IS', WITH NO OTHER
+WARRANTIES OF ANY KIND, EXPRESS OR IMPLIED, INCLUDING BUT NOT LIMITED TO
+WARRANTIES OF MERCHANTIBILITY OR FITNESS FOR ANY PURPOSE.
+
+1.F.5. Some states do not allow disclaimers of certain implied
+warranties or the exclusion or limitation of certain types of damages.
+If any disclaimer or limitation set forth in this agreement violates the
+law of the state applicable to this agreement, the agreement shall be
+interpreted to make the maximum disclaimer or limitation permitted by
+the applicable state law. The invalidity or unenforceability of any
+provision of this agreement shall not void the remaining provisions.
+
+1.F.6. INDEMNITY - You agree to indemnify and hold the Foundation, the
+trademark owner, any agent or employee of the Foundation, anyone
+providing copies of Project Gutenberg-tm electronic works in accordance
+with this agreement, and any volunteers associated with the production,
+promotion and distribution of Project Gutenberg-tm electronic works,
+harmless from all liability, costs and expenses, including legal fees,
+that arise directly or indirectly from any of the following which you do
+or cause to occur: (a) distribution of this or any Project Gutenberg-tm
+work, (b) alteration, modification, or additions or deletions to any
+Project Gutenberg-tm work, and (c) any Defect you cause.
+
+
+Section 2. Information about the Mission of Project Gutenberg-tm
+
+Project Gutenberg-tm is synonymous with the free distribution of
+electronic works in formats readable by the widest variety of computers
+including obsolete, old, middle-aged and new computers. It exists
+because of the efforts of hundreds of volunteers and donations from
+people in all walks of life.
+
+Volunteers and financial support to provide volunteers with the
+assistance they need, is critical to reaching Project Gutenberg-tm's
+goals and ensuring that the Project Gutenberg-tm collection will
+remain freely available for generations to come. In 2001, the Project
+Gutenberg Literary Archive Foundation was created to provide a secure
+and permanent future for Project Gutenberg-tm and future generations.
+To learn more about the Project Gutenberg Literary Archive Foundation
+and how your efforts and donations can help, see Sections 3 and 4
+and the Foundation web page at http://www.pglaf.org.
+
+
+Section 3. Information about the Project Gutenberg Literary Archive
+Foundation
+
+The Project Gutenberg Literary Archive Foundation is a non profit
+501(c)(3) educational corporation organized under the laws of the
+state of Mississippi and granted tax exempt status by the Internal
+Revenue Service. The Foundation's EIN or federal tax identification
+number is 64-6221541. Its 501(c)(3) letter is posted at
+http://pglaf.org/fundraising. Contributions to the Project Gutenberg
+Literary Archive Foundation are tax deductible to the full extent
+permitted by U.S. federal laws and your state's laws.
+
+The Foundation's principal office is located at 4557 Melan Dr. S.
+Fairbanks, AK, 99712., but its volunteers and employees are scattered
+throughout numerous locations. Its business office is located at
+809 North 1500 West, Salt Lake City, UT 84116, (801) 596-1887, email
+business@pglaf.org. Email contact links and up to date contact
+information can be found at the Foundation's web site and official
+page at http://pglaf.org
+
+For additional contact information:
+ Dr. Gregory B. Newby
+ Chief Executive and Director
+ gbnewby@pglaf.org
+
+Section 4. Information about Donations to the Project Gutenberg
+Literary Archive Foundation
+
+Project Gutenberg-tm depends upon and cannot survive without wide
+spread public support and donations to carry out its mission of
+increasing the number of public domain and licensed works that can be
+freely distributed in machine readable form accessible by the widest
+array of equipment including outdated equipment. Many small donations
+($1 to $5,000) are particularly important to maintaining tax exempt
+status with the IRS.
+
+The Foundation is committed to complying with the laws regulating
+charities and charitable donations in all 50 states of the United
+States. Compliance requirements are not uniform and it takes a
+considerable effort, much paperwork and many fees to meet and keep up
+with these requirements. We do not solicit donations in locations
+where we have not received written confirmation of compliance. To
+SEND DONATIONS or determine the status of compliance for any
+particular state visit http://pglaf.org
+
+While we cannot and do not solicit contributions from states where we
+have not met the solicitation requirements, we know of no prohibition
+against accepting unsolicited donations from donors in such states who
+approach us with offers to donate.
+
+International donations are gratefully accepted, but we cannot make
+any statements concerning tax treatment of donations received from
+outside the United States. U.S. laws alone swamp our small staff.
+
+Please check the Project Gutenberg Web pages for current donation
+methods and addresses. Donations are accepted in a number of other
+ways including checks, online payments and credit card
+donations. To donate, please visit: http://pglaf.org/donate
+
+
+Section 5. General Information About Project Gutenberg-tm electronic
+works.
+
+Professor Michael S. Hart is the originator of the Project Gutenberg-tm
+concept of a library of electronic works that could be freely shared
+with anyone. For thirty years, he produced and distributed Project
+Gutenberg-tm eBooks with only a loose network of volunteer support.
+
+Project Gutenberg-tm eBooks are often created from several printed
+editions, all of which are confirmed as Public Domain in the U.S.
+unless a copyright notice is included. Thus, we do not necessarily
+keep eBooks in compliance with any particular paper edition.
+
+Most people start at our Web site which has the main PG search facility:
+
+ http://www.gutenberg.org
+
+This Web site includes information about Project Gutenberg-tm,
+including how to make donations to the Project Gutenberg Literary
+Archive Foundation, how to help produce our new eBooks, and how to
+subscribe to our email newsletter to hear about new eBooks.
+
+*** END: FULL LICENSE ***
+